Sewe keer misgesteek

Verdagte optrede
“Ek is een Vrydagaand met ’n mes aangeval toe ons die Duiwelspiek-omgewing gepatrolleer het. ’n Verdagte het ’n mes uitgepluk en my begin steek toe ek hom probeer ondervra. Hy het my in die regteroksel, my borskas, my rug, my hande, been en oogbank gesteek. Alles het binne net ’n paar sekondes afgespeel.
In ’n stadium het hy bo-op my gesit en probeer om my oog uit te steek. Ek kon voel hoe die mes in my oogbank steek, maar kon, met kragte wat aan die afneem was, my kop wegruk. Hy het die mes met soveel geweld in die teerpad gedruk dat die lem afgebreek het. My verligting daaroor was van korte duur, want hy het ’n tweede mes uitgepluk.”
Bloedverlies en skok
Fanie was besig om weens bloedverlies en skok sy bewussyn te verloor toe sy kollega die aanvaller buite aksie stel. “Ek was bewus van mense wat om my skree en iemand wat ’n kombers oor my gooi,” vertel Fanie. “Daar het ’n man by my kom staan – ek is nie seker of dit ’n mens was of nie – hy het gesê as ek wil bly lewe moet ek my vingers in my wonde druk en doodstil lê, wat ek toe gedoen het. Ek het die vingers van my linkerhand in die wond onder my regterarm gedruk en die wond by my hart met my linkerelmboog vasgedruk om die bloeding te probeer stop. Ek het my rug teen die grond vasgedruk en gewag vir hulp om op te daag.”

Trauma en vrees
By Chris Barnard-hospitaal was Fanie vir twee lang ure in die teater. Toe hy wakker word, was hy bewus daarvan dat hy geweldig getraumatiseer is. “Ek kon daardie aand nie slaap nie en kon nie die donkerte verdra nie. Skielik was ek iemand anders – ek was nog nooit bang nie, nou was ek selfs bang vir die donker. Die suiggeluid van die mes wat uitgetrek word, het oor en oor in my kop weerklink. Ek het herhaaldelik gehoor hoe my liggaam stukkend gesny word. Die verpleegster het die gordyne om my bed oopgetrek sodat die lig uit die gang op my bed kon skyn. Ek was skielik ’n vreesbevange hulpelose mens – iets wat ek nie voorheen was nie!”
’n Visioen van die Kruis
Terwyl Fanie met die Here gelê en praat het en Hom vertel het hoe kwaad hy is, en dat God nie goed is nie, het hy ’n visioen gesien: “Ek het skielik duidelik ’n Kruis gesien. My lewe, veral dinge wat ’n diep indruk op my gemaak het (al die pynlike en onuitspreeklike dinge) het rondom die Kruis afgespeel; alles wat die keuses wat ek gemaak het, beïnvloed het. Ek het ook die man met die mes gesien en toe sien ek hoe hierdie dinge een vir een verdwyn totdat net die Kruis daar staan.
“Ek het tot die diepe besef gekom dat Jesus Christus my nie net die gered het nie, maar ook verlos het. Hy is die Verlosser wat jou losmaak van dinge wat nie joune mág wees nie. Ek het besef dat ek negatiewe energie geput het uit verwerping in my lewe. Dít het my gevorm. Skielik het alles waaraan ek so vasgeklou het, soos drek geword, soos niks, want as ek daarna wou kyk, het ek net die Kruis gesien. Die prys is daarvoor betaal, dit is afgehandel. Al die verwerping waaruit ek my energie geput het, het verdwyn.”
Rustige slaap
Die suster het teruggekom met slaaptablette omdat sy vroeër kon sien dat Fanie ’n probleem het en nie kon slaap nie, maar hy het die pille in sy laaikassie gebêre. Die donkerte het hom egter nie meer gepla nie, hy was nie meer bang nie. “Ek het begin verstaan wat Jesus bedoel het toe hy gesê het “as jy My wil volg moet jy doodgaan”, want skielik het ek besef, daar by die Kruis het die óú Fanie wat die trauma en verwerping beleef het, gesterf,” vertel hy.
“Alles wat deel was van my ou lewe, alles wat my negatiewe krag gegee het – negatiewe energie wat ’n negatiewe oorsprong gehad het, was weg. Dit het agter die Kruis gelê. Ek het my oë toegemaak en rustig geslaap. Sondagoggend is ek ontslaan, waar ek toe in die Sunday Times op bladsy twee lees dat dit eintlik baie sleg met my gaan!”
Sewe keer “misgesteek”
Fanie wou weet hoe hy die aanval oorleef het. Die chirurg het verduidelik dat Fanie uiters gelukkig was, omdat die mes sy liggaam elke keer teen die “verkeerde hoek” binnegedring het en nie ernstige skade kon aanrig nie. Die messteek in die rug het die rugsenuwees en organe gemis, en net spiere raak gesny. Sy hart, longe, en oog en alle hoofslagare is telkens gemis. Die aanvaller het hom eintlik sewe keer misgesteek!
