Wat Is God Se Wil Oor Genesing?

F.F. Bosworth het ‘Christ the Healer’ vir die eerste keer in 1924 uitgegee en hierdie boek was vir meer as 80 jaar lank in druk; met sewe uitgawes in Bosworth se leeftyd en meer as 500 000 boeke gedruk. Die boek is ook in digitale formaat as ’n oudioboek beskikbaar. ‘Christ the Healer’ is al beskryf as die beste klassieke handboek oor die onderwerp van God se barmhartigheid en wil om te genees.

Onmiddellike genesing
Fred Bosworth is 1877 in Amerika gebore. As tiener het hy die Here gevind, maar het aan ’n ernstige dodelike siekte gely wat as ‘vlieënde tering’ gediagnoseer is. Toe hy 18 jaar oud was, is hy huis toe met die verwagting om daar te gaan sterf, maar het in plaas daarvan ’n vrou van die Metodiste kerk ontmoet wat hom van God se genesende krag vertel het. Mattie Perry het hom stip aangekyk en gesê: “Fred Bosworth, jy is jonk. Jy is ’n Christen en as jy vandag sterf, sal jy reguit Hemel toe gaan, maar ek is hier om jou te vertel dat as jy vandag doodgaan, dit die selfsugtigste ding sal wees wat jy ooit gedoen het. Wat van al die mense wat God vir jou bestem het om te bereik?”
“As jy vir my bid, sal ek opstaan en leef,” was Fred se antwoord hierop. En dit is presies wat gebeur het. Hy is onmiddellik genees en is van toe af met ’n lewenslange begeerte in sy hart vervul om God se genesing met die wêreld te deel. Hy het wêreldwyd getoer en vir die siekes gebid; honderdduisende mense is genees.

’n Bediening van genesing
Toe hy in Januarie 1958 diep in die tagtig oorlede is, was meer as 225 000 getuienisse sprekend van die doeltreffendheid van Bosworth se bediening. FF. Bosworth was oortuig dat die Kerk die genesende aspek van die Evangelie as ’n geskenk ontvang het as die belangrikste evangelisasie-hulpmiddel en hy het werk daarvan gemaak om met hierdie kragtige hulpmiddel duisende manne, vroue en kinders vir die koninkryk van God te wen. Hy het daarop aangedring dat die boek Handelinge nie net bloot ’n historiese verslag is nie en dat die boek sy regmatige plek as ’n model vir die moderne Kerk moet inneem.

Om te weet wat God se wil is
Bosworth het aan die siekes wat genees wou word, beklemtoon hoe belangrik dit is om te weet wat God se wil rakende genesing is. Jou toepassing van jou geloof sal nooit jou kennis van die geopenbaarde wil van God kan oortref nie en elke gelowige moet hom- of haarself voorneem om die Skrif in hierdie opsig te bestudeer. Bosworth het mense geleer dat dit die absolute wil van God is om die liggaam sowel as die siel te genees en dat die Versoening van Christus vir die ‘hele mens’ is.
Volgens Bosworth het Spreuke 4:20-22 die omvattendste voorskrifte hoe om genesing te ontvang: Eerstens moet daar ’n oor wees wat na God luister: “Luister goed na my woorde.” Daar moet ’n standvastige uitsig wees: “Laat hulle nie wyk uit jou oë nie,” en derdens moet daar ’n ontvanklike hart wees: “Bewaar hulle binne-in jou hart.”
Ons moet ons ore tot die geskrewe beloftes van God “neig” en ons moet die Skrif ywerig ondersoek vir God se geopenbaarde wil. Ons gedagtes moet onwrikbaar op hierdie beloftes gefokus wees en nooit op ons simptome nie. Wanneer ons die Woord ontvang en daarvolgens handel, lewer dit resultate op. Ons moet daarom ontvanklik vir God se beloftes wees en dit toe-eien. “Jou simptome mag op die dood dui,” skryf Bosworth, “maar God se Woord wys op die lewe, en jy kan nie terselfdertyd in twee teenoorgestelde rigtings kyk nie.”

Die bediening van Jesus
Romeine 5:12 sê “die sonde [het] in die wêreld gekom en deur die sonde die dood.” Aangesien siekte deur sonde toegang verkry het, moet die ware geneesmiddel in die verlossende werk van Christus gevind word.
Christus genees Petrus se skoonma en talle ander mense in vervulling van die profesie van Jesaja 53:3-6, wat dit duidelik stel dat Hy vir ons sondes en ons siektes gesterf het (Matteus 8:14-17). Daar bestaan geen twyfel dat Jesus se bediening een van genesing vir liggaam en siel is nie.
Nog ’n Ou Testamentiese beeld van Christus se verlossing, is die gebeurtenis met die koperslang in Numeri 21. Diegene wat eenvoudig God se belofte geglo en daarop gereageer het, is onmiddellik fisiek en geestelik van hulle rebellie genees.
Een van die verlossende Name van Jehova is ‘Jehova Rapha’ – “Ek is die Here jou Geneesheer” of “Ek is die Here wat genees“.
F.F. Bosworth benadruk dat nie een van die seëninge wat Sy verlossende Name openbaar, nie op ons era van toepassing is nie. Hy is steeds die Geneser. Jesus het vir ons siektes, pyn, oortredings, verderflikheid, ons vrede en ons genesing gesterf, want “deur Sý wonde het daar vir ons genesing gekom”.

Is genesing vir almal?
Is dit, net soos in die verlede, steeds die wil van God om almal te genees? Ons moet weet wat die wil van God is, die beloftes glo, dit in ons gees ontvang en deur die geloof toe-eien. Sy dood aan die Kruis is voldoende vir al die behoeftes en nood van die mens en daarom het Jesus alle siektes genees toe Hy op aarde was (Matteus 4:23-25).

’n Voorval in Kapernaum, Jesus se
tuisdorp, toon die belang daarvan om God se Woord te ken, te glo en in ons hart te ontvang. Jesus kon nie in Kapernaum wonderwerke doen nie omdat die mense nie God se Woord geglo het nie (Matteus 13:53-38).
Vir baie mense wat liggaamlike genesing wil ontvang, is die grootste struikelblok tot geloof, die onsekerheid in hulle gedagte dat genesing hoegenaamd God se wil vir hulle is. Daar is heelwat leringe in moderne teologie wat mense daarvan weerhou om te weet wat die Bybel duidelik leer – dat genesing vir almal is.
Dit is onmoontlik om deur die geloof vrymoedig op ’n seën aanspraak te maak, as ’n mens nie seker is of God dit werklik aanbied nie. Daar kan slegs aanspraak gemaak word op die krag van God, waar die wil van God bekend is. Bosworth wys daarop dat dit net so geldig is vir diegene wat genesing verlang, as vir diegene wat verlossing ontvang het.

Verheerlik ons siekte God?
Dissiplineer God nie soms Sy kinders deur siekte nie? Beslis, ja, sê F.F. Bosworth. Wanneer ons God nie gehoorsaam nie, kan die Vader deur liefdevolle dissiplinering siekte toelaat. Moderne teologie mag verkondig dat God verkies dat sommige mense tot Sy verheerliking siek moet bly, maar Jesus het dít nooit verkondig nie. Hy het ook nie gehuiwer om almal te genees wat in geloof na Hom toe gekom het nie.
F.F. Bosworth beklemtoon ’n belangrike waarheid – die belang van dít wat ons met ons mond bely. Ons kan nooit bo dit wat ons met ons mond bely, uitstyg nie. Wanneer ons ongeloof en twyfel uitspreek, word ons deur ons eie woorde gevange gehou. “As jy verstrik geraak het deur wat jy gesê het en vasgevang is deur jou eie woorde…” Spreuke 6:2. Die Heilige Gees sê in Spreuke 23:7: “…soos die mens in sy siel bereken, so is hy.” Wat ons in ons harte glo, sal in ons woorde uiting vind. Ons moet die Woord van God sy regmatige plek in ons denke en op ons lippe gee.

Die barmhartigheid van Christus
Die boek beklemtoon ook die barmhartigheid van Jesus. F.F. Bosworth vra die vraag: Het God se barmhartige aard dan verander? Jesus het die menigtes innig jammer gekry toe Hy die nood van die mense om Hom sien; Hy het nie ver-ander nie, Hy is steeds dieselfde. Hy reik steeds vandag na ons toe uit, maar ons moet dit glo en Sy Woord ontvang. Om die verlossende verbondseën van liggaamlike genesing vir jou toe te eien:
1. Weet wat die wil van God is deur Sy Woord te bestudeer, en nie die filosofie van die mens nie
2. Glo die Woord van God. Geloof is die verwagting dat God Sy wil sal uitvoer. Om bloot te hoop is nie geloof nie. Geloof is nie om eers te ‘sien’ voordat jy vertrou en glo nie
3. Maak seker jou verhouding met God is reg. God se beloftes geld slegs vir die gehoorsames
4. Ontvang jou genesing deur die geloof

Wat as die simptome voortduur?
Selfs wanneer ons in geloof reageer, verdwyn siektesimptome nie altyd dadelik nie. Nadat Hiskia genees is, het dit drie dae lank geneem voordat hy sterk genoeg was om na die Huis van die Here te gaan (2 Kon 20). Die koninklike beampte se seun het begin beter word toe die beampte geglo het wat Jesus vir hom gesê het (Joh 4:50-52).

Die voorbeeld van Abraham
Omdat genesing deur die geloof ontvang word, en geloof sonder werke dood is, is dit wanneer ons in geloof begin optree dat God begin genees. Geloof kom voor genesing. ‘In plaas daarvan om na die vader van leuens te luister, laat hom na jou lofprysing luister,’ is die uitdaging van hierdie boek. Kyk maar na Abraham se lewe:
• Hy het bloot die Woord van God geglo. Hy het geloof gehad dat God presies sal doen wat Hy belowe het
• Hy was slegs ten volle deur die Woord van God oortuig
• Hy het standvastig bly vertrou toe sy geloof getoets is
• Hy was op die Woord van God gefokus
• Hy het geweier om sy vertroue prys te gee toe God hom beveel om Isak te offer; ’n opdrag wat oënskynlik die tasbare aansporing tot sy geloof sou verwyder. Onder uiters hopelose omstandighede het hy in sy geloof volhard, deur op die beloftes van God te fokus. Hy kon dit doen omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. Dieselfde geld ook vir Noag en moet vir ons ook waar wees.

Waarom word party mense nie genees nie
F.F. Bosworth bespreek ’n aantal moontlike redes waarom party mense nie genees word nie. Die algemeenste rede is ons vertroue op ons vyf sintuie, wat ons dubbelhartig maak (Jakobus 1:6,7). Vir die natuurlike mens geld, ‘sien is glo’, terwyl geloof sê, ‘glo is sien’. Niemand wat toelaat dat sy denke deur sy sintuie beheer word, kan oorwinnende geloof hê nie. Die denke wat deur die sinne beheer word, leef in die ryk van onsekerheid. Totdat God se Woord beheer oor ons denke het, sal ons emosies en die dinge wat ons sien en hoor ons beheer, in plaas van die Woord van God. Die regte denke is uiters belangrik.
Ons genesing word dikwels vertraag deur verkeerde lering en dit verg gedissiplineerde studie van die Woord sodat ons oortuig kan wees van wat die wil van God is. Wanneer ons Sy hart verstaan, sal ons die geloof kan beoefen wat die situasie verg.
Die 22 redes wat Bosworth noem, sluit in: onvoldoende lering, die gebrek aan verenigde gebed, gemeenskaplike ongeloof, die tradisies van die mens, verbreking van natuurlike wette, opsetlike sonde, gebrek aan ywer, ’n behoefte aan vergifnis, ongeloof, die nastreef van wonderwerke in plaas van genesing, of gebrek aan vertroue.

Die geheim van oorwinning
Sonder ‘Goddelike openbaring’ is dit onmoontlik om aan iemand te verduidelik waarom sy/ haar gebed vir genesing nie dadelik verhoor word nie. Wat die omstandighede egter ook al is, die goeie nuus is dat ons toegang het tot meer van God se lewe. God self word ons lewe, ons vreugde, ons regverdigheid, ons reinheid, ons krag en ons gesondheid deur ons met Sy eie lewe te vul.

Hoe jy jou geloof bou:
• Bely eers God se Woord in jou hart
• Bely dit hardop in jou binnekamer
• Herhaal dit aanhoudend
• Sê dit totdat jou gees en jou woorde in oor-eenstemming is
• Sê dit totdat jou hele wese in harmonie en in ooreenstemming met die Woord van God is

God sal nie ’n groter teenwoordigheid in ons wees as wat ons bely Hy is nie. F.F. Bosworth sluit af met die raad: wanneer jy met ’n behoef-te of nood in die oë staar, bely dat die Here jou Herder is en dat jy geen gebrek ly nie.
(Lees Psalm 103:1-3.) Jesus Christus genees steeds!


Waarom Hulle Stryd Ons Stryd Is

Die onlangse oorlog in Gaza tussen Hamas en Israel het die wêreld in ideologiese rep en roer gehad – met mense wat wêreldwyd kant gekies het in die konflik. En al is Israel nie geheel en al onskuldig aan misdrywe nie, is dit verbysterend dat die liberale media en linksgesinde politici openlik weier om te erken dat hierdie nasie ’n reg het om hulleself teen terroriste te beskerm. Dit is duidelik dat daar nie net ’n politieke agenda teen hierdie Joodse staat is nie, maar ook ’n geestelike een (naamlik van Islamitiese vyande en anti-Semitiese staatsmanne).

’n Politieke en militêre oorlog…
Toe die president van die Palestynse Nasiona-le Gesag onlangs by die Verenigde Nasies opgestaan en Israel van oorlogsmisdade beskuldig het, het dit geblyk dat die konflik, wat 60 dae lank geduur het, beslis nie op ’n politieke vlak verby was nie. Maar, soos te wagte kan wees, het bedrewe redenaar en eersteminister van Israel, Benjamin Netanyahu, ’n uitstekende weerlegging gelewer waarmee hy die noodsaaklikheid gestaaf het dat die wêreld hierdie konflik versigtig moet evalueer en benader wanneer hulle onomwonde mora-listiese uitsprake maak.

Netanyahu se volledige toespraak
“Geagte afgevaardigdes, ek het van Jerusalem hierheen gekom om namens my volk te praat; die volk van Israel. Ek het gekom om oor die gevare te praat wat ons in die gesig staar, en oor die geleenthede wat ons graag wil benut. Ek het hierheen gekom om die onbeskaamde leuens teen my land en die dapper soldate wat dit beskerm, en wat van hierdie einste podium af verkondig word, aan die kaak te stel.
“Dames en here, die volk van Israel bid vir vrede, maar ons verwagtinge vir vrede, sowel as dié van die wêreld, word bedreig omdat mi-litante Islam aan die opruk is waar ’n mens ook al kyk. Dit is nie militantes of Islam nie – dit is militante Islam. En tipies is hulle eerste slagoffers ander Moslems, maar ontsien niemand nie: Christene, Jode, Yazidi’s en Koerde. Geen geloof of etniese groep word oorgesien nie. En dit is besig om baie vinnig na elke uithoek van die wêreld te versprei.

Wêreldoorheersing
“Ken julle die befaamde Amerikaanse gesegde: ‘Alle politiek is plaaslik’? Vir die militante Isla-miste is alle politiek globaal, want hulle uiteindelike doelwit is wêreldoorheersing. Daardie bedreiging mag vir sommige vergesog klink omdat dit so ’n klein begin het, soortgelyk aan ’n kanker wat ’n spesifieke deel van die liggaam aanval. As daar egter niks aan gedoen word nie, groei die kanker en versprei oor ’n al groter wordende area. Om wêreldvrede en -sekuriteit te bewaar moet ons hierdie kanker verwyder voordat dit te laat is.
“[Onlangs] het baie van die lande hier verteenwoordig, president Obama toegejuig vir sy leiding in die poging om ISIS die hoof te bied, en tog is Israel kort tevore deur sommige van dieselfde lande teengestaan vir sy poging om Hamas die hoof te bied. Hulle verstaan nie dat ISIS en Hamas takke van dieselfde giftige boom is nie.
“ISIS en Hamas deel ’n fanatiese geloofs-oortuiging wat hulle baie verder as die gebied onder hulle beheer wil afdwing. Luister na wat ISIS se selfverklaarde kalief, Abu Bakr al-Baghdadi, ’n paar maande gelede gesê het: ‘ ’n Dag sal binnekort aanbreek wanneer die Moslem oral sal oorheers. Die Moslems sal die wêreld laat hoor en verstaan wat terrorisme beteken – en sal die afgod van demokrasie vernietig.’ Khaled Mashal, die leier van Hamas, het ’n soortgelyke visie vir die toekoms verkondig: ‘Ons sê vir die Weste: by Allah, julle sal verslaan word. Môre sal ons nasie op die troon van die wêreld sit.’

Hamas en ISIS deel hulle ideale
“Soos Hamas se handves dit so duidelik stel, hulle onmiddellike doelwit is om Israel te ver-nietig, maar Hamas het ’n groter oogmerk. Hulle wil ook ’n kalifaat stig [’n Islamitiese staat wat deur ’n oppergodsdienstige en -politieke leier, bekend as ’n kalief – d.w.s. ‘opvolger’ tot Mohammed- gelei word].
“Hamas deel die globale ambisies van sy medemilitante Islamiste en dit is hoekom aanhangers van Islam uitbundig in die strate van Gaza gejubel het toe duisende Amerikaners in die 9/11-aanval vermoor is; dit is waarom Islamitiese leiers Amerika veroordeel het vir die aanslag op Osama bin Laden se lewe, wat deur Islamiste as ’n ‘heilige soldaat’ geloof is.
“As dit dus kom by hulle uiteindelike doelwitte, is Hamas ISIS en is ISIS Hamas – en wat hulle in gemeen het, het alle militante Islamiste in gemeen. Groepe soos Boko Haram in Nigerië; al-Shabab in Somalië; Hisbolla in Libanon; al-Nusra in Sirië; die Mahdi-weermag in Irak en die Al-Kaïda takke in Jemen, Libië, die Filippyne, Indië en elders, werk almal saam vir wêreldoorheersing.

Gedeelde fanatiese ideologie
“Sommige is radikale Soenni’s, ander radikale Sjiïete, sommige wil ’n pre-Middeleeuse kalifaat van die sewende eeu herstel en ander wil die apokaliptiese terugkeer van ’n imam van die negende eeu inlui.
“Hulle is in verskillende lande werksaam, hulle teiken verskillende slagoffers en vermoor mekaar selfs in hulle stryd om die oppergesag, maar hulle almal deel ’n fanatiese ideologie.
“Hulle almal streef daarna om steeds groei-ende enklawes (grondgebied) van militante Islam te skep waar daar geen vryheid en geen verdraagsaamheid is nie, waar vroue as besittings behandel word, Christene uitgeroei word en minderhede onderwerp word en soms voor die ongenaakbare keuse gestel word om tot Islam te bekeer of te sterf. Vir die Islamiste is enigiemand ’n ‘infidel’, insluitend ander Moslems.

