N Geloof Wat Ons Anker

“Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is. Ek ag dit immers my plig om julle aan te spoor deur julle hieraan te herinner so lank as ek nog lewe. Ek weet dat my dood nie meer ver is nie. Ons Here Jesus Christus het dit trouens duidelik aan my bekend gemaak. Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal onthou. Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al Sy majesteit gesien. Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: ‘Dit is My geliefde Seun oor Wie Ek My verheug.’ Die stem uit die Hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in Sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig”. 2 Pet 1:12-21
Ek wil ’n boodskap oordra wat met die fundamentele dinge verband hou, asook die dinge in die Skrif wat vir ons vastigheid gee. Die aanhaling hierbo is ’n uiters belangrike Skrifgedeelte. Ek hoef jou seker nie daaraan te herinner dat jou geloof sterk kan wees en so opreg as kan kom nie, maar as dit misplaas is, sal dit op ’n ramp uitloop. Dit geld op alle lewensterreine.
Misplaasde geloof is niksseggend
Die geskiedenis is besaai met die gevolge van misplaasde geloof. Ons hoor van mense wat sê dat hulle ’n sterk geloof het – amper asof vanuit ’n soort vae oortuiging dat dinge reg sal verloop en ’n goeie uitkoms sal verseker. ’n Sterk geloof is niksseggend as dit verkeerd gerig is nie.
Ons hoor en lees van leiers en kultusse wat mense mislei, en baie opregte en eerlike mense bekoor het – mense wat hulle lewens toegewy het, hulle besittings verkoop het, hulle alles gegee het, hulle tyd opgeoffer het – net om uit te vind dat dit die verkeerde besluit was, wat toe ook rampspoedig geëindig het. Al hierdie mense het vas geglo en was toegewyd aan wat verkondig is. Sommige mag selfs meer opreg en eerlik wees in hulle geloof as party Christene, maar die uiteinde sal tragies wees, vol ontnugtering.
Die Skrif leer ons dat dit nie slegs die grootheid of die opregtheid van ons geloof is wat deurslaggewend is nie, maar eerder dít waarin ons ons geloof plaas. Dit is wie, of waarin ons glo, wat regtig saak maak en op die ou einde deurslaggewend is. Geloof kan so sterk wees soos jy wil, maar as dit op leuens en dwaling gegrond is, is dit sonder hoop en lei dit tot niks…
Die grondslag van geloof
Uit die Skrifgedeelte is dit duidelik dat Petrus se dood naby was. Hy skryf in vers 14 dat sy dood nie meer ver is nie. In vers 15 praat hy van sy heengaan, en dit is duidelik dat hy vir die laaste keer wil seker maak dat hierdie mense se geloof in die regte Een is, en dat hulle gewortel en gevestig is in die waarheid.
Soos wat dikwels gebeur het, was daar vals leermeesters in hulle midde wat leerstellings begin verkondig het wat so goed geklink het, en baie beloof het. Hoewel Petrus die gelowi-ges geloof het, benadruk hy hoe belangrik dit is om in die waarheid gegrond te wees, en sê hy dat hy hulle nog een keer daaraan wil herinner sodat hulle hierdie dinge altyd sal onthou.
In wese herinner hy hulle aan die grondslag van hulle geloof, waarin hulle hoop gesetel is, en wat hulle lewens verander het – dít waaroor die Christelike geloof gaan, en hoe ons seker kan wees dat dit die waarheid is.