Genesing uit gebrokenheid
Fanie se ervaring – beide die aanval en die kennismaking met die krag van die Kruis – het hom toegerus om ander te kan help. Hy kry met alles te doen: van televisiesterre, bendelede, transvestiete, mense wat selfmoord wil pleeg, misdadigers en slagoffers van misdaad. “Dit is nie altyd so eenvoudig om iemand te help nie, die Here moet die werk doen. Jy kan nie self hierdie mense help nie. Jy moet jouself net so posisioneer dat hulle die Here kan ervaar. “
Deernis vir die wat verlore is
Fanie vertel van ’n geval waar ’n vrou haar eie keel met ’n stuk glas gesny het. Haar wonde was gering, maar sy was in die polisiestasie, op pad om na die hospitaal geneem te word. Fanie het die dokumentasie voltooi sodat sy soontoe vervoer kon word.
Hy vertel: “Ek het soveel deernis vir haar ervaar. In my hart het ek vir die Here gesê ek kan nie elke dag hierdie dinge ervaar – die bloed, mense wat besig is om te sterf, mense wat hulleself dood maak nie, dit is so sinneloos – Hy moet my help. Ek stap toe na haar toe terwyl ek Hom in my hart aanroep en ek haar innig jammer kry omdat sy so verlore is. Toe ek aan haar skouer raak, val sy flou neer. Sy is hospitaal toe, maar het later teruggekeer en gevra of ek vir haar kan bid.
“Ek het ’n gewone gebed gebid, maar toe ek klaar gebid het, sê sy: ‘Nee, daardie was die verkeerde gebed’. Sy wil by die ware God uitkom, want toe sy daar op die vloer gelê het, het Sy gehoor dat Jesus Christus die ware Weg is. Hy is die Waarheid, maar sy weet nie hoe om by Hom uit te kom nie. Hoe kom sy by Hom uit? Ek moet dáárdie gebed vir haar bid.
“Ek het haar gelei om haar sonde te bely en Christus in haar lewe in te nooi. Toe sy ‘amen’ sê, sê sy dat sy nou ’n kind van God is. Ek het daarna gehoor sy preek in die Kaap.
“Die Opgestane Christus het onmiddellik verande-ring in haar teweeggebring. Toe sy geweet het ván Jesus was daar nie verandering nie, maar toe sy Hom ervaar en aanvaar, het daar ’n verandering in haar plaasgevind.”
Bid vir ons polisiemag
Daar is talle Christen-polisiemanne soos Fanie, wat daagliks fisiek, maar ook geestelik met die duiwel en sy dade te doen het. Hulle is diegene wat geroep word om te kom bid wanneer iemand in ‘n sel probeer selfmoord pleeg; wanneer gesinslede nie ‘n tiener wat op tik is, kan hanteer nie; wanneer daar geweld in die huis is. Hulle kry te doen met duister dade wat te aaklig is om te noem. Laat ons bid dat hulle nie oorweldig sal word deur die bose nie, maar dat die Lig en Verlossing van Christus juis helder in hulle sigbaar sal wees vir diegene oor wie die skadu van die bose nog hang.
FANIE SCANLEN het ‘n meestersgraad in teologie en is by gemeente, Lig en Lewe in Bellville. Hy is beskikbaar as ‘n spreker, prediker of vir berading. Kontak hom gerus by faniescanlen3@gmail.com.


Naledi: Hoe nou gemaak?

Die internasionale en plaaslike media het die afgelope tyd gegons oor die openbare aankondiging op 10 September van beendere wat wes van Johannesburg gevind is en as Homo naledi beskryf is. Sommige Christene is besorg oor hoe om op hierdie soort aankondigings te reageer. Die Christen-gemeenskap het vandag ’n goed toegeruste arsenaal bronne, soos dié van Creation Ministries International, om aannames oor ’n evolusionêre beskouing van die mens se oorsprong te verstaan en te weerlê.
Berger is ’n energieke fondsinsamelaar en ’n meester om ’n openbare gehoor te boei Professor Lee Berger van die Universiteit van die Witwatersrand, ’n paleoantropoloog en leier van die span wat die navorsing in die sogenaamde ‘Wieg van die Mensdom’ gedoen het, is ’n “glanswetenskaplike” wat goed weet hoe om maksimum publisiteit te ontlok – iets wat selfs die evolusiegesinde media erken. National Geographic het gesê: “Berger is ’n energieke fondsinsamelaar en ’n meester om ’n openbare gehoor te boei.”
Joernaliste van regoor die wêreld, sowel as sakemanne, glanspersoonlikhede en politici, het die amptelike geleentheid by Maropeng bygewoon. In wat moontlik ’n poging is om die soort “afjak” te vermy wat sy aankondiging van Australopithecus sediba van wedywerende paleoantropoloë in 2010 ontvang het, het Berger ’n aantal internasionale “jong weten-skaplikes – sommige met die ink nog nat op hulle Ph.D’s” – betrek by die navorsing en hy het ook toegesien dat hulle bevindinge in die aanlynjoernaal, eLIFE, gepubliseer word.
Skraal wetenskaplikes vir die ekspedisie
Die spesifieke grot waar die beendere gevind is, is in 2013 deur die twee grotkruipers, Steve Tucker en Rick Hunter, ontdek. Hulle het die vonds aan Berger gerapporteer wat toe, weens die nou ingang na die grotte, op Facebook geadverteer het dat hy skraal wetenskaplikes soek om die vonds te gaan ondersoek. Hy het ’n span van ses vroulike wetenskaplikes saamgestel wat die beendere tydens ekspedisies in 2013 en 2014 herwin het.
Daar is tot dusver ongeveer 1 500 bene herwin, heel moontlik verteenwoordigend van ten minste 15 individue. Daar word geglo dat daar nog baie beendere in hierdie merkwaardige vertrek, genaamd Dinaledi (‘sterre’ in Sesotho), lê. Hierdie grotkamer is blykbaar nog nie voorheen ontdek nie, alhoewel die ander grotte in die omgewing al deeglik verken en bestudeer is. Dit is ook die terrein waar fossiele soos mev. Ples, die Taung-kind en meer onlangs, Australopithecus sediba gevind is. Hulle is almal onder dieselfde genus, Australopithecus, geklassifiseer.
Wat moet ons van die jongste aankondiging dink?
Die eerste beginsel om in gedagte te hou, is die aard van die wetenskap wat sulke interpretasies van fossielbewyse rugsteun. Dit betrek historiese of oorsprongwetenskap – die interpretasie van die onwaarneembare, ontoetsbare geskiedenis van die bewyse, in hierdie geval – beendere. Die subjektiewe aard van hierdie interpretasie word wyd erken, selfs deur bekende evolusionistiese paleoantropoloë soos Darren Curnoe, wat die volgende gesê het: “Niemand benader ’n fossiel heeltemal onpartydig nie. Ek dink dat ons in ’n sekere mate ook sien wat by ons beskouing inpas. Dus, jy bestudeer ’n fossiel met jou siening van evolusie en jy pas dan onmiddellik daardie fossiel by jou wêreldbeskouing in.” Dus erken Curnoe en talle ander naturalistiese wetenskaplikes toenemend dat dit die wêreldbeskouing is wat die dryfkrag agter die interpretasie van bewyse is, nie andersom nie.
Wat hierdie aankondiging anders maak, is dat al die vorige hominide-fossiele in hierdie gebied as australopithecines aangewys is. Prominente evolusionistiese meningsvormers, soos Charles Oxnard, het Australopithecus spp. afgemaak as unieke, uitgestorwe primate wat irrelevant tot menslike evolusie is en anatomies verder van ape verwyder is as van mekaar. Met betrekking tot A. Sediba: “Alhoewel die doyens van paleoantropologie hom (Berger) krediet gegee het vir sy ‘verstommende’ ontdekking, het die meeste kenners egter sy interpretasie daarvan verwerp. A. Sediba was te jonk, te eiesoortig en nie op die regte plek om ’n voorsaat van Homo te wees nie: Dit is nie ’n mens nie.” Om die kalklig terug te wen, moes Berger ’n Homo vind. H. Naledi oorvleuel anatomies genoeg om te kwalifiseer, ten minste dan voorlopig, vir die plasing in daardie genus.
Teenstand vanuit evolusionistiese gemeenskap
Creation Ministries International (CMI) vors tans die aannames na en sal in die toekoms ’n volledige tegniese assessering publiseer. Tot tyd en wyl weerhou ons ons van uitsprake rakende die afkoms van die beendere – hetsy van mense of van ape. Wat dit wel nié is nie, is een of ander verlore skakel tussen aapagtige voorsate en die mens – wat Berger en sy span duidelik te kenne probeer gee.
Die interpretasie as ’n nuwe spesie van Homo kry reeds teenstand vanuit die evolusionistiese gemeenskap.
Beskrywings van hierdie skepsels in die literatuur gee onder meer weer dat hulle “voete het wat ononderskeibaar is van moderne mense s’n”; die “vermoë gehad het om gereedskap te gebruik”; kon deelneem aan “rituele…om liggame te verwyder”; en laastens dat “ Homo nale-di vuur kon gebruik het om lig te maak.”
Bloot Homo Sapiens?
’n Mens sal moet wag om te sien of die evolusionistiese gemeenskap hulle by die siening gaan skaar dat die beendere Homo is of bloot Australopithecus. Maar hoekom wil ’n mens die beendere as
H. Naledi etiketteer as daar so ’n sterk aanduiding is dat hulle gewone mense was met ’n paar unieke anatomiese variasies? Daar is vandag net so ‘n variasie tussen verskillende mensegroepe wat almal van net twee mense, Adam en Eva, afstam – die eerste twee mense wat deur God geskape is.
Tim White van die Universiteit van Kalifornië, wat ’n ander beskouing oor menslike evolusie het, glo dat die beendere aan die spesie
H. Erectus behoort wat in die 19de eeu benoem is. Volgens beriggewing het hy gesê: “Nuwe spesies moenie goedsmoeds geskep word nie. Om ’n nuwe spesie te verklaar, moet ’n mens kan bewys dat dit verskil van enigiets wat reeds bekend is.”
H. Naledi is inderdaad beskryf met eienskappe “soortgelyk aan vroeë Homo-spesies, insluitend Homo erectus, Homo habilis en Homo rudolfensis”. Daar is ’n toenemende aantal evolusionistiese paleoantropoloë wat vandag argumenteer dat dit ’n arbitrêre benaming van spesies vir ’n variasie van die mens is. “Met ander woorde, in plaas daarvan dat Afrika voorheen die tuiste was van veelvuldige menslike spesies soos Homo erectus, Homo habilis, Homo ergaster en Homo
rudolfensis is, is al hierdie voorbeelde dalk net bloot Homo erectus.” Wetenskaplikes soos Wolpoff het al so lank gelede soos 2001 geargumenteer dat genoemde “spesies” eintlik almal onder H. Sapiens moet ressorteer – dus onder “mens”.
Oorblyfsels van bejaardes, jong volwassenes, jeugdiges en kinders is op die terrein gevind. Daar is ook drie gefragmenteerde
skedels gevind. Behalwe vir die subjektiewe aard van die rekonstruksie van die skedels, val die gemelde breinkapasiteit van ongeveer
560 cm3 wat gebruik is om die “primitiewe” interpretasie van die oorblyfsels te regverdig, goed binne die bestek van groottes vir kinders en selfs patologiese volwassenes.
’n Gebrek aan datering
Die gebrek aan enige poging om die beendere te dateer, is ’n opvallende weglating. Dit wil voorkom of die wetenskaplikes wat betrokke is, ’n ouderdom van ongeveer twee miljoen jaar oud sal verkies, wat hulle sal help om dit as die perfekte “skakels” tussen Australopithecus en Homo in evolusionistiese aannames te plaas. Berger se verskoning vir die weglating is dat hy “gevoel het dit nie eties sou wees om hominïede-materiaal te vernietig voordat dit beskryf is nie; om die monsters te dateer sou beteken dat die materiaal vernietig word.” Aangesien daar meer as 1 500 stukke verwyder en ondersoek is, en hulle self erken het dat daar moontlik nog duisende beenfragmente in die grot agtergebly het, kon hulle seersekerlik een stukkie been vir radiometriese datering opgeoffer het?
Kan die bene dalk redelik jonk wees?
Die Berger et al-artikel wat die geologiese konteks van die vonds beskryf, verwys herhaaldelik na die reste as “beendere” en as slegs “gedeeltelik gemineraliseerd.” Hulle is ook nie eers uit versteende sediment opgegrawe nie, maar uit grond “saamgestel wat oorwegend bestaan uit vorige reeds verwerkte oranjekleurige modderreste ingebed in ’n bruin modderige matriks – ’n rotsmassaraam.” Baie van die bene het geen opgrawing geverg nie. Die vrouespan “het meer as 400 fossiele op die oppervlak gekarteer en ingesamel, en toe begin om die grond rondom die skedel wat half begrawe was, versigtig te verwyder.” As ’n mens daaroor dink, kon dit net sowel ’n beskrywing van die verwydering van bene van ’n oorlogsveld in die Tweede Wêreldoorlog wees. Dit is alles ’n aanduiding dat die bene redelik jonk kan wees, in welke geval koolstof-14 die vanselfsprekende dateringsmetode sou wees.
Die rede hoekom 14C-datering nie op die bene uitgevoer is nie, is omdat die aannames ten grondslag van 14C-datering, wat aan evolusionistiese wetenskaplikes sowel as skeppings-wetenskaplikes bekend is, ’n maksimum teoretiese “ouderdom” van 50 000 tot 100 000 jaar aangee vir enige monster wat radiokoolstof bevat. Die aanwesigheid van 14C in hierdie oorblyfsels, sal dus die veronderstelde evolusionêre menslike afkoms duidelik weerlê.
Darwinisme en rassisme
Ironies genoeg word hierdie pseudo-wetenskaplike aansprake (wat heel moontlik in die toekoms uitgedaag sal word deur wedywe-rende paleoantropoloë), deur politici aange-gryp wat in die kalklig van hierdie “wetenskaplike” ontdekking wil baai. Darwinistiese evolusie en sy meelopers, raswetenskap, sosiale
Darwinisme en eugenetika, was die ideologiese grondslag van ’n groot deel van die rassisme van die 20ste eeu. Dit het daartoe gelei dat swart mense in Afrika gereeld soos ape en bobbejane behandel is en ook so genoem is. Dit is hartseer dat sommige van die swart leiers wat dikwels in die verlede betrokke was in die stryd teen hierdie praktyke, vandag gewillig is om hierdie veronderstelde aapagtige voorsate te kus (letterlik in een geval).
Nasate van Adam en Eva
Wat ook al die finale reaksie op hierdie aankondiging, die fossiel-oorblyfsels is óf die van ’n “aapsoort”, óf die van die mens, en indien laasgenoemde, is dit nasate van die historiese Adam en Eva. Hulle het heel moontlik tydens die post-Babelse tydperk gesterf – binne die afgelope paar duisend jaar .
Dus moet Christene nie “meer kinders…wees…wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.” (Efesiërs 4:14–16).


Jesus Christus: Wie is Hy?

Dwarsdeur die geskiedenis het menige “Jesus” gekom en gegaan. Die Apostel Paulus het ons hieroor gewaarsku en ook dat daar selfs ’n ander “Evangelie” verkondig sou word. Aan die Korintiërs en die Galasiërs het hy geskryf: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang het as wat julle ontvang het, of ’n ander Evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.” (2 Kor 11:3-4.) “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van Hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die Evangelie van Christus wil verdraai.” (Gal 1:6-9.)
Wie is hierdie Man?
Die verbysterde Jode en Fariseërs het Jesus gevra: “Wie is Jy?” (Joh 8:25). Die Apostel Petrus het van Hom gesê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God,” (Matt 16:16) en met sy eerste preek op die dag van Pinkster het hy verklaar: “Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.” (Hand 2:36.) Keiser Julianus die Afvallige, het met sy laaste woorde op sy sterfbed verklaar: “Jy het oorwin, o Galileër.”
Tot groot voordeel van die wêreld
Wie is hierdie Jesus van Nasaret dus? Wie is hierdie Galileër? Wie is hierdie man wat die eeue uit hulle skarniere gelig het, die kalender in twee verdeel het en die verloop van die mens se geskiedenis verander het? Waar Sy ware volgelinge ook al gegaan het, het hulle die wêreld ten goede verander. Daar is inderdaad nie ’n land waarheen die Christendom geneem is en waar dit nie tot groot voordeel van die inwoners gestrek het nie. Hoe is dit moontlik dat geen man of vrou al ooit op hulle sterfbed spyt was dat hulle ‘n Christen is nie?
Een uitsonderlike lewe bo alle ander
Dr. James Allan Francis, het in 1926 in ’n essay, ‘One Solitary Life’, oor Christus geskryf: “Hier is ’n man wat op ’n onbekende dorpie gebore is, die kind van ’n plattelandse vrou. Hy het op ’n ander dorpie grootgeword. Hy het in ’n timmermanswerkwinkel gewerk totdat hy dertig was. Daarna was Hy vir drie jaar lank ’n rondreisende prediker. Hy het nooit ‘n huis besit nie. Hy het nooit ’n boek geskryf nie. Hy het nooit ’n amp beklee nie. Hy het nooit ’n gesin gehad nie. Hy het nooit ‘n kollege bygewoon nie. Hy het nooit sy voet in ‘n groot stad gesit nie. Hy het nooit verder as twee honderd myl [312 km] van sy geboortedorp gereis nie. Hy net nooit enige van die dinge gedoen wat gewoonlik met faam gepaardgaan nie. Hy het geen geloofwaardigheid gehad, behalwe Sy eie woord nie. Terwyl hy nog ’n jong man was, het die openbare gevoel teen Hom gedraai. Sy vriende het weggehardloop. Een van hulle het Hom verloën. Hy is aan Sy vyande oorhandig. Hy het die bespotting van ’n verhoor ondergaan. Hy is tussen twee diewe op ‘n Kruis vasgespyker.
‘n Kragtige uitwerking
Terwyl Hy sterwend was, het Sy laksmanne oor Sy enigste aardse besitting – Sy bokleed – lootjies getrek. Toe Hy dood is, is Hy in ’n geleende graf neergelê danksy die deernis van ’n vriend. Negentien lang eeue het gekom en gegaan, en vandag staan Hy sentraal in die mensdom en aan die voorpunt van vooruitgang. Ek is in die kol wanneer ek verklaar dat hierdie een Lewe ’n kragtiger uitwerking op die lewe van die mens gehad het as al die leërs wat al ooit opgemars het, al die seemagte wat ooit opgebou is, al die parlemente wat ooit gesit het en al die konings wat ooit regeer het gesamentlik.”
’n Ander Jesus binne sektes
Party mense verkondig dat Hy net ’n profeet was, ’n verligte New Age-ghoeroe, ’n kosmiese Christus, ’n morele filosoof, ’n politieke revolusionêr, Migael die aartsengel, die broer van Lusifer, of ’n geesteskind van God. Baie kultusse glo dat Hy ’n god is, maar nie die Ewige God, of die Verlosser nie, en beslis nie die Here nie.
C.S. Lewis het tereg in sy boek, ‘Mere Christianity’, die volgende opmerking gemaak: “Ek poog om hiermee te verhoed dat iemand die dwase dinge kwytraak wat mense dikwels oor Hom sê: ‘Ek is gewillig om Jesus as ’n belangrike morele leermeester te aanvaar, maar ek aanvaar beslis nie Sy aanspraak dat Hy God is nie.’ Dít is die een ding wat ons nié moet sê nie. ‘n Blote mens wat dié soort dinge kwytraak wat Jesus gesê het, sal nie ’n belangrike morele leermeester wees nie. Hy sou eerder ‘n kranksinnige wees – op die vlak van iemand wat beweer hy is ‘n hardgekookte eier – of anders sou hy die duiwel self wees. Jy moet jou keuse maak. Óf hierdie Man wás en ís die Seun van God, of anders was hy ’n mal mens, of selfs erger. Jy kan Hom afmaak vir ‘n dwaas, jy kan op Hom spoeg en Hom duiwelbesete noem; of jy kan aan Sy voete neerval en Hom aanbid as Here en God, maar moenie met enige neerhalende onsin kom dat hy ’n belangrike menslike leraar was nie. Daardie opsie het Hy nie vir ons gelaat nie. Dit was glad nie Sy bedoeling nie.”
’n Ander Jesus binne die leer van die Evangeliese kerk
Daniel Darling het in ‘n aanlynartikel, ‘Counterfeit Christ figures we should stop worshipping’, gesê dat “Jesus deesdae baie gewild is, selfs op ‘n tydstip wanneer die Christendom toe-nemende sosiale marginalisering in die gesig staar.” Hy merk voorts dat “van politieke en sosiale bewegings tot bufferplakkers het ons Jesus as ‘n gelukbringer vir ons gunstelingsaak toegeëien”.
Is dít egter die ware Jesus van die Bybel of ’n Jesus wat ons self geskep het? Christus se doelwit is om ’n volk uit te roep en in hulle gestalte te kry, maar oënskynlik stel ons meer daarin belang om Jesus na ons gelykenis te omskep. Dit as asof ons Jesus goedsmoeds kan omskep in wat ons ook al wil hê Hy moet wees. Spoedig lyk die Jesus, op wie ons aanspraak maak ons aanbid, eienaardig genoeg, soos die mens in die spieël.
In watter opsig kom ons in die versoeking om Jesus te omvorm, soos klei, in wie ons wil hê Hy moet wees? Ek noem ‘n paar van die eensydige Jesus-figure op wat gewildheid verwerf het in die kontemporêre Westerse Christelike kultuur, soos aangetoon deur onder andere Darling:
Die ghoeroe-Jesus
Dit is die Jesus van die Enlightenment en New Age. Deur die geskiedenis heen kom hy voor as ’n belangrike morele leermeester, maar was nie naastenby so radikaal soos die Jesus van die Evangelies nie. Dit is die wyse, minlike figuur wat perfek aansluit by die ander morele leermeesters en gods-diensleiers soos Boeddha, Confucius, Krisna, Vishnu en andere. Dit is ’n veilige Jesus wat net oor goeie, opbouende, opheffende dinge praat en ons nie pla met gevaarlike praatjies oor die koninkryk van God nie. Ghoeroe-Jesus is die “kosmiese terapeut” na wie toe ons kan gaan wanneer ons hom nodig het vir raad en verse-kering. Die probleem met hierdie Jesus is dat hy die opgetekende historiese feite oor Jesus en Sy aansprake misken en nie die gebiedende Christus van die Skrif is nie. Ghoeroe-Jesus vervul nie die diepste versugting van die mens se gees vir verlossing en vrymaking van sonde en die dood nie.
Die sosialistiese Jesus
Dit is die Jesus van die progressiewe, sosiale agenda wat antikapitalisties is en nie betrekking het op persoonlike verlossing deur die geloof nie. Hoewel dit waar is dat die koninkryk van God goeie nuus vir die armes is, was Christus se koms nie die eerste koms van ‘n Karl Marx nie, maar God se Ewige verlossingsplan en die inhuldiging van ‘n nuwe verbond wat deur die lewe, dood en opstanding van Christus bemiddel is. Die utopiese droom van sosialisme is banaal in vergelyking met die wêreldwye vernuwing wat deur Jesus Christus en Sy koninkryk belowe word.
Die polities-korrekte Jesus
Dit is die polities-korrekte Jesus wat so in die mode is onder baie goedgesinde, progressiewe, liberale evangeliese Christene. Dit is die Jesus waarin ons almal soms in versoe-king kom om te aanvaar. Hy vervang die sogenaamde “kwaai God van die Ou Testament” met ’n merendeels vreedsame, genesende, billike Jesus wat nie kontroversieel is nie. Hy is aangenamer as die Apostel Paulus, wat blykbaar net nie ons een-en-twintigste-eeu se sosiale norme kan begryp nie. Hy is die verdraagsame, “gawe” Jesus wat onvoorwaardelik liefhet, wat hoog aangeslaan word deur morele humaniste. Daar is net een probleem met hierdie polities-korrekte Jesus; anders as die Christus van die Skrif wat ons met ’n opofferende liefde lief het en van ’n “onbreekbare wet” gepraat het; wat nie gekom het om “een jota of een titteltjie van die wet” ongeldig te maak nie, maar om die Wet “te vervul”. Die ware Jesus het kontroversiële dinge oor die huwelik, die hel, oor berou, oordeel en Sy komende koninkryk gesê, met vereistes daaraan gekoppel.
Die ‘He-man’-Jesus
Hierdie Jesus het gekom om mans te help om hulle manlikheid te herwin in reaksie op ’n manlikheidskrisis. Dit is die Jesus van Braveheart, Rambo, John Wayne en grootwildjagters. Christelike manlikheid word egter nie gedefinieer deur grootpratery en verweerkuns nie. Die Jesus van die Skrif was taai sowel as teer, ’n man wat tereggewys en gekoester het.
Hy het nie gekom om mans in ’n hiper-manlikheidskonteks te laat inpas nie, maar om hulle in mans te verander wat hulle unieke doel vir die koninkryk vervul as dienende leiers binne die huisgesin, die Kerk en die gemeenskap. Daar is slegs genesing vir vaderloosheid en verwronge manlikheid wanneer mans verander word deur hulle gevalle aard van Adam neer te lê om Jesus Christus van Nasaret, die Galileër te volg.
Die patriotiese Jesus
Dit is die Jesus van patriotiese nasionale vernuwing, wat ’n herlewing van tradisionele waardes en ’n terugkeer na die sogenaamde “glorieryke dae” van gister inlui. Hierdie Jesus stel altyd teleur omdat hy bevrediging wil vind in korttermynoorwinnings in plaas van die langtermynuitgangspunt van die koninkryk van God. In teenstelling hiermee stel Jesus van Nasaret net nie belang daarin om Suid-Afrika, Amerika, of enige ander nasie na ‘n vals era van vergange waardes te herstel nie. Hy het gesterf en weer opgestaan om die hele skepping van die vloek van sonde te herstel en vernuwe. As Christene sien ons uit na daardie Hemelse stad wie se bouer en skepper God is.
Die dr. Phil-Jesus
Hy is die tawwe wysgeer en die gewer van goeie raad. Evangeliese Christene blyk baie van hierdie Jesus te hou. Hy het die oplossing vir al hulle probleme. Vir hulle kom hy naby die Christus van die Bybel, wat die antwoord op ons diepste versugting is. Tog verruil hy ‘n strewe na Christus en die beeld van Christus in ons, vir ‘n strewe na beginsels. Jesus Christus van die Skrif word eerder ’n middel tot ‘n doel in ‘n vyf-stappe-rehabilitasie-program as die sentrale fokus van ons aanbidding. Hierdie Jesus, wat jou huwelik sal herstel, jou volgende werksonderhoud gaan skep en verseker dat jou kinders dit tot op universiteit gaan maak, is op die ou end ’n teleurstellende godheid wat ’n sedelike moralistiese, terapeutiese deïsme verkondig wat magteloos is om te verlos. Die ware Jesus Christus van Nasaret lei ons nie na ’n stel beginsels toe nie, maar na Homself !
Die voorspoed-Christus
Hierdie Jesus is die dr. Phil-Jesus se spandabelrige neef. Hy maak nie net beloftes van ’n lewe van oorvloed nie, maar ook van rykdom en ’n welvarende lewe. Die rykes, diegene wat in ivoortorings woon, waar vervolging en probleme skaars is, word veral na Hom toe aangetrek. Hy is die antwoord op ’n skuldige gewete vir diegene wat in afgodery, hebsug, selfsug en oorvloed leef. Op die een of ander manier is hy, vreemd genoeg, verwyderd van die sukkelbestaan van die meeste ander Christene wêreldwyd. Die voorspoed-Jesus, is ‘n verraderlike dwaalleer wat op die armes teer om hulle geld af te rokkel en teleurstelling en ruïnering veroorsaak wanneer die beloofde voorspoed nie ‘n werklikheid word nie. Die ware Christus van die Skrif belowe nie privaatvliegtuie en duur vakansiehuise nie, maar die teenwoordigheid van God te midde van moeilike omstandighede, en ’n selfverloënende getrouheid in ‘n gevalle wêreld. Voorts bied die Christus van die Skrif ‘n baie beter “toekomstige opgawe op belegging” as die korttermynskatte van enige aardse koninkryk.
Die post-kerk-Jesus
Die post-kerk-Jesus laat jou toe om Hom te aanbid sonder al die doenighede van die institusionele kerk. Diegene wat uitgebrand is deur die kerk wat te polities of wetties is, word na hom aangetrek. Hierdie Jesus lok diegene wat moeg is vir ’n Evangelie wat meer soos tradi-sionalisme klink as die Evangelie van Christus. Die ware Jesus van die Bybel bied Sy volgelinge egter nie die opsie om Hom te volg sonder om deel van die Kerk te wees nie. Die einste handeling van wedergeboorte deur geloof, doop die gelowige in Sy Liggaam. Christus het Sy Bruid lief en bied geen pad wat vrug dra buiten die gemeenskap van die gelowiges nie.
Die beste Vriend-Jesus
Die beste-Vriend-Jesus is een wat goed pas binne ons hedendaagse, selfaanbiddende jeugkultuur. Hy sinspeel op die waarheid van die ware Christus, wat persoonlike verlos-sing bied en ‘n Vriend van sondaars is. Hierdie Jesus, van die moderne aanbiddingsliedjies, klink meer soos ’n ekskêrel wat behoeftig en vasklouerig is, as die regverdige Vors in die boek Openbaring. Hy het ook oënskynlik geen verbintenis met 2 000 jaar van Kerkgeskiedenis en die gewigtigheid van Christen-ortodoksie nie. In plaas daarvan is hy ‘n ligte, prettige, persoonlike en private Jesus wat losstaan van die komende Koning van regverdigheid en gereg wat in die Skrif beskryf word. Hy keur sonder voorbehoud ons lewenstyl goed. Hy is die Jesus van pop-evangeliese Christendom wat baie min voorbereiding vir moeilike tye, en min ankerplek vir die komende kulturele storms bied.
Wettiese Jesus
Laastens, meng hierdie Jesus net soos die Fariseërs, reëls oor kleinlike sake met ortodoksie. Hierdie Jesus wat deur party vermy word, is aantreklik vir ander omdat hy ’n eenvoudige lys van reëls bied waarvolgens hulle kan leef. Hy laat sy volgelinge toe om die daaglikse praktyk van berou, vergifnis en die Heilige Gees se heiligmakende werk te ignoreer vir ’n kontrolelys-Christenskap. Die probleem is dat sy evangelie nie diegene wat verlore is, kan red nie. Dit bied ’n lewelose godsdiens wat uiterlike verandering nastreef ten koste van innerlike vernuwing en genade. Net die ware Christus, Wie se lewe, dood en opstanding persoonlike verlossing bied – het die krag om lewes te ver-ander en Sy kinders na Hom toe te bring.
Ter afsluiting
Elkeen van hierdie Jesus-figure bied slegs ’n gedeeltelike blik op die ware Jesus van die Bybel deur net sekere aspekte van Sy karakter te beklemtoon. Dit weerhou Christene daarvan om in aanbidding aan die voete van die ware Christus die Seun van God, die Verlosser van die wêreld te kniel. Enige weergawe van Christenskap wat toelaat dat ons Jesus aanpas by wat ons pas, hoe aantreklik ook al, sal tot ‘n geestelike doodloopstraat lei. In plaas daarvan moet ons ware vreugde en verlossing vind deur ons hart in aanbidding en gehoorsaamheid aan die oorspronklike Jesus van die Skrif te wy.
