Wie Ondergrawe die Fondament van die Kerk?

Die Bybel is die fondament van die Kerk. Die vraag is: Waarom word die fondament van die Kerk van¬dag van binne deur sommige teoloë ondergrawe? Dit maak tog geen sin nie! En hoe is dit dat mense wat graag as teoloë en geestelike leiers bekend wil staan, leerstel¬lings verkondig wat die onderbou van hulle eie bediening ondermyn?

OPENBARE DEBAT
Na aanleiding van die openbare debat oor die liggaamlike opstan¬ding van Jesus, is die volgende brief aan Die Burger se By geskryf: “Een ding staan soos ’n paal bo water: daar is etlike teoloë wat van¬dag leerstellings ver¬¬¬kondig wat lynreg in stryd is met die Belydenis wat hulle onderteken het.
Dit staan sulke teo¬loë vry om die kerk te verlaat en ’n ander platvorm te vind waarvandaan hulle hul afwykende teologie kan verkondig, maar hulle het nié die reg om die kerk van binne te ondergrawe nie! Die kerk verloor lidmate wat hulle nie meer met die dwaalleer wat in die kerk posgevat het, kan versoen nie – teen ’n ont-stellende tempo. En dit gaan oor veel meer as net die opstanding. Die kernwaarhede van die Evangelie is almal in gedrang. Die kerklike leierskap se huiwering om die saak van dwaling in die teologie dring¬end en pertinent aan te spreek, laat die vermoede ontstaan dat hulle sélf dalk ook al dié virus onder lede kan hê.
Hoe langer die kerk gaan probeer om dié saak in die doofpot te stop, hoe groter gaan die uittog word en hoe meer gaan getroue lidmate voel hulle wil nie langer dwaalleraars onderhou nie. Dis tyd om vir dwaalgeeste ’n streep in die sand te trek.” (Die naam van die betrokke kerk word hier weggelaat omdat dwaling nie tot een denominasie beperk is nie).

SKRIF VERDAG GEMAAK
Die probleem van dwaalleer in die kerk strek veel wyer as net dwaling oor die opstanding. Ten diepste gaan dit oor ver¬dagmakery van die geloofwaardigheid en gesag van die Woord. As dít eenmaal gebeur, word die hele Skrif onder verdenking gebring en kan elkeen van die Bybel maak net wat hy of sy wil.
Billikheidshalwe moet genoem word dat nie alle skrifgeleerdes hulle aan dwa¬ling skuldig maak nie, maar daar is ongelukkig ook baie wat teologies so ver afgewyk het dat hulle omtrent nie meer van ongelowiges onderskei kan word nie. Die dilemma is dat baie van hulle in opdrag van die kerk besig is om die predikers van die toekoms op te lei.

TEOLOGIESE VERROTING
• Dit word des te meer kommerwekkend as ’n mens kyk na die volle afmetings wat teologiese verrotting alreeds by sommige teoloë aangeneem het:
• Die ganse skeppingsverhaal word ver¬werp, met inbegrip van Genesis 1 tot 14
• Die bestaan van die duiwel word ver¬werp
• Die sondeval word bevraagteken
• Die sondige natuur van die mens word bevraagteken
• Die historisiteit van die Bybel word onder verdenking gebring
• Monoteïsme word gesien as iets wat uit politeïsme ontwikkel het
• Die inspirasie van die Skrif word effektief ontken
• Wonderwerke word beskou as on¬moontlikhede
• Bybelse moraliteit word bevraagteken
• Jesus se maagdelike geboorte word verwerp
• Sy opstanding word bevraagteken
• Die Bybel se leer oor die wederkoms word bevraagteken
• Die ewige lewe en ewige verderf word afgemaak as onsin
• Die uniekheid van die Bybel word ontken

SKRIF INTERPETASIE
Wat bly dus van die Bybel oor? Is dit regtig maar net nóg ’n godsdienstige geskrif wat in wese geen meer waarde bo enige ander geskrif het nie? Is alle godsdienste dan gelyk? Loop alle paaie na God? En wat van Jesus se stelling: “Niemand kom na die Vader, behalwe deur My nie.” (Joh 14:6)?
Het Jesus ons vir die gek gehou, of het die skrywers ons dalk be¬drieg? Dit gaan in hierdie hele debat oor die vraag: ‘Hoe verstaan ons die Skrif?’ In hierdie verband is kontekstualisering ’n sleutelwoord. Dit beteken dus dat vir die regte verstaan van die Skrif dit van deur¬slaggewende belang is om te weet wát die teks vir die mense van daardie tyd beteken het. Dit ís in der waarheid so dat die historiese konteks ons help om die teks beter te verstaan.

LIBERALE BRIL
Ongelukkig het kontekstualisering van¬dag ’n ánder betekenis bygekry. Dit het tot gevolg dat die Skrif nou by monde van sekere Skrifgeleerdes soms lynreg in stryd is met wat daar werklik geskryf staan. Kontekstualisering beteken vir hulle dat ons vanuit ons huidige konteks die Skrif moet herinterpreteer.
Die Bybel word nou gelees deur die bril van die moderne mens, van wie baie sekulêre humaniste is! Vanuit ons hui¬dige konteks word daar dan betekenis in die teks ingelees, iets wat dit nooit in die verlede gehad het nie. In dié proses word die Skrif dikwels nie verhelder nie, maar verduis¬ter. Die ware betekenis van die teks raak verlore, want ons sien wat ons wíl sien en nie wat God vir ons deur die teks wil sê nie. Erger nog, dit weerspreek die Bybelse lering dat God gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is.
Dit is onmoontlik dat enigiets wat in die verlede in die oë van die onveranderlike God verwerplik was, nou vir Hom aanvaarbaar kan wees. Wie met so ’n teologie werk, werk met die begrip van ’n verande¬rende God – iets wat ten hemele skree!

MORELE MOERAS
Die klassieke voorbeeld is die pogings van sommige liberale teoloë om homoseksualisme uit die Bybel te regverdig. Hulle denkgimnastiek en spitsvondige verklarings maak onsin van alles wat die Skrif daaroor sê. Vir hulle klop die Bybel se duidelike uitsprake teen homoseksualisme nie met die hedendaagse aandrang op menseregte nie en daarom moet die Bybel hervertolk word om te pas by die moderne humanis se opvattings.
Ongelukkig eindig dit ook nie daar nie: die ganse Skrif – van skepping tot wederkoms – word só op losse skroewe geplaas. Alles in die Skrif word gemeet aan ons huidige, sekulêre en humanistiese verstaan van dinge en ons huidige opvatting van reg en verkeerd.
Dit het enórme konsekwensies vir die gánse kerk en ook die samelewing. Die filosoof prof. Willie Esterhuyse sê in sy boek ‘God en die gode van Egipte’: “God en geloof kan jou nie help om volstrek moreel te lewe nie. Dit bly ’n tastende soek. Relatiwiteit is al wat oorbly.” Van ’n God wat absolute wette aan ons voorskryf en gehoorsaamheid van ons eis, kan daar dus volgens hom geen sprake wees nie.
Miskien verklaar hierdie siening waarom SA in so ’n morele moeras verval het. Die mens wil oor homself God speel. Hy verdra nie meer ’n God wat vir hom voorskryf nie. Sy eie verstaan van dinge (sy ‘konteks’) maak die Skrif vir hom ongeloofwaardig en onbetroubaar. Van objektiewe en bindende morele waardes kan daar dus geen sprake meer wees nie; elke mens besluit vir homself.

IMPAK OP DIE SAMELEWING
Daar is nie so iets soos objektiewe, Godgegewe norme nie. Niemand is aan God aanspreeklik nie. Die mens sal sélf besluit hoe hy die Skrif wíl verstaan. Die mens sal God maak soos hý Hom wil hê. Dít is die konsekwensie van vandag se liberale Skrifbeskouing. Suid-Afrika is in ’n morele vryval. Christenskap het by baie in onguns verval nadat die demokratiese bestel in ’94 beslag gekry het. Ons is nou amp¬te¬lik ’n sekulêre staat. Ongelukkig het dit ’n morele vakuum veroorsaak en die gevolge is oral sigbaar.
Misdaad vier hoogty, geweld het ongekende en brutale afmetings aan¬geneem, kinders word daagliks verkrag en vermoor, mense leef in vrees vir hulle lewens – selfs in hulle eie huise, VIGS rig verwoesting aan, barbaarse optrede het gangbaar geword, dwelmverslawing het epidemiese afmetings aangeneem, dissipline kwyn by die dag, onderliggende woede is oral aan die opbou, korrupte mense plunder die land kaal, selfverryking het mode geword, aanspreeklikheid het ’n stil dood gesterf, gesonde werksetiek het skaars geraak, werkloosheid bedreig die goeie orde, die landsadministrasie gaan sienderoë agteruit, infrastruktuur gaan ten gronde en die onderwys het ’n historiese laagtepunt bereik. ‘n Geslag jongmense is besig om groot te word sonder kennis van die Bybel. En dit voorspel beslis niks goeds vir die toekoms nie. Goddank vir ouers en onderwysers wat wél nog leerlinge in die Bybel onderrig!

WAAR LAAT DIT DIE KERK?
Die Bybel is nie nét die fondament van die Kerk nie, maar dit is ook die morele kompas van kerk en samelewing. As die Bybel die morele kompas van die Kerk is, is Jesus Christus die Ware Noord van die Kerk.
Die Skrif sê: (hou) “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1). Maar as die Bybel se Waarheid, betroubaarheid en gesag deur sommige geleerdes in die kerk bevraagteken word, verloor die Kerk die ‘ware noord’ uit die oog. Dan word die versoening in Jesus verduister en sien ’n mens die soort ont¬stellende dwaling waarna hierbo verwys is. Dan verbeur die kerk die outoriteit om vir die samelewing morele koers aan te dui. Die Kerk se profetiese stem het té stil geword. Dáárom sien ons die morele verval van ons dag. Die agteruitgang in sommige kerke hou verband met die liberalisering van die teologie, soos wat in Europa ook gebeur het. Die Kerk se outoriteit is in direkte verhouding tot sy verbondenheid aan die Skrif, en sy verlies aan lidmate en invloed in die samelewing is ’n direkte konsekwensie van sy verlies aan vertroue in die Woord. Dit is nié die roeping van die Kerk om lidmate se vertroue in die Skrif te ondermyn nie. Ons hoef nie die Duiwel se bose werk vir hom te doen nie; “het God regtig gesê?” mag nóóit deel wees van die kerk se missie nie.

WAT IS DIE OPLOSSING?
Genadiglik is daar baie mense in Suid-¬Afrika wat volhard in hulle geloof. En dit is opvallend hoeveel ‘gewone’ mense God gebruik om die krag van die Evangelie ’n werklikheid in duisende se lewens te maak. Die uitdaging vir ons almal is om mense te help om die Woord van God te herontdek. Die Woord moet die rigsnoer vir kerk en samelewing wees, want daarin is die volmaakte beginsels van God vir Sy kerk en Sy wêreld vervat. Daar is níks op aarde wat daarmee kan vergelyk nie. Ons sal wys wees om kennis te neem van wat die Here by monde van koning Hiskia vir die geestelike leiers van sy dag gesê het: “Luister na my, Leviete! Reinig julle en reinig die huis van die Here, die God van julle voorvaders. Vat die vuilgoed uit die hei-ligdom uit.” 2 Kron. 20:5.

GOD IS DIE ENIGSTE BRON
God is die Skepper en onderhouer van die ganse skepping. Hy het die natuurwette én die wette vir die menslike samele¬wing in plek gestel. Dis ondenkbaar dat die menslike samelewing na behore kan funksioneer sonder Sy Woord. Hy is die Bron van die lewe. Aan Hom behoort die lof en die eer en die heerlikheid, tot in alle ewigheid.


Die Krag en Doel van die Huwelik

In so baie mense se oë het die instelling van die huwelik irrelevant geword. Eer, vertroue, getrouheid en toewyding lyk so outyds en uit voeling in die moderne samelewing waarin ons leef. Die verwarring oor die huwelik moet ons egter nie verras as ons die magdom wêreldse beskouings en hou¬dings ten opsigte van hierdie instelling wat ons om elke hoek en draai raakloop, in ag neem nie. Tydskrifte, films en televisiesepies bombardeer ons met beeldmateriaal van owerspel en perversie. Die vraag is nou: Is die huwelik nog lewensvatbaar in die moderne samele¬wing? Is die huwelik ‘n goeie idee?

DIE HUWELIK IS GOD SE IDEE
Die huwelik is nog steeds ‘n goeie idee omdat dit God se idee is! Hy het dit ingestel. Hy het dit gevestig en die grense daarvan bepaal. In stryd met die hedendaagse idee, is die huwelik nie ‘n mensgemaakte konsep nie. God het dit aan die begin van die mens se geskiedenis ingestel.
God se idee vir die huwelik word in Gen 2:24 gevind – “Dit verklaar waarom ‘n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een mens word.” ‘Een mens’ is nie bloot die ‘gom’ van twee mense aanmekaar nie, maar eer-der die samesmel¬ting van twee afsonderlike elemente om een nuwe skepping te vorm. Hulle word onskeibaar. Die man en vrou wat in God se huweliksontwerp ‘een’ geword het, kan nie weer geskei word sonder dat groot skade of baie verwoesting plaasvind nie. Dit is die geestelike ekwivalent van die wegskeur of afskeur van ‘n ledemaat.

DIE FONDASIE
Jesus sê in Mark 10:5-9: “Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. Wat God dan so saamgevoeg het, mag ‘n mens nie uitmekaar skeur nie.” As die huwelik deur die mens ingestel was, sou die mens die reg gehad het om dit tersyde te stel wanneer dit verkies word. God het die huwelik ingestel as die eerste en mees basiese element van die menslike samelewing. Indien die gesin die basis is vir ‘n gesonde samelewing; dan is die huwelik die basis vir gesonde gesinsverhoudings. Dit is die fondasie, omdat dit die verhouding is waarop God die samelewing gebou het.
Met so baie wat verward is oor dié instelling, is dit hoegenaamd snaaks dat die samelewing oor die algemeen ontwrig is? Satan is baie bewus daarvan dat indien hy die huwelik kan vernietig, hy daarmee saam die gesin vernietig. Indien gesinne vernietig word, is die samele¬wing daarmee heen. Sodra die samelewing vernietig is, is die mensdom volgende.

DIT IS NIE WIE JY BEMIN NIE, MAAR WÁT JY LIEFHET
Huweliksukses berus nie soseer op twee huweliksmaats wat hul aan mekaar toewy nie, maar eerder twee maats wat hulle aan die huwelik, die onveranderde instelling waarin albei getree het, toewy. Mense ver¬ander voortdurend namate hulle groei en meer volwasse raak en hierdie veranderinge kan senutergend en frustrerend wees en kan baie maklik in konflik ontaard.
Die huwelik is ‘n standvastige, onveran¬derbare instelling en respek vir die eerbaarheid en stabiliteit van die huwelik kan vir ‘n man en sy vrou ‘n stewige anker wees in die storms van verandering. Die Bybel sê dat die huwelik hoër geag moet word as enige ander instelling. “Respekteer die huwelik in alle omstandighede…” Heb 13:4. Die Griekse woord vir ‘respekteer’, is ‘timios’ en dit beteken ook ‘waardevol, duur, geëerd, gereken, geliefd en kosbaar’. Daar is tye dat ons iets haatliks sê of doen wat ons huweliksmaats kwaad of seer maak. As ons ons huwelik eer en hoog ag, sal dit ons oor hierdie ‘hobbelrige’ dele van die pad help wanneer dit eintlik moeilik is om jou huweliksmaat te eer en lief te hê.

LIEFDE NIE DALK GENOEG NIE
Dit is nodig dat ons goed begryp waarom ons ons huweliksmaats liefhet. Die persoon met wie ons trou, is nie die persoon saam met wie ons gaan leef nie, want daardie persoon verander en groei deurentyd. Dit maak nie saak hoe lief jy die persoon het of hoe baie julle mekaar eer en ag nie – dit alleen mag op die lange duur nie genoeg wees nie. Die agting, eer en respek vir die huwelik as instelling sal die stabiliteit bring in ons ewig-veranderende verhouding. Mense verander, maar die huwelik as instelling bly bestendig.

DIE HUWELIK IS GROTER AS DIE TWEE MENSE BETROKKE
Die huwelik as instelling is baie belangriker as ons gevoelens. Daar sal be¬slis tye wees wat ons nie met ons huweliksmaat saamstem nie, maar dit het niks met die huwelik as instelling te doen nie. Ons moet net nooit ons persoonlike gevoelens of konflikte met die huwelik as instelling verwar nie. Die huwelik is perfek; ons as mense is nie. Toewyding aan die huwelik, eerder as toewyding aan ‘n persoon, is die sleutel tot sukses. Die huwelik is groter as die twee betrokke mense, en dit is hoe dit hoort. God het die huwelik ingestel; dit behoort aan Hom, nie aan ons nie. Die huwelik is twee onvolmaakte mense wat hulself aan ‘n volmaakte instelling toewy, volmaakte beloftes aflê met onvolmaakte lippe voor ‘n volmaakte God.

EGSKEIDING NIE DIE ANTWOORD
Sodra ons verstaan dat die huwelik ‘n instelling is wat gerespekteer en geag moet word, kom die gedagte aan egskeiding nie eers by ons op nie. Ons laat nie die huwelik vaar omdat daar probleme is nie! Baie mense dink as hulle skei sodra daar pro¬bleme ontstaan, sal die probleme verdwyn.
Dis nie die geval nie. Huweliksprobleme is nooit eensydig nie. Indien jy skei sonder om die probleme deur te praat en op te los, sal die probleme met jou saamgaan en sal dit oorgedra word na die volgende verhou¬ding wat jy aanknoop. Dit mag dalk ‘n ander vorm aanneem, maar dit sal nog dieselfde soort probleme wees.

BYBELSE HUWELIKSKONSEP
Die Bybelse huwelikskonsep en die gesin het die afgelope paar generasies sterk onder aanval gekom. Waar daar vantevore ‘n sosiale en morele stigma aan egskeiding gekleef het, is dit nou algemeen en baie aanvaarbaar. En dit is vir baie gelowiges waar. Die menslike, siviele regering het nie die mag of die gesag om die godingestelde huwelik tussen twee gelowiges te ontbind nie. ‘n Huwelik wat God bekragtig het, kan nie deur mensgemaakte wette ontbind word nie. Indien gelowiges na die altaar van God kom om hul saam te bind, waarom gaan so baie van hulle dan na die hof om hul huwelik te laat ontbind? Menslike howe het geen reg om te ontbind wat God saamgevoeg het nie. Die huwelik volgens die God-manier is ‘n samesmel¬ting, dit is nie ‘n band nie. Wat God saamgevoeg het, kan God alleen skei. Hy sal dit egter nie doen nie, want om dit te doen, is om Sy eie standaarde te skend.

GEVAARLIKE ONKUNDIGHEID
‘n Suksesvolle huwelik berus op kennis. Dit het min met liefde te doen. Liefde kan nie suk¬ses waarborg nie. Liefde is belang¬rik vir geluk in die huwelik, maar nét dit kan nie ‘n huwelik laat werk nie. Die enigste ding wat ‘n huwelik kan laat werk, is kennis. Sukses hang af van wat ons weet, nie wat ons voel nie. Selfs die Kerk, die stem van gesag oor hierdie onderwerp, ly omdat baie gelowiges, leiers ingesluit, Bybels-ongeletterd is – veral oor sake rakende die huwelik en gesin.

KENNIS VAN DIE WOORD
Wanneer ons waardes deurentyd uitgedaag word, binne sowel as buite die Kerk, raak baie mense verward, onseker en weet nie wat om te glo nie. In Hos 4:6 staan geskryf: “My volk word verwoes omdat hulle My nie ken nie.” Die grootste kennis is om God te ken. Spr 1:7 sê: “Kennis begin met eerbied vir die Here, net dwase verag wysheid en dissipline.”
Dit maak nie saak hoe dikwels ons kerk toe gaan of die Here aanbid nie, sonder kennis het ons geen waarborg op sukses nie. Suk¬ses in die huwelik hang van veel meer af as om net gered te wees. Dit neem veel meer as om bloot net lief te hê. Deur te glo en lief te hê, is belangrik in die huwelik, maar dit hou geen waarborg in vir huweliksukses nie.
Ons het kennis nodig van die Bybelse beginsels, God se grense wat Hyself vasgestel het. Bybelse beginsels sal nooit verander nie. Hulle is universeel toepaslik – in elke kultuur en te alle tye. Moeilikheid kom wanneer ons dié beginsels ignoreer of skend. Die huwelik is eerbaar. Dít is aan reëls, regulasies en voorwaardes onderworpe wat God neergelê het en wat Hy in Sy Woord openbaar.

GEWAARBORGDE SUKSES
God het die huwelik ontwerp om suksesvol te wees en net Sy raad kan dit suksesvol maak. Niemand is beter om iets te laat werk as die ontwerper nie. God het huwelike verordineer en nét Hy kan dit laat werk. Indien ons in ons huwelik suksesvol wil wees, moet ons God se beginsels, soos in die Bybel uiteengesit, ken, verstaan en volg.


Die Grootste Boek van Alle Tye

Die Bybel is die waardevolste boek van alle tye. Daar is geen kwessie dat dit die mees lewensverande¬rende boek is wat ooit geskryf is nie.

DIE FONDASIE VAN DIE WESTERSE BESKAWING
Die invloed van die Bybel op die Westerse Beskawing is enorm. Professor William Phelps van Yale het opgemerk: “Our civilization is founded upon the Bible. More of our ideas, our wisdom, our philosophy, our literature, our art and our ideals come from the Bible than from all other books combined.”
Die Bybel was die inspirasie vir van die grootste letterkunde, kuns, argitektuur, die ontdekkingsera, wêreldsendings, die oppergesag van die reg, magskeiding, verteenwoordigende regering, wigte en teenwigte, die heiligmaking en soveel meer. Dit is die Bybel wat ons die era van meelewing, liefdadigheid, vryheid en regverdigheid ingelei het. Die Tien Gebooie is die morele en wetlike basis van die Westerse beska¬wing. Die meeste van die die wêreld se tale is eerste deur die Christen-sendelinge neergeskryf.
Die eerste boek in die meeste van die wêreldtale, is die Bybel. Opvoedkundige Noah Webster het verklaar: “The Bible is the chief moral cause of all that is good, and the best corrective of all that is evil in human so¬cie¬ty; the best Book for regulating the temporal concerns of men, and the only Book that can serve as an infallible guide… the prin¬ciples of genuine liberty, and of the wise laws of administrations, are to be drawn from the Bible and sustained by its autho¬rity…” Selfs Napoleon Bonaparte het erken: “Die Bybel is meer as net ‘n boek, maar ‘n lewende krag wat alle teenkanting oorwin.”

DIE FANDASIE VAN DIE MODERNE WETENSKAP
Al die groot pionier-wetenskaplikes wat die fondasie vir die moderne fisika, sterrekunde, meetkunde, dinamika, osea¬nografie en elke ander vertakking van die wetenskap gelê het, het die Bybel erken as die fondasie en inspirasie van hul werk.
Dit sluit diesulkes soos Johannes Kepler, Francis Bacon, Galileo Galilei, Isaac Newton, Karl van Linnius, Charles Babbage, Blaise Pascal, Samuel Morse, Matthew Fonteine Maury, James Simpson, George Washington Carver en nog vele meer in. Sir Michael Faraday, wat elektromagnetiese induksie ontdek het en die kragopwekker uitgevind het, het die volgende opgemerk:
“The Bible, and it alone, with nothing added to it or taken away from by man, is the sole and sufficient guide for each individual, at all times and in all circumstan-ces…Faith in the Divinity and the work of Christ is a gift of God, and evidence of this faith is obe¬dience to the commandments of Christ.”

DIE OPPERGESAG VAN DIE REG
Die fondasie van die Oppergesag van die Reg is deur Koning Alfred van Engeland daarge¬stel wat sy kode met die Tien Gebooie, die Wet van Eksodus, die Goue Wet van Christus en ander Bybelse beginsels bekendgemaak het. Die Magna Carta van 1215 was die eerste geskrewe beperking op die mag van die regering. Dit is geskryf deur ‘n predikant en goed deurweek met Bybelse beginsels.

DIE GROOTSTE TREFFER
Die Bybel is die nommer een treffer van alle tye. Die Bybelgenootskap alleen het ‘n wêreldverspreiding van 24 miljoen Bybels, 26 miljoen Nuwe Testamente en 577 miljoen Bybeldele elke jaar. Dit sluit nie die meer as 1 miljoen Nuwe Testamente in wat weekliks deur die Gideons versprei word; die Nuwe Testamente wat deur die Pocket Testament League versprei word; die meer as 80 miljoen Bybels wat jaarliks deur die Bybelgenootskap verskaf word of die meer as 30 miljoen Bybelboeke en traktaatjies wat deur die World Missionary Press en Scripture Gift Mission uitgegee word nie. Dan word daar ook nog Bybels verkoop deur Zondevan, Thomas Nelson, Tyndale en andere. Daar word geskat dat meer as 30 miljoen Bybels en meer as 100 miljoen Nuwe Testamente elke jaar ver¬koop word! Die Bybel, die Nuwe Testament, of ten minste die Evangelies, is in meer as 2300 verskillende tale wêreldwyd gepubliseer.

