Jy moet die Here jou God liefhe met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.

Eksodus 20:1

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief
View June 2013 Issue >>
 

Louis en Hettie Brittz is besig om diep spore in Suid-Afrika te trap. Met hulle gemaklike verhouding met God maak hulle Christenskap vir menige toeganklik. Sonder pretensie en plat op die aarde getuig hulle lewens van harte wat uitverkoop is aan Jesus, vreesloos en vry.
Louis is gemaklik aan beide kante van die opnameateljee se glasvenster. Hy het suksesvolle albums vir Retief Burger (‘Luidkeels’) en Laurika Rauch uitgegee. ‘In Verwondering’, wat in 2012 by die SABC Crown Gospel Toekennings die Afrikaanse album van die jaar toekenning gewen het, is saam met Retief Burger, Helmut Meijer en Neil Buchner, opgeneem. Hy het ook pas ’n nuwe boek op die rakke.

Wat is die boodskap van jou nuwe boek?
‘Wat Wenners Weet’ behandel 30 beginsels van ‘n lewe in oorwinning. Ek hoop om mense te help om oor die lewe se struikelblokke te seil sodat hulle meer as oorwinnaars kan wees. Te veel Christene is slagoffers en slawe van vrees en bitterheid, of glo nie dat God se krag hulle nuut kan maak nie. Ek spreek wyd uiteenlopende temas aan wat kan help om in hierdie lewe te wen!


Baie Suid-Afrikaners is negatief oor ons toekoms, wat is jou advies aan families wat deur tragedie en trauma getref is?
In my boek wy ek heelwat tyd hieraan, want dit is dikwels trauma en tragedie wat Christene pootjie, terwyl dit poorte na ‘n diep ontdekking van God kan wees. Daar is baie om te deel met mense wat hoop verloor het weens sulke seer traumas, maar die belangrikste openbaring is dat God altyd by ons is, selfs in ons donkerste uur. Hy draai nooit Sy gesig weg van Sy kinders af nie. Ons moet leer om Hom raak te sien te midde van die storms, en om na Hom toe te draai vir hulp, redding, genade en troos. Net soos Dawid dit moes doen...
 
Watter advies het jy vir mans wie se vrou ’n seksuele aanval
beleef het?

Ek hoor dat baie mans hulle vrouens as vuil beleef nadat hulle seksueel aangeval is, maar God se Woord is duidelik dat niks wat van buite af kom, die liggaam onrein kan maak nie. Dit is dus ‘n leuen uit die put van die hel. ’n Vrou is presies dieselfde ná so ’n aanval as daarvoor, en wil ook graag so gesien en hanteer word. Behalwe natuurlik in die mate waarin sy fisiek en sielkundig moet genees van dit wat met haar gebeur het. Laat haar die pas aangee in terme van julle fisieke verhouding ná die aanval, maar maak seker dat sy weet dat jy haar nie ver-werp nie. Vra haar wat haar behoeftes is.

Vertel ons so ietsie van jou gesin. Is jou kinders musikaal, bespeel hulle ook instrumente?
Idalise (14) speel klavier, sing goed en doen al ’n bietjie opname- en redigeerwerk. Pero (12) is super-wetenskaplik en wil groot probleme in die wêreld help oplos. Simone (7) stel in alles wat lewe en bewe belang, maar blink veral uit in ballet.

Het jy ’n studio by jou huis en waar en wanneer skryf jy jou musiek?
Ek werk eerder in ander ateljees...die een by my huis was pateties. Ek skryf enige plek. Ek het al ‘n liedjie op die naarsakkie in ‘n vliegtuig neergepen, in ‘n Ford Ranger-bakkie geskryf tussen Aboe Dhabi en Al Ain, en onlangs terwyl ds. Dirkie van der Spuy gepreek het! Dit oorval ’n mens maar...

Hoe het jy by Andy Stanley en North Point betrokke geraak?
My musiekmaatskappy, Merchant Media & Music, versprei North Point se ‘worship’-musiek in Suid-Afrika. Ek het by ‘n kennis van die wonderlike musiek by Andy se gemeente gehoor, en toe ek daarna luister, was ek oorstelp. My grootste roeping bly om gesalfde musiek te vind en te versprei. By Merchant glo ons dat die Here ons veral roep om die klankbaan van herlewing te vind en dit by almal se ore uit te bring.
North Point is ‘n gemeente met ’n besondere geestelike lewe en die musiek wat daar geskep word, is gesalf. Dit is inderdaad ’n herlewingsklankbaan. Dit is wonderlik vir my om dit in ons land vry te stel.

Jy is aangehaal dat jy sê North Point gaan ’n impak op Suid-Afrika maak. Wat maak hulle anders as ander groepe?
North Point se eredienste en groeigroepe is op nie-Christene gemik op ’n manier wat ek nog selde in Suid-Afrika teëgekom het. Hulle nougesette ywer om mense ‘buite’ die kerk in hulle eredienste tuis te laat voel, was vir my ‘n openbaring. Suid-Afrikaanse kerke wat geroep is om mense te bereik wat kerk glad nie gewoond is nie, kan baie by North Point leer. Ek glo daar moet meer sulke gemeentes in ons land wees!


