Meester, gee U nie om nie?

“En toe dit aand geword het op daardie dag, het Hy vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die ander kant. En hulle het die skare verlaat en Hom, net soos Hy was, saamgeneem in die skuit; en daar was ook ander skuitjies by Hom. En ’n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie? En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ’n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie? En ’n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!” (Markus 4:35-41).
Berug vir skielike storms
Die See van Galilea is onder seevlak, in die skeurvallei van die Jordaanrivier geleë, waar dit deur bergreekse omring word. Hierdie see is berug vir storms wat vinnig opsteek, dit kan die een oomblik kalm, en die volgende oomblik stormagtig wees.
Die See van Galilea is amper soos ons lewens vandag, maar kom ons fokus liewers op die gebeure wat ervare vissermanne op hul knieë gedwing het.
Besorg oor ander
Dit moes vir Jesus ’n dag vol uitdagings gewees het. ’n Dag waarop nie net Sy genade aan omstanders betoon is nie, maar ook die krag wat in Sy woorde opgesluit is. Jesus het die heeldag in die son gepreek – van ’n skommelende boot af. Ten spyte van Sy uitputting was Jesus besorg oor die honger skare. Ná die voeding van die menigte, het Hy die dissipels opdrag gegee om na die oorkant van die see te vaar.
Gee U dan nie om nie!
Eers was dit net ’n vars briesie, maar hulle is onkant betrap toe ’n storm skielik losbars. Dit is interessant dat Jesus volgens die Bybel agter in die skuit gelê en slaap het. Hy was baie moeg ná die dag se werk; die storm het nie eers Sy aandag getrek nie. Die storm moes selfs die mees ervare vissermanne vir hul lewens laat vrees het. Stormsterk winde het gewoed en dit het hard gereën. Moontlik het die manne op mekaar geskreeu, die sig was swak en selfs die braafstes het seker aan hul veiligheid begin twyfel. Iemand het dalk voorgestel dat hulle Jesus moet wakker maak, waarop hulle die Meester toe gaan wakker skud het. Hulle het Hom waarskynlik senuweeagtig met vrae gepeper en hard uitgeroep: “Meester, gee U dan nie om nie!”
Almal ervaar stormagtige tye
Vriend, het ons nie al almal daardie vraag gevra nie? Ek is seker as ons eerlik is, sou baie van ons Jesus ook senuweeagtig en vreesbevange wakkerskud. Moontlik kan ons nie die dissipels veroordeel nie, want ons almal ervaar donker nagte waar ons wonder of alles nie oorboord gegooi moet word nie. Kom ons erken dat terwyl ons op die see van die lewe vaar, daar storms sal opsteek, wat ons klein bootjie heen en weer slinger en ons laat wonder of ons nie in die storm sal vergaan nie.
Die Meester is altyd by ons
Hierdie verhaal gee ons egter die versekering dat die Meester altyd by ons is tydens die donker nag op die see. Die ervaring van die manne wat daardie aand saam met Jesus was, skenk ons vandag hoop en inspirasie.
Dit is nie net die dissipels wat gevra het dat die see kalm moet word nie, ook die Psalmdigter het hierdie versoek gerig. In Psalm 107:28-29 lees ons: “Toe het hulle tot Hom uitgeroep in hul moeilikheid en Hy het hulle uit hul benoudheid verlos. Hy maak van die storm ’n stilte sodat sy golwe stil is.”
Hy bring die storms tot bedaring
’n Les wat ons moet leer, is dat God altyd gewillig is en dat dit vir Hom moontlik is om die storms in ons lewens tot bedaring te bring. Ons moet egter bereid wees om Hom wakker te maak met ons uitroepe. Vriend van God, ons God was reeds van die begin af die Almagtige wat met Sy woorde see en land regeer. Psalm 65:8: sê “…wat die gebruis van die see stilmaak, die gebruis van hulle golwe en die rumoer van die volke.” Die grootste storm daardie aand was nie die See van Galilea se storm nie, maar die een in die hart van die dissipels. Hulle het hulle einde gevrees, maar met genade ’n oorwinning beleef.
“Daar was ook nog ander skuite by”
Bogenoemde beteken doodeenvoudig dat Jesus en Sy dissipels nie alleen in die storm was nie. Ander was moontlik so gretig om saam met Hom te gaan, dat hulle gekies het om saam oor te vaar. Min het hul geweet dat hulle hulle in ’n storm sou bevind. Hoeveel keer sien ons nie mense wat in geloof saam met Hom seil, maar steeds in onvoorsiene storms beland nie? Dit was vir my ’n ‘aha’-oomblik toe ek besef dat as ek Jesus wakker hou in my boot, ek dalk ander se storms kan verkort of voorkom. As ek getrou genoeg is en God my gebede verhoor, kan ek dalk my kinders teen onnodige storms beskerm? As ek Jesus sou ‘wakker maak’ sou God dan nie net genade aan my bewys nie, maar ook aan andere rondom my?
