Is die Gras Groener in Australie?

Ons hoor al hoe meer van Suid-Afrikaners wat na Australië, veral Perth, emigreer. JUIG! het kontak gemaak met die Perth Afrikaanse Reformed Church. PARC is die ENIGSTE kerk in Perth en Wes-Australië wat ‘n ten volle Afrikaanse bedie-ning bied. Ds. Gerhard Bredenkamp, wat tans die predikant is by die gemeente, en sy gesin het in 2006 Perth toe getrek. Hulle is op 4 Februarie 2007 as eerste leraarspaar in die gemeente bevestig. Tans het hulle meer as 850 lidmate in die gemeente.
Vir dié van ons wat dalk geliefdes in ver lande het, of dié van ons wat weet dat daar van ons familie is wat wil emigreer, is dit interessant om die volgende oor die veran-dering wat met emigrasie gepaard gaan, te weet. Ons het sommer ook meer uitgevind oor die gemeentelewe daar sowel as die sosiale veranderinge wat mense ondervind.

HET JULLE BAIE AKTIEWE SEL-GROEPE IN JULLE GEMEENTE?
Gedurende 2008 het ons ‘n groot veldtog geloods ter stigting van kleingroepe en dit het so sterk gegroei, dat ons tans ongeveeer 35 kleingroepe het wat funksioneer. Die kleingroepe vorm ‘n belang-rike deel van die gelowiges se ondersteu-ningsnetwerk, aangesien die meeste nie ander familie hier in Perth het nie.

HOEVEEL FAMILIES SLUIT IN ‘N KWARTAAL BY JULLE AAN?
Ons het elke twee maande ‘n intekengeleentheid en daar teken gemiddeld so tien/ twaalf gesinne per geleentheid in.

HOE LYK JULLE EVANGELISASIEPROGRAM IN PERTH?
Ons gemeente se visie is: om God se stem en hande in ons taal te wees. Omdat ons gemeente die afgelope twee jaar so ‘n geweldige bloei beleef het, het ons gefokus daarop om die kleingroepe aan die gang te kry en ook om die lidmate by te staan in hulle aanpassingstyd. Ons het ook gefokus op die uitbouing van die Jeugbediening, maar ons moedig kleingroepe aan om elkeen ‘n projek aan te neem. Ons besef egter dat ons nou gereed is om na buite te beweeg en so ook ons visie en missie na die gemeenskap rondom ons uit te dra.

IS DAAR NET AFRIKAANSE GE-SINNE WAT AANSLUIT?
Engelssprekendes is tans beperk tot fa-milielede of vriende wat soms eredienste bywoon. Ons het ook maandelikse Engelse Jeugdienste vir die tieners en jongmense. Maar ons het nog nie Engelse lidmate nie.

WAT IS DIE GROOTSTE UITDA-GINGS WAT SUID-AFRIKANERS IN DIE GESIG STAAR?
Baie mense ervaar emigrasie soos dood – en daar is dieselfde rouproses ter sprake. Lidmate mis die bekende, hulle familie, hulle ondersteuningstelsel en selfs ‘n lek-ker Wimpy-koffie! Een van die grootste uitdagings is dikwels om net weer jou huislike omstandighede terug te bring tot die standaard wat jy in SA gehad het. Die winkels is vreemd, die kossoorte is nie waaraan jy gewoond is nie en alledaagse goed wat jy as vanselfsprekend aanvaar het, word skielik ‘n uitdaging. Mense moet ook dikwels troeteldiere agterlaat en dit is vir die kinders ‘n groot verlies, so ook die feit dat hulle nie meer so dikwels kontak met die grootouers het nie.
Na ‘n paar maande begin sommiges ook die verlies aan huishulpe voel! Dit is dus baie belangrik dat die besluit om te emigreer nie net deur een lid van die gesin geneem moet word nie, maar dat die gesin die besluit moet deurpraat en deurbid, sodat almal daarop inkoop en gereed is vir die skuif.

HOE LANK VOOR ‘N GESIN HUL VOETE IN PERTH VIND?
Gewoonlik is die gesinne vir die eerste drie maande in die ‘wittebroodfase’ nadat hulle hier arriveer het. Dan, skielik, kom die realitieitsbesef dat dit begin lank word sedert jy jou familie en vriende en bekende omgewing gesien het en besef jy dat die skuif permanent is. Na sowat 18 maande is baie gesinne gewoonlik al aangepas en het hulle hulle voete gevind. Ander neem langer.

HOE VERWERK DIE SUID-AFRIKA-NERS DIT DAT HULLE GELIEFDES MOES AGTERBLY?
Dit is maar moeilik, veral met spesiale geleenthede of met siektes en selfs dood in die families. Dan besef jy hoe moeilik dit is om so ver van jou geliefdes te wees. Die gemeente word hier werklik jou geestelike familie – en jou groeiende vriendekring, dikwels ‘n noodsaaklike hulp.
Wat is die algemeenste aanpassingsprobleme wat nuwe families ervaar en beleef?
Omdat alles vreemd is, is een van die aanpassings om net weer die omgewing so goed te leer ken dat jy gemaklik is. Dit is moeilik om te weet watter skole die beste vir jou kinders is en in watter omgewing om te gaan woon. Verder praat die Australiërs ‘n Engels wat heelwat anders is as waaraan ons gewoond is – hulle gebruik baie afkor-tings en maak dikwels hulle eie – die taal is dus ook ‘n aanpassing. Huwelike kry dikwels ook swaar omdat die rolle hier dikwels onder spanning kom. Hier is ook nie huishulpe nie en baie gesinne beleef dit as ‘n krisis. Vroue is dikwels heeltyd net besig met die kinders en die huis en beleef dan dat hulle afgesny voel en heeltemal alleen is. Die mans sukkel ook soms met aanpas-sing by die werk, omdat hulle dikwels uit ‘n bestuursposisie hier in Perth aankom en hier is hulle weer een van die juniors – en die werksetiek hier is baie anders.

AUSTRALIË IS ‘N BAIE SEKULÊRE LAND. HOE BEÏNVLOED DIT JULLE BOODSKAP AAN DIE GEMEENTE?
Dit motiveer ons om nog meer klem te plaas op ‘n groeiende verhouding met, afhanklikheid van en gehoorsaamheid aan ons lewende Heer. Die weeklikse boodskap wil dus aanmoedig en leiding gee. En as aansporing dien om Christus in die werkplek uit te leef.

WAT IS DIE GROOTSTE PROBLEEM WAT DIE SAMELEWING EN DIE KERK OP DIE OOMBLIK ERVAAR?
Op hierdie oomblik natuurlik die bosbrande wat in die Suid-Ooste van die land in Victoria soveel skade gebring het en soveel mense raak. Dis gewis die wêreld-wye ekonomiese krisis wat soveel van ons se werk in gevaar bring.
As mense met tydelike verblyfpermitte hul werk verloor en hulle nie binne 28 dae soortgelyke aanstellings kan kry nie, word hulle geforseer om terug te keer na Suid-Afrika waar daar dalk nog minder werksgeleenthede is. Die grootste uitdaging vir die Kerk in Perth is om relevant te wees en mense in hulle nood te kan bystaan, eerder as om op die Kerk se eie nood te fokus.

GEBRUIK JULLE SKYPE OM MET SUID-AFRIKANERS TE KOMMUNIKEER?
Ja, baie families gebruik Skype – dit is ‘n groot hulp om die band te behou en die verlange draagbaar te maak en ook baie goedkoper as ‘n telefoonoproep! (Om Skype te aktiveer, gaan na: www.skype.com – en druk die ‘Download’-knoppie.)

KAN MENSE WAT WIL EMIGREER JULLE KONTAK MET VRAE?
Ja, per e-pos aan: ds.gerhard@parc.org.au of navrae@parc.org.au. of besoek ons by
www.parc.org.au


Wenners in Christus: Danie en Daleen Botha

Is Danie en Daleen Botha nog steeds wenners?
JUIG! het met die twee aan-die-brand-kinders van die Here gesels om uit te vind hoe hulle deesdae die lewe ervaar.

Danie Botha is al as graad-een-pikkie op laerskool deur ‘n onderwyseres raakgesien, want sang en musiek was toe al reeds sy hartsbegeerte. Geen wonder dat hy, hoewel hy as leier op veral die sportveld uitgeblink het, hoofrolle in operettes vertolk het nie. Sang was mos sy eerste liefde!

Na sy universiteitsdae (PU vir CHO) werk hy by SANLAM en oornag het sy sangloopbaan vlerke gekry. Danie het nog nooit weer teruggekyk nie.

In 1993 het Jer 33:3 – “Vra My, en Ek sal jou antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie.” – die antwoord op sy soeke na sin in die lewe geword. Sedertdien spits hy hom in sy sangloopbaan daarop toe om die Evangelie van Jesus uit te dra en Hom te verheerlik. Sy musiek dra dus die boodskap oor die Gewer van hoop en lewenslus oor.

Hy is in 1991 met Daleen getroud en hul dogtertjie Danya is in 2004 gebore.
1. Danie, waarmee hou jy jou deesdae doenig? Is daar ‘n nuwe CD in die vooruitsig?
Op hierdie stadium verdiep ek my in die Skrif. Ek wil regtig my kennis versterk omdat die aanslag teen die Kerk en God se Woord geweldig is. Die leuen het deesdae die waarheid geword en die Waarheid van die Skrif word deur die wêreld as die groot leuen gesien. Ek staan soms heeltemal verstom as ek sien wie dit is wat hierdie groot leuen van Satan onderskryf. As ons mense nie wakker is en die Woord van God ken nie, sal ons nie die vyand en sy strategieë herken nie – ons sal soos die vyf dwase maagde met ons lampies sonder olie betrap word.
Op musiekgebied is my nuwe dubbel-CD in Desember 2008 vrygestel en ek het ook ‘n DVD die lig laat sien. Ek beplan nie nog iets op dié gebied vir hierdie jaar nie.

2. Daleen, jy is nie net vrou en ma nie, jy is ook Danie se bestuurder. Hoe hanteer jy dit en wat bring balans in jou lewe?
As ek baie eerlik moet wees: dit is vir my baie moeilik. Soms voel ek heeltemal oorweldig deur alles wat gedoen moet word, maar ek weet dat dit is wat ek moet doen. Die Here het lankal terug vir my gewys dat ek Danie se Aäron moet wees. Aäron en Hur moes Moses se hande in die lug hou tydens die geveg teen die Amalekiete. Sodra Moses se arms gesak het, het Israel die stryd teen hul vyande verloor. (Eks 17:8-15). Net so moet ek Danie se hulp en steun wees in alles wat hy doen. Dit beteken noodwendig dat ek moet saamtoer en dat ons ‘n baie besige lewe het. Maar omdat ek gehoorsaam aan Hom was, het die Here se seën nie uitgebly nie. Die enigste manier waarop ek egter balans in hierdie besige lewe kry, is deur elke oggend , baie vroeg, stil te word saam met die Here. Dan kry ek my krag, of bemoediging, of wat ek ookal op die spesifieke dag nodig het – aan Sy voete. As ek die dag nié so begin nie, kan ek maar weet dinge loop nie daardie dag vir my soos wat dit behoort nie.

3. Daleen, as vrou, wat is vir jou die grootste uitdaging in jul huwelik en hoe oorkom jy dit?
Ons is vanjaar 18 jaar getroud en vir my was die moeilikste om ons twee se wêrelde te versoen. Dit het noodwendig opofferings gevra – ek moes sekere dinge van my eie lewe agterlaat en alles voluit saam met hom doen. Dis moeilik omdat die pas waarteen ons leef, baie vinnig is. Ek moes baie vinnig leer om by te hou. Reg aan die begin van ons huwelik was ons soms tot 6 dae per week weg van die huis af. En vir my, wat eintlik ‘n huishen en ‘alleenmens’ is, was dit ‘n baie groot aanpassing. Ek het egter gewéét dat dit is wat die Here van my vra en dat ek binne Sy wil is.
Wat dit vir my makliker maak, is die feit dat ek en Danie 100% saamwerk. Ons werksverhouding is regtig een van harmonie. Vakansietye is dit egter ‘n ander storie, want ek is die rustige een en Danie die energieke een wat alles ‘sonder brieke’ doen. Ons het gelukkig ons strategieë uitgewerk wat verseker dat ons albei ook ons vakansietye saam kan geniet.

4. Danie, ons weet almal jy het vroeg in jou lewe al hierdie treffer, Wenners, gehad. Maar wat was tot dusver vir jou die grootste uitdaging in jou lewe?
Die grootste uitdaging vir my lê daarin om presies te sê wat die Here wil hê ek moet sê; selfs al het dit dan vir my persoonlik ernstige gevolge. Ons Here het geen kompromieë aangegaan nie – Hy het God se Wil volbring, ongeag die koste. Die Bybel waarsku ons dan ook dat ons in hierdie wêreld altyd teenstand sal hê, veral as ons die onvervalsde Woord bring. In 1 Tim 1:5 staan daar: “Die doel van my opdrag is dat al die Christene daar vervul sal wees met liefde wat uit ‘n rein hart, skoon gewete en opregte geloof kom.” Ek het ervaar as ek die Woord, sonder kompromis, maar in liefde bring, die mense dit beter aanvaar. Maar daar is nie vandag plek vir die ‘sagte Gospel’ wat deur so baie gepredik word nie. Ek bring die Woord soos wat Hy wil hê – suiwer; gefundeer op Sy Woord.

5. Is daar enige Skrifgedeeltes, Bybelkarakters wat vir spesiale inspirasie sorg en waarom?
Danie: Vir my is Paulus ‘n absolute bron van inspirasie juis omdat hy so ‘n spesiale ontmoeting met die Here gehad het en omdat hy daarna soveel teenstand en vervolging ervaar het. As ek soms voel dat ek dit bietjie moeilik het of dat dit nie gaan soos wat dit behoort nie, dan dink ek altyd aan die moeilike tye wat hy beleef het juis as gevolg van sy ywer vir die Evangelie. Paulus het onder baie moeilike omstandighede nooit opgehou om die suiwer Evangelie te verkondig nie. Dit is juis dan dat die woorde van Paulus vir my weer nuwe betekenis kry: “Alhoewel ek menslike dinge eers as wins beskou het, beskou ek hulle, in die lig van wat Christus vir my gedoen het, nou as ‘n verlies. Ja, om Christus Jesus my Here persoonlik te ken, is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ‘n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry en een met Hom kan wees.” Fil 3: 7-10.
Daleen: Joh 14: 1 – 3: “Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God te vertrou en vertrou ook ten volle op My. In die huis van My Vader is daar sommer baie kamers. As dit nie só was nie, sou Ek dit aan julle gesê het. Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak. En as Ej gegaan en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Dis vir my die liefdesbrief wat die Bruidegom vir Sy bruid gelos het en dit is vir my die inspirasie om aan te hou en aan te gaan; selfs al is dit hoé moeilik. Daar is iets waarna ons kan uitsien, Hy het gegaan om ons plekkie vir ons te gaan voorberei.
6. Is daar dalk planne om julle gesin uit te brei?
Die Here is vir ons ongelooflik goed. Ons moes aanvanklik 13 jaar wag voordat Danya daar was en toe, sonder dat ons dit beplan het, kry sy haar boetie wat sy so graag wil hê, in April. Sy is baie opgewonde en sy bid gereeld vir hom en vertel hom elke dag hoe lief sy alreeds vir hom is.

7. In hierdie moeilike tye waarin ons op die oomblik leef – nie net hier nie, maar wêreldwyd – watter boodskap het julle vir die JUIG!-lesers?
Danie: Hier staan ek net weer op Sy Woord. Lesers moet vashou aan die Woord wat sê: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.” Fil 4:6. Hy sal vir ons sorg.
Daleen: In hierdie tye kan ons maar met alles na Hom toe gaan, ons verhouding met Hom word só intiemer en ons kan daarop staan dat Hy ons gebede hoor en verhoor. Die God van die heelal het Sy oog op ons. As ons na Ps 32: 7 en 8 kyk: “U is vir my ‘n skuilplek. U beskerm my van teëspoed. U omring my met liedere van redding. Die Here sê: Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal jou raad gee, my oog sal op jou wees.” Dit gee weer perspektief, die regte perspektief op enige situasie.

8. Hoe moet mense te werk gaan as hulle met julle in aanraking wil kom of julle vir optredes wil bespreek?
Die beste is om maar op ons webwerf te kyk of ons te e-pos of sommer direk te kontak. Die besonderhede is soos volg:
www.daniebotha.co.za; daniebotha@yebo.co.za
of 082 557 4822.


Die Psige, Sedes en Die Silwerdoek

Vir die meeste jongmense is films meer werklik as die werklikheid self. Films wys jou wát om te doen, hoé en wánneer om dinge te doen; dit wys hoekom jy dit moet doen en sê dan ook nog hoe jy daaromtrent moet voel!

Wees ingelig. Onderskei. Telkens wanneer jy ‘n fliekkaartjie koop of ‘n video koop of huur, stem jy inderwaarheid. Maak seker dat jy in gesinsvriendelike, Godvererende films belê.

Wie die media beheer, beheer die kultuur.” Dr Ted Baehr. “Wie die woord definieer, definieer die wêreld.” John Locke. “Die pen is magtiger as die swaard.” William Shakespeare.
Die gemiddelde kind sien tussen 15 000 en 30 000 uur televisie in gemiddelde huishoudings met televisie voordat hy/sy die skool verlaat! (Nielsen Medianavorsing 1995). Gedurende dieselfde tyd sal die gemiddelde kind ongeveer 11 000 tot 16 000 uur in die skool spandeer en minder as 2 000 uur gehalte-interaksietyd met hul ouers (The Media Wise Family deur Dr Ted Baehr). Baie kinders spandeer reeds voor sesjarige ouderdom meer ure voor die televisie as wat hulle in hul hele lewe met hul pa’s sal spandeer.
Vir die meeste jongmense is films meer werklik as die werklikheid self. Films wys jou wát om te doen, hoé en wannéér om dinge te doen; dit wys hoekom jy dit moet doen en sê dan ook nog hoe jy daaromtrent moet voel! Kinders leer van onderwysers ten opsigte van inligting en gedrag, herhaal dan die inligting en gedrag en vergoed dan die akkurate terugvoer van die informasie en/of gedrag. Televisie bied die gedrag aan, maar herhaal en vergoed in ‘n groter mate as wat ouers of onderwysers ooit kan juis omdat dit meer tyd in beslag neem, meer informasie per minuut weergee en dit is boonop opwindend, vermaaklik en boeiend. Wat bied films en TV aan?

WEET JY WAARNA JOU KIND KYK?
In ‘n huishouding met TV het die gemiddelde kind ongeveer 800 000 tot 1,5 miljoen geweldsmisdade, wat 192 000 tot 36 000 moorde insluit, gesien wat op TV uitgebeeld word teen die tyd dat hy/sy die skool verlaat. (US News & World Report, 15 April 1996).
Die gemiddelde kind wat TV kyk, het 240 000 tot 480 000 seksuele dade of seksverwante dade (soos soen, troeteling, voorspel en geslagsgemeenskap) gesien teen die tyd dat hy/sy 17 jaar oud is. (Dit sluit nie seks of seksverwante dade in wat in enige ander mediavorm belig word nie.) Voorhuwelikse seks en owerspel op TV oorskadu huwelikseks met agt teen een (Media Navorsingsentrum). Selde, indien ooit, word gewys hoe mediakarakters die gevolge van hul dade moet dra. Die heldin raak selde swanger en die owerspeliges kry selde herpes, gonorree, sifilis, VIGS, of enige ander seksueel-oordraagbare siekte.

UITBUITENDE MORALITEITSDIEET
Dr Ted Baehr het in ‘The Media-Wise Family’ sommige van die tragiese gevolge van hierdie onverantwoordelike en uit-buitende immoraliteitsdieet en geweld gedokumenteer: Eric Smith (13) wat gek was na Stephen King-verhale en wat gruwelike gevegsflieks gekyk het, het die vier jaar oue Derick Robie in die bos ingelok, sy kop met klippe pap gekap en die dooie seuntjie gesodomiseer.
Scott Edward May, ‘n sewentienjarige wat ‘n obsessie met gevegsflieks, die okkulte en heavy metal-musiek gehad het, het ‘n meisie op hul heel eerste afspraak aangeval. Toe sy haar oë vir die goeienagsoen toemaak, het hy haar met ‘n skerp voorwerp gesteek, net soos in die fliek, ‘The Cutting Edge’, wat hulle pas gesien het. May het die polisie vertel dat hy sedert sy kinderjare ‘n drang gehad het om iemand dood te maak. “Ek hou baie van messe…ek gaan fliek baie. Baie mense word in films met messe gesteek. Ek het regtig baie van ‘Texas Chainsaw Massacre’ gehou. Baie mense is in die fliek met messe gesteek.”
Vyftienjarige Jason Le-wis het sy ouers vermoor. Die polisie het uitgevind dat hy Satan aanbid en, saam met vriende, ‘n plan geformuleer het om al hul ouers te vermoor en om die landswye moordjol van Oliver Stone se ‘Natural Born Killers’ na te boots. Nadat hy gearresteer is vir die moord op ‘n twee en tagtigjarige ou man, het Christopher Smith (18) vir die TV–kameras geskree: “I’m a natural born killer!” – natuurlik die woorde van akteur Woody Harrelson in die fliek ‘Natural Born Killers’.

SILWERDOEKINVLOED
In dieselfde week as wat die fliek ‘Silence of the Lambs’ die toekenning as die beste film gewen het, het ‘n jongman sy gestremde ma onthoof en geskree: “I’m Hannibal, the Cannibal!” toe hy weggelei is deur die polisie (Associated Press, 26 Maart 1993).

Nadat ‘n dertienjarige seun ‘Jungle Fever’ gekyk het, het hy sy agtjarige niggie verkrag. Dr Robert Kubey het in sy ‘Media Use and its Implications’ genoem dat die hoofboodskap van die media die volgende is: Materialisme; Vir alles is daar ‘n kitsoplossing; Jonk is beter; Geweld is aanvaarbaar; Seks is net buite die huwelik genotvol; Geloof is onaanvaarbaar. Navorsing het aangedui dat persone ouer as 40 ongeveer ses flieks per jaar gaan kyk (meestal gesinsflieks). Tieners, daarenteen, gaan kyk gemiddeld na 50 flieks per jaar (80% daarvan het ‘n ouderdomsbeperking).

Tieners kyk verder egter na nog 50 flieks op video (Teenage Research Institute, Wheaton, IL). Dit sluit nie uitsendings op televisie, videospeletjies, rekenaarspeletjies, CD’s, strokies, tydskrifte en die Internet in nie. Musiektelevisie (MTV), by sommige huise per sateliet beskikbaar, is verreweg die slegste media vir tieners. MTV beeldsend gemiddeld 1500 seksuele dade of verwysings na seksuele dade per uur! (US NEWS and World Report).

GEWELDSFILMS
Niemand anders as Ted Turner (CNN) nie, het verklaar: “…everything we’re exposed to influences us… Those violent films influence us, and the TV programmes influence us. The weaker your family is, the more they influence you… The problems with families in our cities are catastrophic but when you put violent programmes before people who haven’t had a lot of love in their lives, who are angry anyway, it’s like pouring gasoline on the fire.” (Los Angeles Times, 3/4/1994).

MASSAMEDIA-INVLOED
Meer as 3 000 psigiatriese, psigologiese, mediese, pediatriese en sosiologiese studies het die effek van die massamedia op gedrag bestudeer. Hierdie invloed is nou as onweerlegbaar gedokumenteer. (Media Wise Family).

Dit is baie traumaties vir jong kinders om aan seks blootgestel te word deur eksplisiete tydskrifte, flieks of videos. Die instroming van pornografiese materiaal in Suid-Afrika hang baie nou saam met die toename van seksuele misdaad wat verkragting insluit. Een regter wat op meer as 1 000 seksuele kindermishandelingsake moes uitspraak lewer, het gevind dat almal, behalwe een, pornografie ingesluit het. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat pornografie die verleidingsproses aangeblaas en aangehelp en tot molestering gelei het. (‘Report on the Use of Pornography by Sexual Offenders’, Report to the Federal Department of Justice, Canada). Sonder pornografie sou die molestering nie plaasgevind het of volvoer kon word nie.Die skakel tussen pornografie en prostitusie is ook al herhaaldelik bewys. (‘Youth Prostitution in Child Sex Rings’ Report). In Suid-Afrika, egter, het slegs die ACDP nog altyd teen alle vorme van pornografie gestem.

KRUHEID
Soos Marilyn Monroe gemymer het: “Hollywood is a place where they will pay you $10 000 for a kiss and fifty cents for your soul!” Gregory Peck het gesê: “Generally, my characters were dignified and brave men who did their duty stoically. Today the heroes are the anti-heroes of yesterday. They’re motivated by hatred, greed and violence. They are rude, vulgar, ill-educated and incapable of making an effort because they are totally selfish and devoid morals.” (The Cognac Film Festival, 1996).Waarom is so baie films vulgêr en kru? Studies het bevind dat minder as 7% mense vloek terwyl hulle werk en slegs 12% tydens hul vrye tyd. Tog wil baie Hollywood-draaiboekskrywers ons laat glo dat normale mense hierdie verskriklike vuil taal op ‘n daaglikse basis in daaglikse gesprekke gebruik. Die bekende Marksistiese professor, Marcuse van Sorbonne, het vuil taal as ‘n wapen teen die bourgeois–gemeenskap van die tyd gepropageer. Hy het dan ook die meeste van die prominente en bekende kommunistiese rewolusionêre van ons tyd geïnspireer. Selfs Jane Fonda het onder hom studeer. (Media- Wise Family).

ONBETROUBAAR
Daar kan nie slegs op ouderdomsbe-perkings staatgemaak word as betroubare gids nie. Selfs die ‘alle ouderdomme’-gesinsflieks kan ‘n anti-Christelike bood-skap bevat. In ‘n blatante verdraaiing van die geskiedenis, het Disney die storie van Pocahontas so geplooi dat die ‘Nuwe Era-heidendom’ bevorder word. Die rede waarom Pocahontas so bekend is, is omdat sy die eerste Indiaan is wat haar tot die Christendom bekeer het en in Noord-Amerika gedoop is. Nie dat enigiemand wat die Disney-film gesien het, dit sou weet nie. Baie Disney-tekenprente is vol heksery, duiwels, waarsêers, toordery, geeste en kabouters, maar daar word feitlik niks van God genoem nie. As daar sprake is van gebed, dan is dit nie tot God nie, maar tot ‘n “wish upon a star!”.

WAT IS DIE OPLOSSING?

MAAK SKERM SKOON!
1. Dit is belangrik dat jy sal erken dat immorele, gewelddadige, okkulte en heidense films, videos, TV-films, tydskrifte en rekenaarspeletjies ‘n ernstige bedreiging vir die ontwikkeling van ons kinders is.
2. Doen opleeswerk oor die Bybelse kwessies en die werklike geskiedenis sodat jy die misleiding in die media sal herken. Lees: ‘The Media-Wise Family’ deur dr Ted Baehr. Skryf ook in op die ‘Movieguide’, 2510-G Las Posas Road 502, Camarillo, CA93010 USA. Besoek ook www.movieguide.org
3. Kry video-dokumentêre films wat jou familie, vriende en gemeente sal wakkermaak oor die vele gevare in baie van die films: ‘Hollywood vs Religion’; ‘Learn to discern’; ‘Hells Bells’; ‘The Media-Wise Family’ en ‘Death by Entertainment’.
4. Kies wat jy kyk. Neem beheer oor van dit wat jou kinders se gedagtes vul en vorm. Herontdek die vreugde van ‘n goeie boek. Kry weer jou prioriteite in orde. Skuif films en videos laer af op die aktiwiteitslys – na oefening, stap, lofprysing, kameraadskap, evangelisasie en diens.
5. Weier om jou tyd of geld op immorele, anti-Christelike films te vermors, maar kies eerder om goeie gehaltefilms wat God eer, te kyk, soos Ben Hur, The Robe, The Ten Commandments, Chariots of Fire, The Prince Of Egypt, en Gods and Generals. “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” Fil. 4:8.
6. Bid vir wysheid (Jak. 1:5) en onderskeiding (Spr. 3:21) Leer om krities te dink. Leer jou kinders Goddelike onderskeiding. Bespreek die film, karakters en boodskap in die lig van die Skrif:
• Wie is die held?
• Wie is die skurk?
• Wat is die basiese boodskap van diefilm?
• Hoe word die familie uitgebeeld?
• Hoe word die Kerk uitgebeeld?
• Hoe word liefde uitgebeeld?
• Hoe waar is die film?
• Hoe word konflik in die film hanteer en opgelos?
• Wat is die wêreldbeskouing in die film?
• Sal dit jou verleë laat voel om die film in jou ouers/ jou kinders/ of
Jesus se teenwoordigheid te kyk?
• Wat sou jy anders doen as jy die
hoofkarakter was?


Die Groot Leuen: Evolusie

Evolusie ‘n geloof ? Waarvan praat jy? Evolusie is mos wetenskap, nie waar nie? Nié waar nie! Te oordeel aan die bohaai wat wêreld-oor in hierdie jaar ge¬maak word rondom Darwin se geboorte en die verskyning van sy boek, The Origin of Species, behoort enige gewone sterfling ‘n snuf in die neus te kry. Ek bedoel, waarom moet iemand van 150 jaar gelede vandág aan ons voorgehou word as so belangrik? Het die wetenskap dan nie met rasse skrede oor daardie tydperk asembenemende uitvindsels die lig laat sien nie? Darwin was nie eens met elektron-mikroskope toegerus nie, so hoe kón hy destyds dinge gesê het wat mense vandag nog enigsins interesseer?

Elkeen van bostaande vrae verdien om beantwoord te word, want, gesien uit die hoek van ware wetenskapsbeoefening, sou die besit van sy boek nie juis ‘n voorvereiste wees nie. Wat hy te sê gehad het, is ou nuus! Óf, is Darwin dalk vir ánder redes so belangrik? Hierop is die antwoord: ja, beslis! Trouens, die wetenskaplikes van sy dag het dit vir die eerste tien jaar ná die veskyning van sy boek hoegenaamd nie aanvaar nie.

VERREIKENDE GEVOLGE VIR DIE HELE WÊRELD
Die befaamde geoloog van sy tyd, professor Sedgwick van Cambridge het aan Darwin geskryf om te sê: “a dish of rank materialism cleverly cooked and served up to make us independent of a Creator.” Hy het verder voorspel dat, sou sy leer in die breë samelewing aanvaar word, “humanity would suffer a damage that might brutalize it, and sink the human race into a lower grade of degradation than any to which it has fallen since the written records tell us of its history.” Hierdie sin verdien om weer – stadig – gelees te word, want Sedgwick het presies raakgesien wat die versteekte doelwit van Darwinisme werklik was: nié wetenskap in die eerste plek nie, maar wel ‘n wêreldbeskou¬ing wat verreikende gevolge vir die hele wêreld sou hê.

Nou kan iemand sê: “Hokaai, dis darem te dik vir ‘n daalder! Bedoel jy dit wérklik?” En my antwoord is: ja, beslis! Jy sien, dit was nié die weten¬skap¬likes óf die wetenskapstydskrifte wat Darwinisme aanvaar het nie. Dit was die materialis, die groot uitbuiter-werkgewer, die wellustige en party regerings wat die volle potensiaal van Darwin se oorlewing van die sterkste raakgesien het. Nietzsche het die Engelse hoeka verkwalik dat hulle nie die volle potensiaal van Darwinisme raakgesien het nie. Hitler het. Stalin het. Leopold van België het, want hý het in die naam van Darwinisme meer swartes in die Kongo uitgewis as op al die slagvelde van die Eerste Wêreldoorlog saam. Hoekom? Want hulle was kwansuis nog nie volledig mens nie, maar steeds op pad daarheen!

Darwinisme het vinnig deur Europa en Amerika versprei – trouens, dit was soos ‘n veldbrand! Rockefeller was in sy noppies, want hy kon sy gewete stil deur te sê: “the growth of large business is merely the survival of the fittest… It was merely the working out of a law of nature and a law of God.”

