Verdra Jy Onsedelikheid?

Tans is daar ’n alternatief tot die Joods-Christelike begrip ‘ liefde vir ons medemens’, wat verdraagsaamheid genoem word. Dit lyk soos liefde, en van meer belang, vir baie mense mag dit selfs soos liefde voel, maar dit is glad nie liefde nie…

Onvoorwaardelike verdraagsaamheid
Inteendeel, dit word verdraagsaamheid genoem, maar dit is nie verdraagsaamheid in die tradisionele sin van die woord nie. ’n Meer gepaste uitdrukking sou miskien ‘bek-lek en stertswaai’ kon wees.
In hierdie post-Christen-era is die hoogste ideaal dat ons, die meerderheid, uit ons pad moet gaan om verdraag-
saam teenoor elke af-wyking van die samelewing te wees. Ons moet onvoorwaardelik verdraagsaam teen-oor buitelanders en hulle gebruike wees, en ander gelowe, kulture en gebruike aanvaar.

Onverskillig teenoor onsedelikheid
Natuurlik word daar nooit erkenning gegee aan die feit dat die verdraagsaamste konteks nog altyd die Christelike Weste is nie. Godsdiensvryheid, vryheid van spraak, en die vryheid om te leef volgens jou eie oortuiging was nog altyd kenmerkend van plekke soos Amerika en Brittanje, maar daardie definisie van verdraagsaamheid is onlangs ‘verbeter’.
Die nuwe verdraagsaamheid beteken nie bloot dat jy ruimte vir die verskille tussen mense of samelewings moet laat sonder kastyding of vervolging nie, daar word nou van ons vereis om alle leefwyses, gebruike en afwykings (sedelik of nie) positief te ondersteun, tot die punt toe van swartsmeerdery van die meerderheidskultuur.

Die nuwe verdraagsaamheid
Ons moet inderdaad verdraagsaam teenoor verskille wees; ons moet ’n vreemdeling altyd gasvry behandel en ruimte laat vir godsdienstige verskille. Ons moet dankbaar wees dat daar vryheid van spraak en denke is – ideale van die vroeëre Christen-kultuur wat nog te vinde is.
Maar die nuwe verdraagsaamheid strek verder en is in werklikheid taamlik wreed. ’n Voorbeeld hiervan is die moderne [gelatenheid teenoor en aanvaarding] van Islam. Die aanhangers van ’n kultuur met ’n inherente gebrek, word nie daardeur bevoordeel wanneer hierdie kultuur in so ’n mate verdra word dat dit as ’n voorbeeld van ’n ‘godsdiens van vrede’ voorgehou word nie. [Ons sien hoe die Amerikaanse regering dit dikwels sedert die 9/11-aanval in 2001 toegepas het.]

Regstelling, nie komplimente nie
Moslems moet dringend gekonfronteer word met die ernstige gebreke van hulle vals godsdiens. Die terreurdaad van 9/11 was ’n ideale geleentheid daarvoor, maar die nuwe verdraagsaamheid het ’n stokkie daarvoor gesteek. Ek is daarvan oortuig dat hierdie nie-veroordelende verdraagsaamheid wreed is omdat dit vals en neerhalend is.
Moslems het, ten spyte van die [onver-draagsame, gewelddadige] leringe van Mohammed, ’n gewete en weet dat wat op 9/11 gebeur het, ’n barbaarse kriminele daad was. Nie een van hulle sou wou hê dat dít [of enige ander boosaardige terreurdade soos die London-bomaanvalle of bloedbad by die Kenia-inkopiesentrum] met hulle, of iemand wat hulle ken, moet gebeur nie. Die nuwe verdraagsaamheid meng egter in met enige selfondersoek.

Ontneem van verantwoordelikheid
Die haas om Islam te regverdig, en om die ‘seergemaakte gevoelens’ van [gematigde] Moslems in Amerika en elders te paai, strek Moslems eintlik tot nadeel, want dit ontneem hulle hulle volle verantwoordelikheid as sedelike wesens. Islam en sy aanhangers het sedert 9/11 meer as 16 000 terreurdade gepleeg, maar met die nuwe verdraagsaamheid, moet diesulkes deur ons bejammer word.
[Dit is nie beperk tot godsdiens nie. Daar is ’n agenda wat kulturele verdraagsaamheid, van waardes en norme, wat teenstrydig met die Bybel is, bevorder.]

Dodelike aanvaarding
Ek sien die verwoesting van hierdie wrede nuwe verdraagsaamheid ook in homoseksualiteit. Diegene wat poog om daarop te wys dat homoseksualiteit [sondig en vernie-tigend volgens ons Skepper en soewereine God is,] word gemuilband deur die nuwe verdraagsaamheid wat hulle uitkryt as mense wat homoseksueles ‘haat’.
Wie is dit egter wat werklik die homoseksueles ‘haat’ en wie is dit wat hulle werklik ‘liefhet’? Diegene wat die nuwe verdraagsaamheid uitleef, haat in werklikheid die homoseksueles deur hulle tot hierdie ‘leefwyse’ te verdoem; deur hulle in dít wat [aardse genot, maar ewige lyding mag bring] te onderskraag.
Diegene wat die homoseksueles werklik liefhet, is dié wat in die Naam van die Here verklaar dat dit wat God skenk baie beter is; dat ons verantwoording sal moet doen as ons God se instelling van die huwelik verdraai en dat verandering moontlik is en so ook vergifnis.
Hierdie nuwe verdraagsaamheid het selfs die Christelike Kerk binnegedring. Daar is diegene wat verleë is oor Jesus, die apostels en die profete se Bybelse lering oor sodomie. Hulle sal liefs goedkeuring by die wêreld kry vir hulle ‘deernis’ as om een van daardie ‘veroordelende godsdienstige hui-gelaars’ te wees wat in liefde waag om die waarheid aan hierdie generasie te verkondig.

Korreksie en waarheid
Dit is hoe Christene mekaar en hulle Heer voortdurend verraai, deur hulleself as die ‘verdraagsame liefdevolle Christene’ voor te doen, eerder as om getroue getuies van waarheid te wees.
Ons moet hierdie dwaalleer meedoënloos noem wat dit is, ’n verdraaiing van die Bybelse lering van liefde wat op die waarheid en die openbaring van die heilige God gegrond is. Ware liefde is nie humanistiese ‘verdraagsaamheid’ nie; dit is heilig en staan die Waarheid van God voor. Liefde haat die bose en verheug dit in die Waarheid.
Die skynheiligheid van die nuwe verdraagsaamheid is dat dit eensydig is. Wees verseker dat diegene wat voorheen vir ‘verdraagsaamheid’ teenoor homoseksueles, Islam, ateïste, aborsie en pornografie gepleit het, in die nabye toekoms so onverdraag-saam teenoor Christene sal wees dat hulle ons sonder enige genade sal vervolg.

Bestem vir wanhoop
Ek sluit af met ’n aanhaling van Dorothy Sayers: ““In die wêreld word dit verdraagsaamheid genoem, maar in die hel word dit wanhoop genoem – die sonde wat in niks glo nie, vir niks omgee nie, niks wil weet nie, met niks inmeng nie, niks geniet nie, niks haat nie, geen doel vind nie, vir niks leef nie en wat lewend bly, want daar is niks waarvoor dit sal sterf nie.”

BILL RANDLES is ’n pastoor van ’n Pinksterkerk. Vir meer inligting besoek: www.believersingrace.com


Vermy Die Valstrik In Jou Huwelik

Koning Dawid – ’n regverdige, iemand met ’n sterk geloof, ’n man na God se hart, maar ook ’n egbreker! Hoe maak dit sin? Is dit moontlik dat ’n getroue kind van die Here in die strik van owerspel kan trap? Ja, ’n duisend maal, ja!

