n Kreet Om Hulp

Nico Geldenhuys se ‘My brief teen die Kerkdeur (Die Burger 5/11/2011) het my ver laat terugdink. As regstudent op Stellenbosch, byna drie dekades gelede, het ek ook intens geworstel met vrae oor die bestaan van God, die geloofwaardigheid van die Bybel, die maagdelike geboorte, die opstanding van Jesus, ens. In my eie soeke na waarheid het ek later ontdek dat die waarheid nie soseer ʼn leerstelling of filosofie is nie, maar eerder ʼn Persoon.

Persoonlike liefdesverhouding
In Joh 14: 6 sê Jesus Christus: ‘Ek is die weg, die waarheid en die lewe’… en vir die laaste bykans 25 jaar het ek die onbeskryflike voorreg om ʼn persoonlike liefdesverhou¬ding met hierdie Persoon te hê! Die mens is ʼn drieledige wese: ons is gees, ons het ʼn siel (wat bestaan uit wil, intellek en emosie) en ons woon in ʼn fisiese liggaam en tydens my destydse worsteling het ek aanvanklik in my gees-mens antwoorde op die vrae hierbo gekry – en heelwat later ook op ʼn intellek¬tuele vlak. Soos Nico, worstel talle eerlike soekers na die waarheid juis op ʼn intellektuele vlak met bg. kwessies. In die verlede het talle skeptici wat die feite objektief beoordeel het, tot verrassende gevolg¬trekkings gekom!

Die Bybel is geloofwaardig
Die feit dat daar meer as 24 000 oorspronklike manuskripte van die Nuwe Testament bestaan, is eenvoudig merkwaardig.
Die boek wat die naaste hieraan kom, is die klassieke werk van Homer, ‘Iliad’, waarvan daar (slegs) 643 manuskripte bestaan! Wat manuskrip–outoriteit betref, is die Bybel dus in ʼn onaanvegbare voorste posisie. Dit opsigself verleen aan die Bybel buitengewone historiese akkuraatheid en betroubaarheid.
Teen hierdie agtergrond het Sir Fre¬derick Kenyon, voormalige kurator en direkteur van die Britse Museum en wêreldleier op die gebied van historiese li¬teratuurmanuskripte, gesê: “The last foundation for any doubt that the Scriptures have come down to us as they were written has now been removed. Both the authenti¬city and the general integrity of the books of the New Testament may now be regar¬ded as finally established.”
C.S. Lewis, literêre genie en professor aan die Oxford Universiteit, het juis tot be¬kering gekom toe hy die geloofwaardigheid van die Nuwe Testament probeer weerlê het. Hy sê: “I was one of the most reluctant converts, but I was brought to Jesus Christ because of my mind.”

Die Bybel is die Woord van God
Die Bybel bevat nie bloot die persepsies van Bybelskrywers nie. Die Bybel bevat ook nie die Woord van God (saam met mites, legendes en foute) nie. Die Bybel is die onfeilbare Woord van God. Twee Skrifte vorm die hoeksteen van hierdie uitgangspunt. 2 Tim 3: 16 sê: “Die hele skrif is deur God ingegee (Eng: ‘inspired’) en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.” Die woord ‘ingegee’ is ʼn vertaling van die Griekse woord ‘theopneustos’, wat in Engels vertaal word met ‘God-breathed’. Die oorsprong van die Bybel is dus God en nie die mens nie.
Die tweede skrif, 2 Pet 1: 21, sê: “want geen profesie is ooit deur die wil van ʼn mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” Dit is dus duidelik dat die Heilige Gees op ʼn bonatuurlike wyse gesorg het dat die geskrewe woorde van die Bybelskrywers die woorde van God self is.

Jesus het opgestaan
Dr. Simon Greenleaf, die man wat Harvard Universiteit beroemd gemaak het en een van die mees gerespekteerde regs¬geleerdes wat die VSA ooit opgelewer het, het tot bekering gekom juis toe hy gepoog het om Jesus se opstanding uit die dood as ʼn mite te ontbloot.
Hy sê: “According to the laws of legal evidence administered in the courts of justice, the resurrection of Jesus Christ is one of the best established events of history.”
Thomas Arnold, historikus en skrywer van die beroemde reeks boeke ‘The History of Rome’, het by geleentheid gesê: “I know of no fact in the history of mankind which is proved by better and fuller evidence than the Resurrection of Jesus Christ.”

Stawende getuienis 55 n.C.
Wat Jesus se opstanding uit die dood betref, maak Paulus in 1 Kor 15: 5 – 7 ʼn aardskuddende mededeling. In dié Skrifgedeelte sê hy dat Jesus se opstanding deur meer as 500 ooggetuies bevestig word en dat talle van dié ooggetuies met die skryf van sy brief aan die Korinthiërs in 55-56 n.C. nog geleef het! Indien ʼn hof in Paulus se tyd sou moes beslis of Jesus wel uit die dood opgestaan het, sou dié ooggetuies dus opgeroep kon word om te kom getuig ter be¬vestiging van Sy Opstanding! Enige hof, ook in ons tyd, sou met die aanhoor van soveel direkte stawende getuienis die bevinding maak dat Hy wel opgestaan het!

‘n Onbetwisbare feit
Ons kan dus verstaan waarom Lord Caldecote, voormalige hoofregter van Engeland by geleentheid gesê het: “… as often as I have tried to examine the evidence for Christianity, I have come to believe it as a fact beyond dispute.”

Intellek sal Gees-antwoorde kry
Hoewel Nico op intellektuele vlak nog met talle kwessies worstel, bestudeer hy gereeld sy Bybel en gaan hy elke Sondag kerk toe. Dit verras my glad nie – dit laat my wel die afleiding maak dat hy dalk tog in sy gees-mens aangetrokke voel tot die liefdevolle, genadige God van die Bybel.
Dalk vind hy – soos ek dekades gelede – ook eers in sy gees-mens, en later op die vlak van die intellek, antwoorde op sy vrae en kan hy uit oortuiging die kerk besoek. +


Mnr. SA Adriaan Bergh: Bou Op Die Regte Fondament

Op drie-en-twintigjarige ouderdom was dié student aan die Universiteit van Pretoria en veelsydige sportman die jongste nóg wat hierdie glansryke titel verower het. JUIG! het met die jongman, wat ’n passie vir die lewe het, maar onwrikbaar is in sy geloof in Jesus Christus is, gesels.

Jy is ’n Bosvelder in murg en been. Hoe hanteer jy die glanswêreld waarin jy nou, uit die aard van jou titel, gedwing word in die lig van jou agtergrond?
Die Bosveld sal altyd ’n deel van my wees, juis omdat ek daar opgegroei het. Tog geniet ek op die oomblik die stadslewe en die glans wat daarmee saam kom omdat hier tans so baie geleenthede vir my is. Ek gaan ook nou aan my ‘persoonlike handelsmerk’, wat ek volgende jaar gaan bekend stel, werk.

Naas ’n uitstekende sportman, is jy ook ’n suksesvolle model. Die modelwêreld word deur so baie as leeg en oppervlakkig beskou. Hoe hanteer jy dit?
Dis eintlik ’n storie met ’n kinkel. Ek is nog altyd ’n groot sportman en nie ’n model nie. Ek is maar toevallig deur een van hul ‘spioene’ raakgesien toe ek deel van ’n sportspan was. Van daar het dit na die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie gelei. Baie mense kyk bloot na modelle se uiterlike.
’n Mens moet versigtig wees om nie te veralgemeen nie – ek glo dat ek meer het om op die stadium te bied as net my voorkoms. Ek glo my akademiese agtergrond, my persoonlikheid en ook my sporttalente maak my veelsydig en veelkantig. Voorkoms kan té maklik van jou weggeneem word om net bloot daarop staat te maak.

