Verander van n geestelike toeris na n waagmoedige navolger van Jesus

Ek skryf nou die dag op Twitter: “To see the Rubicon without crossing it, is the difference between a tourist and an adventurer.” Waagmoediges steek grense oor. Hulle doen wat Julius Caesar daar in die jaar 49 v.C. gedoen het toe hy die Rubicon-rivier met sy Romeinse troepe oorgesteek het. Hierdie rivier het die Romeinse provinsie van Italië geskei. Plaaslike goewerneurs soos Caesar is egter nooit toegelaat om Italië met hulle troepe binne te marsjeer nie.
Dit was gelyk aan hoogverraad, maar Julius Caesar en sy legioen, die ‘Legio XIII Gemina’, het toe die Rubicon oorgesteek op pad na Rome toe. Daar het die dood, of lewe, op hom gewag. Invloedryke lede van die Romeinse senaat wat hiervan te hore gekom het, het egter dadelik uit Rome gevlug. Hierna is Rome onder Julius Caesar se bewind tot ’n keiserryk hervorm.
Rubicon-ervarings van invloedryke Christene
Dit is nie net militêre leiers wat grense oorsteek nie; elke Christen wat die wêreld tot op hede in die Naam van Christus verander het, het iewers ook ’n Rubicon-ervaring beleef:
• Die apostel Paulus het sy eie Rubicon oor-gesteek daardie dag naby Damaskus toe Jesus Self aan hom verskyn het. Van toe af was alles anders; in so ’n mate dat Paulus jare later vir die Filippense kon skryf: “Vir my is om te leef Christus en die dood ’n wins!”
• Martin Luther se Rubicon het op 31 Oktober 1517 by die kerkdeur van Wittenberg aangebreek, toe hy sy 95 stel-lings daar vasgeslaan het. As gevolg van sy hervormings, wat die ganse wêreld se koers verander het, is Luther aan die begin van die jaar 2000 as die derde invloedrykste persoon van die vorige millennium aangewys.
• Die Poolse priester, Maximilian Kolbe, se Rubicon-oorsteek-dag was aan die begin van Augustus 1941 in die Auschwitz-strafkamp. Toe dit blyk dat ’n gevangene ontsnap het, is tien ander Joodse gevangenes daardie dag goedsmoeds uitge-kies om uitgehonger te word en te sterf. Franciszek Gajow-niczek was een van hulle. Hy het dadelik om genade gesmeek omdat hy ’n vrou en kinders het. Toe Maximilian Kolbe, een van die min Christene wat in Auschwitz was omdat hy Jode in sy klooster weggesteek het, hierdie man se pleitroepe hoor, het hy dadelik aangebied om sy plek in te neem. Kolbe het toe op 14 Augustus 1941 gesterf nadat daar suur in sy are gespuit is.
• Vir Desmond Tutu het die keerpunt op ’n dag in sy kinderjare aangebreek in die Sophiatown-plakkerskamp. Tydens die oorhandigingstoespraak vir die Nobelprys vir vrede wat in 1984 aan hom toegeken is, is daar vertel hoe een spesifieke gebeurtenis ’n onuitwisbare indruk op die jong Desmond se lewe gemaak het. Trevor Huddleston, ’n Anglikaanse priester, het by hulle verby gestap en sy hoed uit respek gelig en Desmond Tutu se ma hoflik gegroet.“ I could not believe my eyes – a white man who greeted a black working class woman at school,” vertel hy later. Hierdie een gebaar van deernis het Tutu geleer dat ne-derige geloof in Christus alle grense tussen mense verwyder. Dáár is die saad geplant vir sy eie lewenslange roeping om versoening tussen mense te help bewerk.
• George L. Fox se Rubicon was op 3 Februa-rie 1943. Hy was ’n kapelaan aan boord van die USAT Dorchester toe ’n torpedo van ’n Duitse duikboot dit daardie dag tref. Die matrose is dadelik met reddingsbaadjies uitgerus, maar daar was nie genoeg vir almal nie. Iemand het benoud vir Fox kom sê dat hy nie een het nie, en dat hy sou verdrink. Net daar het Fox toe sy reddingsbaadjie vir hom gegee. Die drie ander kapelane aan boord het dadelik Fox se voorbeeld gevolg. Terwyl die matrose van die skip af weggeswem het, het Grady Clark, een van die oorlewendes, gehoor hoe hierdie vier kapelane tot eer van God sing en hardop vir die veiligheid van almal daar op die oop see bid.
Vir elkeen ’n keuse om te maak
Elkeen wat ’n indruk op ander oor Christus laat, weet van ’n ‘point of no return’, ’n keerpunt in hulle lewe. Daar was iewers ’n Rubicon wat hulle baie vroeg, of selfs laat in hulle lewe moes oorsteek. Op ’n dag was daar voor hulle ’n keuse tussen lewe en dood, tussen vorentoe of agtertoe. Net dit!
Steek jou Rubicon oor
So ’n Rubicon-ervaring verander ’n mens vir altyd. Dit verander jou van ’n geestelike toeris na iemand wat oorkant hierdie rivier vir Christus leef. Dit maak van jou iemand wat saam met Paulus uitroep: “Ek leef nie meer nie; Christus leef in my!” Kies vandag opnuut om dit ook te sê en jou Rubicon in Jesus se Naam finaal oor te steek.
________________________________________
PROF STEPHAN JOUBERT is die stigter van ekerk, ’n professor in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Noordwes en Radboud Universiteit te Nijmegen. Vir meer inligting: www.ekerk.org, of info@ekerk.org


n Slavin Se Getuienis

Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was ‘n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here ‘n oorwinning aan Aram besorg. Die man was ‘n dapper soldaat, maar hy het melaats geword. Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ‘n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. Sy het vir die vrou gesê: ‘Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.’
“Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit
Israel gesê het. ‘Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, ‘ek stuur jou met ‘n brief na die koning van Israel toe.’ Hy het vertrek en 340 kg silwer, 68 kg goud en 10 stelle klere met hom saamgevat. Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: ‘Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.’
Rebellie in hoogmoed
“Toe die koning van Israel die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: ‘Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.’” (2 Kon 5:1-7).
Elisa, die man van God, het toe te hore gekom dat die koning sy klere geskeur het en het ‘n boodskap aan die koning gestuur dat hy Naäman na Elisa toe moet stuur sodat “sodat hy kan besef dat daar ‘n profeet in Israel is.”
Toe Naäman met sy perdewa voor Elisa se huis opdaag, het die profeet hom beveel om hom sewe maal in die Jordaan te gaan was, waarop Naäman dan genees sal word en rein sal wees. Naäman het hom vererg en woedend weggery omdat daar volgens hom beter riviere in Damaskus was waarin hy hom kon gaan was. Sy verwagting was dat die profeet darem sou uitkom, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem.
Verootmoedig jouself
Sy amptenare het egter gesoebat en mooigepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?”
Naäman het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het. Hy is genees en sy vel het “gesond geword soos dié van ‘n klein seuntjie en hy was weer rein.” Hy het teruggegaan na die man van God toe en gesê: “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel.” (2 Konings 5: 8-15).
Vry van omstandighede
Wat kan ’n mens sê oor hierdie diensmeisie en haar ongelooflike goeie gesindheid te midde van sulke ongunstige omstandighede? Sy word eenvoudig as “’n jong dogtertjie” beskryf, maar tog het haar storie ’n indruk op my gemaak. Ek wonder of ek in dieselfde omstandighede ook so dapper sou wees?
Sonder ’n naam, agtergrond en roemryke titel blyk haar lewe alledaags te wees. As ons dit egter van nader bekyk, leer ons ’n waardevolle les by hierdie eenvoudige diensmeisie. Kom ons kyk in die eerste plek na haar geloofslewe as diensmeisie en slaaf. Dit was ’n lewe waar sy heel moontlik van haar familie en vriendekring vervreemd was.
Sy moes ook met die wete saamleef dat haar wêreld en daaglikse take heelwaarskynlik vir die res van haar lewe dieselfde sou bly. Sy was vasgevang in haar omstandighede, maar die ongelooflike is dat sy nie daardeur gebonde was nie.
‘n Positiewe ingesteldheid
Ten spyte van haar aardse meesters en te midde van slawerny, kies hierdie jong diensmeisie om met ’n positiewe en hoopvolle ingesteldheid die goeie nuus van haar Hemelse Meester te deel. Haar gesindheid laat my nadink oor my eie toewyding. Al druk die lewe my soms in ’n hoek, behoort ek steeds te fokus op die geleentheid wat ek het om die goeie nuus van ons Verlosser te verkondig.
Hierdie diensmeisie, wat volgens my ’n sterk vrou is, getuig van God se vermoë om te genees, min wetend dat haar getuienis ’n man, wat in daardie stadium vyandiggesind teenoor Israel is, inspireer en sy geloof versterk. ’n Man wat nou vir die res van sy lewe van God se ge-nesing kan getuig – alles te danke aan ’n jong, beginselvaste diensmeisie se getuienis oor God se goedheid.
Ons kan God aan ander openbaar
Die vraag is: Hoe reageer ons wanneer ons onsself in “ongunstige” omstandighede bevind? Besef ons dat hoe ons daarop reageer en leef, ander se lewens dalk radikaal kan verander?
Vriende van God, laat ons ons getuienisse deel en so God se genade openbaar maak.
________________________________________
GERALD FERREIRA is pastoor van VRIEND VAN GOD Tel: 021 592 3777 of e-pos:
info@vriendvangod.co.za


Marilize de Clercq – Skoonheid Wat Van Binne Kom

Marilize de Clercq is ’n gewilde persoonlike stilis en beeldkonsultant (‘image consultant’). Sy is was ‘n paar keer op Top Billing, waar sy raad gegee het oor mode en stilering. Hoewel haar lewe van buite prentjiemooi en volmaak mag lyk, moes sy diepe droefheid en verlies in haar lewe verwerk.
Marilize, hoe het jy tot bekering gekom?
Danksy ’n diep liefdesteleurstelling! Ek het net in my Christelike vriende se raad belanggestel, ek wou nie met enigiemand anders daaroor praat nie. Hulle het my bygestaan en terwyl ek so gehuil het daardie aand, was dit asof God vir my sê: “Wag vir jou trouman”. Ek het besluit ek wou nooit weer daardie pyn ervaar nie, ek gaan wag.
Een van daardie vriendinne nooi my toe saam na Urben Edge-kerk in Durbanville (ek is nou al 11 jaar lank daar). Ek was in daardie stadium ’n kulturele Christen, jy weet, grootgeword in ’n Christen-huis, maar nooit self die teenwoordigheid van die Here geken nie. Ek kon nie wag vir die pastoor om op te hou preek sodat ek my hand kon opsteek en Jesus aanneem nie.
Hoe het dit jou lewe verander?
Dit het my denkwyse verander. Ek mis niks van my lewe voor my bekering nie. Daar is nie ’n dag wat ek terughunker om by die klubs uit te hang nie. Ek is agt maande later gedoop en is later ook in die Heilige Gees gedoop omdat ek meer wou hê; ek wou graag in tale bid.
Vertel ons van jou man, Chris. Hoe het julle ontmoet?
Hy het ook in ’n Christen-huis grootgeword. Hulle was in ’n charismatiese kerk en hy stap al van hoërskooldae af ’n pad met die Here.
Ons was al 28 toe ons ontmoet het. Na my bekering het ek geweier om sommer weer ’n verhouding aan te knoop, nie voor ek geweet het dit is my trouman nie. Chris het dieselfde gevoel as ek. Ons wou wag totdat God die regte persoon oor ons pad bring.
Chris was by His People in Somerset-Wes, maar hy het vriende in Durbanville gehad wat hom vertel het van hierdie Christenmeisie wat hy moet ontmoet. Gelukkig het hulle niks vir my gesê nie en my eendag oorgenooi toe hy ook “toevallig” daar was. Hy het my toe soos in die ou dae soos ’n ware heer die hof gemaak.
Wat bewonder jy van jou man?
Ek het jare gelede ’n gebedslysie met 49 punte opgestel van al die eienskappe wat ek in ’n man soek. Toe ek vir Chris ontmoet, het ek al van die lysie vergeet wat êrens in my Bybel weggesteek is. Toe dit eendag uitval en ek dit lees, was ek verstom.
Hy het elke eienskap gehad wat ek neergeskryf het. Eerste op die lysie was: Lief wees vir die Here. Hy is intelligent, passievol, liefdevol, hy plaas altyd ander se belang eer-ste en hy is baie lojaal, ‘n man van sy woord – en hy kan kosmaak!
Julle het Gia, julle ongebore babadogtertjie op nege maande verloor. Wat het gebeur?
Ek het ’n volmaakte swangerskap gehad. Ons het altyd vir ons dogtertjie gebid, lewe oor haar uitgespreek en wanneer ek so in die kar gery het, het ek altyd lekker met haar gesels. Dit was ’n vreugdevolle swangerskap.
Op 39 weke het ek wakkergeskrik en kon haar glad nie voel nie. Ek het dadelik geweet iets is verkeerd. Toe die dokter sy sê sy is jammer…het ek gegil: “Jesus, I love you!” Ek weet dit was nie ek nie, dit was ’n geloofstelling wat ek moes maak. Chris het op die grond gesit en huil. Dit is ’n seer wat net die Here verstaan. Dit voel asof jou gees uitmekaar geskeur word. My hart het fisiek gepyn.
Daardie selfde dag het ek onder narkose geboorte gegee. Toe ek my oë oopmaak, het hulle haar vir my gebring. Ek onthou net hoe mooi en fyn sy was. Die oorsaak kon nie bepaal word nie, maar ek weet God het Sy redes, Sy doel daarmee.
Ek moes egter vrede maak dat Gód weet wat die beste is; dat Hy geweet het sy gaan nooit saam met ons sou wees nie. Daar is nie ’n dag wat ek haar nie mis nie. Ek kan nie wag vir die dag wat ek my dogtertjie weer gaan sien nie.
Hoe het jy dit verwerk?
As ek nie die Here geken het nie, sou ek dit nie oorleef het nie. Ek kon nie verdra om naby ander swanger vroue of mammas met babas te wees nie.
God se Woord sê: “Ek is met jou”. Hy is dieselfde God gister, vandag en môre. Ek moes vrede maak met God se woord. God het my daardeur gedra. Worshipmusiek het ook baie gehelp. Ek het mense vermy en net op my bed gelê en worshipmusiek geluister. Ek moes toelaat dat die waarheid voortdurend oor my spoel. Ek moes my gedagtes gevange neem en dit onderwerp aan die waarheid. Die musiek het my baie hiermee gehelp.
En Chris, hoe het hy dit verwerk?
Ek was baie bekommerd oor hom. Hy het ’n hele paar terugslae in daardie maand beleef en sy gemoed was op ’n laagtepunt. Ek het die Here gesmeek om asseblief op ’n baie spesiale manier tot hom deur te dring.
’n Tydjie voor Gia se stilgeboorte het my man gevoel dat hy ’n baie duur kitaar vir die worshipleier moes koop (en dit anoniem skenk). Tydens die week wat alles met Gia gebeur het, moes hy toe hoor dat die kitaar foutief is en teruggeneem moet word na die vervaardigers om herstel te word. Hy was so teleurgesteld en het die instrument by die worshipleier laat haal.
Chris het die oggend ná ek gebid het met die ou gesels oor sy nuwe kitaar en gemaak of hy niks weet nie…toe sê hy vir Chris: “Waarom sou ek teleurgesteld wees? Dit was nooit in die eerste plek myne nie, dit was ’n geskenk van God af.” God het die man se antwoord gebruik om tot Chris deur te dring en te help om Gia se dood te verwerk. Chris kon insien dat Gia ook maar net vir ons geleen was. Hy het skielik besef dat ons op niks geregtig is nie, alles is deur genade aan ons geleen deur ’n liefdevolle Vader.
Dit het ons albei se perspektief op die lewe verander.
Dit is nie maklik nie, die pyn is steeds daar, jy leer om met die seer saam te lewe, maar God het my geseën met ’n wonderlike seuntjie. Ek was sewe maande ná Gia se geboorte swanger met Christian, en die vreugde wat my seuntjie bring, maak
dit beter.
Was jy bang tydens jou tweede swangerskap?
Ek was verseker bang, maar het geleer om God te vertrou met die swangerskap. Ek moes daagliks my vrese laat gaan, maar ek het dit deur God se genade gedoen. Ek het toe besluit, selfs al sou God nooit weer iets vir my doen nie, ek Hom nog steeds sal aanbid.
Hoe het jy by stilering uitgekom?
Mense het gedink ek was onverantwoordelik om so ’n beroep aan te pak, maar God het my pad gelyk gemaak. Ek het eers by AAA School of Advertising gestudeer, maar kon net nie nie heeldag in ’n kantoor sit nie.
As student het ek altyd in klerewinkels gewerk en was van kleins af lief vir klere en mode. My eerste blootstelling aan stileringwerk was as ’n assistent vir Isabella Niehaus. Daarna het ek vir twee jaar lank by Fabiani as ‘n persoonlike stilis gewerk. Ek het vir al die rykstes klere gekoop en pakkies rondgedra, en baie geleer hoe om met mense te werk. Mense wat ek ken, het my genader en gevra of ek hulle nie kan help om klere te koop nie. En so het ek op Top Billing beland om ‘make overs’ te doen, wat gelei het tot wat ek nou doen en geniet.
Kan ‘n mens jouself mooi aantrek met gewone kettingwinkelklere?
Ja, verseker. Vir my gaan dit nie oor die winkel nie, maar oor die kleure en die klere wat by jou pas en dus sal enige winkel kan werk. Ek kyk na jou liggaamsvorm en werk daarvolgens. Dit hoef nie altyd die duurste klere te wees nie. Ek leer mense om op uitverkopings te koop.
Wie is meeste van jou kliente?
Van tieners tot Ouma. Ek het selfs kliënte van Kakamas af. Ek werk met mans en vrouens. Ouers stuur ook graag hulle tieners na my. Daar is ook baie ma’s wat graag ’n ‘make over’ wil hê.
Wat is jou raad aan iemand wat nie weet wat om aan te trek nie?
Kies iets wat jou gelukkig, gemaklik en goed laat voel. As jy voor jou kas staan, moet jy mal wees oor elke kledingstuk daarin, jy moet voel asof dit jou persoonlike boutique is. Hoekom hou jy dit andersins?
Watter raad het jy vir diegene net nie hou van hoe hulle lyk nie ?
Ek het altyd die swakste selfbeeld gehad en ek het eers op 28 vrede gemaak met hoe ek lyk en wie ek is. Ek kry baie te doen met vrouens met ’n lae selfbeeld. Ek laat hulle fokus op wat vir hulle mooi is van hulleself. Dan kyk ons na watter klere hulle kan dra. Ek leer hulle net om na die regte kleur en klere te kyk en dan kyk hulle anders na hulleself. ʼn Mens moet ophou fokus op die negatiewe en fokus op die positiewe.
________________________________________
Marilize is ook beskikbaar as ’n spreker. Kontak haar by www.marilizedeclercq.co.za
Fotograaf: www.claudiadenobrega.co.za


God Se Woord In Mensetaal

Het jy ook al gewonder hoe jy kan klaarmaak met beurtkrag en kragonderbrekings in jou geestelike lewe? Vra jy soms jouself af:
• Hoe prop ek myself by God se krag in?
• Hoe kan die bonatuurlike werking van die Heilige Gees in my geaktiveer word?
• Hoe leef ek konstant vanuit Sy vermoë, sonder om moeg en afgemat of ontmoedig te raak?
God se krag is nie onbereikbaar nie, trouens, elke gelowige kan ’n lewe van oorwinning leef, maar waar begin ’n mens?
Die grootste oorsaak van geestelike tamheid
Indien elke Christen-ingenieur, -onderwyser, -boer, -wetenskaplike en -boekhouer homself sou moes afvra: “Watter gedeelte van my lewe is sekulêr en watter gedeelte is geestelik?” sal daar miskien min variasie in hulle antwoorde wees, maar hulle (en min ander gelowiges) sal meer as 5% per week aan hul geestelike lewe toewy.
Wanneer ‘n mens geloofsbyeenkomste, Bybelstudie, gebed en aanbidding as geestelik beskou en die res as sekulêr, gaan jy saans gedaan voel. Niemand kan twee lewens lei sonder om moeg te word nie.
In die Ou Testament en selfs terwyl Jesus op aarde was, het mense nie onderskei tussen hulle geestelike lewe en hulle sekulêre bestaan nie.
Die Griekse denkwyse het hierdie onderskeiding gemaak en vandag is dit algemeen. Indien dit waar sou wees, beteken dit dat die grootste gedeelte van ons lewe nie regtig ewigheidswaarde het nie.
By implikasie beteken dit dat die meeste van die dinge waarmee ons onsself daagliks besig hou, nie werklik vir God saak maak nie. Miskien is ’n terugkeer na die antieke Bybelse beskouing van lewe nou, meer as ooit vantevore, nodig.
Miskien het hierdie gaping tussen die geestelike en sekulêre wêreld sy ontstaan te danke aan die feit dat ons nie besef dat alles wat ons ís, wat ons hét, en wat ons doén, te make het met ons verhouding met God nie. Of ons ontspan of werk; in ’n verhouding met iemand staan; of ’n ooreenkoms met ’n vreemdeling sluit, letterlik alles waarmee ons onsself besig hou, het te make met ons verhouding met God. Wanneer ons dít begryp word die lewe eenvoudig.
’n Lewende verhouding
Dit beteken ons is 24/7 in ’n verhouding met die Koning van die heelal, en die Almagtige is die konstante Bron waaruit ons funksioneer. Hy is nie soms naby ons en dan weer vér nie; of liewer, ons is nie sekere tye nader aan Hom as met ander geleenthede nie. Ons leef in ’n konstante, ewige verhouding met die lewende Here! Hierdie wete verander alles!
Nou bid ons nie meer uit nood nie, maar vanuit ons verhouding met ons Verlosser. Ons is oor alles in gesprek met Hom en Hy praat ook met ons!
Ons leer onderskei wat vir Hom belangrik is, terwyl ons saam met Hom leef en ons vra al minder vir dinge wat nie volgens Sy wil vir ons lewens is nie.
Kom in lyn met God se plan
Ons gebede word verhoor omdat ons in ooreenstemming met God se plan vir lewe funksioneer.
Dan word ons nie meer so moeg nie, want ons is in Hom en Hý is in ons! Sy krag ken geen einde nie en ons leer om daarvolgens op te tree!
Dit stel ons in staat om ook ons voor-veronderstellings, vrese en vooropgestelde idees te laat vaar. Miskien verduidelik ’n verhaal dit die beste. Stories gee mos lewe aan waarhede soos feite-oordrag nie altyd daarin slaag nie, daarom gaan ons na Naäman se lewe kyk.
Elisa en Naäman
Naäman, ’n offisier in die Siriese leër, was melaats. Hy het by ’n slawedogtertjie in sy huishouding gehoor van die groot profeet in Israel, deur wie die God van Israel wonders en tekens doen. Hy het besluit om Elisa om hulp te vra, maar homself vervies vir die profeet se eenvoudige raad: “Gaan was jou driemaal in die Jordaan.” God se opdrag by monde van die profeet het nie aan sy verwagtinge voldoen nie.
Naäman het amper sy genesing verbeur omdat…
• Sirië ook groot riviere het en die opdrag nie vir hom sin gemaak het nie
• Hy ’n kragtige woord en magtige daad van die profeet van God verwag het en slegs ’n eenvoudige opdrag gekry het
• Hy God uit nood aangeroep het en nie van-uit ’n hegte verhouding nie. Dit het daartoe aanleiding gegee dat sy persoonlike oortuigings sy oordeel beïnvloed het. Indien sy mede-reisigers hom nie anders oortuig het nie, sou hy onverrigter sake na Damaskus teruggekeer het.
Leer in ’n verhouding met God
Moenie nog ’n jaar laat verbygaan waarin jy die bonatuurlike krag van die Heilige Gees verbeur omdat jy vuurwerke verwag het nie, terwyl God dit so eenvoudig maak dat ’n driejarige dit deur Sy bonatuurlike krag en vermoë kan tuisbring nie. Wat is die punt wat ek wil maak?
LEEF IN ’n 24/7 VERHOUDING MET GOD! Dit gaan jou stoutste verwagtinge
oortref!
________________________________________
ELZA MEYER is die stigter en hoof-uitvoerende beampte van Turn2God Ministries. Vir meer inligting www.turn2god.co.za; elza@turn2god.co.za of skakel 012 997 5601.