Om in ’n vliegtuig langs vreemdelinge te sit, verskaf onbeperkte vermaak en verrassings – veral as jy ’n pastoor is. Voordat ’n niksvermoedende reisiger uitvind hoe ek my brood verdien, is ons geselsie gewoonlik gemaklik en plesierig.
Sodra my beroep egter bekend word, verander die gesprek ingrypend. Soms word dit meer sinvol met ’n gemeenskaplike geestelike band. Ander kere word dit ’n driftige gesprek waartydens my reisgenote oor hulle vertwyfeling, verwarring of geestelike pyn uitpak. Soms laat die oorfone en toe oë geen twyfel dat die gesprek verby is nie.
Mense se persepsies
Tydens ’n onlangse reis het ek twee onderwegvlugte gehad voordat ek by my eindbestemming aangekom het. Op my eerste vlug het ek langs Travis gesit, ’n middeljarige, getroude pa van twee wat op pad huis toe was, ná ’n onsuksesvolle sakereis. Op my volgende vlug het ek langs Michelle gesit, ’n besonder skerpsinnige en slim 23-jarige student wat pas met haar somervakansie begin het.
Hulle albei was moeg. Hulle albei was angstig om by die huis te kom. Hulle albei was ateïste – hoewel baie verskillend van aard.
Travis was die konvensionele soort. Soos die meeste ateïste het hy die bestaan van God totaal ontken. Hy het nie gebid nie, nie Bybel gelees nie, en het nie kerk toe gegaan nie. Die enigste ding van Christenskap waarvan hy gehou het, was om met televisiepredikers die draak te steek. Hy het homself hardop laat lag toe hy ’n swaar, stroperige aksent naboots: “Ek glo nie in Jeee-susss Chrisss-tusss nie!”
Openhartige gesprek
Gedurende die eerste gedeelte van die vlug het ons Travis se sukkelende eiendomsbedryf bespreek. Twee jaar gelede was hy bobaas; hy het gereeld transaksies in verskeie markte aangegaan. Nou kon hy nie eers oor ’n prys by ’n sypaadjie-uitverkoping onderhandel nie. Die swak ekonomie en kleiner inkomste het hom gedwing om groot lewenstylveranderings te maak, maar Travis het ’n stille vertroue uitgespreek dat dinge weer binnekort na normaal sal terugkeer.
Nadat hy openlik oor sy uitdagings was, het Travis my gevra in watter bedryf ek betrokke is. Ek het verduidelik dat ek in die geestelike bedryf is – die pastoor van ’n kerk.
’n Waningeligte siening van God
Dit is tóé dat Travis toegeslaan het: “’n Predikant?” Hy het sy bes probeer om vriendelik te klink, maar tog in ’n kennelik sarkastiese toon gevra: “Dit beteken jy glo in ’n letterlike sewe-dae-skepping, né?” Voordat ek nog kon antwoord, het hy vinnig sy anti-Christen-aanval begin afvuur. “Ek wil jou nou nie in die gesig vat nie, maar Christene is die swakste mense op aarde. Hulle gebruik Christenskap soos ’n kruk om die werklikheid te vermy en hoe meer geraas hulle maak oor hulle geloof, hoe skynheiliger is hulle.”
Ná ’n hele paar minute se onafgebroke tirade, het Travis tot bedaring gekom. Amper as ’n vredeoffer, het hy gesê: “As daar ’n ewigheid is, is ek seker dat jy die beste daarvan gaan afkom omdat jy ’n pastoor is; ek sal seker maar so goed soos die meeste ander mense daarvan afkom.”
Die res van ons gesprek was aangenaam. Hy het nie my siening oor God verander nie, en ek het nie syne verander nie. Ons albei het gehoop dat die ekonomie spoedig sal verbeter en het op goeie voet gegroet.
Michelle, die jong student, langs wie ek tydens my tweede vlug gesit het, is ’n geheel en al ’n ander soort ateïs – ’n Christen-ateïs.
Eienskappe van ’n Christen-ateïs
Christen-ateïste is oral. Hulle woon die Katolieke Kerk by, Baptiste Kerke, Pinkster Kerke, selfs kerke waar die pastoor, ‘Jeee-susss Chrisss-tusss!’ sê, wanneer hy preek. Hulle gaan na kweekskole en Bybelskole, hulle is elke ouderdom, ras en beroep – en sommige lees selfs hulle Bybels elke dag, maar hulle leef soos Travis.
Voordat ons vliegtuig nog opgestyg het, het Michelle ’n gesprek aangeknoop. ’n Bie-tjie skrikkerig vir vlieg, was sy gretig om te gesels. Nadat sy haar geskeide ouers en haar saambly-kêrel beskryf het – wat tot die dood toe bang was om te trou – het sy my oor my lewe uitgevra.
Ek het van my ek-is-’n-pastoor-antwoord weggeskram en verduidelik dat ek getroud is en ses kinders het. Ná nog gesels oor koeitjies en kalfies, het Michelle my weer gevra wat my beroep is. Ek kon die onafwendbare nie langer uitstel nie: “Om die waarheid te sê, is ek ’n pastoor.”
Om ’n lewe van kompromie te leef
Hierdie onthulling het ’n stroom Christen-woorde en stories laat vloei. Met, “God het gesê,” en “die Here is goed”, wat hier en daar in die gesprek laat val word, het sy lief geglimlag terwyl sy beskryf hoe sy op 15-jarige ouderdom by ’n Christen-jeugkamp haar “lewe aan Jesus gegee het”.
Nadat sy daar opreg gebid het, was sy gretig om by die skool van haar geloof te getuig en ’n rein lewe te leef. Michelle het aan haar nuwe geloof in God vasgehou, maar het gou weer in haar ou weë verval.