DARWINISME WAS ‘N LEWENS- EN WÊRELDBESKOUING
In sy boek, Darwin: Before and After, skryf R.E.D. Clark (p.106): “Evolution, in short, gave the doer of evil a respite from his conscience. The most unscrupulous behaviour towards a competitor could now be rationalized: evil could be called good.” Sumner, genoem die Darwin van sosiale weten¬skap¬pe, het die gees van hul tyd raak opgesom toe hý gesê het: “…while men were fighting for glory and greed, for revenge and superstition, they were building human society.” Clark vul bladsy op bladsy met die skreiendste voorbeelde van Darwinisme soos in die breë samelewing uitgeleef.

Teen hierdie tyd kook die bloed van enige geharde Darwinis wat hierdie woorde lees. Húlle sal sê ek slaan die bal heeltemal mis – al hierdie vergrype was alleen ‘sosiale Darwinisme’! Dit het niks met wáre Darwinisme te doen nie. Verkeerd. Darwinisme wás ‘n lewens- en wêreldbeskouing. Dit was die begronding van Hitler se Derde Reich – gaan lees maar wat staan in Mein Kampf! Een Duitse skrywer het dit só gestel: “Die politiek het ‘n kuns en ‘n wetenskap verby goed en kwaad geword. Immoraliteit, slinksheid, wreedaar-d¬ig¬heid en brutalitiet teenoor ander nasies is tot die vlak van deug verhef.”

Karl Marx se omhelsing van Darwinisme is reeds deur dr James Kennedy in hierdie tydskrif uitgespel. Die feit dat niemand ooit in die media of boeke iets skryf oor die vergrype deur evolusionisme veroorsaak nie, is omdat dit ‘n heilige koei is wat onaantasbaar is.

Maar, genoeg hiervan. Ons as gewone burgers van ons land sal moet begin wakkerskrik. Die vergrype hierbo genoem is die vrugte van evolusionistiese denke, en ons moet ons nie verbeel dat dit alles iets van die verlede is nie. Sedgwick het dit reg gehad: Darwin se leer hét tot die mees degraderende dade gelei– alles in die naam van die natuurlike gevolge van die oorlewing van die sterkste.

DIE WETENSKAP AAN BOORD
Die vraag kan nou gestel word: maar wanneer het wetenskaplikes dan aan boord gegaan om Darwinisme te aanvaar? Ek is van mening dat die maatskaplike druk van diesulkes (nié wetenskaplikes) wat Darwinisme aanvaar het, te groot geword het om te weerstaan. Algaande is elke disipline herinterpreteer om by die evolusie-idee aan te sluit. Darwin, Lyell, Wallace, Huxley, Haeckell en ander het elke metode moontlik gebruik om hierdie doel te bereik. Die vraag is: hoe?

DIE GEOLOGIESE KOLOM VAN DIE AARDE SE GESKIEDENIS.
Lyell en kie het die Geologiese Kolom die lig laat sien. Hierdie kolom sou nie alleen die tien rotsvlakke van die aardkors illustreer nie, maar sou ook sê hoe lank dit geneem het om deur middel van sedimentêre neerlegging gevorm te word. Die wanvoorstellinge in hierdie bekende illustrasie in museums is skokkend! Gaan tel net die diepte van hierdie rotslae op wat op die diagram aangedui word. Die totaal is ‘n verstommende 135,8 km. Wat is egter die diepste sedimentêre neerlegging op aarde? ‘n Skamele 25km., met ‘n gemiddelde van 18km. Met ander woorde: die balans is bygelieg! Dit bestaan alleen op die papier waarop dit gedruk is. Papier is immers geduldig!

Die probleem hier is dat diepte óók tyd verteenwoordig (kyk na hul diagram). Dus, indien ‘n gemiddelde van 87% van die diepte wat aangegee word, nie te vinde is nie, beteken dit dat die tyd ook nie daar kan wees nie. Dít beteken dat die 4 600 miljoen jaar se denkbeeldige bestaan van die aarde óók van die groottotaal afgetrek moet word! Daar bly alleen amper 600 miljoen jaar oor – hoegenaamd nie voldoende om evolusie te laat plaasvind het nie.

‘n Ander feit wat hier genoem moet word, is dat die lae soos aangegee, alleen op 0.04% van plekke op die aardbol in daardie orde aangetref word. Ene dr Steven Austin van die VSA, het ‘n indringende studie van hierdie Geologiese Kolom gemaak en hy wys daarop dat die orde in verreweg die meeste terreine op aarde totaal anders neergelê is. En waarom is dít belangrik? Omdat Lyell-hulle dieselfde diagram gebruik het om te bewys hoedat die kleinste soorte lewe almal op die onderste (Kambriese) laag gevind word, terwyl die mees ontwikkelde soorte lewe heelbo aangetref word. Dít sou kwansuis evolusie bewys! Hoe nou? ‘n Leuen? Beslis.

Voordat ek van hierdie onderwerp afstap, moét ek byvoeg wat ‘n veel beter interpretasie van dieselfde sigbare gegewens van rotslae is, en wat wetenskaplik verantwoord is. Jy as leser: skakel jou brein nou oor na die vloed van Noag in Genesis 6-8. Die rotslae was eens op ‘n tyd modderwater wat laag op laag afgesak het om die sogenaamde ‘Kolom’ te verteenwoordig. Maar omdat die waters op verskillende plekke uit verskillende soorte modder bestaan het, sou die orde selde met die ‘Kolom’ ooreenstem. Die dieptes sou ook heel anders daaruit sien. Meer nog – hoewel die diere se voorkoms in die strata lyk na ‘n evolusionistiese progressie, is hul plasing bloot die produk van hoe vinnig hulle voor die aankomende vloedwaters kon padgee. Dit maak sin!