Jy is ’n uitgesproke Christen, het aan ’n kompetisie deelgeneem wat grootliks op voorkoms fokus en deur baie in ’n negatiewe lig be¬skou word. Hoe reageer jy hierop?
Dit bly vir my ’n uitdaging om vir mense te vertel waaroor die kompetisie regtig gaan: beslis nie net voorkoms nie! Dit is so dat jy goed moet lyk, en goed versorg moet wees, maar die innerlike tel veel meer as die uiterlike! Ek is beslis ’n uitgesproke Christen en my lewe is op geloof in Christus en Christelike waardes, soos wat my ouers dit aan my oorgedra het, gebaseer. Ek glo ek sou nooit hierdie kompetisie gewen het as dit nie Here se Wil was nie.
Dit bied my die geleentheid om die Skrifgedeelte in Matt 5:14–16 uit te leef – “Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan nie wegge¬steek word nie! ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit dan onder ’n emmer toe nie. Allesbehalwe! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander.
Dan maak dit vir almal lig in die huis. Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal mense dit sien, en julle Hemelse Vader daarvoor prys!”
Ek glo ek sal dit met Sy hulp regkry om vir Hom te skyn. Ek gee Jesus Christus al die eer vir waar ek vandag in my lewe is! Ek glo ook dat deur voluit te lewe en alles na die beste van my vermoê te doen, ek Hom vereer wat aan my die talente gegee het.

Jy is jonk en enkellopend. Hoe bly jy rein in die hierdie glanswêreld waarin jy jou nou bevind?
Ja, ek is nog enkellopend, want ek het nog nie my regte lewensmaat ontmoet nie. Ek is ook nog baie jonk en glo die Vader het vir my die regte maat vir wie ek kan aanvul en wat my sal aanvul. Dit is waar dat die uitdagings daagliks meer word hoe meer ’n mens die glanswêreld betree.
En dit ís ’n groot toets vir my. Met Sy hulp sal ek altyd by my Christelike morele waardes hou. Ek beskik darem ook oor uitstekende selfdissipline, en dit help ook.

As Mnr. Suid-Afrika is jy baie bedrywig. Hoe maak jy tyd om, te midde hiervan, by God uit te kom?
In die sakewêreld is almal altyd besig, maar ek weet waarom ek op aarde geplaas is – ek het ’n doel in Hom en Jesus bly steeds Nommer Een! Geen mens wat erns maak met God kan ooit te besig wees vir Hom nie. Dis net reg om vir Hom tyd te maak.

Jy word as ‘ambassadeur vir Suid-Afrika’ gesien. Wat beteken die begrip vir jou en hoe verwesenlik jy dit?
Dit is beslis vir my ’n baie besondere voorreg om ’n ambassadeur vir die land te wees en ek streef daarna om te alle tye ’n voorbeeld vir almal in ons land, veral die jongmense, te wees. Dit is juis hier waar Matt 5:14 en verder, weer inpas. Ek weet ook dat ek nie perfek is nie, maar wanneer ek foute maak, wat beslis sal gebeur, weet ek dat Hy my sal ophelp.

Jy was in 2010 deel van die Vodacom Bulls, maar ’n besering het jou loopbaan kortgeknip. Vertel ons meer hiervan en hoe het jy dit hanteer?
Ek het ’n kniebesering opgedoen en dit was vir my nogal ’n slegte tyd, want ek kon geen sport doen nie. Dit was nog altyd my droom om ’n professionele sportman te wees; ek moes myself baie gou reg¬ruk en ander, nuwe drome na¬streef, daarop fokus en hard werk. As Christen glo ek dat niks ooit sonder ’n doel met ’n mens gebeur nie. Ek het reeds ’n paar drome verwesenlik en ek glo daar is nog groot dinge wat wêreldwyd op my wag.

Jy was op uni¬ver¬siteit (Tuks) deel van die Akade¬mie¬se Goue Sleutel. Hoe belangrik is die akade¬mie vir jou en beoog jy om jou kursus in die toekoms te gebruik?
Akademiese kwa¬lifikasies is baie belangrik – ’n mens kan nooit té goed gekwalifiseerd wees nie. Ek glo ’n mens moet daarna streef om die heel beste waartoe jy in staat is, in alles wat jy aanpak, te wees. Ek het dus nie net op my sport gefokus nie, maar ook my heel beste op akademiese gebied nagestreef.

