Skeptici Beantwoord: Hoe Kan ‘n liefdevolle God Enigiemand Hel toe Stuur?

Een van die mees algemene besware wat dikwels voor Christene se koppe gegooi word, kan in hierdie woorde opgesom word: Hoe kan ‘n liefdevolle God enigiemand hel toe stuur? Wat van die Eskimo’s en die Pigmeë en ander primitiewe, verafgeleë stamme wat nog nooit die Evangelie van Christus gehoor het nie? Sal God hulle veroordeel? Die kort antwoord op die vraag is: Nee! Natuurlik sal niemand veroordeel word omdat hulle nie geglo het in Iemand van wie hulle nog nooit gehoor het nie. Ons word geoordeel volgens die lig wat ons ontvang het.

Algemene openbaring
“…Van Sy hemelse woonplek af maak God Sy straf bekend oor die mense wat goddeloosheid en ongeregtigheid bedryf en so die waarheid onderdruk. In hulle harte het hulle immers die duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekendgemaak.

Want al is God onsigbaar, kan hulle Sy ewige krag en Sy Goddelikheid reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit Sy handewerk waarneem…” Rom 1:16-21. Enig¬een het die voordeel van ‘n Algemene Openbaring in die natuur. Ons kan iets van die Skepper in Sy Skepping sien. “Die Hemele verkondig die heerlikheid van God, die uitspansel getuig van die werk van Sy hande.” Ps 19:1. God se onsigbare eienskappe kan verstaan word as op die sigbare dinge in die Skepping gelet word. In die lig hiervan, is die hele wêreld sonder ‘n verskoning indien hulle God verwerp. Niemand kan op onkunde aanspraak maak indien hulle weier om Hom te eer of Hom dankbaar te wees vir alles nie.

Die ewigheid in hul harte
In sy boek ‘Eternity in their Hearts’ het Don Richardson gedokumenteer dat selfs primitiewe stamme ‘n basiese begrip van ‘n Skepper, die Skepping en reg en verkeerd het.

Drome, gesigte en ontmoetings
In die DVD ‘More Than Dreams’ hoor ons van Moslems wat geen toegang het tot sendelinge of formele evangelisasiewerk nie. Hulle word, sonder twyfel en in antwoord op gebed van God se kinders, tot groot sonde-oortuiging gelei en word in hul drome met die werklikheid van Christus gekonfronteer. Hulle het tot volle oortui¬ging van hul redding gekom. Alhoewel alle mense toegang het tot die Lig van die Skepping en oor gewetes beskik, leef die meerderheid in rebellie teen die Almagtige God.

Mense is rebels
Wanneer ons betrokke is by persoonlike evangelisasiewerk in werksplekke, kom ons soms mense teë wat sê dat hulle nie in die Bybel, die Wet van God of in Jesus Christus glo nie. Dit is dan dat ek gewoonlik vra watter norme en maatstawwe hulle in hul alledaagse lewe gebruik. Oor die algemeen handhaaf hierdie mense baie hoë standaarde en is hulle gedrag uitstekend – dikwels is dit net ‘n variasie op Christus se ‘Goue Reël’ wat in die Bergpredikasie weergegee word.

Indien ek dan vra of hulle altyd volgens dié norme en standaarde geleef het, is die antwoord sonder uitsondering: Nee! Ek het nog nooit iemand teëgekom wat daarop aanspraak gemaak het dat hy/sy nie hul eie standaarde geskend of verbreek het nie! Of almal dus die Lig van die Skepping of hul gewetes het, of nie, niemand leef ooit 100% daarvolgens nie. Ons het ‘n baie spe¬siale Openbaring in die Bybel nodig. Ons is skuldige Wetsverbrekers.

Die mens se verdorwenheid
“Dit is soos die Skrif sê: ‘Niemand is goed nie – selfs nie een enkele een nie… almal het sleg geword. Daar is niemand wat die goeie doen nie – selfs nie een enkele een nie. Hulle taal is vieslik soos stank wat uit die oop graf kom. Met hulle tonge pleeg hulle bedrog. Die gif van dodelike slange drup van hulle lippe. Hulle monde is vol vervloeking en bitterheid… Eer¬bied vir God speel by hulle geen rol nie.” Rom 3:10-18. Dit is die waarheid.

God se heiligheid
Dit is ongelukkig so dat baie predikante en pastore deurgaans ‘n ongebalanseerde weergawe van God se aard gee en die meeste mense dink dat God nét liefdevol en genadig is. Dit is egter ‘n feit dat die engele in die hemel deurentyd sing: “Heilig! Heilig! Heilig!” God se Heiligheid en Geregtigheid vereis dat onboetvaardige moordenaars, godslasteraars, verkragters, diewe en leuenaars met straf hanteer moet word. Ons moet dalk sitplekke ruil en aan ons vraagstellers vra: “Wat, dink jy, behoort God te doen met onboetvaardige moordenaars? Kerkvervolgers? Marxistiese massamoordenaars? Terroriste? Vroueslaners? Verkragters? Wilddiewe? Haatdraendes? Bedrieërs?”

God se toorn
Hoe kan ‘n Heilige God nie boosheid straf nie? God is ‘n God van liefde en lig. Hy is ‘n God van Genade en Geregtigheid. God is Genadig, maar ook ‘n God van toorn. “Die Here se toorn het teen ons ontvlam…” 2 Kon 22:13. “Wie glo in die Seun, besit nou reeds die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom.” Joh 3:36.

Het God almal nie ewe lief nie?
Almal wat dit vra, verstaan ook nie die Heiligheid en Geregtigheid van God nie. Hierdie vraag is gebaseer op ‘n dwaalle¬ring en die antwoord daarop is onomwonde: Nee! Die Bybel is inderwaarheid baie duidelik oor die feit dat daar baie mense is wat vir God eenvoudig nie aanvaarbaar is nie.

Dit word baie sterk gestel: dinge wat God haat – “Daar is ses dinge wat die Here haat, nee, eintlik sewe dinge waaraan Hy ‘n afsku het: oë vol hoogmoed, ‘n tong wat lieg, hande wat onskuldiges doodmaak, ‘n hart wat slegte planne beraam, voete wat agter kwaad aanloop, ‘n valse getuie wat leuens verkoop, en iemand wat rusie veroorsaak tussen broers.” Spr 6:16-19. Trotsaards, leuenaars en goddeloses is deel van dit wat God haat.

Begrip van Sy liefde
“Hulle wat respek het vir die Here, haat dit wat verkeerd is. Daarom het ek geen tyd vir hoogmoed en hovaardigheid of vir ‘n verkeerde lewe of slinkse woorde nie.” Spr 8:13. Want: “God het die mensewêreld so liefgehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Joh 3:16.

Algemene genade
God het die wêreld lief in die sin dat Hy algemene Genade aan sondaars bied. Hy laat die son op regverdiges en onregver¬diges skyn. Hy laat dit reën op regverdiges en onregverdiges. Hy het die wêreld so lief dat Hy in die persoon van Sy Seun Jesus Christus aarde toe gekom het. Almal het voordeel getrek uit Jesus se koms na die wêreld asook die geweldige seën wat uit Sy Woord en die werk van die Heilige Gees spruit.

Gelykheid is onbybels
Algemene Genade beteken egter nie dat God almal ewe lief het nie. Niks in die hele Skepping is presies gelyk nie. Duiwe is be¬slis nie dieselfde as arende nie en sebras is definitief nie dieselfde as leeus nie. Niemand is presies gelyk/dieselfde nie. Nie in geleent¬hede, vaardighede, talente of in gawes nie.

Mense is beslis nie gelyk in vermoëns, energie of motivering nie. Sommi¬ges werk hard en offer baie op. Ander verkwis hul hulpmiddele en energie op dobbelary en ander verdorwenhede. Sekulêre huma¬nistiese filosowe mag moontlik gelykheid wil afdwing, maar die onwerkbaarheid daarvan is alreeds bewys.

In die gelykenis van die talente (Luk 19: 12-27), leer Jesus ons dat Hy diegene wat getrou en wys in hul diens aan Hom is, ryklik sal beloon, maar die onproduktiewes sal veroordeel word. “Aan elkeen wat het, sal gegee word, en van hom wat nie het nie, sal weggevat word wat hy besit.” Luk 19:26.

Vryheid om te slaag of te faal
Daar is niks gelykmakend aan die Bybel nie. Gelykheid voor die Wet word in die Bybel beveel (Num 15:15-16). Niemand kan egter gelykheid t.o.v inspanning en resultaat af¬dwing nie. In die Bybel lees ons dat Enog met God gewandel het en dat Abraham uitgekies is as die Vader van God se volk. Abraham word ook as God se vriend beskryf. Moses het van aangesig tot aangesig met God gepraat en Dawid was ‘n man so na God se hart.

Johannes, die Apostel, word beskryf as die ‘dissipel wat Jesus liefgehad het’. Jesus het dit ook baie duidelik gemaak dat daar verskillende grade van oordeel sal wees. Hy het gewaarsku dat dit op die Oordeelsdag vir die bose stede Sodom en Gomorra beter as vir Kapernaum sal wees.

Waarom? Boos soos Sodom en Gomorra was, het hulle nooit die Bybel gehad nie en die Messias het nooit in hul strate gestap nie. Kapernaum, egter, het Jesus en Sy Apostels gehad wat daar wonderwerke gedoen het. Tog het hulle Sy Genade verwerp.

Die oordeelsdag
Ons sal volgens die lig wat ons gehad het, veroordeel word. Van die wat veel ontvang het, sal veel vereis word. En van die wat nog meer ontvang het, sal nog meer vereis word. Die Bybel is ook baie duidelik dat daar verskillende grade van beloning in die Hemel sal wees: “Daar kom egter ‘n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom…” 1 Kor 3:13-15.

En die Eskimo’s en die Pigmeë?
Nou is ons weer terug by die vraag – wat van die Eskimo’s, die Pigmeë en die ander primitiewe, verafgeleë stamme wat nooit die kans gehad het om die Evangelie te hoor nie? Daar is, om die waarheid te sê, baie Pigmeë in die Kongo wat reeds hul harte aan die Here gegee het.

As enigiemand ooit aan die verdorwenheid van die mens twyfel, moet hy/sy maar net David Livingstone se joernaal en Henry Morton Stanley se boek ‘Through the Dark Continent’(1878) en ‘Darkest Africa’ (1890) lees. Hierdie twee pioniers gee ‘n baie duidelike beeld van presies wat die stand van die beskawing in hierdie kontinent was voordat die Evangelie verkondig is. Kannibalisme, verraad en slawerny was aan die orde van die dag. Vele van die dorpies in die Kongo was versier met die kopbene van tienduisende slagoffers van kannibalisme.

Almal weet daar is ‘n God en dat ons teenoor Hom aanspreeklik is
Daar is geen ernstige en goeie mense wat opreg na God soek wat sonder meer deur God verdoem sal word bloot omdat hulle nog nooit die Evangelie van Jesus Christus gehoor het nie. God het Sy Ewige krag en karakter aan elke mens op hierdie planeet openbaar, of dit nou deur Algemene Openbaring in die Skepping of deur hul eie gewete is, elke mens weet baie goed dat daar wel ‘n God is en dat hy of sy teenoor Hom aanspreeklik is. En tog is almal aan God ongehoorsaam. Jesus Christus het na hierdie wêreld gekom wat alreeds verlore en op pad hel toe was. Hy het gekom om hierdie wêreld vry te koop, omdat hulle alreeds veroordeel is omdat hulle die Skepper verwerp en Sy Heilige Wette oortree het.

Werk hard sodat God jou kan goedkeur…
Karl Marx het eens verklaar: “Die eerste slagveld is die herskryf van die geskiede¬nis.” Sekulêre humanistiese handboeke en Hollywood-films poog om die werklikheid só te herrangskik dat die Christendom en ons voorouers daardeur gediskrediteer word. Ons moet die Woord van God ken en ons moet Sy handewerk in die geskiedenis ken. “Werk hard sodat God jou kan goedkeur. Wees ‘n goeie werker, een wat nie nodig het om hom te skaam nie; iemand wat die woord van die waarheid reg verduidelik.” 2 Tim 2:15
– deur dr. Peter Hammond


Pa: Veel Meer as ‘n Broodwinner

Tot baie onlangs het alle literatuur oor ouerskap die hele kwessie van moe¬derskap geïdealiseer en vaderskap heeltemal oor die hoof gesien. Met die nuut¬ste navorsing oor die gesin het daar ’n baie besliste skuif plaasgevind en die persepsie is nou dat vaders ’n baie groot bydrae t.o.v. sowel kinder- as volwasse-ontwikkeling kan lewer (Mary Pickard-verslag, 1998).

Die gemeenskap besef uiteindelik dat vaders net so ’n belangrike rol speel ten einde die gesonde ontwikkeling van hul kinders te verseker. Hul rol strek veel verder as bloot dié van tradisionele stereotipe broodwinner. Navorsing wys toenemend op die voordele van kinders met gesonde vader-kind-verhoudings. Volgens George Rekers, professor in Neuropsigiatrie en Gedragswetenskappe, Navorsingsdirekteur vir Kinder- en Adolessentpsigiatrie en voorsitter van die Fakulteit Sielkunde aan die University of South Carolina School of Medicine, is daar ’n definitiewe korrelasie tussen ’n positiewe en volhoubare verhou¬ding met die vader en ’n goeie selfbeeld, hoë selfvertroue in persoonlike en sosiale interaksie, hoë morele volwassenheid, verminderde tienerswangerskappe, groter interne beheer en hoër loopbaanaspirasies.

Vaders wat liefdevol, sorgsaam en aktief betrokke is by die grootmaakproses se kans op goed-aangepaste kinders is veel groter as die wat nie betrokke by hul kinders is nie. Die vernietigende gevolge van ongesonde vader-kind-verhoudings is nét so goed gedokumenteer. Die afwesigheid van ’n vader lei by seuns tot toenemende aggressie en/of vroulikheid. Maritsa van Loggerenberg, ’n sosiale werker by St Albans Maksimum Veiligheidsgevangenis in Port Elizabeth, beraam dat ongeveer 90% van al die gevangenes met wie sy werk, sonder ’n vaderfiguur grootgeword het.

Alhoewel die media dikwels op die negatiewe fokus, het daar ook die afgelope paar dekades positiewe veran¬deringe plaasgevind t.o.v. persepsies van die vader se rol. Die tradisionele beeld van die vader as ’n emosioneel-verwyderde broodwinner en streng dissiplinêre gesagsfiguur het plek gemaak vir ’n vaderfiguur wat ook ’n opvoedingsrol in die kinders se lewens speel. As Christene verwelkom ons hierdie positiewe verandering. Die Woord van God verminder vaderskap nooit tot ’n enkele funksie of metafoor nie, maar beklemtoon tog sommige van die belangrike rolle wat vaders behoort te aanvaar. Ek wil graag vyf hiervan noem.

Pa as pastorale begeleier
Theodore Hesburgh het eerste die woorde wat deesdae ’n beradingspreuk is, geui-ter: ‘Die belangrikste ding wat ’n pa vir sy kinders kan doen, is om hul ma lief te hê.’ So waar en belangrik as wat hierdie woorde is, is daar iets belangriker wat deur die Woord van God uitgelig word – Die belangrikste wat ’n pa vir sy kinders kan doen, is om die “Here jou God met jou hele hart lief te hê,” Deut 6:4-5 en “Herhaal hierdie woorde oor en oor vir julle kinders.” Deut 6:7.

Indien ’n pa die leiding neem en God liefhet en dien, is dit hoogs waarskynlik dat die kinders sy voorbeeld sal volg. Navorsing deur die Christian Business Men’s Committee het gevind dat ’n pa wat ’n aktiewe gelowige is, se kinders ’n 75% groter kans het om ook aktiewe gelowiges te wees. Wanneer slegs die ma ’n gelowige is, is die kans dat die kinders die Here dien, slegs 15%. As Christen-pa’s is ons geroep om pastorale begeleiers in ons huise te wees – mans wat God passievol liefhet en dien en wat hul gesinne in aanbidding van die Here Jesus Christus kan lei.

Pa as lewensafrigter
Onderrig van veral seuns is ook Pa se verantwoordelikheid. Dit sluit die onderrig van die weë van God (Deut 6:4-9), maar ook die onderrig van praktiese lewensvaardighede – goeie maniere, werksetiek, morele waardes, verhoudings met vrouens, gesinsfinansies en sakevernuf in. (Spr 1-9). Vaders behoort lewensafrigters te wees. Die hedendaagse slaggat is om hierdie ‘afrigtings¬rol’ aan die kerk, die skool of selfs die televisie oor te laat. Vaders voel hopeloos ontoereikend toegerus vir hierdie be¬langrike taak as lewensafrigter en los dit dus veel eerder vir ‘opgeleide, professionele mense’.

Ons vergeet egter in die proses dat ons vir ons jong kinders amper soos God is. Jou dogter glo elke woord wat jy sê en jou seun klou vas aan absoluut alles wat jy sê en doen. Vir jou kinders is jou gesag feitlik net soos God s’n. God het dit so beskik, want hy het pa’s geroep as die ‘lewens¬afrigters’ in hul kinders se lewens. Sommige pa’s, egter, verwar ‘afrigting’ met ‘kritiek’. Ek onthou die televisie-onderhoud wat ek eens met ’n wêreldgehalte sportman gekyk het. As kind het sy pa hom verskriklik gedryf om die hoogste sport te bereik. Na elke wedstryd sou sy pa hom na die park neem en elke iedere foutjie wat begaan is, uitwys en hom tot sononder dril om dit uit te skakel.

Hy onthou: ‘Die meeste seuns het voor die wedstryd ’n hol kol op die maag gekry; myne het altyd na die wedstryd gekom omdat ek geweet het wat wag.’ Hy het verder onthou dat dit vir hom baie erger en meer stresvol was om sy pa na die tyd in die oë te kyk as enige span waarteen hulle te staan sou kom. God roep vaders op om afrigters te wees, nie kritici nie, om op te bou en nie af te breek nie!

Pa as bemoediger
Elke seun verlang na sy pa se goedkeuring en versekering dat hy trots is op hom en ’n dogter verlang sy goedkeuring in alles. Ma s’n is verseker – dis maklik om haar goedkeuring en trots te kry. Pa s’n is egter heeltemal ’n ander storie. As seun was dit vir my uiters noodsaaklik dat my pa trots op my sou wees. Ek het tog geleef met die gevoel dat hy was – en dit het my met moed en selfvertroue gevul.

’n Baie goeie vriendin het ook daarna verlang dat haar pa haar sou vertel dat sy pragtig is en dat hy bly is dat sy sy dogter is. Sy het egter nooit sy onvoorwaardelike, heelhartige goedkeuring en aanvaarding ervaar nie – en haar hart smag nou nog daarna.

John Eldredge, skrywer van ‘Wild at Heart’ glo dat elke seun nodig het om van sy pa te hoor dat hy dit in hom het om ’n ware man te word en elke dogter moet van haar pa hoor dat sy pragtig is en werd is om bemin te word. Indien hulle nie hierdie bevestiging van hom kry nie, sal hulle dit op ander plekke gaan soek. Dit maak nie saak hoe oud ons is of hoe ver ons van ons pa’s af weggedryf het nie, ons verlang nog steeds na hul goedkeuring. ’n Spaanse pa se verhouding met sy seun het so gespanne ge¬raak dat die seun weggeloop het. Sy pa het besluit om hom te gaan soek. Hy het maande lank gesoek – sonder enige sukses. Uiteindelik, in ’n laaste poging om sy seun te kry, het hy ’n advertensie in die Madrid-koerant geplaas. Dit het gelees: ‘Liewe Paco, ontmoet my Saterdag om 12-uur voor die koerantkantoor. Alles is vergewe. Ek is lief vir jou. Pa.’

Twaalfuur die betrokke Saterdag was 800 Paco’s daar om Pa se liefde en goedkeu-ring te ervaar! ’n Deel van God se opdrag aan pa’s is om hul kinders van hul heelhartige goedkeuring en steun te verseker. Ons seuns moet weet dat ons trots is op hulle – hulle moet weet dat hulle vir ons die beste seuns in die wêreld is en dat hulle dit beslis in hulle het om ware mans te word. Kom ons laat ons dogters voel dat hulle prinsesse is – pragtig en waardig om bemin te word.

Pa as wetstoepasser
Dissipline is ’n aspek van die pa se liefde wat ons moontlik nog in hierdie generasie kan verloor. My predikant het onlangs van die VK teruggekeer met ’n skokkende verslag oor die gebrek aan dissipline onder kinders. Die Bybel is baie duidelik: “Hy wat sy seun nie dissipline leer nie, het hom nie regtig lief nie. As hy hom liefhet, sal hy hom dissiplineer.” Spr 13:24.

As liefdevolle pa’s is dit ons plig om toe te sien dat die toepaslike reëls in die huis geld. Hoe dit ook al ons harte skeur – en dit behoort – sal dit net erger wees indien ons dit nie doen nie. Na jare se hantering van rebelse tieners, het die Houston Polisie die volgende saamgestel: Reëls om misdadige kinders groot te maak.

Begin al kleintyd – gee die kind alles wat sy/haar hart begeer. So word hulle groot en glo die wêreld skuld hulle alles.

Wanneer hulle vloekwoorde gebruik, lag daaroor. Dit sal hulle laat dink hulle is oulik. Dit sal hom/haar ook aanmoedig om ander woorde aan te leer wat jou later uit jou sinne sal skok.

Tel alles op wat hulle laat rondlê – boeke, skoene, klere. Doen alles moontlik vir hulle, so sal hulle leer om alle verantwoordelikheid te ontduik.

Laat hulle enigiets lees. Maak net seker jou eetgerei is skoon en kiemvry, maar laat hulle enige gemors waarop hulle hul hande kan lê, lees.

Kies die kind se kant teen bure, onder¬wysers en selfs die polisie. Hulle is almal tog bevooroordeeld teenoor jou kind.

Ons moet wrede, roekelose, outoritêre dissipline verwerp, maar indien ons die regte dissipline ignoreer, faal ons om ons kinders op God se manier lief te hê. Kinders floreer indien hul pa’s hulle lief genoeg het om Goddelike grense te stel en toe te sien dat dit konsekwent en met sorg toegepas word.

Pa as kameraad
Indien hulle voor die keuse gestel word, sal ons kinders beslis tyd saam met Pa bo enige speelgoed kies. Hulle wil veel eerder ons tyd as ons geskenke hê. En laat ons nou maar nie onsself bluf nie: gehaltetyd beteken ook genoeg tyd! Gehalte-oom-blikke vind plaas indien ons genoeg tyd saam met ons kinders spandeer.

Charles Francis Adams, ’n politieke fi¬guur en diplomaat uit die 19de Eeu, het dagboek gehou. Eendag het hy geskryf: ‘Het vandag saam met my seun gaan visvang – dag gemors.’ Sy seun, Brook, het ook dagboek gehou en op dieselfde dag die volgende inskrywing gemaak: ‘Vandag saam met Pa gaan visvang – die lek¬kerste dag van my lewe!’ Tyd saam met ons kinders mag moontlik voel asof dit gemors is, maar slegs die ewigheid sal kan wys dat dit moontlik ’n belegging met die grootste opbrengs was.

Toekomsbelegging
Navorsing aan die Cornwall Universiteit het getoon dat gemiddelde pa’s ongeveer 38 sekondes per dag aan hul kinders afstaan waarin hulle onverdeelde aandag kry en ongeveer 20 minute per dag verdeelde aandag. Dieselfde kinders spandeer 54 uur per week voor die televisie. Verdere navor¬sing het getoon dat die gemiddelde kerkgaande tiener ongeveer twee minute per dag in gesprek met hul pa’s spandeer. 25% van hierdie tieners verklaar dat hulle nog nooit ’n sinvolle gesprek met hul pa’s gehad het nie, m.a.w. ’n gesprek waar daar op hulle belange en behoeftes gefokus word nie. Ons kinders het ons nodig om daar vir hulle te wees – om na hulle te luister, om saam met hulle te lag, om net eenvoudig by hulle te wees.

Hulle wil graag hê ons moet vir hulle sê, deur die tyd wat ons aan hulle afstaan, dat hulle ons grootste prioriteit is, belangriker as die koerant, die tuin, rugby, die werk en selfs kerkaktiwiteite. Ek het hier slegs bo¬langs aan die Bybelse rol van pa’s geraak. Ek kon nog baie ander fasette byvoeg – Pa as beskermer, voorsiener, gebedstryder – maar as ons as pa’s net bogenoemde vyf rolle aanvaar, wat ’n belegging sal dit nie wees in die lewens van ons kinders nie! God het hulle aan ons sorg toevertrou!
– deur dr. Kevin Smith


Milli-sekondes Tussen My en Die Dood

Om 10-uur dié aand in Januarie 2002 het ek met ’n ligte hoofpyn wakker geword. Ek het nie veel daarvan gedink nie, na die badkamer gestap en twee tablette geneem. Terug by die bed het my man, Kevin, voorgestel dat ons bid. Kort nadat ons gebid het, het ek iets soos ’n elektriese golf deur my liggaam voel trek – van my kroontjie teen my ruggraat af, en ek het ’n kloppende hoofpyn ervaar.

Ek het van skok gebewe en het gewag dat die volgende golf my tref. Kevin het voortgegaan om te bid en my getroos ter¬wyl ek lê en huil het… Uiteindelik het ek gaan slaap en die volgende oggend opgestaan sonder om weer enigsins aan die vorige aand se gebeure te dink.

Hoewel ek nie meer hoofpyn gehad het nie, het dit gevoel asof daar sand in my oë is elke keer as ek my oë knip. Twee dae later is ek dokter toe. Sy het ’n hoofpynspasma gediagnoseer en my na ’n fisioterapeut ver¬wys. Toe dit egter nie die hoof¬pyne verlig nie, het sy my vir toetse na die hospitaal verwys. ’n Limbaalpunksie is gedoen; die spesialiste het bloed op die brein gevind en my vir ’n noodangiogram gestuur.

Maak reg met God
Ek was verskriklik bang in die hospitaal. Die dokter het my baie ernstig meegedeel dat ek bly kan wees dat ek nog leef… “Ons sal ’n breinoperasie moet uitvoer sodra die swel¬ling op die brein gesak het.” Ek kon dit nie glo nie. Ek het sommer begin huil, stom en bevrore van angs. Die dokter het ook gevra dat my man saam met hom moet stap. Toe hulle terugkom, kon ek op hul gesigte sien dat ek my vir die heel ergste moet voorberei.

En toe Kevin daardie dag huis toe gaan, het hy by my gepleit: “Maak asseblief seker dat jy Jesus as jou persoonlike Verlosser aanvaar het.” Hoewel ek weergebore was, was ek maar ’n baie lou Christen en ons het albei geweet dat my verhouding met God baie intiemer behoort te wees. Erger nog as die blote gedagte aan die dood, was die hele idee van ’n lewe na ’n onsuksesvolle operasie.

Ek moes hoor dat slegs 33% van diegene met ’n aneurisme oorleef en dat die moontlikheid van verlamming, epilepsie of iets ergers, nie uitgesluit kan word nie. Ek en my man het besluit om maar die kans te waag en met die angiogram voort te gaan. Binne ’n baie kort rukkie het ek egter geleer om God volkome te vertrou. Volgens die dokters sou die operasie sewe uur duur en onder ’n mikroskoop uitgevoer word. Ek was angsbevange terwyl ek alleen in die kamer oor die toekoms lê en dink: “Gaan ek hel toe?”, “Sal ek die operasie oorleef?”

Hierdie gedagtes het my getreiter en ek het ’n geestelike stryd in die donker nag beleef. Ek het God gevra om my sondes te vergeef, om tog te bevestig dat Hy my vergewe het. Daar was nie ’n hoorbare antwoord daarop nie, maar ek het geweet ek was gereed om God te ontmoet. Iets in my hart het verander en ek het geweet die Here was lewend in my en dat Hy my deur hierdie operasie sou help.

’n Ontstellende tyd
’n Week later is ek hospitaal toe. Toe hulle my hare die oggend afsny, het ek geweet die tyd was daar… Met my kinders en my man om my bed, het ons alles in gebed aan God oorgegee. In die operasieteater was die atmosfeer uiters gespanne. Hulle het die slagaar in my regterbeen oopgesny en vinnig begin werk.

Ek kon die stroom bloed voel spuit en is aangesê om doodstil te bly lê. Dit was egter baie moeilik omdat ek die instrumente in my lyf voel rondkrap het. Die suster het my kop in haar hande gehou. Skielik het ek vlamme binne my brein voel brand. Ek het uitgeroep en hulle probeer sê dat iets verkeerd was, maar ek is nie toegelaat om te beweeg of iets te sê nie. Hulle het my platgedruk terwyl trane oor my wange gestroom het. Toe ek my oë toemaak, kon ek die vlamme genadeloos sien brand. Ek het gedink ek was in die hel; later was ek selfs te moeg om verder te baklei en het aan die slaap geraak. Na sewe dae is ek uit die Intensiewe Sorgeenheid ontslaan en teruggeskuif na die algemene saal alhoewel ek nog erg onder morfienverdowing was. Elke oggend is ’n bloedverdunner toegedien en tog was ek, te midde van alles, baie dankbaar dat God my geestelik sowel as fisiek bewaar het. Hoewel ek oorleef het – en dit was ’n wonderwerk – het ek dubbelvisie gehad. Dit was onmoontlik om ordentlik te loop en ek kon nie teruggaan werk toe nie.

’n Wandelende wonderwerk!
Ek het vir ’n maand tuisgebly – hulpeloos en sukkelend. Ek kon nie bestuur, werk of ordentlik sien nie. Ek het in ’n diepe depressie verval, my denke gebombardeer met vreesgedagtes van die duiwel self. Jou denk¬wêreld is die kragtigste en manipuleerbaarste wanneer jy weerloos is.

