Skeptici Beantwoord: Veroorsaak God Natuurrampe?

Die aardbewing en die tsoenami in Japan het vele artikels en programme tot gevolg gehad waarin God vir hier¬die rampe blameer word, of wat probeer bewys dat Hy glad nie bestaan nie. Een koerant het daarop aanspraak gemaak dat al die hoofde van die groot godsdienste en denominasies dit tydens ’n onderhoud eens was dat die aardbewing en tsoenami nié ’n oordeel van God kon wees nie.

Is mense dan basies goed?
Dit wil voorkom asof hierdie teoloë en godsdienstiges ‘n basiese aanname deel: die mens is in sy wese goed. En omdat ons almal in ons wesens sulke goeie mense is, kan ons nooit deur ’n liefdevolle en genadige God veroordeel word nie. In Amos 4:7-8 verklaar God: “Ek het gesorg dat dit drie maande voor die oestyd nie reën nie, Ek het vir die een dorp reën gegee, en dit van die ander weerhou. Een stuk grond het reën gekry, ’n ander een het uitgedroog… Nogtans het julle nie na My teruggekeer nie.”

Wat die Woord sê
Die Woord leer ons dat die mens eintlik heeltemal verdorwe is, baie beslis nie in wese goed nie. “Niemand is goed nie – selfs nie een enkele een nie. Daar is nie een wat eintlik verstandig is nie; niemand wat werklik ernstig na God soek nie. Almal het hulle rug op God gekeer; almal het sleg geword; daar is niemand wat die goeie doen nie – selfs nie een enkele een nie.

Hulle taal is vieslik soos die stank wat uit ’n oop graf kom. Met hulle tonge pleeg hulle bedrog. Die gif van dodelike slange drup van hulle lippe. Hulle monde is vol vervloeking en bitterheid… Eerbied vir God speel by hulle geen rol nie.” Rom 3:10-18. “Jy moet ook dit weet, Timoteus, dat daar gedurende die laaste dae moeilike tye sal kom. Want mense sal net hulleself en hulle geld liefhê. Hulle sal grootpraterig en arrogant wees, met God spot, ongehoorsaam aan hulle eie ouers en ondankbaar. Hulle sal niks as heilig beskou nie. Hulle sal liefdeloos en onvergewensgesind wees; hulle sal ander mense belaster en geen selfbeheersing hê nie; hulle sal wreed wees en geen belangstelling hê in wat goed is nie.” 2 Tim 3:1-5. (Kyk 1 Kor 6:9-11 en Open 21:8).

Jesus oor rampe
In die lig van hierdie Skrifgedeeltes en die seëning vir gehoorsaamheid en vervloe-king vir ongehoorsaamheid wat in Deuteronomium 28 uitgespel word, wil dit voorkom asof die boodskap van hierdie natuurrampe deur die meeste joernaliste en teoloë verwerp word. Dit is dubbel so erg indien lewensverlies gely en lesse nie geleer word nie. Elke dodelike ramp is ’n genadige oproep van God dat ons ons sonde moet bely. Dit is hoe die Here Jesus gereageer het teenoor dié wat aan Hom die verskriklike nuus van die Galileërs wat deur Pontius Pilatus in die Tempel vermoor is, gebring het. Jesus het geantwoord: “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as die ander mense van Galilea? het Hy gevra. Is dit waarom hulle geboet het? Glad nie! En jul¬le sal ook omkom tensy julle tot inkeer kom.” Luk 13:2-3.

Toe het die Here na die val van die toring in Siloam verwys waar 18 dood is: “Nee, ek sê weer vir julle, as julle nie tot inkeer kom nie, sal julle almal ook net so omkom.” Luk 13:5. Daar is ’n tyd vir huil en sondebelydenis. Daar is ’n tyd om te huil (Pred 3:4) en ons moet huil saam met die wat huil. Maar ons moet ook ons sonde bely. “Maar nou sê die Here: ‘Draai met volle oorgawe terug na My toe! Vas, huil en treur!…Draai terug na die Here julle God toe, want Hy is genadig en vol meegevoel. Hy word nie maklik kwaad nie. Hy is baie liefdevol en wil julle nie graag straf nie.” Joël 2:12-13. Die les wat ons uit elke ramp behoort te leer, is om ons sonde te bely.

Herken die werklikheid
Ons rou saam met en bid vir die wat deur die natuurrampe beïnvloed word. Maar laat ons ook rou oor die feit dat God met elke natuurramp vervloek word, maar tog so selde geloof word vir Sy wonderlike Skepping. Treur oor die feit dat God die hoofopskrifte haal net wanneer die mens Sy krag betwyfel en bespot en Sy goedheid bevraagteken. Tienduisende van God se genadedade, beskerming, voorsiening en geduld haal nooit die hoofopskrifte nie. Ons behoort te treur oor die feit dat God deur dieselfde mense wat vra waarom Hy nie die gevolge van hulle rebellie terughou nie, vervloek word.

Wat kan God moontlik sê?
Kan God moontlik met Japan praat? Meer as 70% van die Japanese bevolking maak aanspraak daarop dat hulle geen persoonlike godsdiens aanhang nie, maar die oorgrote meerderheid gehoorsaam die eise van Bhoeddhisme wat deur die voorgeslagte daargestel is asook die rituele van die politeïstiese Shintoïsme. Baie volg ook die nuwer godsdienstige bewegings, wat maar uitspruitsels van die twee groot godsdienste is, se oortuigings na.

Hierdie politeïstiese en sinkretistiese godsdienstige lojaliteite van die Japanese word in die amptelike statistiek weerspieël: 85% volg Boeddhisme na – slegs 3% identifiseer hulself as Christene waarvan slegs 0.5% as Protestants of Evangelies-gesind bekendstaan.

Die morele klimaat in Japan
Japan se eie leiers het die volk al as die ‘supermoondheid sonder enige morele kompas’ beskryf. Japan is ’n kultuur sonder enige duidelike rigting met selfmoord wat epidemiese afmetings aanneem: meer as 30 000 per jaar! Immoraliteit staan wit in die blom onder tieners en tienerprostitusie is aan die orde van die dag.

Japan het die wêreld se laagste geboortesyfer en hoogste lewensverwagting, maar slegs 10% glo in die bestaan van ’n persoonlike God. Kultusse en sektes groei in Japan veel vinniger as enige van die Evangeliese kerke. Kerke ondervind ’n absolute tekort aan enige mans onder die lidmate. Die kerk in Japan het in geïsoleerdheid, ’n bunkermentaliteit verval en faal oor die algemeen om hoegenaamd met die gemeenskap te skakel.

Kerkbywoning is uiters laag en minder as die helfte van die kerk se lidmate woon ooit gereeld ‘n kerk by. Daar is ’n ontsaglike nood aan geestelike vernuwing en Bybelse Hervorming in Japanse kerke asook vir ’n dinamiese, wydverspreide Evangelisme om die Groot Opdrag te vervul.

Die oordele van God
In die lig van die katastrofiese aardbewing en tsoenami in Japan, behoort ons opnuut weer die Heiligheid en Geregtigheid van God, asook God se Woord aan ’n nasie, te bestudeer. “‘Ek het plae oor julle laat kom, soos destyds oor Egipte. Ek het julle jongmans in die oorlog laat sterf en julle perde afgemaai… nogtans,’ sê die Here, ‘het julle nie te¬ruggekeer na My toe nie.’” Amos 4:10.

“U is regverdig, U wat is en wat was, U die Heilige, omdat U oor hierdie dinge U straf voltrek het; want hulle het die bloed…van die profete vergiet. …Ja, Here God, die Almagtige, betroubaar en regverdig is U oordele…Die mense het hulle tonge raakgebyt van die pyn en het die God van die hemel gevloek oor hulle pyne en sere. Hulle het hulle egter nie bekeer van hulle verkeerde dade nie.” Open 16:1-21.

Praat God deur rampe?
Kan God moontlik met die verlorenes en onverskilliges deur hierdie dodelike en verskriklike rampe praat? Kan dit moontlik die roepstem van ’n genadige God wees wat daarna smag dat ons ons sonde bely? In 2 Kron 7:13-14 verklaar die Here: “Soms sal Ek die Hemel toesluit sodat daar geen reën val nie, of Ek kan bepaal dat sprinkane julle oeste opvreet… wanneer die volk wat My Naam dra, hulle verootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die Hemel hoor en hulle vergewe en hulle land gesond maak.”

Dwarsdeur die Bybel spreek natuurrampe van God se oordeel en waarskuwing aan mense om hulself te verootmoedig, te bid, God se aangesig te soek en van hul verkeerde weë weg te draai. Bid vir hul ge¬nesing, asseblief. Dit het tyd geword dat ons opnuut na God se Wet kyk en ons belydenis volgens die Tien Gebooie struktureer. Bybelse sondebelydenis is nie bloot net ‘jammer’ oor ons ‘swakhede’ nie. Wat God ‘boos’ noem, moenie tot ‘fout’ herdefinieer word nie. Bybelse sondebelydenis sluit in: oortuiging van sonde, opregte berou en totale verandering. ’n Verandering van gedagtes, hart en van jou lewe word vereis. “Vra na die Here terwyl jy Hom nog kan vind. Roep Hom nou aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose mens moet sy verkeerde dinge los, en die bose mens sy slegte gedagtes. Hy moet terugdraai na die Here en Hy sal hom genadig wees.” Jes 55: 6-7.
Bid asseblief vir die mense van Japan en ook in ander lande wat deur rampe affekteer is. Bid vir en ondersteun die werk van sendelinge in hierdie lande sodat die Evangelie versprei kan word.


Kosmetiese Chirurgie: Is dit vir ‘Christene’?

Die samelewing hou van kosmetiese chirurgie; al is dit nou net om daar¬van in die sogenaamde ‘beroem¬des se skindertydskrifte’ te lees. Stories wissel van die spekulatiewe ‘wie het wat gedoen?’ tot stories oor die gewone ‘verdagtes’: “Het sy neus regtig ingesak?” Verslae toon dikwels rewolusionêre nuwe mediese deurbrake en die enkele ‘kosmetiese ramp’.

Lelike eendjie na skoonheidskonigin
Dié hoofopskrifte is al meer as bekend – maar volgens die legendariese Suid-Afrikaanse kosmetiese chirurg, Dr. Dirk Lazarus, is “kosmetiese chirurgie ’n chirurgiese dissipline met vele fasette. Dit is ’n spesialiteits¬rigting wat deur hoogsopgeleide dokters beoefen word. Dit is op vaste grondslag gebou, volg logiese prosedures en is op die voorpunt wanneer dit kom by nuwe opwindende tegnieke en ontwikkelings op mediese en gesondheidsgebied.” Plastiese snykunde is die snelgroeiendste mediese rigting in die VSA en veral gewild gemaak deur Hollywood-akteurs en die media.

Plastiese snykunde is ook nie meer net die rykes en beroemdes beskore nie en sedert 1997 was daar ’n 162%-toename in die aantal kosmetiese prosedures wat uitgevoer is. Chirurgiese prosedures het met feitlik 80% toegeneem en nie-chirurgiese prosedures met meer as 233%.

Kosmeties vs rekonstruktief
Wanneer daar van kosmetiese chirurgie gepraat word, is die eerste waaraan ¬enige mens dink, gewoonlik: ontrimpeling, botoks, maagverkleining – en tog is daar baie ander dissiplines en prosedures binne hierdie ontluikende bedryf. Plastiese chi¬rurgie kan in twee hoofkategorieë verdeel word: kosmetiese chirurgie en rekonstruktiewe chirurgie.

Rekonstruktiewe chirurgie is wanneer normale funksies en vorm herkonstrueer word, miskien wanneer ’n kind met een of ander misvorming gebore word of ’n traumapasiënt wat deur ’n ongeluk of siekte misvorm gelaat is, gehelp word. Volgens Dr. Lazarus: “Baie plastiese chirurge ‘slyp’ hulself (hul skalpels?) op rekonstruktiewe gevalle. Die meeste geniet nog steeds hierdie soort chirurgie.”

The American Society for Aesthetic Plastic Surgery Procedures vereis dat plastiese chirurgie “enhance normal, improve, make more beautiful or make younger. Frequently techniques used for cosmetic surgery are transplanted to reconstructive surgery, eg. Fat transfers, which have become an inevitable component of most facelifts, are now used to enhance the repaired lips in cleft lip patients.”

Hoe kan ’n mens dit evalueer?
Die vraag wat nou ontstaan, is: is dit onchristelik of ‘immoreel’ om plastiese, ver¬al kosmetiese chirurgie, te ondergaan? En waar word die streep nou eintlik getrek t.o.v. wat aanvaarbaar is en wat nie? Is dit bv. aanvaarbaar om borsrekonstruksie te ondergaan indien jy ’n mastektomie gehad het, maar nie indien jou borste a.g.v. babas gerek en gesak het nie? Hoe behoort ’n Christen op Bybelsverantwoordbare manier hierdie kos¬metiese uitgawe te evalueer? Met die groeiende normalisering van chirurgie en die desensitisering van kosmetiese prosedures (deur tydskrifte en TV-programme), behoort Christene baie versigtig te wees om nie vleeslik ingestel te raak en vasgevang te raak in ’n oppervlakkige en ‘plastiese’ gemeenskap se siening hieroor nie.

Ons moenie naïef wees nie
Om egter standpunt teen kosmetiese chirurgie in te neem en dit sonder meer te veroordeel, is baie naïef t.o.v. die werklikheid waarin ons leef. Sedert Ester se dae in Bybelse tye, Cleopatra en tot en met vandag se supermodelle, bly skoonheid die fokus en die fondasie vir menslike interaksie. God se Woord is egter baie duidelik: skoonheid is vlietend en kinders van God behoort nie vasgevang te word in oppervlakkige denke daaroor nie.

“Moenie dink dis bloot uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en pragtige klere wat jul¬le mooi maak nie. Julle skoonheid moet veral innerlik wees: blywende beskeidenheid en ’n gemoed wat kalm en rustig is. Dis vir God kosbaar.” 1 Pet 3:3-4.

Wat is jou motief?
Christene wat kosmetiese prosedures oorweeg (of dit nou chirurgies is of nie), behoort baie seker te maak wat hulle motief is. ’n Vrou wat groter borste wil hê om haar huwelik te red, is reeds in die moeilikheid en het eintlik verhoudingsberading dringend nodig.

Net so behoort ’n man wat bles is en ’n haaroorplanting nodig het net om meer selfvertroue te hê, eerder seker te maak dat sy identiteit in Christus gevestig is. In dieselfde asem kan genoem word dat ’n Christen wat sy/haar tande laat bleik, of ’n ma wat na ’n paar swangerskappe haar maag laat verklein, nie noodwendig deur die Skrif veroordeel word nie.

Leef tot Sy eer
Daar is nie ’n Bybelse wet wat sê: “Jy mag nie kosmetiese chirurgie ondergaan of ’n BMW ry nie”. Die Bybel sê egter wel Christene behoort nie hulle vryheid te gebruik vir selfbevrediging of genot nie, maar mekaar eerder in liefde dien. Paulus stel dit so: “Ten slotte, liewe broers en susters, beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.” Ons weet dat, wanneer ons sterf, ons gees weer sal opstaan en ons ’n geestelike liggaam sal ontvang. Ons weet ook dat ons werke wat in gehoorsaamheid aan Jesus Christus gedoen is, tydens die Oordeel van die Gelowiges (1 Kor 3:10-15) deur die louteringsvuur sal gaan – nie ons glansende hare of sprankelglimlag nie.

As jy egter ’n weergebore, Geesvervulde, Bybellesende kind van God is en jy voel in jou hart oortuig dat ’n maagverkleining of ’n gesigsontrimpeling jou gaan help om met groter selfvertroue te leef; dan is dit ’n saak van jou gewete en om voor die Here verantwoording te doen oor hoe jy jou geld spandeer het.

Kosmetiese chirurgie en ’n botoks-inspuiting dan en wan, affekteer beslis nie jou redding nie. (Ek moet sê, dit sal komies wees om eendag in die Hemel te sien hoe almal gaan lyk in vergelyking met die gepoleerde, afgeronde en geskakeerde weergawes van onsself wat hier op aarde rondloop!)

Ons is almal onder konstruksie
Die Bybel vertel in Gen 1:26-27 dat God die mens (man en vrou) na Sy beeld geskape het. Daar is geen kwalifikasies hiervoor nie – nie net die ‘pragtiges’, ‘jonger as 40’ of ‘tensy jy kinders gehad het’ nie. Ons het waarde en waardigheid danksy die werk wat deur ons Skepper God gedoen is. Wanneer dit by skoonheid kom, is die Bybel baie reguit: “Skoonheid is soms misleidend. ’n Mooi voorkoms hou nie vir altyd nie. ’n Vrou wat ontsag het vir die Here verdien om geprys te word.” Spr 31:30. Almal het egter nie reeds hierdie openbaring nie en baie Christene is in die proses om hulself te aanvaar vir wie hulle in Christus is en vind hulle waarde in Hom. Ons almal leer hoe om ons liggame as “lewende en heilige offers” (Rom 12:1) aan God te gee. Dr. Jack Bauyer, ’n Christen, is vas oortuig van die krag van kosmetiese chirurgie ten einde ’n mede-gelowige te help om sy/haar Godgegewe bestemming en potensiaal te bereik.

Hy het eens ’n pasiënt gehad wat aan rhinophyna, ’n toestand waar die neus vanself vergroot, gely het. Hy het letterlik as kluisenaar geleef en het slegs saans uitgegaan om inkopies te doen en dan was sy neus versteek agter iets. Deur ’n baie eenvoudige operasie is die ekstra weefsel verwyder, sy neus tot normale grootte herstel en kon hy ’n normale lewe lei.

Emosionele en geestelike genesing is eerste prioriteit
Wat ookal jou mening omtrent hierdie saak, die blote feit dat die gemeenskap obsessief is oor skoonheid en uiterlike beeld, is ’n duidelike teken dat die mens ’n behoefte het aan liefde en aanvaarding. Kerke, Bybelstudiegroepe en Damesgroepe behoort hieraan aandag te gee en kwessies soos afgodery, selfwaarde en liefde vir Christus aan te spreek. Hy is die enigste een wat werklik jou diep¬ste behoeftes bevredig. Indien jy vriende het wat net op voorkoms fokus, gebruik die Skrif om hul te bemoedig of weer die fokus te laat val op wat Christus aan die Kruis gedoen het.

Indien jyself ’n probleem met een of ander fisieke aspek het, bid oor die saak en doen dan prakties wat jy kan om die saak op emosionele en geestelike gebied deur te werk, voordat jy jou tot chirurgie wend. Indien jy al die dinge gedoen het, gesels met ’n betroubare vriend en sluit hom/haar in by jou gedagteproses. Rampe vind plaas wanneer mense vinnige oplossings soek – sonder om werklik na die beste oplossing te soek en daaroor te bid. Om God se aangesig te soek ten opsigte van die hele saak, bly die heel belang¬rikste.

Die Bybel is baie duidelik daaroor dat God begaan is oor ons en ons probleme – ons kan dus al ons probleme met ’n oop gemoed na Hom neem (1 Pet 5:7). Deur die leiding en wysheid van die Heilige Gees het ons die vermoë om besluite te neem wat Hom sal eer.

Indien jy plastiese chirurgie oorweeg (rekonstruktief of andersins), maak seker dat jy jou navorsing doen en seker maak dat die chirurg geregistreer en gesertifiseer is. Die VPRCSA (Die Vereniging van Plas¬tiese en Rekonstruktiewe Chirurgie van SA) is ’n beheerliggaam en sal jou help. Besoek www.plasticsurgeons.co.za


Fundamentalisme: Wat se die Bybel?

Die ontstaan van fundamentalisme
Fundamentalisme as ‘n beweging gaan egter veel verder terug – tot die einde van die Negentiende Eeu toe konserwatiewe Presbiteriaanse teoloë van die Princeton Teologiese Seminarium in die VSA die waarheid van die Bybel wou beskerm teen die uitdagings wat liberale teologie en soge¬naamde hoër kritiek bied.

Die Niagara Bybelkonferensie, wat ge¬reeld tussen 1878 en 1897 vergader het, definieer dit wat as fundamenteel tot die Christelike geloof geag word. Hieruit groei ‘n versameling van twaalf boeke wat oor vyf onderwerpe handel en in 1910 gepu-bliseer word, getiteld ‘The Fundamentals’. Dié versameling opstelle oor wat fundamenteel tot die Christelike geloof is, reageer op die kontroversie oor wat dit eintlik beteken om ‘n Christen te wees, wat aan die begin van die Twintigste Eeu (en tot in die 1920’s duur) die kerktoneel in Amerika oorheers het.

Vyf fundamentele waarhede
In 1910 beskryf die Algemene Vergade¬ring van die Presbiteriaanse Kerk die vyf fun-damentele waarhede van die Christelike geloof: dat die Bybel deur die Heilige Gees geïnspireer is en onfeilbaar en foutloos is; dat Jesus Christus uit ‘n maagd gebore is; dat Christus se dood versoening vir sondaars met God bewerkstellig het; dat Jesus liggaamlik uit die dood opgewek is; en dat Hy werklik wonderwerke gedoen het.

Enige leser wat bewus is van die debat in teologiese kringe in Suid-Afrika, en wat dikwels in koerante en tydskrifte neerslag vind, sal weet dat dieselfde onderwerpe teoloë steeds besig hou en dat radikale uitsprake hieroor deur teoloë dikwels die kerkvolk se bloed laat kook. Gelowiges wat die vyf fundamentele waarhede onderskryf wat in 1910 geformuleer is, staan bekend as fundamentaliste, mense wat die Bybel fundamentalisties lees, in die sin dat hulle die fundamentele waarhede onderskryf wat daarin staan.

’n Term sonder behoorlike definisie
Die probleem met die term ‘fundamenta¬lisme’, wat gereeld as skeldwoord gebruik word, kom wanneer ‘n militante politieke styl in Amerika (en Suid-Afrika, en Moslemlande) as fundamentalisties getipeer word, terwyl dieselfde term benut word om ‘n (groot) groep konserwatiewe gelowiges te beskryf wat die Bybel as geïnspireerde Woord van God en Waarheid lees. Tussen dié twee groepe bestaan, tot ‘n groot mate, ‘n enorme verskil. Evangeliese groepe stem saam oor die vyf sake wat in ‘The Fundamentals’ bespreek word, maar ondersteun nie ‘n ver regse politieke spiritualiteit nie. Verwarring omdat terme gebruik word sonder om dit behoorlik te definieer, het nog altyd groot skade veroorsaak.

Die verskil tussen liberales en fundamentaliste
Die kern van die verskil tussen fundamentaliste en liberales lê, na my mening, daarin of jy bereid is om ruimte te laat vir God se direkte ingryping in ons wêreld en ge¬skiedenis. ‘n Groep teoloë gebruik as ver¬onderstelling dat niks wat nié wetenskaplik verklaar kan word en ook in ons dag herhaal kan word, in Bybelse tye kon gebeur nie. Dit beteken dat alle wonderwerke en ingry¬pings van God in mense se lewens as waarheid gediskwalifiseer word.

Byvoorbeeld: water kan nie in ons dag in wyn veran¬der nie, daarom kon dit nie in Bybelse tye gebeur het nie. Geen see kan oopskeur sodat ‘n volk kan deurstap nie. As jy iets nie wetenskaplik kan verklaar nie, kon dit nie gebeur het nie. Daarom moet die Bybel gelees word as ‘n boek wat premoderne wy¬ses gebruik om te beskryf wat gebeur het. Hulle glo die Bybel gebruik mitologiese, onwetenskaplike maniere om God in mense en die Israeliete se geskiedenis in te lees. Indien die moderne mens die ge¬skie¬denis wil verstaan, moet jy dit ontmitologiseer en premoderne, onwetenskaplike voorstel¬lings verwyder om by die kernwaarheid, in die teks opgesluit, uit te kom.

Radikale transformasie
Ek maak ‘n stelling wat noodwendig veralgemenend is, omdat ek dit nie kan bewys nie. Tog meen ek dit is die waarheid dat wanneer ‘n mens ‘n direkte ontmoeting met die lewende God gehad het wat jou lewe radikaal getransformeer het, jy baie meer sin van die Bybel kan maak. En die rede hiervoor is dat jy eerstehands beleef het dat God ‘n Werklikheid is, en dat Hy in die werklilkheid van ons wêreld kan ingryp. Jy het self beleef hoe Hy Hom in gebed aan jou openbaar, en jou gebede verhoor, dikwels wanneer jou verstand en die wetenskap beduie dat dit onmoontlik is.

En dán kan jy glo dat Hy vanuit ‘n wolk met Sy volk en Moses kan praat, dat Hy ‘n stad se mure kan laat ineenstort wanneer Sy volk Sy lof besing, dat Jesus aan die Kruis sterf ter wille van jou sonde, en dat jy ook in die Opstanding van Jesus uit die dood gaan deel. Interessant dat postmoderne mense, wie se wêreldbeeld deels deur die onse¬kerheid onderliggend aan kwantumfisika bepaal word, meer geneig is om ruimte te laat vir bonatuurlike ingrypings as die mo¬derne mens wat slegs natuurlike ingrypings toelaat. Daarom vind postmoderne mense se spiritualiteit noue aansluiting by die Bybel. Godsbelewing is bepalend vir jou wêreldbeskouing. Hoe jy God belééf, gaan bepaal hoe jy die Bybel lees. En hoe jy die Bybel léés, gaan bepaal hoe jy God beleef.

Lewe in die Skrif
Wat sê die Bybel oor Homself? Twee sleuteltekste kom voor. In 2 Tim 3:16-17 (ek gebruik die NLV) lees jy: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe. Dit ruk ons reg en kweek ’n regte leefstyl. Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen.” Die Skrif is deur God ‘ingeblaas’, sê die Griekse teks, soos God sy asem of Gees in die mens se neus geblaas het (Gen 2:7). God het lewe aan die Skrif gegee, soos aan die mens, deur sy Gees daarin te blaas. Asem is ook die voer¬tuig van spraak; jy gebruik jou asem om te praat. Wanneer God met die mens praat, gebruik Hy die Bybel. Die Gees wat profete geïnspireer het om Sy Woord te spreek, inspireer ook die Bybel om met ons te spreek.

Die rol van die Bybel
2 Tim 3:16-17 kan nie los van vers 15 gelees word nie. Luister ook hierna: “Jy is van kindsbeen af onderrig in die Heilige Skrif en dit het jou die wysheid gegee om die verlossing te ontvang wat deur geloof in Christus Jesus kom.” Nog ‘n teks wat jou help om die rol van die Bybel te verstaan, is 2 Pet 1:20-21: “Julle moet veral weet dat geen profesie van die Skrif ontstaan het deur die profeet se eie insig nie (of: kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie). Geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Inteendeel, dit was die Heilige Gees wat die profete God se woorde laat verkondig het.”

Biddende lees noodsaaklik
Wat saak maak, is dat jy die Bybel biddend lees, sodat die Eksegeet van God se Woord, die Heilige Gees, jou die verlossing kan wys wat deur geloof in Jesus Christus kom. Lees gerus Joh 14:26; 16:7-15. ‘n Bekende teoloog het onlangs in ‘n Sondagkoerant verwys na fundamentalisme as “’n onverdraagsame, letterlike verstaan van die Bybel.” Maak die letterlike verstaan van die Bybel jou noodwendig onverdraagsaam?

Ja, dit maak jou onverdraagsaam as dit jou verplig om wat die Bybel sonde noem, as sonde uit te wys. Maar dit vul jou met die boodskap van hoop dat God sy Seun se lewe opgeoffer het om die sondaar te red, en dit vul jou hart met die liefde van God vir sondaars wat Hom sy Seun as offer laat aanbied het. Nee, dit maak jou nie onverdraag¬saam teenoor mense wat anders as jy dink nie, omdat jy, soos Jesus, leer om die ander wang te draai, vir jou vervolgers te bid en jou vyande lief te hê.

Ek staan op wat die Kerk deur die eeue as die fundamentele van die Christelike geloof gedefinieer het, sonder om versko¬ning daarvoor te vra: dat God sondaars red en hulle die hoop op die ewige lewe gee, dat Hy mense gebruik om die goeie nuus van Sy liefde regdeur die wêreld te versprei, en dat Hy steeds in mense se lewens ingryp om Sy wonderlike plan te ontvou.

Met hierdie korrekte verduideliking en de¬fi¬nisie van fundamentalisme in gedagte, ka-tegoriseer JUIG! en JOY! onsself beslis as Bybels-fundamentalisties – ’n etiket waarvoor Christene nie skaam hoef te wees indien dit in die regte konteks gebruik word nie.


Aan Die Front Vir Christus: Peter en Lenora Hammond

In die vroeë Kerkgeskiedenis was die opofferings van getroue martelare die saad vir die verspreiding van die Evangelie. Die toewyding van die Hervormers het die waarheid van die Woord op alle samele¬wingsvlakke moontlik gemaak. En vandag maak die werk van vreeslose sendelinge dit moontlik vir die liefde van Christus om tot aan die uiterstes van die aarde bekend te word. Peter Hammond is ’n man met al dié kwaliteite: getrou, toegewyd en vreesloos. Peter is ’n onvermoeide soldaat vir Christus wat meer as 100 sendingreise in oorloggeteisterde lande oor die afgelope 30 jaar voltooi het. Hy is ook ’n Christen-historikus wat verantwoordelik is om die Christen-erfenis lewend te hou en JUIG!- en JOY!-lesers deur sy artikels op te voed. Ons het met Peter en Lenora Hammond oor hul geloofsreis tot dusver gesels.

Peter, jy was vir jare agnosties. Hoe het jy tot bekering gekom en jou hart en denke verander?
Ek het in ’n agnostiese huis opgegroei en op 3 April 1977 tot bekering gekom. Ek het op ’n Sondag filmteater toe gegaan, maar nie geweet dat die plaaslike Baptiste Kerk die teater vir ’n evangelistiese saamtrek gehuur het nie. Dit was die eerste keer dat ek die Evangelie gehoor het. Toe Eerwaarde Rex Matthie verduidelik het wat Jesus namens ons deurgemaak het, het hy gevra: “Wat het jy al ooit vir Christus gedoen?”

Ek was oorweldig deur sonde-oortui¬ging. Ek het besef dat ek ’n selfsugtige, skuldige sondaar was wat die ewigheid in die hel verdien het. Ek het vorentoe gegaan en ’n openbare toewyding aan Christus gemaak. Terwyl ek voor gekniel het, het ek nie net ’n oorgawe aan Hom gemaak nie, maar is baie duidelik tot die sendingveld geroep.

Vertel ons van jou passie vir sendingwerk.
Ek was reg van die begin af betrokke by die bediening, by Scripture Union-vakansie-uitreike, opleiding by Evangelism Explosion asook persoonlike deur-tot-deur-evangelisasie. Ek was ook betrokke by literatuurverspreiding by treinstasies en bushaltes, ek was in beheer van die Jeuggroep en het Sondagskool gehou.

Nadat ek die fenomenale sendingwerk van Francis Grim, wat sendingstasies in meer as ’n 100 lande regoor die wêreld ge¬stig het, gelees het, het ek aansoek gedoen om by sy organisasie aan te sluit. Verbeel jou my verbasing toe hy net die volgende Sondag die spreker by my kerk was! Ek het vorentoe gegaan en my diens aangebied.

Jy was in die nasionale weermag en jou weermagopleiding het handig te pas gekom tydens die talle gevaarlike sendingreise in Afrika en oorsee…
Toe my oproepinstruksies kom, was ek vasbeslote om my twee jaar in die weermag te doen, maar dié tyd as sending- en evangelisasietyd te gebruik. Dit was nie maklik om ’n Christen in die weermag te wees nie, maar ek het saans met ’n Bybelstudie- en gebedsgroep begin en dit was in wese die begin van Frontline Fellowship.

Baie gou was ons besig om evangeliese uitreike te doen en filmevangelisasie te organiseer. Bybelstudiegroepe in die verskillende kasernes het vinnig vermenigvuldig en ek het ook ’n evangelis ge¬reël om ’n veldtog by ons militêre basis te kom hou. Honderde het in die openbaar hul lewens aan God gegee en baie lewens is verander.

Jy het reeds baie sendingreise in Afrika onder¬neem – dikwels in uiters gevaarlike gebiede. Waarom lê Afri¬ka so na aan jou hart?
Terwyl ek een nag tydens ons deurnaggebedsbyeenkoms, gereël deur Operation World, gebid het, het die Here Mosambiek baie swaar op my hart gedruk – die minste geëvangeliseerde land in die Suidelike halfrond. ’n Marksistiese land in die greep van burgeroorlog en geen persoon onder 18 word in ’n kerk toegelaat nie. Daar is nie eens één Bybel per duisend mense nie!

Ons het reeds soveel van God se wonderwerke tydens ons militêre diensplig beleef – Sy beskerming en ingryping in tye van nood. God het ons toe geroep om oor¬kant die grens in die oorloggeteisterde, kommunistiese Mosambiek en Angola Bybels te versprei, die vervolgde kerke by te staan en ons vyande te evangeliseer. Baie van my vroeë sendingwerk is op veldmotorfiets gedoen.

Ek het talle kere van die Kaap deur Mosambiek en Zimbabwe op ’n veldmotorfiets gery wat hoog gepak is met Nuwe Testamente en Evangelie-boekies asook die Jesus-film in Portugees. Wanneer daar nie geld vir brandstof was nie, moes ek ryloop. Ek het meer as 140 000 km geryloop en ek het die geleentheid gehad om die Jesus-film aan duisende Mosam¬biekers te wys en kon honderde na Christus lei.

Om Angola te bereik, het behels dat ons deur riviere vol krokodille moes swem, later geleende kano’s gebruik om die Bybels en literatuur oor te neem terwyl ons langsaan swem. Ons is vanuit die lug gebombardeer. Ek was die getuie van vele oorlogwandade en het gesien hoe talle kerke met die aarde gelykgemaak is. Daar is ook op my geskiet en ek moes lugbombardement verduur – van hoogvlieënde Anatov- en laagvlieënde MIG-23-bomwerpers. Tydens my uitreike is ek al in lokvalle gelei, daar is op my geskiet, is deur groepe papgeslaan, gearresteer en talle kere in die tronk gesmyt. Dit het behels dat ek talle kere geblinddoek en geslaan is, in stinkende selle ge¬smyt is en deur menslike afval besmeer is, ek moes al lang uitmergelende ure onder ondervraging deurbring, is onder water gedompel en in eensame opsluiting in rotbesmette selle aangehou. Op een spesifieke sendinguitreik na Mosambiek saam met ses Amerikaanse mediese sendelinge, is ons deur kommunistiese troepe gevange geneem, in Russiese Mi8-helikopters na Tete vir ondervraging ge¬vlieg, toe deur ’n Sowjet-Anatov 26 militêre voer¬tuig na Maputo vervoer en in Machava-veiligheidstronk gesmyt. Op daardie stadium was ek net vir ses maande getroud en Lenora was die enigste een in ons kantoor wat wêreldwye gebedsteun vir ons kon begin en die wêreld bedag maak op ons lot. Daar is druk uitgeoefen en ons is uiteindelik vrygelaat. Gedurende dié tyd het ek meer as 12 000 openbare byeenkomste gelei. In Soedan het ons meer as 300 000 Bybels en Christen-boeke in 22 tale in 14 verskillende streke ingesmokkel. Ons het ook meer as 780 onderwysers opgelei en gehelp om 100 skole op die been te bring en hulle met duisende Christen-handboeke toegerus.

Jy is bekend as Christen-historikus. Waar kom jou passie vir jou Christen-erfenis vandaan en waarom is dit vir jou so belangrik dat Christene akkurate kennis van die geskiedenis moet hê?
Dit is uiters noodsaaklik dat ons ons ge¬skiedenis ken. En tog vind ons so baie Christene totaal oningelig oor die ontsaglike stryd en die ernstige lyding wat baie Christene moet deurgaan. Dit het my gedwing om boeke te skryf waarin ek vir die geloofslydendes opkom en namens hulle praat om sodoende vir hulle verligting te bewerkstellig. Dus het ek geskryf: ‘In the Killing Fields of Mozambique’; ‘Holocaust in Rwanda’ en ‘Faith under Fire in Sudan’.

Afrika is ’n konflikkontinent. Ons is in stryd gewikkel vir die siel van hierdie kontinent. Christene word vervolg en in baie gevalle het hulle aan my gesê: “Ons is ’n vergete geslag wat ’n vergete oorlog veg. Bid Christene in Suid-Afrika vir ons? Jy moet asseblief vir ons ‘n ambassadeur wees en namens ons praat. Jy moet aan ander vertel wat ons hier deurgaan.” Die Groot Opdrag is my hoogste ambisie.

Die Bybel het die antwoord vir elke lewensfeer. Soos Hosea verklaar het: “My volk gaan ten gronde as gevolg van ’n gebrek aan kennis…” Hosea 4:6. Dit is uiters nodig dat ons die geskiedenis ken omdat die ge¬skiedenis Sy storie is. Volgens Karl Marx, die groot kommunis, is die eerste gevegsone om die geskiedenis te herskryf. So baie het die geskiedenis vanuit ’n sekulêre en en anti-Christen-perspektief geskryf en ons so¬doende van ons Christen-erfenis beroof.

Op een stadium het ons die geskiede¬nisboek van Suid-Soedan gesoek en dit laat herdruk. In ander gevalle het ek die nodigheid vir die pu¬blisering van kompakte boeke wat die lewensveranderende ware stories van grootse sendelinge en Hervormers vertel, gesien. Ek het ‘The Greatest Century of Reformation’ en ‘The Greatest Century of Missions’ hieroor geskryf.

Jy is ’n kundige van verskeie gelowe, veral Islam. Van waar die belangstelling?
Een uit elke vyf persone is ‘n Moslem. Islam sluit die grootste blok onbereikte mense in die wêreld in. Dit is die ‘behoeftigste’ sendingveld in die wêreld. Islamitiese regerings is ook van die grootste vervolgers van die Christelike Kerk. Ek spesialiseer al vir die afgelope 30 jaar in die Islamitiese godsdiens en ek het die voorreg gehad om lering van gesaghebbendes soos Gerhard Nehls van SIM-Life Challenge Africa te ontvang. Ek het teen Ahmed Deedat in die grootste moskee in die Suidelike halfrond gedebatteer en selfs deur-tot-deur evangelisasie in van die Moslem-woonareas gedoen, onderhoude op Moslem-radiostasies gedoen en die grootste skeepsvragte Bybels ooit na amptelike Moslem-lande gesmokkel.

