Vra My, en Ek sal jou antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nog vir jou n geheim, en jy weet niks daarvan nie.

Jer 33:3.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief


1 Feb 2019  

Dr. Ficker verkondig die hoofboodskap van die Nuwe Testament suiwer – dat ons uit genade deur (deur geloof) in Jesus Christus gered word – ongelukkig voeg hy dan by: “Maar wetsgehoorsaamheid is ’n voorvereiste vir die Ewige Lewe.” Wat sê Jesus herhaaldelik deur Sy Heilige Gees in die Nuwe Testament oor onderhouding van die Moseswet (en, beslis nie slegs oor die seremoniële wette, soos dr. Ficker beweer nie)? “Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet [die Moseswet] nie.” – Galasiërs 5:18. En: “… want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.” – Romeine 6:14. En: Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.”Romeine 7:6. Wat van Romeine 10:4: “Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word,” of “Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van 'n nuwe verbond te wees, nie van die letter (die wet) nie maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.” – 2 Korintiërs 3:6.

God waarsku ons duidelik in Sy Woord: “Maar almal wat staat maak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: "Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.” – Galasiërs 3:10.

Dr. Warren Wiersbe, ’n Amerikaanse teoloog, sê in Wiersbe’s Expository Outlines on the New Testament met reg dis tragies dat mense Paulus se openbaring van die Evangelie verwerp en dan probeer om die Wet en genade te vermeng. Ek stem saam waar hy sê: “Gelowiges kan uit hulself niks doen om God tevrede te stel nie. Romeine 8 sê die Heilige Gees sit die werk van genade in ons voort en volbring die eise van die Wet in ons. Die Wet is nie ’n pad na die lewe nie, maar ... maak dood (Galasiërs 2:19) sodat die Evangelie ons weer uit die dood kan laat opstaan. ’n Christen is nie iemand wat ’n eksterne wet probeer gehoorsaam nie. Dit is iemand wat die lewende Christus in hom het ... Om na die Wet terug te keer, is om God se genade te frustreer en te ontledig! Dié wat volgens die Wet lewe, maak op die krag van die vlees staat; dié wat deur die genade lewe, vertrou op die mag van die Gees. Romeine 2:14 en Handelinge 15:24 maak dit duidelik dat God nooit die Wet aan die nie-Jode gegee het nie. Die morele wet (van God) was reeds in die nie-Jode se harte geskryf (Romeine 2:15). Die Wet is (430 jaar) later ‘bygevoeg’ by die belofte aan Abraham, maar toe die (beloofde) saad (Christus) gekom het, is die Wet vervang.”

Ja, Christus het as Mens (en as Jood!) die Wet volmaak gehou (Matteus 5:17-18). Hy met Sy Hemelvaart Sy Heilige Gees na ons gestuur, want net Sy Gees weet hoe om ons volmaak te lei om God in alles te gehoorsaam en dit kan die Wet op verre na nie doen nie. Die Wet leer ons slegs wat sonde is en dwing die sondaar so om op God se beloftes vir redding te vertrou. Die Wet beklemtoon die noodsaaklikheid van  God se genade vir ons is, want Sy genade stel ons weer in staat om Hom deur geloof tevrede te stel. As jy dus smag na werklik suiwer, Geesgeleide lering oor die rolle van die Wet en van die Genade in ons lewe, gaan luister asseblief na hoe veral pastoor Miki Hardy van CTMI, Mauritius, die Skrif hieroor uitlê, en jy sal ryklik geseën word.

Ben Louw

Back

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication