Ons Hoor Iets Nuuts!

‘n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan toe ek na Worcester se Instituut vir Dowes gegaan het om ‘n onderhoud met ds. Jan Oberholtzer en van sy studente te voer. Die Instituut vir Dowes is vanjaar 128 jaar oud en is in 1881 gestig. Die nuwe naam, Deaf Christian Ministry, illustreer dowes kán, dis ‘n nuwe begin met nuwe geleenthede – geleenthede wat soos deure oopmaak in die toekoms.

In ons samelewing in Suid-Afrika is daar meer as 400 000 dowe mense wat gebaretaal gebruik. Jy kan dus die vraag vra wat die missie van die Instituut vir Dowes in Suid- Afrika is? En die antwoord is: om dowe persone te bemagtig om hulle volle potensiaal te bereik deur opvoeding, ontwikkeling, beroeps – en ander opleiding aan hulpbehoewende volwasse dowes te verskaf met die oog op ekonomiese onafhanklikheid ter bevordering van hulle welsyn (lewenskwaliteit), welsynsdienste en geestlike sorg.

Ds. Jan Oberholtzer het in 2006 voltyds betrokke geraak by die DCMA (Deaf Christian Ministry Africa) Volgens ds. Jan is sy gunstelingskrifgedeelte Jes 54:10 “Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die Here jou Ontfermer”. Dié skrif het sy lewe verander.
Die boek wat hy tans besig is om te lees is: Finding the way to win, deur André Olivier en om te ontspan lees ds. Jan so wyd as moontlik. Volgens hom was sy ouma hardhorend en hulle moes met haar op ‘n spesifieke manier kommunikeer sodat sy kon verstaan wat hulle vir haar wou sê. So het hy in 1984 betrokke geraak by dowes en is in 2006 voltyds aangestel as die Hoof van die DCMA.

Is daar gemeentes in Suid Afrika wat doofstommes akkommodeer?
“Ja daar is van die NG-kerke en AGS-kerke. Die kerke is onder andere: NG De la Bat gemeente in Bellville en Worcester, Pretoria NG-gemeente vir Dowes, F-fata gemeente in Kempton Park. AGS in Pretoria Deo Gloria. Die Rooms Katolieke Kerk se Vader John Turner besoek ook die dowes”

Watter toerusting is beskikbaar vir doofstom-mense?
“Die tegnologie van vandag het al so verbeter, dink net aan selfoontoerusting. Mxit is aan die een kant ‘n euwel, maar vir die doofstommes is dit ‘n manier van vinnige kommunikasie teen ‘n baie lae koste. Internettoegang – Faceboek, visuele toerusting, dataprojektors. Gehoorapparaattoerusting het ook baie verbeter. Daar is digitale toerusting wat die mense kan gebruik. Maar nie alles is altyd bekostigbaar nie, aangesien die mediese fondse net ‘n gedeelte daarvan betaal. Daar is ‘n ‘shake awake’ wat dowes onder hulle kussings bêre om wakker te word die volgende oggend. Die ‘shake awake’ werk soos ‘n alarm”.

Is julle die enigste Instituut vir Dowes in Suid Afrika?
“Ja DCMA is die enigste in Suid-Afrika en ons werk saam met Veritas College”.

Wat is die doel van DCMA?
“Om eie gemeentes te stig –Dowes moet dowes bedien. Ons fokus is op kerkplantings en om groepe bymekaar te kry om saam kerk te hou. Weens die afstand is ‘n kerk- gebou nie altyd noodsaaklik nie, maar eerder dat dowes die Evangelie kan hoor en die Here kan aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker”.

Hoeveel studente het julle tans by die DCMA-afdeling?
“Daar is vyf studente wat vanjaar volledig bevestig gaan word in hulle afsonderlike kerke. Hulle is dan dominees of pastore in die sin dat hulle aan dowes kan bedien. Dit sal ongeveer 18 November 2009 plaasvind. Ons het twee derdejaarstudente en vanjaar het ons twee eerstejaarstudente bygekry”.

Dit was ‘n voorreg om onderhoude met van die studente te kon voer en te hoor hoe hullehul doofheid ervaar, watter uitdagings hulle het en hoe hulle by die Here uitgekom het.

Om groot te word en doof te wees, moet ‘n uidtaging wees, vertel die lesers hoe dit voel?
Elsabe: “My familie is doof, dit was dus nie ‘n groot aanpassing vir my gewees nie”.
John: “Ek het eers later besef wat dit behels en dat die geleenthede weg is. Dit was vir my ‘n groot aanpassing”.

Watter probleme het jy ervaar as kind om nie te kon hoor nie?:
Phumie: “Kommunikasie was vir my ‘n probleem. Ek moes in die koshuis bly en het dit moeilik gevind om deur die ander aanvaar te word”.
Tony: “Ek het dit weer oorkom toe ek skool toe gegaan het,gelukkig was daar ‘n persoon wat as tolk kon optree wat dit vir my baie makliker gemaak het om die wêreld tussen die horende en nie-horende te oorbrug”.

Wanneer het jy jou hart vir die Here gegee?
Rensburg: “Ek het my hart vir die Here gegee toe ek 14 jaar oud was by ‘n CSV kamp in Franschoek. Ek het ‘n stem gehoor wat gesê het: ‘Ek wil jou gebruik’ – drie keer. God wou iets doen in my lewe”.
Tony: “Ek het van kleins af nooit die Bybel verstaan nie. Eers toe ek geleer het van gebaretaal, kon ek die Boodksap begin verstaan en het ek tot bekering gekom”.

Hoe het jou geloof gehelp gedurende die moeilike tye?
Christopher: “Ek was lankal ‘n Christen wat in die Here geglo het – baie mense het my seergemaak en ek was eensaam omdat ek geen familie het nie. God het my deurgedra en my siel is vasgebind aan Hom. Jesus help my elke keer as ek bid en ek gee alles wat ek het, oor aan en vir Hom”.

Hoe het julle gelei gevoel om betrokke te raak by die bediening?
Elsabe: “Ek het my eie videowinkel besit. Die pastoor van die omgewing waar ek gebly het, het my gevra of ek nie ‘n pastoor wou word nie. Ek het eers geweier omdat ek gedink het dat ek ‘n vrou is en nie so-iets kan doen nie. Ses maande later het ek besluit om voltyds in die bediening in te gaan. Ek het alles gelos en my videowinkel verkoop – Jesus wil my álles hê, en dis wat ek vir Hom gee”.
Phumie: “Die behoefte vir dominees vir dowes in Suid-Afrika is ongelooflik groot. Daar is meer as 400 000 dowes in Suid-Afrika en net 1% word bereik deur die Evangelie. Daar is altesaam 35 skole vir dowes in Suid-Afrika. Die dowes bly soms ook ver en kom nie altyd by plekke uit waar hulle bedien kan word sodat hulle kan verstaan nie”.

Mag die Here vir julle in 2009 deure oopmaak sodat julle Jesus se laaste opdrag sal kan uitvoer Mat 42:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies


Om te Emigreer of nie

Is jy ook iemand wat geraak is deur mense wat geëmigreer het na lande soos Nieu-Seeland of Australië? Of dalk het jy of jou gesin dit al oorweeg. Dit is iets wat vandag al hoe algemener raak en tog is dit seker een van die moeilikste besluite wat ‘n mens kan neem.

Wat is die redes waarom mense wil emigreer? Van die algemeenste redes is dinge soos die geweldsituasie in ons land, die ekonomie, werksgeleenthede wat minder raak en die vooruitsig op ‘n beter lewnenskwaliteit in ‘n eerste-wêreld-land.

Maar net so, is daar redes waarom mense verkies om hier te bly. Hiervan is die vernaamste redes dat ‘n mens bly in jou bekende omgewing, dat ‘n mens jou familie en vriende naby jou het, die waarde van tradisie en kultuur en dat ons werklik ‘n mooi land het met sonskynweer.

Dit bring dikwels ‘n geweldige tweestryd in mense mee om al hierdie faktore teenoor mekaar op te weeg, of lede van die gesin kan diep daaroor verskil. Maar watter emosies lê onderliggend aan hierdie proses? Vir diegene wat in die proses van besluitneming is, is daar dikwels vrees: vrees vir die toekoms van ons land, vrees vir jou eie veiligheid en sekuriteit, maar ook vrees vir die onbekende aan die ander kant van die draad: gaan jy aanpas, gaan dit nie ‘n te groot kultuurskok wees nie, gaan jy die regte werk kry? Vir diegene wat reeds geëmigreer het, is daar die ervaing van verlies en hartseer: jou kultuur en bekende omgewing wat jy agtergelaat het, jou familie, jou vriendekring. En hierdie ervaring van verlies en hartseer geld ook vir die familielede of vriende wat agterbly: die verlies van die nabyheid van jou geliefdes.

Vrees en verlies hang in baie gevalle saam met depressie – die siekte van ons tyd. En wat is depressie? Depressie is ‘n verlies aan beheer oor jou omgewing. Jou omstandighede raak vir jou te veel en jy verloor jou hoop en entoesiasme vir die lewe.

Op ‘n nog dieper vlak, dink ek, gaan dit oor ‘n eksterne lokus van beheer teenoor ‘n interne lokus van beheer. ‘n Eksterne lokus van beheer dui daarop dat jou omstandighede of mense rondom jou, jou besluite en jou sekuriteit bepaal. As hierdie eksterne omstandighede nie genoeg sekuriteit en geluk bied nie, kan dit maklik lei tot depressie en die manier hoe jy optree teenoor jou eksterne wêreld, negatief beïnvloed. ‘n Interne lokus van beheer dui daarop dat jou sekuriteit nie afhanklik is van jou omstandighede nie, maar dat dit intern is, dat jou vreugde en sekuriteit van binne kom en dat dit bepaal hoe jy na die wêreld rondom jou kyk.

Dit laat my natuurlik dadelik dink aan Paulus wat sê: (Fil 4:11-13): “Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. (12) Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. (13) Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”

Paulus het verstaan wat dit beteken om sy vreugde in die Here en God se krag in hom te vind. Hy gaan so ver om te sê dat hy alles as waardeloos beskou, en dat om Christus te ken alles in waarde oortref (Fil 3:7-8). Daarom kon Paulus en Silas toe hulle in die tronk was, die Here loof en prys midde-in hulle omstandighede (Hand 16:25).

Maar daarmee probeer ek nie ‘n goedkoop antwoord gee vir mense wat moeilike besluite oor hierdie saak moet neem of vir diegene wat ‘n gevoel van depressie ervaar nie. Die antwoord lê nie in ‘ruk jouself reg’ of in ‘moenie na jou omstandighede kyk nie’. Die antwoord lê daarin om ‘n lewenswyse te ontwikkel waarin jy toelaat dat jou denke vernuwe word (Rom 12:1-2) ooreenkomstig die hoop in jou, selfs binne-in moeilike omstandighede (vgl. 1 Pet 3:14-15). Dit hang saam met geestesvermoëns wat deur die gewoonte geoefen word (Heb 5:14). Daardeur ontwikkel mens, deur die krag van die Here, die vermoë om te lewe ooreenkomstig die nuwe lewe wat God by wedergeboorte in jou geskep het. Dit gaan daaroor dat ons oë nie op die sigbare is nie, maar op die onsigbare:

2 Kor 4:17-18 “Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; (18) omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”

Hartseer en ‘n ervaring van verlies is ook nie iets wat mens net kan afskud asof dit nie daar is nie, maar dit is makliker om in die genesingsproses jou gedagtes te rig op die dinge te rig wat daarbo is en jou vreugde en jou geborgenheid as mens in jou verhouding met die Here vind:

Kol 3:2-3 “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. (3) Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.”

Elke mens wil gelukkig wees in sy omgewing en in dit wat hy doen. Ons weet dat niks wat hierdie wêreld bied, ons ooit diepere geluk kan bring nie, maar dat werklike vreugde en vervulling in ons verhouding met die Here lê. Fil 4:4 sê: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” Slegs dan kan ons in ware oorwinning leef in ons omstandighede (sien Fil 4:13).

Baie van ons is op soek na die wil van die Here vir ons lewe, maar ons verwagting is dikwels dat die Here ons as’t ware met ‘n weerligstraal sal antwoord. Rom 12:1-2 sê dat ons die wil van die Here leer ken wanneer ons ons liggame gee as lewende en heilige offers en toelaat dat Sy Gees ons denke vernuwe. Ons wil dit dikwels onbewustelik andersom hê en eers sien dat óns omstandighede uitgesorteer is, voordat ons Hóm met oorgawe wil volg in alles. Of ons wag vir die spreekwoordelike skip wat moet inkom. Dit vra verseker ‘n offer om jou totale lewe aan God te gee, maar veral jou liggaam, want jou liggaam is verbonde aan hierdie wêreld. Dit is verbonde aan die begeertes en behoeftes van hierdie lewe: wat sal ek eet, wat sal ek aantrek, waar sal ek bly? Dit is alles natuurlike behoeftes wat almal het en tog se Jesus: (Luk 12:22-23) “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. (23) Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere.” Later in dieselfde gedeelte sê Hy (Luk 12:31): “Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Dalk staan jy in die middel van ‘n belangrike besluit oor of jy wíl verhuis na ‘n ander land toe, of dalk is jy al daardeur, of mense naby aan jou is dalk al daardeur. Skryf gerus aan my en deel jou ervarings hieroor by philip@truthexposed.co.za


Moeilike Tye

Dat tye baie verander het – veral in Suid-Afrika – kan niemand oor stry nie. Ons kinders kan nie sommer meer met fietse in strate ry, bioskoop toe gaan of sommer net by maatjies gaan kuier nie. Jy kan ook nie sommer meer enige storieboek of dvd vir hulle koop nie.

Grootmense se gesprekke gaan deesdae óf oor rugby óf geweld óf oor een of ander stygende prys wat dreig om die brood van die tafel en klere van ons lywe te stroop; die nuutste kaping of slimste inbraak in die buurt. Al meer en meer mense word vasgevang deur ’n vreesagtige wurggreep wat jou na die naaste “houer” wil laat soek wat Australië toe gaan.

Op die wêreldverhoog lyk dit of die VSA se boot begin sink en al die slim geldmense en tydskrifte skets ’n al donkerder prentjie vir wêreld-ekonomieë wat op die sinkende doller sal volg. Zimbabwe se ongeregtigheid laat Suid-Afrikaners se kele toetrek, want êrens in ons agterkoppe wonder ons steeds of dit hier ook gaan gebeur.

Die olie-magnate het ná President Bush se toespraak op “wêrelddag” oor die VSA se meganisering deur waterstof, gesorg dat die oliekraan toegedraai word wat die pryse deur die dak laat skiet het. Ons voel almal die druk daarvan wanneer ons nou ons vakansieplanne moet aanpas. Achmedinajad van Iran se blatante arrogansie met die ontwikkeling van sy kernreaktors en dreigende uitsprake om Israel van die aardbol af te vee, bring ’n verwardheid tussen die yster en klei van die verenigde nasies wat nie kan meng nie.

By dit alles lyk dit of die natuur die skripsie van die wêreldkrisis gelees het – dis koud wanneer dit moet warm wees; die ys op die Pole smelt; die water styg en eilande verdwyn; die aardbewings word al groter en al meer; oorstromings en tsunamis verdelg miljoene mense. Die mens doen ál wat hy kan om te keer dat dreigende siekte-epidemies nie uitbreek wat miljoene sal uitwis nie. Vigs en malaria, tering, tuberkulose en longontsteking word al weerstandiger en lyk of dit tong uitsteek vir die mediese wetenskap …. voorwaar genoeg om gewone mense na alkohol en pille te dryf.

MAAR
As ons ook maar net ‘gewone’ mense was wat in die duister rondloop sonder hoop en sonder vrede; dan was dit dalk ’n opsie … maar ons is nie ‘gewone’ mense nie. Ons is ‘n “uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry om te verkondig die deugde (voordele) van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot Sy wonderbare lig (1 Pet 2:9).

Die Woord het ons reeds voorberei dat hierdie dinge gaan kom en dis nog net die begin van die geboortepyne voordat ons Jesus in die wolke sal ontmoet (1 Tess 4:16 – 18). Die Here het ons voorberei dat ons moet oppas vir onsself – kyk mooi: nie die duiwel nie, maar jouself – dat jou hart nie beswaard word deur losbandige partytjies, dronkenskap en die sorge van die lewe nie en dié dag jul nie skielik sal oorval nie (Luk 21:34). Paulus het aan die Korinthiërs ook hierdie prentjie geskets en gesê dat hy nie elke dag weet of dit sy laaste is nie, en hy het gesê as daar geen hoop of toekoms was nie; dan was dit beter om hom aan drank oor te gee (1Kor 15:13 – 35) …. maar dan sê hy ook eintlik dis nou sommer ‘mampara-praatjies’ … hy sê: “wees nugter en sondig nie” … leer God ken en die vrees sal verdwyn.

Jy sien, Jesus het in (Luk 21:25 – 26) vir ons gesê dat daar tekens in die natuur sal kom, die nasies sal benoud wees as die see en branders dreun en die mense se harte sal beswyk van vrees en verwagting oor die dinge wat oor die wêreld sal kom … en hier is dit nou die begin daarvan. Is dit nie wonderbaarlik dat ons God ons vooruit gesê het hoe dit sal wees nie. Maak dit jou nie ook opgewonde dat hy presies weet waardeur ons gaan nie? Die aarde het geen pyn wat nie in die hemel gevoel word nie. Jesus het ‘n ‘passie’ vir ons pyn en Hy sê ons moet waak en bid (Luk 21:36) dat ons AL die dinge wat gaan kom kan ontvlug en voor Hom kan staan vir ons prysuitdeling (1 Kor 3:13 – 15).

Hy sê m.a.w. moenie ‘jol’ en drink nie … maar “waak en bid” … ons waak oor ons gedagtes en neem elke negatiewe ding gevange (2 Kor 10:3 – 6). Ons leen nie ons ore uit vir stories wat vrees kweek nie en ons bid om God die outoriteit te gee om ons lewens te beheer en in ons sake in te gryp. Sy oë deursoek die aarde om jou kragtig te steun (2 Kron 16:9) … Hy staan en klop, God is ’n ware heer… Hy skop nie jou deur af nie … Hy vra jou toestemming om jou te help. Hy sê julle kry nie, want julle bid nie reg nie! (Jak 4:1-4). Jesus sê in Lukas 18:1 ons moet aanmekaar bid en nie moedeloos word nie. Hoekom ? Dit verander jou sake.

Ten slotte … Jesus beloof ons dat hy ons SAL kom haal (Joh 14). Hy sê nie hy gaan ons die slegte dinge spaar nie, maar Hy is in al hierdie dinge met ons of ons lewe of sterwe. Christus moet in albei verheerlik word (Fil 1:20); daarom moet ons nie murmureer en altyd bakleierig wees nie. Ons moet kinders van God wees wat skyn soos ligte te midde van ’n krom en verdraaide geslag (Fil 2:14-15 – vry vertaal).

Jy is wat jy eet. Wat eet jy? Wat drink jy? Sy bloed … Sy liggaam?

Jy sal word wat jy eet! (Joh 6:53-57).

Danie

En Hy het met ‘n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! (Joh. 11:43)
Jesus se stem roep hierdie woorde waarvoor selfs die dood moes swig.
Martha en Maria het deur die seer van vier dae se rou gegaan. Geween. Gewonder? En alle hoop laat vaar…

2009…En omstandighede het in sóveel Suid-Afrikaners se harte ’n doodsdolk van wanhoop kom steek…

Daar wás en ís soveel beloftes van genesing vir ons mooi land. Soveel hoop en geloof dat ’n reënboog weer oor hierdie nasie se vlag sal skyn. Maar misdaad, moord en rentekoerse is op elke oggend se voorblad. Geestelike en morele verval sien ons op bykans elke tv-kanaal en oral rondom ons. Natuurrampe, siektes, hongersnode en op die horison loer die gevolge van aardverwarming soos ’n monster wat wil toeslaan. Dit alles binne die raamwerk van ’n besige en gejaagde daaglikse lewe. Teleurstelling is in die harte van gelowiges en ongelowiges. Bekommernis en vrees oor ’n hoopvolle toekoms.

Waar anker mens jouself in hierdie stormsterk-maalkolk van onsekerheid? Sekerlik bid duisende christene daagliks Martha en Maria se gebed; “Here, as U hier was, sou ons broer nie gesterf het nie!”….

