Leef Dit, Glo Dit, Verkondig Dit!

Markus se inskrywing in hoofstuk 7:6-7 gryp my aan die hart en laat my dink oor die ou knus wêreldjie waarin ons leef: “God sê: Hierdie volk praat asof hulle My eer, maar hulle harte is ver van My af. Hulle neem reëls wat hulleself uitgedink het en dan sê hulle dit is wat God beveel het. Om My op so ’n manier te dien, beteken niks nie. Jesus sê toe ook vir hulle: Die dinge wat God beveel het, laat julle links lê en dan konsentreer julle op die tradisies van mense.”
Die wêreld se worsteling tot in ons binnekamer
Ons leef in ongekende moeilike tye wat die Kerk en geloof betref. Ja, jare gelede is mense ook vir hulle geloof doodgemaak en gemartel, maar toe was almal nog salig onbewus van die worsteling en oorlog op ’n ander kontinent.
Vandag is dit nie meer so eenvoudig nie. Jerusalem, Sirië, Barak Obama en die aanvalle in Parys – Alles kom tot in ons sitkamer. Sosiale media en die digitale wêreld bring die realiteit van dinge soos ISIS tot in ons binne-kamer. Ons word in ons persoonlike ruimte gekonfronteer met politieke uitsprake oor godsdiensvryheid, die stand van die Kerk en morele kwessies.
’n Tyd van sifting
Moeilike tye…en tóg tye wat my persoonlik opgewonde maak. Nie vir die bloedvergie-ting of die mense wat mekaar aan die keel gryp nie, maar omdat die Bruid van Christus nie meer kan wegkruip nie. Ons leef in ’n absolute siftingstyd. Dit is nie meer genoeg om op ’n sensusvorm jou geloof aan te dui nie; om veilig te voel en gerus te slaap bloot omdat jou kinders in ’n skool is waar hulle steeds met Skriflesing en gebed open nie, of die wete dat jy deel van ’n gemeente is nie – dit is nie meer die kriteria vir ’n kind van God nie.
Wat glo ons werklik?
Ons word op sosiale platforms deur die wêreld gekonfronteer oor wat ons werklik glo, waarvoor ons regtig staan en wat ons bereid is om in die openbaar te bely. Ons word nie sonder meer toegelaat om weg te kruip en net in ons binnekring te getuig nie.
Die Bruid van Christus leef in ’n tyd waarin sy moet opstaan en haarself as ’n rein en heilige bruid bewys. Die wêreld is moeg vir huigelary, skynheiligheid, en twyfel. Hulle wil desperaat weet of jou “ja”, jou ja is en jou “nee”, jou nee is – of dit nou langs die braai-vleisvuur is of hoe jy jou besigheid bestuur.
Die stryd is tussen gered en ongered
Te veel mense dink nog steeds dat ons geveg in hierdie mooie land tussen die ANC en die ander partye, swart teen wit of Afrikaans teen die res is. Maar in wese is ons stryd tussen gered en ongered, ‘the righteous and the unrighteous’. Ons verstik in ons politiek en tradisie. Kerke skeur en mense gryp mekaar aan die keel oor onderwerpe soos die doop, homoseksualiteit, saambly, tiendes…Ons begin ons argumente met: “ Dominee of pastoor Jan sê…in ons kerk glo ons…”
Die uitdaging is vandag myne en joune. Leef ons dit wat ons voorstaan, of verraai ons Jesus en die Woord van voor af in die naam van politieke korrektheid en mense se opinie? Moet ons wag vir nog ’n haan om te kraai, of is ons by die plek waar ons kies om weg te breek van tradisie en eie opinie?
Een voet in die wêreld
Moslems en ander gelowe hou nie vergaderings om te stry oor hulle heilige boek se uitsprake nie. Dit is deur al die eeue heen onveranderd…Tog skeur kerke in die Christendom oor belaglikhede soos klein kelkies vir nagmaal, of een groot tafel en ’n beker.
