Vuurwapens en Geloof

Misdaad is ’n baie onaangename werklikheid wat deesdae byna almal raak, selfs in ons eie huise.
Huisinval
Net toe my broer se 18-jarige nefie by die oprit wou inry, het vyf gewapende aanvallers uit ‘n BMW gespring en op hom afgestorm. Hulle het hierdie jong man met ‘n geweer teen sy kop uit sy motor gesleep. My broer se vrou het ’n waarskuwing geskree dat daar aanvallers in die tuin is.
Gewapende invaller
Toe my broer die voorportaal binnekom, is hy onmiddellik gekonfronteer met ‘n man wat ’n grootkaliber silwer semi-outomatiese pistool op hom rig. Toe die aanvaller losbrand, het my broer sy pistool oorgehaal en teruggeskiet. Daar is vyf skote op hom geskiet en hy het drie skote gevuur, waarvan twee die misdadiger getref het. Hoewel hulle minder as drie meter van mekaar af, in ‘n smal voorportaal, tromp-op op mekaar gevuur het, het al vyf skote my broer wonderbaarlik gemis.
Ongedeerd en veilig
Terwyl die gewonde aanvaller in die tuin weggestrompel het, het Derek nog vier skote op die ander misdadigers afgevuur wat op die vlug geslaan en sy nefie ongedeerd agtergelaat het. Sy motor, met die sleutel nog in die aansitter, is net so in die oprit gelaat. Tydens die skietery het Sandra en Lauren, my broer se vrou en dogter, na ’n veilige kamer gevlug, waarvandaan hulle die polisie gebel en op die grond gelê en bid het.
’n Wonderwerk
Tydens die polisieondersoek van die misdaadtoneel was hulle verstom dat die aanvaller in so ’n klein ruimte en op ’n afstand minder as drie meter, met vyf skote gemis het. Hulle het dadelik saamgestem dat God my broer beskerm het.
Danksy my broer se beskrywing kon hulle die bende van vyf vinnig identifiseer. Hulle het geweet wie die leier is – die man wat van ’n silwer outomatiese pistool gebruik gemaak het. Die bende boewe het in huisinbrake, verkragting en moord gespesialiseer. Die week tevore het hulle ’n gesin uitgewis.
Ons loof die Here dat Hy ’n skild vir my broer se gesin was en dat Hy my broer gehelp het om vinnig en akkuraat te vuur. Soos Oliver Cromwell gesê het: “Vertrou op God en hou jou kruit droog.”
Selfverdediging in die Wet van God
Die Wet van God is duidelik: “As ’n dief betrap word terwyl hy inbreek, en hy word geslaan, sodat hy sterwe, sal daardeur geen bloedskuld ontstaan nie,” Eksodus 22:2. Die Wet van God stel die basiese reg tot selfverdediging in. Elkeen is geregtig daarop om homself of sy gesin te verdedig wanneer hulle aangeval, of hulle lewens bedreig word. Enige wapen is toelaatbaar in selfverdediging. Die wet van God sê nie dat die huiseienaar skuldig is as hy ‘n swaard gebruik, maar onskuldig as hy ‘n knuppel gebruik nie. Die wapen is nie die kwessie nie, maar die reg en die plig tot selfverdediging.
Jesus Christus het aan Sy dissipels gesê: “En wie nie ’n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf.” Lukas 22:36.

Beskerm jou gesin
God Almagtig verwag van vaders en mans om voorsiening te maak vir hul families. “As iemand nie vir sy eie mense en veral nie sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ‘n ongelowige.” 1 Timoteus 5:8. Dit sluit in: die verskaffing van kos, behuising, klere, onderwys, mediese sorg, liefde, dissipelskap en geestelike leiding, maar ook beskerming. Van watter nut is al die voorsiening as ‘n mens versuim om ook beskerming te bied? Enigiemand wat nie vir sy gesin voorsien nie, verloën die geloof en is slegter as ‘n ongelowige. Trouens, diegene wat weier om hulle kinders te be-skerm is erger as ’n dier. Watter dier sal nie veg om sy kleintjies te beskerm nie? God het wapens aan al Sy skepsels geskenk: horings, tande, kloue, naels, snawels, kamoeflering, angels, veg-of-vlug-vermoëns en ‘n instink om hul kleintjies te beskerm.
Sendelinge: gewapend en gereed
Die pioniersendeling, William Carey, lys in sy boek, ‘An Enquiry into the Obligation of Christians to use means for the Conversion of the Heathen’ (die boek wat die moderne sendingbeweging van stapel gestuur het) “messe, buskruit en patrone” as noodsaaklike toerusting vir enige sendeling.
