Korrupsie Beskou Uit ʼn Christelike Perspektief

Die Afrika Unie bereken dat daar jaarliks meer as VS$148 miljoen deur die leiers in Afrika gesteel word. Dit beteken dus dat meer as ’n kwart van die kontinent se hele bruto binnelandse inkomste elke jaar as gevolg van korrupsie verlore gaan.
Die Wêreldbank berig dat 40% van Afrika se privaatrykdom elders aangetref word. Global Financial Integrity bereken dat Afrika meer as VS$900 miljard sedert 1970 verloor het. Dit is verreweg meer as die totale ontwikkelingshulp wat Afrika gedurende dieselfde tydperk van oorsese moondhede ontvang het. Meer as VS$300 miljard van die hulp uit die Weste is in
Afrika gepomp, en tog is die meeste state feitlik bankrot, afgerem deur skuld en nie eers in staat om die minimum openbare dienste te lewer nie.

Handel, nie hulp nie
Die president van Rwanda, Paul Kagame, is ’n voorstaander van handel – en nie van hulp nie. Kagame is daarvan oortuig dat dit absoluut noodsaaklik is om Afrika se afhanklikheid van buitelandse hulp te staak aangesien buitelandse hulp net korrupsie bevorder. Korrupsie is die tweede hoogste heersende misdaad op die kontinent. Leiers behoort meer verantwoordbaar aan hulle belastingbetalers te wees; meer ouditeure is beslis nodig. Anti-korrupsie-hervormings is noodsaaklik. Omdat leiers meer as sewe keer die totale waarde van die buitelandse hulp wat in Afrika ingepomp word, steel, is dit baie duidelik dat die stuiting daarvan baie waardevoller vir die kontinent sal wees as wat buitelandse hulp ooit vir hierdie kontinent kan wees.

Steel by almal
Die meeste Afrika-lande het tans ’n laer per kapita-inkomste as wat hulle sedert onafhanklikheid gehad het. Meer as die helfte van die totale Afrika-bevolking leef op minder as VS$2 per dag. Nahu Ribadu, die voormalige hoof van Nigerië se teen-korrupsie-eenheid, het verklaar dat om korrupsie teen te werk die heel beste manier is om armoede te beveg. Die voorvereiste vir ’n effektiewe en doelmatige regering is om korrupsie hand en tand te beveg. Korrupsie verhoed dat die land tot volle potensiaal ontwikkel. Korrupsie beroof almal. Daar word bereken dat elk van ons ten minste 20% meer vir goedere en dienste betaal as gevolg van enorme korrupsie.

Korrupsie verarm
Korrupsie ontmoedig buite-landse belegging, striem ontwikkeling en verhoog die koste vir die ver-bruiker. Robert Guest, die Afrika-redakteur van ‘The Economist’ het die volgende in ‘The Shackled Conti-nent’ genoem: “For half a century now, the continent has been deluged with aid, but this aid has failed to make the Africans any less poor…it has bankrolled tyrants…
or idealists with hopeless economic policies…both types of aid have been wasted…doing business in Africa can be tricky. Bad roads, punctuated by roadblocks, manned by bribe hungry policemen, make it slow and costly to move goods, even short distances…local firms, meanwhile, have been held back by arbitrary government regularities, dysfunctional legal systems and the difficulty for those without political connections, of raising capital…if Africa was better governed, it would be richer.”

Roofsugtige amptenare
Guest se gevolgtrekking: “Africans are poor largely because they are not yet free. They live under predatory, incompetent governments which…impoverish them in many ways: through corruption, through bad economic policies, and sometimes, as in Zimbabwe, by creating an atmosphere of terror…”

Een persoon kan ’n verskil maak
Nigerië se Ekonomiese en Finansiële Misdaadkommissie het onder Nahu Ribadu 250 veroordelings gemaak en meer as VS$5 miljard gesteelde openbare fondse teruggekry.

Baie skandale
Die voormalige president van Krieket SA was in ’n korrupsiekrisis vasgevang. Die wapentransaksie van 1999 haal nog steeds die hoofopskrifte asook die reisskandaal en die misbruik van openbare fondse deur lede van die parlement. Die veroordeling van die voormalige nasionale polisiekommissaris (en voormalige hoof van Interpol), die polisiehoof wat op grond van die korrupsie-ondersoek teen hom geskors is en die verkeerspolisie wat vir die verkoop van onwettige lisensies ondersoek word, is almal voorbeelde van gewetenlose politici wat belastingbetalers se geld vermors sonder om daarvoor gestraf te word, van die armes te steel en dit alles in die naam van soge-naamde ‘opheffing van armes.’

Steel van die armes
Die plaaslike koerante word weekliks deur skandale deur verkose beamptes en staatsdienswerkers se verregaande leefstyl en belaglike uitgawes oorval. En tog, ten spyte van die staat wat elke jaar meer as R600 biljoen in belastinggeld inwin, is daar nog elke jaar ’n tekort op die inkomste. Belastingbetalers wonder elke keer waar die geld heen verdwyn wanneer so baie skole sonder handboeke is, kinders in die buitelug onderrig word,
hospitale ’n tekort aan medisyne het en hospitaalpasiënte honger ly omdat die staat nie die diensverskaffers betaal het nie.

Staatskas geplunder
Die ouditeur-generaal van Suid-Afrika het gerapporteer dat meer as R20 biljoen aan ongemagtigde uitgawes oor die afgelope jaar aan die lig gekom het. Slegs 3 van die 39 staatsdepartemente het skoon ouditverslae gekry. Die spesiale ondersoekeenheid het aangedui dat meer as R30 biljoen weens korrupsie verlore gegaan het. Die finansies van vyf provinsies in Suid-Afrika is in ernstige moeilikheid waarvan die provinsie Limpopo in elke opsig die topposisie beklee. Selfs met meer as R2 biljoen se oorbesteding, was dié provinsie nie in staat om dokters, verpleegsters, onderwysers, sosiale werkers en ander amptenare in die openbare sektor te betaal nie.

Diefstal deur inflasie
’n Opname van die inflasiekoers in Suid-Afrika (deur Old Mutual) het die volgende getoon: In 1971 kon jy ’n motor vir ongeveer R1 000 koop. In 1981 kon dieselfde bedrag slegs ’n motorfiets koop. Teen 2001 was die koopkrag van R1000 so swak dat jy slegs ’n fiets vir die bedrag kon koop. Nou kos ’n goeie paar hardloopskoene al R1000. “…dat ons graanwinkels weer kan oopmaak en minder graan vir meer geld kan verkoop?[…]Julle verkoop arm mense vir geld…Ek sal nooit vergeet wat hulle gedoen het nie!” Amos 8:5-7.
Die vernietigende effek van inflasie op pensioene en spaargeld is krimineel.
Die Bybelse wet vereis dat ons eerlike mate gebruik – eerlike geld wat gerugsteun word deur die werklike konstante waarde (Spr 20:10). “Moet Ek die eienaar van ’n onbetroubare weegskaal vryspreek…” Miga 6:11-12.

Waarom korrupsie toeneem
“Omdat die verkeerde daad nie meteens gestraf word nie, hou mense eenvoudig aan om verkeerd te doen.” Pred 8:11. Dit is tog baie duidelik die voor die hand liggende antwoord. Korrupsie in ons samelewing neem toe omdat die skurke nie vinnig en swaar genoeg gestraf word nie. God het die siviele regering daargestel as “dienaar…dat hy die kwaaddoener moet straf.”
Rom 13:4. Siviele regerings word opgeroep om God se geregtigheid te laat seëvier: “…moet julle julle onder-werp aan elke menslike owerheid…wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys.”
1 Pet 2:13,14.

Restitusie
In geval van diefstal, brandstigting of kwaadwillige saakbeskadiging, vereis die Bybel restitusie – die herstel van dit wat van die eienaar gesteel is. Dit is vir die herstel van die skade wat gely is. Lees gerus in dié verband Eks 22:1-6.

Bankrot
Indien die provinsies handelsondernemings was, sou hulle insolvent verklaar en gelikwideer word ten einde hulle skuld te vereffen. Veels te veel politici sien die parlement as ’n geleentheid om hulleself ten koste van die publiek te verryk. Die skadelike mengsel van politiek, besigheid en hebsug saboteer ontwikkeling, ten koste van werksgeleenthede en dit erodeer die ekonomie.

Wêreldwye korrupsie
Dit is egter nie net ’n probleem vir die wêreld nie. Patrick Johnstone van Operation World, berig in ‘The Future of the Global Church’ dat van die VS$390 miljard wat wêreldwyd aan Christen-sake geskenk is, is $25 miljard verduister.
Tot 20% van die wêreldwye Bruto Handelsproduk word aan omkopery spandeer, dit is meer as VS$1 biljoen per jaar. Tot 50% van alle hulp om lande te ontwikkel, word gesteel voordat dit nog enigsins die ontvangers kan
bereik. Daar word beraam dat ongeveer VS$400 miljard deur korrupsie
verlore gaan. 10% van die ganse mensdom word jaarliks geforseer om
omkoopgeld te betaal.

Bankiers
Waarskynlik die grootste korrupsie en diefstal in die geskiedenis is deur bankiers geïnfiltreer wat die Groot Resessie van 2008 deur onetiese spekulasie en die verkoop van waardelose nabootsings tot gevolg gehad het. Dit het die VS-ekonomie meer as 135% van hulle Bruto Handelsproduk gekos. Die koste vir die Verenigde Koninkryk was meer as 149% van die totale Bruto Handelsproduk. Die enigste persone wat by die depressie wat deur die onverantwoordelike spekulatiewe borrel veroorsaak is, gebaat het, was die bankiers. “Die Here ’n afsku van ’n skaal wat nie reg weeg nie; net die regte gewig dra Sy goedkeuring weg.” Spr 11:1.

Die koste van misdaad
Daar word beraam dat werknemersdiefstal vir ongeveer een derde van alle sakeondernemings wat elke jaar misluk, verantwoordelik is. En natuurlik,
wanneer die sakeonderneming sy deure moet sluit, verloor die werknemers hulle werk en die gesinne ly daaronder. En tog word dit beraam dat ongeveer 50% van alle werknemers aan diefstal skuldig is.
Iemand moet uit die aard van die saak die koste van die diefstal dra. Ons, ek en jy, en alle ander kliënte, dra die skuldlas van die biljoene rande wat weens winkel-diefstal, diefstal deur werknemers of die verduistering deur staatsdiensamptenare verlore gaan. Ons moet verder ook nog betaal vir verhoogde versekeringspremies, bykomende sekuriteitspersoneel en -toerusting wat as gevolg van hierdie diefstal, benodig word. En dit word alles by die prys op die etiket gevoeg.
Ons betaal natuurlik ook vir die koste van misdaad deur ons belasting en die steun wat ons gee aan die polisiediens, die regstelsel en die gevangenisdiens wat almal veronderstel is om ons teen die kriminele elemente in die gemeenskap te beskerm.

Christen-integriteit
Ons word, as Christene, opgeroep om die hoogste integriteitstandaarde te handhaaf. Ons behoort nie korrupsie aan te spoor deur voor die druk van omkoopgeld, of die toekenning van kontrakte op grond van politieke verbintenisse te swig nie. Misdaad kan totaal uitgewis word indien ons, as Christene, volgens Bybelse standaarde leef.
’n Vriend in Zambië, Lawrence Temfwe, het in ’n bank gewerk en het oor ’n tydperk van ’n klompie jare, geld verduister. Toe hy uitgevang is, is hy tronk toe gestuur. Daar het hy tot bekering gekom en nadat hy sy straf uitgedien het, het hy weer werk gekry en al die geld wat hy van die bank gesteel het, terugbetaal. Niemand het enigiets van hom
verwag nie. Lawrence het egter baie goed geweet dat die Bybel van hom
verwag om restitusie te doen. Wat ’n wonderlike getuienis toe hy die bank terugbetaal het! Lawrence Temfwe het later die hoof van die tronkbediening in Zambië geword.

“…en moenie aanhou deelneem aan die nuttelose werke van die duisternis nie. Nee, ontmasker eerder hierdie werke…” Ef 5:11.


