Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U Woord is die waarheid.

Joh. 17:17.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief


11 Sep 2018  

Is jy in ’n verhouding waar jy emosioneel mishandel word? Ek was in so ’n verhouding. Jy kan nie in so ’n verhouding bly nie. As wedergebore kind van die Here sal ek nooit egskeiding goedpraat nie. Die Woord van die Here leer ons dat jy net mag skei waar daar owerspel in die huwelik is. Ek glo egter die enigste ander rede is waar jou eggenoot aan ’n ernstige gedragsversteuring soos skisofrenie ly of ’n psigopaat is. Ek glo nie die Here verwag van jou om by iemand te bly wat jou mishandel nie.

Egskeiding is een van die pynlikste dinge om te beleef. Jy gaan deur dieselfde fases van die rouproses as wanneer ’n geliefde sterf – ontkenning, aanvaarding en berusting. My egskeiding was so pynlik dat ek nie kon bid of my Bybel lees nie. Ek het net stil by die Here gaan sit. Ek kon voel hoe Hy my in Sy arms toevou en vir my sê: “Dit is genoeg dat jy net by My kom sit, My kind.”

Die Here het ’n wonderwerk in my lewe verrig. Ná nege maande kon ek my gewese man vergewe en vryspreek. Ná twee jaar is ek volkome genees van minderwaardigheid en selfverwyt oor my kind. Die berader het my baie gehelp terwyl die skeisaak aan die gang was. Sy het my vertel dat dit baie moeilik is om iemand te beraad wat medies as skisofreen verklaar is. Toe kon ek vir die eerste keer verstaan waarom geen berading my gewese man gehelp het nie. Dit is vir seker nie ’n pad om alleen te loop nie. Jy het al die ondersteuning nodig van familie, vriende en jou geestelike familie.

Vrou, wees nooit bekommerd oor die finansies nie. Ek kan getuig van hoe die Here my dag ná dag dra. Vra die Here net vir jou daaglikse brood. Ek sien hoe die Here daagliks vir my en my kind sorg. Ek is nou al ’n jaar en vier maande geskei en ek en my kind het geen dag iets tekortgeskiet nie. As jy in ’n verhouding is waar jy aangerand word, kry ’n beskermingsbevel. Jy hoef nie in vrees te leef nie. Dit is hoekom ons geregsdienaars daar is. Om uit so verhouding te stap, is die beste geskenk wat jy jouself en jou kinders kan gee. Skraap jou moed bymekaar en doen wat jy moet.                

Magda du Plessis

Back

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication