Tieners: Waarom Doen Hulle Dit?

Feitlik elke dag skree die koerante net nog meer stories uit van wat tieners oor hulself of ander mense bring. Vir baie van ons is dit nie net abstrakte stories in die pers nie, ons ervaar die rampe in ons kinders of hulle vriende of vriende se kinders – dié vir wie ons daagliks moet onderrig. Elke keer wat ons hoor dat iemand begin het om dwelms te neem, die straatlewe verkies of anoreksies raak, vra ons onsself die vraag af: Hoekom doen hulle dit? Hoekom kritiseer hulle alles? Hoekom neem hulle dwelms? Hoekom respekteer hulle nie gesag nie? Waarom ontwikkel hulle eetsteurnisse? Hoekom is hulle so obsessief oor die regte ‘beeld’?

Hoekom leef hulle seksueel promisku? Waarom dink hulle ou mense het geen waarde nie? Waarom doen hulle nie iets nuttig nie? Hoekom? Hoekom? Hoekom?

TIENERMISTERIE
Vir baie van ons is tieners nogal ‘n misterie. Dit is asof hulle van ‘n ander planeet is. Ouers vind dit veral baie moeilik om hulle te verstaan, wat nog verantwoordelik wees vir hul aksies. Ons mag dalk net onder die versoeking swig om die raad van Mark Twain te aanvaar. Hy het aanbeveel dat, sodra ‘n seun dertien jaar oud word, hy in ‘n vaatjie verseël moet word met net ‘n enkele gaatjie vir lug. Wanneer hy dan vyftien jaar oud is, moet die gat toegestop word.

NUWE DENKE NODIG
Deur my werk met tieners oor die afgelope agtien jaar, het ek baie ouers ontmoet wat dink dat hulle as ouers gefaal het. Hulle het dikwels in trane by my aangekom met die vraag: “Wat het ek verkeerd gedoen?”

Hulle beskryf die gedrag van die seun of dogter en dan sê hulle gewoonlik: “Dit moet ons fout wees.” Daar is sekere dinge wat ouers kan doen om meer met hulle tieners te identifiseer en hulle meer effektief te help. Maar voordat ons enigsins kan begin om te besin oor hoe ons die tieners kan help, is dit nodig dat ons eers verstaan waarom so baie tieners optree soos wat hulle optree.

Ons kán nie oor sekere kwessies dink as ons nie eers verstaan wat die onderliggende oorsake is nie. Baie van die kern¬oorsake van tienergedrag lê nie soseer by die huis of die ouers nie, maar eerder in die massiewe verandering wat binne die Westerse kultuur plaasgevind het oor die afgelope paar jaar.

DINGE IS NIE MEER DIESELFDE NIE
Die term ‘tiener’ is in 1942 bedink deur ‘n groep marknavorsers wat ‘n nuwe jongmenskategorie gesoek het – sodat hulle geteiken kon word deur bemarking. Se-dertdien het so baie dinge verander. As jy daardie tyd vir ‘n tienerseun sou vra wat hy die heel graagste wou hê, sou hy waarskyn¬lik geantwoord het ‘n pak klere soos sy pa s’n. Vandag is dit die heel laaste ding op aarde wat hy wil hê!

Navorsing wys dat die top sewe dissiplinêre probleme in skole in 1940 was: praat in die klas, kou kougom, stap uit die ry, hardloop in die saal, maak geraas, dra verkeerde klere en gooi nie vuilgoed in die blik nie. Nou, egter, is die top sewe pro-bleme soos volg: dwelmgebruik, alkoholgebruik, swangerskap, verkragting, selfmoord, roof en aanranding. Dit lei geen twyfel dat tieners deesdae baie anders is nie. En die wêreld waarin ons leef, ook.

BESIN OOR IMPLIKASIES
Ons kultuur het grootliks verander oor die afgelope dekade – in skaal, diepte en spoed wat nog nooit vantevore in die hele beskawing gesien is nie. Tensy ons bewus is van die veranderings en die implikasies deurgedink het, sal ons nooit in staat wees om ons tieners te verstaan wat daarmee moet opgroei nie. En ons sal ook nie eers begin om ‘n antwoord te hê vir die ewigdurende vraag: Hoekom doen hulle dit? nie.

BOMBARDEMENT VAN DIE ONVERSTAANBARE
Douglas Rushkoff, die Amerikaanse joernalis en sosiale kommentator, het die volgende opgemerk: “Ons wêreld verander so vinnig dat ons skaars die verskille kan opmerk, hoeveel te meer nog dit kan hanteer. Of dit nou ‘n oproep is wat wag, MTV, digitale kontant of vae logika, ons word daagliks gebombardeer met ‘n toe-nemende aantal woorde, toestelle, idees en gebeure wat ons net nie verstaan nie. Die kultuurinstellings waarvan ons afhanklik geword het – georganiseerde godsdiens, ons leiers en helde, die mediese wêreld, korporatiewe instellings en die familie self – dit alles het nou op groot skaal begin verbrokkel onder hul eie gewig, en dit alles binne dieselfde paar dekades. Sonder om ‘n millimeter te migreer, het ons tog verder gereis as enige ander generasie in die ganse geskiedenis.”

IN ONBEVARE VAARWATERS
Ons moet besef dat ons nou in onbevare vaarwaters is. Nog nooit in die ganse beskawingsgeskiedenis het ‘n generasie in so ‘n uitgebreide verandering grootgeword soos nou nie. Gedurende die afgelope paar dekades is feitlik elke iedere grondbeginsel en –waarde op sy kop gekeer. Filosofies moes ons die skuif van mo¬dernisme na post-modernisme maak; opvoedkundig moes ons van die didaktiese na die kritiese model verander.
Sosiologies het baie van ons ge¬sinne geheel gedisintegreer. Sielkundig het die nuwe siening van die brein se funksie die vorige basiese konsepte van individuele identiteit vernietig. Polities het die val van kommunisme die hele wêreldkaart herskryf. Ekonomies het die hele triomf van die individuele verbruiker oor die sosialisme ons waardebepaling geheel en al verander.

KITSWÊRELD ANDERS
Op mediese gebied is dit wat vantevore totaal onmoontlik was, deesdae gewoon en alledaags. Op tegnologiese gebied word ons die kitswêreld deur die rekenaar en internet aangebied. En die lys gaan net aan en aan. Waar ons ookal in die Westerse beskawing kyk, het daar oor die afgelope paar dekades groot veranderinge plaasgevind. Is ons dan verras dat ons wat vóór hierdie veranderinge grootgeword het, dit moeilik vind om hulle wat tydens hierdie veranderinge opgroei, te verstaan?

Ons moet dan tog mos baie duidelik dronkgeslaan wees deur tienergdrag. Hulle is so anders as ons toe ons daardie ouderdom was as gevolg van die wêreld waarin hulle grootword. Hulle wêreld verskil radikaal van die wêreld van selfs tien jaar gelede. En tog is dit die wêreld wat ons almal ken. Daar is sekere aspekte van die tienerkultuur wat uniek is aan tieners, maar ‘n groot deel daarvan word gedeel met die groter samelewing waarvan ons almal deel is.

TIENERWÊRELD UITDAGEND
Ons vind dit moeilik om tieners te verstaan, omdat ons nie die wêreld verstaan waarin hulle opgroei nie – en dis die wêreld waarin ons ook leef. Dit is nie die wêreld waarin ons grootgeword het nie. Dit is beslis nie die wêreld wat ons gevorm het nie, maar dit is die wêreld waarin ons van¬dag leef. Nou waarom verstaan ons dit dan nie? Die antwoord op hierdie paradoks lê moontlik opgesluit in die Chinese spreuk wat sê: “As jy wil weet hoe die water is, moenie ‘n vis vra nie.” Hoe meer ons deur dinge omring word, hoe minder is ons bewus daarvan. Ons kan só gewoond raak aan dinge om ons dat ons nie regtig meer oor hulle nadink nie. As ek in Amerika reis, sê mense dikwels vir my: “Sjoe, ek hou van jou aksent!” Dit verras my altyd, want ek dink nie juis dat ek ‘n aksent het nie. Húlle het die vreemde aksent. Ek praat normaal. Maar natuurlik het ek ‘n aksent – ek hoor dit net nie meer nie! Op dieselfde manier, alhoewel ons in hierdie wêreld leef, het ons nie insig in ons wêreld nie. In elk geval, ons is dikwels so besig om net te oorleef, dat ons nie nog tyd het om die onderliggende aard van ons kultuur te bedink nie. Maar ons moet. Ons moet bewus raak van ons filo¬sofiese en sosiale aksente, want dit is slegs dan dat ons ons wêreld op ‘n dieper vlak verstaan en dat ons kan reageer op die kwessies wat ons op die oppervlak moet hanteer. Ek hoop dat, soos wat jy hier lees, jy tyd sal maak om te dink oor die wêreld waarin ons leef, ver¬al die effek wat die enorme kultuurverande¬ringe oor die afgelope dekades op ons tieners gehad het. Net as ons verstaan waarom tieners optree soos wat hulle optree, sal ons in staat wees om helder te kan dink oor hoe dinge anders kan wees.

VERBETERING MOONTLIK
Alhoewel ons nie as individue verantwoordelik is vir die veranderinge wat oor die afgelope paar dekades ingetree het nie, kan ons dalk sáám iets daaraan doen. As ons veranderde kultuur so ‘n vernietigende effek op ons tieners het; dan moet ons, ter wille van die komende geslagte, wéér verander – nie noodwendig terug soos wat dit was nie, maar miskien na iets beters as wat ons op die oomblik het.

OPPERVLAK MISLEIDEND
Sommige van die onderliggende konsepte in hierdie boek sal dalk ‘n rukkie neem om te begryp. Dit is nie maklik nie, maar tog so belangrik. Dit is ook makliker om net na die oppervlak van dinge te kyk, maar dit is nie altyd waar die antwoorde gevind kan word nie. Oppervlakkige antwoorde kan ons so dikwels net mislei.

REALITEIT VERSKIL
Die skrywer en kommentator, Os Guinness, vertel altyd die storie oor die veiligheidswag by die Russiese fabriek. Eendag het hy ‘n werker gestop wat met ‘n kruiwa met ‘n verdagte pak daarop by die hek uitgeloop het. Die wag het die pak oopgemaak net om te sien dat dit gevul was met ‘n klomp rommel, saagsels en gemors wat van die vloer opgevee is.

Die volgende dag het hy dieselfde werker onder dieselfde omstandighede gestop. Dit pak het weer niks waardevols bevat nie. Nadat dieselfde ding vir dae na mekaar gebeur het, het die wag eindelik vir die werker gesê: “Goed, ek gee moed op. Ek weet jy beplan iets, maar ek weet nie wat nie. Ek belowe ek gaan jou nie arresteer nie. Sê net vir my wat jy steel.” Die werker het na die wag gekyk, geglimlag en geantwoord: “Kruiwaens, my vriend.”

BESINNING BROODNODIG
Soos die wag, kan ons dalk net na die oppervlak van sake kyk en die ware antwoorde miskyk wat slegs verkry kan word as ons diep genoeg kyk en soek. Laat ons dus dieper as die oppervlak soek. Laat ons ons kultuur ondersoek en dit ontleed. Laat ons terugkyk in die geskiedenis, laat ons die onderliggende filosofieë oordink en laat ons doen wat nodig is sodat ons die vraag; “Waarom doen hulle dit?” kan beantwoord.


n Gesprek Met Prof. Piet Strauss

VINNIGE FEITE: PROF. PIET STRAUSS
• Waar gebore en grootgeword: In 1951 in Bethlehem in die Vrystaat gebore en in Lydenburg en Reitz grootgeword.
• Getroud: Ria van Rensburg in 1975.
• Kinders: 4 eie kinders (3 seuns, 1 dogter) en 4 pleegkinders. Lg. se ouers is oorlede en hulle het by ons ingewoon. Al 8 is reeds uit die huis.
• Studeer aan: Die Universiteit van die Vrystaat en Universiteit van Pretoria.
• Stokperdjies: Sport (7 silwermedal¬jes in die Comrades) en geskiedenis.
• Ontspanning: Gim.

Hierdie konferensie is onder andere bygewoon deur Prof. Piet Strauss, Dr. Dirk Herman, Dr. Jeanette de Klerk-Luttig, Dr. Danny Titus, Moss Ntlha, Tim du Plessis, Dr. Mario Denton, Buhle Dlamini, Dr. Chris Jones en Dr. Johan Smith, om maar enkeles te noem. Ek het die kans gehad om tydens die konferensie met Prof. Piet Strauss (die moderator van die N.G. Kerk se Algemene Sinode) te gesels en te hoor wat sy gedagtes en oortuigings t.o.v. moraliteit is.

Ons weet dat SA op die oomblik met ‘n ernstige moraliteitskrisis sit – die voor¬beelde is legio. Wat behoort die kerk te dóén om die gebrek aan moraliteit teen te werk?
Ek stem saam dat SA ‘n moraliteitskrisis het. Een kerkleier sê dat ons op die rand van ‘n afgrond staan wat dié saak aanbetref. Die kerk kan, en móét optree deur die Woord en Christelike moraal te verkondig en in eie geledere te handhaaf. Die kerk moet ook konkreet, prakties en reguit praat sonder om fundamenta¬listies te raak. Die kerk kan soms ‘wollerig’ raak wat dit betref – dit is nodig dat die kerk weer op voetsoolvlak betrokke raak en seker moet maak dat die Woord geken en uitgeleef word. Die groot skares wat Angus Buchan trek, illustreer die noodsaak hiervan.

Dit wil voorkom asof die probleem (moraliteit) aangevuur word deur die li-berale teologie van die dag. Ons kry bv. die ‘ou-skool’-teoloë wat sonde by die naam noem en dan is daar diegene wat die saak eers wil ondersoek, of daaroor debateer. In die NGK is daar verskeie li¬berale stemme wat opgaan wat sekere dinge, soos ‘saamleef’ of homoseksualisme, goedpraat. Die Bybel is duidelik daaromtrent: Matt 12:25 sê dat ‘n huis wat teen homself verdeeld is, nie kan staan nie. Wat is u standpunt hieromtrent?
Verdeeldheid oor morele sake kortwiek die kerk. Dis belangrik om te onthou dat nie almal in bv. die NG Kerk namens die kerk praat nie. Die NG Kerk praat deur sy vergaderings, soos die Kerkrade en die si¬nodes – nie eens deur taakspanne en kommissies nie. Laasgenoemde se voorstelle dra eers kerklike gewig as ‘n kerkraad of sinode die saak ‘amptelik’ goedgekeur het. Die kern van die Algemene Sinode se be¬sluite oor die huwelik en homoseksualiteit is Bybels reg naamlik dat die huwelik net vir een man en een vrou is en dat seks nét binne die huwelik tuishoort. Soms word besluite só geformuleer dat dit eenheid te midde van verskille soek, maar dit kan ek verdedig.

Wat is die NGK se standpunt t.o.v. ‘n geskeide predikant?
Die NG Kerk het ‘n artikel in sy kerkorde wat bepaal dat ‘n predikant net by hoë uitsondering na ‘n egskeiding kan terugkom. Die saak moet in sy geheel ondersoek word en nie kasuïsties (as opsigselfstaande gevalle) hanteer word nie.
Kerklike tug – soos enige ander regverdige ondersoek – kyk ook na die omstandighede. Vir die NG Kerk bly die huwelik kosbaar en belangrik. Ons weet dat egskeiding ‘n wolk oor die betrokke predikant se bediening plaas, maar die kerk moet, in die lig van die Bybel, reg én daarom menslik, optree.

Dit wil voorkom asof daar ‘n besliste leemte is t.o.v. Christene wat hulle teen sake soos prostitusie, aborsie, ens. uitspreek. Dit wil voorkom asof slegs Dr. Peter Hammond en Errol Naidoo bereid is om iets daadwerkliks te doen. Is daar werklik geen sterk Afrikaner Christenleier wat bereid is om standpunt in te neem nie? Wat is u siening hieromtrent?
Ek dink die NG Kerk praat gedurig en so hard as moontlik oor samelewings¬kwessies, maar mense wat nie gereeld koe¬rante lees of radio luister nie, hoor dit nie. Soms het die NG Kerk ook ‘n stem op TV. Ons het ook al baie duidelik gepraat saam met die ander Afrikaanse gereformeerde kerke en kerkleierforums in SA. Intussen is ons standpunte oor ouer kwessies, soos aborsie en prostitusie, wyd bekend. ‘n Mens praat egter uit die aard van die saak, nie elke dag oor alles nie.

Ons vind dit moeilik om met kerkleiers kontak te maak wat bereid is om antwoorde en leiding te gee aan mense wat werklik leiding nodig het. Sommige prominente kerkleiers het ons al duidelik laat verstaan dat hulle nie kontroversieel wíl wees nie, dat hulle nie bereid is om standpunt in te neem nie. Wie kan ons skakel oor sekere kontroversiële kwessies?
Daar is al gesê dat grootpraat en oorgee of skiet en hensop maats is. Ek wil julle nooi om ons te kontak. Ek is bereid om op vrae te antwoord as die waarhede gebou op die Bybel as die Woord van God, op die spel is.

Wie beheer die Teologiese Fakulteite?
Die instansie wat namens die NG Kerk oor ‘n Teologiese fakulteit toesig hou, is die kuratorium. ‘n Kuratorium is ‘n kerklike kommissie wat deur die betrokke sinodes aange¬wys is en bestaan uit predikante wat deur die onderskeie ringe aangewys word om op die ‘Raad van Toesig’ te dien.

Wat is die amptelike standpunt van die NG Kerk t.o.v. evolusie? Word die Bybel nog onvoorwaardelik as die Woord van God aanvaar?
Ek dink nie die NG Kerk het al ooit ‘n standpunt hieroor geformuleer nie. Die gesag van die Bybel is breed aanvaar. Met die huidige omstredenheid kan daar moontlik nog iets van kom. Ek persoonlik glo aan die Bybelse Skeppingsleer met God-Drieënig as Skepper van die hemel en aarde. Ek dink egter dat daar binne die soorte van plant, dier en mens sekere evolusionêre veranderinge kan plaasvind. Daar is egter geen bewese sprake van die ‘spontane’ oorgange tussen die soorte soos die konsekwente evolusio¬niste beweer nie.

Dooie fossiele kan dit nie bewys nie. Konsekwente evolusie is uiteindelik ‘n (by-) geloof met bewerings wat nie behoorlik gestaaf kan word nie. Om te beweer dat God die ‘big bang’ gebruik het om alles op mekaar te laat volg, impliseer dat die skepping binne die tyd plaasgevind het waarin dinge op mekaar volg, en dit terwyl God tyd geskep het. Die minute het eers na voltooiing van alles begin tik. Daar mag mense wees wat anders dink, maar my voorouers was nie ape nie!

Laastens – watter boodskap het u vir die Kerk van Jesus Christus in Suid-Afri¬ka van¬dag?
Die Kerk sal alleen sy roeping uitvoer – ook in Suid-Afrika – as hy die Woord verwoord en prakties uitleef in sy eie geledere. Die Kerk eerbiedig die gesag van sy enigste Hoof, Jesus Christus, as hy die Woord met sy Boodskap en die volle im-plikasie daarvan eerbiedig. Die Kerk bestaan egter nie uit volmaakte mense nie, maar – hoogstens – geredde sondaars. Dit blý ons tot die dag dat ons sterf.

Ons moet dus ons foute bely en weet dat ons uit God se Genade leef. Mense wat God se Genade ken, het empatie met mekaar en verstaan iets van die tra¬giek van ‘n wêreld sonder God. Genademense kan God se lied van die liefde in 1 Kor 13 sing. God is ons énigste hoop vir die 21ste eeu – ook hier in
Suid-Afrika.


Lize Kruger: Dood, Waar Is Jou Angel?

Die hele land is dus aangegryp toe dit vroeër vanjaar bekend geword het dat hy sy stryd teen die ‘groot –K’ gewonne gegee het.

JUIG! het met Lize, die vrou wat hierdie bitter moeilike pad van hartseer, vreugde, vrees, maar ook oorwinning, tree-vir-tree saam met hom gestap het, gesels. Deur hierdie onderhoud word hulde gebring aan ‘n paartjie wat hierdie pad end-uit as getui¬es vir Jesus gestap het.

LIZE, TOE RUBEN DIE EERSTE KEER GEHOOR HET HY HET KANKER, WAT WAS JULLE ALBEI SE REAKSIE DAAROP?
In 2000 het Ruben tydens ‘n rugbywedstryd op die veld inmekaar gesak en is onmiddellik in die hospitaal opgeneem. Tydens die MRI-aftasting is ‘n gewas op sy brein ontdek. Binne een enkele minuut is ons lewens ver¬ander. Dit het gevoel asof iemand ‘n groot spieël waarop al jou drome neergeskryf is, op die vloer stukkend gooi en jy skielik jou eie sterflikheid in die oë kyk.
Ons wou nog so baie dinge doen – ons wou reis, ons wou kinders hê en ewe skielik moes ons ander keuses maak! By tye het die vrees my verlam, maar Ruben, wat altyd eerste aan my en ander gedink het, het my eendag vasgehou en gesê hy gaan dit ‘fight’ met alles wat hy het en dat ek nie bekommerd moet wees nie. Alles sou reg uitwerk.

WAT HET JULLE GELOOF IN JESUS VIR JULLE GEDURENDE HIERDIE JARE BETEKEN?
Ek sê baie keer dat ek nie weet hoe enigiemand ‘n emosionele trauma sonder Jesus kan oorleef nie! Ek dink dit is wat die Bybel in 2 Kor 1: 3-4 sê, dat God ons in alle omstandighede bemoedig, en daarvan kan ek getuig!
Jesus was vir ons in daardie tye Hoop, maar ook ‘n groot bron van Liefde. By tye het ek gevoel my hart kry letterlik seer, so lief het ek vir Ruben. Ek weet dit was Goddelike liefde. Daar was regtig in 10 jaar geen plek vir baklei in ons lewens nie. Ek het Ruben bewonder en hom geëer – hy was die koning in ons huis.

HOE WAS JULLE GELOOFSLEWE VOORDAT KANKER BY RUBEN GEDIAGNOSEER IS?
Ons was baie gelukkig, want ons altwee het in Christen-huise grootgeword. Christenskap kan dikwels net ‘n blote woord ook wees en ek glo dit was in hierdie tyd dat ons geloof soms tot die uiterste toe getoets is. Ons het altyd kerk toe gegaan, maar ek besef nóú ek het nooit God se hart geken nie.

Hy was goed genoeg vir my gedurende slegte tye, maar as dit goed gegaan het, was Hy nie eintlik deel van alles nie. Ek het ge¬weet Wie Hy is, maar ek het nie ‘n verhou-ding met Hom gehad nie. Ek onthou hoe ek dae omgebid het dat God sommer net die ‘ding’ moes wegvat sodat ons tog net met ons lewens kon aangaan. As Hy dit dalk vinnig weggevat het, sou ek nie wees wat ek vandag is nie. Op 7 Januarie 2001 het Jesus in ‘n droom aan my verskyn. Hy het letterlik langs my bed gestaan en gesê Hy is getrou, ons moet Hom vertrou. Hy het gesê ons moet die wapenrusting van God aantrek (Ef 6:11) en Sy Woord lees. Die droom was so dúídelik. Hy het ook gesê Ruben sal ‘n 7-jaar-genadetyd beleef, maar daarna sal hy teen die siekte moet baklei. Ons moes toe besluit of ons kinders wou hê, of nie. Ons het lewe gekies en besluit om elke dag te leef asof ons ‘n toekoms het en bewustelik nie toegelaat dat klein teleurstellinkies ons aftrek nie.

WAT WAS JUL PERSOONLIKE ON¬DERVINDING VAN JULLE BESOEK AAN NIGERIË, VERAL GE¬SIEN IN DIE LIG VAN DIE VER¬SKIL¬LEN¬DE UITSPRAKE OOR T.B. JOSHUA EN DIE SEKULÊRE MEDIA WAT DINGE TOTAAL UIT VERBAND KAN RUK EN ‘N BESPOTTING VAN GOD EN SY WONDERWERKE MAAK?
Ruben het baie vir mense gesê hy is in Nigerië genees. As hy van genesing gepraat het, het hy nooit van fisieke genesing gepraat nie, maar geestelike genesing. Sy lewe het dramaties verander na dié besoek.

HET JY ENIGE TROOSWOORDE VIR MENSE WAT AAN KANKER LY OF OOK IEMAND KEN WAT DAARAAN LY?
Die persepsie dat jy in sulke tye Godverlate voel, is so algemeen, maar so onwaar. Een van die grootste lesse wat ek geleer het, is dat God jou nooit verlaat nie; al gaan dit ook hoe sleg. God is altyd daar vir jou. Ek kan egter onomwonde sê dat die liefde die dood oorwin en dat God alléén die Een is wat in die betrokke omstandighede vrede en berusting kan gee wat alle verstand te bowe gaan.

SOVEEL PROMINENTE SPORTSTERRE BELY JESUS DEESDAE OPENLIK. WAS DAAR ENIGE VAN HULLE WAT JULLE IN DIE MOEILIKE TYE BYGESTAAN HET?
Ek het werklik ervaar dat mense God se hande en voete op aarde is. Ons vriende was só goed vir ons – hulle was nie net betrokke gedurende die laaste maand van Ruben se lewe nie. Hulle was altyd daar! Kos aangedra, selfs vir my kinders skoolklere gekoop. Een persoon wat ek kan uitsonder, is André Venter. Hy het deurentyd onder¬steun, vanaf Bloemfontein gery om te kom kuier en te bemoedig. Hy en sy vrou, Lizelle, was soos twee engele!

SOMMIGE MENSE HET RUBEN KWALIK GENEEM DAT HY NIE VIR OPVOLGBEHANDELING WOU GAAN NIE. HOEKOM WOU HY NIE GAAN NIE?
Ruben het altyd gesê hy sal vir opvolgbehandeling gaan as die Here dit vir hom wys. Die gemiddelde persoon, gediagnoseer met ‘n gewas so groot soos Ruben s’n, leef net vir twee jaar. Ruben het tien jaar geleef! Ek persoonlik glo aggressiewe behandeling sou niks aan die situasie verander het nie – God het dan ‘n 7-jaar-genadetyd beloof!

NOUDAT RUBEN BY DIE VADER IS, WORD JY DEUR FAMILIE, VRIENDE EN DIE KERK ONDERSTEUN? HOE BELANGRIK IS STEUN VIR DIE WAT AGTER BLY?
Die kerk, Past. At Boshoff en sy vrou, Nyeretta, is wonderlik. Hulle het my al twee keer weggestuur met vakansie sodat ek net alleen saam met die kinders kon wees. Dit het wondere vir ons gedoen. My broer is baie betrokke by Zoë en Isabella. Hy is hulle tennisafrigter en hulle sien hom elke dag.

My ma is soos ‘n rots – sy is 79 en soos ‘n tweede ma vir my kinders. My vennoot, Arette en my buurvrou, Berna, ag, daar is net te veel om te noem! Dit is die mense wat ek 24/7 kan bel en, al bly ek stil, nog steeds verstaan! Hulle is my engele op aarde!

HOE HET ISABELLA EN ZOË RUBEN SE SIEKTE EN AFSTERWE HANTEER?
Ons het vir ses maande voor Ruben se dood ‘n Bybelstudie oor die Hemel met hulle gedoen. Ek het alle Skrifverwysings oor die Hemel gevat en hulle probeer leer hóé die Hemel lyk. Hulle was ook baie bewus daarvan dat Ruben baie siek was en dat hy dalk mag doodgaan. Toe ek hulle die oggend na Ruben se dood roep en vertel dat Pappa huis toe is, was Zoë se eerste reaksie dat dit die wonderlikste nuus is wat sy nog ooit gehoor het! Sy het dadelik haar skoolklere aangetrek en gesê sy wil haar juffrou gaan vertel. Isabella wou net weet of Pappa nou sy huis in die Hemel gekry het en of ‘n Engel hom weggedra het. Dood en Hemel is vir hulle ‘n werklikheid!

WATTER MOOI DINGE ONTHOU ZOË EN ISABELLA VAN HUL PA?
Zoë: Pappa het altyd ‘gesmile’ vir ons en hy was altyd daar – dag en nag. Ek kon in sy groot arms spring en het geweet hy sal my teen die hele wêreld help! Hy het orals in sy bakkie rondgery en ek kon elke aand in sy arms aan die slaap raak. Ek is bly hy is in die Hemel, want ek weet nou het hy nie meer seer nie. Ons gaan hom weer eendag sien, ons moet net eers ons werkies hier op aarde klaarmaak!

Isabella: Pappa het my altyd opgetel en soos ‘n prinses op sy nek gedra. Hy was baie lief vir my en hy’t my getroos as ek seergekry het. Hy kon al my speletjies speel en ek het hom altyd gewen! Hy was baie sterk en ek dink Pappa lyk soos Jesus!

HOE SIEN JY DIE DOOD? EN HOE SIEN GOD DIT?
In menslike terme is ons grootste vrees die dood. Dit is onbekend en so finaal. Ek het egter deur hierdie hele proses my vrees vir alles in die lewe verloor. Tog sê die Bybel dat die dood van Sy kinders vir Hom geen ge¬ringe saak is nie, maar God weet dat die heerlikheid wat op ons wag as ons deur die Hemelpoorte gaan, alle verwagtinge gaan oortref. Ek dink ook God wil hê ons moet léwe terwyl ons op aarde is om ons skeppingsdoel te vervul.

HOE HELP JY DIE KINDERS OM RUBEN SE DOOD MAKLIKER TE VERWERK?
Ons praat baie oor Ruben. Ek herinner hulle daagliks aan wat hy in sekere situasies sou doen – in ‘n mate is hy nog altyd deel van ons lewens en hy sal altyd hier wees.

Een aand sê Zoë vir my sy verstaan hoekom Pappa by Jesus is, want sy werkie op aarde was klaar, maar ons drie het nog werkies oor om vir Jesus op aarde te doen.

WAT IN JOU HET ALLES VERAN¬DER NA RUBEN SE DOOD? HOE ERVAAR JY NOU DIE LEWE?
Alles het verander! Eers het ek na musiek geluister, nou hóór ek musiek. Ek het ook besluit om gelukkig te wees terwyl God my nog spaar. Dit voel vir my of daar regtig nie genoeg ure in die dag is nie.

Ek wil nooit in my lewe weer oor onbenullighede stry of baklei nie en ek waardeer so baie dinge in die lewe. Ek wil die wêreld vertel van God se goedheid en liefde en, soos daar in Jesaja staan, my man geword het en letterlik vir en my kinders sorg – elke dag! Vir die eerste keer kon ek nou onlangs vir iemand sê, nadat ek gevra is of die lewe sonder Ruben ondraaglik is, dat ek hom nooit, selfs as ek die keuse moet hê, sal wil terugbring nie.

Al moet ek en my kinders nog ‘n harde pad stap, gun ek hom die vrede met die wete dat hy nou in God se teenwoordigheid lewe.

WATTER MOOI GEDAGTES KOESTER JY OOR RUBEN?
Ek en Ruben was baie gelukkig. Hy het in die 23 jaar wat ek hom geken het, nooit één lelike woord oor, of vir, my gesê nie. Dit het my vlerke gegee. Hy het sy identiteit in Christus geken, was stil en sterk, maar baie sag teenoor my en die kinders.

Hy sou sy lewe vir ons gee. Ongeveer twee weke voor sy dood het ons vyfuur die oggend sit en cuppacino drink, hy het my hand gevat en in ‘n hees stem gesê hy besef hoe lief ek hom het. Dié woorde is genoeg om my vir ‘n leeftyd te dra.

WATTER BOODSKAP, DINK JY, SOU RUBEN GRAAG AAN AL SY VRIENDE EN AANHANGERS WOU GEE AS HY ‘N LANGER TYD OP AARDE GEGUN WAS?
Lewe voluit en wees lief vir mekaar – die liefde is die enigste iets wat jy saam met jou kan neem die dood in, want God is liefde. Dan het die dood geen angel meer nie!


Die Hart van die Evangelie

Wat is fout met ons wêreld? Ons almal word op ‘n daaglikse basis gekonfronteer deur die werklikheid van ‘n wêreld wat in opstand is teen sy Skepper. Die ontheiliging van die Sondag, die toename van pornografie, geweld en misdaad, die morele verval, die wettiging van aborsie, gesinsverbrokkeling en die absolute ontploffing van kindermishandeling herinner ons baie duidelik daaraan dat ons in ‘n sondige wêreld wat God vergeet het, leef. Wat is fout met ons wêreld? Sonde! Die mens rebelleer teen God.
WAT IS FOUT MET DIE KERK?
Ons wonder net so dikwels wat verkeerd is met die Kerk. Hoekom is die Kerk deesdae so oneffektief? Hoe kan dit wees dat so baie Christene in so baie kerke so min effek op die morele klimaat van die gemeenskap het? Kan ons eerlikwaar sê, dat ons bid en teen die bose optree as boosheid sienderwys toeneem? “Julle is die sout wat die aarde ‘n beter plek moet maak. Julle is die lig wat die wêreld moet verlig.” Matt 5:13-14. Is ons as Christene nog effektief in hierdie wêreld? Gedurende my reise regoor die wêreld en ook tydens my bediening in 27 lande, het ek die voorreg gehad om te kon sien dat daar wel kerke is wat funksioneer soos wat God dit bedoel het – in Herlewing. Gesien vanuit die perspektief van die vervolgde kerke en ook in die lig van die Herlewings, is dit baie duidelik wat met die gemiddelde kerk in die Weste fout is.
Ons kerke het nie meer ontsag vir God nie – daardie heilige vrees vir en absolute aanbidding van God het verlore gegaan. Die meeste gemeentes gaan mank aan ware geestelike leierskap en pas nooit die ware Bybelse tug toe nie. Baie kerkgangers voel soos Christene, maar dink inderwaarheid soos humaniste. Hulle glo dat hulle Christenharte het, maar dit is baie duidelik dat die meeste eintlik humanistiese harte het. Hulle lees veel eerder die daaglikse koe¬rante as die Bybel en televisie-kyk is baie aangenamer as om Christus te aanbid.

‘LOU’ REDDINGSBOOT
Die boodskap aan die kerk van Laodicea geld eintlik ook vir die meeste hedendaagse kerkgangers: “Ek ken jou handel en jou wandel. Ek weet dat jy nie koud of warm is nie. Ek sou wat wou gee as jy maar net koud of warm was. Omdat jy só louwarm is, nie warm nie en ook nie koud nie, is Ek op die punt om jou uit my mond te spoeg… jy besef nie dat jy ellendig en bejammerenswaardig is nie, armlastig, blind en nakend… kry lewe en kom tot inkeer!” Open 3:15-19.

Die Kerk is soos ‘n reddingsboot. ‘n Reddingsboot behoort in die see te wees, besig om die drenkelinge te red – maar die see moenie in die bóót wees nie, dan is die boot in die moeilikheid en gaan dit verseker ondergaan. Dit is presies dieselfde met die Kerk. Die Kerk behoort die noodleidendes in die wêreld te red – maar die wêreld moenie in die Kerk neerslag vind nie!

DIE TRAGEDIE VAN DIE MODERNE KERK
Die groot tragedie van moderne kerke is dat hulle so gretig is om onbekeerdes toe te laat, dat hulle hul standaarde noodwendig verlaag – en die kerk word deur die wêreld oorstroom. Dit word al hoe moeiliker om die wesenlike meningsverskille, verskille in morele standaarde en selfs die gedrag van Christene van dié van die wêreld te onderskei.

Die kerkgroeistatistieke, asook die groot getalle wat tydens massaveldtogte vorentoe kom, is indrukwekkend. En tog, diegene wat met mense in die kerkbanke en in die straat te doene kry, is erg bekommerd. Dit wil voorkom asof die kerk bloot net in getalle groei. Dit kom voor asof die gehalte van mense se geesteslewe, hul vroomheid en die algemene morele standaarde vinnig besig is om te kwyn – vinniger as wat die kerk in getalle kan groei.

Dit is amper asof die verskillende kerke soos groot snymasjiene is wat die oes wil insamel, maar nie oor die nodige snylemme beskik nie: indrukwekkende masjinerie, oorverdowende gebrul van die masjiene, baie aktiwiteite – en tog uiters oneffektief as dit kom by die oesinsameling. Indien die Evangelie die snylem van die kerk is, ¬be¬hoort ons te vra: wat het die verkondiging van die Evangelie uitgedoof?

WAT IS VERKEERD MET DIE EVANGELIE WAT GEPREEK WORD?
Dit is baie moeilik om deesdae nié tot die gevolgtrekking te kom dat die gemiddelde boodskap wat van so baie preekstoele, en ook op TV en oor die radio, verkondig word, mens-gesentreerd, emosie-gebaseerd, vlak en flou is nie. Die ‘glo-net-boodskap’ is goedkoop!

Judas het Jesus vir 30 silwerstukke verraai – maar ons gee Hom grátis weg. Hierdie ‘bid net hierdie gebed’-boodskap is op¬per¬vlakkig en het vlak bekeerlinge tot gevolg. Hierdie ‘maklike geloof’ is kunsmatig. Dit is soos witbrood. Dit is so verfyn dat al die natuurlike waarde daarmee heen is en kunsmatige bestanddele is bygevoeg.

DIE VERLORE DELE VAN DIE EVANGELIE
‘n Mens hoor baie selde deesdae van die kansels af dat God se aard aan mense geleer, verduidelik en vertolk word. Om maar net bloot te aanvaar dat ons toehoorders die majesteit, Heiligheid en Glorie van ons almagtige, alwetende, oneindige en ewige Skepper verstaan en kan waardeer is, om die minste daarvan te sê, aanmatigend. “Wysheid begin daar waar daar ontsag vir die Here is.” Spr 9:10.

Hand 10:35 sê ook: “In enige volk neem Hy dié mense aan wat vir Hom ontsag het en doen wat reg is.” En tog, hoe dikwels hoor ons regtig hierdie waarhede van die kansels af? “Die Here se voorskrifte is volkome, dit gee nuwe lewenskrag.” Ps 19:7. “Hoe beter ons die wet van God leer ken, hoe duideliker blyk die werklikheid van ons sonde.” Rom 3:20. En tog, hoe dikwels verklaar ons die Wet van God?

Martin Luther het verklaar: “Die eerste plig van ‘n Evangelieprediker is om God se Wet te verklaar en die aard van sonde uit te wys.” John Bunyan het gesê: “Die persoon wat nie die Wet ken nie, kán sonde nie ken nie.” John Wesley was van mening dat evangeliste 90% Wet en 10% Genade behoort te verkondig. Charles Finney het geskryf: “Deur te faal om die Wet van God te gebruik, sal feitlik verseker op vals hoop en die inleiding tot vals standaarde in die Christelike lewenswandel uitloop en die kerk sal gevul word met vals bekeerlinge.” Charles Spurgeon het ook verklaar: “Hulle sal genade nooit aanvaar totdat hulle sidder voor ‘n regverdige en Heilige Wet nie.” Ons Here Jesus het die volgende geleer:
“Julle moenie die rede vir My koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ‘n streep deur die wet of die profete te trek nie. Nee, Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom. Ek verseker julle, al sou die hemel en aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly… totdat die bedoeling daarmee bereik is.

As jy dus die kleinste van God se opdragte opsy sou skuif en ander leer om dit ook te doen, sal jy die kleinste wees in God se Koninkryk. Maar as jy God se wet tot in sy kleinste detail respekteer en gehoorsaam, sal jy groot wees in Sy Koninkryk.” Matt 5:17-19.

FOKUS MOET VERSKUIF WORD
Op dieselfde manier kry die toorn van God, die dogma van ewige oordeel en die werklikheid van die Hel in moderne preke deesdae bittermin aandag. “Hulle wou nie doen soos Hy vereis het nie. Hulle wou nie na Sy Woord luister nie. Daarom het Hy Sy gloei¬ende woede teen hulle laat ontvlam deur die geweld van oorlog.” Jes 42:24-25.

“Maar Ek sal julle sê wie om te vrees: Julle moet ontsag hê vir God wat die mag het om mense dood te maak en hulle daarna in die hel te gooi.” Luk 12:5. “Wie glo in die Seun, besit nou reeds die Ewige Lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom.” Joh 3:36. “Van Sy Hemelse woonplek af maak God Sy straf bekend oor die mense wat goddeloosheid en ongeregtigheid bedryf en so die waarheid onderdruk.” Rom 1:18. Selfs die hart van die Evangelie – die Verlossing deur die Bloed van Christus op grond van Sy boetedoening aan die Kruis, kry deesdae maar bittermin aandag van Evangeliepredikers. “Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis van sonde plaas nie.” Heb 9:22. “Want God het Hom gestuur as ‘n offer wat deur Sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo.” Rom 3:25. Die Woord ver¬klaar ook dat “As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar, en die bloed van Jesus, Sy Seun, maak ons skoon van alle sonde.” 1 Joh 1:7.

En tog, hoe dikwels word hierdie boodskap verkondig? Nog iets wat deesdae nie dikwels gehoor word nie, is die hele verkondiging, die volledige Bybelse boodskap van sondebelydenis. Ek het ‘n baie bekende evangelis die volgende hoor sê: “Belydenis is bloot om ‘jammer’ te sê!” Die Bybel, egter, be-klemtoon drie aspekte van sondebelydenis:
Sonde-oortuiging – ‘n verandering van sienswyse oor sonde
Sondeberou – ‘n hartsverandering
Ommekeer – ‘n lewensverandering
“Die goddelose mens moet sy verkeerde dinge los, en die bose mens sy slegte gedagtes. Hy moet terugdraai na die Here en Hy sal hom genadig wees…” Jes 55:7.

Dit is nie maar net genoeg om jou sonde te bely nie, dit moet deur ‘n doelbewuste wilsbesluit afgelê word – die daad(dade) moet verafsku word en dit moenie weer gedoen word nie! Sondebelydenis vereis gewoonteveranderings en ‘n oortuigingsverandering wat uitloop op gedragsverandering.

ONBYBELSE BYVOEGINGS TOT DIE EVANGELIE
I.p.v. die Bybelse boodskap oor die Heiligheid van God, die sondigheid van die mens, die Wet van God, Sy oordeel en straf, die absolute noodsaaklikheid van sondebelydenis en die geloof in die boetedoe¬ning van Christus aan die Kruis, word ‘n hele reeks on-Bybelse versinsels verkondig. En net mooi nêrens in die Bybel sal daar enige voorbeeld gevind word van ‘n evangelis, apostel of dissipel wat enige van die volgende gewilde frases of tegnieke gebruik nie: “God het jou lief en het ‘n wonderlike plan met jou lewe.”

FLOU WOORDGEBRUIK
Die Bybel maak dit egter duidelik dat God toornig is teenoor die wat weier om Hom gehoorsaam te wees en dat ‘n ewigheid in die hel deel van Sy plan is vir diegene wat weier om hul sondes te bely. “Aanvaar Jesus as jou persoonlike Verlosser.” ‘Aanvaar’ is hier die swakste woord denkbaar en dit word nooit in enige evangelistiese konteks gebruik nie. Waarom nie die kragtige Bybelse woorde gebruik nie? “God het wel mense se vroeë onkunde oorgesien, maar nou beveel Hy alle mense om hulle afgode te los en hulle tot Hom te bekeer.” Hand 17:30.

‘n Oproep om jou aan Jesus te onderwerp, of om jou lewe aan Hom as Heer en Redder oor te gee, is meer Bybels as die flou uitnodiging ‘aanvaar Jesus’. “Net jy kan die deur van jou hart oopmaak. Jesus staan by die deur en Hy klop. Hy is ‘n ware heer en sal net inkom as Hy ingenooi word. Die handvatsel is aan die binnekant, net jy kan Hom inlaat.”

SOEWEREINITEIT GEÏGNOREER
Hierdie verbeeldingryke, emosionele pleidooi ignoreer God se Soewereiniteit geheel en al. In die geval van Saulus se bekering op pad na Damaskus wil dit voorkom asof die Here die deur na sy hart oopgeskop het sonder om te wag op Saulus se ‘toestemming’ (Hand 9).

Ons vind nêrens in die Bybel ‘n enkele geval van ‘n evangelis of dissipel wat sulke beeldspraak gebruik om ‘n bekering te beskryf nie. Al die Evangelies, asook Handelinge, daag ons uit om na Hom te kom en toegang tot Sy Huis te kry. Nou word van ons verwag om te glo dat die situasie só ver¬ander het dat Christus na ons toe kom en ons vra om Hom in te laat!

FOUTIEWE INTERPRETASIE
Hierdie idee kon moontlik uit die interpretasie van Openb 3:20 ontstaan het. Daardie vers is egter deel van God se brief aan Sy Kerk in Laodicea. Dit is nie naastenby ‘n evangelistiese boodskap nie; dit is ‘n baie ernstige teregwysing aan ‘n louwarm kerk: “Ek ken jou handel en jou wandel. Ek weet dat jy nie koud of warm is nie. Ek sou wat wou gee as jy maar net koud of warm was. Omdat jy só louwarm is, nie warm nie en ook nie koud nie, is Ek op die punt om jou uit My mond te spoeg… Ek berispe en straf almal wat Ek liefhet. Kry lewe en kom tot inkeer! Kyk Ek staan by die deur en Ek klop…” Openb 3:20. Dit is so hartseer dat ‘n deel van hierdie brief, wat geskryf is aan ‘n kerk om hulle te waarsku teen halfhartigheid, ‘n wêreldse gesindheid en kompromieë t.o.v. hul geloof, só misbruik is – dat die gevolg louwarm , semi-bekeerde kerkgangers is.

Indien die hele konteks van hierdie Skrifgedeelte maar so dikwels as hierdie spesifieke vers gebruik sou word, het dinge vandag dalk heel anders gelyk. Of het selfs sterk woorde soos die Bybelse ‘bestraf’, ‘dissiplineer’, ‘dodelike erns’ en ‘bely’ deesdae in die kerk onaanvaarbaar geword? Terselfdertyd is flou frases soos ‘glo net’ en ‘bid net hierdie gebed’ beslis nie Bybels nie. Ons moet beslis glo – maar dit is die ganse Bybel wat ons moet bestudeer, glo, gehoorsaam en toepas.

Ons moet bid, maar ons moet ook veel meer doen as ‘net bid’. Die Groot Opdrag van ons Here Jesus beveel ons: “Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Leer hulle om alles te gehoor¬saam wat Ek aan julle opgedra het.” Matt 28:19-20. Om ‘net’ voor enige van hierdie bevele in die Skrif te plaas, veroorsaak dat al die ander vereistes minder waardevol is.

SLAGSPREUKE MISLEIDEND
Daarmee saam het ‘n klompie slagspreuke, wat skynbare Christenboodskappe moet oordra, ook die lig gesien: “Christians aren’t perfect – just forgiven.” Hoewel dit die waarheid is dat ons vergifnis ontvang het, maar nie perfek is nie, verander die woordjie ‘just’ die slagspreuk in ‘n gevaarlike, halwe waarheid.

Is ons net vergewe? Is ons nie vrygekoop en weergebore nie? En wat van heiligma¬king? Indien daar nie ‘n dramatiese verandering in ons geloofsoortuigings, morele standaarde, leefwyse, gedrag en optrede is nie; dan is dit te betwyfel of ons werklik vergifnis ontvang het. Lees gerus Gal 5:19-25 in hierdie verband.

DIE EVANGELIE VOLGENS ONS HERE JESUS CHRISTUS
Die manier waarop Jesus met mense omgegaan het en hulle gered het, staan in skerp kontras met die moderne boodskap en metodes wat verkondig en gebruik word. Die ryk jongman was baie ernstig. Hy het nie bloot net sy hand gelig terwyl ander koppe gebuig en oë gesluit was nie. Hy het nie net met die kerkpaadjie afgestap na ‘n vurige oproep van die kansel af nie.

Nee, terwyl almal toegekyk het, het hy na Jesus gehardloop. I.p.v. net sy kop buig en ‘n gebed prewel, het hy op sy knieë voor Jesus neergesak en gepleit: “Goeie leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Mark 10:17. Wat was Jesus se reaksie? Het Hy gesê: “Glo net” of “Bid net hierdie gebed”? Het Hy hom vertel dat God hom só liefhet en ‘n wonderlike plan vir sy lewe het?

Nee. Jesus het hom bestraf en gesê: “Waarom noem jy My goed? Net God is werklik goed.” Mark 10:18. Ons Here het met God se wese begin, asook die mens se aard. Net God is Heilig. Alle mense is sondaars. Jy mag dalk vra waarom Jesus hom bestraf het. Jesus is tog self ook God? Ja, maar het die jongman dit besef? Het hy bloot net probeer om Jesus te vlei of het hy tog besef met Wie hy regtig gepraat het?

WET IS ‘N KINDEROPPASSER
Die volgende wat Jesus toe gedoen het – Hy het die jongman aan die Tien Gebooie herinner: “Maar wat jou vraag betref – jy ken die gebooie: Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis gee nie; jy mag niemand benadeel nie; respekteer jou Pa en Ma.” Baie mense mag nou wel vra wat die Gebooie met die ewige lewe te doen het. Die Bybel is baie duidelik daaromtrent: “Die Wet het ons mos soos ‘n kinderoppasser opgepas totdat Christus gekom het. Ons is opgepas sodat ons, deur te glo,God se vryspraak kon ontvang.” Gal 3:24.
Om vir mense te sê Jesus is die antwoord voordat hulle nog kon vra, is beslis nie baie behulpsaam nie. Geen onderwyser deel tog antwoordblaaie uit voordat die leer¬ders eksamen skryf nie. Om aan mense wat nog nie eens besef dat hulle gered moet word nie, te verkondig dat Jesus red, is uiters oneffektief. Totdat mense besef wat die ‘slegte nuus van die hel’ is, is hulle nog nie gereed om die ‘goeie nuus van die Hemel’ te aanvaar nie.

BESEF VAN SONDIGHEID NOODSAAKLIK
Totdat ons toehoorders die ewige implikasies van die Heiligheid van God en die verdorwenheid van die mens, die Heilige Wet van God en die ewige oordeel kan waardeer, is hulle nog nie gereed om die glorieryke boodskap van die Verlossing deur die soendood van Jesus Christus te aanvaar nie.

Om dit sommer baie reguit te stel: totdat ons verstaan dat ons goddelose sondaars is, verlore en regverdiglik verdoem tot die ewige hel, is ons nog nie gereed om die boodskap van “bekering en vergifnis van sondes” (Luk 24:47) werklik te waardeer nie. Dis amper ongelooflik – die jongman ver-klaar dat hy al die gebooie wat Jesus noem, onderhou het van sy jeug af.

Daar is geen twyfel dat hy ‘n buitengewone jongman was nie – met hoë morele waardes en godsdienstig baie toegewyd, en tog het hy een baie belangrike ding kortgekom: hy was nie bewus van sy eie sondigheid nie. Die grootste fout is om nié van jou sondes bewus te wees nie. En ons Here se antwoord aan hom? “Jy kom net een ding kort, gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ‘n skat in die Hemel hê. Kom dan en word My dissipel.” Mark 10:21.

BEROU NOODSAAKLIK
Sommiges mag dalk dink dat die Here baie van hom verwag het, maar inderwaarheid was dit net een enkele ding: berou. Ons Here het die eerste gebod uitgesonder – “Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie”, en ook die laaste een “Jy mag nie begeer nie.” Hierdie jongman het blykbaar ‘n afgod van sy rykdom gemaak.

Sy rykdom het vir hom belangriker as gehoorsaamheid aan God geword. God weerstaan trotsaards, maar betoon Genade aan die nederiges. Die Tien Ge¬booie gaan oor ons verhoudings met God, ons ouers en ander mense. Dit handel oor God, aanbidding, taal, tyd, gesag, die lewe, liefde, eiendom, waarheid en die gewete. Dit verbied politeïsme, afgodery, godslastering, ontheiliging van die Sabbat, onte¬ring van ouers, moord, owerspel, diefstal, meineed en afguns.

MÉÉR AS GELOOF
Deur die Wet van God te bestudeer, is dit baie duidelik hoe ver ons as mense tekort¬skiet. Die boodskap aan diegene wat hul oortredinge besef is om te bely, en dan te glo. En as sondebelydenis sonder geloof geskied, is dit nie ware belydenis nie. Die omgekeerde is natuurlik ook waar.

Toe die man hoor wat die Here verwag, was “hy heeltemal verslae en het ontsteld weggegaan, want hy het baie geld gehad.” Mark 10:22. Jesus het egter nie agter hom aangehardloop en die standaarde verlaag nie, Hy het “rondgekyk en toe vir Sy dissipels gesê: ‘Hoe moeilik is dit nie vir ryk mense om in God se Koninkryk te kom nie!’ Sy dissipels was verbaas hieroor. Jesus reageer toe en sê weer vir hulle: ‘My liewe kinders, dit is bitter moeilik om in die Koninkryk van God te kom’.” Mark 10:26-27.

IMPLIKASIE OP ONS LEWENS
Besef ons werklik wat die implikasie hiervan is? Almal is verlore en niemand kan hom- of haarself red nie! Nie eers ‘n pastoor, predi¬ker, evangelis of denominasie kan iemand red nie.

Geen hoeveelheid sakramente, gebede, sang, of preke kan iemand red nie. Woordvaardigheid, emosionele tegnieke of ‘n gelaaide atmosfeer ook nie. “Menslik gesproke is dit onmoontlik, maar tog nie by God nie. Alles is by God moontlik.” Mark 10:27. Ons vind ‘n Bybelse illustrasie van bekering in Johannes 11 toe Jesus voor die grafsteen gestaan en uitgeroep het: “Lasarus, kom uit!” Lasarus was reeds vier dae lank dood. Is dit realisties om te verwag dat ‘n ontbindende liggaam moet reageer? Dit is presies wat evangelisasie is. Buite Christus is ons dood a.g.v. ons sonde en oortredings (Ef 2:1). Geloof is ‘n gawe van God (Ef 2:8) en geloof kom deur die Woord van God (Rom 10:17). “Dit is immers God se krag wat aan die werkis. Dit bring redding vir elkeen wat glo.” Rom 1:16. Net die Woord van God kan red. Waarom water ons die kragtige, lewegewende Boodskap af?

En waarom dink ons dat ons iets waardevols daartoe kan byvoeg? Jesus het voortgegaan deur te beklemtoon dat dit uiters noodsaaklik is om op te offer en te volhard tydens vervolging. Uiteindelik het Hy seën, beloning en die ewige lewe belowe aan diegene wat Sy boodskap gehoor¬saam. (Mark 10:28-31).

CHRISTUS-GESENTREERDE, BYBELSE BOODSKAP
Dít is die duidelike en gebalanseerde boodskap van die Evangelie van Jesus Christus: God is ‘n Heilige God en Sy regverdige standaarde word deur sy Wet weerspieël. Die mens is sondig en moet sy sonde bely en in Christus glo. Hierdie belydenis en geloof moet sigbaar wees deur gehoorsaamheid aan Christus, ‘n gewilligheid om op te offer en vervolging te deurstaan. Aan diegene wat dit doen, beloof Hy groot seën, beloning en die ewige lewe.

I.p.v. ‘n flou, afgewaterde, mensgesen¬treerde boodskap van ‘glo en ontvang’, behoort ons getrou ‘n Christus-gesentreerde, Bybelsgebaseerde boodskap van belydenis en gehoorsaamheid en leiding deur die Heilige Gees te verkondig. I.p.v. bekeerlinge, behoort ons dissipels te maak wat álles gehoorsaam wat Jesus ons beveel het. Matt 28: 19-20.

HEGPLEISTER ONVANPAS
Dít is die boodskap wat die hart van die Evangelie aanspreek. Enigiets anders is net so ontoereikend as om ‘n strokie hegpleister te plak en te verwag dat dit kanker sal genees. Indien die Evangelie van Jesus Christus getrou verkondig word, sál dit ‘n gesuiwerde, gelouterde, biddende en kragtige Kerk tot gevolg hê – ‘n Kerk wat bereid is om God te eer en Hom in álles gehoorsaam te wees.


Beleef Jy ’n Middeljarekrisis?

Wat is ‘n Middeljarekrisis (MJK)? MJK is ‘n emosionele toestand wat by sowel mans as vrouens kan voorkom, gewoonlik om en by 45 jaar. Die nuutste navorsing het egter getoon dat dit selfs vanaf 35 tot en met 50 jaar kan voorkom.

Die onrus of die kommer wat die persoon ervaar, is gewoonlik omdat die besef posvat dat meer as die helfte van sy/haar lewe reeds verby is.

BINNE-OORLOG
Een van die faktore wat ‘n rol speel, is veroudering. Gewoonlik voel die persoon dat hy/sy op daardie ouderdom baie meer moes bereik het. Marc Gerzon het die volgende stelling oor die verstaan van Volwasse Verande¬ring/Metamorfose gemaak:
“I had a war going on inside me between the voice that said, ‘You’re finished growing, you’re done, it’s a done deal’, and another voice that said, ‘You’ve only begun to explore what life is about!”

TEKENS VAN DIE MIDDELJARE¬KRISIS
Wat verklap beslis dat ‘n persoon midde-in die MJK is? Hier is ‘n paar tekens dat jy/jou eggenoot/’n geliefde dié krisis beleef:
• Hy/Sy dra ‘jonger’ klere
• Hy/Sy kies ‘n jonger vriend/vriendin
• Hy/Sy koop ‘n sportmotor
• Hy/Sy streef na maniere om sy/haar jeug te behou
In ernstige gevalle kan dit selfs na selfmoord of middelmisbruik lei.

DIE SIMPTOME
Wat nou van die persoon wat nié ‘n sportmotor koop of anders aantrek nie? Mis¬kien is dit nodig dat jy die volgende simptoom-oorsiglysie deurgaan om vas te stel of jy/jou eggenoot/ ‘n geliefde moontlik ‘n grensgeval is:
• Verveeldheid, moegheid of oormatige energie
• Selftwyfel
• Dagdromery
• Geïrriteerdheid
• Onverwagte woede-aanvalle
• Reaksie op alkohol, dwelms of kos
• Verlaagde of verhoogde seksdrang
• Verhoudings, veral met ‘n jonger persoon.
Indien jy ongeveer 70% van hierdie lysie kon afmerk, is jy/jou eggenoot/’n geliefde baie beslis in ‘n MJK vasgevang.

INVLOED OP GEVOELENS
Hoe sal ‘n MJK ‘n persoon se gevoelens beïnvloed?
• Jy is ontevrede met die lewe/jou leefstyl
• Verveeldheid met dinge/persone wat nog altyd deel van jou lewe was
• Avontuurlustig en ‘n begeerte na iets heeltemal ‘anders’
• Twyfel oor die betekenis van die lewe en die geldigheid van besluite wat vroeër geneem is
• Verwarring oor wie jy is en waarheen jou lewe oppad is

VERSKILLENDE INVLOEDE
Jy word nie net eendag wakker en besluit dat dit nou die regte tyd vir ‘n MJK is nie. Daar is gewoonlik verskeie invloede wat tot die toestand aanleiding gee. Daar is menige omstandighede wat daartoe aanleiding kan gee:
• Mans/vrouens wat jonk getroud is
• ‘n Ongelukkige huwelik
• Leënes-sindroom
• Ontevredenheid by die werk
• Ouer word
• Rebelse kinders
• Depressie
• Angs en stres
• Twyfel
• Skuld
• Aansienlike verlies of verandering
• Dood van ‘n ouer
• Afdanking by die werk
• Egskeiding
Hierdie tydelike toestand kan intern sowel as ekstern manifesteer.

EKSTERNE GEVOELENS
• Fisieke verwaarlosing
• Finansiële wanbestuur
• Sosiale disfunksie
• Prestasiedruk
• Korreksie word as kritiek ervaar
• Stryd om gesag te aanvaar
• Skeiding van die eie omgewing

INTERNE GEVOELENS
Mense wat die MJK ervaar, raak soms betrokke by drastiese leefstylveran¬deringe wat langtermyneffekte kan hê. Indien jy byvoorbeeld dink dat alles jou maat se skuld is, kan jy moontlik betrokke raak by ‘n verhouding, selfs ‘n vinnige egskeiding verkry, net om later uit te vind die probleem was eintlik maar jyself. Die volgende gevoelens is bewys van die effek wat die MJK op jou het:
• Emosionele seer
• Geestelike nie-funksionering
• Angs/bekommernis
• Vrees vir verwerping
• Onsekerheid
• Trots/perfeksie
• Swak selfbeeld
Daar is natuurlik leefstylveranderinge wat baie positief is – jy kan dalk beter begin eet, oefen, meer slaap kry of van klein, onnodige verpligtinge ontslae raak. Indien jy of jou maat deur die MJK gaan, is dit baie belangrik dat jy nader aan God beweeg en ook na ander sterk godvresende persone, wat jou gedurende hierdie uitdagende tyd kan bystaan, gaan vir hulp.

‘N FILOSOFIESE PERSPEKTIEF
Sommige mans raak heel filosofies oor ‘n MJK – maar nie noodwendig wys op ‘n Bybelse manier nie! Volgens een anonieme heer: “Mans spandeer hulle twintigs deur glad nie om te gee wie hulle is nie, hul dertigs deur te word wie hulle is, hul veertigs deur te probeer agterkom wie hulle eint¬lik is en hul vyftigs deur te probeer ver¬ander wie hulle werklik is…” Dit is seker waarom hierdie spesifieke meneer sy Mercedes SLK Sport gekoop het, na rap-musiek luister én goue kettings in sy vyftigs dra?

WAT KAN EK DOEN AS EK DIE KRISIS BELEEF?
• Erken die waarheid omtrent die situasie
• Identifiseer waar jy nie regtrap t.o.v. verhoudings nie. Besluit wat om te doen om dit reg te stel of dit te laat staan
• Wees baie realisties oor jou werklading ten einde uitbranding te voorkom
• Kyk baie krities na jou gesondheid en besluit hoe jy jou leefstyl gaan verander om balans te kry
• Plaas jou huislike lewe onder die ver¬grootglas en besluit op ‘n aksieplan om herstel te bring
Leer uit jou ervaring en wees ook baie oop vir raad van ander. Dit is baie minder skadelik om op eie koste te leer. Wees teenoor iemand verantwoordbaar en versoek gebed en berading by jou kerkleiers. Dit is baie belangrik om oor die onderwerp op te lees en nie toe te gee aan tipiese MJK-gedrag nie. Vra ook hulp t.o.v. nuwe doelstellings, nuwe groei-areas in jou lewe en om jou te help om wyse besluite toe te pas.

HOE VOORKOM EK ‘N KRISIS?
Jy kan ‘n MJK voorkom deur weer op vier groot areas in jou lewe te fokus en dan al jou bekommernisse, vrese, hoop en drome na God toe te bring. Die vier areas is:

WERK AAN JOU VERHOUDINGS
Teen die middeljare is die meeste huwelike op hul laagste punt ooit. Die huwelik is vervelig en afgesaag omdat daar nie te veel aandag aan spandeer word nie. Te veel druk by die werk en te veel aktiwiteite met die kinders kan gehaltetyd met mekaar, en om ‘n warm huweliksverhouding te bou, verminder. Werk daaraan! ‘n Sterk huwelik sal help om ‘n MJK te verhoed.

DINK WEER OOR JOU LOOPBAAN
Wie het God jou geskep om te wees? Wat is jou gawes en ta¬lente? Word dit in jou loopbaan gebruik en het jou loopbaan ‘n dimensie wat ander mense se lewens ten goede impakteer? Om iets vir ander te doen, gaan al hoe belangriker word namate jy ouer word. Jy wil tog sekerlik ‘n nalatenskap agterlaat?

HERONDERSOEK JOU WAARDES
Jy het drie belangrike bronne: tyd, geld en energie. Vra jouself: “Spandeer ek my tyd, geld en energie op die regte manier? Is ek waar God my bedoel het om as spesiale en unieke persoon te wees?” Moontlik sal jou MJK jou die moed gee om wéér oor jou loopbaan te dink en miskien, net miskien, te doen wat jy nog altyd wou doen.

TYD SAAM MET GOD
Gedurende die MJK het jy stabiliteit nodig. As jy ‘n Christen is, volg Christus – selfs al voel Hy vir jou by tye baie ver. Dit voel maar net so omdat jy ‘n krisis beleef. Hou aan om met God te praat en Sy Woord te lees. Lees Psalms en laat toe dat God jou hart masseer. Raak by ‘n klein Bybelstudiegroep betrokke. Teen die middeljare het baie mense maar min ware vriende.

Gebruik hierdie tyd om die ware vriendskappe te bou en te verstewig en ook om nader aan jou eie familie en jou familie in Christus te kom. Onthou – God gee werklik vir jou om. Indien jy nog nooit jou lewe aan die Here gegee het nie: die Bybel sê baie duidelik dat, indien jy jou hart en jou lewe vir Jesus oopmaak, Hy sal inkom en gemeenskap saam met jou hê.

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy My stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet. Elkeen wat aanhou oorwin, sal ek toelaat om saam met My op die troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met My Vader op die troon sit.” Openb 3:20-21.

IETS OM TE HERKOU…
Die middeljare is dié tyd van herevaluering. Die jong volwassene vra: ‘Wat gaan ek doen?’ Die middeljarige volwassene behoort te vra: ‘Waarom doen ek wat ek doen?’