Hoe Word Mense Mislei? Die Realiteit Daarvan

Baie mense dink hulle kan nie mislei word nie. Hulle glo die feit dat hulle wedergebore is en met die Gees vervul is, verseker dat hulle nie mislei kan word nie. Baie glo dat hulle nét die Bybel glo en die ‘Woord’ verkondig presies soos dit in die Bybel weergegee word. Dink vir ’n oomblik: wanneer ’n student na ’n Gereformeerde teologiese fakulteit gaan, kry jy op die ou end ’n Gereformeerde predikant.
Presies dieselfde gebeur wanneer jy aan ’n Baptiste, Anglikaanse, Katolieke, Metodiste, of Charismaties teologiese instelling studeer. ’n Baptiste teologiese inrigting lewer nooit Anglikaanse predikante op nie. En tog glo elkeen van hierdie teologiese fakulteite dat hulle nét sê wat die Bybel sê. Iewers is ons nie so Bybels as wat ons dink nie! ’n Klein bietjie nederigheid sal ons baie help met die interpretasie van presies wat die Bybel sê oor die doop, die vervulling met die Heilige Gees, volkome heiligmaking of genesing.

Wie is reg?
Daar was oor die afgelope drie dekades baie geestelike bewegings wat as
bewegings van die Heilige Gees gesien is. Daar was dinge soos val in die Gees, lag in die Gees, spreek in tale, uitdrywing van duiwels, ens. Derek Prince sê dat in baie van hierdie bewegings ons ’n vermenging van bogenoemde vind.
Daar was dinge wat beslis van die Gees van God afkomstig is, sê hy, maar daar was ook namaaksels en omdat die kerk nie moeite gedoen het om te onderskei nie, het daar baie misleiding plaasgevind. In sommige gevalle was daar dierlike gedrag (brul soos leeus, skreeu soos jakkalse en dies meer). Ons kan bv. nóóit dierlike gedrag aan die Heilige Gees toeskryf nie. Dit is in ’n sekere mate ontstellend om in 2 Tessalonisense 2:11 te lees dat God hulle aan die mag van die dwaling (sal) oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. Let daarop dat dit God self is wat die misleiding gee.

Wat is die oorsake van misleiding?
Matteus 24:12 sê die minagting van die Wet van God sal toeneem (en daarom) sal die liefde by baie verkoel en dit sal tot misleiding lei (Matt 24:4-12). Misleiding vind plaas wanneer ons nie in volkóme toewyding en afhanklikheid van die Heilige Gees lewe en ons onder die gesag van die Woord stel nie.
Gejaagdheid is baie dikwels die oorsaak dat mense mislei word en dinge doen wat nie die Wil van God is nie. Ander kere is ons so seker dat ons die waarheid beet het, dat ons nie toeganklik vir verandering is nie. Soms wil ons iets baie graag hê en wag ons nie regtig op die Here en kies ons nie regtig met ons hele hart om Sy Wil te doen nie. Maak seker jy staan op neutrale grond. Word stil voor God en gee jouself volkome aan Hom oor tot in die stadium waar jy gewillig is om Sy Wil te aanvaar en te doen ongeag van wat Hy vra. Indien ons dit nie doen nie, stel ons ons oop vir misleiding.
Sommige mense het in ’n strik van wettiesisme vasgeval. Hulle het begin toelaat dat hulle lewens deur bepaalde wette en regulasies bepaal word. Baie sal die Nuwe Testament aanhaal, maar ook daarop aandring dat daar bepalings uit die Ou Testament onderhou moet word.

Waarin vind ek beskerming teen misleiding?
Kén die Woord, léés die Woord, mediteer oor die Woord, vra God om Sy opdragte vir jou duidelik te maak en leer Sy karakter ken. Leuens en onkunde bind ’n mens, maar die waarheid maak jou vry. Mense is dikwels onkundig oor sommige onderwerpe in die Skrif en wil dus ook nie aanvaar wat die Skrif daaroor sê nie. Ons maak ons eie reëls en word deur die sieninge en emosies van die wêreld beïnvloed. Vir die Christen is dit belangrik om die Woord te ken en hom aan die Woord te onderwerp. Dit is nie vir ons om die Woord te beoordeel nie, maar die Woord te gehoorsaam.
Soek ’n ondersteuningsgroep waaraan jy verantwoording kan doen. Vra hulle om jou op jou geloofsreis te ondersteun en gee hulle toestemming om met jou te praat wanneer hulle sien dat jy die pad byster raak. Mense wat nie oor ’n leerbare gees beskik nie en hulle nie aan gesag kan onderwerp nie, sal bykans sonder uitsondering een of ander vorm van misleiding beleef.
Toets alles. Baie mense reageer deesdae op elke ‘profetiese woord’ wat hulle ontvang. 1 Timoteus 5:19-21 maak dit duidelik dat ons die profesieë moet toets. Baie Christene dink dat as ek eers ’n profesie of ‘openbaring’ wil toets, dit beteken ek weerstaan die Heilige Gees. 1 Johannes 4:1-2 sê duidelik ons moet ondersoek of dit van die Gees van God af kom of nie.


Die Wet Van God En Die Evangelie: Onderhou Ons Die Wet Om Gered Te Word?

Baie mense het deesdae die Wet en die Evangelie verkeerdom. Hulle dink dit is noodsaaklik om die Wet te gehoorsaam om Christene te word. As gevolg hiervan is hulle gefrustreerd deur mislukking, skande en skuld. Hulle verstaan nie waarom die Evangelie nie vir hulle werk nie. Hulle probleem is dat hulle die spreekwoordelike kar voor die perde inspan. Redding kom deur die Genade van God alleen en word slegs deur geloof ontvang. Ons onderhou nie die Wet om gered te word nie. Ons onderhou die Wet juis omdat ons gered is.

Wat is die verskil?
• Die Wet veroordeel, maar die Evangelie van Christus red
• Die Wet openbaar jou sonde, maar die Evangelie openbaar die Redder
• Die Wet maak ons skuldig, maar die Evangelie van Jesus Christus bied vergifnis
• Die Wet eis betaling, maar die Evangelie van Jesus Christus betaal ons skuld aan God
• Die Wet kan ons nie regverdig nie, die Wet kan nie red nie, die Wet kan nie heilig maak nie. Die Wet openbaar ons sonde, maar dit is slegs Jesus Christus wat ons van ons sonde vrykoop
• “As jy jou egter verdiep in God se volmaakte Wet – die wet wat ’n mens vrymaak – en jy dóén wat die Wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen.” (Jak 1:25)
• Die Wet van die Here oortuig van sonde (Rom 7:7-11)
• Die Wet veroordeel oortredinge (Rom 4:15; Jak 2:10)
• Die Wet beperk die bose (1 Tim 1:8-11;
Ps 119:11)
• Die Wet dryf mense na Christus (Gal 3:24)
• Die Wet van God is die gids tot heiligma-king (Rom 8:4)
• Die Wet van God is die wese van die Nuwe Verbond. “Die tyd kom dat Ek weer ’n nuwe Verbond met Israel en Juda sal sluit. Hierdie verbond sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gesluit het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte gelei. Hulle het My Verbond verbreek, al het Ek hulle liefgehad soos ’n man sy vrou liefhet…Ek sal my wette in hulle gedagtes plant en op hulle harte skryf. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” (Jer 31:31-33)
• Die Tien Gebooie weerspieël die karakter van God. “Ek, die Here julle God, is heilig.” (Lev 19:2)

Diens en vreugde
Die mens is nie outonoom geskape nie – vry om te doen wat ons dink reg en goed is nie – maar teonoom, onderworpe aan die Wet van God. Dit is beslis nie moeilik nie juis omdat God ons só geskape het dat dankbare gehoorsaamheid ons die grootste vreugde sal bring. Diens en vreugde loop dus hand aan hand.
Koning Dawid het in die Psalms geskryf: “Laat my wandel volgens U gebooie, want dis waarin ek my vreugde vind.” (Ps 119:35). “Hoe lief het ek U gebooie! Ek oordink dit die hele dag…Ek haat besluitelose mense, maar U gebooie het ek lief.” (Ps 119:97, 113).

Liefde en die Wet
Die Apostel Paulus het geskryf: “Nietemin, die Wet op sigself is heilig en sy inhoud is heilig en reg en goed.” (Rom 7:12) en in Romeine 7:22 die volgende: “Ek verheug my immers in my diepste wese in die Wet van God.”
Die Apostel Johannes het geskryf: “Hieraan weet ons dat ons moet aanhou om die kinders van God lief te hê: wanneer ons God liefhet en Sy opdragte uitvoer.” (1 Joh 5:2-4).
Die gevalle mens haat God se Wet in sy hart – omdat dit die Wet is, maar ook omdat dit van God kom. Diegene wat Christus egter ken en liefhet, het Sy Wet lief en wíl dit graag onderhou: uit dankbaarheid vir God se Genade en ook om God te behaag. God se kinders word ook in grade van gehoorsaamheid deur die Heilige Gees tot onderhouding van Sy Wet gelei soos nog nooit voorheen vir hulle moontlik was nie.

Genade en vergifnis
Niemand sal in die Hemel kom bloot deur die Wet te onderhou nie. ’n Ernstige ondersoek van die Wet van God sal elke eerlike persoon na God vir genade en vergifnis laat uitroep. Daar kan nie genade wees indien daar nie skuld is nie en daar kan geen vergifnis wees, indien daar nie sonde is nie. Indien jy nie ’n sondaar is nie, kan God jou nie genadig wees nie. Indien jy nie ellendig voel nie, sal genade nie waardeer word nie. Niemand sal om genade roep tensy hy sy skuld besef en bely nie.
Die Tien Gebooie reinig ons nie – dit wys ons bloot dat ons gereinig moet word en dat ons God en Jesus Christus nodig het om gered te word. As ons die Tien Gebooie goed bestudeer, sal ons agterkom dat ons nié die Gebooie kan onderhou nie – en dan is ons skuldig. Ons is skuldige wetsverbrekers en ons het geen hoop op redding deur God se Tien Gebooie te gehoorsaam nie.

Goeie nuus
Die Evangelie is Goeie Nuus aan diegene wat besef dat hulle die Wet van ons lewende God oortree het. God stort Sy Genade uit op hulle wat erken dat hulle wetsverbrekers is en wat skuldig voor die Heilige God staan. God verwelkom ons wat voorheen teen Hom gerebelleer het en neem ons in Sy familie as seuns en dogters aan.
Dan stuur Hy ons met die opdrag as dienaars en soldate om in Sy koninkryk diensbaar te wees en in die geloof sterk te staan. Indien ons in skuldbelydenis voor Hom neerbuig, gee Hy ons die Ewige Lewe.
Goeie werke was nog nooit genoeg om die bose en rebellie van die sondige mens te oordek nie. Slegs die bloedoffer van Jesus Christus is genoeg om vir ons verlossing te betaal. Dit is absoluut noodsaaklik dat ons die orde van dinge reg verstaan. Dit is eers nadat ons Christus vir ons redding vertrou het dat ons in God se familie aangeneem word. Dit is eers dán vir ons moontlik om die Gebooie te onderhou. Nie om gered te word nie, maar juis omdat ons gered ís.

Gehoorsaam op ’n sinvolle manier
In ander gelowe word goeie werke gedoen ‘ten einde te…’. Die mens probeer dus om na God te reik. In die Christendom is goeie werke egter ’n ‘omdat’.
Godsdiens is ons wat na God uitreik. Christendom is God wat na ons toe neerbuig deur Jesus Christus. Redding gaan daarom die gehoorsaamheid aan die Wet vooraf. Dit is slegs as ons God se reddende verlossing ervaar het dat ons Sy Gebooie op ’n sinvolle manier kan gehoorsaam. Sodra ons ons lewens heelhartig aan Christus gewy het en Sy reiniging en verande-rende krag beleef het, is ons in staat om God se Wet in ons harte te skryf, ons siel te inspireer, ons krag te rig en ons denke op die pad van heiliging te stuur.
Met die Heilige Gees in ons, en deur Sy leiding, word God se morele Wet ons standaard, gids en beskerming. As ons poog om God met ons hele hart, siel, verstand en krag te soek en slegs Sy mag te vertrou, sal ons die waarheid in Jesus se woorde vind: “As julle My liefhet, sal julle My opdragte gehoorsaam.” (Joh 14:15).