PAUL DANIEL is stigter en hoofpastoor van Gateway Christian Family Church Durbanville. kontak hom by candice@gatewaycfc.co.za


40 Wonderwerke van Jesus

1. Gebore uit ’n maagd (Matt 1:18-25)
2. Verander water in wyn (Joh 2:1-11)
3. Genesing van die regeringsamptenaar se seun (Joh 4:43-54)
4. Genesing van ’n besetene in Kapernaum (Mark 1:21-27)
5. Genees Petrus se skoonma (Luk 4:38-39)
6. Genees die siekes in die aand (Matt 8:16)
7. Eerste wonderbaarlike visvangs (Luk 5:1-11)
8. Jesus genees ’n melaatse man (Matt 8:1-4, Mark 1:40-45, Luk 5:12-14)
9. Jesus genees ’n offisier se slaaf (Matt 8:5-13, Luk 7:1-10)
10. Jesus genees ’n verlamde man (Matt 9:1-8, Mark 2:1-12)
11. Jesus genees ’n man met ’n verdorde hand
(Matt 12:9-14, Mark 3:1-6, Luk 6:6-11)
12. Jesus wek ‘n weduwee se seun uit die dood uit op (Luk 7:11-17)
13. Jesus maak die storm stil (Matt 8:23-27, Mark 4:35-41)
14. Jesus dryf demone uit ‘n man in ’n varktrop in (Mark 5:1-20)
15. Jesus genees ’n vrou in die skare (Mark 5:25-34)
16. Jesus wek Jaïrus se dogtertjie uit die dood op (Matt 5:25-34)
17. Jesus genees twee blindes (Matt 9:27-31)
18. Jesus genees ’n stom man (Matt 9:32-34)
19. Jesus genees ’n invalide by Betesda (Joh 5:1-15)
20. Jesus voed 5 000 mense (Matt 14:13-21)
21. Jesus loop op die see (Joh 6:16-21)
22. Jesus genees baie mense in Gennesaret (Matt 14:34)
23. Jesus genees ‘n heidense vrou se besete dogter (Mark 7:24-30)
24. Jesus genees ’n doofstom man (Mark 7:31-37)
25. Jesus voed 4 000 mense (Matt 15:32-39) “Toe het Jesus Sy dissipels na Hom geroep en gesê: Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie; en Ek wil h ulle nie graag honger wegstuur nie…En Sy dissipels sê vir Hom: Waar sal ons in die woestyn soveel brode vandaan kry om so ‘n groot skare te versadig? Toe sê Jesus vir hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle antwoord: Sewe, en ’n paar vissies. En Hy het bevel gegee aan die skare om op die grond te gaan sit. Toe neem Hy die sewe brode en die visse, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan Sy dissipels, en die dissipels aan die skare. En hulle het almal geëet en versadig geword; en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol.”
26. Jesus genees ’n blinde man by Betsaida (Mark 8:22-26)
27. Jesus genees ’n man wat blindgebore is (Joh 9)
28. Jesus genees ’n seuntjie wat duiwelbesete is (Matt 17:14-20)
29. Die wonderbaarlike vis met ’n muntstuk in sy bek (Matt 17:24-27)
30. Jesus genees ’n besetene wat blind en stom is (Matt 12:22-23)
31. Jesus genees ’n vrou wat 18 jaar lank kranklik was (Luk 13:10-17)
32. Jesus genees ’n man wat aan edeem ly (Luk 14:1-6)
33. Jesus genees 10 melaatses (Luk 17:11-19)
34. Jesus wek Lasarus uit die dood op (Joh 11:1-45)
35. Genesing van Bartimeus (Markus 10:46-52) “En hulle het in Jerigo gekom. En toe Hy en Sy dissipels en ’n aansienlike skare uit Jerigo uitgaan, sit die blinde man, Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad en bedel. En toe hy hoor dat dit Jesus die Nasarener was, begin hy om uit te roep en te sê: Seun van Dawid, Jesus, wees my barm-hartig…Toe gaan Jesus staan en sê dat hy geroep moes word; en hulle roep die blinde man en sê vir hom: Hou goeie moed, staan op! Hy roep jou. En hy gooi sy oorkleed af, staan op en kom na Jesus toe. En Jesus antwoord en sê vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: Rabboni, dat ek mag sien. En Jesus sê vir hom: Gaan, jou geloof het jou gered.
En dadelik het hy gesien en Jesus op die pad gevolg.”

36. Die verdroogde vyeboom sonder vrugte (Matt21:18-22)
37. Die genesing van die soldaat met die afgekapte oor in Getsemane
(Luk 22:50-57)
38. Die opwekking van Christus (Joh 20:1-10)
39. Die vangs van 153 visse (Joh 21)
40. Die Hemelvaart van Jesus Christus (Mark 16:19-20)

Hy het soos ons geword sodat ons soos Hy kon word.
Hy is verwerp sodat ons aanvaar kon word.
Hy is veroordeel sodat ons vergifnis kon ontvang.
Hy is gestraf sodat ons begenadig kon word.
Hy het gely sodat ons versterk kon word.
Hy is gegésel sodat ons genees kon word.
Hy is gehaat sodat ons liefgehê kon word.
Hy is gekruisig sodat ons regverdig gemaak kon word.
Hy is gemartel sodat ons vertroos kon word.
Hy het gesterf, sodat ons mag lewe.
Hy het na die hel afgedaal – sodat ons Hemel toe kan gaan.
Hy het verduur wat ons verdien – sodat ons kan geniet wat slegs Hy verdien.