Die Christen-lewe behels seëninge en stryd, en ons kan beide te wagte wees. Ek vertrou dat daar altyd meer seëninge as geestelik stryd sal wees, maar iemand wat glo dat daar nie ’n stryd woed nie, op persoonlike, nasionale of internasionale vlak, misgis hom lelik.
‘n Baie eerlike worstelstryd
Een van my gunstelingskrywers is A.W. Tozer, wat ‘n wonderlike boek, The Knowledge of The Holy, geskryf het. In hierdie boek maak hy ‘n studie van die eienskappe van God. Hy begin die boek deur te sê dat “wat ons glo die waarheid is oor God, sê wie ons is”.
As Christene kom ons voor al hoe meer uitdagings te staan en word ons gekonfronteer met baie belangrike kwessies; ons kan nie daarvan wegkom nie. Die persoonlike stryd wat ons voer, kom dikwels in die vorm van verhoudings, geld, gesin, werk en gesondheid, maar selfs wanneer daar oorweldigende en veeleisende uitdagings is, bepaal dít wat ons glo die waarheid is oor God, hoe ons hierop sal reageer.
So baie mense in die wêreld glo nie eens dat daar ’n God is nie, of glo dat Hy irrelevant is. Die Psalms weerspieël die Psalmdigters se eerlike stryd met die werklikhede van die lewe en hoe God betrekking het op daardie werklikhede. Die Psalms is ’n daad van aanbidding, maar aanbidding wat plaasvind te midde van die stryd en uitdagings van die lewe. Wanneer jy die Psalms lees, ontdek jy persoonlike
krisisse, natuurrampe, en worsteling met depressie. Daar is vrees, daar is vyande wat bedreig. Daar is dood, sonde, en persoonlike mislukking. Dit alles word deur die Psalmdigters, Dawid en andere, aangeroer binne die konteks van aanbidding en geloof in God, en hoe Hy verband hou met hierdie kwessies.
Loof die Here met jou hele hart
Psalm 111 is een van daardie Psalms wat met die werklikhede van die lewe worstel – vra jouself af wat jy uit hierdie Psalm kan neem. Waaraan moet jy herinner word wanneer jy met die seëninge en stryd van die lewe te doen het? Die Psalmdigter gee erkenning aan die grootheid van God. In die werklikhede van sy worstelstryd verklaar hy dat hy glo God volkome voldoende is:
“Halleluja! Ek wil die HERE loof van ganser harte; in die kring van die opregtes en in die vergade-ring. Die werke van die HERE is groot; nagespeur word hulle deur almal wat daar ’n welbehae in het. Sy dade is majesteit en heerlikheid en Sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid.”
Hy sê dat een van die funksies van God se kinders is om mekaar aan Sy grootheid â��â��te herinner. Wanneer iemand terneergedruk voel, herinner hulle hieraan: God is groot! God is magtig. God is tot alles in staat. Ons hoef nie te vrees nie. Ons vertroue is nie in ’n onbenullige godjie wat onvoldoende is nie en nie in staat is om ons te help nie; ons vertroue is in God wat magtig is en alles kan vermag.
Hoe kan ons die uitdagings van die lewe hanteer?
Hoe moet ons daardie dinge hanteer wat in die toekoms gaan gebeur, die goeie sowel as die slegte? Hoe gaan ons die seëninge en die worsteling hanteer? As ons net na die wêreldwye politieke arena kyk, is dit duidelik dat daar ‘n enorme krisis aan die ontwikkel is. Ons moet weet dat God ten spyte van alles almagtig en tot alles in staat is.
Een van my gunstelingboodskappe uit die Skrif is die verhaal van Sadrag, Mesag en Abednégo uit die boek Daniël. Koning Nebukadnésar en sy raadgewers het druk op Sadrag, Mesag en Abednégo uitgeoefen deur hulle met die dood in ’n vuuroond te dreig as hulle nie buig voor die goue afgod wat die koning opgerig het nie. Hulle het geweier om te buig, omdat hulle voor niemand behalwe die lewende God sou kniel nie. Hulle is na die koning ontbied, en het die volgende gesê:
‘n Vreeslose antwoord
“Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: ‘ Ons ag dit nie nodig om u hierop ’n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.” Daniël 3:16-18.
Daar is wêreldwyd so baie Christene wat vervolg en mishandel word, bloot omdat hulle in die Naam van Jesus glo. Ons moet mekaar daaraan herinner dat God tot alles in staat is, Hy is almagtig en die arm van die Here is nie te kort om te help nie. Daar sal baie uitdagings wees, baie omstandighede wat moontlik twyfel kan saai, selfs spotters wat die spot met ons dryf, maar op die ou end sal elke knie buig, en elke tong bely dat Hy die Here is.
Die eerste ding wat die Psalmdigter in die vergadering van die regverdiges doen, is om hulle aan te moedig om mekaar aan die grootheid van God te herinner. Tweedens erken en verklaar hy God se getrouheid. God is lief vir Sy volk, Hy is getrou; ons kan op Hom vertrou. Sy almagtigheid is nie ‘n teorie waaroor ons kan argumenteer en teologiese gesprekke oor voer nie, Sy almagtigheid is werksaam in die werklikheid van ons lewe.
“Hy het vir sy wonders ’n gedagtenis gestig, die HERE is genadig en barmhartig. Aan die wat Hom vrees, het Hy spys gegee. Hy dink vir ewig aan sy verbond. Hy het die krag van sy werke aan sy volk bekend gemaak, deur hulle die erfdeel van die heidene te gee. Die werke van sy hande is trou en reg; al sy bevele is betroubaar. Vasgestel is hulle vir altyd, vir ewig; uitgevoer in trou en opregtheid.”
Ons kan staatmaak op die feit dat ons Vader weet wat aangaan in ons lewens, en dat Hy getrou sal wees. Die Psalmdigter verheug hom oor die verskillende maniere waarop die Here sy getrouheid bewys. In vers vier herinner hy ons daaraan dat God genadig is. Ons gaan almal die genade van God nodig kry. God is getrou; Hy sal ons alles skenk wat ons nodig het. Gelukkig handel God nie met ons volgens wat ons sondes verdien nie. Selfs in die werklikhede van ons mislukkings en ons tekortkominge, kan ons vertrou op die genade van God.
Hou op om met spyt terug te kyk. Hou op om rond te kyk in vrees. Hou op om na binne te kyk met skuldgevoel. Kyk op en vertrou op ons goeie God.
God se genade is oorvloedig
Ek is lief vir die woord ‘oorvloedig’, wat oral in die Skrif aangetref word. Om oorvloedig te wees, beteken om iets mildelik of in oordadigheid te skenk. God, wat Sy genade oorvloedig aan ons bewys het, sal voortgaan om Sy genade oor-
vloedig oor ons uit te stort. “Deur die bloed van Sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al Sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.” Efesiërs 1:7-8.
Nie een van ons sou vandag hier gewees het, as dit nie vir die oorvloedige genade van God was nie. Ons kan verseker weet dat God Sy genade oorvloedig uitgiet oor diegene wat op Hom vertrou.
God is barmhartig
Die tweede manier waarop God getrou is volgens die Psalmdigter, is dat God barmhartig is. Hy weet hoe ons voel, en Hy weet wat ons beleef. Party van ons worstel met ernstige kwessies, of dit nou gesondheidskwessies, verhoudingskwessies of finansiële probleme is; wat ook al die probleem is, God is barmhartig. Die Skrif verseker ons herhaaldelik dat ons ‘n Middelaar aan die regterhand van God het, wat weet wat ons beleef. “Maar U, o Heer, is ‘n barm-hartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.” Psalm 86:15.
Die prys vir sonde is betaal
God se deernis vir Sy kinders sal nie verander nie. Sonde is nie net vergewe en vergeet nie, maar die losprys daarvoor is betaal. Dit is die Christelike boodskap; Jesus het die prys daarvoor betaal aan die Kruis. Hy het Sy lewe neergelê vir ons sondes sodat almal wat op Hom vertrou, vergewe kan word. God sal ons vergewe, nie omdat ons dit verdien nie, maar omdat die prys reeds aan die Kruis betaal is. God sal getrou verlossing voorsien.
Vertrou op die Here
Daar sal aan diegene wat op die Here vertrou, se behoeftes voorsien word. Baie van ons is geseën en hoef ons nie te bekommer waar ons volgende maaltyd vandaan gaan kom nie. Party van ons moet selfs ’n bietjie inkort – ons het so baie. Vir baie mense is dit egter ’n daaglikse stryd. In ons almal se lewens is daar ‘n paar areas waar ons God se voorsiening nodig het. Lees hierdie wonderlike belofte: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” Psalm 37:25.
Hy sal ons tot die einde bewaar. Ons verlossing is nie ‘n lukrake gebeurtenis nie, dit is ‘n verbond. God het ‘n verbond met ons gesluit. Tydens ons daaglikse doen en late sal die vyand ons kom beskuldig, want hy kom om te steel, te slag en te roof. Ons word egter daaraan herinner dat te midde hiervan, is ons deel van God se familie. Hy het ons lede van Sy huisgesin gemaak. Hy het ons die reg gegee om Sy kinders genoem te word, en om Hom ons Vader te noem. Hy het ons sy Gees gegee as ‘n seël om ons uiteinde te verseker. Hy het ons belowe dat niks ons ooit uit Sy hand kan ruk nie. Ons naam is in die Lam se Boek van die Lewe geskryf. En te midde van al die uitdagings wat nog sal kom, sal Hy ons standvastig hou. Daar kan geen vertroue in die vlees wees nie, maar vertroue in die genade van God.
Genade is gratis; nie goedkoop nie
In hierdie Psalm sal jy ontdek dat ook iets van ons verwag word. Een van die groot sondes wat in die Skrif genoem word, is die sonde van verwaandheid. Verwaandheid is altyd rampspoedig. Toe Israel in verwaandheid aangeneem het dat hulle kan doen wat hulle wil, en dat God altyd genadig sou wees, was die gevolg rampspoedig. Die gevolge is vandag nog blywend. Hoewel genade gratis is, is dit nie goedkoop nie. “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid.”
Dít is ons deel, om die Here te vrees. Die vrees vir die Here behels nie dat jy bang in die hoek sit en vrees vir Sy straf nie, maar vrees vir die Here behels respek, eer, eerbied en erkenning van Sy almagtigheid. Dit draai daarom om onsself aan Hom te onderwerp en te sê: “Here, wat ook al gaan gebeur, ek gaan U dien, want U is tot alles in staat.” In die tye wat voorlê, sal daar baie stryd en seëninge wees. Ons gaan Sy teenwoordigheid nodig hê, en ons gaan Sy genade nodig hê. Namate die mens se dwaasheid toeneem, des te meer sal God se kinders mekaar aanmoedig en hierdie woorde bely: Ons God is tot alles in staat, en Hy is magtig. Hy is lief vir ons, en sal vir ons sorg.
________________________________________
Dennis Loots is die voormalige hoof-pastoor van Somerset-Wes Baptistekerk. www.swbc.co.za
Category: August 2016 Issue
Quo vadis – Waarheen Gaan SA
Te veel Suid-Afrikaners is teleurgesteld in beide die staat en die kerk. Gebeure in ons land lei tot kommer omdat basiese morele waardes en oortuigings nie meer erken word nie. Die stem van die Kerk spreek ook nie regtig tot die massa nie. Waar laat dit die gelowige?
Redes waarom moondhede tot ’n val kom
Baie supermoondhede het deur die eeue heen geval en hulle wêreldwye invloed prysgegee. Die onderskeie ryke van die Egiptenare, Babiloniërs, Assiriërs, Grieke en Romeine tel seker onder die bekendstes. Suid-Afrika was nog nooit ’n supermoondheid nie, maar dieselfde beginsels geld sekerlik vir ons ook. Een van die omvattendste werke ooit oor hierdie onderwerp, is tussen 1776 en 1778 deur Edward Gibbons gepubliseer. History Of The Decline And Fall Of The Roman Empire, wat ses volumes be-slaan, het uit sy pen die lig gesien. In hierdie monumentale werk verskaf hy verskeie redes vir die verval van die magtige Romeinse Ryk, waarvan ek net sewe wil aanhaal.
Miskien herken jy hierdie neigings ook in ons land:
• Morele verval
• Probleme in openbare gesondheid
• Politieke korrupsie
• Werkloosheid
• Inflasie
• Verval in stedelike gebiede
• Tegnologiese agteruitgang
Wat my die meeste opgeval het in my studie oor die onderwerp, was die opmer-king deur sommige kenners dat die snelle uitbreiding van die Christelike geloof die aanleidende oorsaak was tot die val van die Romeine Ryk.
Hulle voer aan dat die Christendom soldate in pasifiste verander het, wat ter wille van vrede nie meer wou veg nie. Onmiddellik kan ’n mens die vraag aan jouself stel of dit ’n goeie of ’n slegte neiging was. Mag ek hier ’n klip in die bos gooi?
Wanneer sekuriteit tuimel
Christene is net soos ander mense wêreldwyd nie altyd opgewonde oor verande-ring nie. Wanneer strukture ineenstort en samelewingstandaarde verlaag, word ons uitgedaag om te groei en te ontwikkel, en dit is ongemaklik.
As gelowiges in Suid-Afrika moet ons ook onderskei tussen waarop ons tot nou toe staat gemaak het, en hoe ons die toekoms gaan benader:
• Wanneer morele verval aan ons voordeur klop, moet ons doelgerig kies of ons hom gaan innooi of wegstuur op grond van Bybelse norme en waardes.
• Wanneer nasionale opvoeding agteruitgaan, word ouers gedwing om weer in ooreenstemming met die Bybelse model verantwoordelikheid vir hulle kinders se geleerdheid te neem.
• Wanneer die ekonomie knyp, kan ons nie anders as om in afhanklikheid voor ons Hemelse Vader te buig nie. Hý is tog ons ware Bron.
• Wanneer strukture en stelsels nie meer funksioneel is nie, mag die pioniersgees, wat God in ons vasgelê het, weer opstaan om heel te maak, nuwe horisonne te ontdek en God se kinders te mobiliseer.
Wanneer nasionale leiers nie meer namens ons kies nie
Mag die kinders van die Here opstaan en God se wil soek soos nooit vantevore nie. Mag ons die hande uit die mou steek en ’n verskil maak waar ons leef en werk. Mag ons inspreek, aanspreek en reg doen! Mag Moses se woorde aan die Israeliete ongeveer 3 400 jaar gelede helder en duidelik tot ons spreek en óns ook vandag laat kies:
“Vandag gee ek vir julle ’n keuse tussen voorspoed en teëspoed, lewe en dood. Ek het jou vandag beveel om die Here jou God lief te hê en om Sy opdragte, voorskrifte en reglemente na te kom deur in Sy weë te wandel. As jy dit doen, sal jy lewe en ’n groot nasie word. Die Here jou God sal jou en die land seën…” Deuteronomium 30:15-16.
Laat ons nie langer staatmaak op institusies om die verskil te maak nie. Kom óns maak die verskil!
________________________________________
ELZA MEYER is die stigter en hoof-uitvoerende beampte van Turn2God Ministries. Vir meer inligting www.turn2god.co.za; elza@turn2god.co.za of skakel 012 997 5601.
Nie My Wil Nie
Wanneer ons sê dat ons saam met Christus gekruisig is en sterf aan die selflewe, wat bedoel ons dan eintlik? Dit beteken dat ons sterf aan ons begeertes, ons ego, ons eie wil – ons lê dit neer. Soms mag dit selfs beteken dat ons sterf aan die visie vir ons bediening of lewe. Jy mag dalk nou sê: “Ek is se-ker dat my visie van God af kom. Dit is Sy wil.” Tog is daar ’n wesenlike gevaar aan verbonde. Die roeping, die beloftes, en visie wat ons van God af ontvang het, kan soms ons grootste ambisie word, wat dit dan in kompetisie met die Here plaas, want Hy is nie bereid om die toewyding van ons hart met enigiets anders te deel nie – nie eens met deugsame dinge nie.
Verwyder die afgode uit jou lewe
Isak was die vervulling van God se belofte aan Abraham. Tog was die Here nie bereid om die toewyding van Abraham se hart te deel nie, nie eens met Isak nie. Die Here het Abraham gevra om Isak op die altaar te plaas en hom op te offer, in die wete dat dít die uiterste toets van Abraham se liefde sou wees. Die outeur, A.W. Tozer, het briljant hierop uitgebrei in sy klassieke boek, The Pursuit of God.
“God laat die lydende ou man voortgaan daarmee [die offer] tot op die punt waar Hy weet Abraham sal die opdrag deurvoer, en toe verbied God hom om ‘n vinger op die seun te lê. Aan die verbaasde patriarg sê hy nou in werklikheid: “Alles is onder beheer, Abraham. Ek was nooit van voorneme dat jy die knaap moet doodmaak nie. Ek wou net hê dat jy hom uit die tempel van jou hart verwyder sodat Ek ongehinderd daar kan regeer. Ek wou die verwording van jou liefde korrigeer. Nou kan jy hom neem,
perdfris en gesond. Vat hom en gaan terug na jou tent toe, want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.”
Wat beteken dit om ’n oorgawe van ons wil te maak?
Die woord ‘oorgawe; oorgee’ is ‘n radikale woord! Baie van ons is gewillig om oor te gee totdat dit begin seermaak, maar ‘ware oorgawe’ is pynlik. Party mense is bereid om ’n oorgawe te maak solank dit logies is, maar ware oorgawe is nie onderhewig aan ons redenasies nie. Ander gee dít wat sleg en skadelik is oor, maar God is nie tevrede nie.
Vir God is oorgawe nie volkome totdat dit nie allesomvattend, volledig en totaal is nie. Dit is nie net om bloot te sê: “Laat U wil ge-skied” nie. Dit sluit in: “Nie my wil nie.” Hierdie sterf aan die self is nie ’n vorm van goddelike sadisme nie. God het altyd lewe in gedagte.
Laat God toe om ’n goeie werk in jou te doen
Net soos ’n tuinier die ou takke snoei sodat nuwe lote kan uitspruit, wil God dít wat lewe en groei in jou lewe verhinder, daaruit verwyder. Hierdie plek van sterwe is ook die plek van geboorte van nuwe dinge, en dit is hoe God se oogmerke op die aarde gestalte vind!
Wie regeer in jou lewe?
Wat as God jou vra om dít wat jou die meeste genot verskaf op te gee? Wat as Hy jou vra om jou gawe of talent neer te lê, dít wat jou definieer – dit waaruit jy jou eie waarde put? Sou jy jou beloftes op die altaar kan neerlê soos Abraham met Isak gedoen het? Weet jy wie op die troon van jou hart sit? Is dit jy? Is dit jou visie? Is dit jou droom? Of is dit die Here Jesus?
Lewend in Christus
My vriend, God het ’n wonderlike plan vir jou lewe en Hy wil jou op merkwaardige maniere gebruik tot verheerliking van Sy Naam, maar opstanding geskied slegs nadat daar gesterwe is – sterf aan die self, sterf aan jou wil, sterf aan jou begeertes en sterf aan jou drome.
Dit is in hierdie pynlike oomblikke van oorgawe dat God se koninkryk in ons gevestig word, wanneer ons saam met Jesus bid: “Nie my wil nie, maar U wil.”
Hierdie gebrokenheid laat ons toe om ‘n verlenging van God se heerskappy te word en ons lewens word “krake in die muur” waardeur Sy koninkryk kan binnedring en Sy wil op die aarde kan geskied!
________________________________________
DANIEL KOLENDA is die president van Christ for All Nations Ministries internasionaal. Vir meer inligting: 0861 232 672 of www.sa.cfan.org.za
Is Daar Regtig n Hel
Ons leef in ’n tyd waar sommige mense nie wil glo dat daar ná die dood ’n oordeel gaan wees waar mense gestraf gaan word vir wat hulle op aarde verkeerd gedoen het nie. Hulle glo ook nie dat daar ’n plek soos die hel is, waar sommige vir ewig onder God se toorn gaan ly nie. Mense glo eerder dat almal wat sterf, na die een of ander soort hemel gaan en dat al die verskillende godsdienste maar net verskillende paaie is wat na dieselfde plek van heerlikheid lei.
Ongeag wat mense dink of wat vir die tydsgees van ons dag aanvaarbaar is, moet ons kyk wat die Skepper van hemel en aarde aan ons geopenbaar het, want dit alleen sal die waarheid wees. God het die waarheid vir ons in die Bybel geopenbaar.
In die Bybel word daar 167 keer na die hel verwys; dit word as ’n verskriklike plek van straf en oordeel beskryf – ’n plek wat vir die duiwel en sy volgelinge berei is. Dit is ’n plek waar God nie is nie, waar daar met ander woorde ook nie lig is nie, maar net totale duisternis. In Openbaring 21 word die Hemel beskryf as ’n plek waar die son en die maan nie meer is nie, maar waar die helderste lig van God se heerlikheid skyn.
Openbaring beskryf die hel as ’n bodemlose put waar daar geen standvastigheid is nie. Die duiwel en sy trawante sal uiteindelik in die poel van swael en vuur gegooi word waar hulle dag en nag gepynig sal word tot in ewigheid (Op 20:10). Daar is geen rus, geen vrede en geen uitkoms in hierdie plek van pyniging nie (Op 14:11).
Jesus preek oor die hel
Jesus het geglo aan die hel en het meer daaroor gepreek as oor die Hemel. Daar is 33 keer opgeteken dat Jesus oor die hel gepraat het, wat beteken dat Hy gedurende Sy drie jaar bediening op aarde feitlik elke maand een keer oor die hel gepreek het.
Die woord wat Jesus vir die hel gebruik het, is die woord “Gehenna”, wat almal in Sy tyd geweet het, verwys na die verskriklikste plek wat hulle geken het. Suid van die ou Jerusalem was daar ’n vallei wat die Gehennadal genoem is. Dit was die plek waar daar altyd vure gebrand het en waar die afval van die stad verbrand is. Arm mense wat gesterf het en nie geld gehad het om ’n begrafnis te bekostig nie, se lyke is ook hier verbrand. Die stank van hierdie aaklige plek kon van ver af geruik word. Kinders is ook hier geoffer en lewend die vuur ingedryf. Daarom was Gehenna ’n plek waar daar ’n gehuil en gekners van tande was.
Jesus sou niemand wou mislei of onwaarhede verkondig nie en daarom het Hy ’n verhaal vertel wat die werklikheid van ’n lewe ná die dood beskrywe het. Toe die ryk man sterwe, was hy onmiddellik in die plek van pyniging waar hy gesmag het na ’n druppel water vir verligting in die vlamme wat nie ophou brand nie. Aan die ander kant het ’n man met die naam, Lasarus, gesterf. Hy is deur die engele na die ereplek langs Abram as vader van die gelowiges in die Hemel gedra is (Luk 16:19-31).
Waarom praat die Bybel oor die hel?
’n Mens vra jouself af waarom praat Jesus en die Bybel so reguit en pertinent oor die hel? Dit is duidelik dat Jesus ons bewus wil maak van hoe ernstig God oor sonde voel en dat Hy sonde nie verdra nie en nie ongestraf sal laat bly nie. Die hoofrede is dat Jesus ons vertel van hierdie verskriklike plek omdat Hy nie wil hê dat ons daarheen moet gaan nie.
Die ewige vuur is vir die duiwel en sy engele (Matt 25:41). God het nie die hel vir ons voorberei nie. Hy wil ons by Hom in Sy heerlikheid hê; in die Hemel waar ons vir ewig vry van die sonde in Sy liefde en heerlikheid sal wees. Jesus het vir ons woonplek in die Hemel gaan gereedmaak omdat Hy ons vir altyd by Hom wil hê.
Vertel hierdie goeie nuus!
Ons moet hierdie goeie nuus vertel aan almal met wie ons kan praat. In die hel is daar nie hoop of ’n kans vir regmaak nie. Hier op aarde het ons nog hoop, want Jesus kan ons sonde vergewe en dinge kom verander en nuut maak.
Kom ons waarsku mense en vertel hulle van God se liefde en vergifnis sodat hulle betyds kan gereedmaak vir hulle ewige blyplek in die Hemel.
________________________________________
DIRKIE VAN DER SPUY, leier van Moreletapark Assosiasie – die nasionale en internasionale uitreikfokus van die NGK Moreletapark. Skakel 021 997 8066 of besoek www.moreletapark.org