ONVERGELYKLIK
Daar is geen ander boek wat met die Bybel vergelyk kan word wat betref waarde, inspirasie, belangrikheid en die aantal tale waarin dit vertaal word nie; ook t.o.v. geskiedenisimpak. Tog is die Bybel ook die boek wat die meeste aangeval word.
Vanaf Nero, deur die tien vervolgingsgolwe van Imperiale Rome tot by Diocletianus, het die Romeine opeenvolgende aanslae geloots om die Bybel te vernietig. En tog, ten spyte van hierdie aanslag en die vernietiging deur die Barbare en die Vikings asook intensiewe vervolgingsveldtogte onder Stalin se Sowjetunie en Mao Tse Tung se Rooi China, bly die Bybel die beste getuienis om die geskiedenis te boekstaaf.
Meer as 1700 Hebreeuse manuskripte van die Ou Testament bestaan steeds. En daar is meer as 5000 Griekse manuskripte vir die Nuwe Testament, 8000 Latyns en 1000 ander antieke uitgawes van die Nuwe Testament wat steeds bestaan. Soos dr. Martin Luther verklaar het: “Dit is ‘n wonderwerk hoe God vir so lank Sy Boek bewaar het! Wonderlik om Sy woord te hê!”

DIE BOEK VAN AL DIE BOEKE
Die President van die Verenigde State, Woodrow Wilson het verklaar: “A man has deprived himself of the best there is in the world who has deprived himself of this, a knowledge of the Bible. When you have read the Bible, you will know that is the Word of God, because you have found the key to your own heart, your own happiness and your own duty.”
‘The Prince of Preachers’, Charles Spurgeon, het ver¬klaar: “Nobody ever outgrows Scripture; the Book widens and deepens with our years.” Noah Webster het die volgende geleer: “All the miseries and evils which men suffer from – crime, ambition, injustice, oppression, slavery and war – proceed from their despising or neglecting the precepts contained in the Bible.”
R. A. Torey het gesê: “The truly wise man is he who always believes the Bible against the opinion of any man.” Wetenskaplike John Newton het ver¬klaar: “I will put down all inconsistencies in the Bible to my own ignorance.”
Die outeur van die groot Webster’s Dictionary, Daniel Webster, het die volgende waargeneem: “If we abide by the principles taught in the Bible, our country will go on prospering and to prosper; but if we were to neglect its instructions and authority, no man can tell how sudden a catastrophe can overwhelm us and bury our glory in profound obscurity.”

DIE WOORD VAN GOD
Feitlik elke blad van die Bybel bevat woorde soos; “Die Here het gesê…”, “God het gespreek”, “Die Woord van God het gekom…” Die Evangelies is op baie noukeurige navorsing, historiese feite en ooggetuienis gebaseer.Die genees¬heer Lukas het sy Evangelie ingelei met hierdie woorde: “Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal nou¬keu¬rig in die regte volgorde neer te skryf. So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is” Luk 1:2-4. Die apostel Johannes het geskryf: “Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons oë gesien; ja, ons het Hom ge¬sien en met ons hande aan Hom gevat.Hy is die Woord en die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met Sy Seun, Jesus Christus. Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.” 1 Joh 1:1-3 “Dit veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie,” 2 Pet 1:20
“In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete,…” Heb 1:1-2 “God noem hulle tot wie Sy Woord gekom het, dus ‘gode’, en wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie.” Joh 10:35
“Maar die Woord van die Here, dit bly vir ewig. En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.” 1 Pet 1:25 “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in die diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.” 2 Tim 3:16, 17
OORWELDIGENDE GETUIENIS
Ons kan nie die getuienis van Jesus Christus aanvaar sonder om die gesag van die Ou Testament wat Hy geleef, geleer en gesmeek het om in vervulling te gaan, te aanvaar nie. Ons moet ook besef dat Jesus baie versigtig te werk gegaan het om sekere mense te kies en as Sy dissipels op te lei. Hy het hulle ‘n spesiale salwing met die Heilige Gees gegee (Joh 20:21; Hand 1:8).
Hy het belowe om hulle die Heilige Gees te stuur om hulle in die volle Waarheid in te lei. Jesus het geleer dat Sy Woorde ‘n unieke lewenskrag het (Joh 6:63; 15:3); Sy Woorde sal nooit verbygaan nie (Markus 13:31) en Sy Woorde moet gehoor en gehoorsaam word. (Mat 5:17-48; 7:24; Joh 8:31-38; 14:23). Ons kan ook appél maak op profesieë wat reeds vervul is. Tydens Sy lewe hier op aarde het Jesus Christus meer as 300 Ou Testamentiese profesieë vervul. Argeo¬logiese opgrawings en historiese bewyse ondersteun hierdie interne getuienisse oor die akkuraatheid en uniekheid van die Bybel.
Die oortuigendste van almal is dat ons na die unieke impak van die Bybel op miljoene lewens oor eeue heen kan wys, en nou ook op ons lewens. Sommige skeptici mag glo dat die Bybel nie die Woord van God is nie, maar hulle moet ‘n hele klomp opstapelende getuienis ignoreer ten einde dit te kan doen. Die krag van God’s Woord darem!

DIE BYBEL IS:
• Die Bron van Waarheid: “Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U Woord is die waarheid.” Joh 17:17
• Die bron van God se seën: “Maar Hy sê: “Nog meer bevoorreg is hulle wat die Woord van God hoor en dit onderhou.” Luk 11:28
• ‘n Bron van krag: “Ek skaam my nie vir die Evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood.” Rom 1:16
• Die bron van Geestelike leiding: “U Woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.” Ps 119:105
• Onfeilbaar: “Die Woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan die wat nog onervare is.” Ps 19:7
• Finaal: “U Woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel.” Ps 119:89
• Volledig: “Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: as iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.” Openb 22:18-19
• Die Bybel sal bereik wat dit moet bereik: “So sal die woord wat uit my mond uitkom ook wees: dit sal nie onverrigter sake na my toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit uitgestuur het.” Jes 55:11

DUS MOET ONS DIE BYBEL:
• glo (Joh 6:68-69)
• eer (Joh 29:18)
• bestudeer (Esra 7:10)
• liefhê (Ps 119:97)
• gehoorsaam (1 Joh 2:5)
• bewaar (1 Tim 6:20)
• verdedig (Judas 3)
• preek (2 Tim 4:2)
Dit is die Woord van God!


Akteur tot Sy Eer: Frank Rautenbach

WOU JY ALTYD TONEELSPEEL?
Ek dink ek was nog maar altyd ‘n akteur sonder dat ek dit besef het. Toe ek jonger was, het ek ook modelwerk gedoen om my studies te finansier. Ek het sommer baie TV-advertensies gekry en het my ta¬lent ‘per toeval’ ontdek. Ek het besef dat ek passievol oor toneelspel was en dat ek moontlik ‘n bestaan daaruit sou kon maak. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis!

HOE HET ‘FAITH LIKE POTATOES’ OOR JOU PAD GEKOM – VERAL OMDAT DIT ‘N CHRISTELIKE VERHAAL IS?
Ons het op daardie stadium in LA gewoon. Ek het ‘n telefoonoproep van Global Creative Studios gekry wat my die rol van Angus aangebied het. Ek en Reghart v d Bergh het mekaar so bietjie geken en hy het gevoel ek was die regte persoon vir die rol. Op daardie stadium was ek vir 12 jaar in die vermaaklikheidswêreld en ek was toe reeds 15 jaar ‘n volgeling van Jesus. Hulle het vertroue in my toneelspel gehad en het geglo ek sou Angus se reis as gelowige verstaan. Nadat ek die draaiboek gelees het, het twee dinge my aandag getrek en my laat besluit om die film te doen.
Eerstens is dit ‘n ware verhaal en twee¬dens is dit ‘werklik’. Dit was dus nie net oor die wonderwerke wat God in ons lewens doen nie, maar daar was ook die werklikheid van dood, verlies en al die ander pynlike dinge wat ons in die lewe ervaar.

DEEL MET ONS JOU GETUIENIS – HOE EN WANNEER IS JY GERED?
Ek het, soos so baie Suid-Afrikaners, in ‘n Christenhuis grootgeword. Selfs al het ek in God geglo toe ek saam met my ouers kerk toe gegaan het, was daar geen sprake van enige verhouding met Jesus nie. Op agtienjarige ouderdom het my meisie my gelos. Dit klink so ‘vlak’ as ek dit nou sê, maar ek was gebroke en het net getroos gevoel as ek die Bybel gelees of gebid het.
‘n Jaar daarna (1992) het ek ‘n Bybelkollege in Londen bygewoon en dit het regtig gehelp om my geloof te vestig. Tot dusver is dit ‘n 18-jaar-lange reis met baie ‘op- en af-ervarings’.
Daar is tye wat ek ontsettend naby aan Hom voel en ander kere weer voel alles vir my soos ‘n misterie waarin niks regtig sin maak nie. Wat ek wel geleer het, is dat ek God nie net tydens die storms van die lewe wil vertrou nie, maar ook wanneer dinge presies volgens plan verloop.

HOE HET JOU LEWE VERANDER SEDERT JY JESUS AANGENEEM HET?
God het my gebroke hart oor baie jare heen stukkie vir stukkie geheel. Dit het tot so baie veranderinge in my leefstyl gelei. Een daarvan is dat ek baie minder ‘gedrewe’ is. Jy weet, so gedrewe is dat dit vernietigend is. Op skool was ek ongelooflik onseker van myself. ‘n Uitgaande persoonlikheid het so baie gedoen om hierdie onsekerheid weg te steek.
Ek was gewild, maar gewildheid doen egter niks aan ‘n onseker hart nie, dit steek dit net baie goed weg. Jy moet net lank genoeg leef, dan steek dit maar weer kop uit. In my volwasse lewe het dit gemanifesteer in my gedrewenheid – wanneer jy die heel beste, die suksesvolste móét wees. Paulus sê in Galasiërs 5:20 – ek haal uit die Message aan – “you see everything as cutthroat competition; all consuming-yet-never-satisfied wants, the vicious habit of depersonalizing everyone into a rival.” Op die ou end betaal jy ‘n prys en die simpel ding is, jy is dan selfs nog méér onseker van jouself! Vir my om te leer om nie te probeer om God of mense te beïndruk nie, is een van die grootste uitdagings wat ek tot nog toe moes hanteer. Dit verg baie geloof en vertroue in God. Ek is minder gedrewe, maar sowaar, vir my is dit ‘n daaglikse stryd.

