Hoe om jou Huwelik te red

Pierre sê hy’t my nie meer lief nie,” het Julia reguit gesê. “Wanneer ek met hom probeer praat daaroor, of wil hê hy na my moet luister, sluit hy my dood-eenvoudig uit. Die naaste wat ons aan ’n gesprek gekom het, was sy verduideliking van hoeveel beter dit vir my en die kinders sal wees indien ek nie die egskeiding teenstaan nie.” Sy het stilgebly, weggekyk asof sy probeer het om die regte woorde te vind om iets te beskryf wat nie werklik kon bestaan nie, en het toe voortgegaan.
“Hy het my gevra of ek die finansiële en sosiale nadele wat in werking sou tree indien ek die saak sou teenstaan of my eie regspan sou kry, besef. Ek sou nie eers met my vriende hieroor kon praat nie of hy sou dit vir my moeilik maak. Hy het ook geskimp dat hy gaan probeer om volle toesig oor die kinders te kry indien ek nie sou doen wat hy sê nie.”

Niemand is perfek nie
“Jy mag moontlik dink ek is dwaas, maar ek is nog steeds lief vir hom; selfs al weet ek in my hart dat daar iemand anders in sy lewe is. Ek weet wie sy is. Toe ek hom vra of hy by haar betrokke is, het hy eers op my geskree, toe baie kalm geword en daarna gesê ek moet my kop laat lees.”
“Ek is bang om enigiets te doen wat hom nog meer antagonisties gaan maak. Die enigste ding wat ons huwelik nou kan red, is ’n wonderwerk. Ek bid dat God in sy hart sal werk en hom sal verander in die man wat hy voorheen was.”
Ek het geantwoord dat, sou ek in haar situasie wees, ek vir iets heel anders sou bid. Eerder as om te vra dat God hóm moet verander, moet sy eerder hulp vra om dit vir haar moontlik te maak om sekere dinge te verander.

Blameer iemand
Sy het regop geruk, my aangegluur en toe uiting aan haar pyn en frustrasie gegee. Hoe durf ek dit waag om te impliseer dat dit háár fout was! Hoe kon ek dink dat sý die een is wat moet verander! Dink ek vir een oomblik dat Pierre reg was om haar vir iemand anders te verlaat?
Ek het verduidelik dat ek haar nie vir haar man se affair blameer nie. Wat hy gedoen het, was verkeerd. Selfs al was sy nie die perfekte huweliksmaat nie (indien daar iets soos die perfekte huweliksmaat is) sal dit nie sy owerspel regverdig nie; niks wat ek gesê het, was as ’n beskuldiging teen haar gemik nie.

Bring hom tot sy sinne
Sy kon hom nie verander nie. Die enigste persoon wat sy kon verander, was haarself. Sekere veranderinge wat sy kon maak, sou hom laat verander. Die veranderinge wat ek voorgestel het, was nie om haar te blameer of te korrigeer nie – dit was bloot om hom tot sy sinne te probeer bring.
In verhoudings is dit dikwels ons emosies en aksies wat die ander persoon positief, neutraal of negatief stem. Postief: dit trek hulle na ons aan. Negatief: dit stoot hulle van ons af weg. Brand hierdie woorde in jou geheue in: positief trek aan; negatief stoot weg!

Positiewe aantrekking
“Pierre onttrek uit sy verhouding met jou en gaan voort met sy nuwe verhouding. Indien jy egter sekere veranderinge kan aanbring, mag jy moontlik positiewe reaksies teweegbring wat hom weer na jou sal aantrek. Dit mag dalk help om só daaroor na te dink: Wat maak jou aantreklik? Wat maak jou onaantreklik? Dit wat ek voorstel, mag moontlik werk, of moontlik nie. My ervaring met vele huwelike het my oortuig dat dit die beste kans is wat jy het.”
Julia het dít wat ek voorgestel het sy moes verander, gedoen. Pierre het woedend daarop gereageer en verskriklike dreigemente gemaak.

Staan vas
Ek het haar gewaarsku dat die veranderinge aanvanklik negatiewe reaksie kon ontlok en hom tydelik nog verder kon wegstoot. Ek het ook verduidelik dat, juis omdat hy so graag uit die huwelik wou loskom, hy negatief sou reageer op enig-iets wat sy sou doen wat hom sou verhoed om dit te kon doen.
Sy moes dus verwag dat sy emosionele mishandeling sou toeneem ten einde haar te forseer om sy planne te laat slaag. Toe dit wél gebeur, het sy ietwat gehuiwer, maar vas bly staan. Sy het haarself forseer om op die langtermyn uitwerking van haar pogings te fokus en geweier om toe te laat dat sy korttermynreaksies haar mismoedig stem. Sy het geweet hy mag moontlik nooit terugkom nie, maar het begryp dat die veranderinge haar beste kans en hoop was.
Moontlik die heel belangrikste: sy het verstaan wat die belangrike rol is wat die veranderinge tot haar eie persoonlike voordeel sou speel – of hy weer na haar sou terugkeer, of nie.


God se wil

Vir opregte Christene is dit geen kwessie nie: óns wil moet binne God se Wil geskied…
God se Wil is die groot voorwaarde vir ’n goeie lewe. Om aan die Here gehoorsaam te wees, is om ’n kwaliteitlewe te leef. Wie uit die Gees van God en vir God Drie-enig begin leef, begin regtig leef!
Die Here God regeer – ook deur Sy Wil en Sy Wet. Hy weet beter as enige mens. Die mens word inherent sondig, eiewys en opstandig gebore, maar God se redding gee aan hom nuwe lewe. ’n Sinvolle, nuwe lewe.
Die mens word geestelik dood vir God se woorde en vir Sy Wil gebore, maar Hy red en verlos uit genade. Hy maak geestelike dooies nuut.
Om nuut te leef, is om gehoorsaam te leef; om die Wil en wet van God eerste in jou lewe te stel.
Maar hoe weet ek wat God se Wil is? Hoe of waar vind ek God se Wil in ’n saak? Hoe wyd strek God se Wil? Sluit dit my eet, drink en speel in? Moet ek aanvaar dat die Here ook in my besigheid, gesin, vriendskappe en hantering van geld saampraat?

Menings
Ek dink aan die spreker wat beweer dat as hy praat en ’n warm gevoel om die hart kry, weet hy dat die Gees oorgeneem het. Dit is nie meer hy wat praat nie, maar die Here self.
Hierdie warm gevoel loop saam met ’n vrede in die hart. Vrede beteken dat die Here goedkeur wat hy aanvoer.
Daar is kerkmense wat hierdie vrede verder voer en beweer dat dit die Wil van die Here is wat intree as mense na ’n skerp meningsverskil vrede maak. Vrede tussen mense wat – in die Naam van die Here – skerp verskil, beteken dat hulle nou binne God se Wil beweeg.
Daar is mense wat die verstaan van God se Wil aan ’n diep oortuiging of aanvoeling wat hulle het, koppel; daardie ‘gut-feeling’ dat wat hulle nou insien, net van die Here kan wees. Of dat die Here deur so ’n gevoel met hulle praat. Jy moet eenvoudig net voel of glo dat ’n skerp oortuiging van die Here kom.
Dan is daar mense wat daarvan oortuig is dat die meerderheid Christene se standpunt waarskynlik God se Wil is. Volgens hulle is die kanse groter dat die Here Homself aan meer eerder as aan minder Christene duidelik maak.

Faktore om God se Wil te ken
In die ingewikkelde situasies waarin ons ons dikwels bevind, moet geredde sondaars (Martin Luther se term) nooit optree asof hulle nié foute maak of die wys-heid in pag het nie. Die geskiedenis van regerings, sinodes en bekende kerkmense dui op die teendeel.
Wat wel waar is, is dat ons God se Wil alleen kan ken as Hy dit aan ons bekendmaak.
Hy praat met ons deur Sy Woord of deur Woordgebonde woorde of dinge.
As daar één ding is waarvan ons seker kan wees, is dit dat die Bybel God se Woord is. Mense wat deur die Gees aangegryp is, mense met gewone, alledaagse lewenswyses, hoor ook die Gees praat as hulle na die Bybel luister. Die Bybel praat van die hart waaruit die oorspronge van die lewe is, maar ook dat jy God moet liefhê met hart, siel, verstand en al jou kragte. Kort gestel: met alles.
Dat jy God met alles moet liefhê, beteken ook dat jy dit op Sy voorwaardes moet doen; dat jy in alles kan en moet soek na God se Wil.
Maar die Woord of Woordgebonde woorde en dinge kan deur mense wat hulle eie begeertes eenkant skuif en in die greep van die Woord en die Gees van God verkeer, onderskei word. Eintlik is dit baie tasbaar, die Bybel is God se Woord. En Woordgebonde woorde of dinge is gekoppel aan die reëls van die Bybel.
God se gebooie en sy reddingsplan is eintlik baie duidelik. Afgode is onaanvaarbaar en egskeiding of steel alleenlik as niks anders help nie. Jy word uit genade gered, maar moet in die proses leer wat sonde, verlossing en dankbaarheid vir die verlossing is.

Dinge waaroor ons twyfel
Dit is die dinge waaroor die Here nié direk praat nie, waaroor ons dikwels twyfel. Moet ek hierdie ding koop of nie; moet ek nou toegee of ferm wees; moet ek nou die Naam van die Here gebruik of nog ’n bietjie daarmee wag; gaan hierdie belegging ’n verantwoordelike besteding van geld wees of nie?
In werklikheid is dit met hierdie kwessies gesteld soos met God se bekendgemaakte Woord: om goed te hoor en daarvan oortuig te word dat jy reg hoor, moet jy bid. Gedurig bid. Moet jy nooit daarvan terugdiens om nóg ’n opinie van nóg iemand te hoor en dit met die Here deur te praat nie.
Die Here kan aan jou Woordgebonde dinge bekendmaak deur middel van Bybelstudente of ander mense wat doodgewoon in Sy Skepping onder Sy wet iets wat waar is, raakvat. Woorde wat egter Woordgebonde verstaan moet word. Dit is Romeine 1 wat aantoon dat ons almal in God se wêreld leef en dat God ook met ons deur die Skepping praat.


Die Kerk van die Eindtyd

Die Here Jesus het gesê dat die Kerk in die dae voor Sy Wederkoms veel te wense gaan oorlaat. Hy het ook gesê dat Hy gaan terugkeer na ’n oorwinnende en glorieryke Kerk wat Hom getrou, selfs tydens moeilike tye, dien. Met watter deel van Sy Kerk identifiseer jy?
Jare gelede, net na die Opstanding en die Hemelvaart van Jesus Christus, het Hy aan die apostel Johannes op die eiland Patmos verskyn en ’n voorskou van toekomsgebeure, veral die toestand van die Kerk in die laaste dae soos dit in Openba-ring opgeteken staan, belig.

Die Here van die Kerk
Toe Johannes die Opgestane Here sien, het hy op sy aangesig voor Hom neergeval. Hy het drie jaar lank saam met Jesus deur die land Israel gereis, maar toe hy die Here in al Sy Glorie aanskou, was hy totaal oorweldig. Hy het geskryf: “Sy kop en Sy hare was wit soos wol, so wit soos sneeu, en Sy oë soos ’n vuurvlam. Sy voete was soos gepoleerde koper wat in ’n smelt-oond was en Sy stem soos die geluid van baie waterstrome.” Op 1:14-15.
Die Here se passie het sy aandag aan-gegryp en Sy Stem het deur tyd en ruimte weergalm. Dit was beslis nie die stil, sagte Redder nie, maar Een Wie se Woorde soos ’n skerp, tweesnydende swaard (Op 1:16) met onmiskenbare gesag was.
Nog iets wat Johannes se aandag getrek het, was die Here se intieme gemeenskap met Sy Kerk. Hy het tussen die sewe kandelare, wat die Kerk verteenwoordig, gewandel (Op 1:13,20) en die leierskap baie liefgehad (Op 1:16).
Die Here van die Kerk is glorieryk, passievol en baie naby aan Sy Kerk. Het Sy Kerk deesdae dieselfde eienskappe?

Die Kerk in Efese
Johannes het ’n glimp van die Kerk-era gekry en opdrag ontvang om aan sewe spesifieke kerke wat die toestand van die Kerk op daardie tydstip, sowel as dwarsdeur die Kerkge-skiedenis verteenwoordig, te skryf.
Eerste aan die beurt was die Kerk in Efese wat die Here aanvanklik met passie gedien het, maar jammerlik in godsdiens-tigheid verval het namate die lede in die wêreld betrokke geraak het. Hulle het hulle eerste liefde verlaat en die persoonlike en intieme verhouding met Hom prysgegee en bloot die rituele gevolg. Hulle word opgeroep om te bely en na opregte aanbidding terug te keer.

Die Kerk van Laodisea
Hierdie kerk het, jammerlik, geen glorie hoegenaamd nie. Dit het die glorie van die Here vir die rykdom van hierdie wêreld verruil. Rykdom en weelde was vir hulle baie belangriker: “Ek is ryk; ek het skatryk geword en het aan niks behoefte nie.” Op 3:17. Hulle was vas oortuig dat dit God se Wil is dat hulle rykdom, status en eer moes vergader en hulle was onbewus daarvan dat die Here hulle as arm en blind beskou het en dat hy geensins deur hulle liefde vir geld beïndruk was nie. Dit was ’n kerk wat oor die werke beskik het, wat baie gedoen het, maar, ten spyte van al hulle aktiwiteite, geen passie vir die Here gehad het nie. Die Here beskryf hulle as ‘louwarm’ en verklaar dat dié kerk Hom siek maak (Op 3:16).

Louwarm en geslote
Is dit moontlik ’n akkurate weerspieëling van die Kerk van vandag? Het die Kerk, soos ons dit vandag ken, sy glorie, passie en intimiteit met die Opgestane Here verloor?

Die Kerk van Jesus Christus
Wanneer ons van die Kerk van Jesus Christus praat, sluit dit gelowiges van alle generasies in. Die Kerk in die Hemel en op aarde bestaan uit getroue gelowiges van alle eras.

Die Kerk van Filadelfia
In Op 3:7-13 lees ons dat hierdie kerk “beperkte krag”(v 8) het en nie as een van die hoofspelers in die wêreld beskou is nie. Tog het hulle getrou aan Sy Woord gebly. Dit is die algemene toestand van die Kerk met Jesus se Wederkoms wat hier onder bespreking is.
Kom ons bekyk ’n paar feite wat betrekking op ons generasie het: hoewel daar aanspraak op groot herlewing, groot byeenkomste, kragtige predikers en baie navolgers gemaak word, spreek die feite boekdele. Amos, ’n Ou Testamentiese profeet, het van die hongersnood na Sy Woord gepraat (Amos 8:11) en dit is só waar van ons geslag. Godsdienstige filosofie, lering wat die oor streel, mensgemaakte menings en sosiale strategieë vorm ’n groot deel van preke wat deesdae van kansels verkondig word omdat die Bybel gebruik word om humanistiese denkwyses te verklaar. Die gevolg is dat ons ’n hele geslag Christene vind wat baie min van die Bybelse leerstellings weet. Onlangse meningsopnames het getoon dat 50% van alle Christene deesdae glo dat die Bybel nie akkuraat is nie, 64% glo dat die satan simbolies is, 62% glo dat ’n mens jou saligheid kan verdien en 51% glo dat Jesus ook gesondig het terwyl Hy op aarde was.

Ons het die Waarheid verloor
Bybellees en bid is deesdae nie meer algemene praktyk nie en hierdie geslag staan deesdae as die ‘Oogwink-geslag’ bekend omdat ons so maklik baie groot besluite binne ’n oogwink neem sonder om eers God se raad of goedkeuring te vra. Indien dit goed voel, selfs al spreek die Woord van God teen ons besluit, is ons onaangeraak.

’n Kerk sonder passie
In sommige dele van die wêreld weerspieël die Kerk groot passie, maar bitter selde vir die Here Self. Verwaarlosing van die Woord van God lei tot verwaarlosing van God en die verlaging van die waardes en standaarde wat Hy daargestel het. In hulle strewe om meer bonatuurlik te word, het so baie gelowiges van die riglyn van vaste Christen-leerstellings en akkurate interpretasie van die Skrif afgewyk. Sommige ontken selfs Jesus se lering oor kwessies soos die Hemel en hel en verklaar dié onderwerpe selfs as ‘Oop Teïsme’ en ontken daardeur die Soewereiniteit, Alomteenwoordigheid en Krag van God en die gesag van die Skrif.
Persoonlike openbaring wat as die absolute waarheid aangebied word, word met die Skrif vermeng om leringe, wat op ele-mente van die waarheid gebaseer is, te steun en dit is deesdae niks nuuts meer nie. “Oningeligtes en mense sonder beginsels verdraai sy briewe soos wat hulle ook met ander dele van die Skrif doen. Só bewerk hulle hulle eie ondergang.” 2 Pet 3:16.