Maak Jesus wakker
Verder het Jesus rustig agter in die boot gelê en slaap. Dit is vertroostend om te weet dat Jesus, wat oor die vermoë beskik om storms stil te maak, saam met my in my boot is. Bid ons dan nie dat God deur ons gebede ander mense se bote kan beïnvloed nie? Dink aan al die nasies en die gebeure wat die Liggaam van Christus wêreldwyd beïnvloed. Is dit moontlik dat ons hier aan die Suidpunt van Afrika as Kerk en individue, Jesus te midde van die storms moet ‘wakker maak’?
Waardevolle lesse
Gedurende daardie donker nag, het die dissipels ’n paar waardevolle lesse geleer. Eers-tens, dat God van die land ook God van die see is. Hulle het geleer dat storms, onverwags en ongeleë is. Die dissipels het ook geleer dat jou reis binne ’n oogwink van vreedsaam na stormagtig kan verander. Die belangrikste is egter dat hulle geleer het dat wanneer hulle Jesus wakker maak en om Sy hulp vra, Hy magtig is om binne ’n oomblik Sy stem te verhef en vrede oor enige storm uit te spreek.


In Hemelsnaam…Doen Wat Reg Is

Rabbi Jonathan Cahn, hoof-rabbi by die Beth Israel Worship Center in Wayne, New Jersey, is tesame met ander Joodse en Christen-leiers, sakemanne en hooggeplaaste militêre amptenare uitgenooi om die Verenigde Nasies toe te spreek oor die verskerpte vervolging van Christene in die Midde-Ooste en ander dele van die wêreld.
Sewentig jaar gelede (1945), is die Derde Ryk se konsentrasiekampe bevry. Tydens die bevryding het die Geallieerde Magte die dorpenaars van die nabygeleë dorpies gedwing om deur die kampe te loop en die ondenkbare afgryslikhede waartoe Nazisme gelei het in die gesig te staar.
Die sonde van versuim
Vir die meeste mense wat in daardie dorpe naby die kampe gebly het, trouens, vir baie mense in die res van Duitsland, was dit nie so onverwags nie. Dit was alombekend dat daar jag gemaak is op die Jode en dat hulle in veewaens na konsentrasiekampe gestuur is, waar aaklighede en waarskynlike dood op hulle gewag het. Die inwoners het dit geweet, maar het niks gedoen om dit te keer nie. Hulle was immers nie self in gevaar nie. Waarom sou hulle hulle gemak, veiligheid, en welsyn vir diegene waag wat wel in gevaar is?
Toe hulle egter in die lente van 1945 deur daardie kampe stap, is hulle gedwing om nie net die boosheid van Hitler en Nazisme in die oë te kyk nie – maar ook hulle eie boosheid. Want, per slot van sake was dit hulle skuldige aandeel wat die kritieke en beslissende faktor was. Sonder hulle swyende medepligtigheid, sonder hulle sonde van versuim en selfbelang sou die massamoord van ses miljoen mans, vroue en kinders nooit kon plaasvind nie.
‘n Dowe oor vir hulpgeroep
In 1964 het ’n jong vrou, Kitty Genovese, in die stad waar hierdie byeenkoms belê is, haar woonsteldeur genader toe sy deur ’n man met ’n mes aangeval is. Die jong vrou is ’n halfuur lank brutaal aangerand. Ten minste 12 mense het haar gille gehoor, of gedeeltes van die aanval gedurende daardie 30 minute gesien, maar die meerderheid het niks gedoen om haar te help nie.
Party was nie seker waaroor die gille buite hulle geslote vensters gaan nie, maar hulle het nie die moeite gedoen om uit te vind nie. Buite was dit koud en hulle was gemaklik in hulle warm woonstel. Een buurman wat die aanval gesien het, het gewonder of hy selfs die moeite moet doen om ’n ander buurman te vra om die polisie te bel. Sy verweer: “Ek wou nie betrokke raak nie.” As gevolg van die bystanders van hierdie stad is Kitty Genovese se lewe gewelddadig buite haar woonsteldeur kortgeknip.
Christene vandag se slagoffers
En tans, terwyl ons in die stad van die bystanders van daardie misdaad vergader is, vind ’n ander misdaad net buite ons vensters plaas. Sewentig jaar nadat die bystanders van Nazi-Duitsland deur die doodskampe van die volksmoord gestap het, is daar nog ’n stroom slagoffers wat na hulle dood gelei word.
Weer eens behels dit ’n sataniese boosheid van haat, geweld en sadistiese wreedheid. En weer behels dit ’n onskuldige bevolking wat uitgesonder is om uitgewis te word – die volgelinge van Jesus, wêreldwyd bekend as ‘Christene’. Diegene wat geleer is om, wanneer hulle geslaan word, die ander wang te draai; wanneer hulle gevloek word, te seën; en wanneer hulle vervolg word, hulle onderdrukkers te vergewe. Hierdie groep is verreweg die mees vervolgde godsdiensgroepering ter wêreld, verdruk, geteister, gejaag en vermoor – mans, vroue en kinders – die lammers ter slagting van die moderne wêreld.
Die wêreld ‘gesuiwer’ van Christene
Ons is hier in die mees eerbiedwaardige vergaderplek van die nasies byeen, waar konings, leiers, ambassadeurs en afgevaardigdes vergader om internasionale kwessies te bespreek, terwyl Christene vervolg word binne die grense van 60 van daardie nasies deur hulle eie regerings, of deur diegene in wie se midde hulle woon – van Noord-Korea, Iran, Afganistan, Sirië, Nigerië, Irak, Pakistan, Viëtnam tot Indonesië en baie, baie ander lande.
In Noord-Korea word Christene gevange geneem, na werkskampe gestuur, gemartel en vermoor vir die misdaad om in besit van ’n Bybel te wees. In Nigerië is hele bevolkings van Christen-dorpies uitgemoor. In Orissa, Indië is 70 000 Christene gedwing om uit hulle huise te vlug. In Sirië is 80 000 Christene uit hulle huise, en ek haal aan, “gesuiwer”. In Indonesië het Moslems 10 000 Christene om die lewe gebring.
‘n Bloedbad van onskuldige lewens
En nou, na bykans 2 000 jaar, bestaan die gevaar dat van die mees antieke Christengemeenskappe – van die Kopte van Egipte tot die Nestoriaanse en Assiriese gelowiges van Sirië, tot die Chaldeeuse en Assiriese gelowiges van Irak – uitgewis gaan word. Dit is volksmoord. Namate die boosheid van ISIS en sy bondgenote oor die Midde-Ooste uitbrei, word ’n antieke beskawing stelselmatig uitgeroei; die bevolking sterf, word gekruisig, onthoof en lewend in hulle geboortegrond begrawe. Die ‘Vicar van Baghdad’ het hierdie jaar vertel hoe ISIS vier Christen-kinders beveel het om Jesus te verloën en Mohammed te volg. “Nee,” het die kinders gesê, “ Ons is lief vir Yeshua…Hy was nog altyd by ons gewees.” Dít was die laaste woorde wat die kinders ooit geuiter het omdat ISIS hulle onthoof het.
Waarom bly die wêreld stil?
Ons hoor van die verhale van die vroeë Christene wat Romeinse arenas binnegelei is om deur wilde diere verskeur te word. En ons verwonder ons hoe barbaars en onbeskaafd daardie tye was. Ons wonder wat ons sou doen as ons daar was. As ons toe geleef het en die lewens van die onskuldiges kon red, sou ons hulle red?
Die waarheid is dat ons tans in sulke tye leef. Meer Christene is tydens die moderne era vervolg, vermink en vermoor as in enige ander tydperk. Elke jaar word duisende Christene van hulle menswaardigheid ontneem, gemartel en vermoor, en meer as 100 miljoen Christene leef in die skadu van vervolging. Dit is die moderne era wat die mees onbeskaafde en barbaarse tye oplewer. Wat doen ons wanneer Christene weggelei word om verslind te word?
Jou stilswye laat hierdie barbaarse slagting toe
Hierdie einste instansie, die Verenigde Nasies, het die Universele Verklaring van Menseregte aanvaar wat verklaar dat elkeen die reg het om “sy godsdiens of oortuiging in lering, praktyk, aanbidding en nakoming daarvan uit te leef.”
In die Wêreldspitsberaad se uitkomsdokument van September 2005, paragraaf 139, het die Verenigde Nasies verklaar dat dit die internasionale gemeenskap se verantwoordelikheid is om bevolkings van volksmoord, etniese suiwering en vergrype teen die mensdom te beskerm. Die vraag moet dus gevra word, “Waar is al die resolusies? Waar is al die troepemagte? Waar is al die optrede wat geneem is om die mees vervolgde mense op aarde te beskerm? Waar is die universele uitroepe daarteen? Daar heers ’n eienaardige en immorele stilte, dieselfde eienaardige en immorele swye wat toegelaat het dat 6 miljoen Jode aan die dood uitgelewer is.
Die bevordering van boosheid
Ons moenie dieselfde fout van die vorige eeu begaan nie. Boosheid bly nooit net waar dit is nie. Dieselfde duisternis wat 6 miljoen Joodse lewens verwoes het, kan meer as 60 miljoen lewens wêreldwyd vernietig.
Passief teenoor verdrukking
Die Christen is nou die teiken, en is toenemend in gevaar. As ons nie afreken met daardie boosheid wanneer dit andere in verre lande teiken nie, sal ons verseker daarmee moet afreken wanneer dit ons hier ter plaatse teiken.
Geen beskawing kan homself as moreel bestempel as dit nie die weerloosstes beskerm teen dit wat daarop uit is om hulle te verslind nie. Geen nasie kan homself as goed bestempel as hy agteroor sit en niks doen terwyl magte van die bose die onskuldiges vermoor nie. Niemand kan homself ’n Christen noem as hy passief van die kantlyn af toekyk terwyl diegene wat die naam van die Messias dra, verdruk en vir hulle geloof vermoor word nie.
Dink aan diegene wat ly
As ons geloof geskoei is op hoe gemaklik en voorspoedig God ons in hierdie wêreld kan maak; as ons ons doof hou vir die hulpgeroep van diegene wat nóg gemaklik nóg voorspoedig in hierdie wêreld is – ons broers en susters wat opgesluit is en vir hulle geloof gemartel word – hoe kan ons die naam ‘Christen’ dra? Op die Oordeelsdag sal ons gevra word: “Waarom het jy niks gedoen om hulle te red nie?” Wat sal ons antwoord wees?
Daar staan in die boek Hebreërs: “Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is…” Dus, terwyl ons in ons lugversorgde huis op ons rusbank voor ons televisiestel sit, hou ons ons broers in gedagte wat op die klipvloere van gevangekampe sit waar hulle vir hulle geloof ly? Hulle sou aan ons sê: “Moenie van ons vergeet in ons lyding nie.” “Dink aan ons.” “Onthou ons wanneer ons vyande kom om ons lewens te neem.” “Moenie vergeet dat ons geleef het en dat ons ons lewens vir ons geloof en om Sy Naam ontwil neergelê het nie.”
Moenie skuldig bevind word nie
Ons durf hulle nie vergeet nie. Ons moet hulle onthou. En ons moet hulle help. Wat sou jy doen as ’n bende misdadigers in jou buurt die huis langsaan oorgeneem het en jou bure as gyselaars aanhou? Wat as hulle jou bure elke dag onderdruk, verneder, slaan, mishandel, martel en planne maak om hulle dood te maak – pa, ma en kinders?
Wat as jy elke aand deur jou venster hulle gedempte gille om hulp kon hoor, maar niks gedoen het nie? Jy het nie pogings aangewend om hulle te red nie. Jy het nie ander bure vertel en saam met hulle planne beraam om te help nie. Jy het nie eens die moeite gedoen om die polisie te bel nie. Hoe sal jy uiteindelik hieroor beoordeel word? Die antwoord is onvermydelik: jy sou skuldig bevind word, immoreel; jy sou as boos veroordeel word.
Wat sal jy doen?
Wat as hierdie mense nie langsaan nie, maar verder af in die straat gewoon het. Wat as hulle ’n dorp verder gewoon het, ’n nasie verder, of ’n oseaan ver? Sou dit ’n verskil maak? Wysig of verminder geografiese ligging op enige manier die aanklag en vereiste vir moraliteit? Nee. As mans, vroue en kinders dus wêreldwyd tans gevange gehou, geslaan en gemartel word, en in gevaar staan om doodgemaak te word terwyl ons daarvan bewus is en hulle veraf gille hoor, maar verkies om niks daaraan te doen nie, hoe sal ons op die ou end beoordeel word? Ons sal ook as skuldig en immoreel veroordeel word. Ons sal as boos veroordeel staan.
Daar staan geskryf dat ons op die Oordeelsdag aanvaar of veroordeel sal word deur die goeie of slegte dade wat ons aan God gedoen, of nie gedoen het nie. Wanneer ons Hom vra: “Wanneer het ons goed aan U gedoen?” of “Wanneer het ons teen U gesondig?” Sal Hy antwoord: “Toe julle dit aan die geringste van hierdie broers aan my gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
Daarom, as ons weier om betrokke te raak en hulle, die minste van Sy broers, te help, wat doen ons? Ons weier om die Messias te help. As ons ons doof hou vir hulle hulpgeroep, hou ons ons doof vir die hulproep van die Messias.
En op daardie dag, sal Hy vir ons sê: “Toe My dorpie in Nigerië afgebrand is, hoekom het jy niks gedoen om My te help nie? Toe Ek ’n gevangene in ’n werkskamp in Noord-Korea was, waarom het jy van My vergeet? Toe ISIS gekom het om My gesin uit te moor, waarom het jy ons nie gehelp nie? Toe Ek gemartel is, toe Ek onthoof is, toe Ek lewendig begrawe is, toe Ek gekruisig is, waarom het jy My uitroepe om hulp geïgnoreer? Waarom het jy My laat vergaan? Gaan weg van My af, Ek het jou nooit geken nie.”
Wanneer daardie dag kom, laat niemand van ons sê dat ons die hulproep van God gehoor het en niks gedoen het om Hom te help nie. In die duur van hierdie sessie, sal meer mense aangerand word, meer lewens kort geknip word.
As dit jou gesin was wat op die randjie van uitwissing staan, as dit jou lewe was wat op die punt staan om geneem te word, as dit jou kindjie was wat hulle gaan onthoof en daar was mense wat kon help, maar het gekies om dit nie te doen nie, wat sou jy dink? Laat ons dan die enigste regte en morele ding doen wat ons kan doen. Soos dit in die Skrif sê: “Red dié wat na hulle dood toe gesleep word.”
Moenie in die annale van die geskiedenis opgeteken word, en onder die oordeel van God val as die bystander wat die boosheid gesien het, maar niks gedoen het om dit te stop nie; wat die gille van die Kitty Genovese’s van hierdie wêreld gehoor het, maar gekies het om hulle buite jou deur te laat sterf nie; wat gekyk het hoe veewaens die onskuldiges aan hulle dood uitgelewer het en gekies het om te swyg. Moenie skuldig staan aan nog ’n volksmoord nie.
Maak jou venster oop en hoor die hulpgeroep. Maak jou deur oop en stap by jou huis uit. Maak jou hart en jou lewe oop en doen wat dit ook al is wat jy moet doen om hulle te red.
Jesus Messias roep uit! Jesus Messias word lewend begrawe! Jesus Messias word onthoof. Jesus Messias word gekruisig…weer ’n keer! Red Hom! Bevry diegene wat aan die dood uitgelewer word! Om Hemelsnaam…doen wat reg is!
Wat kan jy doen om te help?
Die media vertel ons van die skade wat ISIS, regeringstroepe, anti-regeringstroepe en minstens nog meer as tien ander tipies fanatiese groepe in Sirië aanrig. Ons sien die onthoofdings en lees die berigte van nóg vyftig of tagtig of honderd mense wat doodgeskiet is. En dit is waar. Maar, daar is ook ‘n ander storie. Die storie waar Jesus Homself deur middel van drome en visioene aan tienduisende Siriërs openbaar. Stories van Bybelstudiegroepe wat ontstaan, duisende bekerings (letterlik), genesings en wonderwerke wat plaasvind. Ons hoor van honderdduisende Christene wat uit die land vlug, maar te midde van die pyn en chaos is daar ‘n totaal nuwe Kerk besig om tot stand te kom.
Baie van ons bid, maar ons hoor selde dat God ons gebede beantwoord. Daar is konsensus dat daar gedurende die afgelope tien jaar wêreldwyd meer Moslems tot bekering gekom het as gedurende die vorige 1 400 jaar. Wat ons in hierdie generasie sien gebeur, het geen ander generasie voor ons aanskou nie.
Die verhale van die ervarings van ontwortelde mense in die vlugtelingkampe in Jordanië, Libanon en Turkye, is absoluut hartverskeurend. Tog is dit terselfdertyd wonderlik om te hoor van die toevloed van gelowiges vanuit ’n Moslem-agtergrond in die kerke. Tans is die grootste kerk in Libanon ’n nuutgestigte kerk van sulke gelowiges vanuit ’n Moslem-agtergrond. Wanneer mense gevra word waarom hulle na Jesus toe kom, sê hulle dit is omdat die werklikheid van die stelsel waaronder hulle voorheen was, duidelik blootgelê is en in teenstelling daarmee ook die werklikheid van die liefde en genade in Jesus Christus. Hulle getuig dat die liefde en barmhartigheid van die Christene hulle oortuig dat Jesus die weg is.
Daar is byvoorbeeld die getuienis van ’n sjeik wat die Sharia-wet aan ISIS-soldate geleer het. Hy het ontnugter geraak deur alles en na ’n naburige land gegaan op soek na iemand wat hom van Jesus kon vertel. Hy het tot bekering gekom en is nou besig om sy eie mense te evangeliseer. In ’n ander geval het ekstremiste ’n Bybelstudie saam met ’n groep mense begin wat ISIS steun. Toe hulle gevra is waarom hulle die ‘Injil’ (Nuwe Testament) bestudeer, het hulle verduidelik: “Al wat ons ken, is haat, oorlog en woede. Geen liefde nie, geen genade nie. Maar die bestudering van die ‘Injil’ (Evangelie) oor Isa (Jesus) het begin om die brandende honger in ons harte te stil…”
Hoe kan jy betrokke raak?
1. Daar is niks belangriker vir jou om te doen as om te bid nie. Niks is belangriker nie. Die heel grootste rede vir die groot hoeveelheid bekerings onder Moslems in die Midde-Ooste en Noord-Afrika is die buitengewone toename in die hoeveelheid gebed vir Moslems oor die afgelope 25 jaar. Daar is baie gebedsinisiatiewe waar daar vir Moslems gebid word. Een daarvan is M5. M5 behels ‘n e-pos wat twee keer per week uitgestuur word wat mense versoek om twee keer per week vir minstens vyf minute lank vir Moslems te bid. Stuur ‘n e-pos aan m5@jwipn.com en vra dat jou naam op die adreslys geplaas moet word. (e-pos slegs in Engels beskikbaar.)
2. Jy kan finansieel gee. Die geld sal geneem word na bedieninge in Jordanië en Libanon wat direk met Siriese vlugtelinge werk.
Rekeningnaam: Refugee Support
ABSA Spaarrekening: 905 6716 585
EFT Takkode: 632005


Die Kerk moet ruggraat he!

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die Hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die Hemel is…Dan sal Ek openlik vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die Wet van God oortree.’ “ Matteus 7:21
Jean Oosthuizen skryf onlangs in Rapport oor die verdeeldheid binne die NG Kerk oor die Belharbelydenis. Hierdie artikel is nie net vir NG Kerk-lidmate van belang nie, maar vir Christene oor alle denominasies heen omdat hierdie tipe sienings in ’n wye spektrum denominasies geopper word. Van die Anglikaanse Kerk (dink maar aan die biskop Gene Robinson) tot in Evangeliese megakerke (Rob Bell – daar is geen hel).
Dit poog om ’n aangepaste en afgewaterde Christenskap in te dwing wat by humanistiese wêreldbeskouings aanklank vind en wat wegbeweeg van God se Woord as riglyn. Hier is van ons lesers se menings.
Skrifgesag nog belangrik vir lidmate
Met die titel wil Jean Oosthuizen voorgee dat die NGK se konserwatiewe beleid die kerk se ondergang veroorsaak. Volgens hom is die verdeeldheid in die NGK oor Belhar slegs die oortjies van die seekoei. Hy sê: “Die teenkanting wat die NG Kerk nou van sy eie lidmate kry, is grootliks die gevolg van die politieke en teologiese hongerdieet wat die kerk sy lidmate self oor dekades heen gevoer het.” Met “teologiese hongerdieet” verwys Jean na die feit dat die kerk so sukkel om lidmate te laat afsien van hulle konserwatiewe idees, om lidmate te oortuig dat evolusie waar is, dat daar nie ‘n sondeval was nie, en dat saamwoon nie sonde is nie, dat ons nie met sekerheid kan sê dat die Christene die enigstes is wat reg is nie, ens.
Met Jean se sogenaamde teologiese hongerdieet het ek ‘n baie groot probleem. Die NGK was deur baie jare heen skriftuurlik korrek. Die pro-bleme het egter ontstaan toe die NG Kerk die gesag van die Skrif begin bevraagteken het en van die waarheid begin afwyk het. Dit is hoekom daar soveel verdeeldheid in die NG Kerk is. Jare lank probeer verskillende kerkleiers dwaalleringe by die kerk insleep. Lidmate volg egter nie meer ons kerkleiers slaafs na nie. Hulle lees ook wat in die Bybel staan en kan vir hulleself dink. As daar verdeeldheid in die NG Kerk is, is dit omdat Skrifgesag nog vir lidmate belangrik is.
As ‘n mens na Jean (en andere) se teologie kyk, beteken dit niks anders as om meer wêrelds te word nie. Dit is teenstrydig met Romeine 12:2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Daar is net een rede hoekom die NGK irrelevant sal word en dit is wanneer die kerk aan “hierdie sondige wêreld gelyk word”. –Daniel Louw
Aanpas of sterf
“Die NG Kerk moet aanpas of sterf” het ‘n geykte term by sekere mense geword. Daar is net een sinvolle aanpassing vir die kerk: Terug na God en Sy Woord! Verkondig die Evangelie vreesloos. Pas die Bybelse tug toe op dwaalleraars. Hou op om herhaaldelik te ‘ondersoek’ hoe die Bybel geplooi kan word om by die wêreld se sieninge aan te pas. Eers dan kan die kerk hoop om nuwe lewe te kry en geloofwaardigheid te herwin.
Die gejaag na strukturele een-heid (wat nêrens in die Bybel bepleit word nie) beduiwel geloofs-eenheid. Vat mekaar se hande oor watter ‘grense’ ook al heen, sonder om mekaar se vasgelegde verskille in aanbiddingsbehoeftes, kultuur, taal en/of volkseie te probeer ophef. Ondersteun mekaar se leringe, projekte en pogings om die Evangelie suiwer te verkondig en uit te leef. Strukturele eenheid impliseer dat enigiemand wat ‘n lidmaat wil word van sodanige “verenigde” kerkverband, sy gemelde “eie goedere” moet prysgee.
Ja, die NG Kerk sal inderdaad moet aanpas, maar dan in ‘n totaal ander rigting as wat Jean Oosthuizen, Nelus Niemandt, e.a. bedoel. Hulle bedoel dat die NG Kerk eintlik sy pogings om soos die wêreld te lyk, moet versnel. En dan sal die kerk rêrig sterwe. –Gideon Aggenbag
Watter koers sal aanneemlik wees?
Jean Oosthuizen sing dieselfde deuntjie as wat hy ‘n paar jaar gelede vir Charles Leonard gesing het. Dit het aanleiding gegee tot ‘n artikel in die Mail and Guardian, ‘The slow and steady death of the Dutch Reformed Church’, met die woorde “The DR Church’s last gasps” op die voorblad. “Dit kan selfs nuwe lewe tot gevolg hê as hy openlik erken hy was verkeerd oor bepaalde sake en ’n nuwe koers inslaan,” skryf Oosthuizen.
Dit klink asof “aanpassing/koersverandering” een van die sleutelkwessies vir hom is. ‘n Mens wonder watter koers aanneemlik gaan wees, want Oosthuizen maak geen geheim daarvan dat hy Adam en Eva en die sondeval verwerp nie en spottend verwys na die “pratende slang”. Hy praat graag minagtend van kreasioniste. By een geleentheid het hy geskryf: “…’n soektog na die oorblyfsels van Noag se ark is so goed soos om na Hansie en Grietjie se hok te gaan soek.”
Gewone lidmate het duidelik laat blyk hoe hulle voel deur briewe aan die pers, op sosiale media en op een vergadering na die ander, maar die leiers wat die Belharkwessie wou deurdruk, het hulle doof gehou. Die kerkleiers wat die hele Belharproses aan die gang gesit het, het hul hande oorspeel en was duidelik uit voeling met gewone lidmate.