Waarom trap Christene in hierdie strik?
• Te veel mense skryf alles wat verkeerd loop aan die satan toe, maar besef nie dat hulle eie vleeslike keuses dikwels die oorsaak van hulle pyn is nie. So sit baie paartjies saam in die kerk, bid saam en is aktief by ’n selgroep betrokke, maar is glad nie emosioneel of fisiek op mekaar se behoeftes ingestel nie. Hulle is op ’n plek van geestelike groei, maar is honger en dors in hulle emosionele of fisieke verhouding met hul maat. As jy emosioneel of seksueel honger genoeg is, sal jy soveel makliker voor ’n versoeking swig wat daardie leemte vul.
• Kleintyd-seer weens verwerping (soos bv. ’n gebrekkige emosionele verhouding met jou ouers) is na my mening een van die algemeenste redes waarom selfs Christene na ander vir erkenning en liefde uitreik. Ons neem verkeerdelik aan dat ons met ons wedergeboorte sommer oornag van al ons emosionele bagasie ontslae is. Maar dit is ’n geestelike leuen wat baie Christene laat struikel. Jou maat kan nie die pyn van jou kinderjare genees nie. Wanneer ons toelaat dat God ons van die seer, bitterheid en pyn uit ons verlede genees, kan ons werklik gesond genoeg wees om versoeking te weerstaan.
• Duisende mense sukkel met wellus wat sy ontstaan in die kinderjare het – die tipiese voorbeeld van ’n kind wat jonk aan pornografie blootgestel is, of op ’n vroeë ouderdom seksuele speletjies begin speel het. In die volwasse lewe kan diesulkes gevolglik seksueel struikel, ondanks die feit dat hulle gered is.

’n Paar openbarings oor affairs
• Owerspel behels selde wat iemand vír iemand anders voel, maar eerder hóé iemand by die ander persoon voel. Daarom sê mense bv.: “Ek het vir die eerste keer weer lewend gevoel.”
• As jy lank genoeg in die woestyn honger of dors in jou man- of vrouwees is, sal jy bereid wees om enig-iets vir oorlewing te eet of te drink. ’n Vrou kan byvoorbeeld swig omdat die ‘ander’ man regtig luister en haar eie man nooit vir haar tyd maak nie. ’n Man kan dalk voel dat sy vrou hom altyd kritiseer, terwyl die vrou by die werk hom soos ’n held laat voel.
• Geen owerspel begin oornag nie. Dit begin by ’n leemte – emosioneel of seksueel – hetsy in jou huwelik, of in jou eie menswees en identiteit. Die satan kom as ’n engel van die lig, ’n wolf in skaapsklere, en verwoes die huwelik subtiel.
• Al hoe meer vroue beland in owerspelige verhoudinge – selfs al is dit net ’n emosionele verhouding. Seks is nie die kwalifiserende daad vir owerspel nie – ’n intieme verhou-ding buite jou huwelik is owerspel.

Rooi ligte wat flikker
Die grootste fout om te maak, as jy dalk in hierdie stadium persoonlike dinge met iemand anders van die teenoor-gestelde geslag deel, is om dit te ontken. “Ek gesels net met hom!” Sien die rooi ligte vroeg raak. Hulle is onder meer:
• Jy deel intieme dinge met iemand sonder jou maat se medewete
• Jy begin jou maat onbewustelik met die ander een vergelyk
• Jy raak geïrriteerd met jou maat omdat hy/sy jou nie so goed verstaan soos die ander persoon nie
• Jy vee e-posse/sms’e uit sodat jou maat dit nie kan sien of lees nie
• Jy benodig nie meer jou maat se raad en ondersteuning nie
• Jy kan nie wag om die ander persoon te sien nie en dink gereeld aan hom/haar
• Jy bestee meer tyd met hierdie persoon as wat van jou verwag word
• Jy doen moeite om by hierdie persoon uit te kom en is bereid om jou gesin af te skeep of leuens te vertel – net om by hom/haar te wees
• Jy begin koketterig praat en maak langer en meer intens oogkontak as met ander mense.
• Jy doen moeite met jou voorkoms as jy weet jy gaan die persoon sien.
• Jy bid nie meer vrymoedig nie en skram weg van geestelike intimiteit met jou maat.

Wat staan ons te doen?
Een van die belangrikste dinge wat jy vir jou huwelik kan doen, is om daagliks in gesprek met God te wees. Die Woord leer dat ons dat jou eggenoot die enigste put moet wees by wie jy mag water drink (Spr 5:15) en dat ons ons harte en gedagtes moet bewaak (Spr 4:23).
Dit is belangrik vir ons huwelike dat ons voortdurend leergierig oor die Woord en geestelike groei is. God wíl en kán ons genees as ons Hom net toelaat. En moenie dink dat jy geestelike aanslae met kopkennis en eie vaardighede kan oorwin nie: “…ons voer nie die stryd met menslike wapens nie…” 2 Kor 10:3-4. Wanneer mense bevry word van hierdie bindinge, besef hulle hoe hierdie strik vernietiging in hulle lewe gesaai het. 2 Tim 2:26 leer: “Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam.”
Wanneer jy op die Heilige Gees ingestel is, sal Hy jou vermaan en waarsku. As jy in ’n verhouding met God is, sal jy mos begeer om te gehoorsaam en die riglyne van die Woord te volg.
Maak gereeld seker dat jy weet wat jou maat se emosionele, geestelike en seksuele behoeftes is. Kies om dit te eer en daagliks in jou verbond te belê. Mag almal wat hierdie lees, nie net die beskerming van God in hulle huwelike geniet nie, maar ook kies om met hulle keuse hulle huwelik te dien en te eer!

GRETHA WIID is ’n verhoudingskenner, gasspreker en outeur. Kontak haar by: www.grethawiid.co.za of Facebook: Gretha Wiid


Stabiliteit In God

Dit is natuurlik so dat ons nie alles van die Here weet, of al Sy gedagtes of aksies kan verklaar nie. As dit die geval was, was Hy nie God en in beheer nie en kon ons met ons verstand en begrip dinge beheer. Ons sou die Here kon ontleed en Sy wil deur ons denke tot een van die natuurverskynsels verlaag; sou ons Sy denkpatrone soos die weer kon voorspel.

Tot in ewigheid dieselfde
Ons bely ook op grond van wat ons van Hom uit die Bybel weet, dat die Here net goed is. Al kan jy nie alles van die Here verstaan of voorspel nie; Hy is goed. Hy blý goed omdat Hy nie verander of aan verandering onderworpe is nie. Hy is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde.

Die stabiliteit van God
Ons sing saam met Romeine 11:33: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele en onnaspeurlik Sy weë!” Die feit dat God altyd dieselfde is, is ’n noodsaaklikheid vir ons omdat ons aan gedurige druk, verandering en nuwe idees onderworpe is. Die stabiliteit van die God van ons geloof – dat ons weet wat ons aan Hom het – is ons redding.

Alles is van Hom afhanklik
Wat ons ook uit byvoorbeeld, Psalm 104 weet, is dat alles op aarde van die Here afhanklik is. Of, volgens Romeine 11:36: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.” Dit beteken egter ook dat Sy wil allesomvattend is. Prontuit gesê: niks gebeur buite die wil van die Here nie; selfs nie die haartjie wat jy verloor nie.

Waar kom gebrokenheid dan vandaan?
God is altyd dieselfde. Hy is ’n bron van goedheid, genade en redding, daarom kan ons Hom elke dag loof. Maar, as die Here goed is en alles beheer, waar kom die gebrokenheid met haat, onrus, venyn, groot menslike foute en ongelukke, moord, roof en verkragtings, droogtes en onverwagse en verpletterende vloede dan vandaan?

Wanneer mense bloei, breek en kneus
Hoe moet jy die Here loof as die droogte jou, en jou hoop op ’n beter finansiële toekoms, plattrek? Wanneer jy, saam met alles om jou, wegspoel? Hoe kan jy die Here wat regeer en beheer, vanuit jou hart loof, as mense bloei, breek en kneus in ’n sinnelose motorongeluk? Is God nog in beheer waar daar op die oog af geen beheer is nie?

Hy is deel van elke situasie
Dit is hier waar die bestendigheid en grootheid van God inkom. Hy verander nie saam met rampe en ongehoorsame mense nie. Moet Hom nie soek in die dinge wat skeef-loop nie, maar in Sy onveranderlike goedheid; in Sy standvastige goedheid wat deel is van elke droewige, neerdrukkende situasie wat jy waarneem. Geen prentjie van ’n lewensituasie is volledig sonder die lewende, goeie God nie.

U is daar
Jy sal moontlik nie alles wat skeefloop kan verklaar nie, maar jy is nooit sonder God nie. Jy moet dít weet: jy bly in Sy hand. Psalm 139:8-10 sê uitdruklik: “Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei U hand my, hou U regterhand my vas.”
Intussen is dit ’n kwessie van ‘U wil geskied’. Al verstaan ons nie alles nie. Die wil van die goeie, wyse God geskied. Om te bid: “Laat u wil geskied…” beteken ook om God te loof en Sy goedheid te erken. Jy kan Hom loof, want Hy laat jou lewe, hier en in die Hiernamaals.

Wat sluit Sy wil in?
Om te sê dat God se wil alles omvat, is eintlik om te sê dat Hy in alles die finale sê het. Dit is ons groot troos. Dít en die feit dat ’n verloste mens in Sy goeie hande is. Goeie hande wat nie verhoed dat ek seerkry of sterf nie, maar wat my vir hierdie lewe en die lewe hierna in God veranker.
As Sy wil alles insluit, sluit dit ook my gebede, inisiatiewe, positiewe ingesteldheid en bydraes in. Die feit dat my kant van die saak in Sy wil ingesluit is, lê op my die verantwoordelikheid om Sy positiewe wil, waarvan die Tien Gebooie ’n opsomming is, uit te lewe. Die feit dat ek in die gebed na antwoorde soek, is Sy wil.
Ek moet eintlik bid: Laat U wil ook deur my geskied. Mag my gehoorsaamheid, geloof en liefde van hierdie wêreld reeds U koninkryk maak. Laat U wil deur my geskied en U koninkryk nou reeds deur my kom. Here ek sal U loof, U weldade roem! Want U is in beheer!

PROF. PIET STRAUSS, voormalige mo¬derator van die NGK se Algemene Sinode, professor in die dept. kerkge¬skiedenis aan die UV. www.uovs.ac.za


Is Ek Eerlik?

As daar ’n JUIG-leser is wat ná die openbare beskermer (OB), Thuli Madonsela, se verslag oor president Zuma se ‘landgoed’ by Nkandla, positief voel oor korrupsie en sy tweelingboetie, bedrog, op alle vlakke binne en buite die staatsdiens in Suid-Afrika, laat hy/sy die hand opsteek. By die skryf hiervan is ek nog nie bewus van een argument in die openbare media die afgelope tyd wat ten gunste van korrupsie of die toe-smeer van ongerymdhede is nie.

