Waar is die Krag van die Heilige Gees

Daar is vandag méér Christene as ooit in die geskiedenis. Om dit nóg duideliker te stel: daar is meer Christene wat hulleself as ‘wedergebore’ beskou as ooit vantevore. Daar is ook meer Christene wat sê dat hulle Geesvervuld is as op enige stadium sedert die vroeë kerk.
Daar is 625 miljoen Christene op aarde wat selfs sê dat hulle in ander tale gepraat het soos die eerste gelowiges in die Oppersaal! Al hierdie inligting impliseer dat die derde Persoon in die Goddelike Drie-Eenheid kragtiger en op ʼn groter skaal werksaam is as ooit vantevore. Dis immers Hý wat ons oortuig van sonde, wat mense wederbaar en vervul!

DIE HEILIGE GEES VERANDER
Die vraag is egter of die aanwesigheid van soveel Geesvervulde Christene op ons planeet en selfs hier in Suid-Afrika ʼn wesenlike verskil in die wêreld teweegbring? Maak so baie Christene die wêreld ʼn beter plek? As Christene glo ons immers dat die Heilige Gees lewens op die kragtigste en mees dinamiese wyse kan verander. Veranderde lewens moet tog sekerlik ook veranderde gesinne en veranderde gemeenskappe impliseer?
Die invloed van Geesvervulde Christene was vroeg na die ontstaan van die Kerk duidelik waarneembaar in Jerusalem. Sonder die ondersteuning van ʼn welwillende owerheid en as ʼn minderheidsgroep, het hulle ʼn opmerklike verskil in hulle gemeenskappe gemaak. In Hand. 5:28, toe die eerste gemeente sommer nog in sy babaskoene was, moes die apostels die aantyging van die Sanhedrin hoor: “Julle het Jerusalem met julle leer vervul.”
Is dieselfde besig om by ons te gebeur? Is die Kerk nog enigsins ʼn belangrike ‘agent van verandering’ in ons gemeenskappe? Is Afrika besig om ʼn beter kontinent te word – veral gesien in die lig daarvan dat die Christendom suid van die Sahara oor die laaste 100 jaar so merkwaardig gegroei het en dat daar tans op hierdie kontinent gemiddeld minstens 20 000 mense per dag tot die Kerk gevoeg word?

DIE VERVAL VAN ONS DAG
Ek wil nie eers begin om te wonder oor die morele, sosiale en ekonomiese verval in Suid-Afrika nie. Dit is ʼn geykte, maar nog steeds pynlike vraag, hoe ʼn mens ʼn land met ʼn nominele Christendom van meer as 80% in verband bring met ʼn bevolking waar dit in soveel opsigte só sleg gaan en waar die algemene moraliteit tot sulke laagtes gedaal het.
Vanuit ons eie situasie en voorbeeld het ons nie baie goeie redes om nie-Christelike nasies te oortuig dat Christenskap voordelig is vir ʼn volk nie.
Ek voel sleg en verleë om hierdie soort stellings te maak. En ja, ek weet dit vertel nie die hele storie nie. Daar is wonderlike verhale van individue en gesinne, van besig-hede en gemeenskappe wat ten diepste en ten goede deur die Evangelie verander is. Miskien hoor ons nie genoeg daarvan nie omdat die sekulêre media meer belangstel in negatiewe nuus.

GEES TEENOOR VLEES
Ek wonder egter hoe die Here oor Sy Kerk in Suid-Afrika voel? Jesus het immers na hierdie wêreld gekom om die werke van die duiwel te verbreek (Joh. 3:8b). En Sy Gees word immers die Heilige Gees genoem. ʼn Mens kan tog verwag dat waar die Heilige Gees in beheer is, Hy ʼn veredelende effek op die menslike natuur en in ons gemeenskappe sal hê?
Kyk net weer na die vrug van die Gees in Gal. 5: 22: “Liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Dit is die eienskappe waaraan ons en ons wêreld só ʼn behoefte het. Teenoor die vrug van die Gees, staan die werke van die vlees – die vrug van die bose (Gal. 5:19-21): “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge.”
Wat ʼn raak samevatting is dit nie van die toedrag van sake in ons land nie! Ons noem dit maatskaplike probleme en afwykende gedrag – die Bybel noem dit “werke van die vlees” en “sonde”.
Dis dan wanneer ʼn mens die vraag vra: “Wat het geword van die krag van die Heilige Gees?” Moet ons maar aanvaar dat die bose en die kwaad die septer sal swaai en dat Christene maar moet wag totdat die nuwe hemel en die nuwe aarde kom?

SOUT EN LIG VAN DIE AARDE
Verstaan my nie verkeerd nie – Ek glo in ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde waarin geregtigheid sal woon (2 Pet 3:13); waar sonde en die bose nie meer sal wees nie. Ek glo verseker in ʼn nuwe Jerusalem waarvan Open 20:4 sê: “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moei-te sal daar nie meer wees nie.” Ek glo ook nie aan ʼn teologie wat leer dat onsself daardie nuwe aarde tot stand sal bring en dat ons Jesus dan net sal nooi om hier te kom regeer nie – die sg. ‘Kingdom-now’-teologie. Ek glo wel dat ons in daardie eind-dispensasie leef waarvan Open 22: 11 sê: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.” Ek glo egter ook aan die kragtige en bo-natuurlike werking van die Heilige Gees. Ek glo dat die Heilige Gees van ons as volgelinge van Christus die sout van die aarde en die lig van die wêreld wíl en kán maak. Dit is belang-rik dat die gawes van die Heilige Gees in ons kerke en samekomste funksioneer. Dit is wonderlik wanneer ons ook soos die eerste Christene in die Oppersaal in ander tale praat en die ander gawes van die Hei-lige Gees manifesteer.

BEMOEDIGENDE TEKENS
Dit is egter miskien die héél belangrikste dat die effek van die Heilige Gees in ons as gelowiges se lewens die mense en wêreld rondom ons raak. Dat die spontane en natuurlike ‘andersheid’ van gelowiges die oë en harte van ongelowiges en anders-gelowiges sal tref. Laat ek dit onomwonde sê: daar is inderdaad baie bemoedigende tekens! Daar is tienduisende manne wat van manne-konferensies terugkom en wie se veranderde lewens ook hulle huwelike en gesinne verander het.
Daar is talle sakemanne wat hulleself verbind het tot ʼn besigheidsetiek wat in lyn is met die beginsels van die Woord. Daar is politici, sportpersoonlikhede en kunstenaars wat sonder om te dweep, poog om die karaktertrekke van Jesus Christus in hulle loopbane uit te leef. Ek kry regtig die afgelope tyd die indruk dat al hoe meer mense in ons land – selfs bekende persoonlikhede – nie skaam is om hulle verhouding met Jesus Christus te erken en te bely nie. Dank God daarvoor!

SY GEES IS AAN DIE WERK
Moenie die invloed en betekenis van die ernstige gebedsaksies vóór en ná ons algemene verkiesings vroeër vanjaar onderskat nie. Dit sal wonderlik wees as meer leiers in ons regering tot radikale bekering kom en die Heilige Gees deur hulle kan werk. Daar is reeds bemoedigende verwikkelinge wat nie altyd aan die groot klok gehang word nie. Al hierdie dinge sê vir my: die Heilige Gees ís aan die werk!
Mag hierdie nuwe Afrikaanse Christentydskrif, ‘JUIG!’, ʼn instrument wees waardeur die Heilige Gees Sy genadewerk in ons land kan uitbrei. Meer nog, mag jy en ek in ons eie leefwêreld, in ons huise en op die markplein, die verandering wat die Here in ons lewens gebring het, onbeskaamd en onverskrokke uitleef!

BOSE SE AANSLAG
Aanvaar maar dat die koninkryk van die bose ook met ʼn groter aanslag sal kom. Die vyande van die kruis sal meer vermetel en venynig word. Hulle sal ook meer en meer van die media gebruik maak.
Ons gaan egter nie kwaad met kwaad vergeld nie. As Christene gaan ons ook nie ʼn reaksionêre beweging word nie. Nee, ons gaan op al hoe meer terreine die inisiatief neem. Die inisiatief van die liefde; die inisiatief van die Gees. Ons gaan die kwaad oorwin deur die goeie!


Pa’s wat Kinders met Selfvertroue Bou

Duisende boeke, artikels en ander vorms van inligting is vir die nuwe pa op pad na pa-skap, beskikbaar. Baie gee egter teenstrydige raad en beloof terselfdertyd uitstekende resultate. Die nuwe pa word gekonfronteer met die besluit oor watter raad hy sal volg en wat hy sal ignoreer, welwetende dat hy net een kans het hiervoor. Daar is net nie ‘n tweede kans met enige kind nie.
Waar om te begin? God het jou nie in die duister gelaat wat dit betref nie. Hy het ‘n uitgebreide handleiding wat presies beskryf hoe om jou kind te koester, te ont-wikkel en groot te maak, daargestel.
Julle kinders het nodig om fisies, emosioneel en geestelik te ontwikkel om te kan wees presies dít wat God hulle bedoel het om te wees.
As Pa het jy die wonderlike voorreg en verantwoordelikheid om toesig te hou hieroor. Jou verantwoordelikheid as pa is om seker te maak dat jou kinders die vermoë, die oordeel en die hulpbronne het om suksesvol te kan wees. Julle wil tog net die heel beste vir jul kinders hê.
Jy het groot planne vir hulle toekoms en hulle sukses. Sal dit egter verseker dat hulle opgroei as kinders met selfvertroue wat goedaangepaste individue is soos wat God dit bedoel het?
Het jy iemand nodig om jou te help om jou kinders só groot te maak? Kom ons begin dan; daar is nie tyd om te mors nie!

JOU KINDERS IS UNIEK
Kinders is verskillend – dit is God se idee. Hou gesinne dop en kyk hoe kinders in dieselfde gesin radikaal van mekaar kan verskil. Dit is heeltemal normaal. Kom ons kyk wat die Handleiding sê en ons maak seker dat ons nog op die regte pad is. Psalm 139:14-16 verseker ons dat die verskille tussen kinders definitief nie ‘n fabrieksfout is nie, maar deel is van God se meesterplan.
“U het my gevorm, my aanmekaarge-weef in die skoot van my moeder. Ek wil u loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.” Ps 139:13. Onthou een ding: God het nooit nodig om “O gits” te sê nie.

STEL DUIDELIKE GRENSE
Sonder grense kan kinders nie evalueer of hulle die regte dinge doen of nie. Stel die grense en jy sal jou kinders die kans gee om selfdissipline te ontwikkel. Die woord ‘dissipline’ is ‘n emotiewe onderwerp in vandag se gemeenskap. Dit is belangrik om te onthou dat dissipline nie iets is wat jy aan jou kind doen nie, maar iets wat jy vir jou kind doen.
Net om seker te maak, laat ons weer na die Handleiding teruggaan. Spreuke 23:13-14: “Moenie huiwer om ‘n kind te straf nie, want as jy hom slaan, red jy sy lewe. Jy moet hom juis slaan om hom van die dood te red.” Bill Cosby het gesê hy weet nie wat die geheim van sukses is nie, maar die geheim van mislukking is: a) Luister na alles wat mense sê; of b) Luister glad nie na wat mense sê nie. Dissipline kan ook só gesien word. As Pa kan jy kies: ‘dissiplineer altyd’; of ‘dissiplineer nooit nie’.
Die geheim lê in balans. Jou kinders moet gedissiplineer word sonder om hulle selfrespek te vernietig. Hier is nogal ‘n goue wenk: prys in die openbaar, maar dissiplineer privaat.

GEE VERSEKERING EN BEVESTIGING
Gedurende die vormingsjare word Pa gesien as die held en inligtingsbron van sy kinders.
Dit verander egter wanneer hulle tie-ners word. Gebruik dus die kans om ‘n vaste fondament te lê.
Spreek positiewe dinge oor kinders uit.
Wees gedurig op die uitkyk vir redes om hulle te prys.
Moet nooit jou mond oopmaak sonder om ook jou brein te aktiveer nie – dink voordat jy praat.
Onthou altyd dat ELKE woord wat jy sê ‘n permanente invloed op hulle lewens het.
Hulle wíl graag goedkeuring en aanmoediging hê.
Fisiese beserings kan beperkte skade veroorsaak, maar negatiewe woorde aan kinders rig blywende, intrinsieke skade aan. Hou jou woorde positief.

LAAT HULLE TOE OM FOUTE TE MAAK
Hier is die geheim – jou kinders gaan foute maak. Laat hulle dit toe – jou reaksie daarop is krities belangrik. Dit sal hul selfvertrouevlakke in hul volwasse jare bepaal. Verseker hulle dat dit normaal is om foute te maak deur:
• hul foute deel van die leerproses te maak.
• die foute in lesse te verander.
• nie veroordelend of vergelykend te raak wanneer hulle fouteer deur dinge soos: “Hoekom kan jy nie soos jou broer/suster wees nie?” te sê nie.
• die kinders te help om verantwoordelikheid vir hul eie dade te neem, sonder om te dissiplineer.
• hulle te help om die gevolge van hul dade te verstaan.

LEER JOU KINDERS DIE BELANGRIKHEID
VAN ONVOORWAARDELIKHEID
Jy gaan jou kinders grootmaak in ‘n samelewing wat nie die bestaan van onvoorwaardelkheid erken nie. ‘n Baie duidelike begrip van ‘reg’ en ‘verkeerd’ sal vir jou kinders ‘n toekomsbate wees. Die waarheid is nie relatief nie. As jy jou vinger in ‘n elektriese muurprop druk, sal jy geskok word, selfs al glo jy vas dat dit nie gaan gebeur nie.
Leer jou kinders reg; anders sal hulle ingetrek word in die ‘dit-voel-goed-doen-dit-kultuur’. Dit sal definitief op ‘n ramp in die toekoms uitloop. Miskien moet ons net eers weer na die Handleiding kyk in hierdie verband. Spreuke 22:6 sê: “Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.”
Help jou kinders om ‘n mate van ‘eindbestemming’ te ontwikkel sowel as ‘n begrip van die kortstondigheid van die lewe op aarde. Sonder ‘n begin en ‘n einde, is die reis betekenisloos.

HELP HULLE OM HULSELF TE AANVAAR VIR WIE HULLE IS
Groepsdruk probeer ons verander om iets te wees wat ons nooit bedoel is om te wees nie. Ons sien die ‘perfekte’ mense in die media en ons betree dadelik ‘n pad van teleurstelling en verwoesting.
Ons het alreeds ontdek dat God ons met ‘n spesifieke lewensdoel geskep het en dat ons voorkoms beslis nie ‘n fout is nie. Sommiges is kort, sommige lank, ander baie maer en nog ander ‘minder maer’.
Die werklikheid is dat ons ons kinders moet help om hulself te aanvaar soos wat hulle is. Moet egter nie die fout maak om die groepsdruk wat jou kinders gaan ervaar, te onderskat nie.
Somtyds sal hulle persepsie oor wie en wat hulle regtig in Hom is, baie dof wees a.g.v. die skool, die buurt, flieks, mu-siek, televisie, ens. Maak tyd om God se meesterplan vir hulle lewens te versterk en verseker hulle dat hulle geskape is met ‘n definitiewe doel.

MAAK TYD OM ‘N GOEIE VRIEND VIR HULLE TE WEES
Dit is ‘n baie belangrike komponent van jou pa-rol. Omdat die lewe so besig is, mag die versoeking daar wees om kortpad te vat en min tyd saam met jou kind te spandeer.
Onthou, hulle sien jou as mentor, vertroueling en ‘n vriend. Dwelms, alkohol en onvanpaste verhoudings is maar net ‘n paar alternatiewe vir jou vriendskap. As jy nie daar is nie, sal hulle wel ‘n plaasvervanger vind en dit is gewoonlik waar dinge verkeerd loop.
‘n Hele swetterjoel dinge wag om jou plek as hulle vriend in te neem. Skep moed, want al hierdie dinge sal beslis tweede kom indien jy regtig daar is vir jou kinders en die resultaat sal beslis die moeite werd wees.
Is dit dus nie tyd vir jou om die beheer oor te neem nie? Jy kan vandag nog ‘n verskil maak in jou kinders se lewens, en onthou, as jy iets vergeet – dis alles in die ‘Handleiding’!


God, die Regering en die 10 Gebooie

Baie mense verkeer onder die illusie dat die Bybel absoluut niks te sê het oor enige van die sosiale strukture, konstitusionele modelle of politieke sake nie. Ongeveer 29% van die Bybel handel egter oor geestelike sake en ons persoonlike lewens en 71% handel oor sosiale, politieke en nasionale kwessies.
Ons Here Jesus Christus het baie belangrike geestelike beginsels en konsepte deurgegee wat elke deel van die sosiale en politieke lewe affekteer. Jesus het vir die Romeinse Goewerneur, Pontius Pilatus gesê: “U sou geen absolute mag oor My hê as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, nog groter skuld.” Joh 19:11. Siviele gesag is baie duidelik afgewentel deur en verantwoordbaar aan God.
Die Bybel is baie duidelik dat God siviele regerings ingestel het as “ ‘n dienaar van God om jou beste belange te bevorder.” Rom 13:4. Die siviele regering is dus geroep om God se reg toe te pas: “…om die wat kwaad doen, te straf…” 1 Pet 2:14.

BESKERMING IS PRIMÊR
Die primêre taak en verantwoordelikheid van ‘n siviele regering is die beskerming van wetsgehoorsame burgers en die straf van diegene wat die wette breek. Psalm 101 herinner ons dat die taak van Goderende regeerders is om die boosdoeners te straf, boosheid uit te roei en die wetsgehoorsames te beskerm. Jesus het ons geleer om: “aan die keiser (te gee) wat hom toekom. Maar gee ook aan God alles wat Hom toekom.” Matt 22:21. Die siviele regering het sekere regmatige regte en verantwoordelikhede, maar dit is grootliks beperk. Ons moet ons belastings betaal (maar belasting wat so hoog is as selfs 10%, is eintlik onderdrukkend – 1 Sam 8: 10 -18); militêre diens te verrig indien so vereis; as getuies in die hof te getuig as daar misdaad gepleeg is en om die lewe, die eiendom en reputasie van ons bure te respekteer.
Die aanbidding van God, opvoeding van ons kinders, ons privaateiendom, ons individuele ondernemings en persoonlike menings (aanbiddingsvryheid, onderwysvryheid, vrye markstelsel en vryheid van spraak) is baie duidelik nie geskoei op die lees van die regering nie en val dus buite die jurisdiksie van ‘n Bybelgefundeerde konstitusionele staat.
Ons Here het die gesag van die morele, sosiale, ekonomiese en politieke Wette van God, soos ons dit in die Ou Testament vind, onderhou: “Julle moenie die rede vir my koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ‘n streep deur die wet of die profete te trek nie. Nee, Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom. Ek verse-ker julle, al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly. Ja, dit sal geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is. As jy dus die kleinste van God se opdragte opsy sou skuif en ander leer om dit ook te doen, sal jy die kleinste wees in God se koninkryk. Maar as jy God se wet tot in die kleinste besonderhede respekteer en gehoorsaam, sal jy groot wees in sy koninkryk.” Matt 5:17-19.
In Sy openbare onderrig het Jesus die Ou Testamentiese Wette teen moord, diefstal en egbreuk (Matt 5:21-28) bevestig; asook díé wat handel oor die oneer teen-oor ouers (Matt 15:4) en meineed (Matt 19:18). Jesus het ook die reg op privaatbesit van eiendom en die vryemarkstelsel en winsneming onderskryf (Luk 16:11; 19:12-27; Matt 20:1-15; 25:14-30).

MAGSHEBBERS OOK DIENAARS
Ons Here het ook geleer dat siviele mags-hebbers ook openbare dienaars behoort te wees. Matt 20:25-28: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die magshebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle. Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ‘n leier wil wees, behoort julle dienskneg te wees. En wie die eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees.” Kyk ook in hierdie verband na Luk 22:25-26.
Dit is juis om hierdie rede dat amp-tenare in siviele regerings ‘ministers’ en ‘dienaars’ genoem word. Die hele konsep dat ‘n siviele regering die dienaar van sy inwoners is, is ‘n unieke Christenidee wat uit hierdie verse ontstaan het. Die term ‘Eerste Minister’ het hieruit ontstaan – as die eerste dienaar.
Terwyl die meeste groepe vandag eks-terne oplossings vir ons vele sosiale pro-bleme verkondig – redding deur politiek of deur veranderde sosiale strukture en wette – beklemtoon die leringe van Christus die nodigheid van interne verande-ring, d.w.s. jou hart en verstand moet nuut word. Matt 15:19: “Wat uit die hart kom, is slegte gedagtes, soos om moord te pleeg, ontrou te wees in die huwelik, onsedelikheid te bedryf, te steel, leuens te vertel en mense te belaster.”

WARE VRYHEID
Ware Vryheid kom van binne af. Die fondasie vir ‘n ware vry en vooruitstrewende nasie kan net gevind word in karakters, verstand en die lewens van mense wat deur God se genade verander is. Om suksesvol te wees, moet ‘n gemeenskap bestaan uit eerlike inwoners wat nie sal steel nie, hardwerkend en pligsgetrou is, medelydende gesinne wat omgee vir vir hul bure, verantwoordelike werkers wat hul plig sal nakom en getroue rentmeesters van openbare bronne.
Nasies se krag hang van die krag van die gesinne binne die nasie af. Regerings kan net goed wees indien die inwoners van die land goed is. Die wat hulself nie kan beheer nie, kan beslis nie ‘n stad regeer nie (Spr 16:32). Die wat nie hul eie huishouding kan bestuur nie, is ook nie in staat om ander te lei nie (1 Tim 3:4-5).
God het vier sfere vir regering ingestel:
1. Selfregering: Gesimboliseer deur die gewete.
2. Familieregering: Gesimboliseer deur sterk dissipline.
3. Kerkregering: Gesimboliseer deur die sleutel van Kerkdissipline.
4. Siviele Regering: Gesimboliseer deur die swaard van die reg.
God het ook in die Israelse regering tien sleutelbeginsels van vryheid gevestig:
1. ‘n Geskrewe grondwet (verbond), gebaseer op God se Woord, wat die mag van die regering baie duidelik definieer en beperk.
2. ‘n Skeiding van mag en funksies in die siviele regering in drie verskillende vertakkings:
•         Uitvoerend (die koning of die regter),
•         Wetgewend (die Raad en Sanhedrin),
•         Geregtelik (die ouderlinge of regters in elke gemeenskap).
•         Hierdie drie vertakkings van die regering is gebaseer op hoe die Here Sy Regering openbaar het – Jes 9:6,7. Jes 33:22 sê ook: “Want die Here is jou Regter, die Here is ons Regeerder. Die Here is ons Koning. Hy is die een wat ons sal red.”
3. ‘n Onafhanklike regstelsel en die reg op ‘n regverdige verhoor (2 Kron 19: 5-7). In Deuteronomium 19:15-19 word die beginsels van ‘n regverdige verhoor soos volg uitgespel:
•         jy is onskuldig totdat jy skuldig bevind is,
•         die reg op regsvoorskrifte,
•         getuies moet die beskuldigde persoonlik konfronteer,
•         ‘n saak moet ingestel word deur twee of drie getuies,
•         regters moet onpartydig wees.
4. ‘n Nasionale wetgewer (wetmakende instelling) waar die een huis bestaan uit verteenwoordigende regters of amptenare wat deur die mense ver-kies is (Deut 1:13 – 17). “Maar jy moet uit die volk eerlike en bekwame manne kry wat vir die Here wil werk en nie omkoopgeld sal aanvaar nie. Julle moet hulle aanstel om regters te wees oor groepe van onderskeidelik 1000, 100, 50 en 10 mense.” Eks 18:21.
5. ‘n Tweede huis in die wetgewer wat bestaan uit twee oorgeërfde ouderlinge uit elk van die elf stamme (of geo-grafiese gebiede) van Israel saam met die 24 priesters uit die stam van Levi en twee skrifgeleerdes uit elk van die 12 stamme. Dit het dan die Sanhedrin gevorm.
6. ‘n Uitvoerende beampte (regter of ko-ning) wat onder die leiding van God gekies is en wat die goedkeuring van die ouderlinge het (Deut 17:14-20; 1 Kron 11:3).
7. ‘n Gedesentraliseerde staat waar die meeste verantwoordelikhede en mag op die plaaslike regering, die familie en die individu rus. (Sentralisering van mag in ‘n unitêre staat was nog altyd ‘n heidense tendens soos gesien in Nineve, Egipte en Babilon. Omdat mag bederf bring, is dit wys om die mag van die siviele regering in ‘n sisteem van wigte en teenwigte te verdeel. (Eks 24:1; Deut 1:13-17; Hand 17:26).
8. ‘n Weermag wat bestaan uit opgeleide inwoners wat die reg en plig het om die wapen op te neem ter verdediging van hul huise, families, gemeenskap en nasie, (Num 1:2-3; Rig 3:2; Deut 20:1-4,9).
9. ‘n Vryemarkekonomie gebaseer op privaateienaarskap van eiendom en individuele vrye ondernemings. Enige belasting wat hoër as 10% was, is as onderdrukkend beskou en enige eiendomsbelasting of erfenisbelasting is verbied. Instellings en individue wat in voltydse bediening betrokke was, kon nie belas word nie. Bybelse ekonomie het ook onregmatige mate (inflasie) en gewigte (valuta) verbied. (Eks 20:15,17; Deut 19:14; Spr 10: 2-4; 1 Tes 3: 10; 1 Sam 8: 10 – 18; 1 Kon 21:3).
10. ‘n Onderwysprogram wat deur ouers, maar met die hulp van die Kerk, onafhanklik van die staat, ondersteun word. (Deut 6:7; Esra 7:23,24; Matt 28:19; Ef 6:4; Kol 2:8).