HOEKOM HET JY BESLUIT OM LA TOE TE VERHUIS?
Ons het ‘n goeie lewe in Suid-Afrika gehad, maar ek het gevoel daar was vir my en Leigh baie meer om te ontdek. Ek het vir vier jaar baie op die stel van 7de Laan geleer, maar daar het ‘n punt gekom dat ek gevoel het ek stagneer in my werk.
Alles het net té bekend geword en as kunstenaar moet jy voortdurend uitgedaag word om kreatief en ‘vars’ te kan wees. Ek het nog altyd ‘n passie vir flieks, veral om daarin te speel, gehad. Rick Warren sê mos “you need to do a job that expresses your heart”.
Vergesog soos wat dit mag klink, dit is makliker om ‘n bestaan uit films in LA te maak as wat dit in Suid-Afrika is. In LA kompeteer jy met die res van die wêreld en die insette is baie groter, maar die belonings ook! Wie nie waag nie, sal nie wen nie!

IS DIT ‘N UITDAGING OM ‘N CHRISTEN IN DIE FILMBEDRYF TE WEES?
Ja, maar nie om voor-die-hand-liggende redes nie. Dinge soos dwelms en sedeloosheid steek maar oral kop uit, nie net in die filmbedryf nie. Mense is net baie meer ingelig oor akteurs se vuil wasgoed omdat die media so baie blootstelling aan hul lewens gee.
Jy sal dus oral uitdagings as Christen ervaar. Ek vind egter dat die lang wagperiodes tussen verskillende werkopdragte vir my geloof ‘n groter uitdaging is as sommige van die ander vanselfsprekende uit¬dagings van die filmbedryf.

MET JOU VOL SKEDULE, HOE MAAK JULLE TYD VIR MEKAAR?
Leigh is ‘n fotograaf en ons het ‘n klein onderneminkie wat net mooi niks met die filmbedryf te doen het nie. Die filmbedryf is baie anders as om ‘n rol in ‘n TV-reeks te hê – die ‘af-tye’ tussen flieks kan soms baie lank wees. Wanneer ek egter onmenslike ure werk om ‘n film te skiet, is dit net vir ‘n paar maande. Gelukkig het ek en sy baie tyd om saam te spandeer tydens die ‘af-seisoen’.

AAN WATTER PROJEKTE WERK JY OP DIE OOMBLIK?
Ek en Leigh het ‘n klein DVD-verspreidings¬onderneming in LA. Wat films betref – my volgende film, The Bang Bang Club, word in Januarie 2010 tydens die Sundance-filmfees vrygestel.
Nog ‘n film, The Film Maker’s Son, wat in Engeland geskiet is, word in Junie 2010 tydens die Edinburgh-filmfees in Skotland vrygestel. In Oktober/November is ek ook bespreek vir die skiet van die film, A Taste Of Rain in Namibië. Dit lyk asof ons tot tyd en wyl nog in die VSA gaan wees.

JUIG! het ook met Frans Cronjé van Global Creative Studios gesels om uit te vind presies waarom Frank hul keuse vir ‘Faith Like Potatoes’ sowel as ‘Hansie’ was. Ons wou ook weet of hulle verdere planne het om in die toekoms van hom gebruik te maak.
Volgens Frans: “Ons het baie goeie akteurs gehad wat oudisies vir ‘Angus’ in ‘Faith Like Potatoes’ afgelê het, maar ek en Regardt v.d. Bergh (die regisseur), het gevoel dat nie een van hulle regtig ‘Angus’ was nie. Regardt het vroeër aan my genoem dat ek ‘n akteur wat in Sewende Laan gespeel het, (Frank) moet bel. Na vele rondbellery het ons Frank in Los Angeles opgespoor. Hy het die draaiboek gelees en onmiddellik ingestem. ‘n Paar weke later was hy in Suid-Afrika en ons het met die verfilming begin.
Dit was wonderlik om saam met hom te werk. Hy is uiters talentvol, het feitlik dieselfde geaardheid as Angus Buchan en hy is bereid om baie hard te werk. Ek het sommer binne die eerste paar weke van die verfilming goeie vriende met hom en sy vrou, Leigh, geword en soos ‘n broer teenoor hom gevoel. Tydens die verfilming van ‘Faith’ het ek reeds oor ‘Hansie’ begin dink en gewonder of Frank as ‘Hansie’ sou werk.
René, my vrou, is ‘n goeie mensekenner en sy help ook met die rolverdeling van ons volgende film. Nadat ek dit met haar en Regardt bespreek het en hul albei gevoel het dat dit kan werk, het ek dit aan Frank genoem. Hy was onmiddellik opgewonde. Alhoewel Frank nie die ewebeeld van Hansie is nie, kon dit met die regte grimering werk. Vir my was dit belangriker dat hy ‘n baie goeie sportman is, hard kan werk, fiks lyk, in ‘n seun¬skool was en ‘n Christen is. Hy het maande aan die voorbereiding vir die rol spandeer en dit uiters goed gedoen. Hy het dit reggekry om ‘Hansie’ in die film te wees.
Ek sal definitief in die toekoms weer van Frank gebruik maak. As ek ‘n keuse het, sal ek hom graag in ‘n komedie wil gebruik omdat hy so ‘n goeie humorsin het en baie ondeund is. Miskien sal die regisseur dan net sy hande vol hê om hom altyd op stel in toom te hou…”.