Ontdekkingsreisiger en pioniersendeling, dr. David Livingstone, wat in 1840 vir die eer-ste keer in Afrika aangekom het, was goed toegerus met ’n paar van die mees gevorderde wapens wat destyds beskikbaar was, insluitend ‘n seslooprewolwer en dubbelloopgeweer. David Livingstone was eenkeer verplig om sy wapens te gebruik om homself te verdedig en slawehandelaars te oorreed om gevangenes vry te laat. In ’n stadium het Livingstone só op kritiek gereageer nadat hy en sy geselskap verplig was om op Moslem-slawehandelaars terug te vuur: “Ek hou net soveel van vrede as enige ander sterf-ling. Trouens, ek oortref julle daarin, want ek is bereid om daarvoor te veg.”
CT Studd, die wêreldberoemde krieketspeler wat ’n pioniersendeling geword het, het die eerste bekeerlinge in ’n rivier in die Kongo met die een hand gedoop terwyl hy ’n rewolwer in die ander gehad het, gereed om krokodille af te weer.
Die vurige Skotse rooikop, Mary Slessor, ’n pioniersendeling na Calabar (hedendaagse Nigerië), het in haar gebedsbrief aan haar kerk by die huis masjiengewere aangevra om die bedreiging van slawehandelaars in Nigerië af te weer.
Baie gelowige lesers sal geskok wees om sulke verslae in hedendaagse sendingnuusbriewe te lees. Miskien het die gemaklike en voorspoedige omgewing waarbinne die meeste Christene in die Weste vir so lank al leef, ons verblind vir die harde werklikheid wat die meeste Christene deur die eeue heen in die gesig moes staar – iets wat Christene in minderbevoorregte dele van die wêreld tans ook ervaar. ’n onBybelse pasifisme het baie Westerse Christene aangegryp.
Sendelinge word deurentyd deur gevare gekonfronteer wat ons ons skaars kan indink. Ons moenie ander te vinnig oordeel omdat hulle doen wat die Bybel hulle beveel om te doen nie – om gepaste voorsorgmaatreëls te tref om hulleself en hulle gesin te beskerm en te verdedig.
Persoonlike verantwoordelikheid en nie verwaandheid nie
Natuurlik is die primêre wapens van sendelinge die Bybel, gebed, geloof en om te oortuig. So ook is ons primêre geestelike voedsel die Woord van God, maar dit weerhou ons nie daarvan om saad te saai, te oes, inkopies te doen en voedsel voor te berei nie. Christene moet gebalanseerd wees en ons moet weet dat sonde uit die hart van die mens kom (Mark 7: 21-23). Dit maak nie sin om ‘n instrument, ‘n koue lewelose metaalvoorwerp te blameer vir die boosheid wat in die mens se hart is nie.
Pasfisme is teenstrydig met die historiese Christelike lering. Die Nege-en-dertig Artikels, die grondleggende verklaring van die Church of England, verklaar duidelik in Artikel 37: “Dit is wettig vir Christen-mans om wapens te dra.”
Die Westminster Kategismus, wat as die beste uitdrukking van Bybelse lering beskou word, bepaal in die Sesde Gebod, dat die verbod teen moord van ons vereis om: “Deur sorgvuldige bestudering en wettige pogings ons eie lewe en die van ander te bewaar, deur weerstand te bied, en deur geregverdigde verdediging, die onskuldige teen geweld te beskerm en te verdedig. “(Q135)
“’n Troebel fontein en ’n vuile bron, so is die regverdige wat wankel voor die goddelose.” Spreuke 25:26
Misdadigers verkies ongewapende slagoffers
Die onderliggende argument vir vuurwa-penbeheer is dat die beskikbaarheid van wapens tot misdaad aanleiding gee, maar dit is nie die Bybelse standpunt nie. Genesis 4 dokumenteer die eerste moord toe Kain vir Abel vermoor het. God se reaksie was nie om klippe, messe, knuppels, of watter moordwapen ook al gebruik is, te verbied nie, maar om die moordenaar te verban. Dit is die moordenaar se hart wat die probleem is, nie die wapen wat gebruik is nie.
Nêrens in die Bybel word wapenbeheer voorgestaan nie. Die Bybel dokumenteer wel die beheer van wapens deur die Amalekiete en die Filistyne (Rigters 5: 8 en 1 Sa-muel 13: 19-22), maar dit veroordeel hierdie beperkings op individuele selfverdediging as ‘n heidense poging om buitensporige mag te sentraliseer.
Switserland is ‘n voorbeeld
As vuurwapens misdaad veroorsaak, sou Switserland die gewelddadigste en wetteloosste land ter wêreld wees omdat die meeste landsburgers wapens in hulle huise aanhou. Tog is die misbruik van vuurwapens in Switserland uiters gering, en dit ondanks die feit dat daar miljoene militêre tipe gewere en ‘n groot aantal ander vuurwapens en oorlogswapens in woonhuise aangetref word. Switserland het ook die laagste aantal inbrake en moorde in die industriële wêreld.
Geweld was ’n werklikheid voor die koms van vuurwapens
Die voorstel dat geweld mettertyd sal afneem as ons net vuurwapenbeheer instel, onthul onkunde oor geskiedenis sowel as die menslike natuur. Geskiedkundige dokumentering dui aan dat geweld algemeen voorgekom het, selfs voor die uitvinding van vuurwa-pens in die 15de eeu. Attila die Hun, Ghenghis Kahn, Shaka Zulu en Mzilikazi het daarin geslaag om miljoene mense sonder die hulp van enige vuurwapens om die lewe gebring.
Rwanda was ‘n wapenvrye sone
Die volksmoord in Rwanda het in ’n wapenvrye sone plaasgevind. Binne net ses weke is meer mense met pangas en stokke vermoor as wat daar weens die gebruik van kernwapens in die geskiedenis van die mensdom omgekom het. Die volksmoord in Rwanda is nie deur internasionale optrede beëindig nie, maar deur gewapende Rwandese uitgewekenes wat van Uganda af teruggekeer het, wat die moordenaars op die vlug laat slaan het.
Gewapende burgers red lewens
Elke dag word ontelbare misdade voorkom, honderde potensiële slagoffers word be-skerm en talle tragedies afgeweer deur gewapende burgers. Gewapende burgers red lewens, maar ongewapende burgers word alte dikwels hulpelose slagoffers. Vuurwa-penbeheer ontneem potensiële slagoffers van die beste manier om hulleself te be-skerm. Dit is elke man se plig om gewapen te wees en gereed te wees om die onskuldige te beskerm en die weerlose te verdedig. Mag God elkeen van ons in staat stel om vinnig en akkuraat te reageer.
DR PETER HAMMOND is ‘n sendeling, skrywer en Bybelleraar. Skakel: 021-689-4480; e-pos: mission@frontline.org.za; webwerf: www.frontline.org.za.


OpStaan & Saamstaan

Dit is maklik om oorweldig te voel deur al die negatiewe nuus waarmee ‘n mens deesdae oorval word, van ISIS-aanvalle, korrupte politici, en moord en doodslag in ons eie land. ’n Mens voel dit is darem nou genoeg!
Dit is ook wat dr. Arno van Niekerk gevoel het toe hy pen op papier gesit het en om sy boek, ‘Genoeg! Hoekom is ons hier?’, te skryf. Hy steek egter nie vas by die negatiewe nie, maar gaan voort om ook na die keersy van genoeg te kyk. Dat die Kruis GENOEG is, ook vir Suid-Afrika, dat die land GENOEG het vir almal om van te leef, dat God GENOEG is, want Hy is per slot van sake die EK-IS-antwoord op elke probleem en behoefte.
Wie is Arno van Niekerk en wat is sy boodskap?
Dr. Arno van Niekerk is ’n senior lektor en ekonoom aan die Universiteit van die Vrystaat en stigter van The Stand. Hy het ’n passie om God se wil in Suid-Afrika te laat seëvier en te sien hoe die land God se roeping vervul.
“Ek wil hê Christene moet in liefde opstaan vir God se waarheid; ons moet getrou bly aan God se Woord en genesing bring deur oor alle grense heen na mekaar uit te reik en hande te vat vir ‘n nuwe toekoms in Suid-Afrika. Sy Woord moet in alle sfere van die samelewing weer die hoogste gesag word. Opstaan en saamstaan is die antwoord vir die land om die regte rigting in te slaan.”
Arno het in standerd 6 radikaal tot bekering gekom. “Ek was een van die ouens wat die hele skool wou bekeer,” vertel hy. “Ek was onmiddellik roepingsbewus.” Daardie passie vir God en sy koninkryk het deur sy skoolloopbaan en universiteitstudies nie afgeneem nie en brand trouens nou net sterker.
Waar het die idee vir ‘Genoeg’ ontstaan?
Arno het verlede jaar in Salzburg gaan klasgee en het een middag in die woud gaan stap om hom af te sonder en tyd met die Here te bestee.
“Soms het ’n mens afstand nodig om perspektief te kry, ek het teruggestaan en na ons land gekyk,” vertel hy. “Ek het gevra: ‘Here hoe kyk U na hierdie land? Wat is op U hart vir die toekoms vir die land?’” Arno het Jeremia 1 van die Here ontvang. In hierdie Skrif sê die Here vir Jeremia dat die amandeltakkie wat hy sien, ’n teken is dat die Here gereed staan om te doen wat Hy gesê het. Suid-Afrika is soos die takkie wat begin bot – die begin van lewe is daar, maar die nasie moet stilstaan en hoor wat God sê.
Arno vat dít wat tans in menige Suid-Afrikaner se hart brand, so saam: “Die land ly aan disoriëntasie, alles voel so oorweldigend. Jy voel: Watter verskil kan ek nou maak? Jy voel geïsoleer: Waar is die ander wat nog staande bly? Die vyand gebruik juis sulke disoriëntasie om ons moedeloos te maak. Die diversiteit veroorsaak dat ons deur ‘gekleurde brille’ na mekaar kyk, ons hou mekaar skuldig. Ons raak besig met mekaar terwyl die vyand terugstaan en kyk hoe alles in duie stort.“
Wat is die doel van die boek?
“Die boek is ’n wekroep om weer te sién. Kom ons stel net eers weer die koördinate in. Waar bevind ons ons tans? Ek beskryf ook wat globaal aan die gang is. Dit bied insig in die postmoderne, sekulêr-humanistiese aanslag. Vroeër was dit maar net ‘n alternatiewe wêreldbeskouing, nou is dit dié wêreldbeskouing en die Kerk swig voor hierdie druk. “
In tipiese akademiese styl het Arno alle bronverwysings weergegee vir diegene wat meer wil weet of verder wil delf. Baie van die inhoud roer die tydsgees sonder omhaal aan en ontbloot die agenda daaragter sonder om spekulatief te wees, soos Arno dit stel “Ek is ’n ekonoom, ek werk met feite! Ek substansieer, verifieer en kwalifiseer! Dit is nie teorieë nie, maar die feite. “
Die geskiedenis van die nasie word vanuit ’n roepingsoogpunt beskou, nie vanuit die ou mentaliteit van ’n verbondsvolk en die uitverkorenes nie. En hierdie roeping kom herhaaldelik na vore.
Genesing vir ons land
Wat ’n mens dadelik van Arno tref, is sy passie vir ons nasie se genesing sodat ons daardie roeping kan vervul. Hy vertel ‘n roerende verhaal wat dit duidelik uitbeeld.
“Michael Cassidy het my genooi om as gasspreker by Tukkies se sendingweek op te tree. Ek het gevoel die Here lei my om by die Uniegebou en die Voortrekkermonument te gaan bid. By die Uniegebou het ek deur die tuine gestap en gebid en met die trappe tot bo gestap, maar die polisie het my daar voorgekeer. Hulle wou weet wat ek doen, waarop ek verduidelik het dat ek vir Suid-Afrika bid.
‘You must come pray for us. Pray for our families and for the police force, please sir,’ het hulle my genooi. Weet jy, ons begin bid, en die trane het geloop – God het hulle harte aangeraak. Dit is saad wat die Here in die grond sit vir later.”
Versoening by die Voortrekkermonument
“Daarna is ek na die Voortrekkermonument toe waar ek by die gelofte van Bloedrivier gestaan en bid het. ‘n Swart vrou tik my toe op die arm en vra: ‘Excuse me sir, I see it says here: God protect us against the enemy. Who is the enemy?’ Dit het soos ’n skoot yswater gevoel, want dit is waaroor die hele kwessie van die verlede gaan. Langs haar was daar ander swart mense wat ook wou weet en aan die hierdie kant staan daar wit mense en hulle draai ook, om my antwoord te hoor.
“Ek het geweet die Here het hierdie ‘n geleentheid geskep en ek antwoord: ‘Mam, in that context the Voortrekkers felt threatened by the Zulus attacking them, so they saw them as the enemy, like you would see somebody attacking you in your home. You don’t care what the skin colour is, at that moment that person is the enemy.‘ Toe sê ek: ‘But we know who the real enemy is. It is not people; the Bible says our battle is not against flesh and blood, but against the principalities.’ Ek kon sien dit het haar geraak. Ek het voortgegaan: ‘Mam, I want to ask your forgiveness, on behalf of my people. We have made that day a victory for our culture. I ask your forgiveness, we should have only celebrated that day as a day of God answering a prayer.’ Die vrou se oë het vol trane geskiet en sy het gesê: ‘Sir, this must go out to the nation, South Africa must hear this!”
Daar staan ons toe, 20 mense, swart en wit, en ons vat hande en ons bid en die trane loop. Dit is die krag van die Here se genesing! Daar is ’n krag in genesing wat hierdie land tot in sy fondament gaan skud.
Hoeveel keer moet ons nog vergifnis vra?
Oor genesing het Arno ook ’n interessante uitgangspunt. ’n Mens hoor dikwels mense wat vra: “ Hoeveel keer moet ek nog om verskoning vra? Hoeveel keer moet ek nou nog sê ek is jammer? Wanneer is dit nou genoeg?” Hy haal Jesus se geantwoord van “sewentig maal sewe keer” aan.
“As jou mikpunt is om jouself te ver-ontskuldig, dan is dit te verstane dat ’n mens sal wil weet hoeveel keer jy dit nog moet doen – daar is ’n beperking daarop. As jou mikpunt is om genesing te bring, sal jy sê: ‘Here, vir wie kan ek nog om verskoning vra sodat genesing kan plaasvind?” Dit is die sleutel. Die gene-sing moet intrek, dit moet diepgaande wees.”
En dít is die essensie van wie Arno van Niekerk is. Hy verwoord dit: “My roeping is om die Dawids, Joasuas, Kalebs en Esters op te rig, die tyd het aangebreek. Laat ons soos die seuns van Issaskar wees wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat hulle te doen staan.”
DR ARNO VAN NIEKERK is ’n senior lektor en ekonoom aan die Universiteit van die Vrystaat en stigter van The Stand. Hy is beskikbaar as gasspre-ker. Die boek, ‘Genoeg!’ kos R120 (R100 plus R20 posgeld). Kontak hom by genoegSA@gmail.com vir boekbestellings of om as gasspreker op te tree.
Foto’s deur: Francois Haasbroek. Gaan na www.francoishaasbroek.co.za


God Beweeg Mense

Hier in 2016 het God groot planne met elke nuwe Nineve…ook met jou.
Jy het my amper tot trane beweeg,” sê iemand vir my ná ’n preek. Eers het ek gedink dit is ’n kompliment, totdat ek koning Agrippa se woorde in Handelinge 26:28 onthou. Hy het eendag vir Paulus gesê hy beweeg hom byna om ’n Christen te word. “Amper is nog nie stamper nie,” sou my oupa dadelik gesê het.
Toe besef ek dat ek al baie mense amper beweeg het tot trane, tot bekering, tot vernuwing…maar, dit is nie genoeg nie. Dit sal ook nooit wees nie, want as God nie die beweegwerk doen nie, is alles tevergeefs. Dit is presies wat in 2016 moet gebeur. Mense moet uit God se pad staan en ervaar hoe Hy Sy almag openbaar, soos die profeet Jona ook moes leer doen.
Op ‘n verkeerde skip
Op ’n dag wou God vir Jona midde ’n storm van sonde en goddeloosheid in die stad Nineve ontplooi, maar hierdie profeet was nie lus hiervoor nie. Nineve was nie ’n goeie plek vir Godvresendes soos hy nie. Tog wou God juis vir Jona daar hê. Een gestuurde van die Here is altyd ’n oormag, ongeag waarheen Hy jou stuur. Jona was egter bang en gemaksugtig. Daarom het hy op die verkeerde skip geklim en weggevlug.
Ongehoorsaamheid dwarsboom nooit God se planne nie
God het Jona gou-gou van hierdie skip afgekry. Hy het ’n storm op die see gestuur, asook ’n vis om hom terug na Nineve toe te vervoer. Menslike ongehoorsaamheid dwars-boom nooit God se planne nie. Jona moes daardie eenman-weermag wees wat in die Naam van die Here ’n stad vanaf dood na die lewe verskuif. Nee wag, God sou al die verskuiwing doen; Jona moes maar net Sy amptelike spreekbuis wees. Jona moes preek en dan vinnig uit die pad staan sodat God se krag Nineve met hemelse sterkte kon tref.
Hy red ook die aan boord die “verkeerde skip”
In die proses om Jona van die boot af te kry, verrig God toe sommer nog ’n wonderwerk. Hy red ook die “verkeerde skip” se mense. Die Here gee nie net om vir Nineve nie, maar ook vir die passasiers en personeel van elke verkeerde skip. Vandag nog! Al is wie weet hoe-veel mense steeds op verkeerde bote vasgekeer – God daag elke keer op. Geen storm is ooit te sterk om Sy genade van koers af te waai nie; nie eens daardie kategorie-5-storms wat tans regoor die wêreld woed nie.
’n Ongenaakbare boodskap
Jona het uiteindelik in Nineve aangekom. Hy het toe net ’n “een-reël-preek” vir die stad voorberei: “Nog net 40 dae, dan word
Nineve vernietig.” Dit is al. Nie ’n enkele stukkie genade word hier-mee saam ingemeng nie. Dit was net oordeel, want Jona het steeds sy eie kwessies met God en met nie-gelowiges gehad. God is egter eindeloos genadiger as Sy profeet. Hy gebruik dadelik hierdie “eenreël-preek” op ’n bonatuurlike manier vir Sy doeleinde.
Staan uit die pad uit sodat God die werk kan doen
Hy gebruik selfs ’n swak menslike erdekruik soos Jona, want hy het ten minste stotterend in Nineve opgedaag en nie weer gedros nie. Jona se swakheid het die Here gepas, want Hy deel Sy eer met geen mens nie, soos Hy in Jesaja 42:8 sê. ’n Sterk Jona sou die mense self probeer beweeg het. ’n Swak Jona staan nou haastig uit die pad uit sodat God Self die beweegwerk kan doen en Sy almag openbaar.
Sodra dit wil voorkom of geen koning, amptenaar of mens hulle meer aan God steur nie, gryp Hy in. Hy openbaar Sy teenwoordigheid op ongekende maniere in die mees sondige plekke op aarde. Hyself bereik Sy doel. Hy skuif berge. Hy verander stede. Hy breek die mag van goddeloosheid. Hy ruk mense in Nineve soos brandhout uit die vuur. Hy is die drie-enige Here, Hy is die Almagtige!
Maak gereed!
Hier in 2016 het God groot planne met elke nuwe Nineve…ook met jou. Niks en niemand sal Hom keer om in te gryp nie. Hy is aan die beweeg. Maak asseblief net seker jy is nie op ’n “veilige boot” iewers heen aan’t vlug nie. God sal ’n storm en ’n vis stuur om jou terug op Sy koers te kry. Hy gaan jou in Nineve, én in die res van Suid-Afrika, ontplooi met jou kleivoete en al. Maak gereed om deur God beweeg te word! Maak gereed om Sy almag te ervaar. Vanjaar gaan God baie Nineve-vestings verower met Sy goedheid soos nooit tevore nie.
PROF STEPHAN JOUBERT is die stigter van ekerk, ’n professor in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Noordwes en Radboud Universiteit te Nijmegen. Vir meer inligting: www.ekerk.org, of info@ekerk.org


12 Leuens Oor Afrikaans

Teen die einde van verlede jaar was die Universiteit van Stellenbosch (US) in ’n taalstryd gewikkel nadat die rektor, prof. Wim de Villiers, en die bestuur van die universiteit ’n eensydige aankondiging uitgereik het wat sou behels dat Engels van vanjaar af die primêre taal van kommunikasie en administrasie by die US sou wees – wat Afrikaans as akademiese en administratiewe taal sou relegeer.
Die raad van die (US) het egter daarna ’n mosie vir meertaligheid aanvaar wat beteken dat, hoewel die akademiese aanbod in Engels uitgebrei sal word, Afrikaans steeds as gelyke akademiese en administratiewe taal behoue bly terwyl Afrikaans en Engels parallel by die US sal funksioneer.
Heelwat is hieroor gesê, hier volg drie interessante bydraes:
Prof Hermann Giliomee
“Geniet die oorlog, die vrede sal veel erger wees.” Hierdie woorde is deur ‘n lid van die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) geuiter tydens ‘n sewe-uur-debat op ‘n toekomstige taalbeleid.
‘n Baie lelike vrede sou uitgebreek het, sou die universiteit se topbestuur daarin geslaag het om hulle voorstel deur te voer dat Engels die primêre medium van onderrig en kommunikasie en die verpligte medium van bespreking by al universiteitkomitees en byeenkomste word. Sou Afrikaans uit die klaskamers en komiteekamers verdryf word, sou dit tot ‘n bose teenreaksie lei.
Op die ou end het reg geskied en is daar besluit om die 50-50-beleid vir Afrikaans en Engels te behou. Wat niemand in 1994 kon voorsien nie […] was dat Afrikaanssprekende akademici en topuitvoerende bestuur die voortou sou neem om die gebruik van Afrikaans stelselmatig te beperk nie.
Deur hulle eng voortsetting van hulle eie individuele of korporatiewe belange, het hierdie groep nie aanspreeklik gevoel teenoor studente, ouers, kliënte of die Afrikaanse gemeenskap nie. – Prof Hermann Giliomee
Alec Hogg
Afrikaans is onder volgehoue â��â��aanslag. Sy antagoniste, onder leiding van die groep, Open Stellenbosch, glo hulle optrede is geregverdig. Agter die retoriek is die vergelding vir die apartheidsregering se idiotiese 1976-poging om die taal dieper in Soweto se skole in te dwing. Dat die onluste waartoe dit gelei het byna 40 jaar gelede plaasgevind het, blyk van geen belang te wees vir die wraaksoekers nie, want volgens enige rasionele ontleding, kan dít die enigste motief wees agter die poging om die taal uit die geestelike hart van die volk, aan die Universiteit Stellenbosch te verwyder. Afrikaners is uiters belangrike bydraers tot die gesondheid van die Suid-Afrikaanse ekonomie, verskaf die grootste deel van private inkomstebelasting en speel ‘n groot rol om die land aan die gang te hou. Hoewel baie Afrikaners geëmigreer het, het die meerderheid hulleself verreweg tot ‘n langtermyntoekoms in die land van hul voorva-ders verbind. Dit is irrasioneel om hulle* taal en die instellings wat hulle gestig het en hulle na aan die hart lê, aan te val. –Alec Hogg, Biznews.com
*Afrikaans is nie net die Afrikaner se taal nie. Die meerderheid Afrikaanssprekendes is nie wit nie. Van die 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes is net 2,7 miljoen wit. Bruin Afrikaanssprekendes verteenwoordig 50%; wit Afrikaanssprekendes 40% en swart Afrikaanssprekendes 9%, met die res uit ander groepe (Sensus 2011). Dit beteken dat meer as 60% van die Afrikaanse gemeenskap nie wit is nie. Daar is meer Afrikaanssprekendes uit die bruin be-volkingsgroep as wit. –Red

Gerrit Komrij
Gerrit Komrij, ‘n Nederlandse literêre kritikus, het daarop gewys dat ‘n [Afrikaanse] elite besig is met die afsit van Afrikaans se ledemate ten spyte van die feit dat die liggaam gesond en springlewendig is. Hy bevind dat sover dit die toekoms van Afrikaans betref, die grootste bedreiging vir Afrikaans, Afrikaanssprekendes self is.
12 leuens wat almal glo
1. Baie min mense in Suid-Afrika praat Afrikaans. Daarom is dit beter om na Engels oor te skakel
Verkeerd. Afrikaans, met 6,8 miljoen sprekers, is die derde grootse taal in Suid-Afrika ná Zoeloe (11,5 miljoen) en Xhosa (8,1 miljoen). Engels (4,8 miljoen) word deur slegs 9,6% van Suid-Afrika se bevolking as moedertaal gebruik (Sensus 2011).
2. Afrikaans het nie ’n plek in Suid-Afrika nie omdat dit ’n “witmanstaal” is
Verkeerd. Die meerderheid Afrikaansspreken-des is nie wit nie. Van die 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes is net 2,7 miljoen wit. Bruin Afrikaanssprekendes verteenwoordig 50% (3,4 miljoen); wit Afrikaansprekendes 40% (2,7 miljoen) en swart Afrikaanssprekendes 9% (602 100), met die res uit ander groepe (Sensus 2011). Dit beteken dat meer as 60% van die Afrikaanse gemeenskap nie wit is nie.
3. Dit is beter om Afrikaans af te skaf en na Engels oor te skakel, want Afrikaans was die taal van die onderdrukker
Engels was die taal waarin die wreedste slawehandel en koloniale uitbuiting in Afrika plaasgevind het. Die Nazi-geskiedenis is in Duits gepleeg. Tog word Engels en Duits as tale nie vir hierdie verlede gestraf nie. Waarom vandag die meerderheid Afrikaanssprekendes, wat bruin is en aan die ontvangskant van Apartheid was, straf?
4. Afrikaans hoort nie in Afrika nie want dit is nie ’n inheemse taal nie
Afrikaans se wortels is Westers maar met sterk invloede van Asië (Maleisië) en Afrika. Behalwe dat Afrikaans na die Afrika-kontinent gernoem is, word dit nêrens anders in die wêreld gepraat nie. Hoe kan dit dan nie ’n inheemse taal wees nie? Die oneerlikheid van mense wat so sê is dat hulle dan ten gunste van Engels is, wat blykbaar as koloniale en Europese taal in Afrika hoort.
5. Vir die langtermyn oorlewing van oorwegend Afrikaanse universiteite is dit beter dat die universiteit Engels word, want Afrikaans het ’n kwynende mark
Volgens die SAOU het 54 000 wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes in 2011 matriek geskryf. Hiervan het 36 000 universiteitstoelating gekry waarvan 29 000 hulle by universiteite ingeskryf het. Dit regverdig twee tot vier kampusse wat Afrikaanse klasse aanbied.