FONDASIE VIR AL ONS REGTE
Die Tien Gebooie verskaf nie net die fondasie vir sosiale orde nie, maar dit is ook die fondasie vir al ons ander regte. Elke gebod handel oor ‘n spesifieke area: God, aanbidding, spraak, tyd, gesag, lewe, liefde, eiendom, waarheid en die gewete.
Die Tien Gebooie dek ons verantwoordelikheid teenoor God, teenoor ons ouers en ook teenoor ander mense. Gehoorsaamheid aan hierdie Gebooie het ‘n respek vir God, mense en eiendom tot gevolg.
Elke Gebod bevat ‘n verbod, bv. “Jy mag nie nog ander gode buiten My aanbid nie…” verbied veelgodery en ateïsme. Elke Gebod impliseer egter ook ‘n reg. Die Eerste Gebod impliseer tog vryheid van aanbidding.
Wanneer die Derde Gebod godslastering, vals profesieë en goddeloosheid verbied en wanneer die Negende Gebod meineed, skinder of lastering verbied, is dit die enigste beperkings wat daar op spraak gelê word. Buite hierdie beperkings is daar vryheid van spraak. Behalwe om afgode-diens in die Tweede Gebod te verbied en gierigheid en selfsug in die Tiende Gebod, het ons vryheid van gewete.
Die Sesde Gebod verbied moord, selfmoord, aborsie en genadedood; dus verskans dit die reg op lewe. Die Sewende Gebod verbied ontug en perversie – dit verskans dus die heiligheid van die huwelik. Net so ook die Agtste Gebod wat be-drog en diefstal verbied – dit verskans die reg op privaateiendomsbesit.
Die Tien Gebooie is die fondasie van al die volgende regte:
1. vryheid van aanbidding;
2. die reg om God se Wil te ken en dit te doen;
3. vryheid van spraak;
4. die reg om te werk en te rus;
5. respek vir gesag;
6. die reg op lewe;
7. die heiligheid van die huwelik;
8. privaat eiendomsbesit;
9. die reg om teen laster beskerm te word;
10. vryheid van gewete.
Die Bybel definieer sonde as “wetteloosheid”. 1 Joh 3:4. Jesus het gesê: “As julle My liefhet, sal julle My opdragte gehoorsaam.” Joh 14:15
Amos 5:15, 24: “Julle moet die bose haat en die goeie liefhê. Sorg dat die regverdigheid in die howe seëvier. … Ek wil liewer ‘n vloed van regverdigheid sien, ‘n eerlike leefwyse soos ‘n stroom water wat nie ophou vloei nie.”
George Washington het gesê: “Godsdiens en moraliteit is onmisbaar vir enige goeie regering.”