Dit is sy laaste poging – en wanneer dit iemand se laaste woorde is, neem ’n mens kennis daarvan. Te midde van die vervolging, met al die dwaalleer en onsekerheid, en die toenemende druk, sê Petrus: broers en susters, dit is waaraan julle moet vashou; dit is wat julle geloof anker; dit is die grondslag.
Die eerste ding waaraan hy hulle herinner, is dat hulle geloof in werklike, feitelike, historiese gebeure geanker is.
Petrus verduidelik dat ons geloof in Jesus volkome redelik is. Ongeag van wat die wêreld, filosowe en ongelowiges mag sê, is dit heeltemal aanvaarbaar om gelowiges te wees. Hy sê: “Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en Sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al Sy majesteit gesien.”
Ons geloof is rasioneel
Ek vind dit insiggewend dat Petrus vir oulaas hulle aandag op die redelikheid van hulle geloof gevestig het. En as volgelinge van die Here Jesus is ons dankbaar vir die verseke-ring wat God deur Sy Gees in ons harte plaas. Ons is dankbaar vir die vreugde, die bergtop-ervarings, die vrede wat God deur Sy Gees in ons harte plaas. Ons is dankbaar dat ons kan bely ons weet ons behoort aan God, omdat Sy Gees mét ons gees getuig. Dit is kosbaar en wonderlik. Maar as die druk toeneem, en dit lyk of niks wil uitwerk nie, kan ons nog steeds getuig dat ons geloof volkome redelik is. Dit is wat Petrus doen.
Die verskil tussen glo, en glo in Jesus
Iemand het eendag vir my gesê: “jy het daardie tipe geloof, maar ek nie.” Mense glo op verskillende maniere. ’n Mens hoor: “Wát jy glo is nie belangrik nie, solank jy net glo.” Ek hoop almal verstaan dat dit absolute onsin is. Die Christelike geloof gaan nie oor lekker gevoelens nie. Dit gaan nie oor filosofieë en idees nie. Dit is ook nie ’n soeke na ’n soort finale waarheid en doel nie. Dit is nie een van baie opsies wat jou help om die lewe te kan hanteer nie, of wat jou na rykdom en sukses lei nie. Die Christelike geloof is ’n historiese geloof. Dit is gegrond op – en word bevestig deur – ware historiese gebeure wat plaasgevind het. Dit draai daarom om jou oë op Jesus te hou, wat regtig gelewe het, regtig gesterf het, en regtig opgestaan het. Mense word nie geroep om te glo nie, maar om in Jesus te glo! En daar is ’n gróót en belangrike verskil…
Petrus herinner hulle, te midde van die vervolging en swaarkry dat hulle in die waarheid geanker moet bly. Die Apostel Paulus skryf iets soortgelyks in sy brief aan Timoteus:
“Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op Wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.” 2 Tim 1:12.
Ons geloof is die vervulling van ’n menigte profesieë. Dit was nie versin deur een of ander ghoeroe op ’n heuweltop nie. Dit is eg. Dit het met regte mense te make. Dit is hoekom, wanneer jy die Bybel lees, jy op mense sal afkom met gebreke, mense wat hulle geloof in werklike situasies uitleef. Jy sal van hulle worsteling en mislukkings lees, en ook van hulle oorwinnings. Dit is nie die een of ander vreemde stelsel of snaakse geloof nie. Ons staan by die waarheid dat Jesus werklik geleef het.
Omstandighede bepaal nie ons geloof nie
Petrus skryf in sy eerste brief: “In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God.” 1 Pet 3:15.
Daar is ’n goeie rede vir die hoop in ons. Ek het ook my afdae. Ek beleef goeie én slegte tye. Ons hou almal van die bergtop-ervarings, maar ons almal het ook al die donker dieptes beleef. Daar gebeur dinge wat ek moeilik verstaan, maar dit verander nie een oomblik wat ek glo nie. Dit is nie my geloofsbelewenis van die oomblik wat saakmaak nie, maar eerder die Een in wie ek glo.
Waarin moedig Petrus hulle aan om hulle geloof te plaas, selfs as hulle vervolg word? Nie in een of ander verhaaltjie wat deur ghoeroes en verhoogkunstenaars aanmekaargeflans is nie, maar in die waarheid van God, soos dit deur Jesus Christus geopenbaar is.
Die tweede ding waaraan hy hulle herinner, is dat hulle geloof gebaseer is op die getuienis van die Apostels.
“…met ons eie oë het ons Hom in al Sy majesteit gesien.” Hierdie gelowiges is deur Paulus en Petrus onderrig. Hulle het wonderlike verhale van Jesus se lewe, Sy lering en Sy wonderwerke gehoor. Hulle is oor Sy dood en opstan-ding ingelig. Petrus sê dat sy onderrig hieroor nie berus op ’n tweedehandse storie wat hy iewers gehoor het nie, maar op die feit dat hy ’n ooggetuie was.
Die Evangelies verwoord almal getuienisse van ooggetuies van die dood en opstanding van Jesus Christus. Ooggetuies is in enige geregshof van onskatbare waarde. Petrus kon ’n lang lys maak van wonderwerke wat hy Jesus gesien doen het.
Hy kon vertel hoe Jesus op water geloop het, water in wyn verander het, duisende mense gevoed het – maar in hierdie gedeelte praat hy van die lewensverande-rende ontmoeting wat hy gehad het. Petrus het God hoor sê: “Dit is my geliefde Seun oor Wie Ek My verheug.” Die gebeure in die lewe van Jesus het in die openbaar plaasgevind, en om dit te ontken, is om historiese feite te ontken.
Die derde ding waaraan hy hulle herinner, is dat hulle geloof deur God belowe en gewaarborg is.
Dit is ’n historiese feit. Daar word van al hier-die dinge gepraat in profetiese Geskrifte. Ongeag al die ander dinge waarop ons staan – die waarheid, die Woord, die wonderwerke, die ooggetuies – staan ons op die feit dat Jesus al die profesieë vervul het. Die Ou Testament is oor ’n tydperk van 1 000 jaar geskryf.
Daar is honderde profesieë wat verband hou met die Messias, en Jesus het almal vervul. Jesus het self in Matteus 5:17 gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.” Dwarsdeur die Skrif sien ons die vervulling van profesieë. Die profetiese woord bewaarheid.
Dit is wiskundig onmoontlik vir Jesus om toevallig, of deur bedrog, al hierdie profesieë
te kon vervul. Die Skrif wys na Hom heen. Onthou gerus hierdie dinge wanneer mense oor Hom twyfel: Die geskiedenis bevestig Sy bestaan; ons het ooggetuies se weergawes, en die profete van ouds bevestig herhaaldelik dat Jesus die Here is.
Pas dit in jou lewe toe. Ons beleef almal uitdagings. Die lewe kan veeleisend raak, en in stryd met sommige teologiese denkrigtings wat die rondte doen, is ons nie van die lewe se uitdagings gevrywaar nie. Ons toekoms kan dalk selfs vervolging insluit. Om by ons Christelike geloof te staan, gaan toenemend moeiliker word, maar te midde van alles – wat is ons anker? Waarin lê ons krag? Waar kom ons hoop vandaan?
Ons het ’n historiese geloof, gebaseer op die weergawe van betroubare ooggetuies, en bevestig deur die vervulling van profetiese geskrifte.
As Christene moet ons sterk staan. +


Maak Jou Kind God-Gereed

Ek het my kinders so ’n rukkie gelede gevat om te gaan ysskaats vir ontspanning en pret. Maar het my mond oopgehang! Nie net oor al die toertjies en vernuf van sommige kinders nie, maar ook oor die oop-en-bloot vryery van tieners, die kaal kleredrag en die groot hoeveelheid klein kindertjies wat heeldag daar rondhang sonder enige volwasse toesig. My mamma-hart het gehuil, my dogter-van-God-hart het gevra: “Here, hoekom lyk ons kinders so?” Is dit groepsdruk? Die media wat ons kinders ryp druk? Of dalk óns wat ons kinders versaak, bederf en hulle swygend oor God se plan grootmaak?
Groepsdruk of nalatige ouers?
Natuurlik speel die maats en media ’n rol, maar is dit noodwendig die enigste rede waarom kinders so soekend en rebels is? Soekend na liefde, aanvaarding, erkenning en ’n wete dat hulle iewers behoort? Wat veroorsaak dat jong meisies só aan seuns hang? Hoe is dit moontlik dat sulke jong kinders so uitdagend kan wees? Is groepsdruk die groot sondebok waarom kinders rebels is en sommige so argeloos op ’n skaatsbaan kan rondhang met geen teken van karakter en eie-waarde nie? Of is dit ’n simptoom van ons nalatigheid en onverskilligheid as ouers?
Die kuier by die skaatsbaan het my laat terugdink aan my eie opvoeding en tot introspeksie gedwing. Ek het weer besef dat ons kinders soms maar net die produk is van alles wat ons hulle geleer, of nié geleer het nie; wys of nié wys nie; dít wat ons toelaat of nie.
Gebrekkige erkenning, belangstelling en tyd
As ons nie ons kinders onvoorwaardelik aanvaar nie, in hulle belangstel en woorde van erkenning gee nie, word daardie behoefte deur die maats en die wêreld daarbuite gevul. In ons gejaagdheid en eie soeke na vrede en rus, ons beheptheid met ons selfoon, beroep en eie sosiale kuiertjies met vriende, gee ons dikwels nie aandag nie, ons luister net half, kyk ons dinge mis. Min gesinne eet nog saam aan tafel – kuier nog minder saam met hul kinders teen nagsê-tyd – veral as die kinders tieners is. Terselfderyd kweek ons kinders wat desperaat is vir erkenning en aandag, om gehoor en raakgesien te word…al kry hulle dit by verkeerde maats en in ongesonde verhoudinge.
Te min verantwoordelikheid
Kinders wat grootword in huise waar hulle ouers altyd vir hulle die kastaiings uit die vuur krap wanneer hulle in ’n gemors beland, waar hulle meer regte as pligte het en waar die teleurgestelde gesig van ‘n ouer die ergste straf is wat hulle ooit ontvang, besef selde dat die lewe volgens die goue reël van oorsaak en gevolg verloop.
Om jou kind ouderdomsgepaste verantwoordelikhede te gee, maak hom sterk. Dit laat hom besef dat die lewe nie net ’n gemaklike reis is nie – dit verg harde werk en het soms oomblikke wat minder lekker is, maar waar ons deurdruk omdat dit die regte ding is om te doen. Om verantwoording van jou kind te eis, maak jou kind eerbaar. Dit leer hom die wonderlike les dat ons vry is om te kies, maar nie vry van die gevolge van ons keuse nie.
Mag die Here vir ons as ouers genoeg wysheid gee om hierdie karaktereienskap reeds vroeg in ons kinders te plant sodat hulle eendag die wonderlike vrug hiervan sal dra.
Gehoorsame ouers
Dit is altyd moeilik om “nee” te sê as jou kind regtig graag iets wil hê, terwyl jy dalk weet dat dit nie goed, of nie die regte tyd, vir jou kind is nie. Jou hart krimp ineen as daardie gesiggie hang en die lippie bewe omdat die antwoord “nee” is. Kinders wat altyd “ja” vir ’n antwoord kry, of wie se ouers altyd ingee as hulle aanhou neul, kweek kinders wat nie besef dat party goed in die lewe geld kos, tyd neem en soms net nie moontlik is nie.
Ons kinders moet leer om te wag, leer om “nee” te aanvaar. Dit is immers ’n Woord-beginsel. God verg geduld en gehoorsaamheid van ons. En die Woord is deurspek met voorbeelde waar God “nee” gesê het, of waar mense nie dadelik gekry het waarvoor hulle gevra het nie.
Onvoorwaardelike gehoorsaamheid
Ons kinders beskou ons maklik as onbillik en onregverdig wanneer ons reëls neerlê waarvan hulle verskil of nie van hou nie. Onthou: God vra dikwels dinge van ons wat ons nie verstaan nie. Sy reëls is nie altyd aangenaam of noodwendig, volgens ons, regverdig nie. As jou kind nét dié dinge hoef te volg wat hy verstaan, of as jy dinge oorsien omdat hy nog te klein is om te verstaan, gaan jy dalk lank sukkel om jou kind te oortuig wanneer hulle op daardie ouderdom is waar hulle oor alles wil onderhandel en redeneer, dalk selfs oor sake soos seks voor die huwelik, drank-gebruik voor die ouderdom van 18, of beperkings rondom sy selfoon. Ons reëls mag nooit die vlees van ons kinders beskerm en bevredig, ten koste van hulle gees en karakter nie. Maak jou kind God-gereed! Eis soms dat ‘n onverstaanbare reël gevolg moet word!
Vandag se saad is môre se oes. Kom ons keer terug na die Woord wat leer dat ons nie alleen ons kinders moet grootmaak in Sy weë, hulle nie van tug moet weerhou en beskerm nie, maar ook dat ons die absolute voorbeeld sal wees van ouers wat luister, omgee, belangstel en hulle sal liefhê – omdat hulle by hul naam geroep is en gebore is vir hierdie tyd waarin ons leef. +