6. Afrikaans is nie tegnies genoeg ontwikkel as ’n akademiese taal nie.
Net vyf tale het in die twintigste eeu ontwikkel tot die hoogste vlak, nl: Hebreeus, Katalaans, Indonesies, Hindi en Afrikaans. Meer as 450 vakwoordeboeke en terminologielyste in Afrikaans is ontwikkel vir byvoorbeeld die mediese, rekenaar, ruimte, en baie ander velde. Vyf Suid-Afrikaanse universiteite bied nog klasse in Afrikaans aan. Afrikaans word as vak by Nederlandse, Poolse, Russiese, Amerikaanse, Belgiese en vele ander universiteite aangebied. Die internasionale erkenning van Afrikaans blyk uit die feit dat byvoorbeeld Microsoft, Google en Nokia, Afrikaans as een van hulle keusetale aanbied.
7. Engels is ’n internasionale taal – daarom is dit dom om in Afrikaans te wil studeer
Internasionale navorsing het bewys dat onderrig in jou moedertaal altyd die beste is. Die Chinese studeer in Mandaryns; die Duitsers in Duits en die Franse in Frans. Die Duitse ekonomie is die sterkste in Europa en hoewel min Chinese Engels praat of verstaan, is hulle wetenskaplik ver voor baie ander lande en het reeds verskillende ruimtetuie die ruimte ingestuur.
Naas Engels is Afrikaans die enigste Suid-Afrikaanse taal wat ook internasionaal verstaan word. In die res van die wêreld is daar 24 miljoen mense wat Afrikaans verstaan, in byvoorbeeld lande soos Nederland, België en Suriname. Dit is nie die geval vir die ander Suid-Afrikaanse tale nie.
8. Die voorstander van Afrikaans is anti-Engels
Voorstanders van Afrikaans is nie anti-Engels nie. Engels is belangrik en maak baie deure oop – veral internasionaal. Daarom behoort Engels as vak deur studente tot op universiteitsvlak geneem te word – verkieslik verpligtend. Afrikaanse studente wat in Afrikaans studeer het, doen baie goed in die buiteland waar hulle dikwels in Engels moet werk. Navorsing bewys dat studente beter vaar as hulle moeilike begrippe in hul moedertaal, byvoorbeeld Afrikaans, aanleer (Kathleen Heugh). Omdat hulle Engels as taal ken, kan hulle kommunikeer en goed vaar in ’n Engelse wêreld. Daar is ’n groot verskil tussen Engels bemeester as taal, teenoor Engels as enigste taal van onderrig in alle vakke.
9. Om Afrikaans as onderrigtaal by ’n universiteit te gebruik, is teen die grondwet
Art 29 (2) van die grondwet: “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde…hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe… met inbegrip van enkelmedium oorweeg…” Van die 36 universiteitskampusse in Suid-Afrika is slegs twee nog oorwegend Afrikaans. Dit beteken dat die meeste kursusse daar nog van die begin tot die einde in Afrikaans voltooi kan word. Is twee oorwegend Afrikaanse kampusse te veel gevra?
10. ’n Taal kan nie tot niet gaan nie
Baie tale het reeds uitgesterf. Tans is daar 1 500 tale wat met minder as 1 000 mense wat dit praat, op die grens van uitsterf is. Afrikaans is ’n Germaanse taal. Van die 22 Germaanse tale het 10 reeds verdwyn. Tale kan dus tot niet gaan.
11. Solank ’n taal nog gepraat word, kan dit nie tot niet gaan nie
As ’n taal nie meer in die hof, in die parlement, in die skool, in die universiteite en in die ekonomie gepraat word nie, verloor dit status en is daar min aansporing vir ouers om hul kinders daarin groot te maak. Binne drie geslagte kan so ’n taal tot niet wees. ’n Taal begin dus tot niet gaan as hy sy amptelike of hoë taalfunksies verloor. Gaan slaan na hoe Oksitaans, Wallies, Skots-Gaelies en ander tale agteruitgegaan het nadat hulle hulle hoë taalfunksies verloor het.
12. Afrikaans sluit uit en gee aanstoot
Moenie enkele gevalle veralgemeen en op alle Afrikaanssprekendes van toepassing maak nie. Afrikaans durf nie die turksvy in die Suid-Afrikaanse taalboord wees nie. Die manier waarop die “taalstryd” gevoer word, sal dit bepaal. Dit is in die belang van al Suid-Afrika se tale dat Afrikaans die stryd voortsit. Die bekende Afrikaanse skrywer Chris Barnard het gesê: “As Engels die oorhand (in Suid-Afrika) kry, is dit meer as net Afrikaans wat in die slag gaan bly. Tien inheemse tale gaan verdwyn. Die enigste uitheemse taal (Engels) gaan bly en al elf dele van die koek kry, miskien ’n hoflike windjie breek en verder stap Afrika in.”