Wie Het Jesus Doodgemaak?

Gedurende hierdie Paasseisoen, terwyl ons herinner word aan wat Christus aan die kruis gely het, móét ons hierdie vraag baie goed oordink: Wie is vir Christus se lyding verantwoordelik?
As ons die Evangelies lees of na ‘The Passion of the Christ’ kyk, moet hierdie vraag een van die kardinale vrae in ons gemoed wees: Wie het Jesus doodgemaak? Blameer ons die Romeinse soldate? Dit was tog hulle wat hom aan die kruis gespyker het.

WAS DIT PILATUS?
Dit was tog sekerlik die Romeinse goe¬werneur, Pontius Pilatus wat hiervoor ver-antwoordelik was? Nét Hy het die mag gehad om die doodstraf af te dwing. Dit was hy, as Goewerneur van die Romeinse Ryk, wat verklaar het: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.” Joh 19:4.
Tog het hy onder druk ingegee en ‘n onskuldige man veroordeel, ten einde politieke dienstigheid te betoon en gewild¬heid onder die Jode te geniet. Dit was ‘n beteke-nislose daad om sy hande in ‘onskuld te was’ – Matt 27:24. Hoe skyn¬heilig tog! Hy was die Romeinse goe¬werneur. As die hoogste ge¬sag in die land het hy verklaar:
“Julle het hierdie man voor my gebring as iemand wat die volk opgesweep het om te rebelleer. Ek het Hom voor julle oë ondervra en ek het geen gronde gekry vir die aanklag waarvan julle hom beskuldig nie. Herodes het ook nie gronde gekry nie, want hy het Hom teruggestuur na ons toe. Let ook daarop, hy het niks gedoen wat die doodstraf verdien nie.” Luk 23:14.

DIE SKARE?
Wat van die skare in die straat? Hulle was tog die mense wat druk op Pilatus uitgeoefen het om Jesus ter dood te veroordeel! “Die hele volk het teruggeskree: ‘Ons neem verantwoordelikheid vir Sy dood – ons en ons na¬geslag.’” Matt 27:25.

DIE GODSDIENSTIGE LEIERS?
Dit was egter die geestelike leiers wat die saak teen Jesus geïnisieer het. Dit was hulle wat die skare aangespoor het om te skree dat Barabbas vrygelaat moet word en dat Jesus aan die kruis moes hang. (Matt 26:3-4; Luk 22:3-4; Joh 7:32).

“Een van die destydse gevangenes was Barabbas. Hy was saam met die ander veroordeel weens ‘n moord wat hulle tydens ‘n opstand gepleeg het…In hierdie stadium het die leierpriesters die skare egter aangehits om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moes vrylaat.” Mark 15:7, 11.

“Die mense het egter met oorverdowende stemme aanhou roep en eis dat Jesus gekruisig moes word. Hulle geskree het die oorhand gekry. Pilatus het daarop besluit dat hulle versoek uitgevoer moes word. Hy het die man wat as gevolg van ‘n opstand en ‘n moord in die tronk gegooi was, vrygelaat soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy volgens hulle wens oorgele¬wer.” Luk 23: 23-25.

DAAR WAS OOK JUDAS…
En natuurlik, dit was Judas wat Jesus verraai het – vir 30 silwer geldstukke. Judas was een van die Meester se 12 vertroude dissipels, maar hy het die verraaier geword. Dit is deesdae baie algemeen dat Hollywoord-produksies baie simpatiek teenoor Judas staan, maar die Bybel is baie duidelik: Judas was baie hebsugtig (Matt 26:14-15); vals (Luk 22:47-48); oneerlik en skynheilig (Joh 12:5-6).

LEIERS BLY OOR VERRAAD
Die Bybel is baie duidelik daaroor – Judas het Jesus verraai (Matt 10:4). Judas het die leierpriesters gevra: “Wat is julle bereid om my te betaal as ek Jesus aan julle besorg?” Hulle het hom toe 30 silwer geldstukke aangebied.” Matt 26:15. Die Bybel meld verder ook dat die leierpriesters verheug was oor Judas se verraad (Mark 14:11).
Alhoewel Judas die verraaier van die twaalf was, wat voorgegee het dat hy besorgd oor die armes was, openbaar die Woord dat hy eintlik ‘n dief was wat van Jesus self geld gesteel het. (Joh 12:4-6).

Hy was beslis nie ‘n slagoffer van omstandig¬hede wat dinge goed bedoel het nie, hy was ‘n kwaadwillige verraaier. Die Evangelie van Johannes sê in hoofstuk 13:27: “…het die satan van hom besit geneem.” Jesus is deur Judas verraai! En tog, was dit nie God se Wil dat Christus aan die Kruis moes ly nie? Jesus het in die tuin van Getsemane gebid: “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie My Wil nie, maar U Wil geld.” Luk 22:42.

WAS DIT JESUS?
Ons moet egter ook vra of dit nie Jesus Self was wat vir Sy eie dood verantwoordelik was nie? Jesus het verklaar: “En Ek gee My lewe vir die skape…Niemand ontneem My my lewe nie, maar Ek offer dit uit My eie op. Ek het die volmag om dit op te offer en Ek het die volmag om dit weer op te neem.

Dit is die opdrag wat Ek van die Vader ontvang het.” Joh 10:15-18. Ons Heer was nie ‘n slagoffer nie, Hy was ook nie ‘n martelaar nie. Hy was ‘n vrywillige offer – ‘n Versoening – vir ons sonde.

DIT WAS VIR ONS SONDE
Alles in ag geneem, was dit nie ons sonde, myne en joune, wat verantwoordelik was vir die smart en die soendood van Jesus aan die Kruis nie? Dit was vir mý sonde dat Hy gely en gesterf het! “Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes. Hy is gestraf sodat ons in vrede kon leef. Hy is ge¬slaan sodat ons gesond kon word.

Almal van ons het weggedwaal soos ‘n klomp skape. Ons het God se paaie verlaat om ons eie te volg. En toe het die Here ons almal se skuld en sondes op Hom laat neerkom. Hy is geslaan en mishandel, maar Hy het Sy mond nie oopgemaak nie. Hy is soos ‘n lam wat ter slagting gelei word.
Soos ‘n skaap stil is voor sy skeerders, so het Hý Sy mond nie oopgemaak nie. Hy is verdruk, skuldig bevind, en weggelei na Sy dood. Wie van Sy mense het besef dat Hy vir hulle sondes dood¬gemaak word? Dat Hy eintlik in hulle plek gestraf word… Hy het die sondes van baie gedra en vir sondaars gebid.” Jes 53:5-12.

PLAASVERVANGENDE DOOD
Jesus Christus is ons Paaslam (1 Kor 5:6-8); ons Sondoffer (Rom 8:3); ons Soenoffer (Rom 3:25). Toe Christus, die perfekte Seun van God, ‘n Lam sonder vlek (1 Pet 1:19) Sy kosbare bloed vir ons gestort het en aan die Kruis gehang het, was dit ‘n plaasvervangende dood. Hy het in ons plek gesterf (1 Pet 3:18), die onskuldige vir die skuldige; die regverdige in die plek van die onregverdige.

1 Joh 4:10 lees: “Dit is ware liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en Sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem.” God is ‘n Heilige God en Sy regverdige standaarde word deur Sy Wet weerspieël.

Ons is sondig en het nodig om ons sonde te bely en ons vertroue in Hom te stel. Het jy jou eie sondigheid en tekort¬kominge voor die Almagtige God bely? Het jy al vir Hom dankie gesê dat Hy aan die kruis vir jou sonde gehang het? Jesus het vir jou gesterf. Leef jy vir Hom?


Stormie Omartian

Sy is sonder twyfel die bekendste skryfster oor gebed en haar boeke verkoop soos die spreekwoordelike soetkoek. Sy is iemand met vele talente – sy sing, sy dans en sy is ook ‘n bobaaskok. Stormie Omartian het aan JUIG! ‘n eksklu¬siewe onderhoud toegestaan tussen die verskeie sperdatums en afsprake deur.

HET JY IN ‘N CHRISTENHUIS OPGEGROEI?
Ek is seker albei my ouers het in God geglo, maar hulle het nooit kerk toe gegaan nie. My ma sou my soms, miskien een keer per jaar, kerk toe neem. Dit was gewoonlik òf Kersfees òf Paasfees. Toe ek 14 was, het my ma ‘n groot familiebybel gekoop en ons twee het omtrent vir ‘n jaar lank gereeld kerk toe gegaan.
Toe, ewe skielik, het sy die Bybel weggegooi en dit was die laaste keer dat ons ons voete in die kerk gesit het. Ek het my ouers nooit sien bid nie – om nie eens te praat van wedergeboorte of ‘n persoonlike verhou¬ding met die lewende God nie! Maar ek glo hulle is in die hemel omdat hulle in God geglo het.