Korrupsie is onaanvaarbaar
Selfs die ANC se pogings tot skadebeheer ten opsigte van die beeld van Zuma, bevat nie propaganda vír korrupsie nie.
Ek het ook niemand gesien wat die argument ernstig opneem nl. dat die openbare beskermer haar verslag bekend gemaak het om die ANC by die verkiesing in April te knou nie. Korrupsie – die aanklag in haar verslag – is korrupsie, voor of ná ’n verkiesing.
Onoortuigende toesmeerdery
Die statuur en inhoud van die OB se verslag vereis dat dit ernstig opgeneem word en dat ewe ernstige optrede daaruit sal voortspruit: optrede deur die owerheid, wat die vermoë het om ongerymdhede aan die kaak te stel, en wat weer vertroue in sy integriteit moet inboesem. Die staat se onoortuigende toe-smeerdery gee eenvoudig net nog ’n hupstoot en ’n bedekte “ja” vir die klimaat van korrupsie en bedrog wat in Suid-Afrika heers. ’n Klimaat wat vanaf staatsweë nie geloofwaardig en ernstig bekamp word nie.

Interne korrupsie
Die feit dat daar – na bewe-ring – soveel interne gevalle van korrupsie is, en dat mense wat self agter die deur staan, ongerymdhede nie wíl of kán vasvat nie, bemoeilik interne korrupsiebekamping deur die staat. Madonsela en diegene wat haar optrede steun, is klaarblyklik die uitsondering op die reël. Sy is ’n vrou wat met kalmte, vasberadenheid en volharding haar geloofwaardigheid versterk.
Madonsela se verslag is ’n omvattende getuienis van nog ’n geval waar hierdie epidemie moontlik weer toegeslaan het. Nie op ’n nie-nuuswaardige, algemene grondvlak nie, maar aan die spits van die regering: by die president. En ons weet, die leier gee die toon aan.

Die Kerk se rol
Natuurlik kan ons kerke weer aanspreek: wat doen julle in hierdie situasie? Hoekom tree julle nie ’n slag beslissend op nie? Waarom is julle stil? Is dit die ou kwaal van buig voor die bewindhebbers? Die vraag hierop is egter: hoe effektief kan die Kerk wees as almal in elkgeval van die Kerk verwag om korrupsie en bedrog aan te spreek? Ek het ’n jaar of twee gelede die ervaring gehad dat kerke dit omvattend en met voorbeelde aangespreek het – sonder sigbare resultate.
Is ons nie lankal by praat – die instrument van die Kerk – verby nie? Die president het al beweer dat die ANC God se ‘gestuurde’ is, by implikasie met God se seën optree en dat kritiek dus onvanpas is.

Wat doen die gemeenskap?
Miskien is ’n meer relevante vraag wat elkeen van ons as gelowiges aan die situasie doen. Dit is kommerwekkend dat hoewel 80% of meer van die bevolking in Suid-Afrika gelowiges is, korrupsie, bedrog en ander misdaad aan die orde van die dag is. Waarom is daar nie in die gemeenskap ’n sterk, sigbare weerstand teen korrupsie nie?
Bewerings van korrupsie deur amptelike verslae, soos dié van die OB, maak dit nie vir politici onmoontlik om met hulle ongeloofwaardige leierskap voort te gaan nie – soos in ander demokratiese lande. Dit blyk dat korrupsie so algemeen in hierdie land is dat dit nie meer as ’n ergerlike sonde (in die NG Kerk ’n term vir ’n tugwaardige sonde) beskou word nie.

Begin by jouself
Ons verwerp korrupsie en bedrog, maar…
Elke gelowige moet by homself begin. “Is ek eerlik en onomkoopbaar? Bly ek by dit wat reg en eerlik is? Is ek ’n faktor teen korrupsie en bedrog – selfs al sou dit my geldelik of wat my aansien betref, benadeel?”
Ons maak ’n saak daarvoor uit dat die Tien Gebooie elke faset van die lewe raak. Boonop is deursigtigheid in ons huidige grondwetlike bedeling ’n eis vir alle burgers; nie net vir die man op straat of die gewone sakeman of algemene opvoeder nie, maar ook vir die regering.