Dit voel soms vir my of die gemiddelde Afrikaanssprekende steeds vir hulle taal, hulle kerk oorlog toe sal gaan, maar die Woord van God kan ons maar kragteloos maak met ons redenasies, raadsittings, jarelange vergade-rings en eie siening. Ons braai met te veel drank, maak politieke perverse grappe, staan met die een voet in die wêreld en sus onsself aan die slaap omdat ons ander voet darem op ’n Sondagoggend in die kerk was.
Die Gees lei ons in waarheid
Die tyd om God se Woord onverskrokke te volg, is hier! Tradisie en die verdediging van denominasies sal ons die oorwinning laat misloop. Persoonlike mening sal altyd verdeeld wees, maar die Heilige Gees lei ons in die volle waarheid.
Ons gees sal getuig van wat waar en eg is sonder dat mense ons hoef te oorreed, maar waar die eie tradisie insluip, sal verdeeldheid ons laat stik. God se Woord leer ons mos van hierdie verdeeldheid in Matteus 12:25: “’n Regering of koninkryk wat in homself verdeel is, sal nie staande bly nie.”
Hy verander ons in liefde
Eintlik is God se woord geskryf vir eenvoudige mense. Nie die klomp wat redeneer en argumenteer nie. Jesus soek ’n Bruid wat Hom voetstoots liefhet en vertrou – Sy Woord as die enigste waarheid aanvaar met ’n lewe wat getuig daarvan. Sy lering was nog nooit die gewilde een nie.
Sy Evangelie nog nooit inklusief nie. Sy Woord leer dat elkeen wat in Hom glo en Sy Naam bely, die reg het om ’n kind van God genoem te word. Hy het ons voetstoots lief, net soos ons is, maar Hy het ons te lief om ons te los soos ons is.
Leef dit en glo dit
Laat ons “ja” ons ja wees en ons “nee” ons nee. Laat ons opinie geanker wees in wat ons in Sy Woord vind. Jesus kom, of ons gereed is of nie, maar dít vir ’n rein Bruid. Godsdiens en tradisie word gekry by die man wat in die kerk sit, maar aan sy visvangs dink. Die ware Bruid van Christus sit dalk langs die viswaters, maar het God se Woord in die hart. Die rein Bruid lééf dit, gló dit, verdedig dit en vind vrede daarin!
________________________________________
GRETHA WIID is ’n verhoudingskenner, gasspreker en skrywer. Volg haar op facebook of twitter


Hoe Moet Ons Hulle Eer?

Dit sou soveel makliker gewees het as God net van ons verwag het om ons ouers te eer as hulle gaaf, vriendelik en liefdevol is, maar die opdrag van Eksodus 20:12 is: “Eer jou vader en jou moeder,” punt.
Efesiërs 6:1 beveel ons om hulle te “gehoorsaam”. Daar is baie verwonde en beskadigde mense wat dit byna onmoontlik vind om hierdie gebod te gehoorsaam. Moet ons ouers wat ons mishandel en afkraak steeds eer en gehoorsaam? Waar trek ons die streep?
Innerlik geknak
Mishandeling kom in baie vorms voor. ‘n Kind kan grootword waar daar aan al sy fisieke behoeftes vir kos en klere voorsien word, maar nie aan die belangrikste behoefte – die behoefte aan liefde en goedkeuring nie. Hy is nooit fisiek aangerand nie, maar elke jaar verdor sy siel verder, soos ‘n plant wat verdor sonder reën; desperaat vir die geringste demonstrasie van liefde. Uiteindelik groei hy tot volwassenheid; alles blyk normaal te wees, maar hy is innerlik geknak deur sy ouers se onverskilligheid teenoor hom.
’n Kind kan ook op ’n jong ouderdom geknak word – selfs al word hy nie fisiek mishandel nie – deur voortdurend te hoor dat hy hopeloos en lomp is. Daar word smalende opmerkings gemaak oor alles wat hy aanpak, totdat hy niks meer wil doen nie. Omdat kindertjies van nature alles glo wat hulle ouers oor hulle sê, sal die kind wat hieronder deurloop, geleidelik in homself onttrek, agter ‘n onsigbare muur wegkruip en bloot bestaan, eerder as om voluit te leef.