God Rig N Bevryder Op

Rigters 3:12-30
Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hy het koning Eglon van Moab mag oor hulle laat kry…Eglon het die Ammoniete en ook vir Amalek by hom laat aansluit, en hulle het die Israeliete gaan verslaan en die Palmstad verower.
Die Israeliete was agtien jaar lank die onderdane van koning Eglon van Moab. Toe het hulle tot die Here geroep om hulp, en Hy het ’n redder vir hulle na vore laat kom, Ehud seun van Gera, ’n Benjaminiet. Ehud was links, en die Israeliete het hom met die belasting gestuur na koning Eglon van Moab toe. Ehud het vir hom ’n swaard gemaak, ’n halwe meter lank en aan albei kante geslyp. Hy het dit aan sy regterkant onder sy klere vasgemaak.
Hy het die belasting oorhandig aan koning Eglon van Moab, ’n baie vet man. Nadat Ehud die belasting oorhandig het, het die koning die mense wat dit gebring het, laat vertrek, maar Ehud het by Die Beelde naby Gilgal omgedraai en vir die koning kom sê: “Koning Eglon, ek het ’n geheime boodskap om vir u te gee.” Toe sê die koning: “Laat ons alleen,” en al sy amptenare het van hom af weggegaan.
Ehud het nader gekom na die
koning toe waar hy gesit het in sy koel bovertrek wat net vir hom bedoel was, en vir hom gesê: “Ek het ’n boodskap van God vir u.” Hy het toe opgestaan van sy troon af en Ehud het sy swaard van sy regterheup af met sy linkerhand gegryp en vir Eglon in sy maag gesteek. Die hef het saam met die lem in sy maag ingegaan en die vet het oor die swaard gepeul, sodat Ehud dit nie kon uittrek nie.
Hy het toe deur ’n geheime uitgang en deur die voorportaal uitgegaan nadat hy die deur van die bovertrek toegetrek en gesluit het. Nadat hy uit is, het Eglon se amptenare gekom en toe hulle sien dat die deure van die bovertrek gegrendel is, het hulle gedink die koning is seker besig om hom te ontlas daar in die koelvertrek. Hulle het tot vervelens toe gewag, maar die koning het nie die deure van sy bovertrek oopgemaak nie, en toe hulle ’n sleutel vat en oopsluit, lê hulle die koning daar dood op die vloer.
En omdat hulle so lank gewag het, kon Ehud ontsnap.
Hy het by Die Beelde verby gegaan en na Seïra toe gevlug. Toe hy daar kom, het hy die ramshoring op die Efraimsberge laat blaas. Die Israeliete het van daar af na hom toe gekom. Hy het hulle leier geword en vir hulle gesê: “Kom saam met my, want die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag oor.” Hulle is toe saam met hom en hulle het die Jordaandriwwe na Moab toe beset en niemand daar laat deurgaan nie. By daardie geleentheid het hulle die Moabiete verslaan: omtrent tienduisend man, almal sterk en goeie soldate.
Niemand het ontsnap nie. Moab is daardie dag deur Israel onderwerp, en daar was tagtig jaar lank vrede in die land.

Israel het gesondig en as gevolg daarvan moes hulle vir agtien jaar lank onderdanig wees aan die koning van Moab en hom te midde van gewelddadige onderdrukking dien. Deur hulle eie toedoen, was die volk weereens aan ’n man onderwerp wat hulle nie slegs onderdruk het nie, maar ook mishandel het. Dit was in hierdie uur, waar hulle tot op hulle knieë gedwing is, dat hulle hul koppe gelig het, hul stemme verhef en om hulp uitgeroep het. Die dringende gebed het die Hemel bereik en in ’n oogwink het God besluit om iemand op te rig.

Deur God aangevuur
God het op die stam van Benjamin gefokus en Ehud, die seun van Gera, gekies. Dit is interessant dat die Bybel noem dat Ehud links was en, alhoewel dit aanvanklik nie belangrik blyk te wees nie, speel dit later ’n rol in die uitvoe-ring van God se opdrag. [Dit sou vir die wagte lyk asof hy ongewapen is omdat ’n swaard normaalweg aan die linkerkant vasgegord sou wees.] Daar word nêrens in die Bybel na gesprekke tussen Ehud en God verwys nie, maar ek vermoed dat Ehud se aksies moontlik van binne deur God aangevuur is.
Volgens die Bybel het Ehud, erg gefrustreerd en kwaad, in die geheim ’n spesiale swaard gemaak wat hy onder sy regterheup vasgemaak het vir sy besoek aan die koning. Sy volgende belangrike aksie was om koning Eglon van Moab te betaal en sodoende voor te gee dat hy daardeur ’n huldeblyk aan die koning bring. Die koning het egter die jong man onderskat. Ehud wou nie langer aan die koning se wreedheid uitgelewer wees nie en het moed bymekaar geskraap omdat hy besef het dat God hom wil gebruik om die Israeliete te bevry.

