Isak Burger Se Perspektief

Daar was ’n tyd in die geskiedenis van Israel toe die volk geestelik ’n allerlaagste punt bereik het. Só treurig het dit gegaan dat die profeet Elia gedink het dat hy alleen oorgebly het. Die Here het hom egter verseker dat daar ’n paar duisend oorblywende regverdiges is wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie.

Behou perspektief
Soos Elia kan ’n mens maklik in wanhoop en negatiwiteit verval deur te veralgemeen en die persepsie te hê dat dit nét sleg gaan – ook wat die geestelike toestand van ons nasie betref. Dit is belangrik dat ’n mens perspektief behou en nie in wanhoop verval nie.

Deur God regeer
’n Basiese verskil tussen antieke Israel en Suid-Afrika is dat die Israel van die Ou Verbond/Testament as geheel ‘Volk van die Here’ was. Hulle was ’n teokrasie (deur God regeer) en hulle geestelike leiers was vir ’n lang tydperk ook die politieke leiers – soos vandag in sommige Moslemlande. Daar was dus nie ’n onderskeid tussen die ‘kerk’ en die ‘staat’ nie. Die sosiale struktuur en kultuur van daardie era het ook meegebring dat dit geestelik met die volk goed gegaan het wanneer daar ’n goeie Godvresende koning was – en andersom. Daarom was dit moontlik en redelik maklik om ’n oordeel oor die ‘geestelike toestand van die nasie’ te fel.

Konflik tussen kerk en staat
Suid-Afrika bied ’n totaal ander scenario. Ons het ’n humanisties-sekulêre grondwet, die kerk en staat is twee aparte entiteite. Terwyl ons grondwet aan die een kant godsdiensvryheid vir almal belowe, bestaan die moontlikheid egter wel dat daar konflik tussen kerk en staat kan ontstaan, omdat ’n sekulêr-humanistiese grondwet soos ons s’n nie die Bybel as die hoogste maatstaf en riglyn van wat reg en verkeerd is, beskou nie.

Meerderheid nominale Christene
Ten spyte van die feit dat die oorgrote meerderheid van ons landsburgers nominale Christene is, is alle ander godsdiensgroepe gelykberegtig. Daarbenewens is daar ook ’n groeiende groep agnostici, ateïste asook talle ’nie-geaffilieerdes’ – mense wat hulle nie meer as lid van enige spesifieke godsdiensgroep beskou nie, alhoewel hulle hulleself steeds as ‘spiritueel’ en nie as ateïsties beskou nie. In ’n sekere mate sou mens hulle as New Age- mense kon beskou.

Diagnose nie goed nie
Wanneer ’n mens dan van die ‘geestelike toestand van ons nasie’ praat, moet jy duidelik onderskei tussen ’nasie/land’, (dus alle Suid-Afrikaners) en die Kerk. Alhoewel ons land ’n sterk Christelike tradisie het en daar eweneens ’n sterk Christelike teenwoordigheid is, is die diagnose van die geestelike (en ‘morele’) stand van ons nasie nie goed nie.
Terwyl baie ander lande ’n geringer Christelike teenwoordigheid as Suid-Afrika het, is feitlik elke denkbare sosiale euwel by ons in ’n oortreffende trap aanwesig – dink maar aan kwessies soos korrupsie, verslawing, moord, geweldsmisdaad, verkragting, ens. Dit is een van die grootste verleenthede en aantygings teen die Kerk, gegewe dat meer as driekwart Suid-Afrika-ners ’n Christelike affiliasie bely.

Beskaafd nie noodwendig Christelik nie
’n Mens sou verwag dat ’n land (en kontinent) met so ’n sterk Christelike inslag en teenwoordigheid meer ‘beskaafd’ sal wees. Alhoewel ek graag ‘beskaafdheid’ en ‘Christelikheid’ in direkte verband met mekaar sou wou bring, blyk dit nie noodwendig die geval te wees nie. Dink byvoorbeeld aan Japan wat ’n baie klein persentasie Christene het en tog hoogs beskaafd is en waar sosiale euwels soos hier by ons, kwalik voorkom.
Ek besef dat daar ook ander faktore ter sprake is, maar die feit is egter dat ons land, met soveel natuurlike skoonheid en so ryk bedeeld met natuurlike rykdomme en mense-potensiaal, nie vertoon soos een waar die lig van die Evangelie helder deurgedring het en die ‘sout’ van ons le-wens en getuienis die gewenste uitwerking het nie.

Ernstig siek in siel en wese
Ek wil daarteen waak om nie deur die baie negatiewe aspekte in ons land meegevoer te word nie. Natuurlik is daar wonderlike mense en wonderlike inisiatiewe en geleenthede. Ek kan egter nie anders as om te voel dat ons land, ons nasie, in sy siel en wese ernstig siek is nie. Materialisme, korrupsie, immoraliteit, wanfunksionerende gesinne, noem maar op, het weinig Suid-Afrikaners verbygegaan. Ja, Suid-Afrika is in vele opsigte ’n ‘siek’ land.

Waar is die lig?
Wanneer daar egter oor die geestelike toestand van ons nasie gevra word, is dit be-langriker om by die Kerk uit te kom. Die Kerk is immers die liggaam van Christus, God se instrument, om die wêreld te seën en te beïnvloed met die boodskap van Sy koninkryk, om ‘siek’ mense en ‘siek’ gemeenskappe aan te raak en te genees. Daar is al gesê dat donkerte slegs gedefinieer kan word as ‘die afwesigheid van lig’. As dit dan ‘donker’ in ons samelewing is, kan daar met reg vrae aan die Kerk gevra word, aan ons as Christengelowiges – die lig van die wêreld.
Jesus se woorde aan Sy volgelinge was nog nooit meer van toepassing nie: “Julle is die sout vir die aarde… Julle is die lig vir die wêreld…” (Matt 5:13-14). Is God se probleem met Suid-Afrika regtig die ongelowige, geestelik-dooie menigtes, of is dit die vele Christene wat nie ’n ware Jesus-gelykvormige, Heilige Gees-beheerde koninkrykslewe lei nie?

Beskaafd maar ongered
Wanneer ons praat van die ‘Kerk’, moet ons natuurlik onthou dat ’n groot deel van diegene wat hulleself in ’n sensus as ‘Christene’ sal identifiseer, nog nooit tot bekering gekom het nie en dus eintlik net in naam ’n Christen is. Sulke mense is nog geestelik ‘dood’ (Kol 2:13) en daar kan beswaarlik iets meer oor hulle geestelike toestand gesê word. Sulke mense mag (soos totale ongelowige buitestanders en selfs godloënaars) goeie mense wees, beskaafd, met selfs hoë morele waardes, maar om ’n goeie mens te wees, beteken nog nie jy is ’n kind van God nie.

Waarlike kinders van God
Indien ongelowiges, asook ongeredde, nominale Christene se geestelike toestand eintlik net as ‘dood’ beskryf kan word, skuif die fokus dus na diegene wat waarlik gelowiges, kinders van die Here is. Dit is hulle waarvan Joh 1:12 praat: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.” Dit is mense wat Jesus as hulle Verlosser aanvaar het en glo dat Hy alles reeds aan die Kruis volbring het sodat ons hier vir Hom kan lewe en hierna vir altyd by Hom kan wees.
Hierdie ‘ware’ Kerk van die Here is versprei oor alle denominasies wat Jesus as die verrese Seun van God bely. En nie net in denominasies nie – een van die interessante verskynsels van ons tyd is die talle onverbonde gemeentes (groot en klein) wat in groot getalle oral in ons land ontstaan. Hieronder tel ek ook die groot getal huisgemeentes.

Kommerwekkende tendense
Ek dink egter dit is haas onmoontlik om ’n enkele geldende uitspraak oor die geestelike toestand van die Kerk in die algemeen te maak. Ja, daar is sekerlik tendense wat kommerwekkend is. ’n Mens verwag byvoorbeeld dat ware kinders van die Here goeie en beskaafde mense met hoë morele waardes sal wees, maar dit is ongelukkig nie altyd die geval nie.
Die wêreldgesindheid waarteen Jak 4:4 waarsku, het beslis ook baie gelowiges se oorgawe en toewyding aan die Here geaffekteer. Paulus sê immers dat mense in die laaste dae ‘meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God’ sal wees (2 Tim 3:4). Wêreldgesindheid was nog altyd ’n groter vyand van die Kerk as vervolging. So onaangenaam en onwelkom as wat vervolging van die Kerk nog altyd was, het dit as ’n reël ’n heilsame en heiligende effek tot gevolg gehad.

Groei van gemeentes
’n Tendens wat in die meer Westers-georiënteerde segment van die kerk voorkom, is dat die groei van sommige gemeentes grotendeels nie deur nuwe bekerings geskied nie, maar wel uit die migrasie van lidmate. Die meeste groeiende gemeentes sal erken dat hulle groei nie soseer koninkryksgroei is nie, maar ten koste van ander gemeentes. Hierdie groei is gewoonlik aan persoonlikhede gekoppel, iets wat nie altyd op die lange duur volhoubaar is nie.

Ware dissipelskap ’n behoefte
In ons arm, agtergeblewe gemeenskappe, vind ons vrugbare grond vir die Evangelie. Groot getalle mense reageer op die uitnodigings van evangeliste. Daar is egter twee groot struikelblokke. Die een is die sterk houvas van die animisties-kulturele agtergrond waaruit hierdie mense kom. Heelwat van die groot onafhanklike kerke wat in hulle geledere ontstaan het, het ook ’n sterk sinkretistiese geloof [vermenging van verskillende godsdienstige en sektariese opvattings] en praktyk. Geloof in die rol van voorvadergeeste asook ander praktyke wat daarmee verband hou, is dikwels aanwesig.
’n Algemene tekortkoming wat hier, en eintlik ook in die breë Kerk voorkom, is ware dissipelskap. Soos dikwels die geval is tydens evangelisasie-veldtogte oral in Afrika, kom mense herhaaldelik tot bekering, maar groei nie tot geestelike volwassenheid nie. Daarom is daar so ’n vatbaarheid vir vreemde en onBybelse leringe en praktyke.

Ons benodig Sy Gees
Te midde van alles moet ons egter nie die wonderlike tekens miskyk dat die lig van Sy koninkryk telkens deurbreek nie. Voorbeelde is legio. Terwyl die vuur van God in die Kerk in Suid-Afrika ver van geblus is, het ons onteenseglik behoefte, nee, ’n nood daaraan, dat die wind van God se Gees soewerein en eg oor ons waai. Sy vlam moet warmer en hoër brand!

Dr. Isak BURGER: President van die AGS van SA. Kontak hom afmgs@mweb.co.za of besoek www.afm-ags.org


Wat Is ʼn Christelike Reaksie?

Gedurende die afgelope paar weke is Suid-Afrikaners aangegryp deur die gebeure wat in ’n hofsaal in Pretoria afgespeel het tydens een van die mees dramatiese verhore in Suid-Afrikaanse geregtelike geskiedenis. Binnekort sal daar uitspraak gegee word oor hierdie ‘media-deurdrenkte’ saak. Ek het eenkeer ’n telefoniese onderhoud met Oscar gevoer en gevind dat hy ’n hoflike, welbesproke en vriendelike persoon is. Ek weet ook van ander mense wat persoonlik met hom bevriend is en met waardering van hom praat. Ek hoop, en wil glo, dat hy onskuldig is en dat dit alles ’n tragiese fout was.

Die siek humor is onstellend
Die grappe en siek humor wat oor hierdie saak vertel word, ontstel my. Ons praat van iemand se lewe wat kortgeknip is, van twee families wat verwoes is. Hoe kan enigeen hierdie tragiese situasie snaaks vind? Dit is nie skynlewens in ’n TV-vervolgverhaal nie. Dit behels ware, lewende mense wat die diepste skok en droefheid beleef.
Ek dink dit getuig van die uiterste gevoelloosheid om hiermee die gek te skeer en die aangeklaagde oor so ’n hartverskeurende voorval te bespot. Ek glo dat Oscar die waarheid praat, nietemin is elkeen geregtig op sy opinie.

Bewyse ter verdediging
Ek glo dat die atleet hom werklik ernstig oor sy eie veiligheid bekommer het. Dit verbaas glad nie, gegewe Suid-Afrika se skrikwekkende misdaad- en geweldstatistieke. Hy het snags met ’n pistool langs sy bed gaan slaap; ’n masjiengeweer teen die muur en ’n krieketkolf byderhand. Daar bestaan geen twyfel dat hy in ’n groot mate besorg oor veiligheid en sekuriteit was nie…
Dit is nie ’n onredelike vermoede dat Oscar se eie agtergrond en gestremdheid as ’n seuntjie sonder bene hom vatbaar gemaak het vir beduidende gevoelens van minderwaardigheid nie. Kinders kan uiters ongevoelig wees met hulle opmerkings en houding teenoor kinders met gestremdhede. Gestroop van sy kunsbene voel Oscar waarskynlik geheel en al kwesbaar. Toe hy dus in die middel van die nag wakker skrik en geluide hoor, was sy eerste reaksie om homself te verdedig. Hy het sy geweer, wat hom gelykwaardig laat voel aan diegene sonder gebreke, gegryp.
Ek dink dat die aanklaer die perke oorskry het met sy hardhandige kruisverhoor van Oscar. Hy mag dalk hiermee gepoog het om Oscar te breek en sodoende ’n bekentenis te verkry, maar met die hardhandige ondervraging kon die aanklaer juis simpatie van die regter ontlok eerder as om sy saak vir skuldigbevinding te bevorder.
Wat van die skynbare teenstrydighede in Oscar se getuienis? Ek is seker dat dit moeilik vir Oscar was om helder te dink en ’n presiese weergawe van die gebeure te gee, gegewe die spanning en uiterste emosie van die situasie.

Buite gegronde twyfel?
Is daar genoegsame bewyse om ‘buite gegronde twyfel’ te toon dat Oscar ’n moordenaar is? Ek dink nie so nie. Daar is slegs een ooggetuie. Net Oscar weet of daar in der waarheid ’n argument plaasgevind het en of hy Reeva Steenkamp opsetlik geskiet het of nie.
Is Oscar dus ’n moordenaar? As dit voorbedagte moord was, sou dit sekerlik meer subtiel beplan en uitgevoer gewees het. As dit ’n geval van ’n argument tussen minnaars met ’n gepaardgaande woede-uitbarsting was, sou geen nugterdenkende mens wat by sy volle verstand is, sy hele lewe, loopbaan en reputasie met een sinnelose daad oorboord gooi nie.
Ek glo dat Oscar die waarheid praat; maar selfs al word die paralimpiese kampioen geheel en al onskuldig bevind, is sy lewe verwoes. Sy reputasie is heeltemal daarmee heen. Hy kan nooit weer ’n ikoon van deursettingsvermoë en persoonlike vasberadenheid en sukses wees nie. Hy het die geleentheid vir winsgewende borgskappe verloor. Geen belangrike borge sal hulle met so ’n gevalle ikoon wil assosieer nie.

Ons houding teenoor die saak
Wat moet die Christen se houding teenoor Oscar wees? Of hy skuldig of onskuldig bevind word, sal hy ’n toestorting van gebede vir innerlike vrede en krag benodig. Hy sal waarskynlik toenemend ’n geïsoleerde persoon word.
Is daar enige toekoms vir Oscar? Kan ons enige woorde van hoop uit die Woord of die Christen-geskiedenis vind? Is daar enige voorbeelde van diegene wat uit die dieptes van vernedering en wanhoop geklim het tot by ’n plek van seën voorspoed?
Die vanselfsprekende voorbeeld [van ’n lewe wat oënskynlik verwoes was en toe tog gered is] is Josef, wat deur sy hartelose broers in slawerny verkoop is en toe as ’n onskuldige slagoffer in die tronk gegooi is. God het Josef se lewe omgekeer en hom een van die invloed-rykste manne in Egipte gemaak.

’n Bybelse perspektief
Die Skrif verseker ons dat niemand buite die God se genade geval het nie, omdat “Hy ook volkome red …” Heb 7:25.
As inderdaad bewys word dat Oscar werklik ’n moordenaar is, moet ons onthou dat God se dienskneg, koning Dawid, ’n moordenaar was en tog beskryf die Bybel hom as ’n “man na [God se] hart “. Omdat Dawid werklik berou gehad het, kon hy steeds die vriendskap en guns van God geniet.
Die Apostel Paulus het die vervolging en moord van Christene goedgevind voordat hy sy Damaskuspad-ervaring gehad het.
Oscar bely dat hy ’n Christen is; hy het in ’n Christen-huis grootgeword en het Christus as sy Verlosser aangeneem “min of meer voor ek nog kon onthou.” Oscar word ook bygestaan deur ’n hele paar Christene wat volwasse in hulle geloof is; ek is dus seker dat Hy die waarheid van die Woord van God gereeld hoor.
As hy skuldig bevind word, kan God Oscar steeds in die gevangenis gebruik. Daar is wonderlike verhale hoe God oral in die wêreld in gevangenisse en deur tronkbedienings gewerk het. Daar was al verbasende verhale van ’n ommekeer in die lewens van langtermyngevangenes en mense wat die ergste kriminele dade gepleeg het. Baie van hulle dien Jesus nou en leef lewens wat van die vrug van die Gees getuig. Die Bybel sê: “As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alles ongeregtigheid.” 1 Joh 1:9.

Reg moet geskied
Daar is vergifnis vir die ergste sondes. As Oscar skuldig is, kan God hom vergewe. Reg moet geskied en die wet moet sy gang gaan. As hy egter onskuldig is en ’n eerlike, tragiese fout begaan het, kan God dit ook in iets positiefs verander en kan Oscar sterker in sy geloof en met ’n baie dieper verhouding met God bo alles uitrys.
Laat ons daarom vir almal wat by hierdie tragedie betrokke is, bid; eerder as om kwaadwillige skinderpraatjies te help versprei. Gebed kan lewe uit die dood voortbring en hoop uit wanhoop. Vanuit ’n menslike oogpunt is die uitvloeisel uiters droewig, wat die hof ook al besluit. Vanuit God se oogpunt is daar hoop en ’n toekoms, maar God se kinders moet hulle deel doen en bid.
Nico Bougas: nico@bougas.info


Vind Dit Nog In Kerke Plaas?

Tydens Maartmaand het ek die voorreg gehad om ’n byeenkoms van die Global Kingdom Partnership Network in Panama by te woon. Leiers van al die grootste kerke in die wêreld het vir drie dae lank byeengekom om mekaar te ondersteun en op te bou.
Verteenwoordigers van kerke in die Weste het verstom geluister na verhale van Christen-vervolging wat tans plaasvind. Kerke word afgebrand in Sri Lanka, Indonesië, Nigerië, Egipte en Indië. Die opmerklikste kenmerk van hierdie vervolgde kerke is egter dat die Christendom juis in hierdie omstandighede groei.

Vervolging
’n Leraar uit Sri Lanka het gesê dat sy gebed vir die Weste is dat die Here ’n bietjie vervolging na die gemeentes sal stuur. Juis deur vervolging word die Kerk gesuiwer en kom daar by lidmate ’n dieper toewyding en liefde vir die Here.

Bekerings in die kerk
Die mees opvallende eienskap van al hierdie groeiende gemeentes is dat hulle uitbreiding nie plaasvind omdat Christene van ander gemeentes by hulle aansluit nie; die groei vind plaas deur mense wat tot bekering kom.

Evangelisasie is die hoofsaak
Die fokus van al hierdie groeiende gemeentes is om gehoorsaam aan Christus se laaste opdrag aan Sy kerk te wees. Om die Evangelie uit te dra is die een saak waaroor hierdie leiers ernstig is en waaraan hulle geheel en al toegewyd is. Hulle toon dieselfde passie as die eerste Christelike kerk waarvan ons in Handelinge 2:47 lees, toe daar elke dag nuwe gelowiges tot bekering gekom het.
Evangelisasie sal nooit werklik in ons gemeentes posvat as die leraar dit nie in sy persoonlike lewe uitleef nie. As hy nie aan uitreike en evangelisasie deelneem en daaroor preek nie, sal lidmate dit ook nie doen nie. Een leraar het getuig dat hy die Here vertrou om elke week een persoon na Christus toe te lei.

Gemeentes groei deur bekerings
In Cali, Columbia, was daar verlede jaar 7 000 bekeerlinge wat lidmate van die plaaslike kerk geword het. In Dallas Texas was daar 4 000 beslissings van mense wat deel van die kerk geword het. In drie Afrika-lande was daar 345 000 bekerings. In Indonesië is daar getuienisse van meer as 2 miljoen bekerings wat die afgelope jaar in verskillende kerke plaasgevind het. Selfs in Egipte is daar getuienisse van duisende wat Christene geword het.

Grootste bekommernis
Hierdie kerkleiers se grootste bekommernis is die gevaar van ’n nominale Christendom wat geen impak op die wêreld maak nie. Daar is baie kerkmense wie se godsdiens bloot die bywoning van eredienste tydens huwelike, begrafnisse, Kersfees en Paasfees behels. Dieselfde gevaar van die Skrifgeleerdes en die Fariseërs bedreig die moderne Kerk. Mense behoort aan ’n kerk, maar is nie betrokke nie en het geen persoonlike verhouding met Christus nie. Lidmate het geen getuienis van die krag en werking van die Heilige Gees nie.Dit is soos Nikodemus, vir wie Jesus gewaarsku het dat hy ten spyte van al sy godsdienstigheid, nooit in die Koninkryk sal ingaan as hy nie deur die Heilige Gees weergebore word nie (Johannes 3).

Vervolg deur die Kerk
’n Leraar van ’n kerk wat gewild onder jongmense in Duitsland is, vertel hoe hy vir jare lank ’n nominale Christen was. Vandat hy egter tot bekering gekom het en die Heilige Gees sy lewe verander het, het die kerk hom begin vervolg. Dit is soos Petrus wat vervolging deur die Kerk begin ervaar het nadat hy op Pinksterdag met die Heilige Gees vervul is en openlik vir Christus begin getuig het.
In Europa staan baie kerke leeg of word dit slegs aan die gang gehou deur klein groepies bejaardes. Sulke kerke maak geen impak op die wêreld nie en is nie meer die lig wat die duisternis verdryf nie.

Die Heilige Gees bring lig en lewe
Paulus het op die Damaskuspad tot bekering gekom toe hy Christus ontmoet het. Hierna het alles verander en het hy weggebreek met vormgodsdiens en godsdienstige gewoontes en gebruike wat vroeër vir hom baie belangrik was (Fil 3:3-8). Nadat hy vergifnis en die volheid van die Heilige Gees ontvang het, het hy die Evangelie begin verkondig. Handelinge vertel die verhaal van die Lewende Water wat van Jerusalem af na Samaria en die uiteindes van die aarde gevloei het.

Bid vir herlewing
Ons moet die Here vertrou dat Hy weer Sy kerk met Sy Heilige Gees sal vul sodat daar nuwe vrug sal kom en impak op die wêreld kom maak. Elke lidmaat moet seker maak dat sy/haar verhouding met Christus reg is en dan vrugte dra wat by die bekering pas. Dan sal kerke groei en sal ons land verander!

DIRKIE VAN DER SPUY, leier van Moreletapark Assosiasie – die nasionale en internasionale uitreikfokus van die NGK Moreletapark. 021 997 8066 of www.moreletapark.org


Om Jou Volkome Aan God Te gee

Moses het te sterwe gekom en Josua moes die leierskap van die kinders van Israel oorneem. Hulle het reeds vir veertig jaar lank in die wildernis rondgeswerf en die tyd om die belofte op te eis en die land in besit te neem, het nou aangebreek.
In Josua 1 het die Here ’n ontmoeting met Josua en verseker en bemoedig hom vir die taak wat voorlê.
Die tyd het aangebreek om tot aksie oor te gaan. Die Here beveel Josua om sterk en vasberade te wees (Josua 1:6-9).
In hoofstuk 2 stuur Josua twee spioene uit wat terugkeer met die nuus dat die land maklik deur hulle verower kan word. Hulle was slaggereed, van proviand voorsien en gereed om te vertrek. By die Jordaan het hulle die volk byeengeroep en in ’n oogwink was almal gereed, maar daar was een noodsaaklike taak wat nog verrig moes word.
Verwag ’n wonderwerk
In hoofstuk 3:5 spreek Josua die volk toe en lig hulle in dat hulle ook ’n rol te speel het in die wonderwerk wat God gaan verrig. Die Here was op die punt om “wonders” te doen, maar hulle moes dinge nie vooruitloop en verwaand wees nie.
Hulle moes tyd bestee om hulle opnuut aan God toe te wy. Die volk moes seker maak dat hulle nie ’n struikelblok of ’n hindernis sou wees vir wat die Here beplan nie. Josua het almal opgeroep om hulleself
te heilig.

Jy het ’n rol om te vervul
Die Bybel verklaar herhaaldelik dat God Sy kinders wil seën en “wonders” tussen ons wil doen. Ons wil almal graag sien hoe God onmiskenbaar werk, hoe Hy le-wens verander en hoop en heling aan die nasies bring. Hoewel sommige van hierdie dinge slegs ten volle ’n werklikheid sal word met Jesus se wederkoms, is daar die belofte in die Skrif dat ons Hom kan aanroep en dat Hy groot dinge sal doen (Jeremia 33:3). Al is dit alles uiteindelik die werk van God deur Sy Gees, herinner hierdie oproep van Josua ons dat ons ’n rol het om te vervul. Daar is God se deel, en daar is ons deel om
te doen.

Ons deel: ons moet ons daartoe verbind
Ons Hemelse Vader werk nooit in ’n lugleegte nie. As ons die Skrif lees en die geskiedenis van hoe God te werk gaan bestudeer, sal ons vind dat God altyd mense gebruik om saam met Hom te werk. Dit was John Wesley wat gesê het: “God doen niks, behalwe in reaksie op gelowige gebed nie.” Hy maak mense altyd deel van wat Hy doen.
Die groot geestelike herlewings kan teruggevoer word na ’n getroue handjievol mense wat gebid het, soms vir jare lank, vir God om herlewing te bring. In elke belangrike werking van God het getroue manne en vroue ’n rol gespeel om wat God begin het te fasiliteer. In elke kerk en bediening maak God van mense gebruik. Ons het ’n taak om uit te voer ter voorbereiding vir God om Sy wonders te bewerk. Ons deel begin gewoonlik met wat die Bybel ‘heiliging’ noem.

“Reinig julle”
Dit is die beginpunt. Die reis na ’n spesiale werk van God in ons en tussen ons sal altyd hier begin – met toewyding aan God, by die punt waar die kinders van die Here verklaar: “Hier is ek Here, gebruik my!”
Toewyding aan God behels om onsself ‘opsy te sit vir God se gebruik’. Dit is ’n algemene tema en vereiste in die Skrif. Dit is so ’n belangrike kwessie dat die begrippe ‘reinig’, ‘heilig’, ‘opsy sit’ 260 keer voorkom. Somtyds verwys dit na voorwerpe wat vir God opsy gesit word, maar meestal verwys dit na mense wat vir God se gebruik opsy gesit word.

Om jou aan God te gee
Aan die begin, waar God teen die sondige mens optree, lees ons: “Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God.” Lev 20:7.
Dit is hoofsaaklik wat Paulus in Romeine 12:1sê: “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.”
Dit is nie voorbehou vir slegs die supergeestelikes of die een of ander spesiale elite-groep nie, maar vir al God se kinders wat almal geroep is om vir Sy gebruik ‘opsy gesit’ te wees.

Wat vereis dit?
Ons hoef dit nie ooringewikkeld, of die een of ander snaakse ritueel of geestelike praktyk te maak wat net vir sekere mense bedoel is nie. Dit is baie prakties en lê binne ons almal se vermoë.

Verbind jou daartoe om vir Jesus te leef
Jesus Christus moet eerste in ons lewens wees. Onthou altyd dat toewyding taan, wat beteken dat verlede jaar of selfs verlede week se toewyding lewensveranderend kon wees, maar Jesus sê dat ons elke dag ons kruis moet dra en Hom moet volg (Lukas 9:23).
Vir alle gelowiges was daar ’n beslissende oomblik toe ons ons aan Christus oorgegee het. Niks kan dit wegneem nie, maar daar moet ook ’n gereelde hertoewyding wees wat daardie oorgawe nuut en relevant hou. Dus moet ‘reini-ging’, of om onsself ‘opsy te sit’, ’n deel van ons alledaagse bestaan uitmaak.

Hernieude toewyding
Dit beteken egter nie dat ons weer eens tot bekering kom nie, maar ons verhou-ding met Christus moet vars en nuut bly, soos in die huwelik waar ons telkens vir mekaar sê dat ons mekaar liefhet en dat ons aan mekaar toegewy is.
“My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees noudat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer.”
Fil 2:12-13.
“Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie.” 2 Pet 1:10.

Hanteer sonde en hou ’n kort boek daarvan
Niks versper die werk van God soos sonde nie. Ons weet dit almal. Ons weet ook dat niemand daarvan vrygestel is nie. Ons is almal vatbaar vir versoeking. Ons moet gereeld daarmee afreken.
Voordat Josua na die Beloofde Land vertrek het, wou hy verseker dat die volk wat die land moes inneem, met hulle sonde afgereken het, want as hulle dit nie gedoen het nie, sou dit die werk van God belemmer, kompliseer en beperk. Baie Christene wie se lewens groot belofte inhou, het op niks uitgeloop nie omdat daar nie met sonde afgereken is nie.
“Ek bely my ongeregtigheid, my sonde kwel my.” Ps 38:19.
“Toe het ek my sonde bely, my oortre-ding nie weggesteek nie. Ek het gesê: ‘Voor die Here bely ek my opstandigheid;’ en U het my skuld vergewe.” Ps 32:5.
“Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” 1 Joh 1:9.

Leef ’n lewe gevul met Sy Woord en Sy Gees
Reiniging is ’n proses eerder as ’n gebeurlikheid. Dit is ’n leerproses om op God se Gees te vertrou om jou toe te rus en te bemagtig.
Die Woord is die instrument wat gewoonlik deur die Gees gebruik word. Die Here beveel Josua: “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat My dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan.” Jos 1:7.
“Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.” Jos 1:8.
“Toe sê hy vir my: ‘Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur My Gees, sê die Here die Almagtige.’ ” Sag 4:6.

God se deel: Hy sal wonders verrig
’n Hardwerkende boer doen alles wat hy kan. Hy plant, gee water, bemes, skoffel en laat die natuur dan sy gang gaan. Ons doen ons deel, ’n deel wat God van stapel gestuur het, en dan kyk ons met verwagting om te sien hoe God, deur Sy Gees, Sy groot werk verrig.
God se werk gaan nie altyd oor die skouspelagtige nie. Die Here is nie daar om ’n vertoning te lewer nie. Hy is wonderbaarlik op Sy eie manier werksaam en wanneer ons Sy handewerk eien, verstom dit ons altyd. Iemand wat na die Here toe kom, is ’n wonderwerk. Waar mense hoop en vryheid vind en van sonde vrygemaak word, is dit ’n wonderwerk.
Wanneer die Here genesing bring en wanneer Hy met Sy Gees tussen ons beweeg, is dit wonderbaarlik. Wanneer God huwelike en gesinne herstel, is dit wonderbaarlik. Wanneer leë lewens betekenis kry en wanneer Hy aan ons behoeftes voorsien en die lewe in oorvloed skenk, is dit wonderbaarlik. Dit is alles God se wonderbaarlike aandeel!

Geroep om ’n verskil te maak
Josua se oproep rig ’n uitdaging aan ons waar ons in ’n gebroke wêreld leef. Ons is geroep om ’n verskil te maak en om instrumente in die Hand van die Here te wees. Hy kan slegs instrumente gebruik wat aan Hom toegewy is en opsy gesit is vir Sy gebruik.


Die Siekte Van Die 21ste Eeu

Daar is geen dieper hartseer as die ge-dagte of gevoel dat ons op ons eie in die wêreld is nie, dat ons geen vriende het nie, dat niemand vir ons omgee nie, dat niemand besorgd is oor wat met ons kan gebeur nie, dat niemand sou omgee as ons te sterwe sou kom en niemand ’n traan by die graf stort nie.

’n Verlate plek
In die Bybel was daar niemand wat eensaamheid erger as Dawid ervaar het nie. In ’n reeks innige smeekbede uit sy hart, het Dawid God in sy wanhoop aangeroep. Sy eie seun het teen hom gedraai, die manne van Israel het hom vervolg, en hy moes noodgedwonge uit die stad vlug en sy huis en familie agterlaat. Eensaam en verslae (Psalm 25:16) was sy enigste uitweg om hom na God te wend en om genade en God se ingryping te pleit (Psalm 25:21).
Dit is interessant dat die woord ‘eensaam’ nooit in die Nuwe Testament gebruik word om mense te beskryf nie, maar wel in die verwysing na verlate plekke, soos toe Jesus hom in die wildernis bevind het (Lukas 5:16).
Beveg eensaamheid
Wat ook al die oorsaak van eensaamheid, vir die Christen is die kuur altyd dieselfde – die gemeenskap met Christus. Daardie liefdevolle verhouding met ons Here het soveel mense al deur die jare heen bemoedig. Hy is die vriend wat “nader is as ’n broer” (Spreuke 18:24), wat Sy lewe vir Sy vriende aflê (Johannes 15:13-15), en wat beloof het om ons nooit te begewe of te verlaat nie, maar om met ons te wees tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20).
Wanneer jy eenmaal die liefdevolle realiteit aanvaar het dat God jou beste vriend is, is daar ’n paar praktiese stappe om te doen om eensaamheid teen te werk:

1. Besef dat jy nie alleen is nie
Ons voel almal soms eensaam. Dit beteken nie dat daar iets met jou verkeerd is nie. Mense is veral geneig om eensaam te voel tydens belangrike oorgangstye in hulle lewe, byvoorbeeld wanneer ’n jong volwassene ’n eerste beroep in ’n nuwe stad aanvaar.

2. Raak betrokke!
Sluit by ’n sportliga aan of loop ’n klas in iets waarin jy belangstel. Wees ’n vrywilliger in jou gemeenskap. As jy baie skaam is, sluit by ’n ondersteuningsgroep aan vir mense wat aan sosiale angs ly, selfs al moet jy dit aanlyn doen.
Moenie geleenthede bywoon met die enkele gedagte om vriende te maak of om mense te ontmoet nie. Probeer om met geen verwagtinge te gaan nie en dit te geniet ongeag wat gebeur. Wees op die uitkyk vir aktiwiteite wat jou interesseer en wat groepe mense betrek soos boekklubs, kerkgroepe, politieke veldtogte, konserte en kunsuitstallings.

