EVANGELISASIE In Sy Naam

Liewe Vriend,
In die Boek van Handelinge lees ons die verhaal van siekes wat gesond geword het, bloot deur in aanraking te kom met Petrus se skaduwee wat oor hulle geval het (Handelinge 5 v 15). Petrus was ‘n man wat kragtig gevul was met die Heilige Gees op die dag van Pinkster by wyse van tonge van vuur soos in Handelinge 2 v 3.

Ek herinner my aan ‘n spesifieke dag tydens ‘n veldtog wat ons gehou het in Blantyre, Malawi. Op pad terug vanaf die veldtog, het ek en die plaaslike pastoor verby ‘n hewige veldvuur gery en ek kan steeds die ongelooflike hittegloed van die vlamme onthou. My suspisie is dat die mense nie noodwendig deur Petrus se skaduwee genees is nie, maar dat die demone eenvoudig deur die krag van die Heilige Gees verskroei was, wat van binne Petrus se gees na buite uitgestraal het. Hulle was slagoffers van ‘n bonatuurlike veldbrand!

Die verhaal wat hier volg, sal u inspireer om weer eens te glo in hierdie God van wonderwerkende vuurkrag. U is welkom om u gebedsversoeke na ons te stuur by info@inhisname.org.za of kontak my (Tamryn Klintworth) op Facebook. Ons is gretig om saam met u die Here te vertrou vir ‘n wonderwork in u lewe!

Hartlike groete,
Evangelis Tamryn Klintworth
‘N MANHAFTIGE VERSOEK
Die volgende getuienis vertel die verhaal van Elizabeth Davis, ‘n bejaarde dame wat ‘n merkwaardige genesing ondervind het by een van In His Name se veldtogte in Retreat, Kaapstad.

Elizabeth Davis lewer haar getuienis met nederigheid. Met ‘n brilletjie op die neus en vonkelende ogies wat uitloer onder ‘n roomkleurige wol hoedjie, sy gee die indruk van ‘n tipiese oumatjie met ‘n sagte stem en ‘n gesiggie karaktervol opgefrommel deur dekades van hartseer en glimlaggies.

“My naam is suster Elizabeth”, begin sy, “en die Here het my vanaand gesond gemaak.” Elizabeth is ‘n huiswerker van beroep. In die afgelope vyf jaar het ‘n problematiese knieprobleem haar dagtake verander in ‘n pynlike uitdaging. Talle hospitaalbesoeke het nie gehelp om die werklike probleem te identifiseer nie, en met ‘n tekort aan finansies was Elizabeth aangewese op self-medikasie en yspakke. Hiermee saam moes sy ook gebuk gaan onder geweldige migraine-aanvalle en geen pynstillers het hiervoor gehelp nie. As die enigste broodwinner vir vier kinders en elf kleinkinders, het haar swak gesondheidstoestand ‘n bedreiging begin raak vir haar werk en die versorging van haar hele familie.

Toe sy hoor van die komende veldtog, het haar hart opgewel van hoop. “Ek gaan die Here vra vir ‘n nuwe liggaam!” het sy gegrap met die dame vir wie sy werk. Dit was haar gebed. Dalk onmoontlik? Beslis nié! Ons dien die God van die onmoontlike. ‘n God wat die hulpgeroep van Sy kinders hoor.

Uiteindelik het die dag aangebreek. Al was haar liggaam swak, het haar hartklop versnel in geloof. Teen die einde van die diens was daar ‘n uitnodiging gerig aan almal wat gebed benodig het. Sy en talle ander het vorentoe gegaan met groot verwagting. Daar is vir haar gebid en die wonderwerk het plaasgevind! Die ongelooflike pyn het begin verdwyn. Sy het haar knie gebuig en haar kop gedraai. Albei was perfek. “God het aan my ‘n nuwe liggaam gegee!” het sy uitgeroep. “Ek het die Here gevra vir ‘n nuwe liggaam en dit is wat Hy aan my gegee het – ‘n hele nuwe liggaam! Die Here het vanaand ‘n wonderwerk in my lewe gedoen. Nou kan ek my getuienis gebruik om ander mense na Jesus toe te lei.” Dankie kosbare Jesus – hoe wonderbaarlik is U!

Tamryn Klintworth is die stigter van In His Name Ministries, ‘n evangelisasie organisasie, toegewy tot die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus dwarsoor Afrika en die hele wêreld. Vir meer inligting, besoek die bediening se webtuiste by www.inhisname.org.za of kontak hulle by info@inhisname.org.za of +27 73 181 4489. U is ook welkom om Tamryn te kontak op Facebook (Tamryn Klintworth).


Realiteits-TV Romanse

Twintig vrouens, pragtig aangetrek met perfekte grimering en die witste tande, staan in die kersverligte vertrek rond. Hulle straal selfvertroue uit, maar een brunet, wat alleen eenkant staan, lyk nogal senuagtig. Haar oë knip onseker toe die ‘beskikbare jongman’ die laaste roos weggee…

Die kamera fokus en zoem in op Karin net toe hy Amanda se naam uitroep. Karin se gesig sak en die trane wel in haar oë op – terwyl sy gedwing word om voor die kamera te verduidelik hoe teleurgesteld en verwerp sy voel… en op die agtergrond klink die jongman ’n glasie op die volgende romantiese afspraak. Klink dit vergesog? Wel, dit is nie – om die waarheid te sê, dit is een van die gewildste werklikheids-TV-programme en gehore wêreldwyd val hiervoor en word absoluut hierdeur ‘ingesuig’.

VERWRONGE FANTASIEWÊRELD
In Suid-Afrika het ‘Boer soek Vrou’ sommer gou ’n baie gewilde program met ’n hoë kykertal geword. Selfs Christene word vasgevang in hierdie ‘kitsromanse- en fantasiewêreld’ van ‘liefde met die eerste aan¬blik’ en ‘hulle het vir altyd gelukkig geleef’. Alhoewel ons weet hierdie programme is eerder ‘kompetisies’ as die werklikheid, word baie van ons tog onbewustelik hierdeur beïnvloed, naamlik deur te dink: ‘Ten einde geliefd te wees, moet jy die beste en die mooiste wees. Ryk mans regeer die wêreld en romanse is al wat tel.’

KONINKRYKSBEGINSELS
Ons behoort egter, as Christene, die Bybelse begrip van liefde, die huwelik en verhoudings te hê. Ons behoort volgens die Koninkryksbeginsels te leef en nie volgens wêreldse standaarde nie. In wêreldse verhoudings is seksualiteit, skoonheid, geld en mag geweldig belangrik, maar ons begin¬sels behoort van ’n hoër standaard te wees. Ons word opgeroep tot Goddelikheid, respek, reinheid en onvoorwaardelike liefde. Lisa McMinn, Mede-Professor in Sosiologie aan die Christen-kollege, Wheaton, verduidelik: “Hierdie vertonings skep ’n verwronge beeld van liefde. Die vrouens verklaar hul liefde nadat hulle slegs enkele oomblikke in die man se teenwoordigheid was. Dit is so tipies Hollywood – liefde (wellus) met die eerste aanblik! Dit is ’n wanpersepsie! In die werklikheid is liefde nie nét op aantrekkingskrag gebaseer nie, maar op keuse en toewyding! Gesonde verhoudings verg tyd en harde werk – dit gebeur nie sommer net nie!”

VREES HEERS
Hierdie programme bied ’n baie oppervlakkige beeld en model vir liefde en wys selde die langtermyn-uitdagings en seëninge van die huwelik. Wat is dus die alternatief? Ons leef in ’n baie oppervlakkige kultuur wat verswelg word deur boodskappe van ontoereikendheid en die behoefte aan selfverbetering. Getroude vrouens leef in vrees dat indien hul gewig aansit, of grys word, of ’n plooitjie hier en daar het, of net eenvoudig ’n slegte dag beleef, hul mans hul eenvoudig gaan ‘los’ vir iemand jonger en ‘mooier’. En die boodskap word versterk juis omdat daar deesdae so min betroubare, sterk mans met Christelike beginsels is wat die huwelik, as instelling van God, hoog ag.

MENSLIKE POGINGS FAAL
Christus is ons hoop. Hy is die perfekte voorbeeld van onvoorwaardelike liefde en onderwerping aan die Wil van die Va¬der. Indien enkellopendes hul lewens aan God onderwerp, sal Hy die regte persoon op die regte tyd hul pad laat kruis. Die mens kan nooit deur sy/haar eie pogings by die ‘perfekte’ verhouding uitkom nie. Indien getroudes die Bybelse opdragte vir getroude mans en vrouens ter harte neem en daarvolgens leef, (lees gerus
Ef. 5 en 1 Pet. 3) sal die uitdagings, toetse en beproewinge van die huwelik baie anders hanteer word as wanneer selfsugtige begeertes en wellus die botoon voer.

NÉT HY IS VOLMAAK
Hoe kan enige enkellopende dus die versoeking van verkeerde aandag van die teen-oorgestelde geslag, vals hoop en ‘redding uit eensaamheid’ vermy? “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele siel en met al jou krag.” Deut. 6:5.

Ons kan geen ander persoon na regte liefhê, indien ons God nie liefhet en Sy liefde vir ons aanvaar nie. Dit is net as ons in Hom volledig mens is dat ons gereed is om iemand anders volkome lief te hê en te trou. Indien ons die vleeslike begeertes najaag, sal ons altyd teleurstelling beleef. Geen mens kan ooit die ruimte vul wat in elk van ons is nie – God het dit in elk van ons geskep en nét Hy kan die ruimte vul. Indien ons verwag dat ons familie, vriende of lewensmaat die ruimte moet vul, sal ons nooit ’n vervulde lewe geniet nie. Slegs deur Sy Wil en Sy Woord eerste in jou lewe te plaas, kan jy God se seëning op alle vlakke te beleef. “…dat julle nie die liefde sal aanblaas voordat die tyd daarvoor ryp is nie.” Hooglied 2:7.

Enkellopendes maak dikwels die fout om selfs namens God romantiese planne te beraam net om eensaamheid te vermy. Dikwels kry enigeen wat genoegsaam aandag gee, sommer hul ‘liefde’. Hulle behoort baie goed te onderskei en hul harte te bewaar – en dit is slegs met die hulp van die Heilige Gees moontlik. “Boweal, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.” Spr. 4:23.


Ons God Is ’n God Van Tweede Kanse

Lindie Gouws is ‘n bekende spreker wat die land deurreis het om vroue te inspireer en het ook ‘n bediening, ‘Kom In!’ wat vroue en die Kerk bemoedig om hulself as die Bruid van Christus voor te berei. Met haar uitgewersagtergrond (haar MY World-tydskrif), is Lindie ook ‘n gereelde medewerker in JUIG! en ‘n dinamiese dogter van God. Ons het met Lindie gesels oor haar pad saam met God asook oor hoe sy moes leer om in elke seisoen van haar lewe op God te wag.

’n Saggeaarde vrou
Lindie is ‘n dogter van God wat in elke seisoen van haar lewe moes leer om op God te wag. Nogal ‘n paradoks as jy haar ken omdat sy ‘n mens is wat in die ‘nóú-oomblikke’ leef. Met ‘n vredevolle glimlag verduidelik sy hoe God alleen ‘n transformasiewerk in haar kon vermag. Want soos Hy alles geskape het, het Hy geweet waarvoor Hy haar menswees sou gebruik. Sy het geleer om te luister na die fynste fluistering van Sy Stem, selfs wanneer Hy in stilte met haar praat.

Van God afhanklik
Wanneer jy haar sien, lyk dit of sy alles onder beheer het. Wanneer jy haar leer ken, besef jy dat hierdie standvastigheid nie mensgemaak is nie – daar is ‘n definitiewe Rots waarop sy staan. Een wat haar nie laat wankel nie.

Jy besef dat sy Prediker 3 reeds in haar lewe tot dusver beleef het… “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd…” Maar jy besef ook dat hierdie vrou kinderlik in haar geloof is en in ‘n besonderse intimiteit met Hom leef. Lindie praat met ontsag, respek en baie deernis van die pro¬sesse wat God toegelaat het in haar lewe. Sy weet dat Hy gewéét het wat Hy doen en waarvoor Hy haar eventueel sou roep. Van kindsbeen af het sy ‘n passie gehad om ander te help. As tiener is haar drome en begeertes tog beïnvloed deur die media en ook wat ander oor haar ver¬klaar het. Gedurende haar universiteits¬jare het sy onomwonde op die vraag “Waar sien jy jouself oor vyf jaar?” geantwoord: “Getroud, ‘n tuisteskepper en ’n praktise¬rende prokureur.” Nie een van daardie stellings het waar geword nie, omdat dit nie God se droom vir haar was nie.

Lindie is ‘n bedienaar van God se Woord – hoe Hy haar ook al toelaat om dit te doen. Sy onthou vandag nog hoe sy eendag vir haar ma gesê het: “Mamma, ek gaan een¬dag voor duisende vroue staan en vir hulle vertel wat Jesus in my lewe gedoen het.” Voor dit kon gebeur, moes sy ervaar en toelaat dat Jesus daadwerklik iets in haar lewe kom doen het. Haar getuienis is diep en dit bring ‘n hoop en vrede as jy na haar luister. Sy het ‘n persoonlike visie vir haar lewe biddend van God gekry en, soos sy in die boek Habakkuk geleer het, neergeskryf.

Vasgevang
Gebore en grootgeword in Randfontein, uitruilstudent na Duitsland, diakones in die Studentegemeente, joolprinses en HK-lid… maar ook in dié tyd in die hospitaal opgeneem in ‘n diabetiese koma. Sy het aan haar ma erken dat sy bulimie gehad het. Sy was ook op die punt van anoreksia. “Ek was fisies vry, maar my menswees was vasgevang in ‘n tronk, ‘n tronk van my siel. Ek het dit aan my ma er¬ken en ‘n intense genesingspad het begin. My ouers, veral my ma, het my geleer om alles biddend na God te neem. Ek het vir geen mediese of sielkundige behandeling gegaan nie. Ek het God op SY Woord geneem. Ek het een naweek na ‘n evangelis gaan luister en daar het ek my lewe opnuut aan God gegee, vir Jesus gevra om weereens my hart oor te neem en in my hart te woon, my te vul met Sy Gees.

Hy het gesê dat Hy vir my ‘n Helper sou stuur wat in my sou woon… en daar is ek gevul met die Heilige Gees. Die genesingspad was intens, maar vir vier jaar het ek geleer om met God te praat en Hy het my kom vrymaak! Ek het, soos so baie ander vroue, ‘n swak identiteit gehad.”

Sukses in die korporatiewe wêreld het gevolg en sy het geleer om ‘haar man te staan’. Dit was vir haar ‘n uitdaging, maar sy was nie regtig haarself nie. God het dit egter toegelaat om haar dissipline, uitnemende standaarde en deursettingsvermoë te leer. In daardie spesifieke seisoen en tyd het God haar tot Sy diens geroep, op die tyd wat Hy geweet het dat sy reg was. Sy moes besef dat geen vrou geroep word ‘om haar man te staan nie’, maar om vrou te wees – ‘n vrou van inherente krag wat van God af kom.

Leerskool vol foute
Sy skroom nie om te vertel van die foute wat sy begaan het nie. “Ek vra vergifnis vir my foute, ek koester elke mooi oomblik, ek leer om te vergewe waar ek seergekry het. Ek bou op die goeie. Wanneer ek kritiek ontvang, kyk ek na die bron. As dit waar is, vra ek dat God my daadwerklik en tog sagkens sal verander, as dit onwaar is, wroeg ek so bie¬tjie in my hart omdat ek veronreg voel (wat nie reg is nie). Maar dan kom God en leer Hy my om te doen wat Paulus gesê het: ‘Ek maak myself daadwerklik los van wat agter is en strek my uit na wat voor is sodat ek die wenpaal kan behaal.’ Die wenpaal het nou Ewigheidswaarde!”

Lindie het al hartseer beleef, sy verstaan die dinamika van verhoudings wat faal, sy verstaan verwer¬ping, woede, jaloesie, die eensaamheid, die verlies en pyn. Sy weet nou ook dat daar werklik ‘n geestelike stryd is teen die bose magte van die duisternis wat teen God se wil en plan in ons lewens wil opstaan. Soms gebruik die vyand mense om dit vir, en namens, hom te doen. Gebed is vir haar kardinaal en ook om elke dag God se volle wapenrusting aan te trek. “Jy moet jou hart bewaar!” sê Lindie, “en nie toelaat dat woorde van mense jou van koers af neem nie.” Sy het toegelaat dat God Sy Meestersplan oor haar lewe laat geskied. Haar persoonlike visie: “Om ‘n impak te hê op mense se lewens wat ek ontmoet: deur hulle te dien met liefde, empatie en om vir hulle rigting te gee en daardeur hoop vir die toekoms – ’n toekoms in Christus.”

Lindie, jy was eers in die korporatiewe wêreld betrokke. Wat het jou laat be¬sluit om dit te verruil en jou eie tydskrif, MY World, te begin?
Dit was ‘n baie definitiewe roeping van God. Ek het nog altyd ‘n passie gehad om met gebroke en seer mense te werk en het tydens my korporatiewe tyd uitgereik na tronke en hawelose kinders. Een Saterdag na ‘n besoek aan die vrouetronk, het ek ‘n baie duidelike droom/visioen oor ‘n tydskrif gehad… Ek het sewe maande later ‘n oproep van die uitgewer van ’n tydskrif ontvang en is ek gevra om deeltyds redaktrise te word, wat ek aanvaar het.

Na ongeveer drie maande, het ek baie duidelik die leiding van die Heilige Gees ervaar om met ‘n tydskrif, MY World, te begin. Alles van MY World, van die formaat, die vierkant, tot die tema, was op Openbaring 21 gebaseer. MY World het stelselmatig in ‘n multimedia-bediening verander. Nou werk ek in eenheid met ander tydskrifte, die radio, internet en selfs ook TV. Die stem in MY World bly ‘n stem wat ver¬klaar: “Maak die weg gereed vir die wederkoms van ons Koning!”

Jy is besonder lief vir Israel en besoek Israel gereeld. Hoe sien jy die Christen se verhouding met Israel?
Ons het ‘n baie duidelike instruksie vanuit God se Woord in Psalm 122 ontvang: “Bid vir die vrede van Jerusalem.” Ek bid vir die mense in Israel, ek het ‘n besonderse liefde vir die land en die mense, dit is deur God in my hart geplaas en ek gaan om ‘n getuie te wees van wat nét Jesus Christus in ‘n mens se lewe kan vermag. Daar is ook ‘n bewuswording van die profetiese relevansie wat Israel veral in die eindtyd speel.

God het die finale sê oor wat in die Midde-Ooste gaan gebeur. God het ‘n verbond gesluit met Abraham, Isak en Jakob. As Christen weet ek onomwonde dat ek deel het aan die Nuwe Verbond wat in Jesus Christus is.
Jesus het in Matteus 5:17-18 die vol¬gen¬de gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eer¬der vergaan as dat een letter of letter¬stre¬pie van die wet sal weg¬val voordat al¬les voleindig is.” God se Woord stel dit duidelik, dat wie Jesus vrymaak, is waarlik vry en waar die Gees van God is, daar is vryheid! Ons lees ook in Romeine 7:6, “Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.”

Jy het verlede jaar (2010) saam met Dr. Isak Burger en Angus Buchan, ’n byeenkoms op die stadsmuur van Jerusalem aangebied. Waarom juis daar en wat was so spesiaal aan dié geleentheid?
My betrokkenheid by die Gospel Israel Gala was ook direk van God. Ek het dit reeds ‘n jaar voor die tyd met die dames wat die byeenkomste gereël het, gedeel. So het God met ‘n klomp mense op dieselfde tyd gewerk om hierdie besonderse drie geleent¬hede te laat plaasvind. Daar is ook ‘n duidelike woord gebring: “Ons God is ‘n God van die tweede kans! Maak ge¬reed, want Jesus kom terug.”

Wat is jou bedieningsplanne vir 2011?
2011 is in die Here se Hande. Ons kan wik, maar Hy beskik. Ek het ‘n paar projekte wat voorlê: die DVD oor die byeenkoms in Israel; ek bied konferensies/ profetiese konfe¬rensies op uitnodiging aan; is betrokke by verskeie radioprogramme; skryf vir verskeie Christentydskrifte en my eerste boek word hopelik in hierdie jaar voltooi. Ek onder¬neem ook hierdie jaar my oorbruggingskursus en begin my Meestersgraad in Teologiese Studies.

Watter vrouekarakter in die Bybel sou jy graag wou wees?
Ek dink nie dat ek hierdie vraag in een ka¬rakter kan opsom nie. Ek sou egter graag ‘n vrou wou wees wat daagliks saam met Jesus gestap het en wat by Hom geleer het en Hom net kon liefhê en volg en wéét: HY is die Een!

Is daar ’n spesifieke Skrifgedeelte wat jou besonder na aan die hart lê?
Ja, Romeine 11:33-36: “Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie! …Hy is die bron van alles…Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.”


Die Rol Van Die Heilige Gees In Die Gelowige Se Lewe

Die Heilige Gees is die derde persoon van die Goddelike Drie-eenheid. Hy is God! Ons behoort Hom lief te hê, te eer en in alles te gehoorsaam. Hy is eg en Sy liefde, gemeenskap, kameraadskap en teenwoordigheid is vir alle Christene beskikbaar.

