Wereldwye Tradisies En Gebruike

Geloof in ontwerp
Tydens onlangse sendings na Europa het dit my getref dat die wêreld se grootste argitektoniese meesterwerke deur die Christelike geloof geïnspireer is. Ek het die voorreg gehad om ʼn inspirerende klassieke aanddiens in St.Paul-katedraal in Londen by te woon.

St. Paul-katedraal
St.Paul se katedraal, geleë bo-op Ludgate-heuwel – die hoogste punt in Londen – is ʼn besige kerk met drie tot vier dienste elke dag. Die kerk se toewyding aan die Apostel Paulus dateer na die oorspronklike kerk wat in die eerste eeu daar opgerig is. Die huidige kerk, wat in die 17de eeu gebou is, is ná die Groot Vuur van Londen in 1666 deur sir Christopher Wren in die Engelse Barokboustyl ontwerp.

Argitektoniese meesterstukke
Die katedrale is die indrukwekkendste argitektoniese meesterstukke in die wêreld. Dit het verskeie geslagte lank geduur om die katedrale te bou. Die geslag wat die fondasie gelê het, het selde nog gelewe toe hulle kleinkinders of kleinkinders hierdie argitektoniese hoogtepunte voltooi het.
Die katedrale is in elke opsig voorbeelde van uitmuntendheid: van hulle kruisvormige styl en die altaar wat só geplaas is dat die gemeente na Jerusalem kyk, die pilare wat die hoogte inskiet en hoë gewelwe wat ons oë van die sorge van die alledaagse lewe lig en daartoe lei dat ons geestelike en ewige werklikhede bepeins, tot die loodglasvensters wat Bybelverhale en belangrike gebeure van die geskiedenis luisterryk uitbeeld. Katedrale vergestalt soveel getuienisse, lesse en insigte waar hulle staan as indrukwekkende monumente vir die vernaamste Mens wat ooit geleef het.

Sonder weerga
Jesus Christus het die wêreld vir ewig verander. Met Sy geboorte het Hy ons meting van tyd verander. Hy het die rivier van die eeue van koers laat verander en het die eras van hulle skarniere gelig. Die geboorte van ons Here Jesus Christus, Sy inkarnasie, het tyd aangeraak en verander. Die hele wêreld meet tyd as voor Christus (v.C.) en Anno Domini – die jaar van ons Heer (n.C.). Jesus Christus is die sentrale figuur van die geskiedenis. Daar is meer boeke oor Jesus Christus geskryf as oor enige ander persoon in die geskiedenis.

Skouspelagtig
Die groot katedrale – vroeg-Goties, hoog-Goties en laat-Goties – is nou die indrukwekkendste kunswerke wat ooit geskep is. Hulle is skouspelagtige werke van klip en glas. Oor die hele Christelike wêreld is groot, indrukwekkende katedrale tot die verheerliking van God opgerig. Die swierige en pragtige katedrale wys na bo, na God. Die oog en die sinne skep behae in hulle. Hulle dra visueel iets oor van God se luisterrykheid en grootsheid, sowel as die onverganklike geloof wat deur ons Here Jesus Christus geïnspireer is.

Inspirerend
Histories het die lewe, lering, dood en opstanding van Jesus Christus die vernaamste kunstenaars en argitekte beïnvloed en geïnspireer. Gotiese argitektuur beliggaam die Christelike geloof. Die katedrale is almal uniek; daar is nie twee wat dieselfde is nie. Elkeen het talle dekades, dikwels langer as ʼn eeu, geneem om te bou.

Die Bybel in klip en glas
Die katedrale is versier met Bybelgebaseerde kuns, standbeelde, fresko’s, graveerwerke en loodglasvensters. Die katedrale is ontwerp om bo alle ander geboue in die dorp of stad uit te troon. Hulle is van ver af reeds sigbaar. Die katedraalklokke het die dorpsaktiwiteite gereguleer en is almal indrukwekkende en inspirerende voorbeelde van uitmuntende vakmanskap.
Die argitekte het verduidelik dat hierdie katedrale ontwerp is om die mens “van die onsienlike en ewige bewus te maak, en dat die Goddelike immanent geword het.” Die katedrale moes “die mens se bewustheid van die Goddelike simboliseer.” Soos ʼn kunshistorikus verklaar het: “Die klip en struktuur word deel van ʼn geestelike ervaring – die steunpilaar is hoog, slank en soepel, die gewelf verdwyn in duiselingwekkende hoogtes, die torings en siertorinkies waaier die hoogte in .”

Ontsagwekkend
Dit is bykans onmoontlik om binne een van hierdie majestueuse bouwerke te staan en nie met ontsag en verwondering gevul te wees nie. Baie mense beskryf die katedrale as “die Bybel in klip en glas.” Die katedrale is ontwerp om ʼn beeld van die Hemel en ʼn deur na die Ewigheid te verteenwoordig.

Wells-katedraal
Toe ek Wells-katedraal besoek het, wat aan die Apostel Andreas opgedra is, het ek gesien hoe dit ontwerp is sodat die standbeelde van die Apostels en evangeliste wat die westelike kant van die katedraal versier, tydens die sonsondergang soos goud geglinster. Dit herinner ons aan die komende Oordeelsdag.

Ligtende geloof in Aksie
Wells-katedraal is ʼn Church of England-gebou van 1175. Dit word as die eerste ware Gotiese struktuur in Europa beskou, nadat daar van die laaste beperkinge van die Romaanse styl weggebreek is. Ek kon nie help om weer eens te wonder hoe onakkuraat dit is om die Middeleeue die onverligte of duister Middeleeue te noem nie, veral wanneer hulle sulke manjifieke katedrale gebou het! Die suilebundels, steunboë en reuse-loodglasvensters, wat uit die 13de eeu dateer, bied ʼn veelseggende teenargument vir Voltaire se poging om die Kerstening van Europa as die ‘duister Middeleeue’ af te kraak. Voltaire, wat die filosofiese grondslag vir die Franse Rewolusie gelê het, het die heidendom van antieke Rome bo die Christendom van Middeleeuse Europa verkies. Ongelukkig het baie Christene in onwetendheid sy term, ‘duister Middeleeue’, aangeneem om na hierdie wonderlike era te verwys, toe katedrale gebou is, manjifieke kuns geskep is, biblioteke oor die hele Europa gevestig is en evangelisasiewerk en dissipelskap op die vasteland plaasgevind het.

Glastonbury
By Glastonbury in Somerset het ek die ruïnes van een van die grootste kloosters op die Britse Eilande verken. Die groot Glastonbury-kerk was 67 m lank en 13,7 m wyd. Die koorgedeelte alleen was 47,2 m lank en die dwarsvleuel ʼn verdere 48,7 m lank. Die St. John-kapel was 33,5 m lank en 7,3 m wyd. Die Lady-kapel, was 30,4 m lank en 7,3 m wyd was, is bo-oor die oorspronklike kerk van Josef van Arimatea uit die eerste eeu gebou. Al hierdie geboue was onderling verbind en was die bestemming van baie pelgrimstogte. Die ruïnes is so ontsagwekkend dat ʼn mens jou skaars kan voorstel watter impak die oorspronklike geboue moes gehad het!

Kragtige getuienisse
Die indrukwekkendste argitektoniese voorbeelde getuig steeds van die belangrikste Boek wat ooit geskryf is en die vernaamste Mens wat ooit geleef het. Toe Jesus Christus Jerusalem op Sy triomftog binnegegaan het, het die priesters en die Fariseërs Hom beveel om Sy dissipels te berispe omdat hulle “Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” uitgeroep het. Ons Heer se antwoord was dat as hulle stilbly, die klippe self sou uitroep.

Jesus Christus is die Heer
Vandag roep die klippe van talle katedrale steeds die heerlikheid van God uit. Jesus Christus is Heer. Hy het uit die dood opgestaan. Hy het na die Hemel opgevaar en Hy kom weer om die lewendes en die dooies te oordeel!

PETER HAMMOND is ʼn sendeling, Bybelleraar en outeur. Skakel: 021 689 4480; mission@frontline.org.za; www.frontline.org.za


n Christelike Leefstyl

Vaste beginsels was ’n paar dekades gelede vir baie mense geen probleem nie – en in elk geval beslis nie vir mense in die Christelik-Afrikaanse gemeenskap nie.

Die Christelike leefstyl destyds
’n Christen is uitgeken aan sy of haar leefstyl gekenmerk deur vaste beginsels en gebruike wat anders was as dié van die wêreld. ’n Christen het ’n eenvoudige, letterlike uitleg van die boodskap van die Bybel oor bykans elke saak onder die son aanvaar, sonder om ongehoorsaamheid aan die Skrif as ’n opsie te oorweeg. ’n Christen was betrokke by sy kerk – Sondae met geestelike aktiwiteite gelaai. ’n Christen-dame se roklengte was nie ver bokant die knie of onderkant haar ken nie. Dit was net ’n ydel ‘dame’ wat haarself oorgrimeer het. Ordentlike meisies wat jy vir Ma kon gaan wys, het dit nie gedoen nie.
Duidelike standpunte
’n Christen het ’n duidelike standpunt teen die misbruik van drank, voorhuwelikse seks, pornografie, sekere tydskrifte en Sondagkoerante gehad. Om op die Christelike ‘Sabbat’ so iets te lees, was so verkeerd soos werk op Sondag.

Sondag is geheilig
Hier in die Vrystaat was daar nie op Sondae klubkrieket gespeel nie. Die stem van die kerk is gehoor én eerbiedig. Die Curriebeker vir krieket is oor die eerste ses dae van die week beslis. Op die sewende dag is daar gerus. Groot rugby was op ’n Saterdag. Die stilte van ’n Sondagoggend was ’n geestelike lafenis.

Voorlesing van die Wet
In ons kerke was dit geensins ’n vraag of die wet van die Here uit Eksodus 20 of Deuteronomium 5 voorgelees moes word nie. Dit is eenvoudig gedoen. Jy kon die woorde later voor die leraar uit sê: “Toe het die Here God al hierdie woorde gespreek en gesê…” Ons was gerat vir ’n mini-moraal van diens aan God.

Vaste beginsels
Met die verklaring van die Tien Gebooie uit die Heidelbergse Kategismus het ons egter ontdek dat hierdie gebruike op vaste beginsels gegrond is; dat jou onderskeid tussen reg en verkeerd steeds op die toepassing van hierdie beginsels berus het, en in elke nuwe era daarmee rekening gehou het. Vandag se gees van ’n relativerende postmodernisme was nog nie eers op die horison nie.

Gehoorsaamheid, liefde en respek
Ons kon insien dat die eerste vier gebooie daaroor handel dat jy God eer. As jy die Here regtig liefhet en respekteer, sal jy afgode soos geld en genot vermy; gebruik jy Sy Naam nie ydellik nie; eerbiedig jy die Sabbat.
Uit Romeine 13 het ons ook geleer dat eerbied vir gesag, die huwelik, nie steel of moor nie – nie eers met gedagtes of woorde nie – die gebruik van betroubare, opbouende woorde in jou kommunikasie en die regte begeertes in alles, alles op naasteliefde en respek neerkom.

Tien Gebooie bepaal jou lewe
As jy die Here liefhet én glo dat elke mens na die Beeld van God geskape is, is ’n Godgedrewe naasteliefde en respek ’n uitvloeisel daarvan; bepaal die Tien Gebooie, as vaste vertrekpunte of beginsels, jou lewe. Hierdie gebooie, wat volgens Deuteronomium 6:4 met hart en siel en al jou kragte uitgeleef moet word omdat die Here jou God is, is die Gebooie wat aandui dat jy die Here liefhet omdat Hy jou liefhet.

Eietydse toepassing van waarhede
Maar, net soos die kerklied of Bybelvertaling eietyds en verstaanbaar moet wees, net so is kleredrag vir kerk toe gaan en houdings van eer-bied vir God, ’n eietydse uitdrukking van respek vir die Here. Preke en openbare gebede wat van respek en dankbaarheid vir die Here getuig, moet ook afgestem wees op die huidige leefwêreld van diegene wat dit aanhoor. Die Woord van die Here met sy ewige waarhede moet in enige situasie of tydperk ontvang kan word.

Gehoorsaam uit dankbaarheid
Die gebooie van die Here is steeds van toepassing, dit is nie gekanselleer nie. Om die belang van hierdie kwessies uit te lig, het dit nodig geword om die beginsels rondom die Tien Gebooie as lering aan te bied.
In die eerste plek is die bevrydende woorde “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het…” deel van die Tien Gebooie. Die Here kondig eers Sy liefde en bevryding vir Sy kinders aan voordat Hy hulle vra om hulle hele lewe vir Hom te leef. Ons kan Hom en mekaar met dade van gehoorsaamheid liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het. Ons kan Sy gebooie uit dankbaarheid gehoorsaam. Hy sê: “Ek het julle bevry deur my Seun[…]in julle plek met Sy lewe vir julle skuld betaal het en weer opgewek is. Dieselfde krag wat Hom opgewek het, kan julle opwek om ewig gehoorsaam te leef.”

Nie ons wil nie
In die tweede plek bestaan opregte dankbaarheid nie uit wat ons wil nie, maar wat die Here wil. Met ons dank wil ons Hom bly maak. Daarom gaan dit oor gehoorsaamheid aan Sy wil en gebooie, en nie oor ons eie, mensgerigte, verdraaide begeertes nie. Die Here is ons Bevryder en gehoorsaamheid aan Sy gebooie ’n praktiese manier om ons hele lewe bevry te leef. “Ek is die Here jou God wat jou totaal, in alles wat jy doen, wil bevry…” Die Here stop nie by die siel van die mens nie. Sy bevryding sien niks in my lewe oor nie.


Gaan Jy Kerk Toe Vir Jouself?

Christus se lering oor die gereelde byeenkoms van die gelowiges is glashelder. Lukas 4:16 sê van Jesus: “En soos Sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan.” As Jesus Christus op ’n weeklikse basis met ander byeengekom het om te aanbid, kan nie een van ons wat na Hom vernoem is, minder as dit doen nie. Selfs wanneer ek reis en pastore in ander lande oplei, vind ek oor die naweek ’n kerk om by te woon. Ek gaan selfs kerk toe wanneer ek met vakansie is, hoewel ek nie altyd daarin kan slaag om my gesin te oortuig om saam te gaan nie. Ek doen dit nie omdat ek wetties daaroor is nie, maar omdat ek hoop die Here raak my aan terwyl ek daar is.

Ontmoeting met die Here
Terwyl ek eenkeer met vakansie was, het ek alleen kerk toe gegaan en in die tweede laaste ry gesit. Dit was nie ’n lewendige, vriendelike soort kerk nie, maar ek het gehoop dat God my sou aanraak. Die gemeentesang was effentjies en die pastoor se boodskap onverstaanbaar. Net toe ek dink dat dit alles ’n mors van tyd is, het ’n ouerige swart Amerikaanse vrou agter die afgeleefde kerkorrel ingeskuif en begin sing: “It’s me, it’s me, O Lord, standing in the need of prayer.” Sy het so opreg gesing; die Gees het gefluister: “Bill, jy het ’n bietjie gebed nodig. Hoekom gee jy nie daardie las wat jy die hele week al dra vir My nie?” Ek het my kop laat sak en my las aan God oorhandig. Ná die diens het ek ’n veranderde mens daar uitgestap.

Wees bewus van jou houding
Deur die jare heen het ek dit ’n gewoonte gemaak om die verantwoordelikheid op myself te plaas wanneer ek ’n kerk besoek en nie op die leraar nie. As ek bloot terugsit, my arms vou en sê: “Doen jou ding, dominee, jy het ongeveer 18 minute daarvoor; ek het ’n ander afspraak,” ry ek gewoonlik met ’n kritiese gees en ’n onaangeraakte hart daar weg. As ek God egter vra om my aan te raak, antwoord Hy daardie gebed gereeld.
Jou hart benodig weekliks die insig, inspirasie en die uitdaging van ’n begaafde le-raar se preek uit God se Woord. Wees nederig en vra die Here om die leraar te seën en jou te help om ontvanklik te wees.

God werk deur Sy Kerk
Wees versigtig om leraars goedsmoeds te beoordeel of te gradeer – ’n tydverdryf vir sekere Christene. Mense sal soms ná ’n diens sê: “Ek verdra dit nie as dié ou preek nie!” As die leraar hard probeer het om nuwe insigte te bring en die Woord te verhelder, stel ek voor dat jy minder tyd daaraan bestee om hom te kritiseer en meer daaraan om die le-ring ter harte te neem! Hoe meer volwasse jy word, hoe meer behoort jy in staat te wees om van enige leraar te kan ontvang. Jy stel jou fokus inderwaarheid meer op die inhoudelike in as op die persoon wat die boodskap bring. Soms raak God ons deur ’n gesprek vóór of ná die diens aan. Baie jare gelede het ’n boodskap by ’n konferensie my diep geroer. Ek het geweet dat die Here nog nie klaar was met my nie, al het die byeenkoms tot ’n einde gekom. Ek het met ’n geboë hoof gesit en bid. ’n Man het aangebied om saam met my te bid as ek dit nodig het. Daarna het ons saam gaan koffiedrink en ons vriendskap duur nou al langer as twintig jaar. God het hom al talle kere in my lewe gebruik en dit het alles begin met sy vriendelikheid en ’n eenvoudige gesprek ná afloop van ’n diens.

Kyk ons uit na diegene in pyn?
Ek wil van ’n minder positiewe voorval vertel wat ’n goeie vriend ’n paar maande gelede beleef het. Sy vyfjarige kleindogter is aan ’n breingewas oorlede en hy moes kort daarna Hong Kong toe gaan om leiers op te lei. Hy het my vertel dat hy daar tydens ’n kerkdiens onverwags deur smart oorweldig is en hy so eensaam gevoel het soos in geen jare nie.
Een of twee kerkgangers het styf ge-glimlag en hom op die rug geklop terwyl die trane oor sy wange stroom – maar dit was al. Niemand het aangebied om vir hom te bid of hom te troos nie. “Dit behoort nie in enige kerk te gebeur nie,” het ek hom verseker en hom namens hulle om verskoning gevra. Die gesprek het my só ontstem dat ek daardie aand min geslaap het. Diegene met gebroke harte kan selfs te midde van ’n skare mense alleen voel. As hulle nie bevoorreg is om in ’n selgroepie te wees met innige onderlinge verhoudings nie, is die Sondagdiens die enigste plek waar daar vir hulle ’n geleentheid is om ware sorg en liefde te ervaar.

Ons moet ons prioriteite reg instel
Gelowiges met die gawes van bemoedi-ging, herderskap, genade en gasvryheid het dit vir hierdie doel ontvang, maar as mense wat hartseer en gebroke is, week na week opdaag sonder dat iemand hulle laste help dra, is daar iets fout in die gemeente. Ons moet ons weer eens daartoe te verbind om saam met ander gelowiges byeen te kom wanneer die kerk vergader; om nederig te wees en God te vra om ons tydens die diens aan te raak en tot ons te spreek, ongeag van wie die boodskap bring. Die tyd het aangebreek dat ons ons vrees om na vreemdelinge uit te reik oorkom.
“Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraag-saam wees.” Kol 3:12. God wil mense se le-wens meer aanraak as wat ons wil hê hy moet.

BILL HYBELS is die pastoor van Willow Creek Community Church in Amerika en die voorsitter van Willow Creek Association. Vir meer inligting: www.billhybels.org


EVANGELISASIE IN SY NAAM

Liewe Vriend,
In 1 Petrus 1 v 7 lees ons dat ware, opregte geloof veel kosbaarder is as goud. In ons hedendaagse wêreld is goud die mees gesogte kommoditeit. Diegene wat geld besit, is daartoe in staat om enige iets te vermag wat hulle harte ook al begeer. Diegene wat geld het, besit mag. In die Koninkryk van God is dit geloof wat hierdie reg voorbehou. Die een wat glo is by magte daartoe om te kan aanskou hoedat die onmoontlike moontlik gemaak word. Die Here tree namens hom op en reageer op die kommoditeit van sy geloof. “Alle dinge is moontlik vir hulle wat glo,” het Jesus onwrikbaar verklaar in Markus 9 v 23. Hierdie is ‘n dinamiese verklaring. “Alle dinge” – het Jesus gesê. Nie net sekere dinge of meeste dinge nie maar ALLE dinge! Geloof het ‘n drakrag wat nie in die fisiese waarneembaar is nie. In die geestes realm egter, is geloof die brandstof wat die gelowige aanpor om voort te gaan. As ek hierdie vraag mag vra: hoe ryk is jy aan die hemelse geldeenheid? Hoe vol is jou geloof-bankrekening? As jy voel dat jy swak en onbevoeg is op hierdie gebied, moenie mismoedig voel nie. Nadat Jesus die voorgenoemde rooiwarm verklaring gemaak het dat alle dinge moontlik is, het die ontvanger van hierdie instruksie in trane uitgeroep: “Here, ek glo; wees asseblief my ongeloof genadig!” Liewe vriend, laat toe dat hierdie versugting dus ook vanuit jou eie hart ‘n weerklank vind. Wend ‘n doelbewuste poging aan om te bly glo; elke liewe dag. Die Here sal jou versterk en bystaan totdat jou geloof uiteindelik jou asemteue word. Die verhaal van Nyanis van MAKULEKE is ‘n klinkklare bewys van hierdie eenvoudige waarheid. Mag jy geseën word deur die onderstaande getuienis.
Medewerker in Sy diens
Tamryn Klintworth
Evangelis
GELOOFSFINANSIERING
Dit was alreeds menige jare sedert Nyanis Nkanyani (60) Jesus as haar Heer en Verlosser aangeneem het. Sy kan vaagweg onthou hoe Hy tot haar redding gekom het en haar hele lewe vir goed kom verander het, toe sy in ‘n put van dronkenskap en depressie vasgevang was. Gevolglik het sy gely aan pyne om haar middellyf, bene en ore, tesame met geweldige gepaardgaande hoofpyne en angs. Sou Jesus werklik nog ‘n wonderwerk in haar lewe kon laat gebeur? Nadat sy by die kerk verneem het van ons opkomende veldtog, het die hart van hierdie kosbare ou vroutjie opgewel van hoop. “Die pyn was verskriklik,” het sy verduidelik. “Ek was nie in staat om my dagtake te verrig nie en kon nie behoorlik loop nie. Dit was baie moeilik vir my omdat ek meestal alleen was.” Toe op die laaste aand van die week van die veldtog, het Jesus haar aangeraak van haar hoof tot haar voetsole. “Terwyl die Evangelis vir ons gebid het, het ek gevoel asof iets uit my liggaam uitkom. Nou voel ek so goed! Ek is gesond! Voorheen kon ek nie eers behoorlik regop sit nie – maar nou kan ek!”
Tamryn is die stigter van In His Name Ministries, ‘n Evangeliese organisasie, toegewy tot die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus, dwarsdeur Afrika en die hele wêreld.
Vind haar op Facebook onder Tamryn Klintworth, of besoek die bediening se webtuiste by WWW.INHISNAME.ORG.ZA


Die Ware Betekenis van Kersfees

George Frideric Handel was teen 1741 ’n mislukking. Bankrot, in groot fisieke pyn en die slagoffer van sameswerings om sy loopbaan te saboteer, het die eens vername operakomponis ’n afskeidsoptrede vir April in Londen gereël. Daardie somer het hy egter die ‘Messias’ gekomponeer, wat hom nie alleenlik weer op die voorgrond geplaas het nie, maar ook steeds deur sommige as die ‘samevatting van die Christelike geloof’ beskou word.