Woorde, werke en aanbidding
In die Tien Gebooie vind ons al die morele deugde, die volledige kompas vir ons toerekeningsvatbaarheid teenoor God en verantwoordelikheid teenoor ons bure. Die wesenlike kern van ál God se regverdige verordeninge word in die Tien Gebooie opgesom. God vereis totale gehoorsaamheid aan al die impli-kasies van Sy Wet van elke mens.

Verwerp wettiesisme
Dit is ook noodsaaklik dat ons die hele kwessie van wettiesisme oordink wanneer ons die Tien Gebooie bestudeer. Wettiesisme is ’n verwringing van gehoorsaamheid, wat die motiewe en doel verdraai en goeie dade verhef as dié manier om God se guns te verdien. Wettiesisme kan arrogante en minagtende aanhangers voortbring; trots verskuil en nederigheid, goedheid en meelewing uit die lewe verdryf.

Verstaan die Wet
Die Fariseërs wat die Wet aangehang het, het gedink dat, omdat hulle afstammelinge van Abraham was, hulle outomaties goedkeuring van God sou ontvang. Die daaglikse onderhouding van die Wet is tot in die fynste besonderhede geformaliseer en tog het hulle die hart van die Wet vermy.
Jesus het die skynheiligheid van die Fariseërs, wie se uiterlike voorkoms hulle innerlike korrupsie verbloem het, veroordeel. Die Fariseërs het hulle voorgedoen as getroue onderhouers van die Wet van Moses en tog, deur die detail wat van minder belang is te beklemtoon, het hulle dit wat die meeste saakmaak, verontagsaam.
Hulle uitgebreide en misleidende interpretasie van die Wet het die ware gees en aard daarvan ontken. God se Wet is deur menslike tradisie, wat hulle gewete in gebondenheid vasgevang gehou het, vervang. God het hulle egter vryheid geskenk. Hulle was skynheilig, het ander veroordeel en het menslike goedkeuring hoog geag. (Matt 23:23-24; 15:3-9; 23:16-24; Mark 2:16; 3:6; 7:1-8 en Luk 20:45-47). Wettiesisme poog om die mens se pogings op dieselfde vlak as God se Wet te plaas.

Ons is deur genade gered
Die Judaïste, wat Paulus teengestaan het, was wettiste wat geleer het dat ’n mens slegs deur die Wet te onderhou, gered kon word. Hulle het Christengelowiges geleer dat hulle eers Jode moes word voordat hulle Christene kon word. Besnyding was vir hulle noodsaaklik ten einde gered te word. Hulle het die toereikendheid van die werk van Christus ontken en vereis dat die Joodse seremoniële wette nagekom moes word om gered te word. Paulus het egter teen hierdie valse vereistes in Galasië en Kolosse geskryf en gewaarsku dat hulle wettiesisme die reddingspad korrup gemaak het en ’n ondraaglike las op God se kinders plaas.
Ons Here Jesus Christus het geleer: “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem My juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry. Want My juk sal saggies op julle skouers rus en my las is lig om te dra.” (Matt 11:28-30).

Kom na die Kruis van Christus
Die Wet sê ‘doen’; die Evangelie sê ‘gedoen’! Die Wet sê ‘gaan’; die Evangelie sê ‘Kom!’ Niks sal ons van God en Sy liefde kan skei nie (Rom 8:35).
Jy het die Wet van God gehoor. Jy het die Evangelie van ons Here Jesus Christus gehoor. Het jy jou sonde en rebellie teenoor Hom bely? Kom tot inkeer en word verander.
“Vra na die Here terwyl jy Hom nog kan vind. Roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose mens moet sy verkeerde dinge los, en die bose mens sy slegte ge-dagte. Hy moet terugdraai na die Here en Hy sal hom genadig wees. Ja, draai na God, want Hy sal altyd vergewe.” (Jes 55:6-7)

Dr Peter Hammond is die skrywer van ‘The Ten Commandments – God’s Perfect Law of Liberty’. Hierdie reeks is ook beskikbaar as ’n audio CD pakket en MP3. Tel: 021 689 4480, E-pos: mission@frontline.org.za Webtuiste: www.frontline.org.za


Die 12 Apostels

Andreas
Andreas was die eerste van die Apostels wat Jesus gevolg het. Ons sien hom deurgaans in die Evangelies mense na die Here toe lei, insluitend die seuntjie met die vyf brode en twee vissies. Na die dag van die uitstorting van die Heilige Gees, het Andreas wydverspreide sendingtogte na die Kaukasiese berge onderneem (hedendaagse Georgië), na die Skithiërs aan die Kaspiese See, na Bisantium (hedendaagse Turkye), na Griekeland, Thracië en Macedonië. Die kerkhistorikus, Eusebius, teken op dat Andreas die Woord verkondig het aan die Skithiërs, Sogdiërs en die Saksers.
Hy is in Patros gekruisig, waar hy as martelaar op ’n X-vormige kruis gesterf het. Die tipe kruis word vandag die St. Andrewskruis genoem. Ageas, die goe-werneur van die Edessenes, het gepoog om alle Christene te dwing om offers aan Romeinse afgode te bring. Andreas het hom openlik gekonfronteer en is daarvoor ter dood veroordeel. Andreas het verklaar: “Ek sou nie oor die eer en heerlikheid van die Kruis gepreek het as ek die dood aan die Kruis gevrees het nie.” Andreas is op 30 November 80 A.D. doodgemartel en 30 November staan gevolglik bekend as St. Andrew-dag. Vier lande maak aanspraak op Andreas as hulle beskermheilige: Rusland, Griekeland, Duitsland en Skotland. Die St. Andrewkruis kom voor op die nasionale vlag van Skotland.