Die geskiedenis herhaal homself
“Militante Islam se ambisie om die wêreld te oorheers, lyk waansinnig, maar só het die globale ambisie gelyk van ’n ander fanatiese ideologie wat agt dekades gelede die mag in die hande geneem het. Die Nazi’s het in ’n ‘meesterras’ geglo. Die militante Islamiste glo in ’n ‘meestergeloof’. Hulle verskil net onder mekaar oor wie die ‘meester’ van die ‘meestergeloof’ sal wees. Dit is waaroor hulle werklik verskil. En daarom is die vraag of militante Islam die mag sal hê om sy bandelose ambisie ’n werklikheid te maak.
Iran se strewe na ’n wêreldwye missie
“Daar is een plek waar dit binnekort bewaarheid kan word; die Islamitiese Staat van Iran. Vir 35 jaar lank het Iran meedoënloos die wêreldwye missie nagestreef wat deur sy stigterleier, Ajatolla Khomeini, uiteengesit is met hierdie woorde: ‘Ons sal ons rewolusie na die hele wêreld uitbrei, totdat die kreet: ‘Daar is geen god behalwe Allah nie!’ deur die hele wêreld weergalm.’
“Sedertdien het Iran se ‘Rewolusionêre Wagte’ wat die regime se wette brutale afdwing, presies dít gedoen. Hulle huidige bevelvoerder, generaal Mohammad Ali Jafari, het sy doelwit duidelik gestel: ‘Ons imam het nie die Islamitiese rewolusie beperk tot net hierdie land nie, ons plig is om die weg vir ’n Islamitiese wêreld-regering voor te berei.’

Israel veg almal se stryd
“Dames en here, die stryd teen militante Islam is ondeelbaar. Wanneer militante Islam êrens sukses behaal, moedig dit Islamiste oral aan. Wanneer dit êrens ’n swaar slag ly, word dit oral vir hulle ’n teenslag. Dit is hoekom Israel se stryd teen Hamas nie net ons stryd is nie, dit is ook julle stryd. Israel beveg vandag die fanatisme, wat julle land dalk noodgedwonge môre sal moet beveg.
“Hierdie afgelope somer het Hamas vir 50 dae lank duisende vuurpyle op Israel afgevuur, baie van hulle voorsien deur Iran. En tog moes Israel ook nog ’n uitdaging die hoof bied – ’n propaganda-oorlog.

Hamas gebruik mense as skanse
“In ’n poging om die wêreld se simpatie te wen, het Hamas Palestynse burgerlikes as menslike skanse gebruik. Dit het vuurpyle in VN-skole, privaatwonings, moskees en selfs hospitale gestoor en vandaar na Israel afgevuur. Toe Israel met akkurate aanvalle op die vuurpylrigters en die tonnels geloods het, is Palestynse burgerlikes tragies, maar onopsetlik, gedood.

’n Pynlike tragedie
“Daar is hartverskeurende beelde van ongevalle wat versprei is, wat lasterlike aantygings aangevuur het dat Israel opsetlik burgerlikes geteiken het. Ons het nie. Ons betreur elke burgerlike ongeval ten diepste.
“En die waarheid is: Israel het alles gedoen om Palestynse burgerlike ongevalle tot ’n minimum te beperk. Hamas het alles in sy vermoë gedoen sodat daar die grootste moontlike aantal Israelse burgerlike ongevalle sowel as Palestynse burgerlike ongevalle sal wees.
“Israel het pamflette versprei, het telefoonoproepe gemaak, het teksboodskappe gestuur en waarskuwings op Palestynse televisie in Arabies uitgesaai; alles om Palestynse burgerlikes die geleentheid te bied om die geteikende gebiede te ontruim. Geen ander land en geen ander weermag in die ge-skiedenis het groter moeite gedoen om ongevalle onder die burgerlike bevolking van hulle vyande te probeer vermy nie.

Nuwe geleenthede
Dames en here, daar is ’n nuwe Midde-Ooste. Dit bring nuwe gevare mee – maar ook nuwe geleenthede. Israel is bereid om met Arabiese vennote en die internasionale gemeenskap saam te werk om daardie gevare die hoof te bied en om daardie geleenthede aan te gryp.
“Saam moet ons die volgende erken: die wêreldwye bedreiging van militante Islam; die uiterste be-lang daarvan om Iran se kernwapenvermoëns onskadelik te stel, en die onontbeerlike rol van die Arabiese state in die bevordering van vrede met die Palestyne.

Spreek die waarheid vir Sion
“Dit mag alles indruis teen die konvensionele beskouing, maar dit is die waarheid en daar moet altyd die waarheid gepraat word, veral hier by die Verenigde Nasies. Jesaja, ons vernaamste profeet van vrede, het bykans 3 000 jaar gelede in Jerusalem gesê: “ Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie, ter wille van Jerusalem sal ek nie stilbly nie totdat daar vir hom redding deurgebreek het soos ’n nuwe dag, soos die lig van ’n brandende fakkel.” Jesaja 62:1.
Dames en here, laat ons ’n fakkel van waarheid en geregtigheid aansteek om ons gemeenskaplike toekoms te beveilig. Ek dank u.
Gelewer by die VN, 29 September 2014

Verdryf die mite van morele gelykheid in ’n eenvoudige formaat deur ’n paar ooglopende teenstellings uit te lig:
• Israel probeer bloot voortbestaan, en om homself te beskerm teen nasies (sowel as Hamas in Gaza) wat die land omring en die nasie die see wil injaag. Die Hamas Handves noem byvoorbeeld spesifiek dat Israel vernietig moet word
• Sedert sy ontstaan in 1948 is Israel gewillig om noemenswaardige kompromieë met sy bure aan te gaan, terwyl vyandige Arabiese leiers eis dat die Jode uit die land gesit moet word
• Israel het telkemale grondgebied vir vrede verruil, maar gewoonlik tevergeefs
• Israel sou verdwyn as hy sy wapens moes neerlê, maar as die vyandige Islamitiese state hulle wapens moes neerlê, sou daar vrede in die Midde-Ooste heers.
• Israel is die laaste skans teen Islamitiese imperialisme in die gebied.
• Israel het ongeveer een miljoen Arabiese inwoners binne sy landsgrense, terwyl Gaza geen Joodse inwoners het nie
• Israel gebruik wapens om sy kinders te beskerm, terwyl Hamas kinders gebruik om sy wapens te beskerm
• Israel wend beduidende en merkwaardige pogings aan om onskuldige burgerlikes in Gaza sowel as Israel te beskerm, terwyl Hamas doelbewus onskuldige burgerlikes in Gaza en Israel teiken. Dit is standaardpraktyk vir Hamas om bevelsposte en beheersentrums in of naby hospitale, skole en moskees op te rig
• Israel het tonne kos, water, mediese en humanitêre voorrade na Gaza verskeep en het selfs gewonde Hamasvegters behandel; Hamas het verskeie van sy eie Palestynse burgerlikes tereggestel, wat daarvan beskuldig is dat hulle met Israel saamwerk
• Israel het elke skietstilstand eerbiedig totdat Hamas dit verbreek het – en Hamas het elke wapenstilstand van hierdie konflik tot op hede verbreek
• Israel is die enigste ware vrye, demokratiese, pluralistiese nasie in die gebied


Vriend van God

Niemand sou kon raai dat die seun wat so kaalvuis onder die ander skoolseuns ingeklim het, eendag die visionêre leier van die Vriend van God AGS-kampusse in Goodwood en Vredekloof sou wees nie. Gerald Ferreira se getuienis herinner ’n mens aan leiers soos Dawid of Gideon, wat ’n nederige onnoemenswaardige begin gehad het, maar wat deur Sy werk in hulle, ’n uitwerking op die koers van die samelewing gehad het. Danksy ’n vasberade tannie Vermaak wat herhaaldelik by die Ferreiras se plot langs gery het om die twee boeties kerk toe te nooi, het hierdie jongman ’n ontmoeting met Sy Hemelse Pa gehad. Gerald het een Sondag besluit om saam te gaan en met daardie rit kerk toe, die koers van sy lewe verander.

JUIG! het met pastoor Gerald Ferreira en sy vrou, Liezl, gaan kennismaak. Die hegte band tussen die liefdevolle Ferreira-gesinslede is opmerklik; dit is duidelik waarom hulle gemeente so erg oor hulle is.

Gerald hoe het jy tot bekering gekom?
Om op die plotte in Boksburg groot te word, was somtyds maar swaar – my pa het sy hele lewe lank ’n stryd teen alkoholisme gevoer. Vroeg opstaan en harde werk was van jongs af al deel van my lewe. Saterdagoggende was harde arbeid met ’n graaf, plastieksakke en ’n hoop mis wat gesif en in sakke gegooi moes word om op die straathoeke te gaan verkoop. Ek en my jonger boetie het harder as die meeste ander kinders op ons ouderdom gewerk. Die verwarring wat alkoholisme meegebring het en hoe dit ons gesinslewe beïnvloed het, het my met frustrasie en woede gevul. Die naweek toe ek daar in tannie Fifi Vermaak se kerk my lewe vir die Here gegee het, was juis weer so ’n harde naweek. Ek onthou nou nog die leraar se uitnodiging: God het ons lief en nooi ons om Sy hand te vat. Hy wil ons ontmoet, vergewe en ons toekoms radikaal verander. Ek was verbaas dat ek die enigste een was wat vorentoe gegaan het. Die ouerige oom wat saam met my in die gebedskamer gebid het, sou in die jare wat volg, vir my studies betaal; hy het vandag steeds ’n uitwerking op my Geestelike reis. Ek het oor my woorde gestruikel, maar toe ek daar opstaan, was ek vir ewig verander!

Hoe het jy toe in die bediening beland?
Ek wonder soms of dit God was wat my geroep het, en of dit maar net ’n geval was dat ek Hom voortdurend herinner het dat ek beskikbaar is. Onthou, ek het geen ‘kerkagtergrond’ gehad nie, niemand van my familie of gesin het ooit kerk toe gegaan nie en niemand wou die Ferreiras van die Oos-Rand eers in hulle kroeg laat werk nie, wat nog in die kerk. Maar ek het ’n dringendheid ervaar om by God se werk betrokke te wees. Die leierskap het God se roeping op my lewe erken en my ondersteun en bemoedig.
Mense soos Kallie Calitz en my ma het ’n groot rol in my lewe gespeel. Ek onthou ook een Sondagaand toe ’n ouer tannie in die kerk ná die diens vir my gebid het. Dit was my eerste kennismaking met ’n profetiese woord. Sy het gesê die Here wys haar dat ek die Evangelie wêreldwyd gaan verkondig en dat Hy my gaan oprig om ’n stem te wees wat die hoop van Sy weg aan ons nasie gaan verkondig.

Hoe is hierdie profesie toe bewaarheid?
Ons kerk het sendelinge in verskeie lande en ek besoek hulle en word ook deur ander instansies genooi om die Evangelie daar te verkondig. Ek wens só ek kan haar vandag vertel oor die lande waar ek al die voorreg gehad het om die Evangelie te verkondig: Rusland, Israel, Engeland, Amerika, Egipte, Zambië en Mosambiek, Indië, Kongo, Rwanda en Malawi.
Ek het die begeerte gehad om God voltyds te dien en dit is deur die leierskap en mense om my bevestig. Dit was alles wonderlik, maar ek het ook geleer dat dít die maklike deel is; om in gehoorsaamheid te wandel, is ’n ander storie. Ek het “ja” gesê en nou vorm Hy my karakter. Daardie proses gaan steeds voort!

Baie mense glo dat hulle ’n roeping het. Hoe kan hulle seker wees?
Volgens Efesiërs 4: 11 het alle kinders van die Here ’n roeping. Dit is belangrik dat jy bevestiging kry vir voltydse bediening – bevestiging deur Skrif, profesie of mense wat jou roeping herken. Bid daaroor en volg dan God se Woord (Psalm 32:8).

Liezl, wat is jou getuienis? (Liezl is beskeie en loop nie daarmee te koop nie, maar het op hoërskool aan SA-atletiekbyeenkomste deelgeneem.)
Direk na ’n SA-atletiekbyeenkoms het my ma my by ’n Christen-tienerkamp gaan aflaai, want volgens haar was hierdie kamp net so belangrik soos die atletiekbyeenkoms. Daar het ek weer ’n nuwe oorgawe gemaak.

Hoe het jy en Gerald ontmoet?
My ma was Gerald se Sondagskooljuffrou. Ek het van hom geweet, maar op daardie stadium glad nie in hom belanggestel nie. Ek het Gerald in September 1998 by ’n selgroep beter leer ken. Hy het die Christenskap vir my ‘n praktiese werklikheid gemaak. Op 14 Februarie 1999 het Gerald, wat intussen pastoor geword het, my by die Woord en Lewe-gemeente in Park Rand gedoop! Vir my was dit nie liefde met die eerste oogopslag nie; ons liefde vir mekaar het eerder gegroei. Gerald het baie slim, eers my ma en broer se guns gesoek, en dit het gewerk, want ons is nou getroud!

Wat is volgens jou die grootste uitdaging vir Christen-vroue en hoe kan hulle dit die hoof bied?
Ek dink die grootste uitdaging vir die hedendaagse vrou is om haar aktiwiteite en prioriteite daagliks alles in te pas, terwyl sy steeds sinvol leef. Hooglied sê dat jy jou identiteit by God moet vind. Ek dink die gevaar bestaan dat vrouens vandag hul identiteit in hulle man, kinders, beroep, by die wêreld en vriendinne soek, eerder as by God.

Julle kinders woon ’n regeringskool by. Watter raad het jy aan ouers wat bekommerd is oor die negatiewe invloede by die skool?
Ek glo dat as ons as ouers die regte grondslag vir ons kinders lê en ’n goeie waar-desisteem in hulle aankweek, sal hulle hul getuienis uitleef – nie net op skool nie maar ook in die wêreld.

Gerald, baie mense beleef God as ’n kwaai Vader wat straf. Hoe help jy mense wat ’n verwronge beeld van God as Vader het?
Ons moet versigtig wees om nie God die Vader te beperk tot wat ons van ons aardse pa’s beleef nie. God die Vader bly ons Hemelse Vader wat steeds alles in Sy liefde onderhou. God is volmaak en jou identiteit verander sodra jy Sy kind word. Anker jou identiteit in Hom.

Wat is volgens jou God se leiding vir die Kerk vir 2015?
“Ek is die God wat jou gedurende die dag kan lei en die God wat jou in die aand kan lei!” Eksodus 13:21: “En die Here het voor hulle uitgetrek, bedags in ‘n wolkkolom om hulle op die pad te lei, en snags in ‘n vuurkolom om hulle voor te lig, sodat hulle dag en nag kon trek.” So baie van ons besef die dringendheid van die uur. Ons moet met moed en toewyding na vore tree en uitreik na diegene wat nog nie God se genade ervaar en die gebed van vergifnis te bid nie. Daar is opnuut ’n sterk oproep aan die Kerk om God se radikale liefde uit te leef. Uit my gesprekke met ander mense is dit duidelik dat God Sy kinders aanvuur om in hulle gebrokenheid, Sy wil te doen en gewillig te wees om in Sy Naam vir Hom te gaan. Vir te lank het ons ’n leefwyse gehandhaaf wat nie geskik was om Hom te verteenwoordig nie. Wêreldwyd wy mense hulle weer aan die verspreiding van die Evangelie. Met dit in gedagte, weet ek dat God ons die sekerheid gee dat Hy ons be-dags en snags sal lei.

Vriend Van God se kontakbesonderhede:
Telefoonnommer: 021 592 3777 of e-pos:
info@vriendvangod.co.za


Fundamentele Waarhede

Die wêreld waarin ons leef, is die produk van menslike idees. Ván hierdie idees is goed en ander is verdorwe. Die Bybel sê: “…soos die mens in sy siel bereken, so is hy”. Oortuigings van die hart en denke het gevolge. Hulle bly nie in die stowwerige bladsye van boeke in ’n biblioteek nie, maar versprei na elke aspek van die samelewing. Opvattings ontstaan by die intellektuele gemeenskap en brei dan uit na die geleerde kringe wanneer hulle by universiteite daaraan blootgestel word, en deur onderwysers verkondig word. Dan kry joernaliste, vermaaklikheidskunstenaars en politici dit in die hande en stel die invloed wat húlle uitoefen die idees en opvattings aan die breër publiek bekend.

Geïnstitusionaliseerde idees
Hierdie gedagtes word dan deel van ’n samelewing se wette, politiek, sosiale en ekonomiese strukture voordat dit uitbrei na die breë kultuur en die lewenswyse van die gewone burger beïnvloed. Ons lewe in ’n wêreld vol beroeringe. Die twintigste eeu word as die donkerste eeu in menslike heugenis bestempel. Dit het van die donkerste karakters in die menslike geskiedenis opgelewer, insluitend Mao, Pol Pot, Hitler en Stalin. Meer mense is in die laaste eeu vermoor of tereggestel as in enige vorige eeu in die geskiedenis.Daar is ’n uitvloeisel na die geskiedenis omdat idees van een generasie na die volgende oorgedra word. Hierdie bose leiers is produkte van die idees van die mens. Nietzsche, die beroemde Duitse filosoof, het voorspel dat die kennis van God in die hart van mans en vroue sal sterf en hy het die uitdrukking geskep: “Wanneer jy in die bodemlose afgrond afstaar, sal die donker dieptes na jou toe terugstaar.” Hierdie man het op die ou end kranksinnig geword.

Fundamentele waarhede
Baie mense is onbewus daarvan dat ons hele kultuur, beskawing en die vryheid wat ons geniet op Christelike ideale en beginsels gegrond is. Die hoeksteen van die Westerse beskawing was trouens die Bybelse Wet. Daardie grondslag word tans onder ons voete uitgeruk en mense is oningelig oor die bron van hulle beska-wing en burgerlike vryheid – die einste Rots waaruit hulle gebeitel is. Ons kan nie verbaas wees dat daar soveel egskeidings en tienerselfmoorde is nie; dat pedofilie, dwelmverslawing en aborsie aan die toeneem is – ons moet egter welis-
waar besorgd wees hieroor. Ek besit die boek, ‘The Great Documents of Western Civilisation’ deur Milton Viorst. Dit bevat die oorspronklike dokumente, verdrae, verordeninge en ooreenkomste wat deur manne en vroue met die verloop van die geskiedenis onderteken is. Dit is vol Christelike idees van die mensdom en die samelewing. Die outeur is nie ’n Christen nie, maar hy skryf in die eerste hoofstuk van die boek: “The Christian religion is the thread that winds through the divers communities of the West. For every trait in common, for every value shared, they probably have ten in which they differ – but all spring from the Christian tradition of the East, modified and transmitted to them by the Church. Christianity is the mother of Western civilisation.”

Beskawing in krisis gedompel
Vir enige beskawing of kultuur om te bestaan, moet dit deur ’n aantal absolute en suiwer waardes bymekaar gehou word. Dit is die Bybelse absolute waarheid, wat in die Wette van God en Waarheid van God gegrond is, wat die Westerse beskawing staande gehou het. Omdat mense van God en die waarheid van die Bybel afstand gedoen het, en in hulle denke ateïste geword het, is die beskawing en die samelewing vinnig besig om uitgekalwe te word. Tensy ons ’n Bybelse hervorming in die Weste beleef, sal die beskawing, soos ons dit tans ken, ineenstort. ’n Paar generasies van nou af, sal ons samelewing heeltemal heidens word omdat die verandering eers binne die hart plaasvind en daarna ’n uitwerking op alle uiterlike dinge het.
Die stryd wat ek en jy voer, begin in die denke van mans en vroue. Idees en opvattings het gevolge. Die Woord het vir ons raad in 2 Korintiërs 10:4: “Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vesting kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.” Ons moet ons denke vernuwe volgens God se waarhede omdat dit die bron van alle vryheid is. Die Bybel sê: “Waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.”

Die bron van vryheid
Amerikaanse presidente maak dikwels dié stelling: “This is a government of the people, for the people, by the people”. Baie min mense weet waar daardie stelling vandaan kom. Dit is in die voorwoord van John Wycliffe se Engelse vertaling van die Bybel. Hy is die ‘Oggendster van die Reformasie’ genoem. Die Bybel was toe nog in Latyn en die breë publiek kon nie die Woord van God self lees nie. Dit was net vir die geestelikes (‘clergy’) toeganklik. Wycliffe het geweet as die man op straat die Bybel in die hande kon kry, dit die wêreld sou verander. Konings en diktators sou nie meer die bevolking kon verdruk nie en daarom het hy gesê: “Ek vertaal hierdie Bybel in Engels vir die regering van die volk, vir die volk en deur die volk.” Hy het geweet dat wanneer die Woord van God die harte en denke van mense binnedring dit tot burgerlike vryheid sal lei. Omgekeerd, het hy ook geweet dat wanneer die Woord van God nie meer in die harte en denke van mense is nie, die burgerlike vryhede wat hulle so geniet ook daarmee saam verdwyn.

Ondergrawing van die fondasie
Die idee van menseregte kom uit die Skrif. Dit mag mense nogal verras. Die hele konsep van grondwette was ’n Christelike idee wat uit die tyd van Moses kom, toe God die volk van Israel die Tien Gebooie gegee het. As die Kerk, moet ons weer eens die idees vasvang waaruit ons beskawing ontstaan het. Ons moet veg vir hierdie idees omdat hulle vinnig besig is om ondergrawe te word. Die duiwel is besig om konstitusiona-lisme om te keer. Die einste instelling wat God gebruik het om ons mee te seën, gebruik die duiwel nou om die Westerse beskawing mee te verwoes. Paulus het gesê: “Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.” Kol 2:8. Die Christelike fondasie word tans ondergrawe deur vals vooronderstellings, New Age-oortuigings en kosmiese humanisme. Die meeste Christene kan nie meer verder as hulle eie ontbyt dink nie.

Ons moet leer om te dink
Ons het daarin misluk om die Here met ons hele verstand lief te hê. Die Bybel sê dat die belangrikste opdrag is om die Here jou God met jou hele hart en verstand lief te hê. Ons moet weer leer om te dink. Ons moet onsself onderrig in die Woord van God sodat ons na die stryd van begrippe en opvattings kan terugkeer en vir die Waarheid van Jesus Christus kan betoog lewer. Omdat ons geabdikeer het en die samelewing aan sy eie doen en late oorgelaat het, word ons beskawing van ons gesteel.
Elkeen het ’n wêreldbeskouing. Selfs diegene wat nooit skoolgegaan het nie, het ’n wêreldbeskouing. Die opvattings wat jy oor God huldig; Wie Hy is, die aard van die kosmos en die geestelike ryk, hoe jy jou medemens en die samelewing en sy instellings beskou, vorm alles deel van jou wêreldbeskouing. Baie min mense het doelbewus hulle wêreldbeskouing gekies – die meeste mense bekom hulle wêreldbeskouing doodgewoon deur hulle kultuur, hulle opvoeding, opleiding en ge-sinne. Die vraag is: Is die wêreldbeskouing wat jy huldig, ’n Bybelse wêreldbeskouing?

Ontwikkel ’n Bybelse wêreldbeskouing
Tensy jy die Bybel bestudeer, sal jou denke en gedagtes nooit volgens ’n Bybelse wêreldbeskouing wees nie; jy sal nie die vryheid kan geniet wat God vir jou bestem het nie. Die stryd begin in jou denke. Jou wêreldbeskouing bestaan uit die antwoorde op vier belangrike vrae:

Oorsprong – waar kom ek vandaan?
As Christene weet ons dat God die oorsprong is van alles wat bestaan; dat God oneindig is; dat Hy ’n persoonlike Skepper is wat die wêreld om ons geskape het. Persoonlikheid is in die skepping ingeskryf omdat God ’n persoonlikheid het. Hy is apart en verhewe bo Sy skepping.
Die intellektuele gemeenskap bevind homself egter in ’n ernstige dilemma. Hierdie gemeenskap het van die bestaan van God afgesien en is nou soekend na ’n ander oorsprong van alles wat bestaan. Tot nou toe het hulle nog geen antwoorde gevind nie – wat tot sinisme, skeptisisme en wanhoop lei. Francis Schaeffer het gesê: “Die wortel van die duisternis is die ontkenning van die geskapenheid van alle dinge.” Wanneer die mens ontken dat hy geskape is; as hy glo hy is net ‘toevalsklei’, weet hy nie waar hy vandaan kom en waarheen hy op pad is nie. Geen wonder dat die hedendaagse jongmense op grootskaal selfmoord pleeg nie.
Die Bybel leer ons dat ons waardevol en kosbaar is, geskep na die beeld van God. Dit gee ons waardigheid. Die insig dat jou medemens na die beeld van God geskape is, sal jou hele wêreldbeskouing van daardie persoon heeltemal verander! Die manier waarop jy ander mense hanteer, verander heeltemal. Sonder hierdie waarheid funksioneer die mens net
volgens die oorlewing-van-die-sterkste-beginsel. Mense is kosbaar. Enige rassistiese regering is ’n gruwel voor God omdat alle mense na die beeld van God geskape is en voor die Wet ’n reg tot gelykheid het.

Eindbestemming – waarheen gaan ek?
Wie of wat beheer ons lot? Is dit toeval of die ‘geluksgodin’? Is dit die natuur, of is dit onsself? Die intellektuele gemeenskap het God weer eens verlaat en is op soek na ’n moet-nog-ontdek-word bron van ons lotsbestemming. Ná eeue is dit steeds nog nie ontdek nie. Hulle weet nie waar hulle vandaan gekom het of waarheen hulle op pad is nie. Die verlede en die toekoms is onseker. Die Bybel openbaar die Waarheid – ’n liefdevolle, soewereine God is in beheer van ons lot; die lot van die heelal is in Sy hande. Hy laat alles ten goede meewerk vir diegene wat Hom liefhet. Die groot beloning van die Hemel is God self – geen trane en lyding meer nie, maar volmaakte liefde en vreugde in die teenwoordigheid van die Ewige God. God is nou aan die werk in die sake van die mens. Hy beheer die lotsbestemming van die nasies van die wêreld. Dit maak nie saak hoe die mens sy vuis in God se gesig rondswaai nie, Hy bly steeds God. Diegene onder ons wat Hom ken, kan Hom sonder voorbehoud met ons eie toekoms en dié van ons kinders vertrou. Ons kan met God saamwerk om ’n seën op die komende geslagte oor te dra. Op hoërskool het ons Grey se, ‘Elegy Written in a Country Churchyard’, bestudeer. Dit is een van die mees bekende en bestudeerde gedigte van die Engelssprekende wêreld. Die agtergrond tot die gedig is dat Grey, die digter, die begrafnis van ’n beroemde persoon in Londen bygewoon het. Dit was glo by Westminster Abbey. Konings en koninginne is daar begrawe, beroemde komponiste, digters en wetenskaplikes is daar begrawe – met beelde of borsbeelde van hulle en wonderlike woorde wat hulle in herinnering roep. Die digter het al die lof vir hierdie beroemde man aangehoor. ’n Paar dae later sit hy in ’n plattelandse kerkhof en kyk na die eenvoudige graf van ’n kleinboer en merk op dat die beroemde man en die eenvoudig boer al twee in die graf lê. Toe ek dit as ’n jong ongeredde student gelees het, my kop vol planne om ’n tienslaapkamerhuis en ’n luukse motor te besit, is ek deur sy woorde geruk. Die sinloosheid van die lewe, met almal wat uiteindelik in die graf opeindig, het my frustreer. Jy kan die frustrasie ook in die hart van die digter hoor wanneer hy die pragtige orrel-klanke tydens die begrafnisdiens beskryf – en tog lê die man in die graf. Hy bepeins die feit dat die wonderlike lofprysings nie die man se gees na sy liggaam kan terugroep nie. Dan kom sy slotwoorde: “All that wealth and all that beauty ever gave, await alike the inevitable hour. Paths of glory lead but to the grave.” Hoe meer ek as ’n student daaroor nagedink het, hoe meer het die opvatting, dat ek net ’n produk van ewolusie is, gedisintegreer. Ek het geweet dat iets my aan die anderkant van die graf ingewag het, en dit was ’n skrikwekkende gedagte. Ek het geweet dat ek teen God gesondig het, maar ek het agter my hoogmoed geskuil en myself gevlei dat ek darem nie so sleg is nie; maar die waarheid is, ek het die Bloed van Jesus nodig gehad.

Kennis – hoe kan ek seker wees dat wat ek weet, die waarheid is?
Jy weet dat jy soms gedagtes in jou hart en verstand koester wat nie reg is nie; hulle is onvriendelik en liefdeloos. Hoe kan die mens op sy eie, met onrein denke en hart, binne sy eie denke redeneer en so by die kennis van waarheid uitkom? Dit sal altyd verdorwe en verdraai wees, met die een of ander element van sedeloosheid daarin. Die New Age-beweging is gewild omdat dit deur middel van intuïsie by kennis uitkom. Hulle glo daar is geen rasionele rede of absolute waarheid nie; dus kan twee uiteenlopende menings wat twee verskillende mense as waar beskou, geldig wees. Dit is ’n geval van ’n blinde wat ’n ander blinde begelei. God se wil is dat die mens tot die kennis van Waarheid kom deur die Woord van God wat sê: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.” Die waarheid oor die kosmos en die heelal en ons medemens is in die Bybel vervat, so ook die waarheid oor die wet, vryheid en geregtigheid. Al die ander godsdiensleiers was so anders as Jesus. Hulle het hulle lerings voorop gehou en daaragter geskuil. Mohammed het gesê: “Die waarheid is aan my openbaar gemaak.” Jesus was die Woord wat vlees geword het, Hy sê: “Ek is die waarheid.” Hy is die enigste Een wat Homself voor sy lering gestel het.
Die wêreld is dieselfde as Pontius Pilatus, wat vra wat die waarheid is terwyl dit die Waarheid in die oë staar. Die enigste ding wat die intellektuele gemeenskap blykbaar vir seker weet, is dat niks seker is nie. Dit lei tot wanhoop. Ons is egter nie die blindes wat die blindes lei nie. Ons kan die Waarheid ken.

Waardes – hoe weet ons wat is waardevol in die lewe?
Wat is van die uiterste waarde? Is dit die mens, is dit God, of die natuur? Mense is so verward. Hulle weet nie of dit pelsrobbe of hulle eie siel is wat meer waardevol is nie. Mense bestee deesdae meer aan hondekos as aan wêreldsending. Want, die intellektuele gemeenskap het God verlaat, dit maak die aanname dat die mens of die natuur van uiterste waarde is.
Omdat hulle hulle verbintenis met ’n volmaakte, regverdige, liefdevolle, ewige God verloor het, besef hulle nie dat Hy van die uiterste waarde is nie. Wesenlik is dit wat God waardevol ag, waardevol. Omdat ons na Sy beeld geskape is, het die mens waarde. God het gesê dat die skepping goed was, maar Hy het die mens vir Homself geskape. Ons moet stry vir die Waarheid waarop ons lewens tans staan, voordat dit vir ewig verlore gaan! Judas 1:3 waarsku ons: “…stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het.”

PAUL DANIEL stigter en hoofpastoor van Gateway Christian Family Church. Durbanville. candice@gatewaycfc.co.za