Hou jou woord
Korrupsie en bedrog val onder die Negende Gebod: Jy mag nie valse getuienis lewer nie! Die positiewe kant hiervan word in Efesiërs 4:29 gestel. “Praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede.” Of, in maklike taal, laat jou “ja” jou “ja” wees en jou “nee” jou “nee”. Voordat jy met mense praat, dink eers in liefde en in waarheid aan hulle. Bou aan jou goeie en betroubare naam onder die mense, maar veral onder hulle vir wie jy versorg, lei of regeer.
Doeltreffende leierskap en bestuur in enige demokrasie verg vertroue en goeie verhoudinge. Jy moet kiesers wat self ook ’n sê het, oortuig en betrek, nie manipuleer of intimideer nie. Om vertroue in te boesem is ’n roeping van die Here aan elkeen van ons. ’n Gesonde gemeenskap wat vooruitstrewend is bou op onderlinge vertroue en aanspreekbaarheid op wat reg is. Wantroue as gevolg van negatiewe ervarings word ’n kanker wat aan ’n gemeenskap vreet.
Groot en klein misdade spruit uit dieselfde geestelike teelaarde. Waar korrupsie en bedrog aan die orde van die dag is, word integriteit by die deur uitgegooi. Sonder die geestelike boustene van vertroue en integriteit kan ’n gemeenskap nie gebou word nie en steier jy om die wankelrige samelewing staande te hou. Dit geld vir alle gemeenskappe ongeag of dit ’n geloofs-, staats-, sport-, sosiale of bedryfsgemeenskap is.
Nkandla is een van die simptome van ’n geestelik steierende staatsgemeenskap en is nie iets waarin Christene hulle moet verlekker nie, dit is ’n alarm wat dringend lui.

Deur Prof Piet Strauss


Dowe Skoonheid deins nie terug vir uitdagings nie

Vicki Fourie is doof. Hierdie beskrywing is egter ’n boksie waarin sy nooit geklim het of ander toegelaat het om haar in te druk nie.
Sy het van kleinsaf geleer om soos iemand wat kan hoor te praat, het haar
skoolloopbaan in ’n gewone skool voltooi en selfs in die skoolkoor gesing. Haar motto’s is: “Ek weet ek kan” en “Dapperheid is nie ’n gawe nie, dit is ’n keuse”. Vicki het weens ’n koors op 6 maande, 97% van haar gehoor verloor. Vandat sy twee jaar oud is, dra sy gehoorapparate en moes leer liplees en soos ’n horende persoon praat. Op sesjarige ou-derdom is sy na ’n gewone skool vir horende kinders…
As kind met ’n gehoorverlies
Toe ek vyf jaar oud was, het ek agtergekom dat my neefs en niggies nie gehoorapparate dra nie. Ek wou by my ouma weet hoekom. Sy was slim: “Vicki, ek dra ’n bril om beter te kan sien. Jy dra gehoorapparate om beter te kan hoor.” Ek het dadelik daarmee vrede gemaak.
My familie het my ook nooit laat voel ek is anders nie. Omdat ek spontaan is, het ek maklik vriende gemaak en het wonderlike laerskoolvriende gehad, maar op hoërskool het dinge soms swaar gegaan. My ma het my voortdurend herinner dat my naam ‘victorious’ beteken en dat ek nie ’n ‘victim’ is nie, maar ’n oorwinnaar.

Ouers van ’n gehoorgestremde kind
My ouers se ingesteldheid is dat enige kind – gehoorgestremd of nie – ’n skeppingsdoel het. Vertrou God om jou kind se potensiaal aan jou te openbaar; lei hom daarin, dan sal hy selfgemotiveerd wees en die wêreld sal vir hom oopgaan. Ek is so dankbaar dat my ouers my gedruk het om in die horende wêreld te kan funksioneer.

Nuwe lewe
Albei my ouers is pastore en ek het in die kerk grootgeword, maar ek het eers ’n werklike ontmoeting met God gehad toe ek 14 jaar oud was – kort nadat ek in ’n skietongeluk was wat my lewe amper beëindig het. In pleks daarvan het dit ‘nuwe lewe’ gebring! Depressie het ook ’n tydlank ’n houvas op my lewe gehad, maar ek het geleer dit maak nie saak hoe groot die probleem is nie, maar hoe groot God is. Wanneer ek by skole praat, is my groot fokus op wedergeboorte.