WANNEER EN HOE HET JY JESUS AS VERLOSSER EN SALIGMAKER AANGENEEM?
Omdat my ma geestelik siek was, het ek met baie fisieke en verbale mishandeling grootgeword. In my vroeë kleuterjare het sy my gereeld in ‘n kas toegesluit. Ek het dus as hartseer en depressiewe mens opgegroei. Ek het met angs en vrees gesukkel. Namate ek ouer geword het, het my depressie vererger. Ek het alkohol en dwelms gebruik en by die okkulte betrokke geraak, maar niks kon daardie toestand wegneem nie. Op 28 het ‘n vriendin my geneem om haar pastoor te ontmoet.
Hy het my drie boeke gegee om te lees: een oor die krag van die Heilige Gees; een oor die werklikheid van die bose en die laaste was die Evangelie van Johannes in boekvorm. Na ‘n week is ek terug na hom toe en op sy vraag het ek geantwoord dat daardie boeke die Waarheid bevat. Ek het Jesus daardie dag in sy kantoor aan-geneem.

HET JY DAAGLIKS ‘N SPESIALE TYD WAT JY AS PERSOONLIKE GEBEDSTYD OPSY SIT?
Ek probeer om so vroeg as moontlik elke dag te bid. Ek bid ook deur die dag oor wat ookal oor my pad kom – terwyl ek kook, iewers heen ry, terwyl ek opwaswerk tuis doen. Daar is so baie dinge om oor en voor te bid. Indien ek dalk vroeg iewers heen moet vlieg, bid ek gou as ek opstaan, maar ek probeer dan om gedurende die dag tyd te vind om in Sy Teenwoordigheid te verkeer. Ek spandeer ook altyd my tyd op vlugte deur my Bybel te lees en te bid.

JY HET EENS MET DEPRESSIE GESUKKEL EN HET DEUR ‘BEVRYDING’GEGAAN. KAN JY DIé ‘PROSES’ AAN ONS LESERS VERDUIDELIK? DINK JY BEVRYDING IS NOODSAAKLIK OM LOS TE KOM UIT BINDINGS WAT IN ‘N PERSOON SE LEWE MAG WEES?
Ek het met depressie gesukkel solank as wat ek kan onthou, selfs nadat ek Jesus as Verlosser aangeneem het. Ek kon nie verstaan hoekom dit vererger het nie. My man het voorgestel dat ek die beradingspan by die kerk besoek. Daar was uitstekende vroulike Christen-beraders wat die Skrif goed geken het, sterk in geloof gestaan het en die gawe gehad het om mense in God se Naam vry te maak. Nadat ek alles wat in my lewe gebeur het aan my berader, Mary-Anne, vertel het, moes ek 3 dae vas en bid. Sy sou saam met my vas. Na drie dae is ek terug na haar kantoor toe en ek moes al my sonde bely, veral my betrokkenheid by die okkulte. Ek het dit lankal nie meer beoefen nie, maar het dit nog nooit as sonde voor die Here bely nie. Ek moes ook my onvergewensgesindheid teenoor my ma bely.

Daarna het die Here met my deur die berader gepraat: “My kind, jy is jou hele lewe in ‘n kas opgesluit – fisiek en emosioneel – maar Ek het die sleutel.” Mary-Anne het gebid dat ek sou vrykom van depressie en die oomblik toe sy dit gebid het, het ek letterlik gevoel hoe die depressie lig.

Van daardie dag af het ek nog nooit weer daarmee gesukkel nie. Ek sê nie hiermee dat ek nooit weer daarna ‘af’ gevoel het nie, maar depressie het my nooit weer daarna beheer nie. Ek kon Hom daarvoor prys! Dit is vir elkeen van ons ontsaglik belangrik om vry te kom van dinge wat ons verhoed om in Sy Volheid te leef.

JY HET 10 ‘GEBEDSBOEKE’ GESKRYF. HOEKOM IS GEBED SO BELANGRIK?
Tydens my bevryding het ek besef hoe kragtig gebed is. As Hy dit vir my kon doen, wat kon Hy nie nóg in my lewe doen nie? Ek en my man het groepleiers by ons kerk geword en ‘n selgroep tuis gehad. Michael het die sang en die boodskap hanteer en ek het die gebed behartig. Daar was elke keer so baie gebedsversoeke dat dit nie alles in een aand kon inpas nie.

Ons het later een samekoms per maand nét vir gebed gehad. Dit was so gewild dat ons dikwels tot eenuur, twee-uur in die oggend gebid het. Ek het toe ook ander groepe begin – om vir kinders, getroude pare, mense in die bediening, ens. te bid. En dit is waar my gebedsboeke begin het: dis gebaseer op wat ek tydens daardie wonderlike gebedstye geleer het!

WAT IS VIR JOU DIE GROOTSTE UITDAGING IN JOU BEDIENG?
Liggaamlike swakheid, veral noudat ek ouer word. Ek het net nie meer die stamina en uithouvermoë om te doen wat ek moet nie. Veral die reis is uitputtend, maar God se Genade is groot en Hy help my telkens.

KAN JY VIR ONS ‘N PAAR PRAKTIESE WENKE GEE HOE PAARTJIES SAAM KAN BID?
Dis eenvoudig: gaan sit net saam en bid. Baie paartjies doen dit nie omdat hulle verleë of selfbewus voel om in mekaar se teenwoordigheid te bid. Hulle voel dalk hulle moet net so goed en ‘verhewe’ bid soos die predikant of pastoor.

Hulle voel hulle kan nie met God in ‘gewone’ taal praat nie. Dis nie waar nie. Gebed is tog om jou hart voor God te ontbloot. Jul¬le sal ook vind dat as julle saam bid, julle verhouding intiemer word – julle word al hoe liewer vir mekaar juis omdat julle sáám jul harte voor Hom oopmaak.

WAT, NA JOU MENING, IS DIE ROL VAN DIE CHRISTENVROU IN DIE MODERNE SAMELEWING?
Christene, mans en vrouens, is baie belang¬rik. Mense besef nie wat die krag is wat in gebed van Christene opgesluit lê nie. Christenvroue veral, moet die lig wees wat mense nadertrek en aanmoedig om die Here te soek.

Ek dink dat veral vrouens wat baie tyd in gebed deurbring, ‘n liefde vir God het en daarom bereid is om diensbaar te wees. Ek glo elke vrou het ‘n roeping om in gebed in te tree – soos Ester – sodat dié wat in die wêreld om haar leef, gered kan word.

ENIGE NUWE BOEKE IN DIE VOORUITSIG?
Ek is altyd besig om te skryf, altyd besig met ‘n nuwe projek en dit maak my die gelukkigste. Ek geniet dit. Daar is drie boeke wat in 2010 verskyn – ‘n kinderboek God Cares About the Way I Feel, ‘n ‘kort’ boekie Ten Minutes to Powerful Prayer, en dan ook The Power of a Praying Life. Die nuutste boek wat tans op die rak is, is The Power of Praying for Your Adult Children. Dit is voorwaar ‘n uitdaging om vir volwasse kinders te bid, enigeen in dié situasie sal weet.

BEPLAN JY ‘N BESOEK AAN SUID-AFRIKA IN DIE AFSIENBARE TOEKOMS?
Ek het SA in 1967 besoek – die jaar toe die eerste hart oorgeplant is. Dit is ‘n pragtige en fassinerende land en die mense is warm en vriendelik. Ek wou al weer kom besoek aflê, maar die lang vlug asook die feit dat my dagboek so lank vooruit so vol bespreek is, verhoed dat ek binnekort daar sal uitkom.


Het Ons God Se Wet Nodig?

Verbeel jou dat jy deel was van die Israeliete wat so pas uit Egipte vrygekom het. Jy het die ongelooflike krag van God met jou eie oë aanskou. Jy het in eerbied gekyk hoe die water van die Rooi See verdeel het en jy en jou landgenote op droë grond deurgestap het.

Veilig aan die anderkant, het julle weer gesien hoe die see na normaal terugkeer en die verskrikte en bevreesde Egiptenare verswelg het. Jy het die manna wat God uit die hemel gestuur het vir julle om te eet, geproe en die water wat uit die rots gevloei het op Sy bevel, gedrink. Ja, jy het God se krag om te red, gesond te maak en te voed, gesien en ervaar. Jy het ook gesien hoe Hy kan uitroei en uitdelg.

HEILLIGE ONTSAG VAN GOD
En nou, nou staan jy saam met die volk voor die berg van God – Sinaï! Dit is omhul deur rook en wolke, amper soos rook wat uit ‘n vuurwarm oond kom. Skielik is daar weerlig. Donder. Die berg skud en bewe. En jy – jy sidder. Jy val op jou aangesig neer saam met al die ander en skreeu aan Moses: “Jy moet maar met ons praat. Ons sal na jou luis¬ter. Moenie dat God self met ons praat nie. Ons sal dan sterf.” Eksodus 20:19.

GOD PRAAT MET DIE VOLK
Wat ‘n ongelooflike dag toe die Almagtige God Self op hierdie reuse graniettroon kom sit het en Sy Wet aan die volk deurgegee het! Dit was die instruksies tot effektiewe leefwyse van die Skepper Self! Hierdie keer het God nie die stem van ‘n profeet gebruik nie, maar in Sy eie stem gepraat.
Hy het nie die vinger van ‘n griffier gebruik nie, maar met Sy vinger op die kliptafels geskryf. Dit was God se Tien Gebooie, Sy morele Wette vir die hele mensdom. En jy – jy wat op jou aangesig in die stof gelê het toe die berg geskud het, sal dit nooit ooit eers waag om daaraan te dink om hierdie wette te oortree nie. Want, het jy nie met jou eie oë aanskou wat gebeur met diegene wat nie na God luister nie? En jou landgenote, die wat saam met jou onder die verdrukking van die Farao uitgetrek het, het heilige ontsag vir en gehoorsaamheid aan God gehad.

HARTSGESINDHEID VER¬ANDER
Maar… sedert daardie dag wat God Sy Wet aan die mens deurgegee het, het so baie nasies en individue hulle teen hierdie Wet verset. Die nalatenskap van dié verset kan vandag gevind word in hospitale, tronke, sielsiektehuise, oorlogslagvelde en die ander ‘glyplekke’ van die lewe.
Wat duisende jare gelede waar was, geld vandag nog. Jy kan die Wet van God nie verbreek nie; jy kan jouself egter daarop breek. God sê: “Jy mag nie moor nie,” “Jy mag nie steel nie.” Die moderne samele¬wing het sy rug op God gedraai en ‘n wêreld geskep waar baie min mense deesdae nog weet wat regtig reg en verkeerd is. Diefstal en moord is aan die orde van die dag.

DRAMATIESE GEVOLGE
Dit wil soms voorkom asof die hele samelewing die rug op God se Wet gekeer het, met baie onaangename gevolge. Mense tree op asof die Wet van God ‘passé’ – ‘n oorblyfsel uit vergange se dae – is. Maar die waarheid is dat hierdie wette die lym is wat ons samelewing aanmekaar hou. Ons samelewing het al so ver agteruitgegaan, dat sommiges nie eens besef dat hulle God se Wet verbreek nie. Die gevolg hiervan is dat ons samelewing onstabiel, skrikwekkend en gevaarlik geword het. God het ons Sy wette met ‘n baie spesifieke doel gegee. Dit was beslis nooit Sy begeerte om ons as mense te verhoed om ‘n goeie lewe te hê nie. Hy het dit vir ons gegee omdat Hy ge¬weet het as ons dit volg, sal ons ons volle potensiaal bereik en dat ons dán seuns en dogters van die lewende God sal wees.

STEMME VAN DIE 20STE EEU
Vir die grootste deel van die twintigste eeu was mense gewillig om na alternatiewe stemme te luister. Stemme van mense soos Karl Marx wat verkondig het dat die mens nie deur God se Wet beheer word nie, maar deur ekono¬miese magte.
Nietzsche het blatant ver¬klaar “God is dood” en dat die mens slegs deur mag beheer word; Freud wat wyd en syd verklaar het die mens word slegs deur sy seksuele begeertes gedryf en beheer; Darwin wat net een wet aangehang het – oorlewing van die sterkste. Wat het van hierdie ‘name’ se erflating oorgebly?

NALATENSKAP AAN SKERWE
Van kommunisme het slegs die bitter ge¬skie¬denis van marteling, moord, korrupsie en verraad teenoor die onskuldiges oorgebly. Nietzsche se teorie het tot die sekulêre geloof – Humanisme – gelei. Die oortuiging verhef die mens tot God.