Hoe lyk dit met ’n North Point–konsert hier in Suid-Afrika?
Ek wil baie graag vir Eddie Kirkland en die North Point-worshipspan hierheen laat kom! Hulle het heerlike liedjies om ons te leer en waardevolle lesse oor die rol van aanbidding in ‘n ‘church for the unchurched’ om aan ons oor te dra.

Nie almal gaan noodwendig met jou saamstem dat hoë impak musiek met baie ritme, mense na ’n plek van ware aanbidding bring nie. Wat is jou antwoord daarop?
Die Here nooi ons uit – en beveel ons – om Hom te loof en te prys. Hy het ons ritme en dans geskenk en die Bybel is vol van geleenthede waar Sy volk musiek vir Hom gemaak het met alles wat kan dawer.
Ons kan nie nou skielik besluit om dit anders te doen net omdat ons Westerse kultuur so pruilmond alles wil internali-seer nie. Ons sal mos inwendige beserings opdoen! Harde, ritmiese musiek bring ons nie in aanbidding nie…dit bring ons jubelend van vreugde voor God se troon. Dit lig ons gees! En dan volg diep, gewyde aanbidding ook makliker.

Jou aanbiddingskursus word plaaslik en oorsee aangebied, onder meer in die Oekraïne en Kanada. Hoe het dit daar beland?
Ek het dit daar op sendingreise en konserttoere aangebied. Oral in die wêreld is gemeentes met ‘n behoefte om meer oor aanbidding te leer, maar dit neem lank deur ‘n tolk, hoor...!

Jy is baie betrokke oorsee, veral in Amerika. Gaan ons jou aan Amerika moet afstaan?
Die Here het my en Hettie al op vreemde paaie gelei, ons het geen idee wat die toekoms sal oplewer nie. Ons wil Sy koninkryk bou...waar ook al dit Sy wil is, en die Here een dag op ‘n slag dien. Ons het geleer om nóú te leef, anders mis ’n mens wat God nóú deur jou wil doen. Ons probeer om nie te veel oor die toekoms te dink nie.

Beplan jy enige nuwe projekte?

Ek hoop dat ek, Retief, Neil en Helmut in 2014 weer iewers ‘in verwondering’ kan raak oor God se glorie en inspirasie vir nog ‘n CD vol vars musiek sal kry. Vir baie mense is ‘In Verwondering’ hulle gunsteling CD, want dit is diep en poëties. Dit was juis omdat ons vier manne was, met verskillende talente en perspektiewe, wat een in die Gees saamgeskryf en opgeneem het. Ek vertrou dit sal weer so kan wees!

Hettie het Louis by ’n konsert op die Tukkiekampus ontmoet. “Ek was in matriek en Louis ‘n vierdejaar regs-student. Ek het met die eerste oogopslag dolverlief geraak.” Hettie se program is net so besig soos Louis s’n, sy is ’n spreker en skrywer van vele boeke. Haar Immergroen- ouerskapkursusse is gewild en word landswyd aangebied.

Wat is jou doelstellings vir 2013?

Om voluit deur die oop deure te stap wat die Here gereed gemaak het vir gesins- en vrouebediening hierdie jaar, maar deurentyd seker te maak ek doen net wat ek regtig moet en niks meer nie!
Jy het pas ‘Mammas Mag Maar’ vrygestel. Wat was jou inspirasie?
Die idee was eintlik Merchant Music s’n! Mammas kry so baie raad, raas, en ekstra werk dat ons gedink het dit is ’n goeie idee om hulle ’n slag diep te laat asemhaal. Die 10 stukkies genade is met humor en deernis geskryf sodat elke ma agteroor sal kan sit en normaal kan voel!

Waarmee is jy tans besig?
Ek werk baie hard aan ‘n nuwe weergawe van my Engelse ouerskapboek ‘Growing kids with character 2.0’ en lei my Immergroen Ouerskapspan wat ‘n laerskoolkursus vir onderwysers ontwikkel het en in samewerking met Helpende Hand, onderwysers en ouers van 72 kleuterskole in behoeftige gemeenskappe gaan oplei.

Die hofsaak teen jou aanvaller het onlangs voorgekom. Hoe voel jy drie jaar na die voorval?

Ek is genadig emosioneel gesond na die voorval en het dus nie die hof se uitspraak of geregtigheid nodig om te kan ‘aangaan’ nie. My gevoelens jeens my aanvaller het nooit oor die drie jaar verander nie. Die Here het deernis en vergifnis in my hart uitgestort as ‘n geskenk van die Heilige Gees. Ek is opgewonde oor wat die Here besig is om in Levy (dit is sy naam) se lewe te doen.


Watter advies het jy vir ander vroue wat deur soortgelyke situasies gegaan het?
Leef ‘Vreesloos Vry!’ Ek het Levy deur die oë van Jesus gesien. Ek het hom gesien soos hy sou wees as hy Jesus geken het; ek het ook myself sonder Jesus gesien – soos hoe ek sou wees as dit nie vir Jesus was nie. Ek is niks beter as hy nie. Dit maak vergifnis makliker as ’n mens onthou hoeveel jy self vergewe is! Vroue wat met vergifnis sukkel, kan gerus een van my vrouekampe bywoon en saam met ander vroue worstel tot vryheid by Jesus se kruis. Ons moet genade bo geregtigheid kies as ons ooit vry wil wees!
̶  deur Lourieke Haller

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication