Satan se werk in die Kerk

Satan weet hoe hy die werk van die Kerk aan bande kan lê en die effektiwiteit van Christene kan verhinder. Die volgende is strategieë wat satan dikwels gebruik.

Misleiding
“Want sulke mense is vals apostels; hulle is bedrieglike werkers wat voorgee dat hulle apostels van Christus is. Geen wonder nie! Die satan self gee immers voor dat hy ’n engel van die lig is. Daarom is dit ook niks besonders dat sy diensknegte hulleself
voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Hulle uiteinde sal wees wat hulle volgens hulle dade verdien.” 2 Kor 11:13-15. Satan werk baie subtiel. Hy is bewus dat ’n openlike ontkenning van die waarheid verwerp sal word; dus word ’n deel van die geestelike waarheid behou terwyl dit op subtiele wyse met growwe onjuisthede vermeng word.
Hierdie subtiele vermenging van waarheid en onjuisthede het misleiding tot gevolg en is baie duidelik in godsdiens. God is nie die outeur van godsdiens nie – satan is. Die eerste moord in die Bybel was ’n godsdienstige moord (Kain en Abel) en dit is juis waar die duiwel se karakter baie duidelik word. Die godsdienstiges gaan vandag nog voort om die regverdiges te vervolg en satan mislei mense nog steeds deur die ‘ontwikkeling en voortbestaan’ van godsdiens.
Dit is dikwels die heel moeilikste om godsdienstiges van God se Waarheid te oortuig. Satan het die Christendom in ’n godsdienstige boksie saam met ander gelowe geplaas. Die Christendom is nie ’n godsdiens nie, maar geloof in Jesus Christus en Sy Woord, die Bybel. Die volgende is ’n lys godsdienstradisies en skemas wat satan gebruik en wat vandag nog in die Kerk voorkom:

Godsdienstradisies
• Die feilbaarheid van God se Woord
• Die verheffing van ervaring bo die gesag van die Skrif
• Die byvoeging van buite-Bybelse data
• Wettiese voorskrifte vir verlossing
• Die liberale siening dat daar, op grond van God se liefde, nie iets soos die hel is nie
• Die verwerping van die duiwel as ’n werklikheid, die maagdelike geboorte van Jesus, die godheid, die liggaamlike opstanding van Jesus, ensovoorts. Dit is die merk van die slang wat Adam en Eva in die Tuin van Eden besoek en die waarheid en betroubaarheid van God se woorde (“Het God regtig gesê…Gen 3:1) bevraagteken
• Liberale teologie
• Nuwe-era-denke
Die Apostel Paulus het die Vroeë Kerk teen hierdie immer teenwoordige gevaar gewaarsku. “Ek is tog bang dat julle gedagtes weggevoer sal word van julle opregte en suiwer toewyding aan Christus, net soos die slang Eva met sy listigheid verlei het.”
2 Kor 11:3.

Vals lering
“Maar daar was ook vals profete onder die volk Israel, en so sal daar ook onder julle valse leraars kom. Hulle sal dwaalleer oor God insmokkel, en selfs teen hulle Eienaar wat hulle gekoop het draai. Hulle hoop om met hulle dwaalleer alles te vernietig, maar só bring hulle ’n skielike vernietiging oor hulleself. Baie mense sal agter hulle aanloop…sal hulle julle uitbuit met stories wat hulle uit die duim suig. Maar hulle vonnis…ja, hulle vernietiging wag.” 2 Pet 2:1-3.

Subtiele leuens
Indien ons baie goed na Gen 3:1 kyk, sal ons die volgende twee stellings raaksien: “Die slang was listiger as al die diere wat God gemaak het.”
“Is dit regtig so?” vra hy die vrou. “Het God regtig gesê…?”
Dit is die merk van die satan. Volgens die Wet van ‘Eerste Vermelding’ is die eerste keer wat iets in die Bybel genoem word, baie betekenisvol aangesien dit die voorbeeld is vir die interpretasie van die onderwerp of begrip van die persoon onder bespreking se handelinge verder in die Bybel.

Misleier verdraai die waarheid
Die eerste keer wat ons aan satan in die Bybel bekend gestel word, word daar genoem dat hy subtiel is. Hy is dus die misleier wat God se Waarheid op subtiele wyse verdraai. Die maniere om hierdie euwel te beveg is deur:
• Geestelike onderrig – dit is dus Woord-gebaseerde, beginselvaste lering;
• ’n Sistematiese, onderwerps- en verklarende lering van die Woord.
Misleide mense glo werklik dat hulle reg is; selfs al sê die Bybel dat hulle nie is nie. Ons moet ‘leerbaar’ bly; baie godsdienstige mense mag regverdig, opreg en onkreukbaar wees, maar tog so bitter ver van God.

Voortydige ambisie
Die Bybel sê dat een van die karaktertrekke van ’n leier in die kerk is: “’n Ouderling moet nie ’n onlangse bekeerling wees nie, want as hy so gou gekies word, kan hy dalk verwaand raak, en die duiwel sal dié verwaandheid gebruik om hom tot ’n val te bring.” 1 Tim 3:6.
Satan kan die voortydige plasing van iemand in ’n leierskapsrol tot sy voordeel gebruik. Jong gelowiges, so kosbaar en ambisieus soos hulle is, is nie altyd God se keuse as leiers in die Kerk nie. Jong leiers raak maklik hovaardig.
Dit is baie beter dat hulle eerder onder die plaaslike pastoor/predikant dien sodat hulle gereed is vir die dag wanneer hulle tot leier verkies word. Daar is baie beslis ’n behoefte om op grondvlak te dien. Kom ons kyk na Filippus as voorbeeld hiervan: hy was eers ’n diaken en het baie later eers ’n evangelis geword.

Onleerbare houding
“Die diensknegte moenie twis nie, maar moet goedgesind teenoor almal wees. Hulle moet bekwaam wees om mense doeltreffend te onderrig en geduldig wees met moeilike mense. Hulle moet dié wat die waarheid teenstaan, sagmoedig onderrig. Miskien sal God daardie mense se harte
verander, en hulle sal die waarheid leer ken…want hulle word deur die duiwel gevange gehou om net te doen wat hy wil hê.” 2 Tim 2:24-26.
Satan gebruik soms hierdie onleer-bare houding om die effektiwiteit van die Kerk te beperk. Ons lees in Spr 18:2: “’n Dwaas het geen erg aan insig nie. Hy stel net daarin belang om sy eie beuel te blaas.”
Dit is baie gevaarlik om onleerbaar en hardkoppig te wees – en tog is so baie Christene vasgevang in hierdie kritiese gees en word so deur satan in gebondenheid vasgevang.

Vervolging
“Hou op om bang te wees vir wat jy nog gaan ly. Kyk, die duiwel gaan sommige uit julle geledere in die tronk sit om julle regtig te toets. Julle sal ook swaarkry. Wees net getrou tot die dood toe, en Ek sal aan julle die kroon van die lewe gee.” Op 2:10.
Ons mag moontlik nie werklik verstaan wat vervolging inhou nie omdat ons in ’n land leef waar ons godsdiensvryheid geniet. In die meeste Islamitiese en kommunistiese lande is dit teen die wet om ’n Bybel te besit of om die Naam van Jesus te bely. Tienduisende mense in hier-die lande ly, word vervolg, in die tronk gegooi en vermoor ter wille van Sy Naam.

Wêreldsheid
Daar word dikwels hieroor gepraat en dit word dikwels bespreek, maar dit is vandag ’n baie groot struikelblok in die Kerk. Satan is die god van hierdie ‘kosmos’, van die tydelike, regering, mode, waardes, moraliteit en godsdiens. Hy is die prins van hierdie wêreld. In 2 Kor 4:4 sien ons dat hy die gemoed van die ongelowiges verblind het en in 1 Joh 2:15-16 lees ons dat ons nie hierdie wêreld moet liefhê nie.
Seks, geld en mag is drie dinge wat nog altyd gesorg het en ook kan sorg dat Godvresende manne en vroue struikel. Ons lees ook in 2 Kor 4:4 van mense wat verblind in hulle gemoed is. Blinde mense kan nie sien nie – hulle besef dus nie eens dat hulle wêrelds is nie. Hulle besef ook nie dat hulle voorwerpe van God se oordeel word nie.

Maklike prooi
Die mens is ’n maklike prooi vir satan se skelmstreke. Ons aanvaar as ons baie duidelike grense trek, sal satan nie in staat wees om ons te mislei nie. Ons is salig onder die indruk dat hulle wat nie ‘sleg’ is nie, nie deur die duiwel gebruik kan word nie. Die Bybel stel egter hierdie wanbegrip reg. Satan kan die oënskynlike goeie dinge gebruik om sy bose planne te vervul. Die okkulte is nie die enigste manier waarop satan mense kan vasvang nie. Hy kan net so effektief op subtiele wyse in ’n Bybelgelowige Kerk werk as deur die okkulte. Die liefde vir die dinge van die wêreld – dit is wêreldsheid – en dit is waarvoor ons ook versigtig moet wees. (Lees ook Jak 4:4).

Oorkom satan
Vriendskap met hierdie wêreld is vyandskap met God. Humanisme (waar ons lewens eerder op die mens as God gebaseer is) is die maklikste en algemeenste invloed van satanisme. Ons, as die Liggaam van Christus, die Kerk van God, moet die werk van die duiwel weerstaan en bewus wees van sy werkswyses. Ons moet seker maak dat ons uit sy pad bly!
Kopiereg © Paul Daniel


Is die NG Kerk n sterwende kerk?

Dit was eers net op die internet beskikbaar – tydens Pase – ‘n hele twee bladsye oor die kwynende getalle in die NG Kerk: ‘n artikel in die ‘Mail and Guardian’, onder die opskrif “The slow and steady death of the Dutch Reformed Church”, geskryf deur Charles Leonard.
Daarin word Johannes de Villiers (wat gereeld oor godsdienssake skryf) onder andere aangehaal wat sê: “The church has failed the test of diversity miserably. People live and work these days in diverse environments and then feel weird to be in a church that is hetero-normatively exclusivist.’’ Ook Jean Oosthuizen, nuus-redakteur van die ‘Kerkbode’, die mondstuk van die NG Kerk, word aangehaal. Volgens hom het die kerk sy greep op mense verloor. Die kerk het nie ‘n goeie rekord wat inklusiwiteit betref nie: daar word teen vroue gediskrimineer, swart mense word nie in die wit kerke toegelaat nie en daar word ook teen homoseksueles gediskrimineer, sê hy.
Die opskrif van die artikel het my ont-stel, maar nog groter was my skok toe ek op die voorblad van die gedrukte uitgawe dié woorde lees:
“Last gasps of the DRC”. ‘Doodsnikke’ van die NG Kerk! Daar is probleme ja, maar ‘sterwend’? Wanneer sterf ‘n Kerk? Gaan dit bloot net om getalle?

Gerugte en nog gerugte oor dalende getalle
Kort-kort, die afgelope paar paar jaar, was daar berigte in die media dat lidmate die NG Kerk verlaat. In Maart 2010 skryf Anton Pienaar (op daardie tydstip redakteur van ‘Kerkbode’) in ‘n artikel getitel ‘Luister fyn na hulle wat saggies wegloop’ oor mense wat die kritiek van behoudendes beleef as ‘n onverdraagsame en liefdelose geraas wat hulle nie meer kan verduur nie. Hierdie mense stap van die kerk af weg, want hulle sien en hoor uitsprake van Christene wat in die openbaar gal braak, en hulle word baie ongemaklik daarmee.

Mense met nuwe insigte
‘Hulle het ander insigte oor evolusie, en hulle betrokkenheid by gays maak dat hulle nie meer veroordelend kan wees nie. Hulle is nugter en eerlik oor samelewingstendense soos saamwoon,’ skryf Anton.
Volgens ‘n berig deur Johannes de Villiers in ‘Rapport’ van dieselfde jaar (“NG Kerk verloor 10 588 in ‘n jaar”, 6 November 2010) word gereken emigrasie is een van die vernaamste redes vir die afname in lidmaatgetalle onder dié kerkverband se tradisionele lidmate, hoewel die verskynsel van mense wat na ander kerkverbande oorloop, ook daartoe kon bygedra het. In dieselfde berig word verwys na ‘n artikel wat toe in die jongste ‘Kerkbode’ verskyn het. Daarin word daarop gewys dat die NG Kerk se algehele lidmaattal tussen 1986 en 2010 met 23,8% afgeneem het (van meer as 1 400 000 tot minder as 1 100 000). Ook in dié artikel word emigrasie as een van die vernaamste bydraende faktore genoem.

‘Bom’ ontplof
Maar die berigte in verskeie koerante oor meer as 20 000 lidmate wat die NG Kerk teen die einde van 2011 verlaat het, was soos ‘n bom wat ontplof het. Waarskynlik het dít aanleiding gegee tot die berig in die ‘Mail and Guardian’ wat my genoop het om hierdie artikel te skryf.
In my uitgebreide familie- en vriendekring het ek oor die afgelope aantal jare dieselfde tendens raakgesien: Van mense wat elders ‘n geestelike heenkome vind. Wat interessant is, is dat hulle nie kerklos raak nie, inteendeel, hulle soek juis denominasies waar God en die Waarheid van die Woord nog die fokuspunt is. Baie vertel van herlewings wat in hulle dorpe en stede ervaar word, maar nie in die NG Kerk nie.
Die groot getal mense wat na mense soos Angus Buchan, Gretha Wiid en ander gaan luister, wys dat daar ‘n groot behoefte aan geestelike voedsel is – hulle gaan dit op ander plekke soek, omdat hulle dit nie in die NG Kerk met sy post-modernistiese, humanistiese en liberale aanslag kry nie.

‘n Kerk verdeeld?
Natuurlik sal ‘n ‘sondebok’ gesoek word. Oor en weer beskuldigings vlieg rond en debatte word gevoer. Die stryd tussen ‘ons’ en ‘hulle’ woed in alle denkbare media en word veral op die internet gevoer.
Selfs boeke word geskryf: Aan die een kant verskyn onder meer ‘Fluit-fluit die kerk is uit?’ van Frits Gaum, ‘Hier staan ek…en ek is nie alleen nie’ (onder redaksie van Diek van Wyk, Coenie Nolte en Leon Atterbury en ander skrywers waaronder ook lidmate en oud-lidmate van die NG Kerk).
Boeke van die ander kant: Adrio König se ‘Die evangelie is op die spel’, Pieter Pelser se ‘NG Kerk reformeer of disintegreer’, Ferdie Mulder se ‘Opgestaan’, Besorgde Lidmate se ‘Die Trojaanse Perd in die NG Kerk’ en prof. Johan Janse van Rensburg se ‘Jesus is die een!’ met die subtitel: ‘Verloor ons nie die evangelie in die ‘emerging church’ nie?’
In ‘n sterk verklaring het ‘n aantal emeriti van die Universiteit van Pretoria in 2007 hul besorgdheid oor liberale strominge in die vorm van ‘n geloofstandpunt uitgespreek (lees hier: http://www.teo.co.za/wmview.php?ArtID=617)

’n Soekende kerk?
Die dalende getalle het gemaak dat die NG Kerk oor die afgelope aantal jare in baie opsigte ‘n soekende kerk geword het, soekend na wat gedoen kan word om te keer dat lidmate die kerk verlaat, soekend na sy identiteit, na sy werklike taak na binne en na buite as deel van die Kerk van Christus in Suid-Afrika, en sy toekomstige pad en rol in Suid-Afrika. Die vraag is: “Word daar op die regte plek en op die korrekte wyse gesoek?”

’n Sug na ‘ruimte’ en ‘diversiteit’
Dit blyk uit debatte oraloor dat daar aangedring word op die skep van ruimte en toelating van meer diversiteit (sien byvoorbeeld die openingsparagrawe).
Op Facebook vra andersdenkendes: ‘skep ruimte, ruimte wat binne die Gereformeerde tradisie bestaan’, ‘maak plek vir ander denke’, ‘maak plek vir ‘n breër interpretasie’. Wanneer hier gepraat word van ‘plek maak/ruimte skep vir ander denke’, klink dit baie na wat John Shelby Spong noem ‘wiggle-room’. ‘n Mens wonder dan: met hoeveel ‘wiggle-room’ sal liberales tevrede wees en waar sal die grense getrek word, indien enige?
Daar word aangedring op diversiteit, maar is dit nie ‘n verskoning vir relativisme nie? Wanneer diversiteit nie meer in oor-eenstemming is met Bybelsverantwoorde verskeidenheid in ooreenstemming met kernwaarhede van die Evangelie nie, wanneer daar sprake is van politieke korrektheid, wanneer ‘n humanistiese ‘naasteliefde’ en ‘inklusiwiteit eerder as eksklusiwiteit’ gesoek word, dan flikker gevaarligte. Ses van die sewe gemeentes in Asië word gewaarsku (Op 2 en 3) en die fokus is telkens op toleransie, akkommodering van, en onverskilligheid teenoor die kwade.
Word ‘n NG Kerk wat so hard probeer om alles vir almal te wees, nie op die lang duur niks vir niemand nie?

Hoe ernstig is dié aangeleentheid?
Dit is sorgwekkend, selfs skokkend, wanneer berigte oor duisende wat die kerk verlaat, oral verskyn. Is die kerk siek? Dit mag wees. Party ‘ledemate’ van die ‘liggaam’ ís miskien nie so gesond nie. Verdeeld? Beslis, oor bepaalde aspekte ís daar verdeeldheid. Maar dood? Definitief nie!

Draai die gety?
Daar is veelvuldige tekens dat behoudende lidmate besorg is – dit blyk uit kommentaar oor berigte in die sekulêre media, ‘Kerkbode’ en die internet. Oral is daar bewuswording van die verkeerde koers wat die kerk inslaan. By die afgelope streeksinodes in die Noorde van die land, het afgevaardigdes opgestaan en hul stemme laat hoor teen on-Bybelse besluite wat op die Algemene Sinode van 2011 geneem is.

Is daar hoop?
“Ja, daar is enorme hoop”, skryf Ferdie Mulder op sy blog (http://www.opgestaan.com/2/post/2012/04/nuut-soekend-vars-nagedink-oor-ons-liggaamlike-opstanding-ferdie-mulder-2-mei-2012.html) :
“Daar is jongmense wat moeg is vir institusionele magspeletjies, dik rubber stempels vir kerkordes wat sommige teoloë verkeerdelik beskerm; kommissies en sinodes wat verwar, manupileer en doodsheid kanoniseer. Hierdie gelowiges is verrassend denkend, sosiaal betrokke, nie bang vir intellektuele uitdagings nie, maar ook moeg gelees aan die Nuwe Hervormers en Jesus Seminaar se ou uitgediende antwoorde afkomstig uit sommige streke van Duitsland en Amerika. Hierdie gelowiges het ook ‘n diep gewortelde liefde vir die kosbare belydenisse van die vroeë Kerk en die Reformasie – en onthou nie net hoeveel dapper gelowiges met hulle lewens moes boet vir hul geloof nie, maar lees ook wêreld-klas Christen Bybelwetenskaplikes se nuutste navorsing wat enorme geloofwaardigheid gee aan eeu-oue belydenisse!”
Daar Ís hoop, mits ons op die regte plek fokus: “Hou Christus self Sy kerk in stand, vergeefs die hel se woede!”

NEEM ASSEBLIEF KENNIS
JUIG! steun die N.G. Kerk ten volle omdat ons weet dat daar baie lidmate is wat ernstig oor hulle kerk en geloof is. Ons weet dat die N.G. Kerk deur ‘n skoonmaakproses moet gaan voordat die Heilige Gees werklik herlewing kan bring, dus besef ons hoe belangrik die Woord van God is. Ons moedig JUIG! lesers aan om vir die leierskap van dié Kerk te bid.


Ek oordeel reg!

Hierdie woorde het ek al meer as een keer gehoor. Soms het mense dit nie presies só gesê nie, maar dit geïmpliseer. So dikwels dink ons ons verstaan presies wat die situasie is en dat ons régtig kan ‘onderskei’ wat die probleem is. Ons draai dit netjies toe met die woorde: “Ek oordeel regtig nie, maar ek kan onderskei wat die probleem is en probeer net die waarheid oor die situasie uitwys.”

Bybelse riglyne baie duidelik
Die Bybel is nogal baie duidelik en ernstig oor hierdie saak. Daar is dikwels waarheid in wat ons raaksien en waaroor ons kritiek uitspreek. Dit is belangrik dat ons moet onderskei, maar ‘foutvindery’ is nie ’n gawe van die Heilige Gees nie. Skinder, kritiek en veroordeling het bitter min met die feite oor wat waar of onwaar is, te doen. Die Skrif gee ons geen reg om te kritiseer en te oordeel nie. Wanneer ons oordeel en kritiseer, bring ons ‘Gód se oordeel oor onsself’. Die maat waarmee ons meet, sal God gebruik om ons mee te meet.
Hoe lyk kritiek, oordeel en veroordeling in die praktyk? Marsha Fischer gee in ’n artikel met die titel: ‘Accusations’, ’n goeie beskrywing van hoe dit in die praktyk lyk om ander mense te wantrou, ander sonder rede te beskuldig, gevoelens van jaloesie en afguns, om die slegste van ander te glo, oordrywing van die oortredings van ander, groter fokus op die slegte dinge en swakhede van ander as die goeie in hulle, om vriendskap en vergifnis te weier selfs nadat daar vrede gemaak is, om iemand te bly veroordeel op grond van sy mislukkings in die verlede en voortdurend sy geraamtes uit die kas haal, om die ‘Heilige Gees’ vir
iemand te word, om iemand af te kraak sodat jy beter kan lyk en om ander met jouself te vergelyk.

‘Genadelose’ insig en wysheid
Om ons te regverdig, verwys dikwels meer na oordeel, kritiek en veroordeling as na onderskeiding, wysheid en insig. Die pro-bleem is dat wanneer onderskeiding, wysheid en insig alleen staan, dit normaalweg ‘genadeloos’ is. Wysheid en insig sonder liefde, genade en gebrokenheid, vernietig ander mense. Wanneer wysheid en insig ander nie opbou nie, is dit beter om stil te bly totdat jou wyse woorde en insig met genade oorgedra kan word en dit genesing en bevryding kan bring.
Jesus sê in Matt 7:1 – “Moenie oordeel nie sodat jy nie geoordeel word nie.” Ons ken hierdie vers, maar probeer daarby verbykom deur dit onderskeiding, wysheid en insig te noem. Hy sê ook: “Met die oordeel waarmee jy oordeel, sal jy geoordeel word.” In 1 Kor 13 lees ons: “koester geen bose gedagtes nie” en “sien die beste in ander raak”.

Oorsake van oordeel
Om te oordeel het ’n aantal oorsake. Eers-tens is daar jaloesie. Baie min mense wil erken dat hulle jaloers is. Dit is vir ons net ondenkbaar dat ons aan jaloesie skuldig kan wees, want dit is net só vernederend om daaraan skuldig te wees. R.T. Kendall praat daarvan as “die sonde waaroor niemand wil praat nie”.
’n Kritiese gees kan uit hoogmoed gebore wees. Dit is net onaanvaarbaar dat iemand beter as ek is en dit veroorsaak dat ek ‘swak plekke’ in ’n ander se lewe soek sodat ek kan bewys dat ek net so goed, of selfs beter, is. Met kritiek probeer ek die ander persoon ‘kleiner’ maak. ’n Kritiese gees en die oordeel van ander word ook dikwels gebore uit gevoelens van verwerping en bitterheid. Laastens word ons deur die bose versoek om te oordeel en te kritiseer.
’n Kritiese gees, om te oordeel en te veroordeel, maak ons gees dood. Dit neem geestelike krag uit ons lewens weg. Wanneer ons kritiseer, oordeel en veroordeel, bring ons die oordeel van God oor onsself. Wanneer ons ander oordeel en veroordeel, oordeel God ons. Sien ons regtig kans om onder die oordeel van God te staan?

Werk eerder aan eie probleme
Kritiek, oordeel oor en veroordeling, word uitgeskakel wanneer ons die balk in ons eie oog kan raaksien (Matt 7:5). Dit is ook belangrik om seker te maak waarom daar kritiek en veroordeling in jou hart is en om aan jou eie sonde, swakhede en probleme te werk. Indien ons nie aan ons eie pro-bleme werk nie, sal ons elke keer weer in die slaggat beland om krities en veroordelend teenoor ander te wees. Indien ons byvoorbeeld nie erken dat daar jaloesie in ons harte is nie, sal ons nie bevryding kry nie, maar dit baie goed by ander kan raaksien.
A.W. Tozer help ons met die volgende aanmoediging: “Moet nooit enigiets aangaande iemand anders vertel wat hom of haar kan seermaak nie.” C.S. Lewis het geskryf: “Ons het almal ’n redelike groot begraafplaas nodig waar ons die sondes, mislukkings en oortredinge teen ons kan begrawe. Dit gee aan ons ’n praktiese verduideliking van 1 Pet 4:8: “Die liefde bedek baie sondes.”

Hoe bid ons?
So dikwels bid ons selfs met ’n kritiese gees. In sulke gevalle gebeur dit gewoonlik dat ons ons broers en susters voor God aankla. Die Skrif sê in Open 12:11 satan is “die aanklaer van die broers.” In ’n sekere sin bid ons soos die satan: ons gaan staan voor die troon van God en kla mense aan. Ons is die aanklaers van, en die regter oor, ’n ander persoon se lewe. Ware voorbidding of intersessie impliseer om vir iemand in te tree en vir genade en barmhartigheid te vra. Ware voorbidding ag die ander hoër as homself en soek die beste vir die ander persoon in sy lewe.

Advokaat voor God
Ons moet die ander persoon se ‘advokaat’ voor die troon van God wees. Jesus het gesê: “Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” Matt 5:7. In Jakobus 2:13 lees ons: “genade triomfeer oor oordeel.” Soms is ons heeltemal reg in ons beoordeling van die saak, maar dan kan ons steeds kies om genadig te wees.

Dit sal goed wees om tyd te neem en na die volgende Skrifgedeeltes te kyk en ons eie lewens, gedrag en woorde daaraan te meet:
• ‘‘‘n Geskinder is soos lekker kos, mense sluk dit so maklik” Spreuke 18:8, 26:22.
• ‘‘Iemand wat skinder, bring verwyde-ring tussen vriende” Spreuke 16:28.
• “Sonder hout bly ‘n vuur nie brand nie; sonder ‘n kwaadstoker hou ‘n rusie nie aan nie” Spreuke 26:20.
• Wie skinderstories versprei, is ‘n dwaas” Spreuke 10:18.
• “Moenie van mekaar kwaad praat nie, broers. Hy wat van sy broer kwaad praat of sy broer veroordeel, praat kwaad van die wet en veroordeel die wet. En as jy die wet veroordeel, handel jy nie meer volgens die wet nie, maar speel jy regter daaroor” Jakobus 4:11.
• “Die tong het mag oor dood en lewe…” Spreuke 18:21.
• “Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand ge-steek” Jakobus 3:6.
• “Moet nooit verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie” Efesiërs 4:31.
• “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef?…Hy wat met sy hele hart die waarheid praat, nie kwaad praat nie, sy medemens nie kwaad aandoen nie en niemand beledig nie”
Psalm 15:1-3. —deur Bennie Mostert


Aldo se verloofde

In 2004 het Retah McPherson en haar gesin se lewens skielik drasties verander. Die een oomblik was sy nog ‘Mev. Suid-Afrika’ met ‘n wonderlike man en twee pragtige, gesonde seuns; die volgende oomblik was hulle in ‘n motorongeluk betrokke. Hoewel sy, haar man en jongste seun baie min of geen beserings opgedoen het nie, is haar oudste seun, Aldo, ernstig beseer. Hy was lank in ‘n koma, en vandag nog loop en praat hy baie moeilik. “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” Psalm 37:4.

Beloftes hou haar staande
Vir Retah en haar gesin was dit ʼn baie moeilike pad ná hulle motorongeluk – ʼn daaglikse sterf aan self. Vandag weet sy deur haar persoonlike ervarings dat God altyd getrou is, en dat Hy ʼn waarmaker van Sy Woord is. God het deur die jare baie beloftes gegee om haar te bemoedig en staande te hou, maar sy het ook in die proses hierdie belangrike waarheid ontdek: ‘Moet nooit die beloftes wat God vir jou gegee het, liewer hê as wat jy God self het nie, want God is God en Hy kan doen net soos Hy wil, wanneer Hy wil. Dit gaan alles oor God en nie oor ons nie.’

’n Droom bewaarheid
Retah vertel: “’n Paar jaar gelede het ek een naweek in Harrismith bedien. Op daardie stadium was Aldo nog op hoërskool en hy moes gereeld verwerping in die gesig staar. Ons moes troos wanneer ʼn meisie nie die blommetjie wou aanvaar wat Aldo vir haar gepluk het, of wanneer hulle sommer net koud en kil teenoor hom was nie.”
Tydens haar terugrit het Retah nie soos gewoonlik, met die Heilige Gees gesels nie. Sy was baie hartseer en het deurentyd gesnik en trane afgevee.
“Wat pla jou vandag, Retah?” het sy die Heilige Gees na ʼn lang ruk van stilte hoor vra. “My hart is so seer vandag, Here…Vader, mag ek U vandag iets vra? Is daar iemand wat my ‘onvolmaakte’ kind, volmaak sal lief hê?”
“En waarom gebruik jy die woord ‘onvolmaak’, Retah?” het sy die antwoord van die Heilige Gees gehoor.
“Here, U sien tog seker dat Aldo moeilik loop en praat, en dinge stadiger doen as ander? Sal daar ʼn vrou wees wat hom lief sal hê ten spyte van al hierdie dinge?”
“Natuurlik, Retah. Ek wil vandag vir jou ʼn baie belangrike les leer: ware liefde is om die ‘onvolmaakte’, volmaak lief te hê. Aldo se vrou is reeds geroep, en sy sal hom onvoorwaardelik liefhê.”

Verandering in haar hart
Toe die Here dit sê, het Retah in haar geestesoog ʼn prent-jie gesien van ʼn jong dame – ʼn pragtige, blonde meisie. Die Here het egter nie daar opgehou nie. Weer het sy die bekende, stil stem van die Heilige Gees gehoor sê: “Retah, Ek het nou vir jou gesê dat Aldo se vrou hom onvoorwaardelik sal liefhê, maar wat van jou? Is jy bereid om jou ‘onvolmaakte man’ volmaak lief te hê?”
“Hoe bedoel U dan nou, Here?” het sy gewonder. En toe onthou sy al die kere wat sy vir God gevra het om hierdie of daardie dingetjie van haar man te verander. “Maar Here!” was haar eerste reaksie op Sy vraag. Sy het daar en dan besef dat haar man nie sy plek as die aardse koning, priester en profeet van hulle huisgesin opgeneem het nie omdat sy daardie plek volgestaan het.
Sy moes leer dat sy nie haar man se evangelis is nie, maar sy vrou, sy minnares, sy beste vriendin, sy helper en die ma van sy kinders. Sy moes hom daardie aand by die huis nog om vergiffenis vra. Daar het ʼn groot verandering in haar hart plaasgevind. Vandag eer sy God dat sy onder haar man se vlerk mag skuil, want sy het hom toegelaat om sy regmatige plek in te neem. Hy is nou ʼn sterk rots vir haar en hul gesin. “ʼn Paar jaar na die betrokke voorval het ek in ʼn kerk in Pretoria bedien en die krag van God was daardie aand so tasbaar. Chantel en haar gesin was ook teenwoordig en God het deur Sy Gees haar hart aangeraak en saggies vir haar gefluister dat sy Aldo se lewensmaat is.

Beloftes pas in plek
Chantel het dit later met my gedeel en dit het my heeltemal onkant gevang. Eers heelwat later het ek besef dat ek die heerlikheid van God, net soos in my visioen, uit haar oë sien straal het. Met ʼn glimlag het ek onthou dat sy blond is – Aldo se hartsbegeerte!”
Chantel en haar broer het later daardie jaar ʼn ‘retreat’ by Retah kom bywoon en daar het sy vir Aldo ontmoet. Dit was dadelik duidelik dat God reeds die werk in Chantel en Aldo se harte gedoen het. Hulle verhouding het gegroei en verdiep en in daardie tydsame groeiproses het God hulle harte voorberei vir wat sou kom.

Liefde sonder voorwardes
Almal was verstom oor hoe ʼn God van liefde Sy Woord vervul: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” Psalm 37:4.
Die stil wete dat God vir Chantel as Aldo se vrou gekies het, het vinnig in almal se harte kom lê. Hulle liefde vir mekaar is so opreg en diep. Chantel het hom lief sonder enige voorwaardes. Hulle lag saam, bid saam, seën mekaar en eer mekaar.
Ons sien ook God se wysheid in die feit dat Chantel ietwat ouer as Aldo is, want ʼn jonger meisie sou nie noodwendig die pad saam met Aldo kon stap nie. Sy bestuur hulle kar en help hom met al sy werk. Sy weet daar is dinge wat hy nie kan doen nie en help sonder enige huiwering daarmee. Sy weerspieël waarlik God se liefde in hierdie wêreld.

Die Verlowing
Aan die begin van 2012 het ʼn Amerikaanse gesin die McPhersons genooi om vir hulle te gaan kuier. Chantel is ook genooi. Wanneer hulle weg is van die huis, slaap Tinus gewoonlik by Aldo in die kamer en Retah by Josh, hul jonger seun, omdat die omgewing vir Aldo vreemd is. Na ʼn paar dae in Amerika, het Aldo een aand om drie-uur die oggend vir Tinus wakker gemaak en gesê: “Pappa, die Heilige Gees sê ek moet ʼn ring vir Chantel kry… hier in Amerika.”
Tinus, nog half deur die slaap, het hom sommer vinnig terug geantwoord: “Nee Aldo, jy weet mos jy studeer nog. Ons weet jy en Chans is vir mekaar bedoel, maar ek stel voor jy wag op God se regte tyd. Hy sal vir jou sê wanneer jy haar moet vra om te trou.”
Aldo het van die bed afgegly en begin bid. Hy het aanhou bid tot 4:30 daardie oggend, en toe uiteindelik van sy knieë opgestaan en weer langs Tinus gaan lê.
Later daardie oggend het Tinus en Aldo opgestaan vir ontbyt saam met die res van die gesin. ʼn Kort rukkie daarna het hulle gasvrou die kombuis met ʼn boksie in haar hande ingestap. Sy het na Retah gestap en gesê: “Retah en Tinus, vanoggend het die Here my en my man om drie-uur wakkergemaak en gesê dat daar ʼn ring in ons kluis is wat ons vir Aldo moet gee.”
Hul gasvrou het die ring aan Aldo gegee en hy het dadelik op sy knieë geval en gesê: “U is waarlik my God. U leef Here! Baie dankie vir hierdie mooi ring vir Chans.” Hy het daarna opgestaan, na Chantel geloop, op een knie neergekniel en haar gevra of sy met hom sal trou. Sy was onmiddellik in trane, het haar hande om Aldo se gesig gevou en ‘ja’ geantwoord.
Aldo en Chantel is nou al ongeveer twee jaar saam en die verlowing is ʼn simbool van die sekuriteit wat God aan hulle albei wil gee. Wanneer trou hulle? Die antwoord is eenvoudig – wanneer God so sê.

Chantel se storie:
Volgens Chantel het die Heilige Gees in die kerkdiens met haar gepraat en het sy daardie wonderlike belewenis ervaar waar God self in haar hart gefluister het. Toe sy Retah die eerste keer oor haar gesin se verhaal en die wonderwerk wat in haar seun se lewe gebeur het, hoor praat het, het sy God hoor sê: “Dit is die man vir jou.”
Daar het ʼn onbeskryflike vrede oor haar gespoel. Sy het geweet die gevoel het van God gekom en daarom was sy heel rustig in haar gemoed.

Rus in God se liefde
Sy het ook besef dat sy sekere dinge sou moes neerlê en was heeltemal bereid om dit te doen. Sy sou ook moes oorgee en vertrou, en rus in God se liefde en nie na ʼn man vir identiteit of vervulling soek nie. Sy moes baie van haarself en haar ou lewe neerlê, en in daardie tyd het die pad van heiligmaking vir haar eg geword. Sy het besef dat God die tyd gebruik om haar voor te berei vir haar lewensmaat.
“Ek het van die eerste aand die droom wat God in my hart geplant het, met my ouers gedeel. In die dae toe ek moedeloos gevoel het omdat ek niks van Aldo gehoor het nie, of niks sien gebeur het nie, het ek op my ouers en op my broer gesteun – en hulle het my altyd aan God se getrouheid herinner.”
Daardie wagtydperk was egter nodig sodat sy sekere dinge in haar lewe kon deurwerk en sy voel sy is nou gereed vir wat die toekoms vir hulle as paartjie saam inhou.

Hulle verlowing
God doen dinge anders as ons, en weereens kon sy die grootheid van God se plan vir hul lewens raaksien. Dit was nie mensgemaakte planne nie, dit het direk van God gekom.
“Ek was so bly toe Aldo op sy een knie sak en my vra om te trou. Ek het dadelik begin om vir Abba dankie te sê, want ek het gesien hoe Hy Sy beloftes een na die ander vervul in ons lewens, maar ons wag steeds geduldig tot God vir ons die volgende stap wys. In my hart weet ek ons gaan saam reg-oor die wêreld bedien en van God se goedheid vertel. Ons lewens getuig daarvan dat daar altyd hoop is. Ons toekoms is in God se hande en ons vertrou Hom vir alles.” —deur Ymile Kennedy