GOD SE ERFENIS VERWRING
Freud word nie eers meer in sielkundige kringe gereken nie en sy teorieë het onberekenbare skade aangerig en ‘n seksuele revolusie tot gevolg gehad wat God se mooiste en beste nalatenskap aan die mens totaal verwring het.

En Darwin? Sy sienings is ook grootliks deur wetenskaplikes ver¬werp, veral deur die wat in die genetika-veld werksaam is. Waarom? Sy teorie pas net nie by die feite in nie. Tog is daar duisende mense wat nog blindelings aan die evolusie¬teorie glo, eer-der as om die waarheid – nl. dat God die heelal geskape het soos die Bybel sê, te glo.

Die eenvoudige waarheid is dat God se Wette nie relatief is nie. Dit is absoluut en onveranderbaar. Hierdie feit spruit uit etlike duisende jare se wêreldgeskiedenis. Jesus Christus, ons Here, het Self in Matt 5:17-19 gesê: “Ek het nie gekom om ‘n streep deur die wet en die profete te trek nie. Nee, Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom.

Ek verseker julle, al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly. Ja, dit sal geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is. As jy dus die kleinste van God se opdragte opsy sou skuif en ander leer om dit ook te doen, sal jy die kleinste wees in God se koninkryk. Maar as jy God se wet tot in sy kleinste detail res¬pekteer en gehoorsaam, sal jy groot wees in Sy koninkryk.”

DRIE SOORTE WETTE GEGEE
Toe God met Moses op Sinaï gepraat het, het Hy drie soorte Wette deurgegee. Die eerste was die siviele wette – die wette vir die regering van Israel. As jy die Ou Testament lees, is dit maklik om hierdie wette te herken, want die straf as die wette verbreek word, word genoem en dit is gewoonlik iets soos ‘n boete, houe met die sweep of doodstraf.

Let tog op dat daar in die antieke Israel geen tronke was nie. Babilon het tronke gehad, die Assiriërs het en so-ook die Romeine. Maar nie die Jode nie! Hulle het dit nie nodig gehad nie, want as dit nodig was, is oortredings baie vinnig, en soms ook ernstig wanneer nodig, gestraf.

SEREMONIËLE WETTE
Die tweede soort wette word in die eerste vyf boeke van die Bybel gevind – die sere-moniële wette. Hierin is die sonde-offerhande, die oortredingsofferhande en al die verskillende soorte offerhande van die Joodse godsdiens vervat. Al hierdie offergawes was ‘n voorskou van die werklike offergawe – Jesus Christus aan die kruis – wat nog moes plaasvind. Toe Christus Sy lewe gegee het “as soenoffer vir baie”, het dit verander. Dit was nie meer nodig om seremoniële offers te bring nie, want Jesus het die prys eens en vir altyd betaal.

Toe Johannes die Doper Jesus na hom toe sien kom het, het hy uitgeroep: “Kyk, daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Joh 1:29. Met Sy opstanding het die vereistes van die seremoniële wette verval. Dit is nie meer nodig nie, want God het ons vergewe, ons is gesuiwer, gered deur die Bloed van Christus.

MORELE WETTE
Daar is ook die morele Wette – vervat in die Tien Gebooie. Hulle verteenwoordig God se morele karakter, en Sy morele karak¬ter kán nie verander nie – nooit nie! Is dit nie belaglik om te dink dat God 3 500 jaar gelede teen diefstal gekant was, maar nou ewe skielik anders voel nie? Is dit nie absolute malligheid om te dink dat owerspel toe ‘n gruwel in Sy oog was, maar dat dit nou nie meer vir Hom belangrik is nie?

En tog, dit is presies wat sekere mense dink! Hulle het die idee dat God mettertyd ‘sagter‘ geword het wat Sy karakter betref. Amper soos sommige ouers wat uiters streng is met die oudste kind, maar die laatlam net mooi alles onder die son toelaat. God is egter konsekwent – Hy is gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde. Hy is regverdig. Sy karakter bly dieselfde.

OPSOMMING VAN SY KARAKTER
Paulus som God se karakter baie kragtig op deur te sê: “As ons die geloof beklemtoon, beteken dit dat ons die wet ter syde stel? Na¬tuur¬lik nie! In werklikheid laat ons die wet juis tot sy reg kom wanneer ons glo.” Romeine 3:31. Die Ou Testament belowe dat God se Wette eendag op die tafels van menseharte geskryf sal wees.

