Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?

1 Korintiers 4:7

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief


11 Oct 2018  

Ek deel ’n kort getuienis oor wat op 13 Augustus om ongeveer 11 nm. met my gebeur het. Ek het myself afgesonder om vir twee spesifieke mense te bid. Terwyl ek so in Jesus se Naam geestelik oorlog voer, kom daar ’n opdrag van die Here by my op: “Daar is drie waarvoor jy vanaand moet bid.” Ek het net twee mense in gedagte gehad. Toe sê die Here vir my: “Jy moet vir Julius Malema bid.” Net daar maal ’n duisend gedagtes deur my kop: Wat bid ek vir hom? En die Here sê vir my: “Julius Malema is wat hy is omdat te veel mense hom haat en vervloek en te min vir hom bid.” En net daar begin die Gees my lei in gebed. Die woorde vloei uit my mond en die Here wys my dat Julius Malema soos Saggeus is. Hy was ook ’n klein mannetjie met baie gesag. Saggeus was ook gehaat omdat hy deur ’n wet en ’n regering bemagtig was om te doen net wat hy wil. Saggeus het niks en niemand ontsien nie en het homself verryk met ander se eiendom, geld en besittings. Tot op die dag dat Saggeus van Jesus gehoor en in ’n boom geklim het om Hom in die skare te sien.

Daardie dag, toe Saggeus se oë op Jesus val, toe val Saggeus. Die aand toe Jesus by Saggeus aan huis gaan, sien ons ’n nuwe mens. ’n Saggeus wat nie meer wil hê nie, maar een wat uitdeel en weggee. Die Here wys my, bid vir Malema dat sy oë op my sal val as Ek verby hom gaan. Die Here wys my ook ’n gevreesde Saulus wat in ’n oogwink in ’n godvresende Paulus verander het toe die Here daar op die pad na Damaskus verby hom gegaan het.

Die Here wys my dat soveel mense byeenkom, hulleself afsonder en gebedskettings begin om vir ons land te bid. Maar die Here wys vir my: “Julle bid vir julle land omdat julle so lief geword het vir julle land. Julle het julle liefde en vertroue in julle land gesit. Julle land het julle skat geword. Ek het nie my lewe op Golgota geoffer vir ’n land nie, maar vir verlore siele om gered te word. Julle bid vir ’n stuk grond wat bestem is vir die vuur, terwyl julle jul siele wat bestem is vir die ewige heerlikheid in die hemel verlore laat gaan vir die helse vuur. Julle bid vir dinge wat julle belangrik ag en laat na om te bid wat vir my, julle God, belangrik is. En dan verwag julle dat Ek julle gebede moet verhoor?”

Ek besef: Te lank streef ons na ons eie belange en nie na God s’n nie. Solank ons God se belange nie eerste stel nie, doen ons meer afbreuk aan ons land as kwaad, geweld en korrupsie sonder dat ons dit besef.

Soek allereers die Koninkryk van God (Sy wil) en die res (jou belange) sal vir jou toegevoeg word. My oë het gisteraand oopgegaan. Dankie, Here.

Gert Engelbrecht

Back

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication