Luister vir Herlewing

Louis en Hettie Brittz is besig om diep spore in Suid-Afrika te trap. Met hulle gemaklike verhouding met God maak hulle Christenskap vir menige toeganklik. Sonder pretensie en plat op die aarde getuig hulle lewens van harte wat uitverkoop is aan Jesus, vreesloos en vry.
Louis is gemaklik aan beide kante van die opnameateljee se glasvenster. Hy het suksesvolle albums vir Retief Burger (‘Luidkeels’) en Laurika Rauch uitgegee. ‘In Verwondering’, wat in 2012 by die SABC Crown Gospel Toekennings die Afrikaanse album van die jaar toekenning gewen het, is saam met Retief Burger, Helmut Meijer en Neil Buchner, opgeneem. Hy het ook pas ’n nuwe boek op die rakke.

Wat is die boodskap van jou nuwe boek?
‘Wat Wenners Weet’ behandel 30 beginsels van ‘n lewe in oorwinning. Ek hoop om mense te help om oor die lewe se struikelblokke te seil sodat hulle meer as oorwinnaars kan wees. Te veel Christene is slagoffers en slawe van vrees en bitterheid, of glo nie dat God se krag hulle nuut kan maak nie. Ek spreek wyd uiteenlopende temas aan wat kan help om in hierdie lewe te wen!

Baie Suid-Afrikaners is negatief oor ons toekoms, wat is jou advies aan families wat deur tragedie en trauma getref is?
In my boek wy ek heelwat tyd hieraan, want dit is dikwels trauma en tragedie wat Christene pootjie, terwyl dit poorte na ‘n diep ontdekking van God kan wees. Daar is baie om te deel met mense wat hoop verloor het weens sulke seer traumas, maar die belangrikste openbaring is dat God altyd by ons is, selfs in ons donkerste uur. Hy draai nooit Sy gesig weg van Sy kinders af nie. Ons moet leer om Hom raak te sien te midde van die storms, en om na Hom toe te draai vir hulp, redding, genade en troos. Net soos Dawid dit moes doen…

Watter advies het jy vir mans wie se vrou ’n seksuele aanval
beleef het?
Ek hoor dat baie mans hulle vrouens as vuil beleef nadat hulle seksueel aangeval is, maar God se Woord is duidelik dat niks wat van buite af kom, die liggaam onrein kan maak nie. Dit is dus ‘n leuen uit die put van die hel. ’n Vrou is presies dieselfde ná so ’n aanval as daarvoor, en wil ook graag so gesien en hanteer word. Behalwe natuurlik in die mate waarin sy fisiek en sielkundig moet genees van dit wat met haar gebeur het. Laat haar die pas aangee in terme van julle fisieke verhouding ná die aanval, maar maak seker dat sy weet dat jy haar nie ver-werp nie. Vra haar wat haar behoeftes is.

Vertel ons so ietsie van jou gesin. Is jou kinders musikaal, bespeel hulle ook instrumente?
Idalise (14) speel klavier, sing goed en doen al ’n bietjie opname- en redigeerwerk. Pero (12) is super-wetenskaplik en wil groot probleme in die wêreld help oplos. Simone (7) stel in alles wat lewe en bewe belang, maar blink veral uit in ballet.

Het jy ’n studio by jou huis en waar en wanneer skryf jy jou musiek?
Ek werk eerder in ander ateljees…die een by my huis was pateties. Ek skryf enige plek. Ek het al ‘n liedjie op die naarsakkie in ‘n vliegtuig neergepen, in ‘n Ford Ranger-bakkie geskryf tussen Aboe Dhabi en Al Ain, en onlangs terwyl ds. Dirkie van der Spuy gepreek het! Dit oorval ’n mens maar…

Hoe het jy by Andy Stanley en North Point betrokke geraak?
My musiekmaatskappy, Merchant Media & Music, versprei North Point se ‘worship’-musiek in Suid-Afrika. Ek het by ‘n kennis van die wonderlike musiek by Andy se gemeente gehoor, en toe ek daarna luister, was ek oorstelp. My grootste roeping bly om gesalfde musiek te vind en te versprei. By Merchant glo ons dat die Here ons veral roep om die klankbaan van herlewing te vind en dit by almal se ore uit te bring.
North Point is ‘n gemeente met ’n besondere geestelike lewe en die musiek wat daar geskep word, is gesalf. Dit is inderdaad ’n herlewingsklankbaan. Dit is wonderlik vir my om dit in ons land vry te stel.

Jy is aangehaal dat jy sê North Point gaan ’n impak op Suid-Afrika maak. Wat maak hulle anders as ander groepe?
North Point se eredienste en groeigroepe is op nie-Christene gemik op ’n manier wat ek nog selde in Suid-Afrika teëgekom het. Hulle nougesette ywer om mense ‘buite’ die kerk in hulle eredienste tuis te laat voel, was vir my ‘n openbaring. Suid-Afrikaanse kerke wat geroep is om mense te bereik wat kerk glad nie gewoond is nie, kan baie by North Point leer. Ek glo daar moet meer sulke gemeentes in ons land wees!

Hoe lyk dit met ’n North Point–konsert hier in Suid-Afrika?
Ek wil baie graag vir Eddie Kirkland en die North Point-worshipspan hierheen laat kom! Hulle het heerlike liedjies om ons te leer en waardevolle lesse oor die rol van aanbidding in ‘n ‘church for the unchurched’ om aan ons oor te dra.

Nie almal gaan noodwendig met jou saamstem dat hoë impak musiek met baie ritme, mense na ’n plek van ware aanbidding bring nie. Wat is jou antwoord daarop?
Die Here nooi ons uit – en beveel ons – om Hom te loof en te prys. Hy het ons ritme en dans geskenk en die Bybel is vol van geleenthede waar Sy volk musiek vir Hom gemaak het met alles wat kan dawer.
Ons kan nie nou skielik besluit om dit anders te doen net omdat ons Westerse kultuur so pruilmond alles wil internali-seer nie. Ons sal mos inwendige beserings opdoen! Harde, ritmiese musiek bring ons nie in aanbidding nie…dit bring ons jubelend van vreugde voor God se troon. Dit lig ons gees! En dan volg diep, gewyde aanbidding ook makliker.

Jou aanbiddingskursus word plaaslik en oorsee aangebied, onder meer in die Oekraïne en Kanada. Hoe het dit daar beland?
Ek het dit daar op sendingreise en konserttoere aangebied. Oral in die wêreld is gemeentes met ‘n behoefte om meer oor aanbidding te leer, maar dit neem lank deur ‘n tolk, hoor…!

Jy is baie betrokke oorsee, veral in Amerika. Gaan ons jou aan Amerika moet afstaan?
Die Here het my en Hettie al op vreemde paaie gelei, ons het geen idee wat die toekoms sal oplewer nie. Ons wil Sy koninkryk bou…waar ook al dit Sy wil is, en die Here een dag op ‘n slag dien. Ons het geleer om nóú te leef, anders mis ’n mens wat God nóú deur jou wil doen. Ons probeer om nie te veel oor die toekoms te dink nie.

Beplan jy enige nuwe projekte?
Ek hoop dat ek, Retief, Neil en Helmut in 2014 weer iewers ‘in verwondering’ kan raak oor God se glorie en inspirasie vir nog ‘n CD vol vars musiek sal kry. Vir baie mense is ‘In Verwondering’ hulle gunsteling CD, want dit is diep en poëties. Dit was juis omdat ons vier manne was, met verskillende talente en perspektiewe, wat een in die Gees saamgeskryf en opgeneem het. Ek vertrou dit sal weer so kan wees!

Hettie het Louis by ’n konsert op die Tukkiekampus ontmoet. “Ek was in matriek en Louis ‘n vierdejaar regs-student. Ek het met die eerste oogopslag dolverlief geraak.” Hettie se program is net so besig soos Louis s’n, sy is ’n spreker en skrywer van vele boeke. Haar Immergroen- ouerskapkursusse is gewild en word landswyd aangebied.

Wat is jou doelstellings vir 2013?
Om voluit deur die oop deure te stap wat die Here gereed gemaak het vir gesins- en vrouebediening hierdie jaar, maar deurentyd seker te maak ek doen net wat ek regtig moet en niks meer nie!
Jy het pas ‘Mammas Mag Maar’ vrygestel. Wat was jou inspirasie?
Die idee was eintlik Merchant Music s’n! Mammas kry so baie raad, raas, en ekstra werk dat ons gedink het dit is ’n goeie idee om hulle ’n slag diep te laat asemhaal. Die 10 stukkies genade is met humor en deernis geskryf sodat elke ma agteroor sal kan sit en normaal kan voel!

Waarmee is jy tans besig?
Ek werk baie hard aan ‘n nuwe weergawe van my Engelse ouerskapboek ‘Growing kids with character 2.0’ en lei my Immergroen Ouerskapspan wat ‘n laerskoolkursus vir onderwysers ontwikkel het en in samewerking met Helpende Hand, onderwysers en ouers van 72 kleuterskole in behoeftige gemeenskappe gaan oplei.

Die hofsaak teen jou aanvaller het onlangs voorgekom. Hoe voel jy drie jaar na die voorval?
Ek is genadig emosioneel gesond na die voorval en het dus nie die hof se uitspraak of geregtigheid nodig om te kan ‘aangaan’ nie. My gevoelens jeens my aanvaller het nooit oor die drie jaar verander nie. Die Here het deernis en vergifnis in my hart uitgestort as ‘n geskenk van die Heilige Gees. Ek is opgewonde oor wat die Here besig is om in Levy (dit is sy naam) se lewe te doen.

Watter advies het jy vir ander vroue wat deur soortgelyke situasies gegaan het?
Leef ‘Vreesloos Vry!’ Ek het Levy deur die oë van Jesus gesien. Ek het hom gesien soos hy sou wees as hy Jesus geken het; ek het ook myself sonder Jesus gesien – soos hoe ek sou wees as dit nie vir Jesus was nie. Ek is niks beter as hy nie. Dit maak vergifnis makliker as ’n mens onthou hoeveel jy self vergewe is! Vroue wat met vergifnis sukkel, kan gerus een van my vrouekampe bywoon en saam met ander vroue worstel tot vryheid by Jesus se kruis. Ons moet genade bo geregtigheid kies as ons ooit vry wil wees!
̶ deur Lourieke Haller


Is Versoening moontlik?

Menige paartjie is besig om ’n buite-egtelike verhouding te oorleef.
Bykans 50% van alle Suid-Afrikaanse huwelike faal. Buite-egtelike verhoudings het ’n groot bydraende faktor tot die mislukking van huwelike geword.

Wat is ’n buite-egtelike verhouding?
Alle buite-egtelike verhoudings verbreek vertroue en dui op ontrouheid. Daar is drie kategorieë:
• ’n Seksuele buite-egtelike verhouding – Seksuele kontak tussen ’n getroude persoon en ’n ander persoon wat nie sy /haar huweliksmaat is nie.
Seksuele kontak verbreek die huweliksverbond. Dit mag ’n eenmalige flirtasie, of ’n langtermyn seksuele verhouding wees. Dit is steeds ’n seksuele verhouding as daar intieme fisieke kontak is wat daarop gerig is om seksuele opwekking te stimuleer en te geniet met iemand anders as jou huweliksmaat – selfs al lei dit nie tot omgang nie.
• ’n Fisieke buite-egtelike verhouding
– ’n Onvanpaste vertoon van fisieke aanra-king, ’n talmende omhelsing, ’n soen, handevashouery.
• ’n Emosionele buite-egtelike verhouding – Dit is ’n emosionele verkleefdheid, wat normaalweg vir ’n mens se huweliksmaat bestem is, en nou aan iemand anders toegesê word. Dit is die gee van emosionele energie wat eintlik vir ’n lewensmaat bedoel is, aan iemand anders, deur die stuur van blomme, briewe, kaartjies, en e-posse, intieme etes saam te geniet, tyd alleen met mekaar te bestee en mekaar te bel. Die stuur van SMS-, Facebook-, Whats-App-, en BBM-boodskappe onder die skyn van vriendskap en die besoek van verhou-dingswebwerwe op die internet word ook hierby ingesluit.
Emosionele buite-egtelike verhoudings mag makliker wees om raak te sien omdat onvanpaste interaksie waargeneem kan word maar; hulle is dikwels moeiliker om te bewys omdat hartsmotiewe verskuil is. Sommige mense mag selfs bevraagteken of ’n emosionele verhouding wel owerspel is. Jesus het dit onomwonde gestel dat owerspel nie net troubreuk van die liggaam is nie, maar ook van die hart. “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” Matt 5:27,28.

Owerspel en ontrouheid
Geen woorde kan die trauma wat ervaar word wanneer ’n lewensmaat se buite-egtelike
verhouding blootgelê word, genoegsaam be-
skryf nie. So ’n buite-egtelike liefdesverhouding dien venynige wonde aan die hart van ’n getroue eggenoot toe. Die ontroue maat moet noodgedwonge op sy/haar beurt emosies hanteer wat op verskeie wyses die toekoms van hulle
huweliksverhouding gaan bepaal.

Die verwonde wederhelf
Dit mag uiterlik lyk of dit goed met hulle gaan, maar innerlik is hulle besig om ‘dood te bloei’. Hulle voel asof hulle wil mal word, veral in die aanvangstadium van die skok.
Emosies wat deur die verwonde maat ervaar word:
• ’n Gevoel van verlorenheid
• Gefragmenteerd, verpletter, verward en gedisoriënteerd
• Hy/sy weet nie waar hy/sy inpas nie
• Selfbeeld is aan stukke en hulle blameer hulleself omdat hulle nie aangevoel het dat iets met die verhouding geskort het nie
• Hulle voel verraai. Hulle voel misbruik, oorbodig en verwerp – dit vervang vroeëre gevoelens dat hulle die uitverkose een, spesiaal en waardevol is
• Die vermoë om te vertrou is ondergrawe – almal word verdagtes. Selfs God se goedheid en beskerming word bevraagteken
• ’n Gevoel van magteloosheid. “Dit maak nie saak hoe hard ek probeer nie, ek kan dit nie regmaak nie,” dui ’n verlies van beheer aan
• Woede ontspring uit die verlies van beheer
• Obsessiewe gedagtes en drome van die huweliksmaat saam met ’n minnaar maak dag en nag inbreuk op die normale gedagtegang
• Sommige mense mag kompulsief rondry om te sien waar die maat hom/haar bevind. Ander mag selfs die behoefte hê om ’n privaatspeurder te huur
• Verloor hoop – depressie en gevoelens van: “Ek wil doodgaan, daar is niks om
voor te lewe nie,” tree in
• Beleef teenstrydige emosies. Kompeterende emosies wat almal om aandag skreeu, verskeur die persoon

Kompeterende emosies teenwoordig:
• Skaamte oor self en afkeer van maat
• Vreugde en hartseer
• Seergemaak en wraaksugtig
• Angstig en verlig
• Liefde en haat
• Die eggenoot mag soms sy/haar wederhelf mis, maar soms ook bly wees dat hy/sy weg is
• Wil omhels en ook klap
• Wil vergewe en ook laat betaal vir wat gedoen is

Die ontroue eggenoot se emosies:
• Verligting: Ek is moeg vir lieg – Bly dat die waarheid uit is!
• Ongeduldig: Ek het gesê ek is jammer en het hom/haar gelos
• Chroniese angs: As ek net besig bly, sal ek beter voel
• Geregverdigde woede: Ek doen wat ek wil doen en dit voel reg!
• Afwesigheid van skuldgevoelens: Ek het gedoen wat ek gedoen het, en klaar
• Isolasie: Daar is niemand dáár vir my nie
• Hopeloosheid: Daar is geen manier dat
hierdie verhouding ooit gaan werk nie
• Verlamming: Ek voel verskeurd, ek weet nie wat om te doen nie
• Selfveragting: Ek is so ’n sot – Hoekom het ek alles waarvoor ek lief is in gevaar gestel?

Die ontroue eggenoot mag ook skuldgevoelens ervaar omdat die kinders seergemaak is, en mag ook treur oor die verlies van ’n minnaar. Na ’n buite-egtelike verhouding oopgevlek is, moet paartjies hulp gaan soek. Hulle kan nie die probleme op hulle eie oplos nie; hulle het hulp nodig. Hulle het dringend die emosionele ondersteuning en gebed van vriende en familie nodig as hulle die verhouding wil herbou. Na ’n buite-egtelike verhouding probeer baie paartjies om die gebroke verhouding oorhaastig te herstel. Familie en vriende raai hulle te vinning aan om te versoen. Beide partye het tyd nodig om die pro-bleme te verwerk, beide mag selfs bevraagteken of versoening moontlik is, of dit die moeite werd is. Hulle benodig tyd om ’n besluit te neem en moet toegewyd aan gebed wees (1 Tess 5:17). Hulle moet besin oor wat God besig is om in hulle eie harte te doen en bewus wees van Sy leiding vir hulle lewens. Vrae om te oorweeg:
1. Kan daar herstel wees as die buite-egtelike verhouding steeds volgehou word?
Antwoord: Nee – verdeelde lojaliteit is glad nie lojaliteit nie.
2. Hoe kan ek seker weet dat my maat waarlik poog om die huwelik te herstel?
Antwoord: Daar is niks wat jou daardie versekering kan gee nie. Om die huwelik te herbou is onseker. Die deurslaggewende faktor is die ontroue
eggenoot se houding. Die ontroue maat moet gewillig wees om die tweede myl te loop.
3. Verwag die Bybel van die verwonde eggenoot om die ontroue een terug te neem?
Antwoord: Die besluit om te skei of te versoen berus by die verwonde eggenoot.

Die ontroue maat moet verantwoordbaar wees in die volgende:
a. Die buite-egtelike verhouding moet gestaak word. Alle kontak moet verbreek word en geskenke/kaartjies/ briewe, ens. van die minnaar moet vernietig word.
b. Verkry individuele en huweliksberading van ’n opgeleide persoon wat met huweliksprobleme werk.
c. Trek uit die huis uit en vervul steeds finansiële verantwoordelikhede, indien dit deur die verwonde eggenoot verlang word.
d. Wees geduldig met die pas waarteen vergifnis vorder.
e. Die ontroue maat moet alles in sy/haar vermoë doen om die verwonde egge-noot te help om weer te begin vertrou.
f. Moet verantwoordbaar wees aan verskeie Christen-paartjies wat vertrou word.
g. Mag nie die verwonde eggenoot onder druk plaas vir vinnige vergifnis en herstel van die huweliksverhouding nie.

Kan ’n huwelik ’n buite-egtelike verhouding oorleef?
Party verhoudings oorleef nie net die buite-egtelike verhouding nie, maar blom selfs daarna. Die herstel van vertroue word bewerk deur die waarheid te praat. Buite-egtelike verhoudings gedy in die geheimhouding en leuens. (Ef 4:15 – Bly in liefde by die waarheid.) ’n Mens kan verwag dat die verwonde eggenoot die volgende billike vrae gaan vra:
• Wat het gebeur?
• Wanneer het dit begin?
• Hoe lank het dit geduur?
• Is die verhouding beëindig?

Wees eerlik en vertel alles – al weet jy dat die besonderhede die pyn gaan vererger. Die verwonde eggenoot moet die kans gegun word om te deel hoe die buite-egtelike verhouding hom/haar geraak het, hoeveel pyn dit veroorsaak het.
Beide eggenote moet oor hulle verhouding praat en hoe hulle met mekaar kommunikeer. In my werkswinkels noem ek dikwels dat die buite-egtelike verhouding nie die oorsaak van die egskeiding is nie. Die huwelik was reeds in die moeilikheid voor die buite-egtelike verhouding plaasgevind het. Die verwonde huweliksmaat kan nie vir die buite-egtelike verhouding geblameer word nie, die ontroue maat moet ’n 100% aanspreeklikheid daarvoor aanvaar, asook vir die verbreking van die huweliksverbond.
Die verwonde eggenoot moet egter sy/haar negatiewe aandeel in die verbrokkeling van die verhouding erken, byvoorbeeld, dat hy/sy nie die volmaakte vrou of man was nie, ’n werkslaaf was, nie genoeg tyd saam bestee het nie, of dat hulle nie aan mekaar se behoeftes en verwagtinge voldoen het nie. Hierdie faktore verontskuldig egter nooit ’n buite-egtelike verhouding nie.

Herstel van vertroue deur belydenis aan die Here en die eggenoot
• Dit is nie genoeg om te sê ek is jammer nie
• Spesifieke gedrag, houdings en reaksies wat pyn veroorsaak het, moet genoem en erken word
• Bekentenis is nodig vir die heling van die liggaam, siel en die verhouding (Jak 5:16)
• Belydenis moet wederkerig wees. Beide partye is skuldig – nie skuldbelydenis oor die buite-egtelike verhouding nie, maar vir mislukkings van die verlede
• Herstel van vertroue deur berou en inkeer (Na Dawid se owerspel: “Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.” Ps 51:19

Die tekens van berou
• ’n Nederige ingesteldheid wat nie eise stel of selfverdedigend is wanneer vrae gevra word nie
• ’n Openheid wat misleiding vervang
• Die gewilligheid om verantwoordbaar te wees ten opsigte van geldsake, tydsbesteding en bewegings
• Geen beskuldiging of verskonings oor mislukkings nie
• Stille aanvaarding van gevolge

Herstel deur vergifnis
Vergifnis is die liefdevolle, vrywillige kwytskelding van skuld. Somtyds mag die verwonde eggenoot in en uit vergewensge-sindheid glip. Onthou dat vergifnis ’n proses is. Die pyn en die woede mag steeds nou en dan opduik. Herstel kan begin deur weer fisieke kontak te maak.
• Begin stadig daarmee: word vir MIV getoets
• Bewaar jou hart teen bitterheid
• Leef naby aan die Here: vra Hom gedurig om jou help om in vergifnis te wandel
• Kommunikeer met mekaar!

’n Lang kronkelpad
Ek het die voorreg gehad om baie paartjies in die herstelproses by te staan nadat ’n buite-egtelike verhouding plaasgevind het. Dit is ’n baie moeilike en pynlike proses vir paartjies.
My ervaring is dat dit toewyding van beide partye verg om die pad van versoening te stap – toewyding aan die berader, jou eggenoot en aan eerlikheid. Talle geskeide mense het my al vertel dat dit makliker is om die huwelik te verlaat en te skei as om te probeer versoen.
Ek het egter gesien hoe baie paartjies se huwelike versterk is en hoe beide gedurende die proses baie geleer het. Ons moet die Here en Sy wil vir alle aspekte van ons lewens soek, maar veral in ’n situasie soos hierdie, waar dit om soveel meer as net die individu gaan.

LATHICIA KLACKERS is ’n vooraanstaande egskeidingsherstelkundige. Kontak haar by 082 570 3144 of e-pos haar by: lathicia@aerosat.co.za


Hoe om te vergewe

Na terreuraanvalle of gewelddadige aanvalle weerklink oproepe vir vergelding. Iemand moet betaal vir die onreg! In townships word mense wat van misdaad verdink word in kangaroe-howe tereggestel – want geregtigheid moet seëvier. Getrou aan ons menslike aard wil ons sien dat skuldiges opgesluit en gestraf word.

Wie is die belangrikste?
Jesus se dissipels het Hom gevra wie die belangrikste in die koninkryk van God is. Sy antwoord aan hulle was Matteus 18. Om die belangrikste te wees, moet ons soos kindertjies voor Hom wees, veral waar dit by konflik kom. Ons moet nederig soos kindertjies wees met hulle onuitputlike vermoë om vinnig te vergewe.

As jou broer teen jou sondig
Dit gebeur met ons almal: iemand maak ons gevoelens seer of behandel ons onregverdig. Baie van ons dra hierdie grief met ons saam. Dit neem beslag van ons gedagtes en veroorsaak kwade gevoelens.
Die wêreldse manier vir konflikhante-ring is om die ander persoon te beswadder, of selfs hof toe te sleep. Christus gee vir ons in Matteus 18:15-19 vier stappe om konflik tussen Christene op te los. Dit is ’n kragtige voorbeeld van hoe die lewe in die Gees verskil van die lewe buite die krag van Christus.
Stap 1
Eenkant alleen
“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.” (Matt 18:15). In plaas daarvan om jou vriende te vertel hoe seergemaak jy voel, gaan jy na die persoon toe met wie jy ’n probleem het. Jy neem die inisiatief, jy wag nie vir hom om na jou toe te kom nie. Dit beteken nie jy handhaaf die houding dat jy hom gaan vertel hoe verkeerd hy opgetree en hoe seer hy jou gemaak het nie.
Jy benader die saak met genade en ’n soeke na versoening sodat jy hulle kan ‘terugwen’. Dikwels is konflik bloot die gevolg van ’n misverstand en met hierdie stap kan die vertroue en harmonie in ’n verhouding herstel word.

Hoe gouer hoe beter
Om die konflik vir maande lank uit te stel in die hoop dat dit vanself opgelos sal word, is nie ’n goeie opsie nie. Dit gaan net vererger en mettertyd kan bitterheid in jou gemoed wortelskiet. ’n Gebreekte been verg onmiddellike mediese aandag, ’n verbreekte verhouding verg ook onmiddellike geestelike aandag. Waarom is dit dat wanneer dit by vergifnis kom, ons dikwels ’n leeftyd neem om daarby uit te kom?

STAP 2
Neem getuies saam
“Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig word.” (Matt 18:16). Jesus moedig ons aan versoening te probeer bewerkstellig. Hierdie getuies moet met sorg gekies word; dit help nie om iemand saam te neem wat jou ‘kant’ gaan kies nie. Dit moet mense wees wat jou daarvan kan weerhou om te oorreageer, wat begeer om versoening te bewerkstellig en nie kant te kies nie.

STAP 3
Betrek die Liggaam van Christus
“En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente.” (Matt 18:17a). Wat nou gemaak as daar steeds nie versoening is nie? Die meeste van ons dink dat ons nou met groot genoeë die hele storie by die kerk op die lappe kan bring. Dit is egter nie wat Jesus bedoel het nie. Hy sê nie dat ons skinderstories soos ’n sak vere kan uitskud nie. Wat Jesus ons aanraai, is om na ’n groep gelowiges, soos ’n selgroep, of die pastoor en ouderlinge te gaan.
Die bedoeling is om gelowiges wat eensgesind is en beide kante van die saak onpartydig sal aanhoor, byeen te bring om versoening te bewerk. Jesus gee die opdrag dat ons geskille binne die kring van gelowiges opgelos moet word en nie na die wêreld geneem moet word waar daar geen geestelike wysheid te vinde is nie.

STAP 4
Wanneer versoening nie plaasvind nie
“As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel.” Matt 18:17b. Ons leef in ’n gevalle wêreld waar sommige konflikte nie opgelos word nie. Soms is tydelike skeiding nodig. In die Joodse konteks beteken ‘om iemand as ’n heiden en ’n tollenaar te behandel’ dat innige verhoudinge met die persoon afgesny word.
As al die korrekte stappe geneem is sonder dat daar versoening plaasgevind het, beteken dit dat die persoon teenoor God en Sy Woord rebelleer. Dit beteken ook dat daar steeds in liefde opgetree word, maar dat daar van die vriendskapsverhouding onttrek word. Dit mag tot die ander persoon se berou en inkeer lei.

Gehoorsaam aan Jesus se lering
As gelowiges moet ons met hierdie lering saamstem. As ons nie daarvolgens leef nie, sê ons in werklikheid: “Ek sal lewe soos ek wil, Jesus het geen sê oor my nie”. Sal ons Hom gehoorsaam? Sal ons ons harte voor Hom verootmoedig? Ons moet in ooreenstemming met God se wil optree, doen soos Jesus gedoen het. Wanneer ons versoening najaag, doen ons wat God wil hê.

Sewentig maal sewe
“Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: ‘Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer? Jesus antwoord hom: ‘Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.” (Matt 18:21,22).
Sewe is die volmaakte getal. Petrus het dus in werklikheid gesê: “Ek het alles volmaak gedoen, nou hoef ek seker nie meer te probeer vergewe nie.” Jesus beveel hom egter om oor en oor te vergewe, moenie eers tel hoeveel keer nie, want dit is ’n hartsingesteldheid van vergifnis: “Ek sal soveel keer vergewe as wat nodig is.”
Hier spreek Jesus die kern van die pro-bleem aan – die probleem in jou hart. Die pyn, die kwadegevoelens, die wrokkigheid. Dit is maklik om te sê: “Ek vergewe,” maar die gevoel leef steeds voort in jou hart. Wanneer jy die persoon sien wat jy moet vergewe, is dit ’n geleentheid vir ‘sewentig maal sewe keer’. Bid: “Here help my om te vergewe, werk met my hartsingesteldheid, my houding teenoor hierdie persoon. Werk met jou Gees in my om liefde te bewys.”

Wortel van bitterheid
Ons mag deels vergewe het, maar die wortel van bitterheid kan diep lê en ons vergiftig. Hou aan met vergewe totdat dit seermaak. Vergewe – selfs al was wat gebeur het, onregverdig – want elke keer wat ons vergewe, neem die Heilige Gees ons harde hart en maak dit sag. Hy hou aan met Sy werk in ons totdat die bitterheid vrede word, totdat ons God in Gees en in waarheid aanbid.

Ondankbare dienskneg
Jesus eindig met die gelykenis van die koning wat ’n dienskneg van miljoene rande se skuld kwytskeld, net vir dieselfde dienskneg om iemand wat hom ’n paar rand skuld, te wurg vir sy geld. (Matt 18:22-35). Wat Jesus hiermee vir ons sê, is dat ons vergifnis van ’n ander persoon gesien moet word in die lig van die Kruis. Die klein bietjie wat ons ander moet vergewe, kan nie vergelyk word met die groot losprys wat Christus vir ons betaal het nie.

Sodat jou Vader jou kan vergewe
As ons nie kan vergewe nie, wys dit dat ons nie die heiligmakende genade van Christus toegelaat het om Sy vergifnis in ons harte uit te stort nie. “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees. En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die Hemel is julle ook julle oortredinge vergewe.” Mark 11:24,25. Miskien sukkel jy om te vergewe. Jou Vader in die Hemel sê dat Hy jou nie kan vergewe voordat jy vergewe het nie. Ons is deel van ’n koninkryk wat op vergifnis gebou is. As jy ’n kind van daardie koninkryk is, is vergifnis deel van jou lewe.

GREG BLAIR Is die medepastoor by Somerset-Wes Baptiste Kerk.


Geroep om te vertrou

In ons diepste menswees het ons ’n behoefte om God te verstaan. Wanneer iemand sê: “Ek verstaan God nie,” bedoel hy gewoonlik: “Ek verstaan nie Sy werke nie, ek verstaan nie hoekom God doen wat Hy doen nie, ek verstaan nie hoekom Hy nie in hiérdie of dáárdie situasie ingegryp het nie.”
Ons worstel almal met lewensvrae en uiteindelik besef ons die antwoord lê by God. Sommige soek antwoorde by God en wanneer God nie dadelik antwoord, of ‘die regte’ antwoorde gee nie, kies ons om die bestaan van God te ontken.
Dit is moeilik wanneer ons met God praat en Hy praat nie terug nie, maar stilte beteken nie dat Hy nie daar is nie. Wanneer ek nie antwoorde kry nie, beteken dit nie dat Hy nie bestaan nie.

Geroep om te vertrou
God begin altyd met: ‘Vertrou My.’ God se eerste opdrag aan ons is om Hom te vertrou en nie om Hom te verstaan nie. Wanneer God ons roep om te ‘vertrou’, beteken dit ons moet gló en wanneer ons glo, word die Bybel ’n Boek waaruit ons kan lééf en wat ons ten volle sal bevredig. Dit is die getuienis van miljoene Christene deur die eeue heen.

Die mens se verstand is beperk
Daar is ’n baie interessante verhaal van George Washington Carver (1864-1943), ’n Amerikaanse wetenskaplike, botanikus, opvoedkundige, uitvinder en teenstander van slawerny. Hy vertel dat hy een oggend vir God gevra het: “Here Skepper, wat is die doel van die heelal?” God het geantwoord: “Jy wil te veel weet. Jou verstand is te klein om so veel te kan weet.” Daarna het hy vir God gevra: “Here Skepper, wat is die doel van die mens?”
God het geantwoord: “My kind, jy wil steeds te veel weet.” Uiteindelik het hy gevra: “Here Skepper, wat is die doel van ’n grondboontjie?” God het geantwoord: “Dit is ’n beter vraag.” Jare lank het George elke oggend na sy laboratorium toe gegaan en gevra: “Here Skepper, wat is die doel van ’n grondboontjie?” Hy het 300 toepassings vir die gebruik van ’n grondboontjie gevind.

Ons sal God nooit volledig verstaan nie
’n Paar dekades gelede het wetenskaplikes gedink ’n molekule is die kleinste definieerbare partikel. Vandag verstaan ons al dat molekules opgebou word uit baie kleiner komponente wat weer uit nog kleiner komponente opgebou word. Die kern van die saak is: selfs iets so ‘nietig’ soos ’n grondboontjie en ’n molekule is groter as wat ons kan verstaan. As ons die basiese samestelling van God se skepping nie verstaan nie, hoe sal ons al die komplekse vrae oor pyn, nood, onreg, waarheid en die bose wat daarmee saamgaan, kan verstaan?
Ons moet aanvaar dat ons God hier op aarde en ook in die Ewigheid nóóit volledig sal verstaan nie. God openbaar nóóit alles aan ons nie. Uit Deuteronomium 29:29 leer ons dat “wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God”. Ons verstand is te beperk en dit is slegs wanneer ons alles van alles af weet, dat ons alles kan verstaan en dan sal ons ook weet waarom God ons nie antwoord nie.

Daar is genoeg geopenbaar
Daar is genoeg dinge wat God aan ons geopenbaar het, en wat ons wél verstaan, wat ons vir meer as een leeftyd kan bevredig en besig hou. Ons hou ons dikwels met vrae besig waarvoor daar baie selde besliste en duidelike antwoorde is. Ons dink kortsigtig – ons dink in terme van die volgende paar dae of selfs tien jaar.
Omdat ons beperkte wesens is, kan ons net die vrae, direkte pyn, en die onbekende waarin ons nou leef, raaksien. God dink in terme van die Ewigheid. Die werk van die bose is byvoorbeeld nie permanent nie. Pyn gaan tot ’n einde kom. Die einde van die pad is die ewigheid wat ons in God se teenwoordigheid sal deurbring, daar waar nie meer trane, pyn en dood is nie.
Indien ons alles sou weet, sal dit ons vernietig. Ons wil God ‘klein’ maak, tot op ons vlak bring en daardeur onsself aan God gelykstel. Ons wil vir onsself kan uitwerk hoe God is. God is nie 1 + 1 wat 2 maak nie. God is onverklaarbaar, maar wel ‘vertroubaar’ en ‘glo-baar’.

BENNIE MOSTERT is die bestuurder van Jerigo-Mure-Gebedsnetwerk in Pretoria. Vir meer inligting: www.jwipn.com


Eer die Dag Van die Here

Nog nooit in die ganse geskiedenis was só baie mense só besig nie. Geen ander generasie het oor so baie arbeids- en tydsbesparende uitvindsels beskik nie, en tog wil dit voorkom of ons geslag die mees gejaagde en dol geslag van alle tye is.
’n Mens sou dink dat ons minder gejaagd sou wees en meer vrye tyd op hande sou hê – met al ons gerieflike winkels, elektriese apparate, inry-karwasserye, rekenaars en selfone – maar dit is toe nie die geval nie!

Gespanne en uitgeput?
Die hedendaagse mens is tog so geneig om elke minuut met oordrewe aktiwiteit te wil vol pak. Navorsing toon dat Westerlinge elke jaar minder en minder tyd met wederhelftes, kinders, bure, en met God deurbring. In ons materialistiese gejaag na wind is daar ’n onversadigbare drang na méér: meer besittings, mooier huise, beter karre, gewaarborgde vakansies en meer luukses.
Daar is ’n desperate sug om ons leë lewens met geraas en stimulasie te vul: rolprente, DVD’s, musiek, tydskrifte, die internet, ‘Play Station’, iPod’s, Twitter en Facebook. Ons lewens word oorspoel met ’n tsoenami van stimuli, lawaai en versoe-kings!
Keer op keer hoor ’n mens die gekla: “Ek is so moeg!” Mense kla voortdurend dat hulle emosioneel uitgeput, fisiek afgetakel, en geestelik leeg is. Uitgebrand! Mense is gespanne, moeg en rusteloos.

Lees die handboek
Wanneer ’n elektriese toestel, ’n kar, of ’n rekenaar nie reg werk nie, neem ons gewoonlik ons toevlug tot die vervaardiger se handboek en lees die instruksies. Ons sal wys wees om die Skepper se Handboek weer te lees. Die antwoord vir die meeste van ons probleme is in Sy Tien Gebooie te vinde – en as ons maar net sal doen wat Hy beveel, sal ons onsself ’n klomp leed spaar.
“As jy nie op die Sabbat oortree nie, op My heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die Sabbat ’n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie…sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob.” Jes. 58:13-14.
Ons het almal 52 weke in ’n jaar, 7 dae in ’n week, en 24 uur in ’n dag. Die vraag is: wat maak jy met die tyd wat God jou gegee het? Gebruik jy dit soos Hy wil hê jy moet? Enigiemand wat die Vierde Gebod oortree, verbeur die oorvloedige seën en verkwikking in die Here. Groot vreugde volg as ons elke week tyd maak om die Skrif te ondersoek en in gebed op God te fokus, en te aanbid in samehorigheid met ander Christene. “Onderhou my Sabbatte. Dit is van geslag tot geslag ‘n teken tussen My en julle sodat julle kan besef dat Ek, die Here, julle vir My geheilig het.” Eks. 31:13.

Noem die Sabbat ’n vreugde
Wettelose mense haat dalk die Vierde Gebod, wettiese mense mag dit onaangenaam maak, maar ’n toegewyde Christen behoort hom oor die Here se dag te verheug. Die Vierde Gebod is herderlik en beskermend. Dit is ’n ewige morele wet. Dit is ’n skeppingsgawe van God, wat later ook ’n Wet van God geword het. Hierdie dag van rus en vernuwing was tot voordeel van diensknegte, besoekers, en selfs jou diere. (Eks 20:8-11). Hierdie rusdag is die manier waarop God mense daaraan herinner dat Hy die Skepper en Verlosser is. Om hierdie eerste dag van die week as iets besonders te onderhou, is goed vir liggaam, siel en gees.
Ons het tyd nodig vir ontspanning, nadenke en vernuwing. Dit is ’n saak van ritme en roetine, maar ook van openbaring en huldiging van God se wonderlike skeppingswerk (Eks 20:8-11) en verlossing (Deut 5:12-15). “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eer-der aanmoedig om daarheen te gaan…” Heb 10:24-25. Wanneer ons die Here se Dag inrig as ’n besondere dag vir die gesin om te rus en God te aanbid, verkondig ons daarmee aan die wêreld dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat Hy die Here van ons lewens is.
Om elke sewende dag te rus, is gesond – geestelik, fisiek en ekonomies. Dit is goed vir besigheid, families, en die hele land. God het hierdie gebod tot ons voordeel vir ons gegee, net soos al Sy ander Gebooie – nie net vir Christene nie, maar vir die ganse samelewing. D.L. Moody het gesê: “Geen nasie wat die Sabbat vertrap het, was al ooit voorspoedig nie. Wys my die nasie wat dit doen, en ek wys jou ’n nasie waarin ondergang en verval reeds aanwesig is…”

’n Heenwysing na die Skepper
Ons, as Christene, behoort berou te hê omdat ons toegelaat het dat die Here se Dag so ontheilig word deur inkopies doen, sport en wêreldse vermaak. Voltaire, die Franse rewolusionêr, het gesê: “As jy die Christendom tot niet wil maak, skaf die Sondag af.”
Die sewe-dag week is ’n Ou-Testamentiese instelling, wat deur Christelike invloed uitgebrei het. Dit is ’n kragtige getuienis van die feit dat God die wêreld in ses skeppingsdae geskep, en op die sewende dag gerus het. Die feit dat die eerste dag van die week, Sondag, ons rusdag is – in plaas van die Joodse Saterdag – is ’n weeklikse herinnering dat Jesus op die eerste dag van die week uit die dood opgestaan het.

Die Dag van die Here
Die Here se Dag, as instelling, is na die eerste dag van die week verander deur niemand minder nie as Jesus en die Apostels. Jesus Christus het op die eerste dag van die week uit die dood opgestaan. Die Heilige Gees is op Pinksterdag, die eerste dag van die week, uitgestort. Ons lees ook dat die dissipels op die Sondag bymekaar gekom het om die Nagmaal te vier (Hand 20:7).
Die Apostel Paulus het die Christene aangesê om hulle offergawes op die eerste dag van die week opsy te sit (1 Kor 16:2). Die Apostel Johannes het die Openbaring van Christus op die eerste dag van die week ontvang – waarna hy verwys as “die dag van die Here”. Op 1:10.