FEITE OOR DIE HEILIGE GEES
Die Heilige Gees is ’n Goddelike persoonlikheid en word deurgaans in die manlike vorm genoem. Dit is inderdaad ’n persoonlikheid binne die Godheid en nie slegs die een of ander onbevatlike invloed nie. Die Heilige Gees is die Gees van Waarheid. “En Ek sal die Vader vra om julle ’n ander Raadgewer te stuur om vir altyd by julle te wees. Dit is die Gees van die Waarheid. Die wêreld is net nie in staat om Hom te ontvang nie omdat Hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter omdat Hy by julle gaan bly en in julle sal woon.” Joh. 14:17. Lees ook Joh 16:7. Die Heilige Gees is ook die Trooster en Helper. Die Griekse woord vir Trooster is ‘Parakletos’ – ‘geroep om aan iemand se sy te staan om van hulp te wees.’ Hierdie term word ook in die regspraak gebruik wanneer verwys word na regshulp, verdediging, advokaat, bemiddelaar of iemand wat as voorspraak vir ’n ander optree, asook versterker. Kyk o.a. na Ef 3:16 in dié verband. Die Heilige Gees is altyd teenwoordig by en in ons. Sy salwing sal altyd met ons wees. (Joh. 14:16 en 17). Hy is ook ’n Gids, Raadgewer en Leermeester. Hy sal van Jesus getuig en Hom verheerlik. “Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My ontvang het, aan julle meedeel.” (Joh. 16:14). Die Heilige Gees sal die wêreld ook van sonde oortuig. (Joh. 16:8-9). Hy veroordeel nie – ook nie Christene nie, maar oortuig ons van dit wat verkeerd is, d.w.s. dinge wat nie binne die Vader se Wil is nie.

WANNEER KWALIFISEER EK OM DIE HEILIGE GEES TE ONTVANG?
Die Heilige Gees kan slegs ontvang word na ’n persoon se bekering. Die ongeredde wêreld kan Hom nie ontvang nie. (Joh. 14:17). Die Skrif is baie duidelik hieroor. In Hand 8:14-17 lees ons hoe Petrus en Johannes na Sagaria gestuur is om daar te bid vir die mense sodat hulle met die Heilige Gees gevul kan word. Ons sien in Hand 19:2-5 hoe Paulus vir diegene wat in Efese tot geloof gekom het, die hande opgelê het sodat die Heilige Gees op hulle kan kom. Geloof en bekering is dus ’n voorvereiste om die Heilige Gees te ontvang.

WAAROM MOET EK DIE HEILIGE GEES ONTVANG?
Deur die Heilige Gees te ontvang, ontvang die gelowige die krag om te getuig van die Vader se reddende genade. In Hand 1:8 is die Griekse woord vir ‘krag’ ‘dunamis’, wat beteken ‘Goddelike vermoë’. Die Heilige Gees kan die ontvanger lei om in tale te begin praat en selfs ’n nuwe gebedstaal aanleer.

“Almal is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat.” Hand 2:4. Belangrik egter, is dat die gelowige hom/haar oopstel vir die gawes van die Heilige Gees om op bonatuurlike wyse deur die persoon te werk tot voordeel van almal en tot eer van God. Die nege gawes van die Heilige Gees word vir ons in 1 Kor. 12:7-14 uiteengesit. Ons moet onthou dat die ontvang van die Heilige Gees ’n gawe is wat aan alle gelowiges belowe is. Hand 2: 38: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang.”

KWELVRAE OOR DIE ONTVANG VAN DIE HEILIGE GEES
As daar nou een saak is waaroor al baie gedebatteer is, is dit juis die kwessies rond-om die ontvang van die Heilige Gees. Kom ons kyk kortliks na enkele van die talle kwelvrae wat in die gemoed van die gelowige mag bestaan:
Ek is nie gereed om die Heilige Gees te ontvang nie. Die oomblik vandat ons gered is, is ons gereed om die Heilige Gees te ontvang. (Hand 8:14-17). Deur bekering word jy vernuwe en dan is die nuwe wynsak gereed om die nuwe wyn te ontvang. (Luk. 5:37-38).

Moet ek nie eers wag voordat ek die Heilige Gees ontvang nie? God het reeds die Heilige Gees gestuur en Hy is reeds hier. Vir bepaalde take is dit vir die gelowige nodig om met die Heilige Gees vervul te word dat hy/sy sal weet wanneer hy/sy met die krag toegerus word om tot aksie oor te gaan. “En kyk, Ek sal die belofte van My Vader aan julle stuur. Julle moet in die stad bly totdat julle van God af met krag bemagtig is.” Luk 24:49.

Het ek nie die Heilige Gees by my bekering ontvang nie? Om met die Heilige Gees vervul te word, is ’n ervaring wat plaasvind nadat die persoon gered is. Hand 8:14-17 en Hand 19:1-6 is baie duidelik hieroor.