Dit was ’n daaglikse stryd om my ge¬dagtes met God se Woord en hoop vir die toekoms te vul. “‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het’, sê die Here. ‘Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.’” Jer 29:11. Ek moes ’n keuse maak – om hierdie dinge deur te werk en God te vertrou, of om handdoek in te gooi. Deur God se Genade het ek die regte keuse gemaak en het ek depressie die stryd aangesê. Ek het geleer om God te loof en te prys t.s.v. my omstandighede en om God te dank vir alles in my lewe. Soms, terwyl ek besig was met lofprysing, sou die duiwel kom en my gedagtes besoedel met bose gelag en ’n spottende stem. Dit was moeilik, maar ek het besef ek moes op Jesus en die wonderlike karakter van God fokus. “Tog is U die Heilige wat woon waar Israel U prys.” Ps 22:3.

Ek het net geweet hoe meer ek Hom loof en prys, hoe makliker sou dit word. My eie gebede en die van my broers en susters in Christus het my genesing moontlik gemaak. Vandag is ek die leidster van die damesaanbiddingsgroep. Elke dag is ’n reis en dit is net God se Genade, Sy Woord en Sy Heilige Gees wat my daagliks deurdra.

Ek het deesdae feitlik geen newe-effekte meer van die aneurisme nie. Ek is ’n wandelende wonderwerk van die Allerhoogste God! Ek het vir drie jaar met dubbelvisie gesukkel wat volgens neuroloë slegs ses maande sou duur. Vandag het ek net 5% dubbelvisie – min genoeg om geen effek op my daaglikse leefstyl te hê nie.

Mense vra my dikwels of ek weet waarom ek ’n aneurisme gehad het. Daar is geen familiegeskiedenis nie, soos wat so dikwels met hierdie ‘fratse’ die geval is. Ek weet egter die Here het hierdie hele situasie gebruik om my nader aan Hom te bring – om my te red en ’n verhouding met Hom te hê. Ek kan nou waaragtig sê: “En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.” Rom 8:28.
– deur Susan Krause


In Sy Voetspore… Heinrich en Charné Dry

Heel dikwels word predikants- of pastoorskinders deur gemeentelede beskryf as: “Jong, hulle is die onmoontlikste kinders in die gemeente.” In Heinrich Dry se geval is dit egter eerder iets soos: ‘Die appel val nie ver van die boom nie,’ of ‘aan sy vrugte word hy (en sy vrou) geken’ as kinders van die lewende God. Ons het met Heinrich (37) en Charné (31) Dry oor hulle geloofsreis gesels.

Heinrich, jy het as past. Tommy en Wilna Dry se seun grootgeword. Het jy weggedwaal of altyd ‘n intieme verhouding met Jesus gehad?
Ja, daar was ‘n tyd in my lewe toe ek nie die Here gedien het nie – die jaar wat ek diens¬plig gedoen het in die Vloot en ook toe ek in Londen gebly het. Jy sien, dit is wat dikwels gebeur wanneer jongmense hulle ouerhuis verlaat. Ek het op skool gedink ek ken die Here en alles is in orde, maar ek het Hom nooit werklik persoonlik geken nie. My prentjie van wie die Here is, was altyd klein en beperk, ek het nooit besef dat Hy soveel groter is as my beperkte verstand nie. Ek het in 1995 ‘n ware ontmoeting met die Here gehad toe ek in Kaapstad gebly het. Hy het vir my gesê: “ …Heinrich jy het al alles in die lewe probeer, maar nog nooit vir My ‘n kans gegee nie.” Ek het Sy stem só duidelik gehoor, soos iemand wat langs jou sit en met jou praat. Ek het so groot geskrik, nooit geweet dat die Here so met My sal praat nie! Ek het so onwaardig gevoel om te dink dat die Here tog in my sou belang¬stel; veral nadat ek so ver van Hom af geleef het. Hy het verder vir my gesê en in ‘n visie gewys hoe Hy al my sonde uitwis en vir my ‘n nuwe lewe gaan gee met nuwe beloftes. Na dié gebeure was my lewe nooit weer dieselfde nie en dit is nou al meer as 16 jaar gelede. Ek het daar en dan my tasse gepak en huis toe gegaan. Dit was die opwin¬dende begin van God se roeping in my lewe.

Jy is vandag die kampuspastoor van Doxa Deo Gemeente in Pretoria. Vertel ons meer van die verskillende bedieninge wat julle het.
Doxa Deo se Visie as Gemeente is om transformasie in ‘n stad te fasiliteer en om mense te mobiliseer en toe te rus as God se agente in die stad. Daarom is dit belangrik dat ons nie nét as Kerk invloed uitoefen nie, maar dat ons ook op ander gebiede soos Besigheid, Sosiale Opheffing, Sport, Kultuur, Opvoedkunde en Politiek ‘n beduidende bydrae in die samelewing lewer.

Ons is daarvan oortuig dat die Kerk ‘n groter stem op alle gebiede van die samelewing moet hê. Die Kampus waar ek tans bedien is ons nuutste kampuse en is een van nege ander kampusse in Pretoria en sewentien ander kampusse nasionaal en internasionaal. Ons strategie as gemeente is om transformasie in ‘n stad teweeg te bring deur verskeie kampusse in verskillende dele van ‘n stad te plant en sodoende in kleiner eenhede meer effektief te kan bedien. Dis soos wat Jesus gemaak het in Markus 4 met die vermeerdering van die brode. Hy het vir die dissipels gesê dat hulle die mense in klompies van 50 en 100 moet verdeel sodat hulle kon verse¬ker dat geeneen oorgeslaan word nie.