Ons ag dinge hoër as God
Om by te dra tot die werk van God, sending en Evangelisasie, het drasties afgeneem aangesien Christene deesdae eerder geld spandeer om in huise, karre, duur vakansies, klere, dobbel en sosialisering te belê. ’n Onlangse Barna-ondersoek toon minder as 5% volwassenes gee proporsioneel aan die Kerk.
Die gevolg is swakker kerke met ’n baie kleiner impak op die samelewing. Pastore sonder werk is deesdae ’n groot bron van kommer. In die VSA alleen is daar meer as 600 000 Protestantse predikers, maar slegs 338 000 kerke, en die ergste van alles? Die meeste van hierdie eredienste word deur gemiddeld 75 mense per diens bygewoon!
Luister wat die Here 400 v.C. oor hierdie houding gesê het: “Omdat julle almal besig is om julle eie netjiese huise te bou en dit terwyl my huis in puin lê…[is] Ek verantwoordelik vir die droogte oor weivelde en die heuwels” Hag 1:9. (Lees in die verband Hag 1:1-12).

’n Kerk sonder Sy gemeenskap
Onlangse peilings het getoon dat daar miljoene mense binne die moderne kerk is wat intellektueel oortuig is dat daar ’n God is, maar Hom nog nooit persoonlik ontmoet het nie. Hulle is vinnig besig om belangstelling in die Kerk te verloor omdat hulle dit vervelig vind. Daar is deesdae min kerke waarheen jy ’n ongeredde persoon kan neem om die suiwer Evangelie te hoor.
Die verlies aan intieme gemeenskap met die Here vanaf die kansels het ernstige gevolge vir die gelowiges wat die kerkbanke vol sit. Mensgemaakte filosofieë voed beslis nie die innerlike nie en die gevolg is dat daar ’n reuse uittog uit die plaaslike kerk plaasvind.

Waar is die Oorwinnende Kerk?
Opnames het getoon dat ongeveer 54% weergebore kinders van die Here die kerk om verskillende redes verlaat het; 25% van die Protestante tussen 18-30 het die kerk permanent verlaat en die ‘Baby Boomers’, die 60+-generasie, is nie ver agter nie.
Dr. Larry Grabb, ’n bekende prediker het op 65-jarige ouderdom erken dat hy veel eerder na sy gunsteling koffieplekkie toe sal gaan en die koerant sit en lees as om Sondae kerk toe te gaan. ‘Kerk, soos wat ek dit ken, laat gewoonlik ’n groot deel van my dormant en onaangeraak,’ het hy geskryf. Selfs die sogenaamde steungroepe vir pastore het hulle geloof in God verloor. Wat het van die Oorwinnende Kerk geword?

Die goeie nuus
Daar is egter goeie nuus! Die Here het belowe dat Hy in die laaste dae Sy Gees op mans, vrouens en kinders sal uitstort en nuus omtrent magtige, kragtige bewegings van God dwarsoor die wêreld word deesdae gehoor.
Genoeg van hierdie valse gerustheid tydens die laaste dae. Voorwaarts Christen-stryders, laat ons na die Kerk terugkeer (hoe dit ook al bymekaarkom) en Hom oorwinnend, met Sy banier baie prominent in die lug, tegemoetstap sodat die hele wêreld kan sien en weet dat God regeer. Laat ons die Kerk in ons generasie wees – glansryk, wat in die krag en die gawes van die Heilige Gees funksioneer. Laat ons dus passievol wees.


Bernice Borman bedien biddend en passievol

Sy is ’n ‘nuwe’ jong kunstenaar wie se Gospel-loopbaan vir haar nie net ’n saak van groot erns is nie, maar ook haar lofoffer aan haar Here. Benice Borman, dogter van die bekende kitaarspeler Hennie de Bruyn, se liefde vir musiek en sang het gegroei tot waar ’n belowende loopbaan vandag voor haar lê. Sy is inderdaad ’n inspirasie vir almal wat haar ontmoet en JUIG! het met haar gesels.