Kan diegene wat deur bose geeste beset word, ook die gawes van die Hei¬lige Gees besit? Nee, beslis nie. So ’n persoon sal bv. nie in die tale van die Heilige Gees kan spreek nie. Maar wees versigtig. Satan kan ook mense in vals tale laat praat, maar die geesvervulde gelowige sal onmiddellik sodanige demoniese tale en uitsprake herken. Dit is juis die rede waarom vervulling met die Heilige Gees so belangrik is. 1 Kor 12:10 – “…aan nog een die vermoë om wonders te verrig… aan nog een die vermoë om te onderskei tussen God se Gees en ander geeste…”

Is die spreek in tale die enigste bewys van vervulling met die Heilige Gees? Nee, beslis nie, daar is agt ander gawes wat ook daarvan getuig volgens 1 Kor 12:7-11.

Sal ek nie dalk ’n bose gees ontvang i.p.v. die Heilige Gees nie? In Luk 13:9-13 antwoord Jesus Self vir ons hierdie vraag: “En so sê Ek vir julle, hou aan vra en vir julle sal gegee word wat julle vra. Hou aan soek en julle sal vind. Hou aan klop en die deur sal oopgemaak word… As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”

WATTER SIMBOLIEK IS BESKRYWEND VAN DIE WERK VAN DIE HEILIGE GEES?
Salwing. In Joh 2:20 lees ons: “Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf en julle ken almal die Waarheid.”

Waarborg. In 2 Kor 1:21-22 lees ons ook: “Hy het ons saam met julle op Christus as fondament geplaas, terwyl God ons ook vir Hom afgesonder het. Hy het ons as Sy eiendom gemerk en die Gees in ons harte gevestig as deposito wat as waarborg dien van alles wat Hy nog vir ons gaan gee.” Dit is dus die waarborg van dit alles wat ons nog sal ontvang.

Verseëling. Ef 1:13 stel dit onomwonde dat ons, op grond van God se belofte omtrent die Heilige Gees, deur die Heilige Gees as eiendom van God verseël word.
Vuur. In talle gevalle waar daar sprake is van vervulling met die Heilige Gees, het dit met ‘iets soos vlamme van vuur’ gepaard gegaan. Ons vind ’n voorbeeld hiervan in Hand 2:3-4 – “Tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme het toe tussen hulle verskyn en op elkeen van hulle gaan sit.”

Wind. Jesus beskryf vir ons die teenwoordigheid van die Hei¬lige Gees wanneer Hy in Joh 3:8 sê: “Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy suising, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy op pad is nie. Só is dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

Water. In Joh 4:14 – 24 verduidelik Jesus aan die Samaritaanse vrou by die put hoe sy die ewige lewe kan beërwe wanneer sy die water drink wat Hy aan haar kan gee – die Gees van God ín haar. Hierdie feit word onderskryf toe Jesus op die groot dag van die Loofhuttefees uitgeroep het: “As jy dors is, kom na My toe en drink. Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’” Joh 7:37-38. Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang.

Duif. Toe Johannes Jesus gedoop het, het die volgende gebeur: “…en Hy sien hoe die Gees van God soos ’n duif op Hom afdaal.” Matt 3:16.

HOE WERK DIE HEILIGE GEES?
Ons moet altyd onthou dat die Heilige Gees ’n gawe van God is en nie ’n vergoeding omdat ons ons lewens aan God gegee het nie. Die Vader sal egter nooit Sy kinders as wese agterlaat nie. Met Jesus se hemelvaart het Hy die Heilige Gees gestuur om ons in Gees en Waarheid te lei. (Rom 8:13-17). Die belangrikste wyse waarop God Sy kinders lei, is om deur die Heilige Gees in die gees van die gereddene in te spreek. Dit is daardie ‘sagte stemmetjie’ wat in jou innerlike spreek en waarvan jy duidelik bewus raak wanneer jy stil raak voor God – ja, selfs in die besigste oomblik in jou werk. Dit gaan altyd gepaard met innerlike vrede, insig, warmte, versekerdheid, rus en openheid in jou gees. Onthou altyd:
God is spesifiek – die duiwel is vaag
God is kragtig – die duiwel luid
God is duidelik – die duiwel is verwarrend
God is liefdevol en vergewend – die duiwel is veroordelend.
Raak stil in jou gees, stil voor God – Hy wil met jóú praat!


Die Bybel Veroordeel As Haatspraak: Errol Naidoo

Die opspraak rondom Kaapstad Toe¬risme se openbare befondsing van die “gay”-veldtog het onvermydelik gelei tot ‘n debat oor of dit moontlik is om as praktiserende homoseksueel terselfdertyd ook ‘n Christen te wees.

GEWELD TEEN HOMOSEKSUELE
Ek het talle e-posse ontvang waarin homoseksuele wat daarop aanspraak maak om Christene te wees, my veroordeel omdat ek ‘n boodskap van ‘onverdraagsaamheid en haat’ predik. Skynbaar het Jesus verdraagsaamheid en inklusiwiteit gepredik. Volgens die homoseksuele aktiviste is die Bybel se veroordeling van seksuele sonde ‘haatspraak’. En pastore en predikante wat hierdie siening huldig en predik, ‘verkondig dan geweld teen homoseksuele’. Ek het ook e-posse ontvang van verskeie ‘pastore’ wat inderdaad verklaar dat die Bybel verdraagsaam staan teenoor sonde. Die integriteit van God se Woord is onder ‘n intense aanslag. Die Kerk, die huwelik, die gesin en die menslike beskawing word alles geherdefinieer deur ‘n sluwe beweging wat daarop uit is om permissiwiteit te wettig. Ps 11:3 waarsku: “Wanneer die fondamente van wet en orde inmekaartuimel, wat kan die regverdiges dan doen?”

GODDELIKE INSTELLINGS VOOR ‘N UITDAGING
Gevestigde instellings soos die huwelik en die gesin, insluitend die behoudende aanhangers van die Christelike geloof, sowel binne as buite die Kerk, word hierdeur voor ‘n uitdaging geplaas.

Jesus het egter verklaar: “Op hierdie rots sal Ek My Kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie.” Matt 16:18. Al wat nodig is om hierdie aanslag op die inte¬griteit van God se Woord af te weer, is dat Christene die waarheid sonder vrees of vooroordeel sal handhaaf en verklaar. Die waarheid sal altyd oor die leuen en verleiding seëvier!

PRO-”GAY”-AGENDA
Kaapstad Toerisme se Hoof Uitvoerende Beampte, Mariette Du Toit-Helmbold, asook die Bemarkingsdirekteur, Lianne Burton, het ‘n hele web leuens en verleiding ge¬weef om inwoners te paai wat skrywes gerig het om teenkanting teen hul “gay”-veldtog uit te spreek.

Hulle reaksie op Christene se weerstand hierteen, wat ook in die Cape Argus gepubliseer is, ontken op onverklaarbare wyse hul openlik verklaarde doelwitte en onvermoeide pogings om ‘die internasionale homoseksuele mark na Kaapstad te trek’ en die stad te transformeer na ‘leidende gay-toeriste-bestemming in Afrika’.* Kaapstad Toerisme se pogings is ‘n voortsetting van hul 2001-veldtog om Kaapstad as die “gay”-hoofstad’ van Afrika te vestig.

DEMONIESE AGENDA BLOOTGELÊ
Tydens daardie veldtog is ‘n ‘pienk kaart’ gepubliseer waarop eksklusiewe, homoseksuele fasiliteite uitgelig is en waarby daar ook planne ingesluit is om addisionele “gay”-vriendelike geriewe te ontwikkel. Daardie agenda het ek destyds blootgelê en is toe deur sowel homoseksuele aktiviste as die liberale media aangeval.

Toe hierdie agenda weer na die oppervlak kom, het ek die aangesig van God in gebed gesoek om vir my die rigting aan te dui wat ek moes volg. Die Heilige Gees het my duidelik gelei om weereens hierdie demoniese agenda bloot te lê en om die Liggaam van Christus in te lig om in te tree vir ons nasie.

TREE OP VOLGENS SY WOORD
God praat dikwels met my deur Sy Woord. Ek is bemoedig deur Psalm 94:16-17: ”Wie beskerm my teen goddeloses? Wie staan by my teen die boosdoeners? As die Here my nie gehelp het nie, was die stille graf my lot.”
Ek kan nie stilbly terwyl ‘n bose agenda besig is om die stad te infiltreer nie. Ook kan ek nie swyg wanneer God se Woord verdraai en gemanupileer word om seksuele sonde en rebellie teen Sy gesag te wettig nie. Ek moedig almal aan om standpunt in te neem vir God se Woord en Sy soewereine Wil vir hierdie nasie.