Die ‘Eks’-Faktor

Op my troudag is ek met die man van my drome getroud. Maar … my nuwe man was nie die man wat ek in my drome as dogtertjie en tiener gekoester het nie! Die man van my kinder- en tienerdrome het sonder die bagasie van ‘n eerste vrou en kind gekom. Die man met wie ek getroud is, Scott, is geskei as gevolg van sy eerste vrou se ontrouheid.
In die ses jaar van ons huwelik het sy eerste vrou op vele geleenthede ingemeng en sodoende die harmonie tussen ons versteur. Sy het Scott op sy selfoon geskakel en aangedring daarop om hom alleen te sien. Sy het ‘toevallig by ons aangekom’ as ek nie by die huis was nie. Sy het ook baie dikwels iets aaklig oor my gesê – maar altyd op ‘n baie ‘vriendelike’ manier.
Ek het probeer om aangenaam te wees, maar sy het skynbaar nie daarin belanggestel om my op dieselfde manier te behandel nie. Maar toe sy onbeskofte dinge oor my huwelik begin sê, het ek haar laat weet dat haar opmerkings onvanpas is. Haar reaksie? ‘Sy sal vir my bid!’

GETROUD MET BAGASIE
Daar is ‘n ou spreekwoord wat sê as jy trou, trou jy ook met die familie. Die werklikheid is egter as jy trou met iemand wat reeds voorheen getroud was; dan moet jy ewe skielik ook die geskiedenis, die kinders en die pos wat nog steeds vir die vorige vrou aankom, hanteer. Hierdie huwelike bied unieke uitdagings en soms ook onverwagte jaloesie, vergelykings en onseker-hede wat dikwels ‘n paartjie uitmekaar kan laat spat. Dit is hoekom dit veral belangrik is dat jy en jou huweliksmaat verenig bly ten spyte van en teen die inmenging van die ‘eks’-faktor. Indien jy met die ‘eks-faktor’ sukkel: hier is 4 strategieë wat jou huwelik sterk sal hou.

1. BID VIR DIE VORIGE HUWELIKSMAAT
Dikwels as my man se ‘eks’ snedige aanmerkings gemaak het, wou ek bid soos Dawid in Ps 3:8 – “Staan op Here! Bevry my tog, my God! U het al my vyande op die kakebeen geslaan, die tande van die goddeloses het U gebreek!” Ongelukkig is dit nie die beste keuse nie. Om God te vra om vuur en swael te laat neerkom, mag dalk aanvanklik goed voel, maar dit is beslis nie die toepaslikste plan van aksie nie.
Jesus, aan die anderkant, het ons gevra om só te bid: “Maar Ek sê vir julle, julle moet julle vyande liefhê en bid vir die wat julle vervolg.” Matt 5:44. Vra God om die ander persoon te seën, omdat, al is dit dan vir geen ander rede nie, sy/hy na die beeld van God geskape is, of omdat sy/hy die ouer van jou stiefkind is.
Bid dat die persoon wyse ouerbesluite sal neem. Bid dat God vrylik in die ‘eks’ se lewe sal werk. Bid dat jou hart (sluk-sluk) sal versag en dat jy God se liefde sal uitleef – ook teenoor dié persoon.
Ek het gevind dat wanneer ek vir Scott se ‘eks’ bid; dan koester ek aangenamer gedagtes oor haar. Indien ek God dan toelaat om aan die verhouding te werk en Sy wil te laat geskied, is ek minder geneig om deur haar inmenging ontstel te word. Ek kan dit nie verklaar nie; ek weet net dat dit beslis werk!
Dit is egter nie net kitsgebede nie – soms kos dit ernstige, tydrowende gebede wat met vas gepaard gaan. Die belegging is egter die moeite werd.

2. VERHOED DIE VERGELYKINGSTRIK
Sommige huweliksmaats is veral daarop ingestel om beter as die ‘eks’ in alles te wees. In die proses gee hulle toe aan jaloesie of gevoelens van vernedering indien hulle voel dat hulle iewers tekort skiet.
Een vrou, Sara, het ‘n gewigsprobleem. “Troy se eks is maer en stylvol, ek nie. Ek vereis ‘lae onderhoud’. As ek myself hoegenaamd toelaat, dink ek by myself: ‘Wil Troy my dalk maerder hê?’ Wens hy dalk dat ek meer ‘n ‘trofee-vrou’ moet wees?” Vergelykings tussen jou en die ‘eks’ laat jou onseker voel – hanteer dit onmiddellik. Erken jou onsekerhede, bid daaroor, skryf daaroor in jou joernaal, maar moenie toelaat dat dit jou gedagtes domineer en jou huwelik verwoes nie.
Ek weet uit eerstehandse ondervin-ding! Daar was tye dat ek misleidende gedagtes gekoester het: ‘Het Scott se vorige vrou dit beter gedoen?’ ‘Vergelyk Scott my met haar?’
Dit het ‘n groot verskil gemaak toe Scott my verseker het: “Dit het ek nie in my eerste huwelik gehad nie – ek het nooit enige rede om jou te wantrou nie.”
Glo jou huweliksmaat as die dinge gesê word. Dit is meer as baie waarskynlik dat hy/sy jou nie met die ‘eks’ vergelyk nie. Indien dit wel gedoen word, is dit nie jou probleem nie, maar jou maat s’n! Jy hanteer net dit wat jy kan verander. Dit is waar 2 Kor 10:5 so belangrik is: neem daardie negatiewe gedagtes gevange in gehoorsaamheid aan Christus.