’n Gesindheid van oorwinning
Elkeen sukkel met uitdagings in die lewe. Dit kan wees om te vergewe of om te aanvaar hoe jy lyk. Daardie berge is daar om oorwin te word. My gehoorgestremdheid het my nog nooit teruggehou van enige iets nie. Dit het my net meer vasberade gemaak om hoër te klim. Hierdie gesindheid moet soos ’n spier geoefen word. Aan die begin is dit glad nie maklik nie, maar dit raak al hoe makliker. Later wonder jy: Hoekom het ek ooit so aan myself getwyfel?

Praktiese uitdagings
Ek kommunikeer per e-pos, Facebook, Twitter en met SMS’e. Ek kan nog nie oor die foon praat of radio luister nie, maar met my kogleêre inplanting sal ek binnekort oproepe kan maak en na RSG luister! Ek oefen elke dag saam om te luister. My brein, wat nie gewoond is om klanke in woorde om te sit nie, moet begin leer om te luister en woorde te onderskei. My ouers lees sinne uit ’n tydskrif terwyl ek wegkyk en lúíster sonder om te lip-lees. Dit is vermoeiend, maar dit raak al hoe makliker.
By lughawens is dit soms ’n uitdaging, veral met die aankondigings oor die luidsprekers. Ek hou die TV-skerm met al die vlugtye dop en maak seker ek sit by die regte instaphek. Ek vra ook gereeld wat aangaan, net om seker te maak dat ek by is met wat aangaan. Ek vra elke dag baie vrae: ‘He who asks, is a fool for a moment; he who does not ask, remains a fool forever.’

Kerk en gehoorverlies
Ek ontmoet wonderlike mense op my reis; ds. Jan-Harm Barkhuizen van Vredenburg is een van hulle. Hy is ’n horende predikant, maar gebruik gebaretaal wanneer hy preek sodat die dowes ook deel van die diens kan wees. Dirk Venter in Pretoria het onlangs ’n TV-program, ‘Deaf Friendly’, op Kruiskyk begin, waartydens daar vir dowes getolk word. Hul tema is: Laat die dowes die Evangelie sien.
Ek het van kleinsaf geleer hoe om te ‘praise en worship’. Ek kon net nooit my oë toemaak terwyl ons sing nie, want ek moes altyd bewus wees van waar die liedjie nou trek en wat die ritme is. Vandat ek my inplanting gekry het, kan ek my oë toemaak. Dit is wonderlik!

Die regte lewensmaat
Geduld speel ’n groot rol in die wag vir die lewensmaat wat God vir my het. ’n Mens is geneig om bang te wees jy bly agter wanneer vriende almal begin trou, maar elkeen stap sy eie pad; daar is nie ’n perfekte ‘resep’ nie. Wanneer ek angstig raak en voel ek word nou te ‘oud’ en ‘gaan nooit ’n man kry nie’, haal ek diep asem. Ek vra myself af: Waar kom al daardie stemme vandaan? Beslis nie van God af nie! Ek sluit daardie gedagtes uit en fokus op wat God van my dink.

Boodskap aan gehoorgestremdes
Ons kan leer om die beste van ons situasies te maak; om jouself te bejammer gaan jou nie ver bring nie. Hou jou fokus op God: “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle kan onderskei wat die wil van God is…” Rom 12:2.

VICKI FOURIE is ’n motiveringspreker en bespreek onderwerpe soos: Ek weet ek kan; dapperheid is nie ’n geskenk nie, dit is ’n keuse. Haar boek, ‘Viva la Vicki’ is beskikbaar by: vickifourie@yahoo.com. Drie lesers kan elk haar boek wen. E-pos andre@juig.co.za met: die naam van die boek; jou naam en van; en jou posadres.