Hierdie kinders word groot sonder om ooit fisiek aan die hande van hulle ouers te ly, maar is nietemin innerlik vermink. As grootmense, vind hulle dit moeilik om vriende te maak en is nie in staat om normaal met ander volwassenes om te gaan nie.
Uiterlike skade
Kindermishandeling kan dus baie subtiel wees. Daar is natuurlik ook die meer ooglopende tipe mishandeling – wanneer ‘n kind verwaarloos word, geskop en geslaan word en, erger nog, seksueel misbruik word. Die skade wat sulke mishandeling veroorsaak, kan ‘n leeftyd lank duur. Die groot vraag is nou: hoe kan ons God se gebod gehoorsaam om ouers, wat so wreed teenoor hulle kinders optree, te eer?
Diegene wat Jesus as hulle Verlosser vertrou, het ‘n ware Hemelse Vader wat net dit wat goed is vir hulle begeer en niks wat hulle kan benadeel nie. Hy is “die Vader van die wese”. Die Here sal alles gebruik, selfs verskriklike dade, om dit ten goede aan te wend vir diegene wat Hom liefhet. Wanneer ons oorgee en ons wil dit voor Hom neerlê, sal ons Sy handewerk in ons lewe sien. Om op God te vertrou kan onlogies of onmoontlik voel vir diegene wat nog nooit ervaar het wat dit beteken om lief te hê en te vertrou nie. Iemand in hierdie posisie hoef net een klein treetjie in God se rigting te neem en sê: “ Ek wil leer hoe om U lief te hê en te vertrou – help my asseblief.”
Jesus is “sagmoedig en nederig van hart”, en ons kan met vertroue na Hom toe gaan en ons probleme voor Hom uitstort, met die wete dat Hy ons sal hoor en antwoord. Dit sal nie lank wees voordat enige kind van God, wat bereid is om op Hom te vertrou, sal begin om die werking van die Heilige Gees in sy hart te voel nie. God sal die hart wat in klip, as gevolg van ’n mishandeling in jou kinderjare, vervang met een van vlees en emosie.
Bereid om te vergewe
Bereidwilligheid om te vergewe, is die volgende stap vir iemand wat mishandel is. Dit sal miskien heeltemal onmoontlik lyk, veral vir diegene wat die ergste vorme van mishandeling moes verduur. Bitterheid kan diep in hulle siel wortelskiet en hulle kan swaar daaronder gebuk gaan, maar daar is niks wat die Heilige Gees nie kan verlig en reinig nie. Vir God is alles moontlik. Ons Here verstaan â��â��ons pyn; Hy is “gekruisig in die swakheid van ’n mens, Hy leef uit die krag van God” (2 Kor 13: 4).
Jy hoef nie bang te wees om eerlik met God te wees nie. As jy dit moeilik vind om die bose gedrag van ‘n ouer te vergewe, vertel God daarvan. Dit is so dat onvergewensge-sindheid sonde is, maar net doelbewuste onvergewensgesindheid, waar jy jou hart verhard en sweer dat jy dit nooit eers sal oorweeg om diegene wat jou seergemaak het, te vergewe nie. ‘n Kind van God wat na Sy Vader gaan vir hulp met iets wat hy nie self kan doen nie, sal nie ’n grimmige, dreigende God aantref wat wag om hom te straf nie, maar ‘n Vader met ‘n hart vol liefde, deernis, genade en ‘n begeerte om te help.