Petrus
Simon, vir wie Jesus later die nuwe naam, Petrus, gegee het, is in Betsaida, Galilea gebore. Hy was ’n visserman en die seun van Jona. Sy broer, Andreas het hom na die Here toe gebring. Dit was Petrus wat so kragtig op Pinksterdag in Jerusalem gepreek het, toe meer as 3 000 siele vir Christus gewen is. Nadat hy verskeie kere in Jerusalem gevange geneem is, het Petrus en sy vrou in Babilon gaan bedien. Dit is hier waar hy sy eerste Sendbrief (1 Petrus) geskryf het. Terwyl hy in Rome bedien het, was Johannes Markus (die skrywer van die Evangelie van Markus) sy tolk. Markus het sy Evangelie geskryf onder die Apostoliese gesag van Petrus, wat ’n ooggetuie was van baie van dit wat opgeteken is. Keiser Nero het die Apostel Petrus in 68 A.D. ter dood veroordeel. Petrus het daarop aangedring dat hy nie waardig is om op dieselfde manier as sy Heer gekruisig te word nie en is dus onderstebo gekruisig. Voordat hy gesterf het, het hy sy Romeinse tronkbewaarders, Processus en Martinianus, asook 47 van die ander gevangenes, bekeer.

Simon die Yweraar (‘zealot’)
Simon die Yweraar het deur Noord-Afrika gearbei, insluitend die groot stad van Carthago. Hy het die Evangelie in Spanje versprei en in Brittanje bedien. Hy is daar in 61 A.D. op 10 Mei in Caistor, Lincolnshire as martelaar dood.

Jakobus
Jakobus, die oudste broer van die Apostel Johannes, was die eerste Apostel om ’n martelaarsdood te sterf. Op die bevel van koning Herodes Agrippa is Jakobus in 44 A.D. in Jerusalem onthoof.

Filippus
Ná Christus se hemelvaart het Filippus na Skithië gereis (hedendaagse suidelike Rusland) en 20 jaar lank daar bedien. Daar word geglo dat Filippus die Evangelie tot in Gallië (hedendaagse Frankryk) verkondig het. Daarna het hy in Klein-Asië (Turkye) gaan bedien waar die Here hom in Hiërapolis gebruik het om die vrou van die Romeinse prokonsul te genees. Hy is hiervoor gekruisig.

Johannes
Die Apostel Johannes was die seun van Sebedeus, ’n visserman van Galilea. Sy moeder, Salome, was die suster van Maria, die moeder van Jesus. Johannes, sy broer Jakobus, en die Apostels Petrus en Andreas was almal vennote in ’n vissersbedryf voordat die Here hulle geroep het. Johannes se broer, Jakobus, was die eerste van die Apostels wat gesterf het; Johannes was die laaste. Al die Apostels, behalwe Johannes, het gewelddadig gesterf. Johannes het egter ’n martelaarslewe gely. Die Here Jesus het sy moeder, Maria, in die sorg van Johannes agtergelaat. Johannes het kerke deur die hele Asië gevestig en die Boek van Die Openbaring, die Evangelie volgens Johannes, en 1, 2 en 3 Johannes geskryf.

Matteus
Matteus was ’n belastinginvorderaar en tollenaar voordat die Here hom geroep het. Hy was ’n begaafde skrywer, en was miskien selfs die beste geleerd van al die Apostels. Hy is die skrywer van die Evangelie volgens Matteus en het sendingtogte na Persië, Egipte en Ethiopië onderneem. In Ethiopië het hy ’n marteldood vir Christus gesterf.

Thomas
Thomas Didimus (tweeling) was ’n visserman van Galilea. Na die hemelvaart, het Thomas sendingwerk in Babilon gaan doen. Daar het hy die eerste Christen-kerke gestig. Daarna het hy in Persië en Indië gearbei en menigte bekeer. Die ‘Bar Thomas’ Kerk, in Indië bestaan nog tot vandag toe. Op 21 Desember sterf hy in Mylapore (hedendaags ’n voorstad van Madras) ’n martelaarsdood.

Matthias
Matthias is gekies as die Apostel wat die verraaier, Judas, vervang het. Matthias het gearbei in Armenië en die Oekraïne en het kerke in Colchis en Sebastopol geplant. Hy het as martelaar in Adjure (in hedendaagse Georgië) gesterf.

Bartolomeus
Die Apostel Bartolomeus het oral in Klein-Asië bedien, insluitend Hiërapolis, Laodisea, Kolosse, in Armenië en Indië. In 68 A.D. het Bartolomeus in Albanopolis (Derbend in Azerbeidjan) ’n marteldood gesterf nadat hy die koning van Armenië tot die Christendom bekeer het. Die koning se heidense broer het Bartolomeus as vergelding vermoor.

Die jonger Jakobus
Jakobus (die seun van Alfeus) was Matteus se broer en die seun van
Maria (die vrou van Klopas – ook ’n volgeling van die Here). Jakobus is van Kapernaüm afkomstig. Hy het die kerke in Sirië gestig. Die skrifgeleerdes en fariseërs het hom in Jerusalem van die Tempel afgegooi en toe gestenig omdat hy Christus verkondig het.

Judas (Taddeus)
Die Apostel Judas het die Evangelie na Armenië geneem, waar hy die kerk in Edessa gestig het. Armenië het later een van die eerste Christen-koninkryke geword. Hy het ook later in Sirië en Persië evangelisasiewerk gedoen. Judas het in Kara Kalisa, naby die Kaspiese See, nagenoeg 64 km van Tabriz (hedendaagse Iran), as martelaar gesterf.


Carike: God En My Gesin Anker My

Carike Keuzenkamp is deel van elke Afrikaanse huishouding. Van Kraaines (nege jaar lank), deelname aan Noot vir Noot en Liriekeraai, tot Skouspel, vermaak sy ons nou al 45 jaar lank. Sy het al nagenoeg 50 CD’s en DVD’s uitgereik, in die rolprent ‘Liefling’ verskyn en het in 2010 die SAMA-toekenning vir ‘n leeftyd se bydrae tot plaaslike musiek ontvang. Maar wie is Carike Keuzenkamp as Christen en waarmee hou sy haar deesdae besig? JUIG! het gaan uitvind.
Sommer met die intrapslag sê Carike: “Ek is ’n plat-op-die-aarde mens met Hollandse nugterheid en geen ‘hang-ups’ nie.” Dit ís ook so; haar antwoorde getuig daarvan en openbaar iemand wat gemaklik met haarself, haar bekendheid en die lewe is.

