Kersfees Spel Jy Verlossers

Ons is almal bewus daarvan dat Kersfees totaal versekulariseer en gekommersialiseer is. Die diep¬ste betekenis het vir meeste verlore geraak tussen al die tradisionele en mo¬derne byvoe¬g¬ings, versierings en misbruik.

KRAG IN SY NAAM
Daarom is dit belangrik dat Christene telkens herinner word aan die wese en diepste betekenis van Kersfees. Nêrens word dit vir ons duideliker uitgespel as in die woorde van die engel aan Josef nie: “Jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Matt 1:21. Die keuse van hierdie Kind se naam is nie aan die mens oorgelaat nie. Aan Adam is die reg gegee om aan die diere hulle name te gee; ouers kan as ‘n reël self daaroor besluit, maar híérdie Kind se Naam is deur die hemel bepaal – nog voor Sy verwekking. Die naam ‘Jesus’ beteken letterlik ‘Verlosser’.Dit was ‘n redelike algemene naam onder die Jode vóór Sy geboorte. Die Hebreeuse ekwivalent daarvan is ‘Josua’. Die engel het vir Josef gesê dat “dit Hy is wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Niemand anders nie: Hy! Nie die kerk nie; nie ‘n gods¬diens nie; nie wetenskap nie – nét Hy! Dis waaroor Kersfees gaan. Die-gene wat deur Hom verlos is, word Sy volk genoem. Verlossing is die enigste manier om deel van Sy volk te word. Johannes omskryf dit só: “Aan almal wat Hom aangeneem het, dié het Hy die reg gegee om kinders van God genoem te word, hulle wat in Sy Naam glo. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.” Joh 1:12, 13

JESUS SE MISSIE
Josef het met skok kennis geneem dat sy verloofde swanger is! Voor hy hulle verlo-wing stil-stil kon verbreek, het ‘n ¬engel hom verseker dat dit wat gebeur het, die werk van die Heilige Gees is. Hierdie Kindjie wat gebore sal word, sal mense van hulle sonde verlos. Dit is wat Sy naam beteken. Dit is wat Hy gekom het om te doen. Dit is waarom daar tweeduisend jaar gelede ‘n baba-seuntjie in ‘n krippie in Betlehem gelê het. Dis die diepste betekenis van die Kersverhaal. Trouens, dis die hart van die Evangelie en die kern van die Christelike godsdiens. Dit was Jesus se primêre missie. Paulus stel dit so duidelik in 1 Tim. 1: 15: “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos.” Dit het vir Hom primêr gegaan oor die verlos¬sing van mense – nie die verandering van politieke en sosiale strukture nie.

VERLOSSING ALTYD PRIMÊR
Daarom moet die kerk altyd waak dat sekondêre verantwoordelikhede nóóit sy primêre missie word nie. Nie ‘n politieke verlosser soos die Bevrydingsteologie geleer het nie, maar ‘n Verlosser van sonde, het die engel gesê. Want Israel se grootste probleem was nie ‘n politieke pro¬bleem nie, was nie Rome nie, maar hyself, sy sonde.

SONDE DIE PROBLEEM
Ons probleem vandag lê nie op ‘n sosiale, ekonomiese of politieke vlak nie, maar op ‘n geestelike vlak – die bose harte van sondige, onverloste mense. Sonde is die grondslag van alle probleme in die mensdom. Natuurlik kom dit selde ter sprake, want sonde het ‘n onpopulêre woord geword. Noem dit eerder genetiese afwykings of afwykende gedragspatrone; gee ideo¬logieë die skuld of sy/haar opvoeding – nét nie sonde nie! Intussen is sonde en satan besig om menigtes te vernietig. Die doel waarom Jesus na hierdie aarde gekom het, is om mense van hulle sonde te verlos. ‘Bottom-line!’ Die mees basiese betekenis van die woord ‘sonde’, is ‘om jou doel te mis’. Dis soos ‘n reisiger wat ‘n verkeerde pad vat. Die regte pad, die ‘teiken’ wat God vir ons stel, het die Here vir ons baie duidelik in Sy Woord gewys. Die standaard, dít wat reg of verkeerd is, word deur die Skrif bepaal. Die uiteindelike, noodwendige gevolg van sonde is dat dit jou God laat mis. Daarom is die boodskap van die engel aan Josef sulke goeie nuus: Jesus is gebore om ons van die verskriklikheid van sonde te verlos!

NET CHRISTUS KAN RED
Ongelukkig is die mens meer as ooit vantevore onwillig om te erken hy is ‘n sondaar en dat hy ‘n Verlosser nodig het. Sy trots en sy hoogmoed laat hom dink hy kan homself red. Hy probeer sy eie tuin van Eden bou, maar sonder die ‘Boom van Lewe’, sonder Christus, sonder ‘n kruis. En in watter gemors is die mens nie! Want die mens kán homself nie van sonde verlos nie; hy kán homself nie red nie! Die mens soek verlossing van baie dinge – armoede, misdaad, VIGS, pyn, probleme. Die verlossing van sonde lê aan die wortel van dit alles. Om ons samelewing te verander, moet mense verander. Om mense te verander, moet harte verander. En dit kan Christus alléén doen deur mense van hulle sondes te verlos. Dis waaroor Kersfees gaan. Christus is meer as ‘n voortreflike leraar of volmaakte voorbeeld. Hy is bo alles Verlosser! Daarvoor moes Hy nie net gebore word nie – Hy moes ook sterf.


Jan & Jeanette de Wet: Leef en Lef tot Sy Eer

Jan de Wet is een van Suid-Afrika se geliefste Gospel-sangers. Hy is passievol oor lofprysing en sy familie en baie lief vir sy vrou, Jeanette. Ons het by hulle huis gekuier om te sien waarmee die de Wet’s deesdae doenig is.

JAN, WANNEER HET JY JOU LEWE AAN DIE HERE GEGEE?
Ek het van kleintyd al ‘n verhouding met die Here gehad, maar op Oukersaand in 1966 het ek werklik bewustelik my lewe aan die Here oorgegee.

WOU JY NOG ALTYD SING?
Ja, van jongs af was dit my begeerte.

WATTER RAAD KAN JY AAN IEMAND GEE WAT ‘N WARE ‘SANG-AANBIDDER’ WIL WEES?
Moenie vir mense sing nie, maar sing vir die Here. Dan is dit opreg.

JY SING IN KERKE, MAAK DVD’S EN CD’S, HOU KOSERTE, IS SEREMONIE-
MEESTER BY SPESIALE GELEENTHEDE. BESKRYF AAN ONS LESERS HOE ‘N GEWONE DAG IN JOU LEWE VERLOOP.
Weeksdae is ek maar besig met duisend en een gewone takies – van administrasie en reëlings en opnames ; instandhouding van apparaat; die kreatiewe skep van musiek tot die daaglikse huishoudelike dingetjies wat mans maar doen. Ek berei ook voor vir die optredes wat voorlê.
Daar is soms ook in die week optredes wat oral in ons land plaasvind. Naweke is ek maar gewoonlik op reis – ek tree oral in die land en ook oorsee op.

HOE KRY JY DIT REG OM AAN DIE GANG TE BLY VIR HOM SONDER OM FOKUS TE VERLOOR EN BLOOT NET ‘DINGE TE DOEN’?
Jy móét daagliks met die Here wandel, jou hart met Hom uitpraat, jou afhanklikheid van Hom élke dag bely en, seker die belangrikste, elke dag aan Sý voete sit om vars van Hom te hoor. Net dan kan jy op Hom alleen blý fokus.

JEANETTE, IS JY BETROKKE BY JAN SE SANGERBEDIENING OF SORG JY NET DAT DINGE GLAD VERLOOP OP DIE TUISFRONT?
Jan is ‘n kunstenaar in sy eie reg, ek is nie daar betrokke nie. Ek sorg egter dat dinge só verloop dat hy homself kan uitleef soos sy behoefte en roeping is. Ek glo dit is hoe ek hom die beste kan ondersteun.

MEER OOR JAN:
• Hy is in Harrismith in die Vry-staat gebore, maar het oral in SA grootgeword – sy pa was ook ‘n predikant
• Hy het studeer by: Die Universiteite van RAU, PU vir CHO en Stellenbosch (BA Onderwys, Meestersgraad in Teologie)
• Hulle pendel tans tussen Strand in die Kaap en Pretoria
• Hulle kerk is: Moreletapark Gemeente
• Sy gunsteling-Skrifgedeelte is in: Lukas 15 – die deel van die verlore seun
• Jan se stokperdjies (indien daar tyd in sy besige skedule is): Hy het al 10 Comrades-maratons voltooi, hy hou van lees, reis en goeie flieks
• Jan het reeds meer as 20 cd’s en ‘n paar DVD’s die lig laat sien.

WAS DIT MOEILIK OM KINDERS GROOT TE MAAK MET ‘N PA WAT DIKWELS VAN DIE HUIS WEG WAS?
Om kinders groot te maak, is dikwels baie moeilik terwyl jy in die situasie is en baie ouers sal hiervan kan getuig. As ek egter vandag na my kinders kyk; dan wéét ek dat dit beslis alles die moeite werd is.

NOUDAT DIE KINDERS GROOT IS, REIS JY SAAM MET HOM?
Somtyds, dit hang egter van my eie program af.

HOE KAN VROUENS ‘N ‘AANBIDDINGSATMOSFEER’ IN DIE HUIS SKEP?
‘n Vrou kan dít net laat gebeur indien syself ‘n aanbidder is, maar daar is tog sekere reëls wat werk om in vergifnis te lewe en om gedurig jou roeping as vrou te koester en te omhels. Ek bid baie in my daaglikse kom en gaan en ek glo dat dit werk.

HOE KAN EGPARE SINVOL TYD SAAM SPANDEER INDIEN ALBEI BESIGE LEWENS LEI?
Beplanning bly maar die sleutel vir oor¬le¬wing in die beroep; maak vaste tye vir mekaar en moenie wag totdat dit te laat is nie.

FEITE OOR JEANETTE:
• Sy is gebore en het grootgeword: In Otjiwarongo in die mooie Namibië
• Sy het haar hart vir die Here gegee: Toe sy ses jaar oud was
• Sy het Jan ontmoet: Tydens ‘n opvoering in die Stadskouburg in Johannesburg
• Sy is getroud met Jan vir 36 jaar en hulle het drie kinders: Petrie, Jacomien en Arnold
• Haar gunsteling-Skrifgedeelte is: Hooglied 2: 16(a) – “My liefling behoort net aan My en ek is net Syne.”
• Haar gunsteling-lied deur Jan: ‘U is my vreugde en my blydskap’


Herstel tot Heelheid

Homoseksualiteit is seker die mees kontroversiële onderwerp in ons kerke vandag. Daar is géén manier hoe enigiemand hierdie onderwerp kan bespreek sonder om die pyn, wroe¬ging en verwerping van die mans en vroue wat met homoseksualiteit worstel, in ag te neem nie. Hulle soeke na sin in dié reis word so dikwels verkeerd verstaan. As Pastorale Berader kom ek in aanraking met baie homoseksuele mans en vroue en ek het absolute bewondering en respek vir elkeen van hierdie mense. Ek bedoel geen disrespek teenoor die gay-gemeenskap wat diskri¬minasie, verwerping of pyn ervaar het weens homoseksualiteit nie. Dit breek my hart om Christene te sien wat met hul seksualiteit worstel en wat deur die Kerk uitgesluit en gekritiseer word. Die Heilige Gees se stem in my binneste sê: “Hy/Sy is ook my kind, nes jy.” Ek glo dat die Bybelse standaarde van seksualiteit steeds deur baie verkeerd verstaan word en dit veroorsaak verwarring en laat individue kompromieë t.o.v. die Woord aangaan in ‘n desperate poging om sin te maak uit die warboel emosies wat hulle ervaar.

DIE MENS IS MEER AS NET SEKSUALITEIT
Sommige mense wat voorheen met homoseksualiteit geworstel het, sê dat die lewe as ’n gay-persoon nie bevredigend is nie en dat verandering wel moontlik is. Ander sê dat die verandering wat hulle ervaar het, glad nie blywend was nie en glo die stelling: ‘een maal gay, altyd gay’. Ander voel dat jy skade aan jouself gaan aanrig as jy probeer verander, terwyl ander weer glo jy gaan skade aan jouself aanrig as jy nié probeer nie! Die punt is dat Christene wat aange¬trokke is tot dieselfde geslag uitgeput en oorweldig is deur die konstante debatte oor homoseksualiteit. Mense is tog soveel méér as net hul seksualiteit.
WANVOORSTELLINGS OOR SEKSUALITEIT
Aangetrokkenheid tot dieselfde geslag by mense is baie algemeen, maar verskil in intensiteit. Sommige het geen romantiese of seksuele aangetrokkenheid tot dieselfde geslag nie. Ander weer het ongeveer 70% homoseksuele en 30% heteroseksuele aangetrokkenheid, terwyl ander eens op ’n tyd wél ’n aange-trokkenheid tot dieselfde geslag gehad het, maar nie meer het nie. Daar is ’n verskil in ‘aangetrokke tot dieselfde geslag’ en ‘homoseksuele gedrag’ (romantiese en/of seksuele begeerte na iemand). Sommige mense is aange¬trokke tot dieselfde geslag, maar het nie noodwendig ’n verhouding of seksuele kontak met dieselfde geslag nie. Niemand kies om aangetrokke te wees tot dieselfde geslag nie, net so min soos wat ander mense kies om aangetrokke te wees tot die teenoorgestelde geslag. Aangetrokkenheid tot dieselfde geslag is nie ’n keuse nie, dis ’n realiteit vir baie mense. God het ons as die Kerk nie geroep om gay-mense te probeer oortuig om ‘straight’ te raak nie! Hy het ons geroep om Jesus na alle mense toe te neem. As hulle die boodskap van Jesus aanvaar en hulself in Sy hande plaas, sal Hý in hulle lewens werk. Jesus het gekom om dooie mense geestelik lewendig te maak.
Ons het almal areas waaraan Hy in ons moet werk, dis hoekom Hy ons le¬wenslank gaan snoei en verander, sodat ons die lewe in ál sy volheid kan hê soos wat Jesus in Joh 10:10 beskryf: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”

GOD SE PLAN MET SEKSUALITEIT
God het seksualiteit as iets pragtig en interessant geskape. Ongelukkig word dit oor die algemeen só buigbaar by die ontwikkeling daarvan, dat Jesus vir ons in Sy Woord duidelike riglyne gegee het hoe om dit te hanteer. Ons berei mense vandag in die Kerk voor op die huwelik deur seminare, vir ouers is daar ouerskapskursusse, maar hoe berei ons mense voor op Bybelse seksualiteit? Seksualiteit (heteroseksueel of homoseksueel) word beïnvloed deur ons persepsie van God, ons kulturele agtergrond, biologiese samestelling en omgewing (familiestruktuur, skool, gemeenskap, kerk) waarin ons grootgeword het – asook brutale insidente soos geweld, verkragting en molestering. Seksualiteit, en veral homoseksualiteit, is dus nie iets wat net in ‘n paar bladsye aangespreek kán word nie, dis veels te kompleks.

ONDERSTEUNING NODIG
Homoseksualiteit ontstaan nié in ’n va¬kuum nie en dis nié ’n individuele pro¬bleem nie. Die gevolge en verwarring wat dit teweegbring, is só vernie¬tigend in sekere individue, omdat dit verweef is in hulle neurologiese en sielkundige samestelling. Dit is dus iets wat baie meer meegevoel, ondersteuning en aandag van die kerk verg. Dis nié ’n demoon nie en óók nie ’n siekte nie.

MY GESKIEDENIS
Ek was ongeveer tien jaar oud toe ek die eerste keer die woorde: “Ek is gay,” oor my lippe kon kry. Tot vandag toe nog is dit vir my die mees traumatiese oomblik van my kindertyd; nie eers die skaamte oor my molestering kon opweeg teen die pyn wat hierdie oom¬blik vir my gebring het nie. Ek het kort daarna my hart vir die Here gegee en geglo dat dit hierdie drif, wat soos ’n kol teer in my hart, gevoel het, met die klap van ‘n vinger sou wegneem. Dit het nie. Dit was die begin van my ja¬relange stryd om sin te maak tussen die Woord en die gevoel in my hart. As tiener was dit vir my ’n stille stryd in absolute isolasie en beslis nie een wat ek met my familie, of pastoor, wóú deel nie.

VOEL UITGEWERP
My emosies het my laat voel soos ’n uitgeworpene en ek het nodig gehad om ’n identiteit te koppel aan wat ek voel. My begeerte was om ook íéwers te behoort in die samelewing, veral in die familie van God. Ek het die Skrif oor homoseksuali¬teit gelees en probeer om God se arm te draai deur méér be¬drewe te raak, méér vir die kerk te doen, méér te bid, méér Bybel te lees…ek het my verloor in my werke sodat ek net van hierdie gevoel kon ontslae raak! Ek het gevoel dat ek nêrens inpas nie en op daardie stadium het dit gelyk of die gay-wêreld die enigste plek was waar ek ook dalk normaal sou voel, sou kon inpas.

EIE TEOLOGIE GEVORM
Ek het as tiener seksueel aktief begin word en later met dwelms eksperimen¬teer. My redenasie was: “As God my nie verander nie, moet Hy my mos aanvaar soos ek is.” Ek het die Woord opsy geskuif en my eie teologie gevorm om iets te kon hê wat sin kan maak in hier¬die verwarrende tyd. Ek het begin kies watter Skrif ek glo en watter Skrif ek verwerp. Vir my was my homoseksualiteit en gay-wees een en dieselfde ding en die gay-wêreld het vir my ’n plek geskep waar ek aanvaarding ervaar het. As student het my dwelmgebruik begin eskaleer tot geharde kokaïen-orgies. My verwarde emosies het my gelei na: “As dit dan reg vóél, hoe kán dit verkeerd wees?” My verhouding met die Here het getaan, maar ek het steeds hierdie honger in my gehad wat géén mens kon vul nie. In September 2002 is die MI virus by my gediagnoseer. My toestand was gevorderd en my dokter het duim vasgehou dat ek met my lae CD4-tel¬ling van net 12 sou leef tot die einde van daardie jaar. Ek was só kwaad vir die Here! Hoekom kon ek nie, soos ander mense, ’n maklike lewe hê nie? Hoekom die homoseksualiteit?
GEBROKE HART
Ek het op medikasie gegaan, my gesondheid het vinnig verbeter en met nuwe lus vir die lewe, het ek iemand ontmoet wat ek geglo het, die liefde van my lewe is. Die verhouding het verkrummel en my hart was absoluut gebroke. Díé pyn het veroorsaak dat ek een aand besluit het ek is moeg van die verwoesting van seksualiteit in my lewe. Ek het nie omgegee of ek heteroseksueel, biseksueel of homoseksueel word nie… solank ek net in die Here kon skuil en in Sy teenwoordigheid kon wegkruip van hierdie wêreld. Dít was my keerpunt – en die begin van ‘n reis tot ge¬nesing van gebrokenheid.
STRYD TUSSEN LIG EN DONKERTE
God is insluitend, nie uitsluitend nie. Ons vergeet egter soms dat sonde ’n werklikheid is, net soos die stryd tussen lig en duisternis. Sy hart is om ons vry te maak van alles wat ons kan vernietig. Ek glo dat die Here my liefgehad en aanvaar het toe ek in my sondigste toe¬stand was. Ons is méér as net ons sonde! Dis wat so fantasties is van Sy genade en Sy liefde. Die oomblik wanneer ons ons lewens oorgee aan Hom, begin die snoei¬proses, die restourasie en die vernuwing. Lees volledige artikel in die nuutste uitgawe.


Die Nuwe Verdraagsaamheid

Verdraagsaamheid mag die dominante tema in die moderne kurrikulum wees.” Die outeurs van ‘n onlangse studie by hoërskole het tot die gevolgtrekking gekom dat diversiteitsverdraagsaamheid die morele gom is wat die samelewing en skole aanmekaar en bymekaar hou. ‘n Ondersoek van Geskiedenis-handboeke het die volgende aan die lig gebring: “Verdraagsaamheid is die ‘enigste godsdienstige idee’ wat die moeite werd is om te onthou”, volgens Steven Bates.

BESONDERE VERMOË
Een skrywer stel dit in die tydskrif, Teaching Tolerance, soos volg: “Tolerance is an idea that is universally relevant [to every class], and it belongs everywhere in the curriculum.” Verdraagsaamheid is die vermoë en die gewilligheid om die beskouings en lewenswyses van dié wat van jou verskil, te verduur en daarmee saam te leef sonder om met hulle saam te stem. En elke Christen behoort ‘verdraagsaam’ in die regte en historiese betekenis van die woord te wees. Dit is wat die Bybel bedoel in die ‘liefdes¬hoofstuk’ in die Woord, 1 Kor. 13: “die liefde verduur alles.” Elke Christen behoort verdraagsaam te wees. Dit is die teken van ‘n ware heer wat alle mense met snaakse idees of selfs snaakse gewoontes verdra, selfs al stem hy nie daarmee saam nie.

REDE FAAL VANDAG
Maar as jy dink dít is wat in die kurrikula van hierdie land geleer word, is jy só verkeerd. ‘The New Tolerance’ is die titel van ‘n boek wat onlangs deur Josh McDowell vrygestel is en wat ek almal sal aanraai om te lees. Die ‘nuwe verdraagsaamheid’ beteken die volgende: Nie alleen verdra, verduur en leef jy saam met die wat anders dink as jy, ander gewoontes het as jy en wat ander leefwyses het as jy nie, maar jy moet ook met hulle standpunte saamstem. Jy moet voorts ook die ander lewens¬wyse bevorder en onderskryf, want dit is in elke opsig net so goed as jou eie. Dit begin by die idee dat daar geen absolute waarheid is nie. Alles is relatief. Daarom is een soort leefstyl net so goed soos die ander. Jy mag nie oordeel nie, omdat daar geen absolute standaard is, waarvolgens geoordeel kan word nie! Die Post-Modernisme sê: “Die Rede het ons gefaal, ons moet nou terugval op Gevoel.” Dit is nie ‘ek dink’ nie, maar ‘ek voel’.

WAARHEID BËONDIG
Ons het selfs ‘n nuwe mensereg ontdek – die reg dat my gevoelens nie seergemaak mag word nie. ‘n Jong dame in een van die hoërskole het onlangs ‘n saak aanhangig gemaak omdat ‘n lied met godsdienstige woorde gesing is. Haar argument was dat dit haar gevoelens seergemaak het. Die hele skool het tot stilstand geruk. Die hoof het dadelik aksie geneem, “Ons kan niemand se gevoe¬lens seermaak nie!” ‘n Groot deel van die Post-Modernisme is die hele konsep van die universele individu. Ons het nie meer lande nie. Daar is net die individu, en sy of haar gevoelens en hulle moet tog net nie seergemaak word nie. “Daar is geen waarheid nie, daar is nie morele waardes wat absoluut is nie en die belangrikste ding is my gevoelens.” Daar is selfs nie universele waarhede vir enige mens nie en wat ookal die waarhede is wat ons aanhang, dit is slegs konstruksies wat elke gemeenskap, nasie of omge¬wing geskep het en dit geld dus nie verder as die grense van die betrokkenes nie. Morele waardes is deur kultuur geskep en gedefinieer. Dit is dus waar die waarheid eindig. Die waarheid bestaan dus nie in die objektiewe sin van die woord nie en is altyd tot ‘n spesifieke kultuur beperk.

VERDRAAGSAAMHEID: DIE LAASTE DEUG VAN ‘N ONT¬AARDE GEMEENSKAP
Verdraagsaamheid is die laaste deug van ‘n totaal ontaarde gemeenskap. Wanneer jy ‘n immorele gemeenskap het wat blatant en trots al die gebooie van God verbreek het; dan is daar één laaste deug waarop aangedring word: verdraagsaamheid vir hul immorele lewenswyse.
Hulle sal nie toelaat dat jy dit wat hulle verkeerd doen, veroordeel nie; hulle het ‘n hele nuwe wêreld geskep waarin dit vir hulle nie verkeerd is nie en waarin hulle nie langer die krimineel of die skurk of die bose persoon is nie, maar jy wel! Hulle noem dus alle bose dinge goed en alle goeie dinge boos… en glo my, dit is net die begin. Daar is die storie van ‘n totalitêre nasie waar dit nie eers toegelaat sal word dat homoseksualiteit oor die radio of televisie genoem word nie. As enigeen Romeine 1 lees, of enige van die ander dele in die Bybel waar God homoseksualiteit veroordeel, word daardie persoon dadelik in die tronk gegooi. Watter blinde nasie laat sulke wette toe? Kanada! Dit wat ek vandag hier sê, kan my in Kanada in die tronk laat beland.

JY SIEN:
• Indien dit waar is wat hul sê, dat daar geen oordele is waarvolgens ons enige standaard van reg of verkeerd of goed en sleg kan veroordeel as beter of slegter nie;
• En as dit waar is dat die enigste ding wat saak maak ons gevoelens is;
• En as dit ook waar is dat, soos hulle sê, jy nie die persoon kan skei van dit wat hy doen nie;
• En aangesien ons as Christene al vir meer as 2 000 jaar glo dat jy die sondaar moet liefhê, maar die sonde moet haat (hulle sê: “O nee, jy kan nie”).
• En omdat die stemming herhaaldelik gewys het dat hoërskoolstudente in hierdie land glo dat jy niemand se oortuigings kan kritiseer, sonder om die persoon self ook te kritiseer nie. Daarom, as jy ‘n bespreking oor ateïsme met ‘n ateïs het; dan vind jy fout met die persoon en jy kritiseer sy oortuigings. Jy kan die twee nie skei nie. As jy fout vind met die dief en sy diefstal kritiseer, hoewel ons as Christene hom wil liefhê; dan vind jy fout met hom en nie slegs met dít wat hy doen nie. Dieselfde geld vir die homoseksueel. Jy kan geen rasionele bespreking oor die reg of verkeerd van homoseksualiteit hê nie, want as jy fout vind daarmee; dan vind jy fout met die persoon wat vir jou sê “wat ek doen, is wie ek is.” Jy kan nie tussen die twee onderskei nie. Ons is duidelik op die afdraandpad.
SKOLE SE MISSIE
Maak dit saak? Ja, dit maak beslis saak, want jy sien, as jy kritiseer wat die persoon doen of waarin hy glo; dan maak ons sy gevoelens seer en dit is ‘haatmisdaad’. Vir die eerste keer in die geskiedenis kan jy nou veroordeel word vir wat in jou kop of jou hart aangaan! Eers is hulle gespot – daar is vir hulle gelag. Toe het hulle hulle begin veroordeel. En toe het hulle hulle begin stilmaak en sensuur toegepas. Toe is hulle vervolg en toe is hulle ingekerker. En toe… is hulle doodgemaak – alles in die naam van verdraagsaamheid. Soos een skoolamptenaar gesê het: “Dit is die missie van openbare skole om nie verdraagsaam te wees teenoor onverdraagsaamheid nie!”

CHRISTENSKAP IS ‘N ABSOLUTE GODSDIENS
Vriende, Christenskap is die liefdevolste godsdiens in die wêreld. God het die wêreld só liefgehad dat Hy Sy Seun gegee het. Jesus Christus het Sy léwe gegee. God het ons die Ewige Lewe gegee. God vergewe ons en Hy dwing ons om ander, ons vyande, selfs hulle wat ons dood wil sien, lief te hê. Maar dit is ‘n absolute godsdiens. Terloops, al hierdie strukture is nie van toepassing op ander godsdienste nie, net die Christen-geloof. God is ‘n jaloerse God en Hy sal nie ander gode voor Hom toelaat nie. Al die gode van die heidene noem Hy afgode. Christus sê: “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe; niemand kom tot die Vader, behalwe deur My nie.” Joh 14:6. Hierdie stelling kon Hom in die tronk laat beland het, want dit is absolutisties.

TEOLOGIESE BOG
Hoeveel mense sê nie vandag: “Wel, alle gelowe is eintlik maar dieselfde,” nie. Dit is teologiese bog! Dit wys maar net die onkundigheid van die persoon wat hierdie stelling maak. Gautama Buddha het vir niemand gesterf nie; Lao-tze het vir niemand gesterf nie; Confucius het vir geeneen gesterf nie; Mohammed het vir geen¬een gesterf nie. Net Christus het aan die kruis vir ons sonde gesterf. En net Christus het uit die dood opgestaan en net Christus bied die Ewige Lewe aan die wat in Hom glo. Die Christendom staan lynreg teenoor al die ander godsdienste in die wêreld as dit kom by die beginsels wat regtig saak maak.Maar omdat dit nie relatief is nie, is dit die Christelike godsdiens waarteen al hierdie voorafgaande dinge wat genoem is, gemik word. Dit is soos die skape wat uitgesoek is vir die slagpale, maar die meeste van die skape weet nie eers wat aan die gang is nie. Word wakker! Christene moet wakker word! Vriende, vir veertig jaar praat ek nou al met Christene om die groot Opdrag – om die Evangelie met ‘n verloregaande wêreld te deel – uit te voer. Baie is getrou om dit jaar na jaar te doen, dekade na dekade. Maar nog meer van julle het nog nie eers één siel na Jesus gelei nie. Julle sal nog uitvind wat die einde van die pad is vir die wat níé Sy groot Opdrag uitvoer nie. Dit is tyd dat ons opstaan vir Jesus en die ruggraat openbaar, terwyl ons nog plek het om te staan.