Praktiese wenke
Wat beteken dit dan prakties om ’n ouer wat jou mishandel het te eer? Hier is ‘n paar praktiese wenke: bel jou ouers en luister na hulle, selfs al het jy dieselfde stories al herhaaldelik gehoor. Bly stil, eerder as om jouself te verdedig wanneer kwetsende dinge gesê word. Laat vaar verwagtinge dat jou ouer ooit die ouer sal wees wat jy wil hê hy of sy moet wees; vervang jou teleurstelling en hartseer met aanvaarding van wie die persoon is. Kweek ‘n gesindheid van deernis vir die dinge wat jou ouers wel reg gedoen het en spreek dankbaarheid uit vir selfs die geringste pogings om liefde te bewys. Weerhou jou daarvan om neerhalende aanmerkings oor jou ouer teenoor ander familielede te maak. Skep veilige grense sodat jy sondige versoekings vir jou en jou ouer kan beperk.
Disfunksionele gesinne
Een ding wat vergifnis en eer nié is nie, is ’n permanente onderdanigheid aan ouerlike gesag. Die Bybel beveel ons om hulle te eer, maar nie om ’n gevangene te bly in ’n disfunksionele gesin nie. Efesiërs 6: 2-3 beloof ’n lang lewe aan diegene wat hulle ouers eer, gebaseer op die ouers se vermoë om hulle kinders te leer hoe om ’n suksesvolle lewe te lei. Gesinne met ’n vernietigende kringloop van sonde is egter baie gevaarlik, en kinders wat wegbreek, moet veiligheid vind in die familie van God – wat elke Christen se ware familie is (Matteus 10:35-38). Disfunksionele gesinne is vol mede-afhanklikheid, verslawing, geweld, en ’n gebrek aan veilige interpersoonlike grense. Hierdie eienskappe sal soos ’n meulsteen om die nek wees en die kind meesleep na dieselfde sondige patrone. Dit is baie soortgelyk aan die oorkoming van verslawing; as iemand nugter wil wees, kan hy hom nie meer assosieer met mense wat dwelms misbruik nie.
Mishandeling deur ouers
In gevalle waar die kleinkinders blootgestel word aan die gevaar van fisieke of seksuele aanranding, is dit die volwasse kind se plig om hulle eie kinders te beskerm. ’n Mens hoef nie skuldig te voel wanneer jy jou afstand hou van ouers wat jou of jou kinders sal mishandel nie, solank die motief van die skeiding nie wraak is nie.
Jy kan jou ouers van ’n afstand af eer. Ongelukkig is dit waar dat sommige ouers nie genoeg waarde aan hulle verhouding met hulle kinders heg om die verhouding in stand te hou nie. Die leemte wat deur ‘n gebroke verhouding gelaat word, moet deur Christus gevul word eerder as om te hunker na ‘n verhouding met ’n ouer wat nooit bewaarheid sal word nie.
Deur te fokus op jou eie verhouding met Christus, kan jy ware genesing ervaar. Sonder om gered te word, is daar geen hoop nie, maar in Christus word ons nuut, in staat om enigiets te doen waartoe Hy ons roep. Dit is ook moontlik dat jou ouer berou sal hê en sodoende kan ’n nuwe verhouding gebou word op die grondslag van Christus se oorvloedige liefde en genade. Jy kan die lig wees wat jou ongeredde of geestelik verdwaalde ouer tot bekering en verlossing lei.
Genade en deernis
Net soos Jesus ons in ons sondige toestand liefgehad het, kan ons ‘n ouer wat ons mishandel het, eer. Dit behels om genade en deernis te betoon aan dié wat dit nie verdien nie, sodat God verheerlik kan word en jy as gehoorsame kind van God geseën en beloon word.
Onthou: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.“ Hebreërs 12:14. Die Here sal alles gebruik, selfs verskriklike dade, om dit ten goede aan te wend vir diegene wat Hom liefhet. Wanneer ons oorgee en ons wil voor Hom neerlê, sal ons Sy handewerk in ons lewe sien.
________________________________________
GOT QUESTIONS is ’n webwerf wat die Liggaam van Christus bedien deur interessante artikels en Bybelse antwoord op uitdagende vrae te verskaf. Vir meer inligting, besoek www.gotquestions.org


Die Ingesteldheid Van Die Hart

Wanneer ek ander mense help, besef ek elke keer dat ek soveel het om voor dankbaar te wees,” hoor ek iemand sê. Is dít egter regtig die doel van hulp aan ander? Moet dit my net laat beter voel oor myself? Moet ek myself gedurig aan ander mense meet wat minder het as ekself, of wat swaarder as ek kry voordat ek eers dankbaar is?
Is dankbaarheid ’n wondermedisyne vir ons siel?
Ek lees onlangs ’n artikel van Barbara Ehren-reich oor dankbaarheid in The New York Times, getiteld: “The selfish side of gratitude.” Hierin skryf sy hoe selfhelp-ghoeroes en voorstanders van positiewe denke ons laat glo dat dankbaarheid ’n tipe wondermedisyne vir ons siel is. Dit kan amper enigiets vermag, van die versterking van ons immuunstelsel tot by die verlaging van ons bloeddruk en ’n toename in ons lewensverwagting. Geeneen sal ontken dat dankbaarheid noodsaaklik is nie, maar dit kan nooit ’n doel opsigself wees, óf ’n selfsugtige emosie om ons beter oor onsself te laat voel nie.
Ondankbaarheid is diepgewortel
Dankbaarheid kom nie maklik nie. Van nature is ons geneig om ondankbaar en ontevrede te wees. Die lewe skuld ons. Ons wil dinge hê en ons is diep ontevrede totdat ons dit kry. Meer geld, beter huise, blinker motors, nuwe klere, groter erkenning van familie, vriende en kollegas – ons het dit alles nodig net om vervuld te wees. As ander mense rondom ons bekom waarop ons voel ons eintlik geregtig is, dan styg ons ontevredenheid dadelik saam met ons bloeddruk. Gevolglik is daar soveel ondankbare mense in Suid-Afrika. Nie eens die feit dat baie mense steeds kerk toe gaan, maak hulle dankbaar nie.
Omstandighede bepaal die vlak van tevredenheid
Vir die meeste mense is dankbaarheid eintlik maar net ’n wisselende emosie wat afhang van hulle omstandighede. Solank dinge goed gaan betreffende hulle bankbalans, hulle veiligheid en gesondheid, is hulle dankbaar, maar as die stormwinde begin waai, dan waai dit hulle dankbaarheid eens-klaps weg. Die sement van ontevredenheid verhard dan blitsvinnig rondom hulle hart.
Wat is egte dankbaarheid?
Dit is ’n ingesteldheid van die hart. Dankbaarheid is meer as emosies. Dít ook, maar dankbaarheid is siel-sake. Dit is daardie diep ingesteldheid van vrede en vreugde teenoor die Here diep in ons binneste. Omdat Jesus in ons lewe ingestap het en ons oorweldig het met Sy goedheid, is daar ’n diep vrede in ons. Ons harde harte het sag geword. Ons gejaagde gemoed het gekalmeer. Ons het aan die Here se voete tot rus gekom.
Dankbaarheid is ons vertrekpunt vanwaar ons die lewe elke dag beleef. Soms beleef ons dankbaarheid baie intens, dan oorstroom emosies van vreugde en blydskap ons. Dan voel ons die Here se hartklop vuurwarm hier in ons binneste. Maar meermale is dankbaarheid ’n diep bewussyn, ’n vaste wete wat die Gees van God in ons bewerk dat ons geliefdes van die Here is. Dankbaarheid is om altyd te weet dat Christus ons gered het toe ons nie redbaar was nie. Hy het ons in die donker opgespoor toe ons in ons sondes verdrink het. Dankbaarheid vloei voort uit hierdie wete dat ons nou en vir altyd aan die Here behoort. Dankbaarheid is die innerlike oortuiging dat ons kinders van God is in wie se harte die Gees aanhoudend uitroep “Abba, Vader, liefdevolle Vader!”
Die Here se dankbaarheid aktiveer ons
Die regte soort dankbaarheid maak dat ons omgee vir ander, maar dan nie om beter oor onsself te voel nie. Ons as navolgers van Christus se dankbaarheid is sinoniem met daardie diep tevredenheid voor die Here en ’n diep begeerte om Sy hemelse vrede orals te versprei. Ons kan nie anders as om ons vreugde in Jesus se naam te deel by wyse van bekertjies koue water aan dorstiges en porsies brood aan hongeriges nie.
Dankbaarheid is om oop oë te hê vir soveel mense wat nog na Sy lewende waters smag en wat vandag met hongerpyne die harde lewe moet aandurf. Die Here se dankbaarheid aktiveer ons. Dit laat ons nie net vroom rondsit in geestelike skuilplekke sodat ons kan beter voel oor onsself nie. Ware dankbaarheid maak ons juis vergeetagtig wat ons eie behoeftes aanbetref. Dit laat ons lofliedere sing en leef tot eer van God, in so ’n mate so dat dit ander mense se lewens ook aanraak.
________________________________________
PROF STEPHAN JOUBERT is die stigter van ekerk, ’n professor in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Noordwes en Radboud Universiteit te Nijmegen. Vir meer inligting: www.ekerk.org, of info@ekerk.org


Deur Sy Wonde Is Daar Genesing

Here, ek wil nie net bloot ’n Christelike skildery skilder nie. Here, wys vir my wat U wil hê ek moet skilder… “ ’n Paar maande gelede was dit my gebed. Vir weke lank het ek aan skilderye van Jesus in verskillende scenario’s gedink, maar niks het in my gees weerklank gevind nie.
Toe die beeld van Jesus wat aan die Kruis hang, in tasbare detail en die groot skaal waarop dit moet wees, my een oggend te binne skiet, was daar geen twyfel by my dat dit van die Heilige Gees af kom nie. Hy het my gewys dat die skildery ontsaglik groot moet wees, maar die beeld moes ook vergroot, wees sodat Christus se liggaam by die voorarms en net onder die bolyf afgesny word, wat beteken dat die fokus op Sy bolyf, gesig en bo-arms sou wees. Dit sou só geverf en gehang word, dat wanneer iemand wat Sy gesig en Sy wonde soekend besigtig, binne die uitgestrekte arms van Jesus sal staan…in die intieme ruimte reg voor Hom.
God het dit alles beplan
Waar sou ons so ‘n groot skilderdoek in die hande kry? Dít was die eerste vraag, en daar sou nog baie meer volg, maar die volgende oggend het my selfoon gelui; dit was ’n ander kunstenaar van die omgewing wat beplan het om sy ateljee af te skaal. Hy het gevra of ek dalk gebruik kan maak van twee enorme skilderrame, (1.5 x 2 m elk), kompleet met spesiaal ingevoerde Belgiese skilderdoek reeds gespan. Ek was sprakeloos… “Sekerlik, ek was eintlik juis op soek na so iets,” het ek geantwoord. Net daar het die hele projek afgeskop. Binne ’n week het ons ook die perfekte model gevind om te skilder. Op my versoek het my vrou, Janine, ’n paar bestanddele in die kombuis saamgegooi om “wonde” mee na te boots.
Sy bloed, Sy wonde
Janine vertel van haar aandeel in die projek: “Ek het jare gelede vir ’n rukkie lank spesiale-effekte-grimering vir die rolprentbedryf gedoen, en dit terdeë geniet. Nooit sou ek toe kon droom dat ’n mens stopverf vir spesiale-effekte en (baie oortuigende) vals bloed vir ’n liggaam kan maak uit basiese bestanddele wat jy in jou huis het nie. Daar is niks erger vir ‘n grimeerkunstenaar om vals bloed te maak wat vals lyk nie, ek het my dus daarop toegespits om die presiese kleur en tekstuur van bloed na te boots. “Dit was die begin van die proses om Jesus se wonde te ondersoek…het jy al ooit daaraan gedink hoeveel keer Hy deurboor is, hoeveel keer hy gebloei het, hoe dit sou lyk as ‘n wond gebloei het en die bloed gestol het, stof daaraan gekleef het, dit weer gebloei het, ’n kledingstuk daaroor geskuur het, dit weer gebloei het…dit is waaraan ons moes dink en dit het die manier waarop ons na Jesus aan die Kruis gekyk het verander. “
Die skep van die toneel
Die fotosessie was ‘n wonderlike ervaring. Janine het die grimering en beligting gedoen en die manlike model se vrou (wat ‘n haarkapper is) het ons gehelp om “Jesus” se hare “woes” te laat lyk. Die foto’s was treffend, maar net een was besonder treffend – met die regte gesigsuitdrukking en die posisionering van Christus se hoof. Goed so! Nou moes ek net die regte grootte op die skilderdoek pas. Dit was tyd vir my om weer te bid omdat ek maar te goed geweet het dat dit nie my skildery is nie, maar God s’n. Wonder bo wonder het die Here ons weer eens verras met die formaat van die foto wat perfek oor die twee skilderdoeke gestrek het, met die grootte en hoek wat volmaak pas.
Uiteindelik, verf op die doek
Al die voorbereiding het so glad verloop dat die moeilikheidsgraad my verbaas het toe ek uiteindelik met die verfkwas in my hand voor die skilderdoek staan. Ek was gewoond daaraan om op groot skilderdoeke te verf, maar dit was nog steeds dubbeld so groot as enige grootte wat ek voorheen aangepak het. Hoe groter die skilderbeeld, hoe meer foute kan eksponensieel gemaak word. Uiteindelik was die komposisie reg; nou moes ek net die grootste hindernis oorkom…
Jou sondes is aan die Kruis vasgeslaan
Ons navorsing van die wonde het vir my en Janine op ‘n geestelike reis geneem wat ons nie ligtelik kon opneem nie. Tydens hierdie proses het die afgryslikheid van die wonde my emosioneel diep geraak. Ek praat nie eens oor die feit dat ek vir die eerste keer dinge geskilder het wat absoluut geen estetiese waarde gehad het nie. Janine het voortdurend gegril, namate die bloederige gemors voor haar ontvou het en die realiteit daarvan ons in die gesig gestaar het. Studente en vriende wat die ateljee kom besoek het, het uiteenlopende reaksies getoon en die interessantste reaksies was dié van die kinders. Hulle was nie geskok of bang, soos wat ons verwag het hulle sou wees nie, maar was heel gemaklik met die skildery.
Die aspek van groot gapende wonde het my die geleentheid gegun om die sondes en siektes waarvoor ons Verlosser gesterf het, letterlik binne die wonde te skryf, wat diegene wat daarna kyk ’n onvergeetlike ervaring bied. Om die werk ook binne ’n baie beperkte kleurskaal te hou, was uiters belangrik, omdat ek die rooi kleur van Jesus se wonde voorop wou stel – dit moes prominent wees.
Onthou wat Hy vir jou gedoen het
Die skildery kon nie toepasliker wees as juis nou nie! Vroeër vanjaar het ek gehoor ‘n pastoor sê dat dit nou belangriker as ooit is vir ons as gelowiges om nagmaal te gebruik. Dit is ‘n bloedverbond waardeur ons onthou wat Jesus vir ons aan die Kruis gedoen het.
Ons moet almal meer gereeld nagmaal gebruik om die Waarheid oor die Liefdesverbond van Jesus te verkondig. Ons moet die Evangelie verkondig. Hierdie skildery is ‘n enorme 3×2 meter artistieke verklaring aan almal; ‘n herinnering van wat Jesus aan die Kruis gedoen het en dat die oorwinning reeds behaal is!
Die oorwinning behoort aan Hom
Ek staan nederig en oorweldig deur die erva-ring om hierdie skildery te kon verf; ek het nooit gedink dat ek die kruisiging sou skilder nie. Dit was ‘n lewensveranderende ervaring en al die eer gaan my Messias, Jesus Christus. Loof Sy Heilige Naam!
________________________________________
BRINDLEY PRITCHARD is ‘n skilder wat spesialiseer in olieverf see- en strandtonele. Hy bied ook skilderklasse aan. Vir meer inligting of om meer van sy werk te besigtig, besoek www.brindleypritchard.