Jesus, Die Grootste Geskenk Van Alle Tye

Die vader van massamotorproduksie, Henry Ford, het gesê die suksesvolste persoon is die een wat die grootste behoefte op die beste manier bevredig.
Dit lei geen twyfel dat Jesus Christus steeds die grootste Persoon is wat ooit gelewe het nie. Juis omdat Hy die grootste offer gebring het deur die grootste behoefte van die meeste mense te bevredig, is Hy steeds die grootste Persoon ooit! Die blote gedagte dat die God van die Heelal Sy Seun vir die mensdom gestuur het, is wonderbaarlik. “God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die Ewige Lewe sal hê.” Joh 3:16.

Jesus het so baie gegee
Ons wat Jesus Christus as Heer en Redder – die grootste geskenk ooit – aanvaar het, kan op ’n daaglikse basis nadink oor wat Hy vir ons gedoen het:
Ons was dood in ons oortredinge en sonde, en Jesus het gekom dat ons Lewe in oorvloed kan hê. “Maar God se genadegeskenk is die ewige lewe wat ons deel word deur Christus Jesus ons Here.” Rom 6:23.
Ons het vergifnis en bevryding van sonde nodig. Hy het Sy Heilige Gees ge-stuur om ons te bemagtig om volgens Sy Wil te leef (Rom 8:1-12).
Ons het lewe, liefde en lig nodig. God is liefde, Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe en Hy is die Lig van die wêreld. Hy is die oorvloedige Gewer van alle goeie dinge (Joh 10:10).
Ons het Genade – onverdiende guns – nodig en dit is in Jesus Christus wat ons die genade wat ons so ontsettend nodig het, vind. “Dit is mos die onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het. En julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie.” Ef 2: 8-9.
Ons is verlore en Hy is die Goeie Herder wat ons die weg wys. Ons is dikwels verward en word mislei, maar Hy is die Waarheid. “…en julle sal begryp wat die Waarheid beteken, en die Waarheid sal julle vrymaak.” Joh 8:32.
Ons is in sonde vasgevang en veroordeel, maar daar is dus geen veroordeling vir hulle wat in Christus Jesus is nie en “As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees.” Joh 8:36.

Skat ons die geskenk na waarde?
Per definisie is ’n geskenk iets wat ons nie verdien nie, maar wat ons uit iemand anders se vrygewigheid ontvang. ’n Geskenk word waardeer op grond van wie die gewer is of die waarde wat aan die geskenk geheg word. Indien jy ’n geskenk van die koningin van Engeland kry, sal jy dit hoogs waarskynlik ontsettend waardeer en die geskenk sal dadelik aan almal gewys word.
Stel jou vir ’n oomblik voor dat jy in ’n geregshof is en ’n boete moet betaal wat veel meer as ’n leeftyd se inkomste beloop. Stel jou voor iemand anders se offer betaal jou boete namens jou en jy word kwytgeskeld. Sal jy dankbaar wees? Hoe sal jy jou dankbaarheid toon? Indien daardie persoon jou sou vra om iets te doen, sal jy dit nie onmiddellik doen nie? Jesus het gesê: “As iemand My liefhet, sal hy My boodskap gehoorsaam uitvoer; en My Vader sal hom ook liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan.” Joh 14:23.
Ons Skepper, God, het al Sy Gawes op jou uitgestort. Jou lewe, jou talente. Elke oomblik van elke dag, elke asemteug en elke straaltjie sonskyn, alles, is ’n gawe uit die hand van ons Skepper. Dink aan die wonder van die Skepping, wonderlike natuurlewe, ons vriende en familieverhoudings.
Die onbeskryflike gawe van God aan ons
Jesus het die perfekte lewe – wat ek en jy veronderstel was om te leef – geleef. Hy het ’n sinnelose dood, wat ons verdien het, gesterf. Hy het die straf namens ons gedra. Hy het nie net ewige redding vir ons verkry nie, maar Hy bied ons ook die lewe as seuns en dogters in Sy Koninkryk aan – seuns en dogters van die Koning van die konings en Heer van die here!
Het jy al jou sondes bely? Het jy al bely waar jy God se Wet verbreek het? Indien God jou op grond van die Tien Gebooie moes veroordeel, sou jy skuldig of onskuldig wees? Indien jy vandag moet sterf, sal jy Hemel of hel toe gaan? “Soos elke mens bestem is om net een keer te sterf en daarna kom die oordeel, net so is Christus ook net een keer geoffer om baie mense se sonde weg te neem.” Heb 9:27.
Het jy al vergifnis gevra en die gawe van die Ewige Lewe deur Jesus Christus ons Here ontvang? Leef jy vreugdevol en in dankbaarheid vir Sy onverdiende guns en Genade? Vertel jy ander van die grootste Gawe ooit? Van hulle wat baie ontvang het, sal baie gevra word. Jy het vryelik ontvang, gee dus ook vryelik. Maak hierdie Kersfees jou beste Kersfees ooit deur God se gawe te aanvaar en deel van Sy familie te word en ander uit te nooi om die grootste geskenk ooit te aanvaar. “Dank God vir Sy onbeskryflike gawe!” 2 Kor 9:15.


Hoe om te bid vir ongereddes

Hoe verander ons ’n land? Deur vir die redding van mense te bid: een vir een. God sê baie duidelik dat Hy nie wil hê dat enigiemand verlore moet gaan nie, en dat almal hulle moet bekeer (2 Pet 3:9). God sê ook dat Hy die wêreld so liefgehad het dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die Ewige Lewe sal hê (Joh 3:16). Selfs toe ons nog sondaars was, God nie geken het nie en Hom verwerp het, het Jesus vir ons sonde gesterf (Rom 5:8).
Identifiseer drie tot vyf mense en begin om op die naam vir hulle te bid. Gebruik die volgende eenvoudige riglyne wanneer jy vir die redding van mense bid:

Stap 1
Bid dat God hulle sal seën. Bid vir hulle totale menswees: waar hulle leef, hulle ge-sinslewe, waar hulle werk en hulle werksverhoudings, sosiale lewe, vriende en vriendskappe, beskerming, gesondheid, finansies, redding, ens. Moenie oordeel nie; bid dat God hulle sal seën.
Nie alle mense het die gawe van evangelisasie nie, maar ons almal kan bid, selfs die grootste introvert en mense wat dit moeilik vind om met ander te praat of openlik te getuig.

Stap 2
Bou verhoudings op sosiale en vriendskapsvlak (waar moontlik) – ongeag van geloofs-oortuiging, maar sonder kompromie!

Stap 3
Identifiseer die nood van hierdie mense: geestelike, emosionele en fisiese nood.
Luister na hulle en probeer verstaan en identifiseer met hulle nood. Verleen fisiese of emosionele hulp indien moontlik. Indien die persoon enigsins toeganklik is daarvoor, bid vir hom/haar. Ongeveer 99% van alle mense is gewillig dat jy vir hulle bid. (Maak jou gebed kort, fokus op die
probleem/situasie, moenie in jou gebed preek, of hom/haar na die Here probeer lei nie.)

Stap 4
Getuig teenoor hulle. Vertel wat God in jou lewe gedoen het. Moenie preek of spog nie. Probeer die vrae van die persoon so goed moontlik beantwoord en wanneer jy nie antwoorde het nie, erken dit, gaan soek die antwoorde en kom deel dit dan met die persoon. Moenie bekommerd wees as jy nie kan antwoord nie. Vra die Here om ook ander mense wat met hulle kan praat, op hulle pad te bring.
Waarvoor bid ons? Bid spesifiek dat die Heilige Gees die volgende vrae in die persoon se hart sal bring en dat hy/sy antwoorde op die vrae sal begin soek. Dit is basiese lewensvrae en dit gebeur dikwels dat wanneer hulle oor hierdie vrae begin dink, hulle by God uitkom. Wanneer jy vir die redding van mense bid, vra dat die Heilige Gees in mense se harte sal werk om die volgende vrae vir hulleself te vra:

1. Wie kan ek vertrou?
2. Wat is die doel van my lewe?
3. Wanneer sal ek vry wees?
4. Waar gaan ek heen wanneer ek sterf?
5. Waarom haat ek God? / Waarom hardloop ek van God af weg?
6. Hoe kan ek my probleme hanteer?
7. Waar sal ek veilig wees?
8. Waarom is ek skepties of betwyfel ek die bestaan van God?

Onthou: Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens kan dit nie doen nie. (Joh 6:63).

Onthou die volgende wanneer jy vir mense bid
God wil mense red. Die Here Jesus het gekom om mense te red en het reeds die volle prys vir ons sondes betaal.
Staan in geloof op God se beloftes in verband met die redding van mense. God beantwoord gebed. Wie ook al na God toe gaan, moet glo dat Hy werklik God is en dat Hy ’n beloner is van dié wat Hom soek.

Geen hart is vir God te hard nie.
Soms kan dit maande of jare neem voordat iemand tot oorgawe kom. Jesus sê dat ons volhardend moet bid.
(Luk 18:1-8). Wees getrou in jou gebede!


Die Spaanse Inkwisisie – Wat Elke Christen Behoort Te Weet

Een van die beskuldigings wat gereeld na Christene se kant toe gegooi word, is dat Christene verantwoordelik vir ‘Die Inkwisisie’ is en dat ons godsdiens, op grond van hierdie historiese gebeurtenis, bloeddorstig en onverdraagsaam is.
Christene is dikwels, terwyl hulle probeer om liefde teenoor hulle naaste te betoon en die Evangelie te deel, aan die ontvangkant van ’n tirade teen ‘Die Kerk’ en ‘Die Inkwisisie’. En dit word so dikwels as ’n stok gebruik waarmee gepoog word om Christene te vermorsel.
Dit gebeur ook baie dikwels dat, wanneer jy in ’n gesprek oor die Evangelie betrokke raak, jy daarvan beskuldig word dat jy aan ’n geloofsgroep behoort wat vir ‘Die Inkwisisie’ en die ‘verbranding van duisende hekse’ verantwoordelik was!

Die Anti-Christen-agenda
Die probleem met hierdie aanname is natuurlik dat dit totaal van alle waarheid ontbloot is en slegs op hoorsê gegrond is. Die meeste mense is nie bekend met die betrokke geskiedenis nie, nl. dat die meerderheid mense wat tydens die Spaanse Inkwisisie op brandstapels gesterf het, nie hekse was nie, maar wel Protestantse gelowiges!
Indien die hofverslae van die regters nagegaan word, is dit baie duidelik dat hulle onder geen omstandighede Christene was nie. Hulle het alle Christene wat in die Bybel geglo, dit vertaal of Bybel-onderrig gegee het, met wraak tot die dood veroordeel. Die slagoffer se Bybel is dikwels ook met smaad in die vuur gegooi om saam met die martelaar te verbrand. Enigeen wat die boek ‘Book of Martyrs’ deur Fox, of soortgelyke boeke oor die wreedaardige vervolging van die Hugenote en ander Protestantse Hervormers gelees het, sal weet dat die Inkwisisie anti-Christelik was. Die Inkwisisie het tydens ’n tyd van totale en blatante korrupsie, toe priesterskap, die posisie as biskop en selfs die amp van pous, gekoop en verkoop is, plaasgevind. Daar was baie ongoddelike mense wat tydens die Middeleeue die leierskap van die Rooms-Katolieke Kerk beklee het. Die Inkwisisie was ’n anti-Christelike vervolging van Protestantse gelowiges.

Die Judas-faktor
Die Kerk was nog nooit perfek nie. Selfs onder die twaalf apostels was daar ’n Judas Iskariot wat Christus verraai het. En tog sou dit mos nie regverdig wees om Judas as verteenwoordigend van die apostels te sien nie! Die Kerk se algehele rekord behoort ondersoek te word, en dan oorskadu die goeie die slegte verreweg. Die belangrikste is: die Christelike geloof is in Christus gebaseer, nie in Christene nie!
Wanneer iemand die hele kwessie van die bose in die Naam van God ter sprake bring, behoort ons eerstens vas te stel of die mense werklik Christene is of nie. Ons Here Jesus Christus het dit baie duidelik gemaak: “Nie almal wat ewe vroom vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se Koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was. Baie sal vir My op die Oordeelsdag sê: ‘Here, Here, ons het dan in U Naam gepreek en in U Naam duiwels uitgedryf en in U Naam baie wonders verrig! Dan sal Ek hulle antwoord: ‘Julle was nog nooit werklik mý mense nie. Gaan weg van My af! Julle het nie gedoen wat voor God reg is nie.” Matt 7:21-23.
Jesus het dit baie duidelik gemaak dat sommige werklik deel van Sy Kerk is – die uitverkorenes is diegene wat werklik deur Sy Heilige Gees vernuwe is. Dit is egter ook so dat nie almal wat deel van die groter, sigbare kerk is, lede van die onsigbare Kerk van Jesus Christus is nie. Die Here het gewaarsku dat daar onkruid tussen die koring, en bokke tussen Sy skape gaan wees. Baie van dié wat sê dat hulle Christene is, is glad nie Christene nie.

Die Historiese feite
Wanneer iemand die Inkwisisie as argument teen die Christendom ter sprake bring, behoort ons te vra of hulle oor die werklike feite oor daardie tydperk in die geskiedenis beskik. Dit is uiters selde dat gewone mense navorsing oor die onderwerp doen. Die Spaanse Inkwisisie het in 1233 n.C. begin. Dit is amper 300 jaar voor die Protestantse Hervorming.
Protestante het absoluut geen deel aan die Inkwisisie gehad nie; behalwe as slagoffers daarvan. Bybel-gelowige Evangeliese Christene was dikwels aan die ontvangkant van die Inkwisisie en is vir hulle oortuigings gemartel en doodgemaak.
Die duisende Waldensiese Christene wat gemartel en op die wreedaardigste maniere denkbaar vermoor is, insluitende die Lollards van Engeland – die veldwerkers van die Hervorming – is genadeloos vervolg. Die Engelse Hervormer, William Tyndale, is in België op die brandstapel verbrand net omdat hy die Bybel in Engels vertaal het. Pro-testante is as ‘heidene’ in Spanje, Italië, Frankryk, Engeland en Skotland na die brandstapel gestuur. Hollandse Protestante het egter baie erger vervolging aan die hand van Katolieke gesmaak. Onder koning Phillip II van Spanje is meer as 18 000 Protestante in Nederland dood-gemaak. In ’n poging om hulle sover te kry om te erken dat hulle ‘heidene’ is, is mans en vrouens roekeloos gemartel en uitgemoor.
Bybel-gelowiges doodgemaak
Op daardie tydstip was Spanje die magtigste land ter wêreld en Holland is deur Spanje ingeneem. Die Spaanse ko-ning het in 1566 ’n proklamasie uitgevaardig waarin alle onderdane geforseer is om die dekrete wat deur die Raad van Trent uitgevaardig is, te aanvaar. Ten einde die bloeiende Protestantse geloof in Holland te vernietig, is die hertog van Alva gestuur en hy het ’n wreedaardige heerskappy, waaronder alle Nederlandse Protestante gely het, gehad. Teen 1568 het die Inkwisisie reeds drie miljoen inwoners van Nederland as ‘heidene’ veroordeel.
Onder die dapper leierskap van Prins Willem van Oranje, het die Nederlandse Protestante in opstand teen die Spaanse onderdrukking gekom. Prins Willem en sy dapper Nederlandse vryheidsvegters het die inspirasie van Protestante regoor die wêreld, veral in Engeland, geword.

Korrupte amptenare wou die mense se toegang tot die Bybel beperk
Na die Raad van Valencia in 1229 die Bybel op die ‘Indeks van Verbode Boeke’ geplaas het, het die Pousdom die Waldensiese Christene roekeloos vervolg. Die gevoelloosheid van diegene onder amptenare wat die ondervraging waargeneem het, word duidelik bewys deur die veroordeling van die Bybel-vertaler professor John Wycliffe aan die universiteit van Oxford. Op dieselfde wyse is professor Johan Huss van die universiteit van Praag tot die brandstapel veroordeel vir sy aandeel in die Hervorming. Hervormer en Bybel-vertaler, Johan Rogers, is in Janua-rie 1555 tot die brandstapel veroordeel. Hierop het Rogers verklaar dat hy dit wat hy op die preekstoel verkondig het, met sy eie bloed sal verseël. Hierop het die amptenaar uitgeskree: “Jy is ’n heiden!”
“Dit sal die Oordeelsdag alleen bewys,” het Rogers geantwoord.
Op een dag in 1519 het sewe mans en vrouens in Coventry op die brandstapel gesterf omdat hulle hulle kinders die ‘Onse Vader-gebed’, die Tien Gebooie en die Apostoliese Geloofsbelydenis op Engels geleer het!
Tydens sy verhoor is Biskop Ridley aangemoedig om sy Protestantse geloof te versaak. Sy reaksie: “My gewete verseker my dat die dogma wat ek glo en aan ander geleer het, Bybels is…en ek is bereid om dit met my bloed te verseël.”

Oningeligte beskuldigers blameer die slagoffers
Enigeen wat daarop uit is om Christene vir die Inkwisisie te blameer, is baie beslis onkundig oor die geskiedenis. Dit is baie duidelik dat sommige mense net oor gedeeltes van die inligting beskik en dit dan as wapen teen wedergebore Christene, wat hulle geloof met ander wil deel, probeer gebruik. Dit is ’n totale verwringing van die werklikheid om die wreedhede en moorde van die Inkwisisie aan die slagoffers daarvan toe te skryf. Maak dus gerus seker dat jy die feite ten opsigte van hierdie historiese gebeurtenis onder die knie het sodat jy die volgende keer wanneer iemand Christene vir hierdie historiese slagting probeer blameer, die werklike feite aan hulle kan oordra.


Die sienswyse Van Christus In Jou

“…Want ons is ingestel om soos Christus te dink.” 1 Kor 2:16

Wat ’n wonderlike, maar tog ook vrymoedige stelling om te maak: “…ons is ingestel om soos Christus te dink.” Met die eerste oogopslag mag dit moontlik buitensporig klink, maar dit is geensins ontoepaslik nie. Paulus skryf in sy brief aan die Filippense: “Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees…” Fil 2:5.
Die vertaling van hierdie Skrifgedeelte deur J.B. Phillips, lees in Afrikaans soos volg: “Indien jou ervaring van Christus se bemoediging en liefde enigsins iets beteken, indien jy enigiets van die gemeenskap van die Heilige Gees weet, en alles wat dit in goedheid en diepe simpatie inhou, laat my goeie hoop vir julle waar word! Leef in vrede saam, leef in liefde saam asof julle een sienswyse en een gees het. Moet nooit in ’n gees van wedywering of persoonlike ydelheid optree nie, maar dink in nederigheid meer van ’n ander as van jouself.” Fil 2:1-4.

Die enigste Antwoord
Hierdie vertaling help ons om ’n beter begrip van die sienswyse van Jesus Christus te kry. Jare gelede het ek hierdie vertaling gereeld tydens dienste gebruik. Een Sondag het ek hierdie gedeelte hierbo gelees en na die diens het ’n dame my kom vra om tog weer hierdie gedeelte te lees as haar seuns in die kerk is aangesien die twee nie met mekaar klaarkom nie. Hierdie gedeelte was dus die antwoord op hulle verhoudingsprobleme, net soos dit die antwoord op alle verhoudingsprobleme, veral onder Christene, is.

Moenie aanploeter nie
Vir ’n Christen is dit uiters belangrik om Christus se sienswyse in enige aangeleent-heid te openbaar. Dit beteken geensins ’n gelykheid in status nie, maar dui eerder die hoogste doel, waarna alle dissipels van Jesus behoort te streef, aan. In die Bergrede het Jesus die volgende aan Sy dissipels gesê: “Wees julle dan volkome in julle liefde, soos julle Hemelse Vader volkome in Sy liefde is. Hy het mos alle mense lief.” Matt 5:48.
Dit moes toe na ’n baie moeilike opdrag geklink het, en is vandag nog steeds, maar dit is presies waaroor dit gaan. Ons is nie gelos net om aan te ploeter sonder enige duidelike rigting nie. Jesus se lering is in elke opsig baie betekenisvol en pragtig. Dit gee uitdrukking aan Sy sienswyse en kan in terme van geloof en liefde – liefde vir God en ander – opgesom word.
Deur Sy optrede was Jesus die verpersoonliking van meelewing. Hy het die ware betekenis van meelewing prakties gemaak. Indien die Evangelie baie aandagtig bestudeer word, is dit baie duidelik dat daar niks wensliker of begeerliker as die sienswyse van Jesus Christus is nie. Deur die Heilige Gees word Sy sienswyse deel van Sy dissipels se leefwyse.

Sien en dink nuut
In hierdie opsig is ons almal eintlik op ’n reis: ons leer, groei en is deurentyd besig met ’n proses om meer en meer soos Hy te word. Dit word kragtig bevestig toe Jesus sê: “Volg My!” Dit is om nuut te sien, te dink en te leef. Dink soos Jesus dink: Positiewe gedagtes, aangename gedagtes, rein gedagtes! Deur ons gedagtes te vul met die dinge van die Woord word daar geen ruimte gelaat vir dit wat onrein, aaklig en onwelwillend is nie.

Vernuwing nodig
Met hierdie vernuwing van denke begin jou verandering. Paulus vestig die aandag in Romeine 12 daarop. Die behoefte aan verandering hang baie nou saam met vernuwing van denke (Rom 12:2). Dit is eintlik God se Wil vir ons. Hy het dit deur Jesus Christus aan ons openbaar, en deur Sy Gees word dit ’n werklikheid.
Die wysste woorde moedig gedagtes wat opbou aan, want die Bybel sê in Spr 23:7 (1953-vertaling): “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie.” Die mens se verstand is geskep om te dink en wat deur die verstand bedink word, kan verreikende gevolge hê. Die sogenaamde leë-kop-sindroom is nie Skriftuurlik nie. Die Bybel waarsku ernstig daarteen. Die gelykenis van die leë huis, waar alles skoon gevee en in orde is, beklemtoon die gevaar (Matt 12:43-45). Negatiwiteit en onreinheid word nie deur leegheid beveg nie, maar eerder deur opbouende gedagtes wat later permanent ingegraveer is, te besig.
Dit is presies wat Paulus hier aan die einde van sy brief aan die Filippense bedoel. Hy skryf oor verblyding in die Here en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan. En dan val die kollig op die innerlike mens – gedagtes wat die verstand vul: “…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.” lees ons in Fil 4:8.
Baie heilsame dinge op aarde
Daar is so baie wat die wêreld ryk en mooi maak: in musiek, letterkunde, die natuur en ook die lewens van goeie mense. Selfs in die skynbare afwesigheid van godsdiens¬tige toewyding is daar tog nog so baie wat heilsaam en goed is – geïnspireer deur die Een wat ons na Sy Beeld geskape het. Dit is so tragies dat daar so baie verstandelike en geestelike besoedeling in die wêreld is.
Ons vleg ons pad deur ’n regte doolhof, en die menslike verstand is die teiken van so baie besoedelaars. ’n Besoedelde siens¬wyse is ’n siek sienswyse, en dit het heling nodig. En daar is heling beskikbaar. Dit is in Christus Jesus te vind. Stel jou verstand en sienswyse aan Jesus beskikbaar en laat toe dat Sy gedagtes jou deur Sy Heilige Gees vul. Dit het reinheid en vrede, en ’n wesenlike gesonde aard tot gevolg.


Die Christen en sy Geldsake

As daar nou een area is waar Christene mislei word en sommer baie onwaarhede verkondig word, is dit op die gebied van finansies, en om te gee. Dit is ’n skande vir die Kerk. Baie pastore en predikante mislei hulle gemeentes deur valse beloftes van welvaart en seëninge te verkondig en dan nog verder te gaan deur ’n hele klomp wette en verpligtinge in die verband oor te dra. Die hartseerste van alles, egter, is die feit dat hierdie arme gelowiges nooit ooit agterkom hoe God oor hulle voel nie.

In so baie kerke bring mense hulle tiendes en offers met die verwagting dat hulle iets gaan terugkry, of omdat hulle onder druk is oor ‘wat die Bybel sê’. As ons egter na die Woord van God kyk, sien ons nooit dat Jesus, of die Apostels, oor welvaart in hierdie konteks gepraat het nie. Wat wel waar is, is dat Jesus belowe het om vir ons te sorg (Matt 6:25-26). Dit is die weerspieëling van Sy hart vir die mensdom en ook Sy visie vir die Koninkryk.
Die Bybel is beslis nie ’n handleiding met tegnieke en beginsels vir predikers om te gebruik as hulle jou om geldelike bydraes nader en God jou dan daarvoor moet vergoed nie.

Jesus en Sy Koninkryk
God se plan vir Sy Kerk en vir Christene is om Sy hart as getuienis in hierdie ongelowige wêreld te weerspieël. Vir die dankbare gelowige wat weet dat Jesus alles vir hom gegee het en wie se hart aan Hom oorgegee en wie se lewe deur Hom verander is, is dit baie natuurlik om te gee.
Dit is iemand wat nie nét offers bring omdat hy iets kan ontvang, of moet, of omdat iemand anders hom beveel het hoeveel hy moet gee nie. Hy gee omdat hy liefhet – hy het Jesus en Sy Koninkryk lief, en hy is dankbaar vir sy eie redding.
Sy lewe word met dié van Christus geïdentifiseer, sy hart is totaal aan God se visie vir Sy Kerk oorgegee. Dit is iemand wat bereid is om opofferend te gee, verby enige begrip van hoeveel presies, of ’n vaste bedrag. Hy saai met vreugde in die Koninkryk van God onder die leiding van die Heilige Gees. So ’n Christen gee met vrymoedigheid en sonder voorbehoud, selfs in tye van armoede, net soos die kerk in Masedonië in 2 Kor 8. Daardie persoon stap ’n geloofspad dat God vir hom sal sorg en in sy behoeftes sal voorsien, want Hy weet so ’n kind se hart is om die Koninkryk te sien groei.

God wil hê dat ons voorspoedig sal wees
Daar is twee Skrifgedeeltes wat feitlik elke Christen ken omdat ons dit almal een of ander tyd geleer is in terme van welvaart en gee. In albei gevalle het valse leringe die Kerk ingesluip omdat hierdie verse so dikwels buite konteks gebruik word.

Onskriftuurlike siening
Ons lees in 3 Joh 1-8 die volgende: “…ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met julle goed mag gaan en dat jy net so gesond sal wees soos wat dit geestelik met julle goed gaan.” Ons weet dat die Apostel Johannes Gaius prys omdat hy die regte hartsgesindheid openbaar het – die liefde en omgee vir die Koninkryk en sy gasvryheid teenoor die mense van God. Dit is tog mos natuurlik dat Johannes wil hê dat God hom moet seën.
Hierdie seëning sal weer deur Gaius gebruik word om mede-gelowiges tot seën en tot voordeel van die Koninkryk van God te wees. Hoe het ons dan uit hierdie Skrifgedeelte tot die slotsom gekom dat dit God se Wil is dat alle Christene voorspoedig moet wees? Dat alle gelowiges honderdvoudig moet terugontvang indien hulle tot ’n projek bydra?
Dit is beslis nie Skriftuurlik nie! Ons kan sonder enige twyfel sê dat God baie beslis nie elke Christen wat, soos Gaius, ’n hart vir Sy Koninkryk het, en gasvry teenoor mense is, wil seën nie.

Visie van die Nuwe Verbond
Wanneer ons die woorde van Jesus Christus in Lukas 6 lees, sien ons dieselfde gees, dieselfde hart as dié van Johannes en al die ander Apostels. Die konteks hier (vers 27-46) is Jesus wat die skare toespreek oor die feit dat hulle ’n ander hartsgesindheid, ’n ander visie, moet hê. Hy vra dat mense hulle lewens moet gee en God moet toelaat om hulle te verander sodat hulle volgens die Nuwe Verbond kan leef.
Net omdat Hy in hierdie konteks (v 38) praat van “As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol…” Hierdie gedeelte handel oor die hartsgesindheid en die gelowige se belangrikste saak behoort die Koninkryk van God te wees. Jesus eindig selfs in vers 46 met: “Waarom noem julle My dan ‘Here’ as julle My nie gehoorsaam nie?” Daarom behoort niemand hierdie Skrif te gebruik om mense te oortuig dat jy, solank as jy gee en ten spyte van die gesindheid van jou hart, God nog steeds verplig is om jou te seën nie. Dit is hoekom daar vandag nog miljoene Christene is wat tot in ewigheid vir hulle seëninge sal wag!

Volgens jou hart
Ek moet tog daarop wys dat indien jy voel dat jy verplig is om aan God te gee, jy nog nie die diepte van wat Jesus Christus aan die Kruis gedoen het, besef nie, nl. dat jy vryheid deur die Seun van God ontvang het! Hy het ons vrygemaak. Ons is vandag vry om uit ’n dankbare hart, soos die Heilige Gees lei, te gee.
Besef jy dat indien jy iemand is wat gehoorsaam aan die Wet volgens die Ou Verbond is, jy maklik minder kan gee as wat jou hartsgesindheid is? Ons kan egter die hartsgesindheid van ’n gelowige onder die Nuwe Verbond in Paulus se verklaring in 2 Kor 9:7 raaksien: “Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.”
In hierdie vers word daar geensins die prent van ’n vreesagtige, teësinnige gelowige wat verplig word om te gee, geskets nie, of selfs van iemand wat presies weet hoeveel sy offer elke maand gaan beloop nie.

Vry om te gee
Die kerke in Macedonië het gegee; selfs al was hulle uiters armoedig. Die Evangelie het hulle gebring tot op die stadium waar hulle die eie ek afgelê, hulle kruis opgeneem en Jesus gevolg het. Die vrygewigheid het uit die vrug van die Evangelie gespruit, nie deur emosionele manipulasie nie! Hulle het begeer om deel van die projek te wees en deel van die Koninkryk te wees.
Ek probeer jou nie deur hierdie artikel oortuig om dit wat jy in die verlede gegee het, te bevraagteken nie. Maar ek weet daar is baie gelowiges wat op soek is na die waarheid. Al wat ek begeer, is dat die Kerk moet weet wat God se hartsbegeerte in dié saak is, wat die egte lering daaromtrent volgens Sy Woord is sodat ons deur Sy Heilige Gees en Genade vry kan wees om Hom met ons finansies te dien.