Wat is Doxa Deo se gevoel oor ander denominasies, veral gesien in die lig van al die veranderinge en nuwe (liberale) sieninge in die Afrikaanse kerke? Ondervind jy dat verskillende denominasies deesdae meer saamwerk as in die verlede?

Ek is die afgelope 5 jaar in Pretoria deel van ‘n groep – LPE, (Love Pretoria East) waar le¬raars van verskillende gemeentes en bedie¬ninge deur die jaar byeenkom om saam te droom en te bid vir ‘n stad. Van SA se suksesvolste gemeentes word hier verteenwoordig en die samewerking, liefde en eenheid hier is vir my so verblydend. As gemeentes in ‘n stad nie eens kan saamstem nie, hoe kan ons ooit herlewing en transformasie verwag? Waar daar eenheid is, gebied God Sy seën. Moet gemeentes meer saamwerk? Beslis. Ek sal ook alle bedie¬naars, leraars en geroepenes aanmoedig om deel te word van so ‘n beweging. As Doxa Deo Gemeente besef ons dat ons nie alleen al die mense in ‘n stad sal kán bedien en bereik nie; daarom is samewerking met ander bedieninge vir ons van kritiese belang en erken ons verseker die roeping en bedie¬ning van verskillende gemeentes.

Jy is ook by die musiek¬bediening betrokke…
My passie vir musiek het reeds in 1995 begin toe die Here my vir voltydse bedie¬ning geroep het. Soos reeds genoem, het die Here vir my ‘n visie gewys van hoe my lewe in die toekoms sal lyk. In die visie was ek besig om te sing en musiek te maak en het ek gesien hoe mense die Here net spontaan begin loof en hoe wonderwerke plaasvind en mense tot inkeer kom. Van daardie dag af het ek geweet dat musiek altyd ‘n groot rol in my bediening sal speel en dit wás ook so. Ek is al die afgelope paar jaar ‘n aanbiddingsleier in Doxa Deo en geniet dit geweldig. Ek is ook tans besig met ‘n CD-opname waaroor ek baie opgewonde is.

Watter beginsels leef julle?
Ons lewensmissie word vasgevang in Matt 22:34-39 waar Jesus praat oor die groot gebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand en jou naaste soos jouself.” Hierdie Skrifgedeelte praat van drie verhoudings, ons verhou¬ding met God, met ons naaste en met ons¬self. God is liefde en wie God nie ken nie, ken ook nie liefde nie. Ons sal nét liefde kan gee a.g.v. die liefde wat God in en deur ons lewens openbaar. Ons is gemaak om liefde te gee en te ontvang. Die enigste manier om jou naaste te kan liefhê, is om jouself eers te kan liefhê en aanvaar soos jy is. Selfliefde is nie hoog¬moedig of verwaand nie, dit is ‘n Bybelse opdrag. Om jouself lief te hê, is om vol te word van God se opinie aangaande jou. Ons lewensmissie is om God se liefde deur ons te laat werk en aan mense wat liefde nodig het, te gee.

Charné, hoe kom jy deur ‘n dag as vrou (vir 10 jaar) van ‘n pastoor, ma van drie kindertjies en dan het jy ook nog ‘n permanente werk?
Ek het ‘n positiewe uitkyk op alle vlakke van my lewe. Positiwiteit is vir my ‘n sleutel tot die uitvoering van dag-tot-dag take. Ek glo dat ‘n mens se gesindheid en denkpatroon jou lewenskoers kan bepaal.

Wat is jou grootste uitdagings as pastoorsvrou?
Alle mense beleef uitdagings, die vraag is hoe ons daarop reageer. Ek beskou uitda¬gings as groeigeleenthede. Genoegsame tyd is soms ‘n uitdaging en ek het gevind dat dit ‘n goeie ding is om jou dag goed te beplan en te bestuur volgens die model in Stephen Covey se boek: “First Things First”.

Wat sou jy sê maak julle verhouding so besonders en watter resep sou jy aan jong getroude vroue wou gee?
Die liefde wat ons vir mekaar het, is gebore uit ons liefdesverhouding met die Here. Daardie intense, hartroerende, onvoorwaardelike liefde kom nét van God af, want Hy is liefde. “…want liefde is sterker as die dood. Die hartstog magtiger as die doderyk, sy gloed is ‘n gloed van vuur, ‘n vlam van die Here.” Hoogl 8:6.

Wanneer ‘n huweliks¬paar afsonderlik groei in hul verhouding met God, groei hul outomaties nader aan mekaar. Daar is ‘n huweliksresep opgeskryf in Ef 5:22-33. In dié gedeelte gebruik Paulus telkemale die ‘net soos’-begrip. Hy vergelyk die vrou met die Kerk en die man met Christus. Die misterie van die huwelik is dat ons mekaar moet liefhê net soos Christus (die Ware Bruidegom) sy Kerk (die ware bruid) liefhet. Die huwelik is ‘n roeping – ‘n opdrag van God. Aan jong vroue in die huwelik: Wees jouself, wees ongekompliseerd, wees jou man se ‘cheerleader’, bid saam, droom saam, lag saam, vertrou saam.
– deur Ymile Kennedy