Jou Roeping As Christen

In 2017 betree ons ’n nuwe jaar, ’n jaar van groot betekenis vir ons geloof. Dit is 500 jaar ná die Reformasie (1517): uit die Donker Eeue is ons terug na die Woord (Sola Scriptura); terug na Jesus as enigste Verlosser (Solus Christus); terug na redding uit genade en nie prestasie nie (Sola Gratia); terug na die besef ons word slegs deur geloof geregverdig (Sola Fide); en terug na die verheerliking van God alleen (Soli Deo Gloria). Hierdie ankers van ons geloof gee rigting en ’n doel aan ons Christenskap. Maar wat is mý doel as Christen?
Doellose Christenskap en gebrekkige getuies
Soveel Christene probeer hulle hele lewe lank uitvind wat hulle roeping is of om watter rede hulle geskape is. Baie min Christene kan presies vir jou sê wat hulle doel in die lewe is. Ons beroep, of ’n talent, kom by ons op, maar ons het nie ’n duidelike prentjie waarvoor presies ons geroepe is nie. Vra jy iemand watter deel van die Liggaam van Christus hy/sy is, is daar net so veel onsekerheid. Hoe is dít moontlik as die Skepper God ons Vader is?
As Hy selfs Sy Seun gestuur het om ons dóél te kom openbaar en herstel. Doellose Christenskap verklaar iets van die gebrek aan intensie en uitwerking van ons geloof op die wêreld om ons.
Geskape om twee unieke redes
Let wel: ons doel begin by God, die Een uit wie ons geskep is. Hy skep niks sonder ’n plan nie. Ons is elkeen beslis op aarde vir ’n doel. Kom ons begin by die begin. Die mens is vir twee unieke redes geskape: Om met God in verhouding te wees en om Hom op aarde te verteenwoordig (Genesis 1:26).
Die realiteit van ’n lewende verhouding
’n Lewende verhouding met God begin as ons tot wedergeboorte kom. Wat is ’n ‘lewende verhouding’? Die bewys van lewe is wisselwer-king/interaksie; dit kom van twee kante af. Ons verhouding met die Here stem hiermee oor-een: dit moet van twee kante af kom. Dit word verál ’n realiteit as ek Sy stem begin hoor. Jesus het gesê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt 4:4). Die probleem is nie dat God nie praat nie, maar ons wat dit nie hoor nie.
Hoeveel van ons gebede is slegs ons wat met God praat? En in hoeveel gebede luister ons na God se stem?
Navorsing deur die bekende Barna-insti-tuut toon aan Christene bid gemiddeld minder as 1 minuut per dag. Dit verklaar die gebrek aan doelgerigtheid in ons Christelike lewenswandel. Ons ontvang nie ons Vader se instruksies nie. ’n Soldaat kan hoé fiks en gereed wees vir die oorlog, maar hy beteken niks op die oorlogsveld as hy nie instruksies van sy bevelvoerder ontvang nie. Jesus is ons Bevelvoerder. Selfs Hy het gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so” (Joh 5:19). Om ons doel volledig uit te leef begin dus om God se stem te hoor – en dit te dóén.
Lees die res van die artikel in die Feb/Mrt uitgawe van JUIG!


Die Verlede Is nie Jou Identiteit Nie!

Wanneer ’n mens deur Wanda Bam se CV lees, kan dit nogal intimiderend vir ’n gewone sterfling wees – pastoor se dogter, gospelsangeres, televisie-aanbieder, outeur, hoof van die kunstedepartment by Moreletapark en tans aanbieder en programbestuurder by Kaapse Kansel, om maar net ’n paar te noem. Tog is sy baie eerlik oor die onvolmaaktheid van haar oënskynlik perfekte lewe. In haar boek, Wilderniswenke vir Vroue, vertel sy van geweld in die huwelik, haar eerste man se selfdood, haar egskeiding vyf jaar gelede, en haar broer se dood. Maar, moet vir geen oomblik dink dat dít haar definieer nie. God het voorwaar alles nuut gemaak en word verheerlik deur die oorwinning en heling waarvan Wanda se lewe getuig. Ek het by Kaapse Kansel by haar gaan inloer.
Wanda, was jy altyd so oop en eerlik?
My ouers was in die bediening en ek dink ’n mens leer onbewustelik dat jy ’n verantwoordelikheidslagie moet handhaaf as jy in die publieke oog is of as jy ’n pastoor se kind is. My ma het altyd gesê: “Onthou net jy is ’n voorbeeld vir die gemeente se dogters.” Dit was altyd die refrein – wees perfek. Ek het dus eers later in my lewe geleer om eerlik met myself en met ander oor slegte dinge in my lewe te wees.
Jy sê jy het as kind ervaar dat jy perfek moet wees. Was jy bewus van die druk wat dit op jou geplaas het?
Nee, glad nie. Dit was van kleins af ingeburger.
Tog het ek my kinders nie so grootgemaak nie, ek het altyd vir hulle gesê:” Dit is belangrik dat julle moet wees wie julle is.”
Was daar ’n punt in jou lewe waar jy besluit het jy gaan nie meer daarna streef om perfek te wees nie?
Dit het lank geneem. Met die skryf van Wilderniswenke is ek vir die eerste keer met ’n oorsig oor my lewe gekonfronteer. Op agt was ek so lief vir God dat my hart wou bars as ek oor Hom dink; toe ek by lof-en-aanbiddingsbediening betrokke raak, was dit ’n verligting om daaraan uiting te kon gee en ek het altyd voorbeeldig gelewe, maar die Here het geweet hierdie dogtertjie wat so lief vir Hom is, gaan verkeerde keuses maak en alles behalwe perfek wees; Hy het egter ook geweet dit gaan my relevant maak.
Toe ek dus met my onvolmaaktheid gekonfronteer word, het ek pynlik besef ek is nie meer die ‘perfekte’ dogter [van God] nie. ’n Mens kliek nie jy word groot met ’n gevoel dat jy ’n voorbeeld moet stel nie, jy ontdek dít die dag wanneer jy ’n fout maak en jy ervaar dat die terugvoer van ander mense verander – dadelik. Vriende begin anders optree. Die kerk behandel jou anders. Daar is skielik ’n nuwe stel reëls wat geld. Dit alles sê vir jou: “Jy is nie oukei nie.” Dit is waar ek dit fel, hard en duidelik beleef het.
Het jy baie van hierdie tipe verwerping ervaar?
Nee, gelukkig nie. Ek het baie genade beleef van Radio Kansel se ouens en van ds. Dirkie van der Spuy; mense wat nog steeds in my geglo het.
Jy praat van die geweld in jou eerste huwelik asook jou egskeiding van jou tweede man. Watter positiewe lewenslesse kon jy hieruit leer?
Die gesinsgeweld was grotendeels as gevolg van my man se posttraumatiese stresversteuring (PTSV) weens dinge waaraan hy blootgestel is tydens sy diensplig. As gesin het ons die ‘pose’ gehou. Al twee my dogters is geleer om te lieg – ek sê dit soos dit is. Hulle is geleer dat hulle vir niemand kan vertel wat vanaand hier gebeur het nie.
Ek moes ’n punt bereik waar ek vir myself in die spieël kon kyk en sê: “Wat was my aandeel?” As jy dit nie kan doen nie, moet jy nie vir my sê jy het deur iets gewerk nie. Jy moet daar uitkom, en dan besef jy, daar is dinge wat jou kinders by jou aan-geleer het. Ek moes vir my dogters om vergifnis vra omdat ek hulle, in sekere opsigte, ‘verkeerde waardes’ geleer het. Dit is nooit aanvaarbaar as ’n man vir die eerste keer net hard aan jou vat nie; jy mag nooit trou omdat jy iemand nodig het nie; jy moenie jou man ‘nodig’ hê nie. Rolprente en liedjies leer ons: “Ek kan nie sonder jou lewe nie”; “You complete me”. Dit is ’n vals verwagting, ’n leuen.
As jou identiteit in jou man gevestig is, gaan jy met verwronge verwagting die huwelik in. As hy jou teleurstel, moet jy kan aangaan, as die vuishoue geval het, moet jy helder kan dink en hulp kry. Moenie jok daaroor nie, moenie dit wegsteek nie, kry hulp. Vir jouself en vir hom.
Lees die res van die artikel in die Feb/Mrt uitgawe van JUIG!