Die waarheid? Jesus wás daar! Vier dae later as wat almal verwag het. Maar vier dae kon nie ’n verskil maak aan die opstandingskrag van Sy Woord nie! As Hy roep, bedaar die storm!
“Toe Jesus haar sien ween en die Jode sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel…..Jesus het geween.” (Joh. 11: 33-35).
Hy het hulle seer gesien en gevoel. Hy het geweet! En Hy was daar!

Hoop beskaam nie. Want hoop is die anker van die siel. Solank as wat daar hoop is, is daar geloof.

Ek weet daar kom ’n dag dat Jesus met ’n groot stem die wanhoop en ongeloof uit jou hartsgraf gaan roep! Dan kan ons, soos Petrus, in geloof op die water loop; al is die storm nog rondom ons. Dan maak die grootte van die golwe nie saak nie, want ons oë is op Hom! Hy wat saam met ons kan huil. Wat ’n begrafnis bywoon. Wat, al is dit al vier dae te ‘laat’, steeds ’n grafsteen wegrol! Wat net soos vir Martha, vandag ook vir jou en my sê: “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?” (Joh. 11:40)

Te midde van die feite op dagblaaie, te midde van moedeloosheid en wanhoop, sien ons op die horison reeds die Belofte wat aangestap kom! Ook na ons eie unieke seer toe. Om van naderby saam met ons te huil. Nuwe geloof in ons harte te wek. Herlewing oor ons land te roep! Hoop beskaam nie, want ons God leef!

Daleen.


Finansies en Jou Huwelik

Feite oor Doen en Karin du Toit:
• Troudatum: 5 Maart 1977
• Kinders: Twee seuns, Renier, getroud met Tanya. Hulle het twee seuns, Neill (6 jaar oud) en Tian (3 jaar oud). Ruan, getroud met Nadia en het drie kinders: Zhuanel (8 jaar oud) Divan (5 jaar oud) en Juan (18 maande).
• Wie en wat is Huweliksfokus: Deon en Karin het in Junie 1994 hul eerste Huwelikseminaar bygewoon en daar vir die eerste keer die Here as Verlosser aangeneem. Hulle het in 1998 as spanlede by Huweliksfokus aangesluit en as deeltydse sprekers opgetree. Sedert Januarie 2002 staan hulle voltyds aan die hoof van Huweliksfokus. Huweliksfokus is onder die beskerming van Brink en Alet Gardner, dr. Arnold Mol, Nevil Norden & ds. Dirkie van der Spuy.
• Wat is Huweliksfokus se visie: Om jou huwelik te belyn met God se plan.
• Wat is hul persoonlike visie: Deon en Karin het ‘n visie saam met hulle kinders en kleinkinders, nl. om mekaar se beste vriende te wees tot God hulle kom haal. Hulle persoonlike visie is om navolgers van Jesus Christus te wees sodat ander dit deur hulle lewens sal raaksien.

Graag deel hulle ondervindings wat hulle opgedoen het met paartjies wat al gekom het vir berading en ook die wat hulle kursusse bygewoon het. Na hul mening is die grootse rede hoekom huwelike swaarkry, beslis finansies.

Hoe, volgens julle, redeneer die meeste egpare?
Egpare dink verkeerdelik dat ’n tekort aan geld die probleme in die verhouding veroorsaak. In werklikheid gaan dit eerder oor die volgende:
• Hulle kan nie kommunikeer oor die werklike probleem sonder om mekaar skuldig te probeer maak nie;
• Hulle wil nie hul eie skuld en verantwoordelikheid erken nie;
• Hulle gee meer uit as wat hulle verdien;
• Hulle werk nie volgens ‘n begroting nie;
• Hulle verstaan nie dat ‘n emosionele leemte in hul lewens tot emosionele spandering kan lei nie;
• Hulle dink dat vreugde in die lewe gaan oor dit wat hulle kan koop of besit i.p.v. dit wie hulle is en waarvoor God hulle wil gebruik op die aarde;
• Mense wat tans in krisisse sit as gevolg van die ekonomiese druk, is nie bereid om drasties af te skaal nie.