Teenkanting begin
Die ‘Messias’ is met aansienlike teenkanting deur kerkleiers begroet wat ontsteld was omdat akteurs en sangers die Woord van God in die teater gebruik. “Wat word van die wêreld as die wil van die satan so op ons afgedwing word?” het een predikant uitgeroep. Die biskop van Londen het blykbaar met hom saamgestem en die opvoe-ring verbied, terwyl die deken van St. Patrick-katedraal woedend was en aanvanklik geweier het om sy musikante toe te laat om deel te neem. Die geskil was nie erg genoeg om te verhoed dat die koning dit bywoon nie. Hy het oombliklik tydens die eerste note van die Halleluja-koor opgestaan en sedertdien is dit tradisie.
Vandag is dit steeds een van die gewildste musiekstukke wat tydens Kersfees opgevoer word (hoewel dit oorspronklik vir Paasfees geskryf is).
Jy hoef nie ’n Charismatiese of Pinkster-Christen te wees vir die Halleluja-koor om in jou weerklank te vind, of ’n teoloog om die weerklinkende woorde van Jesaja 9:5 te waardeer nie: “Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”

Wonderbare Raadsman
As ons “Wonderbare Raadsman” het Jesus die antwoord op elke vraag en die oplossing vir elke probleem. As jy uitgeput is, nooi Jesus: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Matt 11:28. Vir jou basiese behoeftes, sê Jesus: “Soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Matt 6:33. As jy bekommerd en besorgd is, sê Jesus: “Wees gerus, dit is Ek. moenie bang wees nie.” Matt 14:27. Wanneer jy ’n getuie wil wees, sê Jesus: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees…” Hand 1:8. Jesus Christus is die “Wonderbare Raadsman”. Hy het raad vir elke krisis, ’n oplossing vir elke probleem, ’n voorskrif vir elke pyn, en ’n boodskap vir elke man en vrou. Hy is altyd beskikbaar en sal jou in die regte rigting lei en stuur.

Die magtige God
Jesaja het die koms van die Messias aangekondig: “Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee…en Hy sal genoem word…Magtige God…” Jes 9:5. Alle mag in die Hemel en op aarde is aan Hom gegee. Hy was daar aan die begin en het alles geskep. Hoe ongelooflik dit ook al mag sy; hierdie Kind wie se geboorte ons tydens Kersfees vier, is die Almagtige God. In die boek Openbaring, verklaar Jesus: “Ek is die Alfa en die Omega…Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” Jesus het uit die glorie van die Hemel neergedaal. Hy is in Bethlehem gebore, in Egipte versteek, het in Nasaret grootgeword, is in die Jordaan gedoop en in die wildernis versoek. Christus het wonderwerke op straat verrig, ’n menigte sonder medisyne genees. Hy het alles wat teen Hom te staan gekom het, oorwin. Toe het Jesus Christus ons sonde na Golgota geneem en vir ons sonde gesterf. Hy is in Josef se nuwe graf begrawe en het op die derde dag, met Sy almagtige krag, uit die graf opgestaan. Jesus Christus verteenwoordig vryheid en verlossing. ’n Man kan ’n nuwe pak klere aangetrek word, maar slegs Christus kan die man in die pak klere vernuwe. Jesus is die belangrikste prioriteit en is verhewe bo almal. Inderdaad, Jesus is die Almagtige God, die Christus van Christusfees!

Die Ewige Vader
Hy is ook die “Ewige Vader”. Jesus het gesê: “Wie My sien, sien die Vader.”
Joh 14:9 en “Ek en die Vader is een.” Joh 10:30. As jy Jesus ken, ken jy die Vader. As ons Hemelse Vader is Hy die een wat ons lewe gee; Ons het Sy geaardheid ontvang. Ons het Sy eienskappe geërf en eendag “sal [ons] soos Hy…wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is.” Dit is ’n ingewikkelde lering, maar C.S. Lewis stel dit so: “Ek poog om hiermee te verhoed dat iemand die dwase dinge kwyt-raak wat mense dikwels oor Hom sê: ‘Ek is gewillig om Jesus as ’n belangrike morale mentor te aanvaar, maar ek aanvaar beslis nie Sy aanspraak dat Hy God is nie.’ Dit is dié een ding wat ons nie moet sê nie. ’n Man wat bloot ’n mens was en dié soort dinge kwytraak wat Jesus gesê het, sou nie ’n morale mentor gewees het nie. Hy sou eerder ’n kranksinnige gewees het – op die vlak van ’n man wat sê hy dat hy ’n gekookte eier is – of anders sou hy die duiwel self wees. Jy moet jou keuse maak. Óf hierdie Man wás en ís die Seun van God, of anders was hy ’n mal mens, of selfs erger. Jy kan Hom ’n dwaas noem, jy kan op Hom spoeg en Hom duiwelbesete noem, of jy kan aan Sy voete neerval en Hom Here en God noem, maar moenie met enige neerhalende onsin kom dat hy ’n belangrike menslike leraar was nie. Daardie opsie het Hy nie vir ons gelaat nie. Dit was glad nie Sy bedoeling nie.”

Die Vredevors
Iemand het daarop gewys dat daar in die afgelope 4 000 jaar van die mensdom se geskiedenis minder as 400 jaar van vrede geheers het. Selfs die mees optimistiese persoon moet noodgedwonge toegee dat daar groot fout is met die wêreld wat so geesdriftig verwoesting kan saai. Kan jy jou voorstel wat sou gebeur as ’n Marsmannetjie gestuur word om oor die aarde se belangrikste nywerheid verslag te doen? Hy sou na alle waarskynlikheid moet sê dat die oorlogvoering die wêreld se belangrikste sakebedryf is. Hy sou rapporteer dat die nasies van die wêreld meeding om te sien wie die dodelikste wapens kan vervaardig en die grootste weermag kan saamstel.
Hy sou sê dat die aarde se mense te aggressief is om met mekaar oor die weg te kom en te selfsugtig is om in vrede met mekaar saam te leef.
Is dit nie tragies dat ons ná ’n duisend jaar op aarde steeds nie nader aan vrede is as wat die antieke stamme van die geskiedenis was nie? Ons sien oral twis en onenigheid om ons. Ons kom wedywering, agterdog en wantroue teë. Ons sien hoe een klas van die samelewing ’n ander dwarsboom; een ras ’n ander verkleineer; die rykes die armes onderdruk, die armes die rykes vervloek, ons sien nasie wat teen nasie en koninkryk wat teen koninkryk in opstand kom. Kleingeestige jaloesie en wedywering besmet en bederf die harmonie binne organisasies. Selfs kerke en Christelike organisasies word deur stryery en selfsug ontwrig. Ons sien dit binne die gesin waar die huis vol kwade gevoelens, bitterheid en verdeeldheid is: mans teen hulle vrouens, vaders teen seuns en moeders teen hulle dogters. Ons sien dit in stakings en nywerheidsonrus, in die bitter stryery tussen politici en parlementariërs. Dit is binne hierdie einste wêreld waar ons as helder ligte in die duisternis moet skyn. Dit is in hierdie wêreld waar ons geroep is om as vredemakers op te tree. Dit is hierdie wêreld wat die Prins van vrede desperaat nodig het. Hy is die enigste een wat dié vrede kan bied wat alle verstand te bowe gaan. Hy verskaf die vrede ván God en vrede mét God. Jesaja het 2 700 jaar gelede geprofeteer dat ’n Verlosser na hierdie gebroke wêreld sou kom. Hy sou ’n Wonderbare Raadsman, magtige God, die Ewige Vader en die Vredevors wees. Dit is die boodskap en betekenis van Kersfees.