ANDER WANVOORSTELLINGS
Haeckell, die Duitse professor, het ‘bewys’ dat alle soorte lewe se embrio in hul begin¬stadium dieselfde voorkoms het. Hy het vergeet om te sê dat sy tekeninge – wat tot vandag in wetenskapshandboeke ge¬bruik word – vervalsings was waarvoor hy voor die hof skuldig bevind is.

Die duisende-miljoene jare sou later ook deur die astrofisika ‘bevestig’ word met die aankondiging van die oerknal wat miljarde jare gelede sou plaasge¬vind het. Niemand met ‘n ánder mening word gepubliseer nie, al is hy ‘n Nobelpryswenner wat sê dat daar net één wetenskaplike voorvereiste uit 90 is wat met so ‘n knal klop.

Museums het die evolusie-konsep aangehelp deur die fiktiewe ‘progressie’ vanaf aap na mens wyd te illustreer. Ook húlle het vergeet om te sê dat die ganse spektrum van lewenssoorte wel óók op die onderste vlakke gevind word. So ‘n ongemaklike feit word gerieflikheids¬halwe eerder verswyg! Dit heet ‘Die Kambriese Ontploffing’!

Die byvoordele van om in evolusie te glo en dít alleen te propageer was so groot, dat dit nie lank was nie voordat evolusioniste alleen die verhoog beset het. Géén ander interpretasie van die feite is geduld nie. Die media in al sy vertakkinge verkondig slegs evolusie. Ja, die openbare mening wou ten alle koste evolusie hê. Waarom? Want dit sou ons almal van die erkenning van ‘n Skepper-God bevry! As evolusie wáár is, dan is daar geen God teenoor wie ons verantwoording hoef te doen nie. Ons kan dan eet, drink en vrolik wees, want môre sterf ons. Alles is materie alleen, en daar ís geen ding soos ‘n ewigdurende morele wet soos deur die Skepper neergelê nie. Dít was alles mites wat in die verre verlede in die proses van mens-word geglo is. Godsdiens as sodanig het kwansuis óók ge-evolueer sodat die mens algaan¬de uit die veel-godedom tot die uiteindelike een-god-konsep gegroei het.

DIE TEOLOGIE
Die laaste disipline wat die knie voor evolusie gebuig het, was die teologie. Terwyl professore van elke ander rigting aan die universiteit lekker oor die ‘waarhede’ van die evolusieleer met mekaar gepraat het, was die teoloë alleen buite in die koue. Dit sou van hulle vra om ‘n monumentale kopskuif te maak om saam met die stroom te kon gaan. Het hulle dit reggekry? O ja, tot so ‘n mate dat die Kerk van die Here al meer toegee aan die gesag van die sogenaamde wetenskap, want die wetenskap het in ons tyd die hoë grond van onaantasbaarheid by die teologie oorgeneem. Hoe het dit gebeur?

Toe die evolusieleer begin verkondig het dat die heelal duisende miljoene jare oud is (want evolusie is totaal onwerkbaar sonder onmeetlike tyd), het geleerdes soos prof Wellhausen van Duitsland kom verklaar dat die mens wel uit die apedom ge-evolueer het en dat die eerste vyf boeke van die Bybel nie deur Moses geskryf kon gewees het nie, want in sý tyd kon hulle kwansuis nie skryf nie – dit was te gevorderd. Wat doen hy? Hy dissekteer die Penta¬teug (Moses se 5 boeke) en kom verklaar dat die boeke eers heelwat later deur minstens drie ander mense geskryf is en deur ‘n verdere redakteur slim aanmekaar gesit is. Dáárdie persoon was waarskynlik Esra (sê hulle) toe hy saam met die Israeliete in Babilon in ballingskap was.

DIE WERKLIKHEID
Maar hoe lyk die werklikheid? Dít vertel ons dat die argeologie al ruimskoots bewys het dat mense 1 000 jaar vóór Moses se tyd kon skryf, dus was al Wellhausen se voorveronderstellings leuens. Het dit die Skrifkritici se menings verander? Nooit, want jy móét in evolusie bly glo, ten spyte van die ware feite! Jy verwerp eenvoudig alle feite wat jou geliefkoosde evolusie weerspreek!

Bostaande dwalinge was maar die begin. Aan ons Kweekskole word hierdie duiwelse leer vandag ronduit verkondig, want ‘die wetenskap het gesê…’ As gevolg hiervan was daar niemand soos Adam en Eva as werklike geskied¬kundige wesens nie. Die vloed het nooit plaasgevind nie – dis glo ‘n mite. Die uittog is óók maar ‘n storie, want dit pas in elk geval nie in by die datumgewing van Egiptologie nie – of so word beweer! Joshua is ‘n denkbeeldige persoon – so-ook Dawid en Salomo. Daar was nie ‘n tabernakel nie, en daar was geen daaropvolgende wonderwerke in Ou Testamentiese tye nie, want die wetenskap laat geen ruimte vir wonderwerke nie – wie sou hulle laat gebeur, terwyl daar nie so-iets soos ‘n ware God as Almagtige Skepper is nie?

Dalk kan ek in ‘n volgende aflewering verder skryf oor die katastrofiese gevolge in die teologie wat evolusie veroorsaak hét. Jy sal na jou asem snak!

PIETER J PELSER – Argitek, kunstenaar en skrywer van Hermanus. Hy wei ‘n groot deel van sy lewe aan die studie van evolusionisme en die leuen daarin vervat. Hy het al verskeie boeke oor die onderwerp die lig laat sien.