Voorspoedige Nuwe Jaar

n Mens kan nie glo hoe vinnig die jaar verbygesnel het nie! Die gevaar bestaan egter dat ’n mens die nuwe jaar instorm en bly voortjaag. Daarom is dit noodsaaklik dat ’n mens stil word om na te dink oor hoe om die nuwe jaar meer verrykend te maak. Niemand wil tog die seën en die goeie dinge wat God vir ons voorhou, misloop nie.

Voornemens vir Nuwejaar
Dikwels maak mense ’n lysie van voornemens vir die nuwe jaar. Met sekere dinge wil hulle ophou, en hier en daar is daar iets nuuts waarmee hulle wil begin. Party wil gewig verloor, ander wil meer kerk toe gaan, of ophou rook en minder drink. Ongelukkig kom daar dikwels niks van hierdie goeie voornemens nie. Ná ’n paar weke verval hulle weer in die ou groef en gaan maar weer voort soos vroeër.

Beplanning vir ’n sinvoller lewe
Daar is wonderlike dinge wat ons deel van die nuwe jaar kan maak wat ons lewens kan verryk en seën vir ander kan meebring. Gebruik ’n paar oomblikke en merk ’n paar van hierdie gedagtes af wat jou aanspreek; fokus dan daarop in die jaar wat voorlê.
✔ Prioritiseer jou lewe en skakel onnodige en onbelangrike dinge uit. Raak ontslae van onnodige tydrowende aktiwiteite wat jou lewenskragte tap. Onderskei die noodsaaklike in al die vergaderings, oproepe, e-posse en administrasie.
✔ Ruim tyd in vir die Bybel en probeer om dit in die volgende jaar van voor tot agter deur te lees. Maak aantekeninge in jou joernaal van opdragte en beloftes asook die dinge wat jou aanspreek.
✔ Bestee meer tyd in gebed. Dissiplineer jouself om daagliks ’n sekere tyd alleen stil te word in God se teenwoordigheid. Probeer ook om eenmaal ’n week ’n vaste afspraak te hê om saam met ander te bid.
✔Berei jouself voor sodat jy swaarkry en lyding so kan verwerk dat jy geestelik daardeur sal groei. Soms praat die Here juis met ons deur swaarkry. Dit bly ons keuse om in sulke moeilike tye bitter, of beter te raak.
✔ Breek los van verkeerde verhoudings en sondige gewoontes. Moenie onvergewensgesindheid plek gee nie.
✔ Moenie enige valsheid of skynheiligheid vatplek gee nie. Kies om eg en opreg te lewe en nie iets voor te gee wat nie die waarheid is nie.
✔ Ons is self verantwoordelik vir ons selfbestuur; daarom moet ons sorg dat ons gesond lewe, reg eet en genoeg oefen en slaap.
✔ Ons eie verryking is ons eie verantwoordelikheid. Ons moet ons beter bekwaam vir ons werk en beroep; daarom moet ons tyd maak om te lees, DVD’s en CD’s te luister en konferensies by te woon.
✔ Kom ons gee in die nuwe jaar net vir liefde plek in ons verhou-dings; daarom moet ons na mekaar luister en ingestel wees om te help of vir iemand te bid. Maak tyd om by mekaar te wees.
✔ Ons moet besluit om nooit kwaad te praat of te skinder nie. Dinge wat vertroulik aan ons vertel is, moet vertroulik by ons bly.
✔ As die druk en die tempo begin toeneem en spanning oplaai, moet ons seker maak dat ons nie die petrolnaald tot in die rooi laat daal nie. Ons tenk moet altyd weer volgemaak word; daarom moet ons tyd maak vir ontspanning, rus, kuier en ander lekker dinge waarvan ons hou.
✔ Ons moet onsself beskerm en weet waar ons duidelike grense moet trek. Ons moet weet waarvoor ons “ja” moet sê en waarvoor ons “nee” moet sê.
✔ Dit is opbouend om by ’n kleingroepvriende in te skakel waar ons mekaar geestelik kan opbou, raadgee, bemoedig en ver-sterk. Al verg dit opoffering, moet ons nie wegbly van so ’n groep wat vir ons geestelik en ook op ander gebiede iets kan beteken nie.
✔ Dit is ook noodsaaklik dat ons ’n mentor vind by wie ons ons hart eerlik kan uitpraat en verseker is dat ons die regte leiding en vermaning sal ontvang.

“Ek stuur My Gees”
Jesus het met Sy Hemelvaart die versekering gegee dat Hy deur Sy Heilige Gees in ons kom woon. Ons troos vir die nuwe jaar is dat God ons deur Sy Gees gaan lei. Daarom moet ons elke dag beheer van ons lewens aan die Heilige Gees oorgee en sensitief vir Sy leiding bly. So sal ons binne God se wil lewe en binne Sy seën en sorg bly. As die Gees ons lei, sal ons nie in die vyand se planne beland nie en sal ons God se volmaakte doel vir ons lewens bereik.


Onbetaamlike Klere En Die Kerk

Ons het al almal in ’n moeilike situasie gevra: “Wat sou Jesus doen?” Soms is die antwoord voor die hand liggend, ander kere is dit nie so duidelik nie. ’n Troebel voorbeeld, wat ’n groot ophef in Christen-kringe veroorsaak het, is die onlangse besluit van ’n Amerikaanse pastoor om ’n paartjie se huwelikseremonie op die troudag te kanselleer weens die gewaagde lae halslyn van die bruidsrok.

Waar is die rok?
Die troue moes die middag om drieuur begin; om twee-uur het die pastoor die bruid en bruidegom verwelkom en toe hy die halslyn en die lengte van die bruid se rok opmerk, skertsend gevra: “Waar is die ander helfte van die rok?”
Die familie het die opmerking afgelag en nie veel aandag daaraan geskenk nie. Daar is voortgegaan met die bruid se grimering. Om halfdrie het die pastoor ’n leier van die kerk versoek om by die bruid uit te vind of sy die ander helfte van haar rok uitgesorteer het.

Gestrand voor die kansel
Die bruid het die leier verwittig dat dit die rok is waarin sy gaan trou, en die pastoor is dienooreenkomstig ingelig. Hy het die bruid en bruidegom meegedeel dat hy nie die seremonie kon voltrek met die bruid in haar gekose rok nie.
Pastoor Michael Canty van Truth Ministries Holiness Chruch het die bruid meegedeel dat sy die lae hals moet bedek en ’n manier moet vind om die rok te verleng; die bruid het terug-gekap dat dit onmoontlik is om dit binne so ’n kort tydsbestek te doen.
Ná ’n druk gesprek (bykans een uur lank nadat die diens reeds moes plaasvind) het die pastoor sy spyt uitgespreek dat hy nie die se-remonie kan voltrek nie, na sy kantoor teruggekeer en die deur toegemaak.

Te konserwatief?
Die familie was woedend, die gaste verward, en die paartjie histeries oor die verleentheid en vermorste uitgawe op blomme, reiskostes, ens. Plaaslike nuusstasies het van die storie te hore gekom en Christen-kletsblaaie was aan die brand met vurige kommentaar en kritiek.
Dit is nie bekend of hierdie nuwe bediening (14 maande oud) vooropgestelde riglyne oor kleredrag of gedragsreëls het nie, maar ’n mens kan aanneem dat hulle heiligheid en sedelikheid hoog ag (soos hulle naam aandui).
Die meeste van hierdie soort konserwatiewe kerke sal die volgende standaarde vir vroue in gemeen hê:
• Rompe moet onder die knie wees; geen langbroeke nie
• Rompe behoort nie noupassend te wees nie
• Bloesies of hemde moet nooit ’n lae hals hê nie, (tipies word ’n tweevingerwydte reël om die nek gebruik)
• Moue behoort die elmboë te bedek
• Volstrek geen middelrif mag wys nie; hoofsaaklik moet vroue sedelik en fatsoenlik aangetrek wees, en geen aandag op hulleself vestig nie.

Wat is vir God van belang?
Het hierdie pastoor te ver gegaan deur hierdie jong paartjie se troudag te bederf, of het hy ’n prysenswaardige standpunt vir sedelikheid ingeneem? Dit hang af wie jy vra…want Christene se beskouings verskil ingrypend:
“Ek voel jammer vir die bruid wat ’n kerktroue in ’n (terterige) rok wou hê, maar voel selfs meer hartseer oor die pastoor wat sy kans om inspraak in iemand se lewe te hê, gemis het,” het een Christen-outeur opgemerk.
Nog ’n webkletser het die volgende te sê gehad: “Kan jy hierdie rok in die parlement dra? As die antwoord “nee” is, kan jy dit ook nie kerk toe aantrek nie. Net soos die wêreld ’n sekere fatsoenlike dekorum het, het die Kerk van Christus ook ’n sekere dekorum…”
“Die pastoor se idee van mode het voorrang bo God se wil gekry. Daar is níks in die Skrif wat voorskryf wat die bruid nie op haar troue mag aanhê nie,” sê ’n ander skrywer.
Iemand het opgemerk: “God kyk nie na haar klere nie, God se aandag is nie op hoe ‘seksie’ sy is nie. God stel belang in die feit dat ’n man en ’n vrou eensgesind byeenkom om een te word. Ons moet ophou om op die uiterlike te fokus.”

Wat sou Jesus doen?
Was die dominee dus te veroordelend en te besig om klippe na ’n sondaar te gooi (soos die Fariseërs wat deur Jesus in Johannes 8 bestraf is) of het hy bloot die Bybelse standaarde van heiligheid en respek gehandhaaf wat in die Huis van die Here betoon moet word? Het ons almal ons eerbied vir die dinge van God verloor, of moet ons by die heersende tydsgees aanpas en mense tegemoet kom waar hulle is?

Verwelkom die onheilige?
Die kinders van God word beveel om heilig, en afgesonder vir God te wees; ’n koninklike priesterdom. Dus, al kan ons nie verwag dat ongeredde mense hulle aan hierdie standaarde van Bybelse moraliteit en sedelikheid moet steur nie, moet ons daarna streef om daardie waardes in ons midde te bewaar.
As God nie omgegee het wat ons aantrek nie, sou die Skrif ons vroue nie beveel het om ons beskeie te versier met kleding wat fatsoenlik is vir diegene wat bely dat hulle God dien nie (1 Tim 2:9-10).
Bowenal bring hierdie voorval die moeilike (en ongewilde posisie) van die moderne Kerk na vore: om ’n heilige huis te wees wat onheilige mense verwelkom. ’n Bastion van rein-heid en moraliteit, wat diegene wat gebroke, rebels, en verlore is, verwelkom.
Dus, was die dominee verkeerd om die troue af te stel? Het hy meer skade as goed berokken?
Te dikwels sien mense Jesus as ’n sagmoe-dige, langhaar Redder wat ten diepste ’n passifis is…uit die aard van die saak sal hierdie indruk van Christus jou antwoord op die ontwykende vraag: “Wat sou Jesus doen?” beïnvloed.
Aan die ander kant – kon hierdie dominee se optrede die (vermoedelik ongeredde) paartjie en hulle gaste verder van God vervreem het? Was dit die moeite werd om die mense ter wille van die beginsel op te offer?

Soek die wysheid van God
Uiteindelik kan net diegene wat daardie dag teenwoordig was, rekenskap gee van wat gebeur het. Miskien het die kerk tydens ’n voorhuwelikse beradingsessie riglyne vir kleredrag uiteengesit. Miskien het die kerk aangeneem dat ’n sekere vlak van fatsoenlikheid en respek as vanselfsprekend aanvaar kan word en was daar daardie dag klaarblyklik ’n gebrek daaraan.
Ongeag die besonderhede, behoort hierdie geval ’n waarskuwing aan kerke en leiers te wees om soortgelyke gebeure in hulle gemeentes te voorkom. Mag die Here ons wys-heid gee!


Lastige Waarhede

In een episode van ’n ouer Amerikaanse sepie, ‘The King of Queens’, besoek Doug en sy vrou sy ouers. Hulle vier dan sy hond, Rocky, se 28ste verjaarsdag. As Doug wonder hoe Rocky dit reggekry het om so oud te word, erken Doug se ouers dat hy eintlik al ’n paar keer vervang is met ’n hond wat presies soos die eerste Rocky lyk.
Om die waarheid te sê, hulle trek nou al by Rocky IV. Dan voeg sy ma by: “But we don’t talk about such unpleasant or uncomfortable things.” Hierop vra sy vrou verbaas: “What do you do with the truth, then?”
“We sweep it under the rug, where it belongs!” antwoord sy. Toe besluit hulle almal daar is net een Rocky en hy is 28 jaar oud.

Godsdienstige matte
Deesdae word party Bybelse waarhede ook sonder omhaal onder die mat ingevee. Party mense hou nie van ‘ongemaklike waarhede’ of ‘lastige waarhede’ nie. Die Evangelie moet vir hulle sag op die oor val. Niemand moet aanstoot neem nie. Daarom dat daar tans soveel godsdienstige matte in die omtrek is waaronder die waarheid weggesteek word.

Geestelike brandblusser
’n Rukkie gelede moes ek iewers ’n reeks dienste hou. Ná afloop daarvan het een van die leiers my laat weet dat hy ’n klompie vure in die kerk moes doodslaan. Party mense het gevoel die Evangelie is darem net te reguit en dit het hulle ongemaklik gemaak. Ek was verstom. Ek het gewonder of ek nie dalk ’n brandweerbalkie vir hom moes koop as die ‘geestelike brandblusser van die jaar’ of so iets nie.

Bedagsaam teenoor ander
Irrelevansie wen wanneer die Bybel ‘sagter’ word as wat die Here dit bedoel het om te wees. Nog erger, in so ’n konteks gaan mense ongestoord verlore! Wag, voordat jy my verkeerd verstaan, ek bepleit nie ’n ongeskikte, liefdelose uitleef van die Evangelie nie. Paulus roep ons juis ’n paar keer op om bedagsaam teenoor ander mense te wees.
Ons mag nie taktloos met sogenaamde ‘reguit’ woorde bo-oor ander mense stoomroller nie. Maar, aan die ander kant mag ons ook nie ‘people pleasers’ word met ’n ‘askies-dat-ek-vir-Jesus-leef-houding nie.

Heilige drang
Ek het agtergekom die verskil tussen mense wat die waarheid liefdevol uitleef en diegene wat meen hulle is voltyds in die Here se geheime diens, kan in een woord opgesom word: dringendheid! Duideliker gestel, mense wat begryp dat hulle voltydse navolgers van Jesus is, het ’n heilige drang in hulle harte. Dit veroorsaak dat hulle daag-liks kortpad kies agter hulle Meester aan. Hulle loop aanhoudend saam met Hom in die rigting van nuwe verhoudings en ge-nesende dade!

’n Diep rusteloosheid
Deur Sy Gees plaas God ’n diep rusteloosheid in elkeen wat Hom ken. Dit word óf aangewakker óf deur onsself onderdruk. Wanneer ons toelaat dat die Gees ons rusteloos maak oor al die onreg, goddeloosheid en verlorenheid rondom ons, kan ons eenvoudig nie stilsit of dit aan ander oorlaat om iets te doen nie.
Nee, dan moet ons elke aand voor sla-penstyd iets in Jesus se Naam aanpak om die wêreld andersom te laat draai; moet daar vandag nog vir mense in nood gebid word en moet daar voor sonsaktyd ’n stukkie brood vir hongeriges uitgedeel word. Dan moet daardie matte waaronder ‘ongemaklike waarhede’ ingevee word, uitgeskud word voordat die son dalk vanaand oor die waarheid sak.

‘Bo-op-die-mat’-liefde
Ons het net een dag tot ons beskikking om aktief én aktueel vir die Here te leef. Daardie dag se naam is vandag! Die regte dringendheid vir vandag is daardie soort wat tegelyk rus en rusteloosheid in ons eie harte bring. Dringendheid dryf ons vandag na God toe o


Bid Meer, Praat Minder

In 2013 het God wonderbaarlike deure in Amerika oopgemaak. Volgens Angus is wat daar aan die gebeur is, merkwaardig: “Dit het Mighty Men Suid-Afrika sewe jaar geneem om te kom waar MMC USA tans is. In Mei verlede jaar het MMC USA hulle eerste saamtrek in ’n basketbalstadion in Murfreesboro gehou, waar daar meer as 10 000 Amerikaanse manne byeengekom het.
By die tweede MMC USA wat in Nashville, Tennessee gehou is, het duisende manne by die Bridgestone Arena byeengekom. Ons het ook Dallas, Texas besoek waar ons by die Texas Cowboy Stadion, met sitplek vir 100 000 mense, gebid het dat ons deur die genade van God hierdie stadion vir Jesus Christus sal kan gebruik. Ek glo dat Amerika ’n herlewing nodig het en dat daardie herlewing deur die manne gaan kom, na hulle gesinne gaan uitbrei en dan na die res van die Amerikaanse gemeenskap.”

’n Sagte plekkie vir Israel
Oom Angus was twee keer verlede jaar na Israel – een keer om die Loofhuttefees by te woon en een keer op die ‘God TV’-toer. Hy het ’n sagte plekkie vir Israel “wat ’n manier het om in ’n mens se hart in te kruip en seker te maak dat jy altyd wil terugkeer en deel wees van wat God vir die laaste dae beplan het.” Oom Angus beoog om hierdie jaar weer terug te keer vir die Loofhuttefees waar hy weer as ’n spreker sal optree. Sy ervarings in Israel het gelei tot die skryf van twee boeke.
’n Geloofwaardige getuigskrif
Angus is tans besig met ‘My Best Friend’, ’n boek oor die huwelik, ’n verhaal wat uit die hart spreek vanuit praktiese ervaring: “Ek is meer as 40 jaar lank al getroud met Jill, dit is my getuigskrif!” sê Angus.

Planne vir Suid-Afrika
Vir verdere besonderhede oor sy planne in Suid-Afrika moet jy ’n ogie op sy webwerf hou. Angus is baie opgewonde oor Suid-Afrika: “Ons is goed op pad vorentoe, hoewel daar baie hindernisse in die pad is.”
Hy haal 1 Korintiërs 16:9 aan: “Hier staan ’n groot en belangrike deur vir my oop, maar hier is ook baie teenstanders.” Sy boodskap aan Suid-Afrikaners is dat die gras nie altyd groener aan die ander kant is nie – al mag dit soms so voorkom: “Waar ek ook al reis, is daar probleme. Dit is omdat ons in die eindtye leef, maar Jesus het ons in Johannes 16:33 belowe: ‘In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed; Ek het die wêreld klaar oorwin.’”

Boodskap vir ons nasie vir 2014
Angus glo dat ons in 2014 meer moet bid en minder moet praat: “Ons moet meer tyd in die binnekamer, en meer tyd op ons knieë deurbring. Die evangelis, Billy Graham, is gevra wat hy anders sou doen as hy sy lewe kon oorhê. Sy antwoord was dat hy minder sou praat en meer sou bid.”

’n Biddende nasie
“Ek het ’n rooi armbandjie wat ek dra. Dit herinner my voortdurend aan 2 Kronieke 7:14: ‘[As] My volk, oor wie My Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en My aangesig soek en hulle bekeer van hulle verkeerde weë, dan sal Ek uit die Hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.’ (1933-vertaling).’
Toe God dit gesê het, het Hy dit bedoel. Ons moet ’n biddende nasie word, dan sál ons die heerlikheid van God in Suid-Afrika sien.”

Wanneer die mens bid
“Baie van ons is bekommerd oor die minagting van menselewens, van die wet en die regering; oor jongmense wat geen respek vir ouer mense het nie. Ons kan daaroor kla, of ons kan meer begin bid. Wanneer die mens werk, is dit die mens wat werk, maar wanneer die mens bid, is dit God wat werk.”

Gebed met kragtige uitwerking
Angus sê dat hy op sy oudag vind dat sy gunstelingplek sy binnekamer is. “Hoe meer bekommernisse ek het, hoe meer dissiplineer ek myself om te bid. In hierdie nuwe jaar sal ons noemenswaardige verandering sien plaasvind as ons meer begin bid – verande-ring, nie net in ons eie lewens nie, maar ook in die lewens van ons gesin, gemeenskap en die nasie. Dikwels vra mense wat hulle kan doen om ons bediening te help. Ek het net een versoek: Bid asseblief. Dit is al wat ons nodig het! ‘Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.’ Jakobus 5:16.”

Gaan gewilliglik
Volgens Angus behoort die gebedskamer ’n opwindende plek te wees. “Dit moet ’n plek wees waarheen ons gewilliglik gaan om ons Meester elke oggend te ontmoet. Onthou, Jesus is ’n ‘oggendmens’. Hy wil jou vroeg in die oggend ontmoet.”

Eers die berg, dan die bediening
“In die vier Evangelies is die dissipels dikwels op soek na Jesus, maar kan Hom nie kry nie. Hy was op die berg, besig om met Sy Vader te praat. Eers die berg, dan die bediening. As jy probleme in jou huwelik het – bid daaroor. As jy probleme met jou kinders het – bid daaroor. Onthou, ’n gesin wat saam bid, bly verenig. Soek elke dag die aangesig van God en Hy sal jou leiding gee. Hy sal meestal sê ons moet stil wees en niks sê nie, want baie van ons is soos ’n aap in ’n porseleinkas. Ons praat te veel en vererger dinge in plaas daarvan om te luister en te bid.”

Mediteer oor God se goedheid
Angus is verstom oor die eerbied wat die mense van Israel vir die Loofhuttefees het. Met die fees herdenk hulle hoe God hulle uit Egipte verlos het en deur die wildernis gelei het. “Nie een Israeliet, of enige van hulle diere het van hongersnood gesterf nie. Hulle het 40 jaar lank in die woestyn geleef! Selfs nou nog bou hulle tydens die fees tydelike skuilings waarin hulle sit en mediteer oor die goedheid van God.
Ons moet die dieselfde doen. Ons is geneig om te kla, en vergeet dikwels hoe die Here ons tot hier gebring het. Wanneer ons die nuwe jaar begin, laat ons nadink hoe God ons gelei het. Daar was verlede jaar kere dat God baie van ons deur hartseer, siekte, bankrotskap of woelinge gebring het en ons nooit verlaat of in die steek gelaat nie (Hebreërs 13:5).”

Kwaliteit- en kwantiteittyd
Oom Angus sluit af met dié versoek: “Laat ons ons daartoe verbind om hierdie komende jaar uitstekende stiltetye te hê; dat ons nie die sorge en bekommernisse van hierdie wêreld gaan toelaat om ons van die kwaliteit- en kwantiteittyd wat ons met God gaan bestee, te ontneem nie. Wanneer ons dit doen, sal alles ten goede uitwerk.”


Arendsvlerke tegnologie ver vooruit

Wanneer makrostralers en ander groot moderne vliegtuie ’n lughawe nader om te land, ontplooi vlieëniers kleppe op die welwings (‘leading edges’) van die vlerke – dit laat die vliegtuig toe om teen ’n laer spoed te vlieg sonder dat die motore gaan staan. Die ontdekking van hierdie tegnologie wat veiligheid tydens opstygings en landings verbeter het, was ’n deurslaggewende faktor in die ontwikkeling van moderne lugvaart.1

Onbekende feite
Dat voëls ook ‘welwingskleppe’ het, was tot redelik onlangs nog onbekend. Navorsers van Oxford Universiteit wat die vlugmaneuvers van die Steppe-arend (Aquila nipalensis) bestudeer het, het videobewyse van ‘welwingsvere-buigings’ gedurende landingsreekse.2 Soos ‘New Scientist’ dit stel, wys die beeldmateriaal dat die voëls ’n ‘vlerkflap’ aan die voorste ronding van die vlerk ‘ontplooi’ net soos ’n makrostraler dit doen. 3
Die gedagte is dat hierdie vlerkflap soos ’n toestel funksioneer wat stygkrag laat toeneem – dit verhoog die vlerk se vermoë om die voël teen ’n lae spoed en tydens skerp aanvalshoeke steeds in die lug te hou (stygkragvermoë). Sodoende het die voël groter beheer tydens landings en ander maneuvers en verhoed dit dat hy beheer verloor en gevolglik uit die lug val.4 Met ander woorde, die funksie van die ‘flap’ is om die vlerk gedurende hierdie onstabiele maneuvers te
stabiliseer. En dit is nie net teenwoordig by die Steppe-arend nie – daar word gemeen dat ander groot voëls ook van welwingsvlerkvere gebruikmaak.

Gevorderde ‘vlug’-tegnologie
Waarom het navorsers dus nie voorheen opgemerk dat voëls oor sulke gevorderde ‘vlug’-tegnologie beskik nie? Basies omdat dit wil voorkom of die voëls slegs die welwingsvere ontplooi op die presiese oomblik wat die benodig word – byvoorbeeld op die kritieke oomblik wanneer hulle land. Om waargeneem te word, vereis die gebruik van ’n hoëspoed videokamera – in hierdie geval 500 raampies per sekonde. Die kamera het die vlerkslag as ’n ‘bewe-gende veregolf’ vasgevang wat van die pols tot die skouer van die vlerk gestrek het. Vorige beeldmateriaal wat minder raampies per sekonde gehad het, was te stadig om hierdie beweging vas te vang.

Tegnologie vind inspirasie in die natuur
Navorsers voer aan dat hierdie bevinding help met die verdere ontwikkeling van verkenningsvliegtuie, bekend as mikro-lugtuie wat slegs die grote van voëls is. Dit is nie die eerste keer dat tegnologie geïnspireer is deur wat reeds in die natuur voorkom nie.

Ontwerpkenmerke dui op Ontwerper
As lugvaartkunde-ingenieurs maar net bewus was van welwings-vere in die natuur, sou vliegtuie heelwat vroeër reeds daarmee toegerus gewees het! Onlangs is daar sterk bewyse gevind dat pterosourusse ook welwingsflappe op hulle vlerke gehad het. 5 Sulke ‘natuurlike’ ontwerpkenmerke het nie bloot ‘natuurlik’ ontwikkel nie, maar is ‘ontwerp’ – kennelik deur ’n ontwerper wat dit eerste ontwerp het6 – die Een wat voorwaar die leiding geneem het in ‘leading edge’ tegnologie.

DR. DAVID CATCHPOOLE B.Ag.Sc. (Hons.), Ph.D. het as ’n plantfisioloog en wetenskaps-opvoedkundige gewerk, met spesialisering in tropiese landbou- en tuinboukunde. Hy werk voltyds vir Creation Ministries International in Australië. Vir ’n volledige bronnelys en verwysings, gaan na ons webwerf www.juig.co.za

Verwysings
1. When a jumbo jet took off from Nairobi airport in November 1974 with its leading-edge flaps inadvertently retracted, as it became airborne it began to shudder violently (a symptom of imminent stalling), fell to the ground and broke up, killing 59 people (98 survived). International Aviation Safety Association, The Nairobi 747 Crash, www.iasa.com.au/folders/Safety_Issues/others/Nairobi747Crash.html, accessed 1 June 2007. Return to Text

2. Carruthers, A., Taylor, G., Walker, S., and Thomas, A., Use and Function of a Leading Edge Flap on the Wings of Eagles, 45th AIAA (American Institute of Aeronautics and Astronautics) Aerospace Sciences Meeting and Exhibit, 8–11 January 2007, Reno, Nevada; http://pdf.aiaa.org/preview/CDReadyMASM07_1064/PV2007_43.pdf. Return to Text

3. The steppe eagle has landed, New Scientist194(2599):19, 14 April 2007. Return to Text

4. Bakhtian, N., Spot the Difference?—An aerodynamic investigation of leading edge flaps in low Reynolds Number flight, http://www.eng.cam.ac.uk/photocomp/2006/noelly42_1.shtml, 31 May 2007. Return to Text

5. See Romans 1:20. Return to Text