Ons land gaan deur ’n tyd van ongekende onrus, opstand, geweldpleging en bloedvergie-ting. Die brutale tonele speel gereeld op TV voor ons almal se oë af – van Marikana tot die plaasopstande in die Wes-Kaap. Hoe moet ons as Christene dit hanteer? Wat vra God van ons in hierdie angswekkende omstandighede? Is daar iets goeds, iets moois wat uit hierdie ellende gebore kan word?
Iets duskant burgeroorlog…
In Die Burger van 16 November 2012 het iemand onder die skuilnaam ‘Leerling-burger’ geskryf: ‘Hier (in die Ceres-vallei) was die laaste paar dae iets kort duskant burgeroorlog. Ek is oortuig dat dit net werklike genade is wat iets ergers gekeer het…Ek huil oor my land. Ons gaan hieruit leer. Hier gaan nuwe inisiatiewe kom wat nie sou kom sonder hierdie pyn nie.’
En hierdie e-pos was onlangs in omgang: ‘GEBEDSKETTING – PLAASSTAKINGS EN OPSTANDE: Here, ons kom staan voor U en ons pleit dat U alle stakings en alle geweld, sal stop. Here, ons bid vir vrede onder alle mense. U het gekom as Vredemaker, wil U nou (asseblief) hierdie vrede deur ons land laat vloei. Wil U (asseblief) haat met liefde vervang. Liewe Heer, werk deur die Heilige Gees dat ons land weer tot U sal terugdraai, gee ons verdraagsaamheid teenoor mekaar. Here gee weer be-stendigheid in ons land. Laat U Wil alleen geskied. Amen. Stuur asb. aan 10 persone.’ Hopelik het dié e-pos wel baie mense bereik en tot gebed aangespoor! Ons weet uit die Woord dat God ’n hoorder van gebed is!
Kerk raak betrokke
Vir ons almal wat vir vrede, harmonie en vooruitgang in ons land bid, is dit bemoedigend om te weet dat die Kerk nie met gevoude hande sit en toekyk nie. Dit blyk duidelik uit die feit dat die moderature van die NGK (Wes- en Suid-Kaap) en die VGK van die Kaap op 14 Nov. 2012 bymekaar gekom het om die arbeidsonrus in die Wes-Kaap te bespreek.
Hulle het ook die volgende dag van die geaffekteerde dorpe besoek (Die Burger, 15/11/12). Boonop is ’n uitgebreide vergadering van kerkleiers van alle denominasies daarna op Maandag 19 Nov. te Worcester gehou. (Dit is veelseggend dat die kerke juis in Worcester saamgetrek het waar die herlewing 150 jaar gelede onder Andrew Murray se bediening begin het!) Duidelik het die Kerk in die breë betrokke geraak, in ’n poging om versoening tussen werkgewers en werknemers te bewerk.
Maar as dít was wat nodig was om kerke in SA byeen te bring, het God selfs die opstande ten goede vir dié wat Hom liefhet (Rom.8:28) laat meewerk.
Dit is immers ondenkbaar dat mense in ’n land wat oorwegend Christelik is, sienderoë kan toelaat dat vyandskap, wanorde en grootskaalse vernietiging van werksgeleenthede ongehinderd voortduur. Dit rym tog nie met die duidelike uitsprake van die Bybel nie! Miskien het dit tyd vir die opstel van ’n Bybelse gedragskode vir Christen-werkgewers en -werknemers geword. Die hele land kan daarby baat vind. Ekonomiese ontwikkeling sal dan beslis nie gevaar loop om deur politieke agendas gekelder te word nie. En daar sal definitief ook groter harmonie in die werkplek kom, en groter bestendigheid en groei in die ekonomie.
Opstokery oorvereenvoudig
Dit is betreurenswaardig dat daar in hierdie klimaat van opstokery so maklik oorvereenvoudig en veralgemeen word. Dat daar uitbuitery op sommige plase voorkom, lei geen twyfel nie. Maar dit is ook waar dat die oorgrote meerderheid boere hulle werknemers met respek en liefde hanteer.
Om met ingevoerde opstokers teen álle boere op te trek, doen die waarheid doodgewoon geweld aan. En ongelukkig skiet die opstokers hulleself lelik in die voet: Hierdie optrede gaan beslis ’n baie groot verlies aan werksgeleenthede veroorsaak en die landsekonomie ernstig benadeel. En dit op ’n tydstip wat dit juis gebiedend noodsaaklik is om die ekonomie te help blom.
Armoede is ’n ernstige struikelblok in die weg van individue se persoonlike vooruitgang, maar ook die een ding wat besweer sal moet word ter wille van groter harmonie en stabiliteit in ons samelewing. Suid-Afrika gaan gebuk onder afskrikwekkende misdadigheid, groeiende rassisme en ongelukkigheid oor dienslewering op alle vlakke. Ons het nou alles behalwe verdere maatskaplike onrus en haatdraendheid nodig. Dit gaan beslis nie ons knellende probleme aanspreek nie. En dit gaan diegene wat ekonomiese stabiliteit en groei die nodigste het – die armstes van die armes – die ergste benadeel.
Hierdie aksies help nie om werk te skep nie en laat die pryse van produkte net vinniger styg. Boonop skrik dit ons oorsese handelsvennote af, en kan veroorsaak dat hulle na bestendiger verskaffers soek. Dit is doodeenvoudig baie skadelik vir SA se beeld na buite.
Vars bries in bedompige politieke omgewing
Daarom is die uitsprake van die kerkleiers wat op Worcester byeengekom het, so ’n welkome vars briesie in ’n bedompige politieke omgewing (Die Burger, 20/11/2012). Die leiers van die VGK, NGK, Anglikaanse en Presbiteriaanse Kerke, asook verteenwoordigers van die SA Raad van Kerke het vir “kalmte en wedersydse respek in die Wes-Kaapse landboubedryf…” gepleit.
Hulle was dit eens met mekaar dat “boere nie alleen verantwoordelik vir die maatskaplike probleme van duisende seisoenwerkers op plase gehou kan word nie.” Hulle het ook ’n beroep op die nasionale regering gedoen om aandag aan behui-sing vir plaaswerkers te gee en ’n subsidie daar te stel om lone aan te vul.
Die samestelling van ’n komitee bestaande uit lede van die verskillende denominasies is in die vooruitsig gestel ‘om te kyk na die onmiddellike behoeftes van mense wat deur die stakings geraak word.’ Die leiers het hulle kommer oor mense wat hulle inkomste verloor het, uitgespreek. “Ons is besig om dié mense te identifiseer om hulle met basiese behoeftes, soos kos, by te staan.”
Die koerantberig lui voorts: “Die kerke het die geweld en intimidasie van plaaswerkers ten sterkste veroordeel…Ons rol as die kerk is om gemeenskaplike waardes van respek en menswaardigheid onder almal te kweek om sodoende ’n basis vir ’n sinvolle gesprek te skep – soos dit in ’n demokrasie hoort.”
Gees moet Christen se lewe rig en leiding gee
Heel duidelik staan ons as Christene almal voor die uitdaging om ons lewens te laat rig deur die Woord en Gees van God. Ons mag eenvoudig nie toelaat dat liefdeloosheid – in enige vorm – ons as gelowiges uitmekaar dryf nie. In ons moet die ganse samelewing kan sien hoe dit lyk as mense in vrede en liefde saam woon en werk. By ons mag daar géén sprake wees van uitbuiting of onderpreste-ring nie.
Vir sowel werkgewer as werknemer geld die Woord: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” Kol 2:23. God waarsku ons: “ Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” 1 Pet 5:8. Teen hierdie tyd behoort ons goed te weet: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” Ef 6:12.
Kom ons vat in die geloof hande en pleit by die God en Vader van ons Here Jesus Christus om hierdie land genadig te wees, en om ons as gelowiges saam te snoer in ’n onbreekbare eenheid. Kom ons bid dat geregtigheid en vrede die oorheersende kenmerk van ons land sal word – tot eer en verheerliking van ons Hemelse Vader.
JOHAN KRIEL is ‘n voormalige le¬raar van die NG Kerk, en tans ‘n raadslid.