God maak dit moontlik
Wanneer Ehud die geskenk aan die koning oorhandig, noem hy dat hy ’n geheime boodskap vir die koning het. In opdrag van die koning, verlaat almal die vertrek. Ek kan nie help om opgewonde te raak oor God se vermoë om ’n weg te skep as ’n mens in gehoorsaamheid optree nie. Ehud steek die oorgewig koning met sy swaard in die maag en ontsnap deur ’n geheime uitgang.

Gesindheid van nederigheid
Daar kan nog baie gesê word oor die diensknegte wat gedink het dat die koning besig was terwyl hy eintlik dood is, maar laat ek ten slotte fokus op die ongelooflike gesindheid wat Ehud openbaar toe hy weer by die Israeliete kom. Ander sou die lof vir hulleself toegeëien het, maar hy het op sy ramshoring geblaas en met ’n harde stem uitbasuin: “Kom saam met my, want die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag oor.”

Gee God die eer
Vriende, hierdie storie inspireer my om verskeie redes. Eerstens: God gee gehoor aan die hulpgeroep van Sy mense en kan ook jou hulpgeroep hoor. Tweedens: God is gewillig om saam met ons te gaan wanneer ons ons onderdrukkers dapper tegemoetgaan. Derdens, en vir my die belangrikste: Ehud stel ’n goeie voorbeeld van hoe ons behoort te reageer en getuig wanneer ons oorwinning smaak. Ons moet, net soos Ehud, nie nalaat om God die eer en erkenning te gee nie.


Duisend Bid Vir Herstel

Die 2016 Karoo Mighty Men Konferensie (KMMC) het onlangs weer in Middelburg plaasgevind. Dit was ’n naweek waartydens verhoudings op die horisontale en vertikale vlak herstel, hernu of vir die eerste keer geskep is en 2 000 mans tot bekering gekom het.
Dr. Arno van Niekerk, die spreker vir die Vrydagaand, het met ’n swaard en skild in die hand op die verhoog verskyn met sy tema – Mighty Men Arise!
KMMC moet SA beïnvloed
Hy het beklemtoon dat die MMC ’n uitwerking in die land moet hê en dat dit nie bloot by die opwinding en inspirasie van die naweek kan bly nie. Dawid se magtige stryders het in die krag van God verbasende dade vermag en dr. Van Niekerk het die MMC-manne uitgedaag om soos Dawid se dapper stryders in die krag van God vir waarheid te staan, met die Woord (die Swaard) sentraal in elkeen se lewe.
Dr. Van Niekerk het ook met sy arm om pastoor Africa Mhlope verklaar dat hierdie man sy broer is en dat hulle die Here saam dien – dat daar geen plek vir rassisme in Suid-Afrika is nie. Een van die swart Christene het ná die tyd vir Arno gesê dat hy nog nooit ’n wit man so eerlik oor rassisme hoor praat het nie.
Versoening en trane
Saterdagoggend was Josua Lwere, die hoofpastoor van Grace Assembly Church in Kampala, aan die woord. Hy het Jaffar Amin, die seun van Idi Amin, aan die gehoor bekendgestel. Jaffar is betrokke by versoeningsbediening in Uganda waar hy na dorpies gaan en namens sy pa slagoffers om vergifnis vra vir die vergrype wat tydens Idi Amin se bewind plaasgevind het.
Pastoor Lwere het oor versoening gepraat en die noodsaaklikheid om eerlik te wees – dat rassekwessies hanteer moet word sodat genesing in ons land kan plaasvind. Op sy uitnodiging het diegene in gebroke verhoudings na vore gekom, of dit nou tussen pa’s en seuns was of tussen swart en wit. Manne, swart en wit, het ’n kosbare tyd van genesing en versoening ervaar, met mans wat in mekaar se arms gehuil het.
Bid vir gesonde gesinne en gemeenskappe
Pastoor Louis Els het Saterdagaand oor die koninkryk gepraat en Sondagoggend was oom Angus aan die woord met ’n boodskap oor die noodsaaklikheid van gesonde gesinne.
Met Jannie Moolman wat ’n wit vlag op die verhoog gewaai het, het duisende manne gekies om “oor te gee” en hulle lewens ten volle in die Here se hand te plaas en beheer aan Hom te oorhandig.
Mag die invloed van hierdie naweek ’n daadwerklike verandering in die verhoudings in gesinne, gemeenskappe en die Suid-Afrikaanse samelewing tot gevolg hê! +