Asof dit ’n biegstoel is, het Michelle voortgegaan om haar lewe se donkerste geheime uit te stort. Sy het haar kop laat sak toe sy toegee dat sy en haar saambly-kêrel dinge doen wat sy weet sy nie behoort te doen nie. Sy het my vertel dat sy graag kerk toe wil gaan, maar dat sy bloot te besig met haar studie en werk is.
Sy het baie aande gebid – meestal dat haar kêrel ’n Christen sou word, soos sy. “As hy net in Jesus glo, sal hy dalk met my wil trou,” het sy gesê terwyl sy haar trane afvee. Eindelik het Michelle een laaste belydenis gemaak: “Ek weet my lewe lyk nie soos ’n Christen se lewe moet lyk nie, maar ek glo in God.”
Ons almal sukkel
Welkom by Christen-ateïsme, waar mense in God glo, maar leef asof Hy nie bestaan nie. Al wil ek dit nie toegee nie, sien ek hierdie soort ateïsme in myself. Mense mag aanneem dat ’n pastoor nie met enige vorm van ateïsme sal sukkel nie, maar ek sukkel verseker. Ongelukkig kom Christen-ateïsme oral voor. Sonde is lekker – ten minste vir ’n rukkie. Dit kom egter altyd weer by jou spook, gewoonlik wanneer jy dit die minste verwag.
Daar moet ’n beter manier wees om te lewe. As jy eerlik voor God is – soos ek probeer om te wees – kan ons miskien saam ’n paar van ons skynheilighede afskud en ’n lewe leef wat waarlik eer aan Jesus bring.
’n Herstellende Christen-ateïs
Christen-ateïsme is ’n snelverspreidende geestelike pandemie wat kan vergiftig, siek maak en selfs ewige dood kan veroorsaak. Tog is Christen-ateïsme uiters moeilik om uit te ken – veral deur diegene wat besmet is.
Solank ek kan onthou, het ek in God geglo, maar ek het nie altyd geleef asof Hy bestaan nie. Vandag is my Christen-ateïsme nie meer so ’n groot probleem soos dit voorheen was nie, maar ek sukkel daarmee. Soos ’n herstellende alkoholis wat versigtig is om nooit nugterheid as vanselfsprekend te aanvaar nie, moet ek die lewe een dag op ’n slag aanpak.
Teenstrydighede
Baie jare gelede het ek begin om teenstrydighede op te merk tussen wat ek beweer ek glo, en hoe ek werklik geleef het. Ek het gepreek dat mense sonder Christus hel toe sou gaan, maar my lewe het gewys dat ek nie geesdriftig was om hulle te bereik nie.
Ek het gepreek dat gebed van uiterste belang is, maar my gebedslewe het byna nie bestaan nie. God se Woord het gesê my skatte moenie in hierdie wêreld wees nie, tog het materiële dinge ’n houvas op my gehad. Jesus het gesê: “Moet julle nie oor môre bekommer nie,” maar om my te bekommer was so maklik soos asemhaal. Hoe eerliker ek geword het, hoe meer het ek dit begin haat om sonder geloof te leef en hoe meer het ek na intimiteit met God verlang. “Wat dit ook al verg” het my hartsbegeerte geword.
Wegdryf van geesdrif na ongeërgdheid
Was daar ’n tyd in jou lewe toe jy nader aan God was as wat jy nou is? As jy soos ek is, het jy nie doelbewus geestelik weggedryf nie. Soos ’n klein lekplekkie in ’n binneband, het jou geestelike passie stadig maar seker uitgelek. In plaas daarvan om ’n ten volle toegewyde volgeling van Christus te wees, het jy onopsetlik ’n voltydse ma, of ’n voltydse student, of ’n voltydse boekhouer geword – en ’n deeltydse volgeling van Jesus geword.
Miskien is jy, soos baie ander, ’n lid van ’n kerk, maar is heimlik skaam oor jou verlede. Miskien het jy gehoor van God se liefde, maar jy is nog nie daarvan oortuig dat God jou geheel en al liefhet nie. Of, hoewel jy daarvan oortuig is dat God bestaan, is jou gebedslewe nie wat jy weet dit moet wees nie.
Jy weet dit, maar jy doen dit nie…
Miskien weet jy, soos so baie ander goedwillige Christene, wat God wil hê jy moet doen, maar jy doen steeds wat jy wil doen. Of jy wil werklik op God as jou voorsiener vertrou, maar jy vind dit so moeilik om dit in die praktyk te doen. Moontlik glo jy in die Hemel en hel, maar om jou geloof met ander te deel is steeds ’n vreemde gedagte, of doodeenvoudig net heeltemal te intimiderend vir jou, of jy mag in God glo, maar sien nie die nodigheid vir die Kerk nie.
Is dit genoeg om in Jesus te glo?
Hoewel God die enigste ware Regter is, is ek nie daarvan oortuig dat om bloot in Christus te glo, ’n Christen van jou maak nie. Selfs demone glo in Christus.
Ek bekommer my daaroor hoeveel mense mislei mag wees. In plaas daarvan om werklik as volgelinge van Jesus te leef, sus baie hulleself tot ’n vals gerustheid. Wat as hulle eintlik ‘kulturele Christene’ is, vals gelowiges?
Is jy gewillig om jou lewe te verloor?
“Want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?” Matt 16:25-26.
In plaas daarvan om te glo dat jy nooit kan verander nie, laat God se onbeperkte krag toe om jou te verander en jou van ’n lewe van vrees en kommer te bevry.
Hierdie artikel is ’n uittreksel uit ‘The Christian Atheist’, deur Craig Groeschel.