Vir die Christen wat God aangeneem het en deur geloof gered is, beantwoord elke wet ‘n aspek van die groot vraag: Hoe kan ek só optree dat my gedrag aan God die eer gee, Hom verheerlik en ek die beste moontlike lewe op aarde leef?

Wanneer ek mense raakloop wat sê dat God se Wet nie meer vandag geld nie, vra ek altyd: “Noudat jy in Christus gered is deur Sy genade, het jy nie die begeerte om te doen wat Hy van jou vra om sodoende jou liefde aan Hom te betoon nie?”

Gewoonlik is die antwoord ‘n onomwonde “Ja!” My onmiddellike reaksie hierop is dan dat niks vir God gelukkiger kan maak as dat ons júís Sy Gebooie gehoorsaam nie. Hy wil nie hê ons moet ander maniere bedink om Hom tevrede te stel nie. Soos baie aardse vaders, wil Hy hê ons moet ons liefde betoon deur respek vir en gehoorsaamheid aan Hom.

WET DIEN AS RIGLYN
Vir ons wat God liefhet en deur Sy genade gered is, dien die Tien Gebooie – Sy morele Wette – as riglyn om ons dankbaarheid en liefde vir Hom te betoon. Ons gehoorsaam nie uit vrees nie, maar omdat ons die kinders van ‘n liefdevolle Vader is en ons Hom wil plesier. Ons behoort daarna te streef om soos Koning Dawid in Ps 119: 97 te kan sê: “Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag.”


Afrikaans Word Bedreig

Afrikaans word deesdae hewig aangeval. Van die politieke arena tot universiteite en selfs die kerk het tot die stryd toegetree. Dit wil voorkom asof ons multi-kulturele gemeenskap Afrikaans nie meer wil aanvaar nie.

TAAL OPENLIK AANGEVAL
In Februarie hierdie jaar het die Jong Kommunisteliga in Christiana, Noord-Wes, in ‘n memorandum (*22 Februarie 2010) geëis dat hierdie ‘wrede taal’ uit alle skole geban moet word (Noord-Wes is ‘n hoofsaaklik Afri¬kaanse gebied).

Hoërskool Ermelo moes hul saak om as Afrikaanse hoërskool voort te bestaan in die Hooggeregshof verdedig (*Oktober 2009). In Stellenbosch vind tans ‘n hoogs omstrede taaldebat plaas aangesien daar vanuit vele geledere oproepe gedoen word om met Afrikaans as onderrigmedium weg te doen. As gevolg van die aandag wat die saak in koerante geniet, is dit ook duidelik dat godsdiensonderrig in skole deesdae as ongrondwetlik beskou word.

Dit is hartseer om te sien dat die negatiwiteit teenoor Afrikaans nie net deur ander taalgroepe is nie, maar selfs ook vanuit ons eie geledere. Ten einde polities korrek te wees, doen baie Afrikanerleiers afstand van hul Afrikaanse erfenis.

AFRIKANER-ERFENIS DEESDAE ONAANVAARBAAR
Selfs al het die Afrikaner grootliks tot die vestiging van ons gemeenskap bygedra en vir baie waardevolle vooruitgang (ook op Christelike gebied) gesorg, is die geskiedenis van etlike gruwels en vergrype wat onder die vorige regering plaasgevind het daarvoor verantwoordelik dat baie Afri¬kaners, veral die jeug, hulself van hul erfenis distansieer.

Baie mense het Christenskap ( in teenstelling met kerk of geloof) aangeval en afgeskryf a.g.v. die sterk houvas wat die NG Kerk (as ‘n geheel) onder die vorige regering gehad het. Daardeur het hulle afvallig geword aan die Woord van God, die Bybel, as die Waarheid. Ons weet dat God baie verskillende tale en volke geskep het en dat die Afrikaner ‘n baie besliste plek in Sy hart en Koninkryk het.

BYBELSE PERSPEKTIEF
Wat is egter die Bybelse perspektief oor taal en kultuur in ‘n Christen se lewe? Het taal en kultuur enigsins nog plek in die lewe van ‘n Christen? Is ons nie almal gelyk voor God nie?

Paulus sê in 1 Kor 5:17 die volgende: “Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!” Sou dit beteken dat daar afstand gedoen moet word van alles wat eie is aan die Afrikaner?

KULTUUR BLY IN DIE SLAG
Die definisie van ‘kultuur’in die HAT (*Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) lui soos volg: “Die ganse geestelike besitting van ‘n volk of groep op elke lewensterrein; die geesteslewe; die beskawingstoestand van ‘n groep.” Die kultuur van enige volksgroep sluit dus beide godsdiens en taal in, maar dit strek ook wyer – dit is die dinge wat oorbly nadat jy vergeet het wat jy opsetlik geleer het.

Met ander woorde, dit is die waardes wat inherent deel is van ‘n individu of groep. Deur enige van die komponente wat die basiese bestanddele van ‘kultuur’ vorm, af te breek, of waardeloos te maak, word jou identiteit, dit wie jy is, van jou geroof. Ons Afrikaners is juis só gevorm en deel van Afrika gemaak omdat God met ons ‘n baie besondere plan gehad het.

MODERNE JEUG SE GODSDIENSBELEWING
Die geloofsekerhede van die verlede bestaan nie meer nie en word sterk be-vraagteken. Baie jongmense besluit reeds op hoërskool dat hulle niks meer met die tradisionele kerk te doen wil hê nie – die lewenstyl van ‘jy mag nie’ vind hulle in die tydsgewrig waar alles aanvaarbaar is, te benouend. Hulle is doodgelukkig om sonder God en Sy Gebod voort te leef. Ander jongmense weer, wat in die tradisionele Afrikaanse kerke opgegroei het, besluit om op ‘n stadium in hul jongmenslewe by ‘n charismatiese groep (dikwels in Engels) te aanbid.

Van die redes wat aangevoer word waarom hulle aanvanklik dié kerke ver¬kies het, wissel van ‘lekkerder musiek’ tot ‘gemakliker kleredrag’ tot ‘nie so styf en formeel nie.’ Híér word baie van hulle radikaal aange¬raak, word weergebore en is dan aan die brand vir die Here en Sy werk. In die pro¬ses word hul kultuur op die agtergrond geskuif, sommiges ontken dit selfs, en daar word slegs gefokus op die verkondiging en uitlewing van die Goeie Nuus.

TAALVERMENGING IS AAN DIE ORDE VAN DIE DAG
Die taal wat deesdae deur jongmense, en al hoe meer ook deur volwassenes, selfs op professionele vlak, gebruik word, is ligjare verwyder van ‘suiwer’ Afrikaans.

Stap op enige Afrikaanse skoolgrond of universiteitskampus rond en dit kom voor asof jongmense ‘n taal van hul eie het waardeur hul kommunikeer. Deurspek met Engelse en kruwoorde, wat enkele jare gelede geheel en al taboe was in enige situasie, spoel dit gemaklik oor jonges se lippe. Selfs ouers val hierby in en dikwels word hierdie ‘lingo’ verdedig. Die redes wat daarvoor aangevoer word, is legio. Dit wissel van dat dit vir hulle net belangrik is om mekaar te kan verstaan, dat dit vir hulle deesdae heeltemal te formeel is om hul taal suiwer in te span.

Dat dit die taal is wat almal in elk geval gebruik tot dat die woorde in Afrikaans tog so outyds is. Die geweldige groot rol van tegnologie en die media kan beslis ook nie misgekyk word nie.

WIE KAN VERANTWOORDELIK GEHOU WORD?
Wie is dit dan wat verantwoordelik is vir die afbreek van ons waardes, wat ons van ons identiteit – ook ons identiteit in Christus – beroof? Wie is dit wat so ‘n ontsaglike invloed op die Afrikaner en sy mens¬wees het dat ons ons ontsag vir God en Sy verordeninge, asook dit wat hy geskep het as inherent deel van wie ons is, verloor het?

Die gevolg van hierdie ‘geestelike en kultuurarmoede’ is ‘n identiteitlose groep wat deur elke wind van verandering rond¬ge¬swiep kan word. In die volgende uitgawe van JUIG! gaan ons spesifiek kyk na die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis en hoe dit by die Bybelse beginsel van Christenskap inskakel – ons voel dit is geweldig belangrik dat ons lesers getrou bly aan hul Godgegewe identiteit en nie swig voor politieke of mediadruk nie.