Christus Se Voorbeeld As Dienaar

Die wêreld minag diensbaarheid, en mense wat ander dien, die werkersklas, word oor die algemeen as ‘n laer klas beskou. Dit is nie gesogte werk om iemand anders se dienaar te wees nie. Die woord ‘dienskneg/bediende’ is vervang met ‘werker’ in ‘n poging om die status van diegene wat ander dien, te verhoog. Ons is ook geneig om te verkies dat ander ons dien; die moderne lewe plaas die klem op die mens se ego en status.
Die diensknegte van God
In die Bybel sien ek egter iets wat heeltemal hiervan verskil. Eerstens word die engele, wat verheerlikte geestelike wesens is, “dienende geeste” genoem wat uitgestuur word om te dien (Heb 1:14); en in Openbaring 19:10 stop die engel Johannes die Apostel om voor hom neer te val en hom te aanbid, en sê die engel die volgende oor homself: “Ek is ‘n mededienskneg van jou …”
Die Apostels verwys dikwels na hulleself as diensknegte en in Openbaring 1:1 lees ons dat God die boodskap van die openbaring van Jesus Christus aan ons, sy “diensknegte”, stuur. In dieselfde vers word daar ook na Johannes die Apostel as ‘n dienskneg verwys.
Selfs Israel is geroep om ‘n nasie te wees wat dien (Jes 41: 8,9); om die Here te dien deur uit te reik na ander nasies en hulle met die lig van die Evangelie te bedien (Jes 60: 1-3).
Hy het nie gekom om gedien te word nie
Toe die dissipels stry oor wie die vernaamste onder hulle is, het Jesus hulle verwronge begrip van grootheid reggestel deur te sê: “Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens; Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” (Matt 20:26-28).
Jesus het hulle nie berispe omdat hulle na groot dinge gehunker het nie. Hy het hulle lie-wer geleer hoe grootheid in die koninkryk van God bereik kan word – deur ‘n dienaar te word.
Maria was Jesus se voete
Toe Maria Jesus se voete met die kosbare nardus-olie en haar trane salf, en sy voete met haar hare afdroog, was Simon die Fariseër verontwaardig omdat Jesus hierdie diensmaagd vanuit die lae klas toegelaat het om dit te doen. Jesus eer haar deur te profeteer dat daar deur die eeue heen met eer na haar verwys sal word oor dit wat sy gedoen het (om Jesus te dien).
Lees die res van die artikel in die Feb/Mrt uitgawe van JUIG!


Christelike Leierskap In Amerika

Nie alle Christene was entoesiasties oor die miljardêr se vordering tot in die Wit Huis nie, en hoewel daar beslis ruimte is vir gesonde kritiek en ’n versigtige benadering tot sy veldtogaansprake (asook sy persoonlike tekortkominge), bestaan daar ’n dringende behoefte vir ons om vir hom te bid en onsself op hoogte te bring van die waarheid. INcontext Ministries het ’n paar ter saaklike kwessies uitgelig wat in die liberale media verdraai word; lees asseblief hierdie artikel om jouself in te lig sodat jy met insig kan bid.
1. Leiers word deur God ingestel, ongeag of ons hulle goedkeur of nie
Christene moenie in die waan verkeer dat hoofstroommedia Bybelse perspektiewe sal verskaf wat benodig word vir die groter geestelike konteks nie. Daniël 2:20-21 stel dit baie duidelik dat God “tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel.”
Leiers word altyd deur God ingestel om die doel van Sy koninkryk te dien, en hulle word opgerig vir ’n seisoen, nie vir ampstermyne nie. God gebruik dikwels diegene wat vanuit ’n menslike perspektief onbevoeg mag lyk, maar wat juis aandag sal skenk aan die kwessies van daardie seisoen. Toe Dawid as koning aangestel is, het die Here Samuel herinner: “Die Here kyk nie na dieself-de dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” 1 Samuel 16:7. God ken president Trump se hart, en Hy weet wat Hy beplan om deur Trump te vermag. Ja, presi-dent Trump is vol gebreke en bied homself en sy oortuigings met uiterste arrogansie aan. Ja, daar is geen twyfel dat mnr. Trump nie die beeld van ’n dienaar soos Christus (Jesaja 42:1-2) weerspieël nie, maar God is besig om Sy planne vir ’n sekere seisoen tot vervulling te bring, en die Kerk moet hierin rus en vrede vind.
In ’n tyd waar die wêreld gekonfronteer word met dood, oorlog, terrorisme, vrees en wanhoop, kan ’n nuwe leier ’n nuwe koers vir Amerika bepaal. Dit is ’n seisoen vir hernieude pogings om nuwe platforms vir die Evangelie te skep sodat dit grense kan oorsteek en harte kan bereik. Amerika is steeds die grootste ‘uitvoerder’ van die Evangelie, en stuur net soveel sendelinge uit as die getal wat die daaropvolgende sewe nasies saam uitstuur. Die vorige administrasie se strewe na ‘geestelike verligting’ (enlightenment) en liberalisme in Amerika, het die verkondiging van die Evangelie bedreig. Die beleid van president Trump, ongeag ons van hom hou of nie, kan dalk ’n rol speel om dit te verander.
2. Nie almal is negatief nie
Die indruk wat deur die algemene media geskep word, veral liberale televisienuuskanale soos CNN, is dat die meeste Amerikaners teen president Trump gekant is en diep ontnugter is deur sy oorwinning; dat die verkiesing uiters verdelend was, en dat die ‘Verenigde State’ op pad is na die ‘Verdeelde State’. Daar is egter ’n groter prentjie ter sprake: terwyl daar inderdaad groot verdeeldheid in Amerika heers, is baie mense tóg toenemend positief oor wat die toekoms inhou. (Net ná die verkiesing was Trump se goedkeuringsindeks baie hoog onder die kiesers – dieselfde kiesers wat deur die liberale media geïgnoreer en as boos afgemaak word).
Lees die res van die artikel in die Feb/Mrt uitgawe van JUIG!