3. STEL DUIDELIKE GRENSE
Indien jy met die ‘eks’ te doene het, beperk die gesprekke tot die huidige of die kinders. Indien die ‘eks’ begin uitvis oor of ontoepaslike kommentaar lewer oor jou, jou maat of jou huwelik, of selfs so ver gaan om die verlede op te diep – moenie verder gesels nie. Eindig die gesprek net daar – op ‘n baie hoflike manier!
Maak verder ook seker die ‘eks’ verstaan dat daar geen geheime tussen jou en jou maat is nie. Dit is belangrik dat sy/hy sal besef dat:
jou huwelik nie sy/haar saak is nie;
jy en jou maat ‘n span is.
Indien telefoonkontak ‘n probleem is, probeer gerus e-poskontak of per brief – laat jou maat egter altyd eers die inhoud lees. Scott vertel my van elke keer wat sy ‘eks’ bel of met hom kontak het, asook presies wat sy gesê het. Hy vra my om te luister na elke selfoonboodskap – dit bou die vertroue tussen ons omdat ek weet hy steek niks vir my weg nie. Onthou om grense te stel beteken nie dat jy onbeskof is nie; dit is slegs om ferm te wees oor wat aanvaarbaar is en wat nie. Jy kan nog steeds met grasie optree sonder om verskonend te wees.

4. OEFEN VERGEWENSGESINDHEID
Vir jare kon ek Scott se vrou vergewe net om haar weer te sien moeilikheid maak in ons lewens. Ek sal waarskynlik altyd hieraan moet werk – om te vergewe. Ek verstaan Petrus se vraag aan Jesus: “Here, hoeveel maal moet ek ‘n medegelowige vergewe wat iets teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe? Nee, verseker Jesus hom, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe!” Matt 18:21,22.
Dit mag dalk moeilik wees om te bid: “God help my om hom/haar lief te hê,” omdat, om baie eerlik te wees, dit ‘n reuse stap is. Jy kan ook bid dat God jou empatie vir die ’eks’ sal gee. Empatie is al ‘n stappie nader aan vergewensgesindheid…

DIT GAAN NIE OOR MY NIE
Nadat ek vir jare haar gedrag dopgehou het, het ek besef Scott se ‘eks’ se gedrag het niks met my te doen nie. Dit het my gehelp om dinge nie persoonlik op te neem nie. Miskien blameer die ‘eks’ in jou verhouding jou vir alles wat sleg is, of begin selfs ‘n skinderstorie oor jou.
Onthou – die beste manier om hierop te reageer is deur grasie, volwassenheid en vriendelikheid – selfs al voel jy glad nie daarna nie. God verstaan verhoudings; Hy verstaan dat mense mekaar nie altyd op Goderende, vriendelike en liefdevolle maniere hanteer nie.
Maar Hy vereis dat ons nog steeds respekvol teenoor ander, selfs ‘ekse’, sal optree, want uiteindelik is ons verantwoordelik vir ons eie reaksies en nie vir die ‘eks’ s’n nie.

INDIEN MAN- OF VROULIEF NIE AAN BOORD IS NIE.
Sommige maats verstaan net eenvoudig nie dat die ‘eks’ ‘n kwessie is nie, of erger nog, weet dit, maar doen niks daaromtrent nie. Indien jy in hierdie situasie is, daar is hoop. Oorweeg hierdie strategieë:

STEL JOU SAAK; BLY DAN STIL.
Deur te kerm en dan te hoop dat die saak sal aandag kry, werk eenvoudig nie.

NOEM ELKE INSIDENT WAT VOORVAL.
Indien die ‘eks’ onaangenaam raak, noem dit heel saaklik aan jou maat. Vra dan wat jy volgende keer moet doen as dit gebeur.

WEES BAIE VERSIGTIG OM SAKE IN EIE HAND TE NEEM.
Dit kan sake net versuur. Selfs al is jy reg, is dit beter om nie betrokke te raak nie.

HOU ‘N JOERNAAL.
Dis ‘n goeie manier om van jou gevoe-lens ontslae te raak. Hou rekord indien jy dalk bewyse gaan benodig.

BID VIR JOU HUWELIKSMAAT.
Vra God om jou maat se oë oop te maak vir die situasie en vra ook vir raad hoe om dinge te hanteer.

HOU JOU EMOSIES IN TOOM.
Kies jou argumente baie versigtig – dis nie die moeite werd om jou huwelik te verwoes oor die ‘eks-faktor’ nie.

FOKUS OP DIE POSITIEWE DINGE IN JOU HUWELIK.
Jy het jou maat liefgekry. Vind die goeie eienskappe (selfs al is onderskeiding nie een daarvan nie), en geniet hulle.