Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?

1 Korintiers 4:7

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief


12 Sep 2017  

Baie van ons se reaksie op 8 Augustus se stemmery oor die mosie van wantroue in president Zuma was: Ai, ons het so gebid vir ʼn ander uitslag en ons gebede is nie verhoor nie! Maar is dit so? Maak God dan foute? Ek glo nie. Miskien is dit juis een van die kere wat ons wel kry wat ons vra, maar nie so direk en ook nie op ons voorwaardes en tyd nie. So dikwels vra ons en kry dan op Sy tyd (wat altyd die regte tyd is) wat ons nodig het en dan is die uitkoms tien keer beter as wat ons eintlik voor gevra of op gehoop het.

As ’n mens na die opposisiepartye luister, was almal dit eens: die uitslag was nie onverwags nie. Dit is goed vir president Zuma, maar sleg vir die ANC. Ons weet president Zuma gaan ná 2019 nie meer in die prentjie wees nie; hopelik ook nie sy kaders wat hom daar hou om hulle korrupte praktyke te beskerm nie. Die mosie van wantroue het een ding reggekry: ’n nasie wat saamstaan teen die korrupsie in die ANC. (Tot groot hartseer van diegene wat die suiwer ideale van die ANC koester.) Met elke mosie van wantroue word die sweer net groter ontbloot. As dit tyd is vir ʼn verkiesing, sal die mense van Suid-Afrika hopelik hulle sentimente teenoor die ANC, soos dit nou daarna uitsien, verander en stem vir wat Suid-Afrika nodig het: ’n verenigde front teen korrupsie, verval en kaderontplooiing. Dan sal dit die regte tyd wees...dan sal ons gebed vir ʼn verandering verhoor word.

Ons moet as medeburgers die tyd vir selfondersoek gebruik. Ons moenie sê: “Daar moet verandering kom nie!“ Vra: ”Wat moet ek doen om verandering teweeg te bring?“ Ek moet onkreukbaar leef en so die voorbeeld stel: Beteuel my humeur; doen wat ek weet reg is, al sien mense dit nie raak nie; reik uit na my gemeenskap en skep geleenthede om mense te help en bid vir onkreukbare sterk leiers om na vore te kom. As almal net doen wat van hulle verwag word!

 Het ons al gedink in watter land van melk en heuning ons gaan leef? Ek weet mense sal sê: Leef maar voort in jou Utopia, maar as 100 000 van ons 45 miljoen mense aandag skenk aan om reg te lewe en mense begin beïnvloed om ook so te leef en ons bring God se reddende hand in berekening, lyk die prentjie heel anders. Het God nie vir Nineve gespaar deur een gelowige nie?

Laat ons hande vat en die wa saam deur die drif trek. Laat ons mekaar bemoedig om die goeie stryd te stry. Laat ons die onstuimige tyd deurleef soos Jeremia in die Bybel, toe alles vir Israel en Juda uitmekaar geval het; waar hulle mense as slawe na Babilon weggevoer is en God vir Jeremia gesê het: “Gaan koop nou grond. Een van die dae gaan jou mense terugkom en dan moet mense blyplek hê en wingerde bewerk.” Laat ons nou grond koop en wingerde bewerk sodat ons na die 2019-verkiesing gereed sal wees om Sy seëninge te ontvang en Suid-Afrika op die pad te stuur na die reënboognasie wat ons al so lank voor hoop.

Sandra Kruger

Back

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication