Vernietig Teologie Geloof?

Vernietig teologie ’n lewende geloof in Jesus Christus? Sommige pastore en predikante dink so. Hulle mag moontlik goeie redes wat uit slegte erva¬rings gebore is, hê. Dit het byvoorbeeld met Wynand* gebeur. Wynand het Jesus Christus in sy matriekjaar leer ken. Sy lewe het daadwerklik verander. Voorheen wou hy Sielkunde aan die universiteit studeer, maar toe het net een ding werklik getel – om Jesus Christus te dien. Hy het met sy predikant gaan gesels en hulle het saamgestem dat God Wynand roep om die bediening te betree. Na skool het Wynand vir Teologie ingeskryf – opgewonde oor die vooruitsig om dieper in God se Woord te delf
.
Hy het verwag dat sy liefde vir Jesus deur diepgaande studie van die Woord en die verborgenhede daarin opgesluit, asook sy interaksie met mede-studente wat hul lewens aan God toegewy het, aangevuur sou word. Wynand se eerste semester aan die Teologiese Fakulteit was ’n baie groot teleurstelling. Die professore en dosente het skynbaar bitter min passie vir God en Sy Woord gehad. So baie het nie eens meer in Hom geglo nie, ten minste nie as hul Heer en Verlosser nie. Lofprysing en aanbidding het geen plek by die fakulteit gehad nie. Die dosente het hulle geleer dat die Bybel vol foute was en nie op sigwaarde geglo kan word nie. Hy het probeer om met hul te argumenteer, maar hulle het eenvoudig beter as hy geweet en hy het die een debat na die ander verloor. Teen die tyd dat hy sy B.Th-graad behaal het, was hy ’n belydende skeptikus.

Hy het die Bybel geensins vertrou nie en hy het in ’n Jesus geglo wat weinig meer as net ’n goeie onderwyser was. En die vuur wat eens in sy hart gebrand het? Lankal geblus! Hy het wel oor ’n teologiese graad beskik, maar hy was glad nie geskik vir bediening in die kerkverband wat hom aanvanklik vir studie aanbeveel het nie.

Die twee paaie
Wynand se storie is ’n baie algemene een en het veroorsaak dat so baie teologie heeltemal verwerp en tot die gevolgtrekking gekom het dat dit ’n lewende geloof in Jesus Christus ondermyn. Maar Wynand se erva¬ring is net die een kant van die munt. Hy het ’n baie spesifieke soort teologie bestudeer – Liberale Teologie. Daar is egter ook ’n ander soort – Evangeliese Teologie, wat leer dat dissipels van Jesus Christus God moet liefhê en Sy Woord moet glo. Dít is die twee paaie. Die een lei na twyfel en die ander na geloof.

Die twyfel-pad
Eerstens is daar die pad wat na twyfel en Liberale Teologie lei. Die woord ‘liberale’ beteken in hierdie sin ‘vry van enige in-per¬king’. Liberale Teologie beskou die Christen-geloof as ‘oop vir verandering’. Volgens li¬berale teoloë is vele tradisionele Christelike geloofsoortuigings deur mo¬derne denk¬patrone gediskrediteer; daarom behoort dit veel eerder verwerp as her-definieer te word. Soos jy kan dink, verskil individuele geleerdes ten opsigte van watter geloofs¬oortuiging hulle wil herdefinieer. Sommige liberale teoloë verwerp die Bybel en selfs geloof in God feitlik heeltemal. Die minder geharde liberale aanvaar dat die Bybel redelik betroubaar is ten opsigte van die verwysing na God; sommige glo in Jesus Christus as hul Heer en Verlosser en is ook wedergebore.

Dit is egter waar dat van die geharde li¬berale teoloë anti-Christus aktiviste word in hul poging om hul studente van hul naïewe geloof oor God en die Bybel te probeer bevry. Dit is ook waar dat sommige liberale teoloë Christus en Sy Wil vir hierdie wêreld werklik probeer begryp. Baie liberale geleerdes staan egter tussen hierdie twee denkrigtings wat hul oortuigings betref. Hulle is bloot net professionele geleerdes wie se belangstelling in godsdiens suiwer akademies van aard is. Hulle beskik oor geen passie vir Christus, Sy Kerk of Sy Woord nie en hul passielose skeptisisme word aan hul studente oorgedra.

Wonderwerke onmoontlik
Die twee grondgeloofsoortuigings van die Liberale Teologie behels dat wonderwerke nié meer plaasvind nie en dat die Bybel foute bevat. Die Bybel is nié ’n openbaring van God nie, maar ’n verslag van mense se godsdienstige ervarings, praktyke en geloofsoortuigings.

Liberale teoloë herinterpreteer baie Bybelse tekste en temas ter stawing van hul ongeloof in die bonatuurlike en ook hul oortuiging dat die Bybel nie histories betroubaar is nie. Die verslag oor die Skepping, die Sondeval en die Sondvloed in Genesis 1 – 11 is, volgens hulle, blote mites; die uittog uit Egipte het nie plaasgevind nie (ten minste nie soos die Bybel dit vertel nie). Moses het ook nie die Pentateug (die eerste vyf Bybelboeke) ongeveer 1 400 –
1 200 v.C. geskryf nie (dit is veel later in Israel se geskiedenis vervat), Ou Testamentiese profete het nie die toekomsgebeure voorspel nie, ensovoorts. Kyk ons na die Nuwe Testament, is Jesus nié uit ’n maagd gebore nie, Hy het nié wonderwerke gedoen nie, die meeste leringe wat aan Hom toegedig word, was nie werklik Sýne nie en Hy het beslís nie uit die dood opgestaan nie. Jesus word gewoonlik uitgebeeld as ’n baie goeie onderwyser wat geensins daarop aanspraak gemaak het om God te wees nie. Onthou egter dat, in die klassieke liberale wêreldbeskouing wonderwerke nie plaasgevind het nie en is die Bybel ’n foutiewe verslag – dit is dus regverdigbaar om die Bybelse leringe radikaal te rekonstrueer of te verwerp.

Hoe lyk diesulkes se teologie?
Hoe lyk die teologie as die professor nie glo dat die Bybel God se openbaring is nie? Bybelkursusse neig dan om te fokus op pogings om te probeer vasstel watter dele van die teks eg is en om die ware ge¬skiedenis te probeer herkonstrueer. ‘Ons is bo die teks verhewe en kan oordeel oor wat geloofwaardig is en wat nie.’

Omdat dit nie werklik sin maak om te onderskei wat die Bybel oor ’n sekere onderwerp leer nie, fokus liberale dogmakursusse op die denke van sekere teoloë, soos wat Barth of Bultmann oor God of redding geglo het. In wese, dan, is Liberale Teologie ’n manier om teologie te beoefen sonder die absolute oortuiging dat God leef en aktief in Sy wêreld is, of dat Hy Homself deur die Skrif openbaar.

Die vrug hiervan?
Soos jy jou kan indink, bou dié teologie nie geloof nie. Om die waarheid te sê, dit vernie¬tig geloof in Christus. Daar is so baie, soos Wynand, wat Teologie met ’n diepe oortuiging oor hulle roeping om God te dien, bestudeer net om as ’n verwarde of agnostikus te gradueer. Hulle word net soos hul leermeesters (Luk 6:40).

Instellings wat Liberale Teologie onderrig, het nie in die verlede goeie herderbegeleiding opgelewer nie. ’n Effektiewe pastorale bediening vloei uit ’n rotsvaste geloof in die Evangelie en die Woord van God voort. Indien ’n mens se geloof in Christus ondermyn is, is sy vermoë om namens God te praat en ander tot ’n dieper toewyding aan Hom te lei, ook daarmee heen.

Die geloofspad
In die lig van die dinge wat aan teologiese fakulteite gebeur, is dit dus geen wonder dat vele pastore/predikante geen vertroue in formele teologiese opleiding het nie. In die onlangse verlede het baie kerke be¬sluit om hul leiers intern op te lei en nie na kweekskole te stuur nie; anders kom hulle moontlik as ongelowiges wat nie die tradisionele dogmas of Christelike geloof langer aanhang nie, terug.

Die alternatief?
Evangeliese Teologie!
Evangeliese Christene glo die Bybel! Hulle glo dat God die outeurs van die Skrif geïnspireer het sodat hulle presiés kon neerskryf wat Hý wou hê hulle moes skryf. Daarom is die Woord van God sonder enige fout! Dit is waar en betroubaar. Die Skepping, Sondeval en Sondvloed het gebeur net soos wat dit in Genesis beskryf is.

Die profete hét die toekomsgebeure voorspel, Jesus ís uit ’n maagd gebore, Hy was volkóme God, maar ook volkome mens – net soos wat die Skrif leer. Hy het vir ons sonde gesterf, is uit die dood opgewek en sal eendag weer op die wolke kom. Die Skrif is ons betroubare geloofsgids en lei tot die lewe! Indien die dosente aan die Bybel glo, is teologie iets heeltemal anders. Bybelkursusse bestudeer die Bybelboeke soos wat dit is sodat ons dit kan verstaan en kan toepas.

Dogmakursusse poog om alles wat die Bybel oor ’n spesifieke onderwerp leer, te organiseer. Ons stel onsself onder die gesag van die Skrif en is eerlik in ons soeke om dit te verstaan en toe te pas. Indien God deur die Skrif gespreek het, is dit ons taak om te hoor wat Hy gesê het. Hierdie benadering versterk geloof. Indien Wynand die Bybel aan ’n Bybelgelowige kweekskool sou be¬studeer het, sou sy geloof in Christus en die Evangelie bevestig gewees en sy insig in die Skrif verdiep het.
Hy sou baie van sy professore geleer het omdat hulle ook in God en Sy Woord glo. Hy sou na sy Kerk teruggekeer het en al sy Christelike oortuigings sou bevestig gewees het. Met hierdie nuwe insig om hom te help lei, beraad, onderrig en te begelei, sou hy sy gemeente na God kon lei.

Die gevolgtrekking
Word geloof deur die Teologie ondermyn? Ja en nee. Liberale Teologie probeer om historiese Christelike geloofsoortuigings te herdefinieer en dít vernietig geloof in daardie oortuiginge.

Die Bybelgelowige teologiese benadering lei egter tot geloof met begrip – ’n kragtige kombinasie! Ons behoort nie teo-logie te verwerp nie, want die Bybel waarsku: “Geesdrif sonder kennis help niks!” Spr 19:2. Ons behoort egter opleiding te verwelkom, maar behoort baie seker te maak dat daar onder leermeesters studeer word wat die Woord van God gló. Hou Jesus se raad in gedagte: “’n Leerling is nie belang¬riker as sy leermeester nie. Maar die leerling wat hard werk, sal net soos sy leermeester word.” Luk 6:40.

* Skuilnaam om persoon te beskerm.

Deur dr. Kevin Smith


n Tweede Kans

Nou gee ons alles in die Here se hande oor, Hy sal sorg,” het Lourens en Sophia Opperman besluit toe haar gesondheid in 2008 so verswak het dat ‘n nieroorplanting dringend gedoen moes word om haar lewe te red. “En God het gesorg, my lewe is ‘n getui¬enis daarvan,” vertel Sophia. In 2004 het Sophia al hoe meer las van kroniese moeg¬heid ondervind. ‘n Reeks toetse het gevolg en polisistiese niere is by haar gediagnoseer. Dit is ‘n genetiese siekte wat sy van haar pa geërf het. Hierdie toestand veroorsaak dat die niere aanhou vergroot, maar dat die nierwerking afneem. Dit kan nie behandel word nie en ‘n nieroorplanting sou later die enigste opsie wees. Sophia kon met haar werk voortgaan tot Oktober 2007 en moes daardie November met dialise begin. “Die dialise bind ‘n mens geweldig. Ek kon nie na baie plekke gaan nie omdat ek drie keer per week dia¬lise moes kry. Daar was net dialisesentrums in Windhoek en Walvisbaai.” “Dialise is ook nie ‘n kuur nie, dit hou mens net aan die gang tot ‘n geskikte skenker vir ‘n oorplan¬ting gevind is,” vertel Sophia.

Dialise nie die oplossing
Sy wys na merke op haar polse en arms as gevolg van die dialise. “Nie een van hierdie punte wou werk nie. Later is daar ‘n tipe kateter in my skouer ingeplant. Dit het net ‘n rukkie gewerk voordat dit verstop het. ‘n Ander kateter is in my ander skouer ingeplant, maar dit het ook nie baie lank gewerk nie. My liggaam het alle vreemde voor¬werpe verwerp.”

Sophia moes talle kere na Pretoria of die Kaap reis om hierdie operasies te ondergaan. Uiteindelik het die dokter gesê dat hulle nou moet hoop op ‘n skenker, omdat daar is nie meer opsies nie. In 2008 doen sy ‘n tyd lank peritinale dialise. Dit kon sy tuis doen, maar dit moes drie keer per dag gedoen word. “Daar het hope voorraad in my huis rondgestaan,” sê sy. Later die jaar het sy ernstig siek geword en ‘n deel van haar dikderm moes verwyder word. Haar wond het septies geword en haar skoonsus, Lucia het haar wond gereeld skoongemaak en versorg. In Desember 2008 het sy saam met haar man Lourens, en twee seuns Danie en Jan-Hendrik na hul huis in Hentiesbaai gegaan vir ‘n wegbreekkans, maar dit was moeilik. “Ek moes teen daardie tyd weer dialise in Walvisbaai kry en ons moes elke tweede dag die 100 km ry.”

Draaipunt kom
Na hierdie vakansie het daar ‘n draaipunt gekom, vertel Sophia. “Ek onthou so goed dat Lourens op pad terug gesê het dat ons alles aan die Here moet oorgee. En van toe af het daar ‘n groot rustigheid oor ons gekom.

Vroeër het ons oorweeg om op Walvisbaai te gaan aftree sodat ek naby ‘n dia¬lisesentrum kon wees, maar nou was ons rustig en het op die Here vir uitkoms gewag. “Talle dinge bly my by, soos die dag toe ek vir een van die dokters in Windhoek ‘dankie’ gesê het omdat hy soveel vir my gedoen het. Sy antwoord was dat die Here vir hom so goed is dat hy nie alles vir homself kan hou nie, maar dit moet deel.” “Ek het later ook eers besef waardeur Lourens en die seuns in hierdie tyd moes gaan. Hulle was baie selfstandig en het met tye groot dele van die huishouding oorgeneem.”

God se genade staan vas
En tog staan God se Genade in hierdie verhaal uit soos ‘n paal bo water. Sophia wys vir my ‘n e-pos wat sy in November 2008 van Lydia Botes, die nieroorplantingskoördineerder, gekry het. Dit sê dat haar kanse op ‘n suksesvolle nieroorplanting volgens die laaste toetse 0% is weens haar liggaam se geneigdheid om vreemde voorwerpe te verwerp.

“Na die oorplanting het toetsuitslae getoon dat ek maar ‘n 4%-kans tot ‘n suksesvolle nieroorplanting gehad het.” Op 12 Februrie 2009 om 20:00 kry Sophia ‘n oproep uit Pretoria: “Ons het ‘n skenker gekry.” Sy moes so gou as moontlik in Pretoria kom. Lourens was vir werk in Swakopmund. “Gaan solank, ek kom!” het hy gesê. “Ek onthou dat ek so oorbluf was dat ek vir Jan-Hendrik gesê het ek weet nie wat ek moes doen nie. “Ma moet seker gaan pak!” het hy gesê. “Alles het toe so vinnig gebeur. Ds. Callie Opperman en van ons vriende het kom bid en my moed ingepraat. Hulp het uit verskeie oorde ingestroom en sesuur die volgende oggend was ek op die lughawe, op pad om my nuwe nier te ontvang,” het Sophia vertel.

Krisisse nie uitgesluit nie
Maar nog ‘n paar krisisse moes hanteer word. “Die vlug was ‘n uur-en-’n-half vertraag. Uiteindelik in Johannesburg, was daar ‘n ongeluk op die snelweg en die verkeer het stilgestaan. Sophia se broer, Jannie van Wyk, wat haar op die lughawe gaan haal het, het die eerste afrit geneem en 15:30 is Sophia by die teater van die Jakaranda-hospitaal ingestoot.

“Ek het soveel ondersteuning gehad. My sussie, Elize Heystek, het van Jeffreysbaai af gevlieg, my niggie Gerty Pieterse, my seun Danie en nog baie vriende en familie, was almal daar om sterkte toe te wens. Danie en ds. Pieter Heystek is saam met my tot by die teater en ds. Pieter het saam met my en die personeel ‘n gebed gedoen voor die operasie. Lourens het net na die operasie in Pretoria aangekom en was vir my ‘n steunpilaar. In die eerste dae na die operasie het ek, as gevolg van vog, 20 kg opgetel. Ek het vier terugslae gehad, maar die Here was getrou. Ek moes ‘n hele tyd in die intensiewesorg¬eenheid bly en kon nie loop of staan nie. Kuiermense moes beurte maak om my vir kort rukkies te sien en almal moes maskers dra. Ek kon geen blomme ontvang nie.”

Steun van die familie
Nadat sy ontslaan is, het Sophia ‘n tyd lank by haar niggie en haar man, Gerty en Hendri, gebly. “Sy was baie goed vir my en het gesorg vir ‘n telefoon en klokkie in my ka¬mer. Snags het sy kom inloer en vra of ek iets nodig het. Sy het vir my badwater in¬getap en blommetjies aangedra.” Later het sy ook ‘n tyd lank by haar broer, Jannie en sy gesin, gebly totdat sy sterk genoeg was om huis toe te gaan. “My skoonsus, Renate, was ‘n ster en het my so goed versorg.” “Danie het baie tyd spandeer om my te help om papierwerk uit te sorteer. My visum het verval en ek moes reëlings tref en boetes betaal omdat ek langer as ‘n maand in Suid-Afrika was en my visum nog nie beskikbaar was nie. Hy het alles hanteer. Danie het ook grafieke gemaak van al die toetse se uitslae sodat ons die vordering kon sien.”

Higiëne van uiterste belang
“Danie was die heeltyd daar vir my en Jan-Hendrik het vir Lourens ondersteun toe hy weer terug Windhoek toe is. Die Here het vir ons almal gesorg.” Sophia vertel hoe sy na die oorplanting moes aanpas. “Ek moes vraelyste op ‘n rekenaar voltooi oor al die nasorg wat na die operasie vereis is. Aanvanklik moes alles ook baie higiënies wees om te voorkom dat ek siek word.”

“Die matte in ons huis moes met teëls vervang word en vriendinne het gereël dat ons huis van bo tot onder skoongemaak is voordat ek tuisgekom het. Selfs die agterkante van die skilderye is gewas! Tuis het vriende eetgoed aangedra en vir my spesiale kos gemaak volgens al die voorskrifte. Ander het my voete gevryf of my naels versorg of my hare kom was.”

Tweede kans op lewe
Die grootste vraagstuk vir Sophia is hoe ‘n mens dankie sê vir so ‘n wonderlike geleent¬heid – ‘n tweede kans om te lewe. Sy het ‘n brief aan die familie van die skenker geskryf, alhoewel sy nie weet wie hulle is nie. Verder lei sy ‘n lewe van dankbaarheid en staan haar skoene vol by die kerk, in haar vriendekring en gemeenskap.

“Ek het vanjaar ingeskryf vir ‘n oorsigkursus oor die Bybel wat weereens my oë open vir al God se groot werke oor die eeue heen.” Sy kuier ook gereeld saam met vriende wat oor die afgelope jare soos familie geword het en skilder in haar vrye tyd. Die internis wat Sophia op gereelde basis gaan sien, sê elke keer dat sy gelukkig was om betyds ‘n nier te kry.

‘n Besoekende dokter van die Kaap het, nadat hy haar mediese geskiedenis gelees het, gesê dat God haar baie lief moet hê. Tans loop die familie weer die paadjie saam met Sophia se broer Jannie, wat aan dieselfde kwaal ly en wag op ‘n oorplanting…

deur Marlize Oosthuizen


Kamele: Eerste Vervoermiddel

Reeds sedert Bybelse tye ’n manier waarop handelsware en mense van een plek na ’n ander vervoer is, is kamele vandág nog ’n bekende gesig in die Midde-Ooste. Daar word wyd bespiegel dat kamele vanaf Asië na Noord- en Suid-Amerika en daarna na Afrika versprei het. Daar is vandag ongeveer 17,5 miljoen kamele oor die wêreld versprei. Ons lees in Ge¬nesis reeds dat Abram kamele as geskenk ontvang het – “Hulle het aan Abram goed gedoen oor haar en vir hom kleinvee en beeste gegee; ook donkies, slawe en slavinne, don¬kiemerries en kamele.” Gen 12:16. En regdeur die Bybel word daar van kamele melding gemaak as deel van die mense se rykdom.

Soorte kamele
Daar is twee soorte kamele: die Arabiese of dromedaris-kameel met sy enkele boggel en dan ook die baktriese kameel met sy twee boggels. Eersgenoemde is inheems aan die droë woestyndele in Wes-Afrika en die baktriese kamele is weer inheems aan Sentraal- en Oos-Asië. Albei soorte is mak diere en verskaf melk en vleis en word ook as werkdiere gebruik.

Die lewensverwagting van ’n kameel is 40 tot 50 jaar en ’n volwasse kameel is sowat 1.85 meter hoog by die skouer en by die boggel sowat 2.15 meter. Gewoonlik is die boggel omtrent 30 cm hoog. Dit is geensins ongewoon vir ’n kameel om ’n hardloopspoed van tot 65 km/h (slegs oor kort afstande) te bereik en ’n spoed van 40km/h vir lang afstande te handhaaf nie.

Oorlewingstrategieë
Die dromedaris-kameel kan 15–20 dae sonder water oorleef, in teenstelling met ander diere wat drie tot vier dae sonder water kan klaarkom. Waterverlies deur urine is beperk tot die absolute minimum aangesien hul urine so gekonsentreerd is. Dié soort kamele kan temperatuurskommelings van 34 tot 42˚ C in hul liggame verduur. Hulle is in staat om gedurende die dag hitte in hul liggame te berg en dan op maniere anders as deur verdamping vry te stel, m.a.w. deur uitstraling, geleiding en oordraging gedurende die koel nagtelike ure.

Fisiologiese aanpassings
Hulle oorleef in hierdie woestyntoestande deur hul vermoë om water deur fisiologiese aanpassings te berg. Hierdie aanpassings sluit die volgende in:
• Hul liggaamstemperatuur kan met tot 8˚ C fluktueer. Dit stel hul in staat om oormatige hitte deur die nag te verloor sonder dat hul liggaamsvog verloor.
• Indien sonder water, word hul skildklieraktiwiteit verminder.
• Hulle het baie minder water nodig as ander lewende hawe.
• Hulle sweet ook nie voortdurend nie en begin sweet teen veel hoër temperature as ander diere.
• Hul bloedplasmavolume verminder net ietwat gedurende ernstige dehidrasie.
• Hulle kan vinnig na dehidrasie herstel en is baie minder tot detoksifikasie geneig.
• Vet is hoofsaaklik tot die boggel beperk. Dit kan dan vinnige hitteverspreiding deur die vel verseker.
• Dik en lang ooghare beskerm die oog teen bestraling van die son.
• Die gesplete bolip is geskik om voedsame kos in baie dorre toestande te kan eet.
• Hul gewoonte om op hul agterbene te urineer, verseker ekstra afkoeling deur verdamping
• Hul dik jas reflekteer sonlig en dit insuleer hul ook teen die intense hitte wat deur die woestynsand uitgestraal word.
• Die niere en ingewande is aangepas om water te behou.
• Kamele het ’n baie ongewone en ingewikkelde immuunstelsel wat verseker dat hulle selde siektes opdoen.

Gebruike vandag
Met al hierdie inligting in gedagte, is dit geensins verrassend dat daar vandag weer teruggekeer word na die gebruik van kamele ook in die Wes¬terse woestyngebiede nie. Daar is, bo en behalwe gebruike soos wat in die woestyne nodig is, ook baie geleent¬hede vir kameeltoerisme in woestyngebiede. Een so ‘n voorbeeld is Solitaire in Namibië.

Kameel¬kam¬pe op Solitaire
Die mistieke klein dorpie Solitaire laat op meer as een manier reg aan die naam ge-skied. Die dorpie bied ’n oorslaapgeleentheid op jou toer van Suidwes-Namibië wat absoluut noodsaaklik is. Brandstof, bande, ‘n algemene handelaar, tuis¬gebakte brood en appeltert is maar enkele van die dinge wat toeriste hier kan geniet op hul safari deur die Namib-woestyn. Hierdie geïsoleerde buitepos is die ideale oorstaanplek vanwaar die woestynomge¬wing en die attraksies van die omgewing ondersoek kan word. Solitaire het sy eie unieke karakter en is baie bekend vir sy onoortreflike gasvryheid – jou deurgang na die hoogste duine ter wêreld via Sesriem en Sossusvlei.

Gegradeerde verblyf
Die hotel in Solitaire het ’n gradering gelykstaande aan 3 sterre en het die Hospita-lity Association of Namibia–Toekenning vir uitnemendheid: Erkenning vir bestendige prestasie, in 2008 gewen. Dit is baie goed toegerus en bied al die dienste wat toeriste normaalweg verlang. Staproetes tussen 3.5 en 8 km is duidelik gemerk met baie inte¬ressante inligting oor plante en bome op die roete. ’n Sonsondergangrit word ook aangebied en die asemrowende sonsondergange oor die Namib kan dan besigtig word; daar is selfs ook sterrekyk op versoek beskikbaar. Slegs 260 km vanaf Windhoek, is dit dus eintlik baie maklik om tot daar te kom en die vrede en vreugde van die Namib ten volle te geniet.

deur Toi Nell


Die Bybelse Oplossing Vir Misdaad

Daar was ‘n tyd in hierdie land toe baie min van ons deur misdaad geraak is. Dinge het egter begin verander en almal het iemand geken wat deur misdaad geaffekteer is. Deesdae het ons elkeen ons eie stories oor hoe ons besteel is, bedreig is deur misdaad, of erger nog, regstreeks daarmee gekonfronteer is.

Op ‘n onlangse vergadering het die ongeveer 80 mense teenwoordig, die misdade wat hulle persoonlik ervaar het, opgenoem. Dit het gewissel van huisbraak, motordiefstal, selfoondiefstal, bedrog, kaping, tot gewapende roof en moord – almal het dit óf self ervaar óf hul onmiddellike familie het daaronder gely.

Die koste van misdaad
By feitlik elke sosiale geleentheid word Suid-Afrikaners gevind wat stories uitruil – stories oor hoe hulle die dood net-net ontkom het, hoe die lang tentakels van misdaad hulle beetgekry het of hoe hul geliefdes getraumatiseer is weens een of ander misdaadsituasie. Misdaad is ‘n werklikheid wat elkeen van ons affekteer.

Die situasie in Suid-Afrika het so verswak dat daar selfs ‘n moratorium op misdaadstatistiek geplaas is. Die polisie word hier¬deur verbied om misdaadstatistiek aan stemgeregtigde belastingbetalers beskikbaar te stel. Volgens navorsing deur die American Management Association, verloor Amerikaanse sake-ondernemings jaarliks meer as $10 biljoen weens werknemersdiefstal, meer as $4 biljoen weens geldverduistering, meer as $2,5 biljoen weens inbraak, $2 biljoen weens winkeldiefstal, meer as $1,3 biljoen weens brandstigting en meer as ‘n halfmiljoen dollar per elke insident van rekenaarbedrog. Volgens die VSA se Handelsdepartement kan ‘n derde van alle sakeondernemings wat jaarliks in die VSA bankrot verklaar word, teruggevoer word na werknemersdiefstal. Daar word bereken dat feitlik 50% van alle werknemers skuldig aan diefstal is. Kleinhandelaars in Suid-Afrika verloor jaarliks biljoene rande weens winkeldiefstal of werknemersdiefstal.

Wie betaal?
Natuurlik betaal iemand hiervoor! Ek en jy en al die ander kliënte deel hierdie las van biljoene rande weens diefstal. Boonop moet ons ook nog vir die verhoogde versekeringspremies, meer sekerheidspersoneel en -toerusting betaal – net omdat winkeldief¬stal aan die orde van die dag is. En die verlies word natuurlik by die verkoops¬prys gevoeg. Ons betaal natuurlik ook vir misdaad deur ons belastings en die steun aan die polisiediens, die regstelsel en die gevangenisdienste, wat almal veronderstel is om ons teen die kriminele elemente daarbuite in die gemeenskap te beskerm. Ernstiger, egter, is die groot aantal Suid-Afrikaners wat direk deur die misdaad in ons land geraak word en daaronder ly.

Wat veroorsaak misdaad?
Ek het al gehoor hoe universiteitsprofessore en ander kundiges getuig van die ingewikkeldheid van die ontleding van sosiale sowel as ekonomiese faktore wat tot misdaad aanleiding gee. En tog, as ons die Bybel raadpleeg, kry ons ‘n baie direkte antwoord: “As misdaad nie dadelik gestraf word nie, is mense se harte vol planne om verkeerd te doen.” Pred 8:11.

Dit is tog sekerlik ‘n antwoord wat voor die hand liggend is. Misdaad neem toe in ons gemeenskap omdat ons howe skynbaar meer begaan is oor die ‘regte’ van die misdadiger as die regte van die slagoffer, of van die polisie. Moordenaars is al vrygelaat terwyl lede van die polisie vervolg word. Verkragters is al vrygelaat op grond van presidensiële kwytskelding terwyl slagoffers tronk toe gestuur is omdat hulle hulself verdedig het. Reg het verkeerd geword en verkeerd word deesdae as reg beskou!

Die rol van die regering
Die Bybel is baie duidelik daaromtrent dat God die siviele regering daargestel het om “…die kwaaddoener aan die pen (te) moet laat ry.” Rom 13:4. Hulle is ook opgeroep om God se geregtigheid te laat geskied. Die hoofpligte en verantwoordelikhede van enige siviele regering is die beskerming van wetsgehoorsame burgers en die straf van kriminele wat die wet verbreek. Psalm 101 herinner ons daaraan dat dit die plig van God-erende regeerders is om die bose te vernietig en om die wetsgehoorsames tot eer van God te beskerm. “Omdat die Here dit so wil hê, moet julle alle gesag aanvaar – die koning as staatshoof én die amptenare wat die koning benoem het. Die koning het ‘n mandaat aan hulle gegee om dié wat kwaad doen, te straf, maar erkenning te gee aan dié wat goeddoen.” 1 Pet 2:13-14.

Rom 13:3-4 sê verder “Mense wat reg optree, hoef nie vir die owerhede bang te wees nie – die kwaaddoeners wel… Die owerheid is immers ‘n dienaar van God om jou beste belange te bevorder.”

Doodstraf
Vir diegene wat die Woord van God as ge¬saghebbend aanvaar, is die doodstraf nie ‘n keuse of die uitkoms van ‘n meningspeiling, of selfs ‘n hof- of parlementêre uitspraak nie. Dit is God se baie duidelike opdrag: “Iemand wat ‘n mens doodmaak, moet self ook doodgemaak word omdat dié mens as die beeld van God aangetas is.” Lev 9:6. God het die doodstraf ingestel nog lank voor die verordening van die wette van Moses. Om die waarheid te sê, dit is nie slegs vir Noag se tyd uitgeroep nie, maar vir alle geslagte. “As iemand ‘n ander persoon so beseer dat hy daarvan sterf, moet hy self doodgemaak word. As hy die persoon egter doelbewus aangeval het met die bedoeling om hom dood te maak, moet hy weggevat word om tereggestel te word, selfs al het hy by die altaar kom skuil.” Eks 21:12-14.

“Enigeen wat die lewe van ‘n ander persoon neem, moet doodgemaak word… Ek, die Here, is julle God.” Lev 24:17-22. God se Wet bly selfs na Golgotha geldend – Han 25:22. Jesus het ook geleer: “Julle moenie die rede vir My koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ‘n streep deur die Wet of die profete te trek nie. Nee, Ek het gekom om die ware bedoeling van God se Wet te laat uitkom. Ek verseker julle, al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal die Wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly.” Matt 5:17-18. Deur God se Wet te gehoorsaam en moordenaars die doodstraf op te lê, kan ‘n volk hulle bevry van die bloed van onskuldiges deur die skuldiges aan die pen te laat ry.

Die teendeel geld ook: ‘n volk wat weier om die bloed van onskuldiges van die hand van moordenaars te eis, deel in die skuld van die moordenaar(s). Lees gerus Deut 21:1-9 in hierdie verband. Die teenstand wat die doodstraf van sekere ‘menseregtegroepe’ kry, is baie selektief. Net moordenaars kry die doodstraf – dit is dus ‘n goeie vraag waarom hierdie groepe so behep is met die regte van die moordenaars.

Morele reg
Behoort ‘n mens nie meelewing te betoon en geregtigheid te laat geskied teenoor die duisende slagoffers en families van slagoffers van geweldsmisdade nie? Sedert die Staat die doodstraf in 1989 in Suid-Afrika op eensydige wyse afgeskaf het, het kriminele meer as 500 000 onskuldiges in Suid-Afrika die ‘doodstraf’ opgelê. Wie veg vir hulle regte?

Wat van die 300 000 wat moontlik in die komende paar jaar vermoor kan word? Enige beskaafde gemeenskap het sekerlik die morele reg en plig om hulself teen diegene wat geen respek vir die lewe het nie, te beskerm? Deur die moordenaar met die dood te straf, is dieselfde as om ‘n siek ledemaat te amputeer ten einde die res van die liggaam te red. Alle moord is ernstig en vereis die doodstraf. Dit is noodsaaklik vir geregtigheid, die opperge¬sag van die reg en die be¬skerming van onskuldiges.

Regstelling
In die geval van diefstal, brandstigting of kwaadwillige saakbeskadiging eis die Bybel dat regstelling moet plaasvind. Regstelling is die herstel van iets tot sy oorspronklike plek of eienaar. Die Bybel vereis dat regstelling teenoor die slagoffer van die misdaad moet geskied. Dit word ook vir strafbare nalatigheid vereis. God se Wet is baie duidelik: die oortreder word aanspreeklik en verantwoordelik gehou vir die vereffening van skuld.

Hy moet werk en verdien, geldelik of andersins, en dit wat nodig is vir die herstel van dít wat geroof, vernietig of beskadig is, daarstel. “’n Dief wat gevang is, moet vir alles betaal wat gesteel is. As hy nie alles kan terugbetaal nie, moet hy self as slaaf verkoop word om die skuld te betaal. As iemand ‘n bees of ‘n donkie of ‘n skaap steel en dit word nog lewendig van hom gekry, moet hy dubbel te¬rugbetaal van wat die diere werd is.

Iemand kan toelaat dat sy weiveld of sy wingerd oorbewei word en dan sy vee in ‘n ander man se veld injaag om daar te gaan wei. Hy moet dan skadevergoeding betaal met die beste wat sy eie veld kan oplewer. Wanneer ‘n veldbrand uitbreek, na iemand anders se veld toe versprei en sy graan afbrand wat geoes is en reeds in gerwe gepak is, moet die een wat die vuur laat weghol het, ten volle vergoed vir die skade.” Eks 22:3-6.

Slegs oortreders baat nou
Die straf moet by die oortreding pas. Hoe ernstiger die misdaad, hoe swaarder die straf (Deut 19:15-21). Onder God se Wet sal daar minder misdadigers, minder slagoffers en ‘n baie kleiner las op die belastingbetaler wees. Onder die huidige humanistiese stelsel, het ons tronke instellings geword ter bevordering van onderrig onder misdadigers – hulle leer by mekaar en werk presies uit hoe om nie die volgende keer gevang te word nie. In plaas van regstelling of vergoeding vir die slagoffer en sy familie, is dit die oortreder wat baat vind by die huidige stelsel omdat slagoffers gedwing word om kos, verblyf en vermaak aan die oortreders te verskaf terwyl hulle eintlik ‘n straf moet uitdien. Die enigste oplossing vir hierdie situasie is die terugkeer na die Bybelse regstellingsproses.

Verseker dat dit nie lonend is nie
Hier is ‘n paar praktiese wenke wat gesonde verstand vereis en wat kan help dat misdaad nie in Suid-Afrika lonend bly nie.
1. Herhalende oortreders behoort gedwing te word om een vonnis uit te dien voordat die volgende vonnis ‘n aanvang neem. Daar behoort nie vir hulle so-iets soos gelyklopende vonnisse te wees nie.
2. Daar behoort nie borgtog aan herha¬lende oortreders toegestaan te word nie.
3. Alle gewelddadige oortreders behoort die volle verantwoordelikheid vir hul dade te dra of hulle as geestelik daartoe in staat gereken te word, onder die in¬vloed van drank of dwelms, of nie (Num 35:16-21).
4. Straf vir jeugdiges behoort dieselfde te wees as vir volwassenes. Diegene wat ‘volwasse oortredings’ begaan, soos bv. verkragting of moord, behoort ‘volwasse straf’ te dra. (Eseg 18:10-13).
5. Daar behoort ‘n terugkeer na Bybelse beginsels te wees – teregstelling vir alle eerste-graad-moorde, verkragting en ontvoering; regstelling vir alle diefstal of beskadiging van eiendom. (Eks 21 & 22).
6. Dit is absoluut onmoontlik vir enige polisiemag om die veiligheid van elke landsburger te verseker. Daar behoort geen hindernis te wees indien wetsgehoorsame burgers vuurwapens vir selfverdediging wil bekom nie. Aangesien die grootste meerderheid gewelddadige misdade deur kriminele met ongelisensieerde vuurwapens gepleeg word, is dit belaglik om te dink dat deur die regte van landsburgers om gelisensieerde vuur¬wapens te besit en te dra, te beperk, gaan meehelp om geweldsmisdade te verminder. Deur die potensiële slagoffers te ontwapen, dien net die belange van die misdadigers. Ons moet dus die Bybelse regte en verantwoordelikhede van landsburgers om vuurwapens te verkry, besit, dra en te gebruik vir persoonlike of gesinsbeskerming, herbevestig. (Eks 22:2, Neh 4:14, 1 Tim 5:8).
Dit het tyd geword dat die owerhede ’n beginselvaste, sterk en besliste aksie teen misdadigers wat die wet verbreek en min¬ag, neem en sodoende wetsgehoorsame burgers beskerm. “Lewer elke dag regverdige uitsprake! As iemand besteel is, beskerm hulle teen die uitbuiters. As julle dit nie doen nie, sal My woede soos ‘n vuur brand wat niemand kan blus nie. Dit sal gebeur oor al julle sondes wat julle doen.” Jer 21:112

deur Peter Hammond


Benescke Janse van Rensburg: Passievol, Energiek, Ingelig

Avontuurlustig, aktief, op hoogte van wêreldgebeure en passievol – veral oor God! Dit is Benescke Janse van Rensburg, plaasnooi van die Vrystaat en nou ’n bekende huishoudelike naam vanweë haar betrokkenheid in die media. Kapenaars wat vroeg uit die vere is, sal haar veral ken as die lewenslustige stem op ’n oggendprogram van ’n baie bekende Christen-streeksradiosender.

Jy het ‘n baie interessante en ongewone naam. Waaraan is dit ontleen?
My ouma se naam is Betty. Ek was die eerste kleindogter in die familie en die plan was dat ek na haar vernoem sou word. My ouers het die ‘B’ gebruik en hulle eie naam gemaak. Later het ons uitgevind dit beteken ‘stap saam met God’ en ‘geseënd’.

Wanneer het jy ‘n persoonlike oorgawe aan die Here gemaak?
Ek was bevoorreg om in ’n huis groot te word waar beide my ouers ’n intieme pad saam met God stap – en dit uit hulle voorbeeld spreek. Ek was nog in die laerskool toe ek vir die eer¬ste keer die be¬keringsgebed gebid het. Op universiteit het my verhouding met God verdiep. Ek bid dat die verdieping nooit sal ophou nie.

Jy het op ‘n plaas in die Vrystaat grootgeword. In hoe ‘n mate het jou agtergrond en opvoeding jou gevorm tot vandag?
Om op ’n plaas groot te word, bied aan enige kind die geleentheid om sorgeloos groot te word. Saam met my ouers was elke dag op die plaas vir my, my broer en suster ’n avontuur. Ons sou gaan visvang, roei op die dam, bergklim, piekniek hou, in die winter saam met my pa ’n bok gaan skiet en in die somer saam met my ma op die grondtennisbaan tennis speel of in die dam swem – en al drie ons kinders was nog op laerskool toe kon ons al motor bestuur. Die plaaslewe maak jou lief vir avontuur. Gelukkig het my man ook op ’n plaas grootgeword – ons pak dus nou ons avonture saam aan.

Jy het ’n B.A.-graad en ’n onder¬wysdiploma behaal, maar tog verder studeer en jou Meestersgraad in Joer¬nalistiek verwerf. Waar het die belangstelling begin?
Ek is baie nuuskierig, baie lief vir mense en ek raak gou verveeld. Met joernalistiek is die stories elke dag nuut. Ek doen onderhoude met interessante en soms invloedryke mense wat my inspireer. En dit is gelukkig nie een dag dieselfde nie!

Jy het in 2005 vir ’n paar maande in Europa gaan studeer. Watter invloed het die Europese denke en leefwyse op jou lewensbeskouing gehad?
Ek was deel van ’n groep van 35 internasionale studente wat in Holland studeer het en ook saam ’n tydskrif begin het. Uit dié groep was ek seker die enigste gelowige. Op ’n dag was ons op ’n uitstappie met een van daardie groot toerbusse en ek het na al die mense op die bus gekyk. Dit was vir my baie hartseer om te dink dat as ons almal daardie dag sou sterf, ek nie weet of ek een van hulle saam met my in die hemel sou sien nie.
Tog, die tyd dáár het my aangemoedig om meer vir mense te bid wat nog nie ’n verhouding met Jesus Christus het nie. En ek dink my grootste uitdaging was sekerlik om my Verlosser Jesus Christus aan mense, wat tot op daardie punt slegs Sy Naam as ’n vloekwoord geken het, voor te stel.

Waarom het jy besluit om na SA te¬rug te keer en nie, soos so baie ander Suid-Afrikaanse jongmense, ’n loopbaan oorsee te volg nie?
Ek hou van reis en om nuwe plekke te ontdek en mense te ontmoet. Tog kom daar ’n stadium dat ’n mens terugverlang na jou land, taal en natuurlik, jou familie! Hoewel dit lekker moet wees om oorsee te woon omdat jy makliker kan reis, is Suid-Afrika die plek waar ek en my man oud wil word.

Jy was eers by Radio Kansel ’n omroeper voordat jy vroeër die jaar by Radio Tygerberg se oggendskof, ‘Oggendrooi’ aangesluit het. Wou jy nog altyd in Christen-media werk?
Voordat ek Holland toe is om daar te studeer, het ek internskappe gedoen by verskeie rolspelers in die sekulêre media, insluitende die ondersoekende joernalistieke program, ‘Special Assignment’, die tydskrif, ‘Weg’ en ook koerante soos ‘Volksblad’ en ‘Die Burger’.
Dit was goeie ervaring. Tog, as mens eers deel geword het van die media waarin jy ervaar hoe God werk en lewens verander, en daarby die voorreg het om die storie aan die wêreld te vertel, draai ‘n mens moeilik na die sekulêre media terug.

Jy werk tans by Radio Tygerberg en is verantwoordelik vir die og¬gend¬skof ‘Oggendrooi’. Vanwaar die besondere naam? Wat kan luiste¬raars verwag om in die gleuf te hoor?
Saam met my kollega, Anton Brink, is ons verantwoordelik vir Radio Tygerberg 104FM se ontbytskof, tussen 06:00-09:00 elke weeksoggend. Die program is gevul met stories van hoop, inspirerende insette en musiek wat jou op en wakker kry en dit is vir ons ’n voorreg om van ons luisteraars se drome waar te maak. Die doelwit met die program is om luisteraars te inspireer en impakteer en hulle in staat te stel om die dag vol moed aan te pak.

Hoekom Oggendrooi? Net voordat die son deurbreek in die oggend, is dit rooi op die horison. Die rooi, wat ‘oggendrooi’ genoem word, hou die belofte in dat die son sal deurbreek en die donker uitwis. Nét so word dit soms donker as ons deur ’n krisis gaan. As ons ons oë op God hou te midde van ’n krisis, raak dit rooi in ons geestesoë terwyl ons op ’n deurbraak wag, want saam met God kom die deurbraak altyd!

Jou ander passie is TV-werk. Jy was betrokke by die vervaardiging van ‘InPas’ vir KykNET. Sien jy vir jouself ’n toekoms in die TV-bedryf?
Definitief. Televisie was nog altyd my groot passie en daar is ’n paar opwindende projekte in die vooruitsig. Een van my drome is om te sien dat Christene voorlopers word in die televisiebedryf wat kwaliteit en inhoud betref. God vereis immers van ons om alles wat ons doen ‘met uitnemendheid’ te doen.

Jy het onlangs jou eerste boek ‘Ontdek God in die Stories van Mense’ geskryf. Vertel ons hoe het die idee van ’n boek beslag gekry.
Oor die jare as joernalis in die radiowese, te¬le¬visie, tydskrifte en ook vir die elektroniese dagstukkies, Vers-’n-Dag, het ek die ge¬leent¬heid gehad om ’n klomp stories van hoop te vertel. Deur hierdie stories het ek God se grootheid en wonderwerkende hand nuut ontdek en besef dat Hy vandág nog asemrowende wonderwerke doen.

Toe Lux Verbi my nader om ’n boek te skryf, het ek onmiddellik gedink aan die geloofstories omdat dit my lewe verander het en my geloof versterk het. In die boek het ek God se karaktereienskappe van A tot Z gerangskik, byvoorbeeld A – Almagtig, B – Beskermer, ensovoorts, met ’n storie wat elke karaktereienskap van God illustreer. Wanneer ons God se karakter beter leer ken, raak dit makliker om aan Hóm vas te hou as die storms soms ons lewens tref. God ver¬ander immers nooit nie!

Waarom, dink jy, is die neiging onder jongmense om hulle van die tradi¬sionele kerkbegrip los te maak?
Vroeër jare was die Sondagdiens die plek waar meeste gelowiges weekliks ‘gevoed’ is. Daar was nie geestelike CD’s of DVD’s beskikbaar nie. Vandag lyk die prentjie anders. Op pad werk toe in hulle motors, kan jongmense na geestelike CD’s met goeie musiek luister. Terwyl hulle oefen, kan hulle op iPods na ’n inspirerende prediker luister of, as hulle by die huis kom, kan hulle vinnig na Joyce Meyer se halfuur- televisieprogram kyk.

As jongmense dan Sondag in die kerk kom en die musiek is swak of outyds, hulle vind die preek vervelig en abstrak of hulle stap by die deur uit en voel hulle kan nie die boodskap prakties gaan toepas nie, moet predikers nie wonder hoekom kerke leeg¬loop nie. Kerkleiers moet besef dat hoewel die boodskap dieselfde bly, hulle hul aanbieding sal móét aanpas om relevant te bly in ’n veranderende samelewing.

Daar word deesdae al meer aangedring op die allegoriese (of ook alternatiewelik tot die tradisionele eksegese) verstaan van die Bybel. Wat is jou mening hieromtrent?
Ek glo die Bybel is net ’n boek as jy dit sónder die Heilige Gees probeer lees. Vandaar die vrae soos: “Was Maria regtig ’n maagd?” of “Het Jesus werklik opgestaan?” Die oom¬blik as jy die Heilige Gees as jou Leidsman in jou lewe innooi en Hóm vra om jou deur die bladsye te lei, sal jy ervaar hoe die Woord lewend word. In die proses sal jy ’n oneindige, liefdevolle God ontdek wat vanaf Ge¬nesis tot Openbaring ’n liefdesverhouding met elkeen begeer. Elke woord in die Bybel is waar, elke belofte staan vas en daar is nie een woord wat bygevoeg of weggeneem kan word nie. Dit is ‘n volmaakte Boek.

Jy is getroud met ‘n biokinetikus. Vertel ons hoe julle ontmoet het en hoe hy jou in jou loopbaan steun.
Ek het ’n onderhoud met Johannes oor ’n gesonde leefstyl gevoer. Hoewel ons van die eerste oomblik af lekker gesels en gelag het, was ons aanvanklik eers net vriende wat saam geoefen het. Mettertyd het ek agtergekom dat ek nie gou genoeg by die gim kon uitkom om hom te sien nie. Vandag is ek baie bly oor daardie onderhoud.

Ek dink Johannes is een van die grootste geskenke wat God my kón gee. Hy is geduldig, baie eerlik, het ’n uitstekende humorsin en hy laat my glo dat niks vir my onmoontlik is om te bereik nie! En boonop het hy my opnuut laat besef dat álles wat ons is en het, net genade uit God se hand is en dat ons élke dag vir leiding van God moet bid vir ons loopbane, huwelik en drome.

Watter planne het jy nog vir die jaar?
Ons werk hard om ‘Oggendrooi’ die beste oggendprogram in die Kaapse Skiereiland te maak. My tweede dagboek waarin ek geestelike lesse aan geskiedkundige gebeure koppel, verskyn later vanjaar. Ek is baie opgewonde daaroor. Daar is ook ’n dinamiese televisieprogram in die vooruitsig, maar dis al wat ek op dié stadium gaan sê…

Sien Benescke haarself ook binnekort in die rol van Ma?
Wie weet… Ek en my man dink kinders is seker een van die grootste geskenke uit God se hand en ons is baie lief vir kinders.

Enige woord van bemoediging/raad vir die jongvrou van die 21ste Eeu?
Wend ’n poging aan om God se karakter te ontdek. As jy weet wie Hy is en as jy sy liefde vir jou besef, gaan jy met groter selfvertroue jou uniekheid aanvaar en uitleef. En wanneer jy Hom innooi om deel van jou lewe te wees en jou daagliks te lei deur Sy Heilige Gees, kan ek jou verseker dat jy nog verbaas gaan staan by die besef dat daar géén beperking is op wat Hy in jou lewe kan doen en wat Hy ook deur jou lewe vir ánder kan en wil doen nie.

Onderhoud deur Toi Nell