‘n Mens hoop dat hulle tot besinning gebring is deur die uitslae tot dusver, maar tussen die reëls gelees, lyk dit asof die hui-dige leierskap vasbeslote is om Belhar deurgevoer te kry al bars die bottel en al buig die fles. –Dr. Henrietta Klaasing
Manipulering van statistieke
Die opskrif van ‘n Netwerk 24-berig, “Wes- en Suid-Kaap se gemeentes sê ‘ja’ vir ’n Belharwysiging” is nie feitelik korrek nie. Hoewel 56% van die gemeentes “ja” gestem het, vereis die kerkordelike bepalinge dat daar ’n twee derde-meerderheid moet wees om as ’n “ja”-stem te kwalifiseer.
Die gemeentes van Wes-en Suid-Kaap het dus in werklikheid “nee” vir Belhar gestem. Daarbenewens was die stempersentasie slegs 15%, wat beteken dat 85% van die lidmate in die sinodale gebied nie sterk genoeg oor Belhar gevoel het om aan die stemming deel te neem nie. In die moderator, dr. Braam Hanekom, se gemeente het slegs 603 van die gemeente se 4 181 lidmate gestem. Sy interpretasie, dat net 5% van die lidmate in die Wes-en Suid-Kaap “nee” gestem het, is dus onbegryplik.
Sy opmerkings oor die uitslag is ’n doelbewuste poging om aan die stemming ’n positiewe interpretasie te gee om die verleentheid van die uitslag te verbloem. Hy redeneer dat die Wes- en Suid-Kaap 25% van alle lidmate van die NG Kerk verteenwoordig. Daarmee word blykbaar voorgegee dat die grootste deel van die lidmate eintlik “ja” gestem het.
So naïef is die lidmate van die kerk nie om sulke manipulering van statistieke te glo nie. –Prof. Johan Janse van Rensburg
WIE IS GOD – GOD, OF EK?
Dit is tragies as die mens homself tot die middelpunt van die heelal verhef – en dit onder die dekmantel van godsdiens.
• Enige denominasie, sóós die NG Kerk, is nie die Kerk nie! Die Kerk is mense, God se mense – die Ekklesia
• Daar is één ware Evangelie, en dit is die Evangelie van Jesus Christus: Bekeer julle, want die koninkryk van die Hemele het naby gekom
• ‘n ryk, ‘n Koning, onderdane volgens die wil van die Koning
Niemand kan dit ingaan, tensy hy van Bo geestelik verwek is nie, want dit is ‘n geestelike koninkryk. God openbaar Hom deur die Bybel. Maar die Bybel moet deur mense geïnterpreteer word. ’n Veranderende wêreld bepaal egter nie Wie God is nie. Wat God gespreek het, was; en wat Hy gebied het, staan. Ons praat nie oor hoede dra, of sit of staan of Sondagsport nie. Die vraag is: Wie is god – God, of ek? Die mens het gerebelleer en ónafhanklik geword. Sonde is die simptoom van die sondaar. Sonde is daardie ingesteldheid wat sê: Dit is my reg. Ek sal die reg op myself nie prysgee nie! Ek is god.
“Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word; laat U koninkryk kom; laat U wil geskied, soos in die Hemel net so ook op die aarde.” Wanneer God se wil hier op aarde geskied, kom Sy koninkryk hier op aarde, en Sy koninkryk is binne-in Sy ekklesia – in hulle wat geesvervuld lewe. –Hendrik de Bruto
Die tyd het aangebreek vir die Kerk om in eenheid vir die Waarheid standpunt in te neem.


Anthonie Bougas – Rolmodel vir die jeug

Vir ’n 22-jarige jongman het Anthonie Bougas reeds soveel vermag en doen hy soveel vir die Christelike en Afrikaanse mark. Toe hy maar 15 jaar oud was, het hierdie gewilde tiener harte gesteel as deelnemer aan Supersterre.
Hy het dit opgevolg met ’n rol in Villa Rosa op kykNET en het sy eie produksiemaatskappy gevestig wat programme soos Solis vir Christus, Tienerzone, Kleuterzone en Sing in Harmonie vervaardig wat op kykNET en Kruiskyk gebeeldsend word. Wie is hierdie jongman wat so woeker met die talent wat God hom geskenk het?
Sangloopbaan in die weegskaal
Anthonie het as 4-jarige reeds begin sing en het as kind al daarvan gehou om voor ’n gehoor op te tree en liedjies te skryf. Hy was ’n aktiewe tiener wat aan veldloop en hokkie deelgeneem het, maar het as 13-jarige soveel pyn begin verduur dat hy gesukkel het op trappe te klim. Groot was die skok toe hy met kinderartritis gediagnoseer is. Anthonie vertel hoe dit hom as tiener beïnvloed het: “Ek moes kort-kort hospitaal toe vir behandeling en toetse omdat niemand kon vasstel watter tipe artritis dit was nie. Ek het baie ongemak en pyn verduur. Tydens Supersterre het ek besluit om dit geheim te hou, omdat ek graag op meriete wou presteer. Ek het soms op die verhoog op my tande gekners van die pyn. Daar was dae wanneer my knieë so groot soos rugbyballe opgeswel het en ek nie uit die bed kon opstaan nie. Ek kon nie op die ritme van die musiek op die verhoog beweeg nie, my hele sangloopbaan was in die weegskaal. Ek is meegedeel dat ek my moes ge-reedmaak om op 16-jarige ouderdom reeds in ’n rolstoel te wees.”