Om op die Here te fokus
Die vroeë kerkvaders – nog lank voor Konstantyn – het Christene geleer om die eerste dag van die week as die Dag van die Here onderhou. Dit sluit in Polikarpos en Barnabas. Justinus die Martelaar het in 150 n.C. geskryf: ‘Sondag is die dag waarop ons vergader, want Jesus Christus, ons Verlosser het op dié dag uit die dode opgestaan.’
Die Dag van die Here is vir ons ’n geleentheid om tot stilstand te kom, van wêreldse dinge weg te draai, en ons geestelike perspektief te herwin deur op God, Sy Woord en Sy wil te fokus. “Ons het op die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd…” Hand 20:7.
Op die Here se Dag is rus van kritieke belang vir ons geestelike welsyn, en dit is ’n belangrike deel van ons Christelike getuienis. Ons het die opdrag om die Sabbat te onthou en te onderhou. Die Hebreeuse woord vir ‘onthou’ beteken méér as om dit bloot in stand te hou; dis ook om ’n afspraak na te kom.

Ons afspraak met God
Van James Garfield, wat later president van die VSA geword het, word die volgende vertel: In ’n stadium nadat hy aangewys is as die president van ’n groot korporasie, is hy ingelig oor ’n belangrike vergadering op die volgende dag. Sy reaksie was: “Ek is jammer, ek kan nie daar wees nie.” Sy ondersteuners het benadruk dat dit ’n baie belangrike saak is, maar Garfield het net sy kop geskud en gesê: “Ek is jammer, maar ek het reeds ’n afspraak. Ek sal dit nie maak nie.” Op hulle aandrang dat geen afspraak belangriker as hierdie een kon wees nie, het hy verduidelik: “Ek het om 10:30 ’n afspraak met die Here God Almagtig, in Sy huis, aan Sy tafel, en ek sál daar wees.”

’n Noodsaaklike verposing
Daar is al dikwels gesê: “Soos dit met die Sabbat gaan, so gaan dit met die nasie”. Baie mense sal wonder hoekom ’n rusdag só belangrik is? Nou ja, die Here se Dag skep die bewuswording dat God, Sy weë, en Sy wette vir ons almal van die aller-grootste belang is.
Eric Liddell, die befaamde wenner van ’n Olimpiese goue medalje – oor wie se weiering om op die Sondag aan die eindronde deel te neem, die rolprent ‘Chariots of Fire’ handel – het gesê: “Daar is vandag baie mense wat dink dat dié wat die Sondag op die tradisionele manier onderhou, eintlik maar pretbederwers is. Hulle is van mening dat mense tydens hul jeug die kans gegun moet word om die lewe te ‘geniet’. Gee my maar die Dag van Rus, waarop al die genietinge van georganiseerde sport opsy gesit kan word, en al die vreugdes van die lewe om daardie rede juis groter sal wees. Vir my is dit ’n tyd om in God se teenwoordigheid te wees – ’n tyd van stil wees, van ontspanning en saamwees met God.
Ek glo dat Sondag, soos ons dit in die verlede gehou het, vir ’n jong man van die grootste waarde kan wees om al wat edel, waar en uitnemend is, uit te leef.” Hy het toe ’n Olimpiese goue medalje gewen in ’n wedloop waarvoor hy nie spesifiek geoefen het nie, en later het hy ’n suksesvolle sendeling in China geword, en manmoedig in ’n Japanese konsentrasiekamp gesterf tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Die Sabbatdag is ’n getuienis
Wanneer ons op ’n Sondag opstaan, aantrek en die erediens gaan bywoon, word ons deel van honderde miljoene mense oor die wêreld heen, wat getuig oor die feit dat Jesus Christus uit die dood opgestaan het.
Niks is ’n beter getuienis van die oorgang van die Joodse Sabbat na die Christelike Dag van die Here op die eerste dag van die week nie. Niks ánders as die oorwinnende Opstanding van Jesus Christus uit die dode kan die unieke instelling van die Sondag as Rusdag beter verstaanbaar maak nie.

Dade van genade
Natuurlik het ons Here Jesus Christus ons geleer dat dit goed en reg is om op die Sabbat dade van genade en plig te doen. (Matt 12:11-12). Christene het dit nog altyd so verstaan. Daar is noodsaaklike dienste, soos dié van die brandweer, paramedici, dokters, verpleegsters en die polisie, wat verrig móét word. Dit gaan juis daaroor dat die Here se Dag ’n besondere Dag moet wees – ’n Dag sonder enige kommersiële aktiwiteit. Ons moet alles in ons vermoë doen om te verseker dat dit vir die minimum aantal mense nodig is om op Sondae te werk.
Baie Christene het hulle werk verloor, of kon nie werk kry nie, omdat hulle in beginsel weier om op Sondae te werk. Niemand moet deur wetgewing gedwing word om op Sondae kerk toe te gaan nie, maar dit sou gewens wees vir regerings om wetgewing te promulgeer wat mense van kommersiële verpligtinge op ’n Sondag vrystel.
Die Sondag is ’n dag vir geestelike groei, ’n dag wat ons help om ons priori-teite te bekragtig en ons gehoorsaamheid aan die Here te demonstreer. Dit is ’n dra-matiese en beduidende dag van getuie-
nis, wat help om ons toewyding aan die Here te demonstreer en wat die opregtheid van gelowiges aan hulle bure, familie en twyfelende kinders sigbaar maak. Gehoorsaamheid spreek baie duideliker as woorde.
Om die Here se Dag gering te skat, bring ’n hele klomp ander sondes aan die lig, soos die gebrek aan toewyding, ongeestelike prioriteite, die afskeep van stiltetye, en onwilligheid om by praktiese Christelike dienslewering betrokke te raak. Die Here se Dag vestig in gelowiges die regte houding met betrekking tot al die bogenoemde. Die wat die Here se Dag eerbiedig, sal langer leef, gelukkiger wees, beter gesondheid geniet, en hulle verhouding met die Here sal geweldig verdiep en versterk word. Jesus nooi ons uit: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Matt 11:28.

DR. PETER HAMMOND is die outeur van ‘The Ten Commandments – God’s Perfect Law of Liberty.’ Hy is ’n sendeling en spreker. Kontak hom by: missions@frontline.co.za, of besoek www.frontline.org.za, of skakel hom by: 021 689 4480.