Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U Woord is die waarheid.

Joh. 17:17.

Briewe
Gedigte
Vra vir Val
Stemmings
Skrywersriglyne
Sosiale Netwerk
Gebeure & Konferensies
Kompetisies
Gratis Nuusbrief


19 Jun 2019  

Die artikel wat handel oor die grootdoop in die JUIG! Tydskrif van Mei 2019 verwys. Ek stem saam met Erin Georgiou, skryfster van die rubriek, dat daar ’n vloedgolf liberalisme en boosheid die samelewing oorval het; ’n wêreld waar anti-Bybelse waardes en beginsels gewettig word. Die mens, in sy verwaandheid, daag God uit om hom verkeerd te bewys. Om terug te kom by die doop. Indien iemand hom wil laat grootdoop nadat hy alreeds gedoop is, is dit nie vir my of enigiemand anders om te oordeel nie, maar ek wil graag ’n paar punte uitlig omtrent die doop.

Die doop is die sigbare bevestiging van God se genade en omrede kinders ook deel is van God se volk, is die kinderdoop geregverdig. Die Apostels moes die Evangelie aan die heidene gaan verkondig – mense wat van God en die genade in Jesus Christus niks weet nie. Indien so ’n heiden dan tot geloof kom, moes hy gedoop word. Ná die doping, volg die volgehoue onderrig en prediking sodat die geloof nie weer verswak nie. Indien ’n mens die doop net as ’n simbool van genade sien wat daar in Jesus Christus is, maak die metode van doop nie werklik saak nie. Die water is bloot simbolies van die Bloed van Christus en die hoeveelheid water maak nie werklik saak nie. Daar kan aanvaar word dat die meeste doopgeleenthede deur die Apostels met onderdompeling plaasgevind het, maar dit is onwaarskynlik dat dit altyd so plaasgevind het. Lidia en haar hele gesin is gedoop (Handelinge 16:15) asook die tronkbewaarder van Philippi en sy hele gesin is in die nag gedoop (Handelinge 16:32-33). Gesin, sluit ook kinders in. Wat wel van belang is by die doop, is die formule soos wat Christus dit vir ons gegee het: “Ek doop jou in die Naam van die Vader, en van die Seun en van die Heilige Gees.”

Die ou verbond is deur die nuwe verbond vervang. In die Ou Testament is kinders by die volk van God (Israel) ingelyf deur die seuntjies, agt dae na hulle geboorte, te besny. Vrouens is glad nie op een of ander wyse by die verbond ingelyf nie. God sluit dus ’n verbond met ’n volk en die manlike geslag ontvang die teken daarvan. Vrouens het outomaties deur óf hulle vaders óf eggenotes, deel aan die verbond gehad. In die nuwe verbond is kinders ook deel van die verbond, want Christus het immers vir alle mense gesterf. As mens dan die doop sien as seël of simbool van die genade wat daar in Jesus Christus is, is dit tog logies dat kinders ook gedoop moet word. ’n Mens moet daarteen waak om die doop nie te sien as ’n bevestiging dat iemand ’n bekering beleef het nie. Dit gaan in die doop eerder oor God se handelings en genade, as wat dit om ons eie geloofservaring gaan. Dankie en mag die Juig-tydskrif van krag tot krag gaan.

E.P.O’Neill

Back

Tel: +27 (0)21 852 4061 Faks: +27 (0)21 852 5781 Epos: info@juig.co.za

Tuisblad | Oor ons | Nuutste Uitgawe | Vorige Uitgawes | Adverteer | Advertensiegids | Inteken | Gedigte | Briewe | Sosiale Netwerk | Stemmings | Kompetisies | Gebeure | Nuus | FAQs | Skakel Ons | Terme en Voorwaardes |
Privaatheidsbeleid

English? Click here for our sister publication