Ontdek Ware Vryheid

Die evangelis, outeur en Bybelleraar, Beth Moore, mag petite wees, maar sy maak ’n groot indruk! Haar charisma is aansteeklik – binne vyf minute het sy ’n hele saal vol vroue kliphard aan die lag.
Ondanks ’n liefdevolle Christelike ouerhuis, is sy op ’n vroeë ouderdom deur iemand na aan die gesin gemolesteer. As gevolg hiervan het Beth as ’n skaam onseker meisie grootgeword en as jong volwassene baie verkeerde keuses gemaak. Oor hierdie aspek van haar lewe sê Beth: “Ek deel nie die besonderhede van my viktimisering nie omdat ek die Geneser wil verheerlik, nie die pyn nie.”

Persoonlike beproewinge bemoedig ander
Dit was ook nie die laaste keer dat Beth na die Here moes draai vir genesing nie; sy en haar man, Keith, moes hulle aangenome seuntjie ná sewe jaar weer aan sy biologiese moeder teruggee toe sy hom opgeëis het. Beth het ook haar moeder aan kanker afgestaan en moes haar dogter bystaan wat aan ’n eet-steurnis gely het. Moore se gewilligheid om oor hierdie persoonlike beproewinge te praat, het talle vroue al gehelp om hulle uitdagings te bowe te kom.

’n Liefde vir Sy Woord
Dit was tydens haar ervaring as ’n Sondagskoolonderwyseres dat sy besef het haar Bybelkennis skiet te kort. Sy het vir ’n teologiese klas by die kerk ingeskryf met die verwagting dat dit uiters vervelig gaan wees, maar die kursusaanbieder het die klasse met soveel liefde vir die Skrif aangebied dat dit haar aangespoor het. “Ek het twee dinge gebid,” onthou sy. “Ek het gebid dat ek God meer as enigiets anders in my lewe sal liefhê, en dat ek ’n liefde vir Sy Woord sal ontwikkel.” En dit is presies wat Hy begin doen het.

Gewilde Bybelstudies
Met hierdie nuutgevonde honger na God se Woord het Beth Bybelstudiehandleidings begin skryf en met ander vroue gedeel. Toe-
nemende versoeke vir haar materiaal het daartoe gelei dat sy in 1995 Living Proof Ministries gestig het. Wêreldwyd geniet vroue van elke denominasie haar Bybel-studiereekse.
In haar gewildste Bybelstudieboek, ‘Breek Vry’, gebruik Moore haar persoonlike erva-ring ter verduideliking hoe gelowiges uit die valstrik van sonde en pyn verlos kan word en vreugde en vryheid in Christus kan beleef. Hier volg ’n uittreksel uit hoofstuk 1…
Jesaja 61:1-4: “Die Here het my gesalf om goeie nuus te bring vir arm mense. Hy het my gestuur om dié wat hartseer is, te troos, om vir die gevangenes vryheid aan te kondig, en vrylating vir dié in die tronk…Maar almal wat treur, troos Hy, die dag wanneer Hy vir dié wat in Sion treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer…”
As jy wonder of hierdie studie vir jou bedoel is, kyk net of jy in een van die kategorieë val. Dié studie is bedoel vir dié wat arm is, dié wat hartseer is, dié wat gevange gehou word. Is jou hart gebreek? Word jy deur iets gebind? Rou jy oor iets of iemand? Ervaar jy wanhoop? As daar enigiets in jou lewe is wat jou weghou van die oorvloedige lewe wat Christus Jesus jou wil gee, is hierdie studie vir jou.
Geen ander boek in die Bybel sê vir ons meer oor vryheid en die bevryding vir die gevangenes as Jesaja nie. Jesaja 9:3 verduidelik hoe God die juk van die gevangene breek: “God sal die kettings wat Sy volk vasbind en die sweep waarmee hulle geslaan is, stukkend breek. Hy sal maak net soos op die dag toe Hy Midian verslaan het.” God sal die juk wat so swaar op baie van ons druk, breek soos Hy die Midianiete se juk op Sy volk Israel gebreek het. Wat het gebeur toe God Midian verslaan het?
Blaai na Rigters 6:1: “Die Israeliete het weer begin doen wat verkeerd is in die oë van die Here.” Uit die woord “weer” kan ons sommer baie leer; ook ons moet “weer” bevry word. Ek het jare lank in die bande van my “weer” geleef. Ek was binne-in die put, dan weer vry, maar elke keer het ek maar weer in die put beland. “Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is…Daarom het God hulle sewe jaar lank aan die Midianiete onderwerp”. Sewe is die getal van voltooidheid. Dit kon dalk letterlik sewe jaar gewees het, maar vir ons vandag sê die Here: “Ek gaan jou net lank genoeg hieraan oorgee totdat jy na My om hulp roep en sê jy is nou klaar daarmee.”

Christene kan ook onderdruk word
Ek het aangeneem iemand wat in Christus is, is outomaties vry. Ek het egter ontdek dat wanneer die Bybel van gevangenes praat, dit meestal oor God se volk gaan, oor mense wat deur God vrygemaak is, maar wat weer in slawerny verval het. Wat is hierdie gevangenskap in ons lewe? Dit is enigiets wat jou keer om die volheid wat God vir jou beplan het, uit te leef.
Dit kan enige vorm aanneem – vrees…verslawing, minderwaardigheid…woede, ens. Kom ek vertel jou wat ons opsies is. Ons kan onder die juk gevange bly of ons kan vrygemaak word. God wíl jou vry maak. Al wat ek van jou vra, is: Gee God ’n kans. As daar dinge in jou lewe is waarvan jy vry moet wees, vra ek jou om Hom deur hierdie studie ’n kans te gee. Laat God jou denke vernuwe.

Doel van die onderdrukker
Kom ons keer terug na Rigters 6. Ons sien die doel van die onderdrukker is eerstens om ons onproduktief te maak…Elke keer as die Israeliete iets geplant het, het die Midianiete dit vernietig. Die Hebreeuse woord wat hier met ‘vernietig’ vertaal word, is ‘shahat’. Dit beteken ‘om te ruïneer’, ‘te verloor’, of ‘te vermors’. Die onderdrukkers het enige vrug van die Israeliete se arbeid geruïneer. Johannes 15:8 sê: “Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is.” Nie ’n bietjie vrugte nie, baie vrugte. Jy moet vrugte in oorvloed dra. Wat staan in die pad hiervan? Onderdrukking.

Tweede doel: Om ons plat te slaan
Die tweede doel van die onderdrukker is om ons plat te slaan. Rigters 6:6 lui: “As gevolg van die Midianiete was die Israeliete totaal teen die grond. Die Israeliete het toe by die Here om hulp begin smeek.” Die Hebreeuse woord wat hier met “totaal teen die grond” vertaal word, is ‘dalal’. Dit beteken ‘om moedeloos te maak’, ‘om leeg te tap’…’om te misluk’. As die vyand jou laat dink jy is ’n mislukking, word jy onderdruk. As enigiets jou selfbewus en nie opgewasse vir jou taak laat voel nie, staan jy onder ’n juk van onderdrukking. Maar, ons gaan hierdie juk breek.

Soek jy skuiling of vryheid?
As ons nie vryheid soek nie, sal ons skuiling soek. Ons kan aangaan om soos gevangenes onder ’n juk te leef of ons kan na God toe draai en vrygemaak word. Die Midianiete het die Israeliete só sleg behandel dat hulle in grotte gaan wegkruip het. Gideon het in ’n parskuip koring uitgeslaan. Dit is glad nie die plek vir koring uitslaan nie. Die Midianiete het die Israeliete laat wegkruip. Dit is presies wat elke keer met ons sal gebeur. Die vyand se onderdrukking sal ons isoleer en verwoes. Selfs ons verhoudings met mense kan die vyand se vestings in ons lewe versterk. Ek weet nie van jou nie, maar ek wil nie vriende hê wat die kettings in my lewe versterk nie.

Van swakkeling na magtige stryder
Lees nou Rigters 6:7-13. God sal verheerlik word wanneer Hy die onwaarskynlikste mense in magtige stryders verander. Ons voer elke dag ’n oorlog, en ons moet leer hoe om die goeie stryd te stry. Gideon het gesê: “Verskoon my, Meneer, maar hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid in my pa se familie”. Is dit wat ek en jy ook sê? Ons is te swak, te onbelangrik?
2 Korintiërs 10:4 sê ons het “die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig”. Daar is geen vesting van die vyand wat voor Sy krag kan staande bly nie. Ons moet net leer hoe om Sy krag en gevegstoerusting te gebruik. Dit is waaroor hierdie reis gaan: om te leer hoe om God se Woord te gebruik om elke vesting van die vyand in ons lewe af te breek.

Plaas dit op die altaar
Lees nou Rigters 6:17-24. Gideon het vir ’n teken gevra. Hy kon nie glo God het hom gekies om die volk te bevry nie. Jy sal nie ’n teken nodig hê wanneer hierdie reis verby is nie. Ek twyfel nie een oomblik dat Jesus Christus nié kragtig in my werk nie. Dit is die een waarheid waaroor ek en jy nooit hoef te twyfel nie. Net God kan ons vrymaak. Nadat Gideon sy twee te-kens ontvang het, het hy vir die Here ’n altaar gebou.
Wat ons ook al op die altaar neersit, sal God volkome aanvaar. Niks waaraan ons so vasklou, is die moeite werd nie. God sal jou seën wanneer jy dit opoffer. Hoe moeilik dit ook al vir jou sal wees, offer alles wat jy in God se plek geplaas het. Wanneer ons hierdie dinge op die altaar neersit, sal God self die vuur stuur. Ek hoop jy het die humor in vers 23 raakgesien. Die Here het vir Gideon gesê: “Dit is alles in orde. Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!” Ons slawerny, die kettings wat ons boei, sal ons nie doodmaak nie, al dink ons soms so.

Die doel is ’n lewe in oorvloed
Die doelwit van hierdie reis is nie om jou dood te maak nie, maar om jou vry te maak sodat jy die lewe in oorvloed kan leef. Moenie bang wees vir wat hierdie reis jou gaan kos nie. Wees eerder bang dat jy sal misloop wat God vir jou wil gee. God kom nie na jou toe om jou dood te maak nie, maar om jou die lewe in oorvloed te gee. Soms besef ons eers hoe onderdruk ons was wanneer ons werklik vrygemaak is.
Dit is tyd vir ’n waaghalsige ontsnapping. Watter soort toekoms wil jy hê? Wil jy oud word en onder jou juk sterf? Of wil jy vry wees? Vandag is die dag. Die dag van God se guns. Die dag om vry te wees.

BETH MOORE is ’n outeur, evangelis en Bybelleraar. Hierdie is ’n uittreksel uit haar boek, ‘Breek Vry’. Vir meer inligting oor Beth en Living Proof Ministries, besoek www.lproof.org

WEN! Vyf gelukkige lesers kan elkeen ’n eksemplaar van ‘Breek Vry’ ontvang met komplimente van Christelike Uitgewersmaatskap-py. E-pos ‘Breek Vry’ gevolg deur jou naam en van aan julia@joymag.co.za


In Perspektief

Die debat oor transformasie en die noodsaaklikheid van die verwydering van ‘koloniale’ simbole het op kampusse gewoed en landswyd in hewige protes uitgebars. Eers is die optrede van ’n paar studente in Kaapstad as ongegrond en van min belang afgemaak, maar net ’n paar weke later het hierdie uitgesproke jeugdiges daarin geslaag om die standbeeld van Cecil John Rhodes te laat verwyder en hier het die ‘die saak’ vir transformasie ook nie geëindig nie.
Binne ’n paar dae is standbeelde landswyd gevandaliseer, verskeie van hulle met geen verbintenis tot Apartheid nie – bloot omdat hulle as wit-ikone beskou word. Intussen het rassisme opgevlam met opmerkings op sosiale media wat ’n ernstig verdeelde reënboognasie blootgelê het. Dit lyk inderdaad of Suid-Afrika steeds bloei en behoefte het aan ware genesing (wat ons as Christene weet, net uit ’n verhouding met Christus kan kom.)

Moenie onderliggende kwessies ignoreer nie
Dit is maklik om die dade en intensies van die studente [en die ander EFF-vandale] as oningelig af te maak – maar ons durf nie die feit ignoreer dat as tasbare transformasie nie plaasvind nie (in terme van mense se ingesteldheid, sosiale status, ekonomiese vooruitsigte, ens.), ons sal voortgaan om ’n verdeelde en gebroke nasie te wees.
God het ons geroep om die sout en die lig van die wêreld te wees. Om waarheid (en opvoeding), maar ook versoening te bring…om ons naaste lief te hê en gewillig te wees om hulle griewe aan te hoor (en die tweede myl te loop).
Beteken dit dat ons wetteloosheid en gewelddadige protesaksie goedpraat? Nee. Vernielsugtige gedrag sal nooit tot konstruktiewe veranderinge lei nie. Beteken dit dat ons sinvol in gesprek moet tree met diegene wat politieke en sosiale klagtes het? Ja. Of ons met die geldigheid van die griewe saamstem of nie, ons moet luister. Waarom? Omdat persepsie die werklikheid is – as ons nie weet wat ander mense se persepsie is nie, kan ons nie hulle wanopvattings en misplaasde ideologie verbreek nie, en daarom kan hulle gedrag nooit verander nie.
Ons moet vir ons nasie en ons leiers bid. Kerke moet rasseversoening en sosiale bewustheid be-vorder. Die Evangelie moet van die kansel tot in die tronke gepreek word, van die kampusse tot in die landelike townshipskole. –Red

Die belang van die geskiedenis
Deur die voorbeelde uit die geskiedenis weet ons wat gewerk het en wat nie. Ons moet die vermoë ontwikkel om hierdie lesse op elke gebied toe te pas. Ons moet weet waar ons wortels lê. Alles het gevolge. Die geskiedenis illustreer die gevolge van idees en dade en bied ons voorbeelde van die mens se verdorwenheid en opstand teen God, asook van God se genade, barmhartigheid en soewereiniteit in Sy ingryping met die verloop van menslike gebeure.
“Die geskiedenis is en moet altyd naas God se Woord die rykste grondslag vir wysheid wees, en die onfeilbaarste gids tot alle sukses-volle praktiese aktiwiteite,” -Phillip Shaff.

Voorbeelde van uitnemendheid
Die geskiedenis kan ons die visionêre uitkyk bied van diegene wat ’n uitwerking op die samelewing gehad het en dien as voorbeeld van uitnemendheid wat ons inspireer om moedig en standvastig te wees ten spyte van alle teenkanting.
Ons moet uit die voorbeeld van positiewe godvresende rolmodelle leer – hulle is voorbeelde van uitnemendheid wat ons kan inspireer om na hoër hoogtes te reik en meer te bereik deur die gesamentlike wysheid van die verlede. Ons moet ook uit die foute van ander leer om voordeel te trek uit die nou-gesette ontwikkeling en opoffering van ons
geloofsvaders.

Inspirasie en bemoediging
Ons kan bemoediging uit die geskiedenis put om te volhard; ons vind teregwysing vir kortsigtigheid en selfsug. Die geskiedenis bied lesse om vals lering oop te vlek en ondeur-dagte beleid mee reg te stel. Die geskiedenis kan ons leer om nederig te wees wanneer ons die groot opoffering in ag neem wat ander gemaak het sodat ons die voorregte van vandag kan geniet. Die geskiedenis kan ons beproe-winge en probleme in perspektief stel.
Ons moet uit die geskiedenis leer, of ons sal dieselfde foute herhaal. “Diegene wat nie die verlede kan onthou nie, is gedoem om dit te herhaal.” -George Santayana.

Verstaan die tyd waarin ons lewe
Die ware geskiedenis, vertel vanuit ’n Bybelse perspektief, is ’n skatkis van die Kerk wat ons kan leer dat die waarheid die tyd deurstaan. Die Skrif vermaan ons om die tekens van die tye te verstaan sodat ons mag weet wat ons te doen staan. (1 Kronieke 12:32).

Grondslag vir die toekoms
Hoe verder jy terugkyk hoe verder vorentoe kan jy sien. ’n Hoë gebou het diep fondasies nodig. ’n Hoë boom het ’n diep wortelstelsel. Om te verstaan wie ons is, moet ons verstaan waar ons vandaan kom. Ons moet insig hê in die gebeure en kwessies van die verlede wat met ons huidige uitdagings ooreenstem.

Voorkennis maak voorsorg
Om voorbedag te wees op die probleme en bedreigings van die toekoms, moet ons die verlede bestudeer. Deur die mense, gebeure en kwessies te bestudeer wat ’n uitwerking op die verloop van die verlede gehad het en ons huidige situasie beïnvloed, sal ons onmeetlike insig en hulp daaruit put wat ons denke van heersende wêreldbeskouings sal help bevry en ons help om potensiële slaggate te vermy. Soos professor C.S. Lewis gesê het: “Dit is nie die verlede wat onthou word nie, maar die vergete verlede wat ons tot slaaf maak.”

Geloof in die geskiedenis gewortel
Die Christendom is in die geskiedenis gewortel. Groot dele van die Bybel is inderdaad geskiedenis. Van die kernleringe van die Skrif word met historiese gebeure verbind wat in die Bybel opgeteken is: die Skepping, die Sondeval, die Sondvloed, die Eksodus, die val van Jerusalem, die ballingskap na Babilon, die terugkeer van die bannelinge, die vleeswor-ding van Christus, die kruisiging en Sy opstan-ding en Hemelvaart. Hebreërs 11, die hoofstuk van geloofshelde, fokus op historiese figure as voorbeelde van uitnemendheid om ons te lei en te inspireer.

Moenie oningelig wees nie
Die Apostel Paulus waarsku ons om nie oningelig te wees oor die lesse uit die geskiedenis nie (1 Korintiërs 10:1-11). Die Apostoliese geloofsbelydenis fokus op die historiese oorsprong van ons Geloof. Waar die Evangelie in 1 Korintiërs 15:3-9 opgesom word, fokus dit op historiese gebeure. Lukas wat die Evangelie en die boek Handelinge geskryf het, was ’n pun-tenerige historikus. Die geskiedenis is besig om op ’n kritieke einde af te stuur: Die vervulling van die Groot Opdrag, die wederkoms van Christus en die oordeel van die lewendes en die dooies. Weens die belang van die geskiedenis is die navorsing van manuskripte en argeologie uiters noodsaaklik.


Hoeveel Verskil Ons Van Ape?

Ons sien dikwels stellings wat daarop aanspraak maak dat die DNS van die mens en die sjimpansee ‘amper identies’ is, en dat dit slegs 1% van mekaar verskil. Daar is byvoorbeeld ’n 2012-verslag oor die bonobo (een van die sjimpansee-spesies) met die volgende stelling: “Sedert navorsers die sjimpansee-genoom in 2005 ontrafel het, is vasgestel dat die mens ongeveer 99% van sy DNS met sjimpansees deel – wat hulle dan ons naaste lewende voorsate maak.”
Dít is ook nie uit sommer enige bron aangehaal nie, maar uit ‘Science’, wat deur die ‘American Association for the Advancement of Science’ uitgegee word. ‘Science’ word as een van die top wetenskapjoernale ter wêreld beskou (die ander een is ‘Nature’, van Engeland).
Die oorspronklike 1%-aanspraak dateer uit 1975. Dit was lank voordat ’n lynregte vergelyking van individuele ‘letters’ (basispare) van die genetiese kode van die mens en die sjimpansee se DNS moontlik was – die eerste konsepontwerp van die mens-DNS is nie voor 2001 gepubliseer nie en die van die sjimpansee-DNS eers in 2005.
Die 1%-aanspraak van 1975 het gespruit uit die (nou verouderde) vergelyking van slegs bepaalde segmente van mens- en sjimpansee-DNS wat vooraf vir gelyksoortigheid afgesonder is. Die sjimpansee- en mens-DNS-stringe is toe noukeurig ondersoek vir die mate waarin hulle aan mekaar heg – ook bekend as DNS-hibridisering.

Sou ’n 1%-verskil ‘feitlik identies’ wees?
Die mensgenoom het ongeveer 3 000 miljoen ‘letters’. As die 1%-syfer korrek was, sou dit ’n verskil van 30 miljoen ‘letters’ beteken. As al die ‘letters’ gedruk word, sou dit gelykstaande wees aan tien Bybelgrootte boeke. Dit behels 50 keer die hoeveelheid DNS in die eenvoudigste bakterie. Dit is dus eintlik ’n baie groot verskil; een wat die vermoë van selfs die mees optimistiese evolusionêre scenario ver oorskry, selfs gegewe die aansprake van miljoene jare.

Wat is die werklike verskil?
Danksy verskeie navorsingspublikasies kan die mens- en sjimpansee-DNS tans met mekaar vergelyk word. Selfs dít is egter problematies omdat die sjimpansee-genoom nie vanuit niks saamgestel is nie. Segmente van die sjimpansee-DNS is eers gekodeer, dit wil sê, die volgorde van die ‘letters’ is chemies in ’n laboratorium bepaal. Deur van rekenaars gebruik te maak wat segmente vergelyk, is die stringetjies ‘letters’ toe teenoor die menslike genoom opgestel. Die menslike genoom is toe verwyder, wat ’n pseudo-sjimpansee-genoom agtergelaat het, met uiteindelike aannames oor gemeenskaplike afkoms (evolusie). Dit het ’n ‘basterkode’ geskep, wat in werklikheid nie bestaan nie. Die aanname dat evolusie wel plaasgevind het, het neerslag gevind in die samestelling van die sjimpansee-genoom wat dit meer na ’n menslike genoom laat lyk het as wat werklik die geval was. Selfs met hierdie aannames, is die werklike verskil heelwat groter as 1%.
In 2007 is ’n artikel in ‘Science’ gepubliseer oor die eendersheid van die mens- en sjimpansee-DNS getitel, ‘Relative differences: the myth of 1%’. Die outeur, John Cohen, het die voortgesette gebruik van die 1%-syfer bevraagteken. Hy het na latere navorsing verwys wat op ’n verskil van nagenoeg 5% dui. En tog bestaan die 1%-mite steeds voort in dieselfde joernaal in 2012.
Om te illustreer hoe onjuis dit is, let op die volgende: In 2012 hersien drs. Jeffrey Tomkins en Jerry Bergman gepubliseerde studies wat die mens- en sjimpansee-DNS vergelyk. Met ál die DNS in ag genome, en nie net vooraf gekose segmente nie, was hulle bevinding: “ ’n Mens kan met redelike sekerheid bepaal dat die mens- en sjimpansee-genoom nie meer as 87% identies is nie, selfs nie eens hoër as 81% nie.”
Met ander woorde, aansienlike verskille is betrokke, moontlik selfs groter as 19%. Tomkins het inderdaad sy eie deeglike vergelyking gemaak en bevind dat die verskil 30% is. Ook dat die manlike Y-chromosoom [van die mens en sjimpansee] radikaal verskil van evolusioniste se verwagtinge. Om twee komplekse genome te vergelyk is inderdaad ’n moeilike taak. Daar moet aannames gemaak word oor die belang van verskillende gedeeltes van die DNS, asook die verskille in onderskeie tipes. Byvoorbeeld, hoe moet menslike gene wat nie in sjimpansees aanwesig is nie, benader word en ook andersom? Die neiging is om dit te ignoreer en net gene wat ooreenstem te vergelyk.
Heelwat van die vergelykings het slegs proteïenkoderende gene behels (slegs 1,2% van die DNS, en verskeie proteïenkoderende gene wat gedeel word, stem inderdaad baie ooreen) met die aanname dat die res van die DNS nie ‘belangrik’, of selfs ’n tipe ‘rommel’ is. Hierdie uitgangspunt is egter nie meer houdbaar nie; trouens bykans al die DNS het waarskynlik ’n funksie, weer eens in teenstelling met die verwagtinge van evolusioniste. Selfs al sou ‘rommel’-DNS nie ’n funksie verrig nie, is die verskille hier baie groter as dié in die proteïenkoderende gedeeltes, en moet dit ingesluit word wanneer verskille bepaal word. Ons is dus níé 99% identies nie; nie naastenby nie!

Wat sou enige persentasie ooreenstemming bewys?
Nòg evolusioniste nòg kreasioniste kon voorspellings waag oor die persentasie ooreenkomste alvorens dit bereken is. Met ander woorde, of dit 99%, 95%, 70%, of wat ook al was, evolusioniste sou steeds op ’n gemeenskaplike afkoms aanspraak maak terwyl kreasioniste gemeenskaplike ontwerp sou voorhou. Om die implikasie van hierdie data te verstaan, moet in gedagte gehou word dat eksperimentele wetenskap nie hier betrokke is nie; almal maak afleidings oor die betekenis van die data, gebaseer op persoonlike wêreldbeskouings.Hoe groter die verskille tussen aap en mens is, hoe groter die probleem om dit binne die evolusionêre tydsraamwerk te probeer verklaar; gevolglik poog evolusioniste voortdurend om die verskille as onbelangrik op die agtergrond te skuif.

Die mite duur voort!
’n Vergelyking van heel genome het baie groter verskille as 1% onthul, en tog duur die mite van 1% voort. Hoekom onderskryf ‘Science’ in 2012 steeds die mite? In 2007 het Cohen vir Svante Pääbo, ’n genetikus en lid van die ‘Max Planck Institute for Evolutionary Anthropology’ se sjimpansee-konsortium, so aangehaal: ‘Op die ou end, is dit ’n politieke, sosiale en kulturele kwessie oor hoe ons onderlinge verskille benader.’
Miskien weier evolusioniste om die 1%-mite te laat vaar, juis omdat dit ’n politieke, sosiale en kulturele doel dien. Wat sou daardie doel wees, buiten om die duidelike implikasie van DNS-vergelykings – dat ons baie anders as sjimpansees is – te ontken? Die mite van eendersheid is gebruik om die aanspraak te steun dat die mens op geen spesiale plek in die wêreld kan aanspraak maak nie, en dat selfs sjimpansees menseregte gegun sal moet word.
Die groot verskille klop gewis nie met evolusionêre verwagtinge nie. Dit strook wel met die mens wat uniek, afsonderlik van diere geskape is. God het die eerste Adam uit stof gemaak (Genesis 2:7) en die eerste vrou uit die man se ribbebeen (Genesis 2:22), nie uit aapmense nie. En mense, anders as ander skepsels, is na die beeld van God geskape (Genesis 1:26,27); ’n spesiale skepping. Hierdie beeld het nie verlore gegaan nie, maar is deur die sondeval geskend. God het die mens met ’n spesiale doel geskape—vir die hede sowel as die Ewigheid.
DR. DON BATTEN B.Ag.Sc. (Hons.), Ph.D. is die hoof-uitvoerende beampte van Creation Ministries International (CMI) in Australië. Dr. Johan Kruger
van CMI SA is beskikbaar vir aanbiedings: krugerjo@mweb.co.za of 021 979 0107


EVANGELISASIE IN SY NAAM

Liewe Vriend,

In beide die Evangelies van Mattheus & Markus, lees ons die welbekende verhaal van die hoofman oor honderd, wie se dienskneg deur Jesus genees is. Dit is ‘n herinnerings waardige storie, veral weens die verklaring wat Christus gemaak het met betrekking tot die geloof van hierdie Romeinse leier: “Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ’n groot geloof nie gevind nie” (Matt 8v10). Hierdie is beslis ‘n kompliment! Wat was dit aan hierdie stelling wat Jesus so geweldig beïndruk het? In kort blyk hierdie ‘n byna ondeurdagte, roekelose stelling te gewees het maar so séker was hierdie hoofman van Jesus se outoriteit en Sy mag dat hy Hom nie eers wou toelaat om na sy huis toe te gaan nie. Deur sy optrede het hierdie hoofman die risiko geloop van ‘n verlore saak, want as hy verkeerd was, wat sou gebeur het as Jesus dit nodig sou wou ag om die sieke die hande te gaan oplê vir genesing? Moontlik kon sy dienskneg dalk tot sterwe gekom het. Dit was inderdaad ‘n risiko handeling wat nie veel mense sou wou neem nie. Maar die hoofman het egter ‘n roekelose – byna blindelingse – vertroue in Jesus getoon. Hy het die risiko geloop en gewen. Nie alleen het die dienskneg gesond geword nie, maar hierdie hoofman het ook ‘n plek in die Woord verower waar sy geloof dié van die apostels se geloof by verre oortref het. Vandag, liewe leser, wil ek jou ook aanmoedig om te glo. God is Almagtig en totaal en al toegewy tot jou goeie welstand en ook in staat om kragtig vir jou deur te kom. Jy kan ook in Jesus glo op dieselfde roekelose en gedetermineerde wyse as die hoofman oor honderd, en die resultate aanskou van ‘n besliste wonderwerk wat daarop sal volg!
Medewerker in Sy diens,
Tamryn Klintworth, Evangelis

ROEKELOSE GELOOF
Dit wat gevolg het op die 25-jarige Bridget se besoek aan ons Nwamitwa veldtog-dienste is niks anders as ‘n suiwer wonderwerk nie. Nadat sy by die huis gekom het daardie aand en begin voorberei het om te gaan slaap, het die stem van Heilige Gees haar gewaarsku om nie in die huis te bly nie. “Ek het ‘n stem gehoor wat vir my sê om nie in my bed te slaap nie,” het sy verduidelik. “Ek was nuuskierig om uit te vind waarom ek dan nie in my eie bed moes slaap nie, en het begin rondkyk en gesien dat die venster gebreek was,” het sy vervolg. “Ek het na my bure langsaan gehardloop en aan hulle vertel wat die stem aan my gesê het en oor die gebreekte venster. Hulle het saam met my na my huis gegaan en ‘n man onder my bed gekry met ‘n mes en hom toe laat arresteer. Ek weet dit was die Heilige Gees wat my gewaarsku het om nie in my bed te slaap nie, anders was ek daardie aand met ‘n mes gesteek en vermoor. Ek wil die Here dank dat Hy deur Sy Gees tussenbeide gekom het en die planne wat die duiwel teen my lewe beplan het, afgeweer het – hy het nie daarin geslaag nie, as gevolg van Jesus!” Daarmee saam was Bridget ook genees van tuberkulose, wat konstante ongemak in haar bors veroorsaak het vir twee jaar lank. “Ek dank die Here dat ek nie meer ‘n siek mens is nie. Die pyn is nou heeltemal weg!” Inderdaad! Wanneer Jesus opdaag, begin wonderwerke gebeur!
Tamryn is die stigter van In His Name Ministries, ‘n Evangeliese organisasie, toegewy tot die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus, dwarsdeur Afrika en die hele wêreld.

Vind haar op Facebook onder Tamryn Klintworth, of besoek die bediening se webtuiste by
WWW.INHISNAME.ORG.ZA


Die Nuwe Stand Van Sake

In 2013 is bykans 18 000 mense in terreuraanvalle dood, ’n toename van 61% sedert 2012. Verlede jaar het die wêreld met afgryse ISIS se opgang en barbaarse taktiek aanskou; wêreldwyd het 17 891 mense aan die hand van lafhartige terroriste omgekom.
Vier terroristegroepe: die Islamitiese Staat, Al-Kaïda, die Taliban en Boko Haram was wêreldwyd verantwoordelik vir twee derdes van sulke sterftes. Die Australiese navorsingsgroep, Institute for Economics and Peace, berig in sy Global Terrorism Index (GTI) wat in Londen bekendgestel is, dat 80% sterftes as gevolg van terreuraanvalle in slegs vyf lande plaasgevind het: Afganistan, Irak, Nigerië, Pakistan en Sirië.

Toenemende geweld
Sedert die wisseling van die millennium het die aantal sterftes as gevolg van terreurdade vyfvoudig toegeneem; baie van die aanvalle gemotiveer deur politieke en djihadistiese agendas (hoewel die liberale media altyd traag is om te erken dat die meeste van hierdie dade deur Moslems gepleeg is).
Wêreldwyd, selfs in die Weste, was daar ’n skerp toename in die aantal terreuraanvalle, maar amper 50% van die aanvalle het geen lewens geëis nie, omdat dit deur die polisie gefnuik, of deur militêre personeel gestuit is. Sedert 2000 is die Taliban verantwoordelik vir die meeste terreursterftes, nl. 8 763, en kort op hulle hakke volg Al-Kaïda met 8 585 sterftes.

Godsdiensagenda
Die Islamitiese Staat (IS, voorheen bekend as ISIS/ISIL) en Boko Haram het al twee in 2009 meer aktief begin word en dit was die eerste jaar dat die groepe meer as 300 mense elk vermoor het. Gebaseer op data tot aan die einde van 2014, het hierdie twee ryk terreurgroepe binne vier jaar meer as 30 000 mense vermoor!
Terwyl die wêreld se aandag deur ISIS en hulle brutale en aanstootlike onthoofdings gekaap is, het Boko Haram ongehinderd in Nigerië onskuldiges vermoor, jong meisies ontvoer en Christene in Islamitiese slawerny en mensehandel gedwing.
“Daar is ongetwyfeld ’n toenemende probleem. Die oorsake is kompleks, maar die vier groepe wat verantwoordelik is vir die meeste van die sterftes, het almal hulle ontstaan in fundamentalistiese Islam,” merk die stigter van die Institue for Economic an Peace, Steve Killelea op. “ Hulle is veral ontstoke oor die uitbreiding van Westerse invloed. Dit bemoeilik veral po-
gings vir die mobilisasie van die samelewing, wat benodig word om hulle te stuit – dit kan hulle meer die harnas injaag,” het hy verduidelik.
Die verslag berig dat “die toename in terreurdade saamgeval het met die Amerikaanse besetting van Irak. Dit het ’n groot magsleemte in die land geskep wat verskillende faksies die geleentheid gegee het om hulle te vestig en gewelddadig te word.

Taktiek van die aanvallers
In Irak word bomaanvalle by voorkeur deur terroristegroepe gebruik. Hierdie taktiek is vir 87% van die sterftes, en 97% van die beserings verantwoordelik. Selfmoordaanvalle word ook steeds gebruik, met ’n baie groot verlies aan menselewens – ’n gemiddeld van sewe sterftes per selfmoordaanval. Sedert 2000 het selfmoordaanvalle tot 5% van terreursterf-tes gelei, en hierdie modus operandi is die gekose aanvalsmetode van die militante groep Hamas. Hierdie Palestynse terroriste-organisasie het 195 aanvalle geloods waarvan 24% selfmoordsendings was.
Volgens gegewens het 60% aanvalle plofstof behels, 20% vuurwapens en 10% ander dade soos brandstigting of aanvalle met motorvoertuie.
Nogtans gaan die Amerikaanse regering, en baie van die Verenigde Nasies se lede, voort om die feite te ignoreer en Hamas en die Palestynse owerheid te steun in hulle bod om as ’n staat erken te word (en sodoende, die Palestynse owerheid se uitdruklike doelwit om ‘Israel van die aarde te vee’). Soos die spreekwoord sê, niemand is so blind as wie nie wil sien nie.
grotte tot internetkafees
Sedert die burgeroorlog in 2011 in Sirië uitgebreek het, is daar ’n geweldige toename in terreurdade. Hoewel politieke konflik ’n groot katalisator vir die snelle toename in terreur in hierdie oorloggeteisterde lande is, het beide Sirië en Irak ’n godsdiensstryd tussen die Soenni- en Sjiïet- Moslems beleef, wat tot uitgebreide geweld aanleiding gegee het. Godsdiens as ideologiese dryfveer vir terrorisme het sedert 2000 dramaties toegeneem; voor 2000 was nasionale separatistiese agendas die grootste dryfveer van terroriste-organisasies.
Meer as 24 nasies is deur wydverspreide terreurdade geskud, insluitend Israel, Irak, Sirië, Jemen, Egipte, Turkye, Amerika, Frankryk, Libië, Spanje, Nigerië, Kenia, Oekraïne en Engeland. Niemand is immuun daarteen nie – terrorisme is nie meer ’n Midde-Oosterse probleem nie en het nou versprei vanuit die grotte van Afganistan na die internetkafees van Parys.