Wat is van die uitdagings wat jy al in jou musiekloopbaan moes oorkom?
My musiekloopbaan was altyd net ‘n stokperdjie, veral in die beginjare toe my kinders nog in die huis was. Die laaste paar jaar was ek baie produktief met veral opnames, want ek het meer tyd! Ek het so 15 jaar gelede besluit om weer verhoog-optredes te doen en het begin met damesoggende. Dit was ‘n groot uitdaging vir my om weer ’n program saam te stel, die liedjies se woorde te leer en alleen op ’n verhoog te staan. Daar het my geloof my elke keer gedra – ek het vasgehou aan Fil 4: 13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Hierdie vers het my in elke moeilike situasie gedra.

Wat was jou ervaring met die vervaardiging van ‘Hy’s die Een’ CD?
Ek wou nog altyd ’n gospelalbum opneem en sal dit weer doen as die geleentheid hom voordoen. Vir my was dit beslis een van die vervullendste projekte wat ek nog aangepak het.

Waarom?
Ek sit nie oor goed en filosofeer en top nie. Ek weet net wanneer iets lekker was. Die projek was net ‘reg’. Dit was die regte liedjies; dit was die regte liedjies vir my stem in daardie stadium. Ek het die Here daar in die ateljee gevoel. Dit is glad nie ongewoon dat daar probleme met opnames opduik nie, maar hierdie keer het daar net nie probleme opgeduik nie – alles was net ‘reg’. Natuurlik was dit ook my eerste gospelalbum; dus was dit baie spesiaal vir my. Ons laaste Kinderland DVD en CD is ook gospelalbums – ‘Carike, Ghoempie en Ghoeghoe kuier in Bybelland’. Dis wonderlik dat kindertjies op ’n prettige manier van die Bybel kan leer.

Waar het die idee vir ‘Ghoempie en Ghoeghoe kuier in Bybelland’, vandaan gekom?
Dit het uit die Kinderland CD’s voortgevloei. Ek het geweet my kleinkinders gaan nie eendag na plate luister nie en ek wou iets vir hulle behoue laat bly. Ons stof toe die liedjies af wat ek gesing het toe ek jonger was – die goed waarna die ouens wat nou self ouers is, geluister het toe hulle kinders was. Ek het gedink dit gaan maar ’n eenmalige ding wees. Ek het gedink ek is nou klaar, ek gaan nou aftree, maar die Here het ander planne met my gehad.
Dit was toe ’n reusesukses. Ek het twee Kinderland CD’s gemaak en toe word Ghoempie gebore uit die behoefte aan ’n karaktertjie wat die liedjies met mekaar kon verbind. Kinders was mal oor Ghoempie en toe kom Ghoeghoe en vandaar af Ghoempie en Ghoeghoe in Bybelland omdat daar ’n groeiende behoefte was aan gospel vir kinders – Afrikaanse kinders. Daar was niks in Afrikaans nie.
Tien jaar gelede het mense nie geweet wat ’n DVD is nie! Ons het begin by bekende liedjies soos Stille Nag en toe liedjieskry-wers gevra om liedjies te skryf oor Jona, Moses, vyf brode en twee vissies, ensovoorts.

En daarvoor is jy toe vir die SAMA-toekenning benoem. Jy het ook ’n SAMA-toekenning vir jou bydrae tot plaaslike musiek ontvang.
Toekennings is ‘nice’. Dis ’n aansporing en dis lekker om erkenning te kry en te weet dat jy goed doen waarvan mense hou, maar ek is 65, ek hoef nie meer aan my loopbaan te werk nie. Ek gun dit eerder vir jongmense wat nog ’n loopbaan bou. Ek waardeer natuurlik die toekennings omdat dit ook toegeken word aan die mense saam met wie ek werk, die span, want hulle kry ook die toekenning. Dit verg baie ure se harde werk, en dit is hulle spanpoging wat dit moontlik maak. Ek doen maar net die ‘glamour’-werk.

Hoe bly jy naby aan die Here in die vermaaklikheidswêreld en met ’n besige skedule?
Ek sien myself eerstens nie as ’n vermaaklikheidskunstenaar nie, maar as ’n vrou en ma. Dit plaas ’n mens se voete stewig op die grond. Ek bestee maar omtrent 10% van my lewe aan my sang, die res is my gesin se tyd. Of ek nou in die ateljee, op die verhoog of die kombuis is, die Here is altyd by my. Ek praat heeldag met Hom, maak nie saak waar ek is nie. My geloof is ’n ‘way of life’.

Jy was altyd ’n toegewyde ma en jou gesin het eerste gekom. Wil jy ons so ietsie van jou verhouding met jou kleinkinders vertel?
Ek kom uit ’n era waar ons huisvrouens was. Jy het gaan studeer om iets te hê om op te-rug te val. Ek wou ’n huisvrou wees en toe ek getroud is, was ek gelukkig; ek het nie nodig gehad om te werk nie. Ons was nie ryk nie, maar ek kon by die huis bly. Ek het kinders grootgemaak en dit is wat ek wou doen. Nou het ek ook wonderlike kleinkinders. Neil is 12 en Jacques is 8 – hulle is een en ’n half jaar gelede VSA toe.
Ek mis hulle verskriklik, maar die Here het my voorberei. Hulle is eers vir ’n paar jaar Kaap toe. Daar het ek hulle so elke twee maande gesien, en toe is hulle VSA toe. As hulle eensklaps moes weggaan, sou dit vir my baie swaar wees. Hulle is gelukkig net ’n vliegtuigrit ver en daar is darem ook Skype-oproepe.
Die Here het ook vir my een in hulle plek gegee om my te troos. Werner se seuntjie is nou een jaar oud en hulle woon in Johannesburg. Hy het sy oupa se naam gekry, Olaus – die Van Zyl-naam. Ons jongste kind trou Februarie in die Kaap. Dit is verder weg as Johannesburg, maar nader as die VSA!