’n Wonderwerk van genesing
Ná Supersterre, waar hy nie net die jongste deelnemer was nie, maar ook die eerste om sy eie oorspronklike komposisie te sing, het Anthonie besluit om sy boodskap aan jongmense oor te dra deur skole en kerke te besoek. Dit is toé dat hy ’n merkwaardige wonderwerk beleef het: “My eerste besoek was aan Bloemfontein waar ek in twee kerke moes optree net voordat my toer sou afskop. Die dominees het elk na afloop van my optrede gevra: “Anthonie, waarvoor kan ons vir jou bid?” Ek het besluit dat die tyd reg is om te vertel van my struikelblok; ek het openlik oor die artritis gepraat. Albei gemeentes het daardie dag vir my gebid en dit was werklik ’n ongelooflike ervaring. Vier dae later moes ek vir my gebruiklike afspraak na die spesialis gaan, waartydens hy bloedtoetse gedoen het. Die uitslae het ons almal verstom – daar was nie ’n spoor van artritis nie! Ek dank God daarvoor. Ek het glad nie meer pyn nie.”
Ontginning van talente
Ná hierdie genesing het Anthonie ’n belofte aan die Here gemaak dat hy meer as 500 skole in Suid-Afrika sou besoek en om sy getuienis te gee, en dit is presies wat hy gedoen het. Hy vertel: “My doelwit is dat hoop en motivering deur Christenskap uitgebeeld word. Ek probeer om kinders en tieners te wys dat dít wat vir ons onmoontlik lyk, by die Here wel moontlik is. Oor die hele Suid-Afrika en Namibië kombineer ek hierdie boodskap met die aansporing van die talente in die skoolkinders. Ons het almal talente ontvang, soms moet iemand ons net aanmoedig om dit te ontgin.” Gaan loer ’n mens op Tienerzone se facebookblad na die talle boodskappies van tieners, en selfs onderwysers, is dit duidelik dat Anthonie menige hart bereik en met sy boodskap bemoedig.
Anthonie het gedelf uit sy eie drome en ervaring en met programme vorendag gekom wat die jeug met groot sukses bereik – Tienerzone en Kleuterzone (op Kruiskyk) en Solis vir Christus wat op Kyknet, Kruiskyk en One Africa (in Namibië) gebeeldsend word.
Versteekte tienertalent in ons land
Tienerzone is ‘n Christelike tienerprogram wat die lewe in oënskou neem soos dit deur tieners ervaar word. Gedurende die reeks besoek Anthonie skole op die plattelandse dorpies van ons land om die versteekte ta-lent daar te ontdek. Die program bied skole en leerlinge die geleentheid om hulle talente op nasionale vlak ten toon te stel.
Solis vir Christus
Watter jong sanger droom dan nie om ’n opnamekontrak en ’n eie musiekvideo te produseer nie! Daarom het Anthonie die program, Solis vir Christus geskep. Dit is ’n sangkompetisie waaraan plattelandse leerlinge kan deelneem vir pryse ter waarde van meer as R70 000.
Wanneer Anthonie sê dat hulle wyd en syd soek na talent, bedoel hy dit! Tydens die verfilming van die tweede reeks, het hulle span byvoorbeeld die pragtige kusdorpie, Walvisbaai, besoek en vir Martinique Laubser by die Hoërskool Walvisbaai ontdek, wat onbewus was van haar kwaliteitstem.
Sy het almal verras met haar weergawe van ‘Pie Jesu’ en was die algehele wenner van die eerste seniorafdeling van die kompetisie waarmee sy ’n CD-opnamekontrak ter waarde van R50 000 gewen het.
Skoolkore sing uit volle bors
Verlede jaar het Anthonie die Sing in Harmonie-reeks – ’n nasionale skolekoorkompetisie – geloods. Dit was so ’n reusesukses dat dit vanjaar weer plaasvind.
Advies vir aspirant gospelsangers
Anthonie het raad vir aspirant sangers en televisie-aanbieders: “Sukses is om te doen wat jy kan, met dít wat aan jou toevertrou is. Jy moet net geduldig wees. Die grootste deel van geloof is geduld. Jy kan die moontlike verrig en God die onmoontlike. Ná Supersterre was dit my droom om my eie televisieprogram te begin omdat ek meer mense wou bereik as slegs die gehore by my konserte; Solis vir Christus het hieruit ontstaan. As jy in jou ta-lent glo, moet jy na jou droom streef, maar onthou ook dat ’n mens geduldig moet wees, jóú tyd is nie altyd God se tyd nie.”

’n Blink toekoms
Oor die toekoms haal Anthonie sy oupa aan: “My oupa, John Bougas van Somerset-Wes het hierdie gedagte met my gedeel: ‘My road leads to a hopeless end, but God’s road leads to an endless hope…’ “Dit is duidelik dat Anthonie op die pad is waarvoor God hom bestem het. Met die goeie kombinasie van ’n hart vir Jesus en ’n kop vir besigheid, lê daar voorwaar ’n pad vol eindelose moontlikhede voor hom oop!