Jy is aktief betrokke by die besker¬ming van lewens van ongeborenes, vroue en kinders in Suid-Afrika…
Telkens as ek terugkom van sendinguitreike oor landsgrense heen, is ek geskok deur die morele verval in Suid-Afrika. Juis as gevolg hiervan het ek die nodigheid gesien vir Africa Christian Action 20 jaar gelede. Van die hoogtepunte was Operation Clean Sweep, waar ons meer as 9 000 kleinhandelaars oortuig het om nie langer pornografiese publikasies aan te hou nie.

Toe Telkom die ‘087-dial a porn-lyn’ begin het, was ons suksesvol om opposisie daarteen te mobiliseer totdat die lyn gesluit is. Africa Christian Action het die eerste anti-pornografie- en pro-lewe-boeke in hierdie land gepubliseer.

Ons het reeds se¬dert 1992 lewenskettings gemobiliseer en gekoördineer en ook ‘Life Sundays’ en Nasionale Bekeringsdae ge¬reël sedert aborsie in 1997 gewettig is. Ons het ook op ’n gereelde basis voorleggings aan die parlement en het duisende radioprogramme en TV-onderhoude oor die afgelope 20 jaar gehad. Die belangrikste is dat ons Christen-tuisonderrig en Christen-handboeke vir die doel ingevoer het.

Wat, volgens jou, is deesdae Christene, die Liggaam van Christus en die wêreld se grootste bedreiging?
Die grootste bedreiging vir die Christendom wêreldwyd kom van die sluwe effek van sekulêre humanisme en materialisme wat die lewens van vele Christene besoedel en verwoes het. Die vervolging kom uit sekulêre lande, meestal kommunistiese of radikale, Islamitiese regerings. ’n Groter bedreiging is egter die apatiese optrede binne die Kerk. Satan se taktiek is: verrot en oorwin, verwar, verdeel en oorwin. Ons moet God ken om Hom bekend te maak.

Lenora, jy kom uit ’n sendingfamilie. Vertel ons meer.
Ek het grootgeword en die Here geken asook wat dit beteken om Hom voluit te dien. Ek het begryp dat God ons Skepper is en dat Hy Oppermagtig is. My geloof het egter eers aan die einde van my 5 jaar stu¬die op Universiteit werklikheid geword. Ek veronderstel ek het die volle sirkel voltooi en het nodig gehad om my verhouding met die Here persoonlik te maak.

As kinders was ons in die kollig en my ouers is deurentyd van ons weggeneem. Hoe ouer ek egter geword het, hoe meer het ek besef hoe getrou my ouers Hom gedien het en ek het dit begin respekteer. Dit was nogal belangrik omdat ek nou goed kan verstaan hoe ons eie kinders moet voel.

Hoe het jy en Peter ontmoet?
My pa, Eerw. Bill Bathman, se werk onder die vervolgde Christene in kommunistiese lande het hom ten volle laat begryp watter strategieë die Sowjet-unie gehad het om wêreldoorheersing te bewerkstellig. Hy het na Suid-Afrika gekom en bedien en uiteindelik het ek in 1988 saam met hom op ’n bedienings¬reis gekom. Ek het Peter deur my ouers se bediening ontmoet.

Jy is ’n sterk, talentvolle vrou. Vertel ons meer van die werk wat jy saam met Peter doen?
As kind, en ook as jong volwassene, het ek dikwels saam met my pa en sy bedie-ningspanne in Oos-Europa gereis. Ek het eerstehands en op baie jong ouderdom geleer om ander mense se leefwyses en eetgewoontes te respekteer asook om vyandige grensposte met vragmotors vol Bybels oor te steek. Toe ek Peter ontmoet, was ek reg vir die lewe wat op my gewag het. My rol is egter net administratief.

Ek begryp nou hoe belangrik die rol in 1989 was toe Peter, na ’n huwelik van net ses maande, deur Russiese troepe in Mosam¬biek gevange geneem en in die tronk gegooi is. Ek was die enigste een in ons Sen¬dingkantoor wat die telefoonoproepe, die pers en die vele onderhandelinge kon hanteer wat uiteindelik tot Peter en die ander se vrylating gelei het. Ander betrokkenheid sluit berading en gasvryheid in.

In 2010 is jy met kanker gediagnoseer en jou seun was ook baie siek vir ’n hele aantal jaar. Hoe het dit jou geloof in God beïnvloed?
Ons seun Christopher is in 1995 met Posterior Urethral Valves (nierversaking) gebore wat groot chirurgie op die ouderdom van vyf dae genoodsaak het. Ons het geweet dat ’n nieroorplanting nodig sal wees en in Desember 2009 was ek die nierskenker. Christopher het ongelukkig vele komplikasies beleef en was vir ses maande dikwels in die Rooikruis-kinderhospitaal. Hy moes elf operasies in nege weke ondergaan.

My eie herstel as skenker was pynliker en moeiliker as wat ek gedink het en net toe ek weer goed begin voel, is ek met bors¬kanker gediagnoseer en moes ’n bila¬terale mastektomie ondergaan gevolg deur vyf maande chemoterapie. Ek het geweet, net soos wat ek dit nou weet, dat niks buite God se beheer was nie en Hy het ’n soe-wereine plan vir elkeen van ons en ook as gesin. Ons het die storm in Sy krag weerstaan en vertrou God in alles. Enigeen wat in die storie belangstel, kan ons blog volg:
http://hamfam-lenora.blogspot.com