3. Moenie daaroor tob nie
In plaas daarvan om gedurig te tob oor hoe eensaam jy voel, doen enigiets om jou gedagtes op iets anders te fokus. Gaan stap, ry fiets, of lees ’n boek. Stel ondersoek in na nuwe aktiwiteite en stokperdjies en moenie te bang wees om nuwe dinge aan te pak nie. Hou jouself besig. Te veel vrye tyd kan gevoelens van eensaamheid toelaat om ongesiens in te sluip. Bestee tyd in gebed en fellowship met God. Wanneer Hy naby is, hoef jy nooit alleen te voel nie. Jesus is ’n vriend nader as ’n broer.

4. Ontleed hoekom jy eensaam is
Soms, veral nadat ’n verhouding beëindig is, mag jy dink jy is eensaam omdat jy dit mis om in ’n romantiese verhouding met iemand te wees. Dit mag nie altyd die geval wees nie. Tydens jou verhouding kon jy dalk minder tyd met ander vriende bestee het, of vergeet het hoeveel beter jy voel wanneer jy omring is deur mense van wie jy hou en wat van jou hou. Probeer ontleed watter tipe geselskap jy werklik nodig het.
Moenie die fout begaan om terloopse kennisse met ware diep vriende wat jy met alles kan vertrou, te verwar nie. Bou daardie vertroue geleidelik op. Daar skort niks daarmee om baie kennisse te hê nie – ’n redelike groot aantal vriende met wie jy gemaklik voel om dinge mee saam te doen, sowel as ’n kleiner, meer intieme groep vriende wat jy met meer vertroulike, persoonlike inligting kan vertrou.

5. Oorweeg dit om ’n troeteldier aan te skaf
As jy werklik sonder geselskap swaarkry, oorweeg dit om ’n hond of kat by jou plaaslike dierehawe aan te neem. Daar is ’n rede waarom troeteldiere eeue reeds die mens se huisvriend is; dit kan so ’n belonende ervaring wees om die vertroue en liefde van ’n dier te win/verwerf/ kry.

6. Neem die voortou
Stel ’n uitdaging aan jouself om in sosiale verhoudinge die voortou te neem. Moenie vir ander mense wag om jou te nader nie: jy kan die inisiatief neem. Vra die persoon of hy/sy wil gesels of gaan koffie drink. Jy moet altyd belangstelling in ander toon voordat hulle in jou gaan belangstel.

7. Luister meer, praat minder!
Om na ander mense te luister en oor hulleself uit te vra, sal jou kontak met hulle meer verdiep as om net eindeloos oor jouself te praat. Moet ook nie jou bestaande kennisse uitput nie.

8. Wees ’n aangename persoon
Trek mense tot jou aan deur genotvolle geselskap te wees. Wees komplimenterend eerder as krities.

9. Leer ’n nuwe vaardigheid aan
As jy voordeel uit hierdie tyd wil trek en goed wil voel terwyl jy die beste van ’n slegte saak maak, oorweeg dit om ’n nuwe vaardigheid aan te leer. Jy kan leer om ’n instrument te bespeel, te skets, of om te dans.
Om hierdie vaardighede aan te leer, kan jou help om nuwe mense te ontmoet, maar dit sal ook ’n kreatiewe uitlaat vir jou emosies wees. Verander jou eensaamheid na iets wat mooi is.

10. Sluit by ’n aanlyngemeenskap aan
Deel jou gedagtes en ervarings of vra vrae aan diegene wat in ’n soortgelyke situasie verkeer. Wees egter net versigtig.

11. Pak iets groots aan!
Wou jy nog altyd ’n boek skryf; ’n rolprent maak? Gebruik hierdie eensaamheid as die verskoning om iets groots aan te pak. Wie weet, miskien word dit iets wat ander met hulle eensaamheid kan help…

12. Aanvaar wie jy is
Leer hoe om gelukkig met jouself te wees. Wanneer jy hou van wie jy is, kan ander dit sien. Namate jy tyd in gebed bestee, by ’n liefdevolle kerkfamilie betrokke raak en aan ander gee, sal jy leer om die mens te vier wat God jou gemaak het om te wees.

Waarskuwings
As jy eensaam voel, laat sosiale media-webwerwe soos Facebook ’n tyd lank met rus – hulle bevorder nie jou sosiale verhoudings nie. Om te sien hoe ander hulle aanlynstatus aanpas met pret wat hulle het, kan jou net eensamer laat voel. Probeer om liewer iets buitemuurs te doen. Gaan stap, speel met jou hond, of gaan kuier by jou familie. As jy voortdurend ’n gevoel van eensaamheid ervaar, kry mediese hulp. Dit mag ’n teken van depressie wees.

Voorstelle aan kerke
’n Kerk kan een van die eensaamste plekke vir ’n enkellopende persoon wees – almal lyk op die oog af vriendelik, maar kom Sondagmiddag, het almal planne behalwe die eensame persoon. Soek die eenlinge op, sluit hulle by planne en sosiale aktiwiteite in – moenie bloot aanneem dat hulle sal vra of hulleself sal uitnooi nie. Oorweeg dit ook as ’n kerk om ‘kenmekaar’-geleenthede vir enkellopendes van verskeie ouderdomme te reël en te fasiliteer. Julle bied ’n veilige plek om hierdie tipe geleenthede te fasiliteer!