Hoe voel jy oor Karla-hulle se weggaan na Amerika?
Ek glo as ’n mens se kinders wil gaan, laat hulle gaan. Jy kan nie vasklou nie, jy kan nie selfsugtig wees nie. Ek het my lewe aan my kinders gewy en ek wonder soms wat sal gebeur as ek baie oud is en nie meer kan vlieg nie…

Jy is nou al 45 jaar getroud. Wat het jou huwelik so rotsvas gehou?
Die Here het vir my die regte man gegee! Hy is ’n gawe van die Here en ook ’n Christen. Hy is ’n wonderlike ondersteuning vir my. Hy het nie omgegee om ‘mnr. Keuzenkamp’ te wees nie. Ons het regtig ’n goeie huwelik. Ons is baie verskillend, maar vul mekaar baie goed aan. Olaus is ’n ingenieur – hy is die linkerbrein en ek is die regterbrein. Trane en argumente tel glad nie by hom nie; hy wil die feite op die tafel hê. Hy wil weet: “Wat is die probleem? Wat is die ergste?” Dan werk hy uit wat ons daaraan gaan doen en dan is dit skielik nie meer die ergste nie.
Ons gee mekaar ruimte en hoe meer ons ruimte gee, hoe meer wil ons eintlik net bymekaar wees. Ons geniet mekaar se geselskap; ons hou daarvan om alleen bymekaar te wees. Noudat dit net die twee van ons is, gaan eet ons tog te lekker uit as ons nie lus vir koskook is nie – soms sommer net in ’n koffiewinkeltjie.
En natuurlik bind ons geloof ons. Die rots in ons huwelik is Jesus en as ’n mens aan Sy Woord vasklou, val al die ander dinge in plek. My lewe – my huwelik – is op God gebaseer. Jongmense is lief daarvoor om 1 Kor 13:4-7 aan te haal wanneer hulle trou, maar net die eerste stukkie. Kyk na die laaste stuk, vers 7: “Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Daar is alles wat jy in jou huwelik, eintlike enige verhouding, moet toepas. Ek het dit jare gelede al my eie gemaak.

Kan jy ons vertel van ’n tyd toe jy ’n geloofskrisis beleef het en hoe jy daardeur gekom het?
Ek het nog nooit ’n geloofskrisis gehad nie. Ek vertrou die Here een honderd persent, maar ek het al tye gehad waartydens my geloof getoets is en ek Hom moes vertrou.
Ek wou al, vandat ek 12 is, babas hê. Ek wou ’n ma wees en kinders grootmaak, maar ek het gesukkel om swanger te raak. Dit het ’n ‘ding’ by my geword – ’n obsessie. Ek wou ’n kind hê. Ek was toe 23. Toe ek 25 was, het ek nog steeds nie ’n baba nie en Olaus moes na Berkley, Kalifornië, in die VSA gaan – vir verdere studie. Toe maak ek ’n kopskuif. Ek wíl nou nie meer ’n kind hê nie, want ek gaan nie daar in Amerika, ver van my ma en my dokter, my baba kry nie.
Die dag voor ons vertrek, moes ek ’n bloedtoets ondergaan en daar bevestig my dokter toe: “die koeël is deur die kerk” ek is swanger. En ek vertrek die volgende oggend! Dit het finansiële implikasies gehad: ek sou nie kon werk nie. Nou práát ek met die Here: “Hoekom moet ek nóú swanger word, noudat ek VSA toe gaan, sónder my ma en sónder my dokter?” Die volgende krisis was dat ek na ’n opleidings-hospitaal toe moes gaan. Daar het ek geleer die Here weet die beste. Dit was die beste ding wat met my kon gebeur.
Die hospitaal was met die nuutste van die nuutste toegerus. Daar was komplikasies met Werner se geboorte. Hulle kon my ’n epiduraal gee en hom vinnig met ’n keisersnee die wêreld inbring. Daardie dae was daar nie so iets soos ’n epiduraal in Suid-Afrika nie! Ek was in die hospitaal met die nuutste tegnologie tot my beskikking en die Here het geweet die geboorte gaan komplikasies hê. Beide my dogters is later ook d.m.v. keisers gebore om dieselfde rede.
Ek onthou ook so goed een ander keer toe my geloof versterk is. Ek het op ’n raad gedien waar ek ’n voorlegging oor Afrikaanse musiek moes doen. Die top ou het sy eie idees oor Afrikaanse musiek gehad en ek het geweet ek staan nie ’n kans teen hom nie. Ek is op my knieë voor die Here en ek vra Hom om my die woorde te gee, die woorde in my mond te lê. Voor in my voorlegging het ek die versie, wat vandag nog een van my gunstelinge is, geplak:
“Aan Hom wat deur Sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die Kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid, Amen.” (Ef 3:20,21). Toe ek by die vergadering kom, is die man nie eers daar nie! Nie alleen het die Here my die moed en die woorde gegee nie, Hy het ook die pad vir my gelyk gemaak!

Hoe kry jy dit reg om musiek te maak wat eie en uniek aan jou is? Watter raad het jy vir kunstenaars om nie generies en soos al die ander te klink nie?
Ek dink ek sing musiek wat my stem pas. Ek was baie gelukkig om al die jare saam met die bekende musiekregisseur, Boet Pretorius, te werk. Hy ken my stem baie goed en weet presies waartoe ek in staat is. Hy het ook altyd vir die regte repertoire gesorg.
Ek skryf ongelukkig nie self liedjies nie, maar my raad aan jong sangers sou wees dat dit baie sal help as jy self skryf. Ons het op die oomblik baie goeie sangers, maar nie baie liedjieskrywers nie. Daar is ’n groot tekort aan liedjieskrywers in Afrikaans.
Het jy enige boodskap vir ons lesers?
Hieroor kan ’n mens ’n bladsy skryf, maar as Christen kan ek maar net sê dat ’n mens moet leef soos wat Jesus geleef het en die gebod: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, uitleef.

Is jy beskikbaar om as ’n spreker op te tree? Kan mense jou kontak?
In hierdie stadium doen ek geen optredes meer nie. My man tree eersdaags af en ons wil ’n bietjie rondreis en nie gebind wees nie. Ek, Ghoempie & Ghoeghoe is wel op Facebook en mense kan my daar volg, of vir Albertus Kotze by Sony Music skakel met algemene navrae by 011 274 5000.