Waarom so gewild?
Daar is talle faktore wat die toenemende gewildheid van terroristegroeperings beïnvloed; daarom is dit moeilik om presies net een of twee aan te stip. As Christene weet ons dat daar bose magte aan die werk is en dat wetteloosheid en sonde in die eindtye hoogty sal vier.
Die botsing tussen Islamitiese ideologie en die beginsels van demokrasie, vrye spraak, godsdiensvryheid en vreedsame naasbestaan het die middelpunt van belangstelling geword. Selfs binne Islam woed daar ’n stryd tussen ‘gematigdes’ en ekstremiste’. Die godsdiens beleef sy eie interne krisis terwyl die wêreld toekyk…maar, jy kan nie help om te vra waarom die ‘gematigdes’ nie ’n besliste standpunt teen die terreurdade ingeneem het nie. Hoekom het imams geswyg? Wanneer ’n sekulêre Arabiese staat soos Turkye, wat deur ’n Islamitiese leier regeer word, pogings om terrorisme hok te slaan aktief teenstaan, kan jy nie help om te wonder wat die onderliggende grondslag van ‘gematigde’ oortuiging werklik is nie…

Wat is ’n terroris?
Hoe verklaar ons egter die talle Westerse tieners wat aan djihadistiese aanvalle deelneem? Verveelde, gemarginaliseerde jeug-diges met beperkte werksgeleenthede, wat uit gebroke gesinne kom, blyk wêreldwyd die teiken van terroriste te wees. Baie van diegene in die Weste wat terroriste simpatiek gesind is, gee voor dat hulle teen politieke hegemonie gekant is, maar dit is dikwels net ’n rookskerm – omdat geen terreurdaad ooit die geloofwaardigheid van ’n veldtog kan bekragtig of die geldigheid van ’n saak kan staaf nie.
As Christene erken ons die rol van die kerngesin waar die vader ’n teenwoordige en liefdevolle leier is – ’n teenwoordigheid wat dikwels in die gesinne van potensiële terro-riste ontbreek. Begrip van die morele konsepte van reg en verkeerd, is dikwels verwronge of afwesig by djihadiste en natuurlik hou die opwinding van mag, onoorwinlikheid en wetteloosheid deur dekades heen ’n universele aantrekkingskrag vir die jeug in.

Hoe reageer die wêreld?
Ten spyte van Amerika en die Weste wat biljoene dollars aan kontraterrorisme-operasies bestee, dui statistiek daarop dat militêre optrede slegs 7% terroristegroepe in bedwang gebring het. Die meerderheid terroristegroepe het ontbind deur by die politieke proses aan te sluit, of is onskadelik gestel deur aktiewe polisiëring en inligtingsagentskappe wat sleutellede in hegtenis geneem, of tereggestel het. Volgens ’n verslag van die GTI is slegs militêre mag selde verantwoordelik vir die beëindiging van ’n terroristegroep se bestaan.
Terroristegroepe neem toe met behulp van tegnologie en dit is interessant om te merk dat die taktiek vir kontraterrorisme kuberaanvalle insluit wat die sluit van terroriste se twitter- en facebook-rekeninge en die infiltrasie van djihad-sosiale netwerke met swendelskemas behels. Hoewel hierdie strategie sekerlik ’n rol kan speel in die afname van terrorisme, is die enigste blywende manier vir die beëindiging van die geweld ’n geestelike aanvalsplan.

Hoe moet ons reageer?
Verloste harte en gesuiwerde motiewe is die enigste onfeilbare manier om die toename in potensiële terroriste te stuit. Jy het ’n rol om te vervul in hierdie ‘oorlog teen terreur’. Jou oorlogswapens is geestelik: taktiese voortgesette gebed vir nasies en leiers is van kardinale be-lang. Herlewing onder die jeug en die gemarginaliseerdes is uiters noodsaaklik.
Ondersteun sendelinge en evangeliste wat in hierdie lande werksaam is; dra by tot hulle bediening sodat die Evangelie verkondig kan word en elke grot, kafee en rusbank kan bereik.
Die skepping wag vir die openbaarmaking van die kinders van God (Rom 8:19) – as gelowiges moet ons beheer neem! God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie (2 Tim 1:7); wat vir die mens onmoontlik is, is vir God moontlik (Lukas 18:27); Hy wat in ons is, is groter as hy wat in die wêreld is (1 Johannes 4:4). Praat hieroor met jou gemeente en maak gereelde gebed vir terroriste ’n prioriteit!
Saamgestel deur Jackie Georgiou