Ek lees op jou webwerf dat jy nooit met tweede beste tevrede is nie. Is dit vir jou belang¬rik om altyd die toppresteerder in alles (akademie, sport en ander) te wees?
Ek was van jongs af so – ek het altyd my pa uitgedaag met enigiets net om hom te kon wen. Ek stel baie hoë eise aan myself en ek glo dit is die rede, bo en behalwe dat ek tot alles in staat is deur Hom wat my help en krag gee, waarom ek tot dusver suksesvol was in alles wat ek aangepak het.
Jy wil die jeug graag leer hoe om 24/7 gebalanseerd te wees. Wat behels hierdie ‘balans’ alles vir jou?
Baie mense is van me¬ning dat geld jou gelukkig kan maak, dit is egter nie waar nie.
Balans en selfaanvaarding is uiters belangrik. Daar moet altyd balans wees: in jou geloofslewe, jou familie, werk, sport, ontspanning en menseverhoudings. Dit is deel van die geheim tot sukses. Ek wil graag met die jeug gesels en hulle motiveer om na balans in hul lewens te streef.

Wat wag vir Adriaan as hierdie gloriejaar verby is?
Ek toer van mid-Januarie 2012 tot die einde van Februarie deur al nege provinsies en ek beoog om meer as 50 skole te besoek en met die jongmense te gesels. Ek gaan ook sakekamers, waar ek motiveringspraatjies gaan doen, besoek.
Ek wil graag die boodskap ‘Hoe om ’n gebalanseerde leefstyl te handhaaf’ wat op vyf punte gaan fokus, bring. Dit is ook my ‘handelsmerk’ – Balanced 24/7 – wat ek in die komende jaar wil vestig. +


Geslagshi�ragie In Die Huis

Die debat oor die rolle van die man en vrou in die huwelik, gesin en gemeenskap is al dekades aan die gang. Dit is ook nie verrassend dat dié bespreking nou ook in die Kerkgemeenskap woed nie. Die vrystelling van die film, ‘Courageous’, gebaseer op Christelike waardes, het die debat oor dogma weer opnuut laat vlamvat. Hierdie dogma, bekend as ‘Christelike Patriargie’, het een van ons lesers met dié woorde laat reageer: “Dit bevorder geslagshiërargie in sowel die Kerk as tuis.”
Patriargie leer klaarblyklik dat vrouens en kinders aan die man verantwoording moet doen en hy is weer, namens hulle, ver¬antwoordelik teenoor God. Volgens die leser leer sommige ‘patriarge dat vrouens en kinders hom onvoorwaardelik moet gehoorsaam; selfs al vra hy hulle om te sondig. T.s.v. die groeiende verwarring oor die geslags¬rolle, is die Woord van God baie duidelik oor die definitiewe rolle van die man en vrou in die huwelik en die gesin. Die verwarring oor hul rolle in die gemeenskap spruit uit sonde en die blatante minagting van die riglyne in Sy Woord.

God was beslis nie verward nie
God was nie verward toe Hy man en vrou geskape het en hul doel op aarde bepaal het nie. In Gen 1:26 – 28 het God die onsterf¬like gees van die mens geskep (Hebreeus ‘Bara’), die gees in manlik en vroulik verdeel, hul geseën en hulle oor die aarde laat heers en hul laat vermeerder.
Genesis 2:15 is die verslag van die skepping (Hebreeus ‘Asah’) van die mens (man en vrou) se fisieke liggame en God se opdragte aan Adam. “Toe vorm die Here God ’n menslike liggaam uit die stof van die aarde. Nadat Hy die asem van die lewe daarin geblaas het, het dit ’n lewende wese, die mens, geword.”
God het die man ’n stel opdragte gegee. “Die Here God het die mens in die Tuin van Eden aangestel om dit te bewerk en te versorg. Maar die Here God het hom gewaarsku: ‘Jy is vry om van enige boom in die Tuin te eet, behalwe van die boom van alle kennis. As jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.’” Gen 2:15-16. Dit is belangrik om te let toe Adam God se opdragte ontvang het, die vrou nog nie geskep was nie. Eers in Gen 2:18 lees ons dat sy as helper vir hom gemaak gaan word sodat hy nie langer alleen sou wees en dinge in die tuin alleen sou moes hanteer en ervaar nie.

Ontduik sy verantwoordelikheid
Dit hou dus in dat die vrou die man voltooi en komplementeer, maar nooit met hom kompeteer nie. Toe Adam sy opdragte van God ontvang het, was Eva nog nie geskape nie. God het dus die verantwoordelikheid as geestelike hoof van die huwelik en ge¬sin, aan die man toegesê. Eva se misleiding was die eerste keer dat die man gefaal het om verantwoordelikheid vir sy huwelik te neem.
Die eerste gevolg van hierdie sonde was dat hy onmiddellik sy vrou blameer het. (Gen 3:12). God verwerp die man se verskoning en oordeel Adam omdat hy nie sy ge¬sag gehandhaaf het nie en sodoende Sy opdragte verontagsaam het deur sy Godgegewe leierskapsrol in die huwelik ten gunste van sy vrou se versoek om te sondig, te abdikeer. (Gen 3:17).

Man en vrou gelyk
Man en vrou is as gelykes voor God geskape, maar met besliste verskille en aanvullende verantwoordelikhede en rolle in die huwelik, gesin en die Kerk.
Die Nuwe Testament herbevestig God se doel vir die mens, man sowel as vrou, in die huwelik, die gesin en in die Kerk. Ons lees baie duidelik daarvan in Ef 5:22-25 waar Paulus sê: “Getroude vroue, julle moet aan julle mans onderdanig wees. Doen dit soos vir die Here. Op dieselfde manier wat Christus leier is van die Kerk, is die getroude man leier van sy vrou.
Christus het sulke leierskap uitgeoefen toe Hy die Kerk verlos het. Soos die Kerk aan Christus onderdanig is, moet julle, getroude vroue, aan julle mans onderdanig wees. Getroude mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus liefde aan die Kerk bewys het toe Hy Sy lewe daarvoor gegee het.”

Volg Christus se voorbeeld
Dit maak nie saak hoe ons ook al hierdie Skrifgedeelte probeer verklaar nie, die opdrag is ondubbelsinnig – vroue moet aan hulle eie mans onderdanig wees. Dit is betekenisvol dat die Bybel na Christus as voorbeeld van begrip van hoofskap sowel as liefde vir sy vrou verwys.
Die Bybel se opdrag aan mans is duidelik: Hulle moet hul vroue liefhê op dieselfde manier as wat Christus die Kerk liefgehad het. Hoe het Hy dit gedoen? Hy het Sy lewe vir die Kerk gegee. Die vraag is: Hoeveel vroue sal sukkel om aan hul mans onderdanig te wees indien hul mans hulle só lief het? Die meeste vroue se opstandigheid teenoor hulle mans het juis ontstaan omdat hulle mans hulle nié so lief het nie.
Dit is interessant dat die Bybel die man telkens beveel om sy vrou lief te hê, maar daardie selfde opdrag word nie aan die vrou gegee nie. Die rede hiervoor? Vrouens is geskep om lief te hê. Vir hulle is dit natuur¬lik om te reageer op die liefde en aandag van hul mans. As gevolg hiervan het God nie ’n opdrag gegee vir dit wat vir vrouens natuurlik is nie.
Die mate waarin die man liefde en respek van sy vrou ervaar, is direk proporsioneel tot die liefde wat hy aan haar betoon.

Die Bybelse rol van die man
Die Woord beveel vaders om die kinders in die weë van die Here groot te maak. Lees Ef 6:4 in dié verband.
Die uiteindelike verantwoordelikheid vir die geestelike, emosionele en fisieke welsyn van die gesin berus dus by die man. Elke individu is egter voor God vir sy eie keuses ver-antwoordelik, maar God het baie duidelik die rol van profeet, priester en ko¬ning in die huwelik en gesin aan die man toegeken. In die profetiese rol moet die man die Woord van God in die lewens van die vrou en kinders spreek, terwyl die priesterlike rol vereis dat hy vir sy gesin bid en ernstig intree voor God en elke lid van sy gesin in die gebed aan die Vader opdra.

Dienaar-leierskap
Die rol van koning vereis dat ’n man in alle aspekte van die huwelik en gesin regverdig sal besluit en optree. God het nooit die man se rol as die van ’n diktator gesien nie. Kyk net weer na Jesus Christus as voorbeeld. Hy was beslis nie ’n diktator nie, maar ’n die¬naar-leier.
Die man se rol t.o.v. sy vrou en kinders behoort dus een van opofferende diens te wees. Die Christen-man behoort daarom nóóit sy eie behoeftes en begeertes bo die van sy vrou en kinders te stel nie.

Goddelike bloudruk verag
Ondergeskiktheid in Bybelse terme hou dus in dat Goddelike gesag en orde heers, nie die dominering van die een ten koste van die ander nie. Christus is die Hoof van Sy Kerk onder die gesag van die Vader. Die man is die hoof van die huis onder die ge¬sag van Christus. Hierdie Goddelike blou¬druk beskerm ons huwelike en gesinne. Die erosie van hierdie Goddelike beginsels is juis die tragiek van die moderne samele¬wing. Mans abdikeer op toenemende wyse hulle Godgegewe rolle.
As gevolg hiervan het vrouens hul be¬langrike rol in die gesin prysgegee en moes sekere verantwoordelikhede aanvaar wat uiteindelik nadelig was. Egskeiding vier hoogty en gesinne verbrokkel teen ’n ver¬ontrustende koers. Egskeiding is besig om ons samelewing te verwoes en het grootliks bygedra tot die sielkundige en emosionele wanfunksio-nering van miljoene jong lewens. Vaderlose huishou¬dings is deesdae die grootste bydraende faktor tot ’n hele magdom sosiale euwels.
Omdat die man hierdie verantwoordelikheid prysgegee het, word die verantwoordelikheid op die samelewing afgeskuif en dit lei tot welsynsbegro¬tings wat tot die uiterste beproef word. As gevolg van die man wat in sy Goddelike rol gefaal het, het die vrou probeer om die rol van beide ma en pa te vervul. Om die Bybelse idee van die hoofskap van die man uit te wis, het feministe ‘geslagsgelykheid’ verkondig deur met die man te kompeteer. Die bevryde vrou het vele seksuele maats, vergeet haar moederlike instinkte en aborteer selfs babas ten gunste van persoonlike ambisie. Aborsie in Suid-Afrika het in ’n mate in belastingbefondsde kontrasepsie ontaard. Die meerderheid babas wat hul lewens a.g.v. aborsie verloor, het weinig met geslagsgelykheid te doen, maar baie met die mens se rebellie teen God. Sonde veroorsaak altyd ongelykheid, maar nie Bybelse le-ring nie.
Die hoë aborsiestatistiek en die miljoene enkelouergesinne ten koste van die huwelik, is die getuie van hierdie tragiese sosiale verval op grond van hierdie gesins¬aftakelende misleiding en die noodwendige gevolge daarvan vir die mens.

Vroue speel ’n belangrike rol in die Koninkryk van God
Die gawe en salwing van vroue om in die Kerk te lei en te preek, is baie duidelik [in konteks]. Soos met mans, egter, is vrouepredi¬kers aanspreeklik en staan onder gesag, soos die Skrif dit bepaal. God laat toe dat hierdie vroue die le¬wens van vele aanraak in verskeie lande (soos China, Indië en Mosam¬biek) waar manlike leierskap ’n groot behoefte is.

Maak ’n verstandige keuse
Die tragiese toename in enkelouergesinne en die katastrofale sosiale gevolge van afwesige vaders, bewys dat God se oorspronklike ontwerp van die gesin die enigste model is wat regtig werk. T.s.v. die feit dat enkelmoeders uitstekende werk doen om hul kinders na die beste van hul vermoë groot te maak, kan hulle nooit kompenseer vir die afwesige vader nie.
God se opdragte is absoluut – daar is nie ruimte vir onderhandeling nie. Ons gehoorsaam òf Sy Skeppingsorde en beginsels vir die gesin òf ons kies om die wêreld se standaarde met die noodwendige vernietig¬ende gevolge aan te hang en uit te leef. Die enigste manier vir vrede, harmonie en stabiliteit in die huwelik en gesin is om na die Bybel terug te keer en aktief daaraan kan werk om God se bloudrukplan vir hierdie heilige instellings te herstel. +


EVANGELISASIE IN SY NAAM

Liewe Leser,

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed…” Matt. 11 v 28 – 30.
Die juk van Jesus was nog altyd ‘n onderwerp van in-diepte studie onder Bybelskool-studente. In Lukas hoofstuk 15, lees ons die verhaal van die herder wat op soek is na een enkele verlore skaap. Ons weet dat Jesus die groot Herder is van ons siele, en in hierdie gedeelte word dit duidelik hoe dat ons Meester Sy goddelike toewyding beskryf om die verlorenes te red en die gevangenes vry te maak. Die vyfde vers lees soos volg: “En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers.”
Die uitbeelding van die skaap wat oor die skouers van Christus gelê word, was oor die eeue heen kunstig gedemonstreer. In ‘n sekere sin kan die skaap, wat op so ‘n wyse gedra word, voorkom as ‘n las op die skouers van daardie persoon. Om die verlorenes te red, is inderdaad die juk van Christus! Hy vra van ons, as Sy volgelinge, om hierdie juk saam met Hom te dra. “Gaan dan heen, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom” was die opdrag wat Hy aan Sy volgelinge gegee het voordat hy opgevaar het na die hemel (Mark. 16 v 15). Om die Goeie Nuus van verlossing te verkondig, is ook die juk van elke gelowige! Sy juk het ook ons juk geword. Sy roeping, ons verantwoordelikheid. Hy is Verlosser, Geneesheer en Bevryder. Ons is Sy monde, hande en voete, wat Hom in staat te stel om alles wat Hy is, te word vir ‘n verlore-gaande en sterwende wêreld.
Die getuienis hieronder is van ‘n jong meisie wat genees is by ‘n onlangse IN HIS NAME veldtog in Malamulele, Suid-Afrika. Ek vertrou dat u seën sal put uit hierdie klinkklare bewys van die gretigheid van onse Here Jesus om te antwoord op elke pyn-roep uit die hart.
Hartlike groete,
Tamryn Klintworth

AL DANSENDE VIR JESUS

Geklee in denims en ‘n rooi sweetpak toppie, was klein Carol oorstelp van vreugde. Jesus het so pas haar been aangeraak en sy is so opgewonde! As aktiewe tiener, het Carol uitgeblink in atletiek en dans. Sowat ses maande gelede het haar een been onverklaarbaar begin opswel. Weens ‘n verlies van vog, en as gevolg van die swelling, was die ledemaat so pynlik dat Carol al hoe meer moes begin staat maak op krukke, en naderhand die skool moes verlaat weens die ernstige ongemak daarvan. ‘n Tekort aan onbekostigbare mediese versorging – en sonder ‘n man aan haar sy om hierdie las te help dra – het haar ma, Constance, nie her- of derwaarts geweet nie. Die nuus van die opkomende veldtog het belofte en hoop begin inhou. Ten aanskoue van die advertensie-plakkate van die veldtog, was Constance vasberade om haar dogter soontoe te neem vir gebed. Daardie Saterdagaand het sy presies dit gedoen – en ‘n wonderwerk het plaasgevind!

Carol verduidelik haar ondervinding: “Ek het soveel pyn gehad toe ek hier aangekom het. En, direk na die gebed, het dit verdwyn! Ek voel op hierdie oomblik geen pyn van enige aard nie. Ek is in staat om sonder my krukke te kan loop.” Carol glimlag breed. “Nou kan ek teruggaan skool toe,” sê sy. “Ek kan weer gaan hardloop en dans. Ek kan weer pryse begin wen!”. Constance is ook baie ingenome. “Ek is baie, baie bly!” sê sy. “Hierdie wonderwerk sal tot gevolg hê dat my familie ook in God sal begin glo. Selfs my eie geloof is hierdeur versterk. Nou weet ek – Jesus genees!”

Tamryn Klintworth is die stigter van In His Name Ministries, ‘n evangelisasie organisasie, toegewy aan die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus dwarsoor Afrika en die hele wêreld. Vir meer inligting, besoek die bediening se webtuiste by www.inhisname.org.za of kontak hulle by info@inhisname.org.za of +27 21 554 0841. U is ook welkom om Tamryn te kontak op Facebook (Tamryn Klintworth).