Die oplossing vir die meeste uitdagings, ook in finansies, begin by wie jy is en wat jou skeppingsdoel op aarde is. Geen kontantbedrag kan mense se finansiële krisis permanent oplos nie. In die meeste gevalle skuif dit die oorspronklike probleem uit met ‘n paar maande en voor hulle hulle oë uitvee, is daar weer geldnood. Die Bybelse waarheid is in Psalm 24: 1 en Haggai 2:8 Dat alles aan die Here behoort. “ Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die Here van die leerskare”
Om werklik die finansiële knyptang se houvas te verbreek, begin by ‘n baie diep selfondersoek:

Wie is ek vandag en wie wil ek wees?
Wie is ek vandag?
• Is ek ontevrede en onvergenoegd met my huidige omstandighede;
• Is ek jaloers op ander se besittings;
• Is ek skaam vir wat ek besit en hoe ek en my gesin lyk;
• Voel ek ek is op meer geregtig;
• Voel ek ingedoen deur die lewe;
• Plaas ek die skuld vir my omstandighede op ander.
As jy dalk ‘ja’ antwoord op van hierdie vrae, moenie skuldig voel nie! Die feit dat jy dit kon identifiseer, is klaar ‘n massiewe oorwinning. Baie geluk. Nou kom die moeilike deel: wat gaan jy doen daaromtrent?

Begin by wie jy graag wil wees, nie wat jy wil besit nie:
• Ek wil ‘n vergenoegde, tevrede persoon wees;
• Ek wil rustigheid en vrede uitstraal;
• Ek wil alle mense met God se liefde bedien;
• Ek wil hê mense moet veilig voel by my;
• Ek wil nie deur spanning en angs beheer word nie, maar deur God se liefde;
• Ek wil nie altyd baklei en kort van draad wees nie, maar lankmoedig en vredeliewend.

Daar is ook stappe wat mens kan neem tot finansiële herstel:

1. Moenie terug gaan na Egipte toe nie. (Jeremia 42). Baie mense sit in finansiële krisis omdat hulle ongehoorsaam is aan God. In die skrifgedeelte sê Jeremia dat die volk probleme het as gevolg van afvalligheid. As hulle dink die oplossing lê in terugkeer na Egipte, maak hulle ‘n fout, want die Here sal die swaarkry hulle laat volg. Die antwoord lê in bekering tot God en werklike verootmoediging voor God. Hy sal dan die uitkoms gee
2. 2. Moenie jou saad eet nie. (1 Korintiers 9:10) Soos bo, is die bedoeling dat die lesers die skrif moet gaan lees. God gee saad om te saai en brood om te eet. Van elke sent wat ek ontvang uit God se hand uit moet ‘n gedeelte gaan om vir my en my gesin kos te koop, met ander woorde: algemene versorging, MAAR ‘n gedeelte moet as saad gesien word wat weer in die grond gesit moet word sodat dit ‘n oes kan word oor ‘n seisoen.
3. Begin om stelselmatig uit jou skuld uit te kom. En dit kan jare neem. Moenie moedeloos raak nie, glo God wanneer hy sê: Wees aan niemand iets verskuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê.
4. Verlustig jou in Hom en Hy sal jou gee die begeertes van jou hart. Dit beteken nie die begeerte na bv.’n nuwe huis nie, maar ‘n nuwe begeerte bv. om Hom te dien, om goed te doen, om lief te hê en te vergewe.
5. Soek allereers die Koningkryk van God.

Wat kan ons prakties doen om uit ons penarie te kom?
Begin, soos Moses, by die brandende braambos – by die begin. Skryf jou doelwitte en beginsels neer. Geniet dit wat jy doen deur te saai en harder te werk. Dis wys om raad by ander mense wat die pad al gestap het, te gaan soek.

Skryf neer presies wat jou bates en laste is.
Neem in ag dat daar net drie dinge is wat ek met my geld kan doen:
Harder werk en meer geld maak;
My skuld afbetaal om meer kontant te hê;
Goedere en besittings verkoop.

Besluit oor die bogenoemde en wat jy wil doen om meer kontant in jou hand te kan kry. As dit vir jou te moeilik is om die besluit te neem, moet jy by ‘n finansiële adviseur uitkom vir hulp.
Onthou alles behoort aan God – so gee oor aan Hom. En moenie bekommerd wees nie, maar bid daaroor! “ Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles, Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.” Fil 4:6.