Jy is glo met die mikrofoon in die hand gebore. Hoe het jou musiekloopbaan begin?
Ek het in die Kerk grootgeword en van jongs af was ek by die Kerk se voorsang betrokke. As vyfjarige het ek reeds my eerste sangitem in die Kerk gelewer.

Jy het in Koster en Brakpan grootgeword. Was jy toe reeds betrokke by die geestelike musiekbedryf, of het jy aanvanklik hoofsaaklik op sekulêre mu-siek gefokus?
Ek het ’n passie vir geestelike musiek. Ek is al baie keer deur platemaatskappye genader om sekulêre musiek te doen, maar ek het ’n besluit geneem: ek wil my passie in geestelike musiek uitleef.

Vertel jou getuienis aan JUIG!-lesers…
As kind het ek nie in ’n huis grootgeword waar daar weelde was nie, maar daar was baie liefde en ons het die Here gedien. As baba is ek gebore met my een been korter as die ander. Die Here het my been tydens ’n diens aangeraak en dit het dadelik gegroei totdat dit net so lank soos die ander een was. Ek het dus op jong ouderdom die Here se genesende hand beleef en Hom as God van genesing leer ken. As kind kon ek nooit verstaan hoekom ons so swaar moes kry nie – dit was baie moeilik, maar die Here was altyd getrou. Ek glo dat Hy my kinderjare gebruik het sodat ek vandag verstaan wat dit is om swaar te kry en ’n absolute passie vir diesulkes te hê.
Ek het in die loop van die jare baie beloftes gekry dat die Here my regoor SA gaan gebruik en het dit nooit verstaan nie. Toe ander egter ’n skaapwagter in Dawid gesien het, het God ’n koning gesien. Dit is werlik hoe ek my lewe sien. Ek het drome gehad en al wat ek kon doen, is om dit in God se hande te plaas sodat Hy, op Sy tyd, die deure kon oopmaak.
As ek nou terugkyk op my lewenspad, weet ek dat Hy altyd by my was en my gedra het wanneer ek nie self kon loop nie. Partykeer voel dit vir ons dat die Here ons nie antwoord nie, maar ek kan regtig getuig soos die lied sê, ‘vier dae te laat, maar Hy is nog steeds betyds’, dat dit ’n werklikheid in my lewe geraak het. Die Here maak elke dag vir my deure oop en al wat ek wil doen, is om terug te antwoord op Sy liefde en uit te gaan en die wêreld van ons groot God te gaan vertel! Dit maak nie saak wie jy is, hoeveel geld jy het of wat die kleur van jou vel is nie – Abba Vader het ons almal lief en vra ons vandag om Sy innige liefde vir ons, te aanvaar.

Hoe het jy Sias ontmoet?
Ek het net na my skoolloopbaan by ’n kerkorkes betrokke geraak en Sias was die kitaarspeler. Hy het destyds liedjies geskryf en ek was altyd die eerste een wat moes luister – so het ons goeie vriende geword. Daar was ’n tyd wat ons mekaar nie gesien het nie, maar met my eerste CD-opname was Sias betrokke – en dit was liefde met die eerste oogopslag!

Julle is albei in die bediening betrokke. Wat is elkeen se rol?
Ek en Sias vul mekaar baie goed aan. Hy is die liedjieskrywer en ek het die voorreg om met sy liedere te bedien. Ons doen dit saam en is tydens bediening baie sensitief vir die Heilige Gees. Ons bediening bestaan uit sang en woord en Sias speel ook kitaar saam met my en ons fokus is om mense in God se teenwoordigheid te bring en toe te laat dat die Heilige Gees werk na Sy Wil, en mense se lewens verander. Ons boodskap is dat God ’n God van liefde en omgee vir almal is, dit maak nie saak wie jy is, of waar jy vandaan kom nie.

Hoe balanseer jy dit alles?
Ons het twee pragtige dogtertjies, Kayla (10) en Denike (4). Hulle is alles waarvoor ’n mamma kan vra: Kayla is die sagte een en Denike die klein rabbedoe! As ma, vrou en sangeres voel ek ook elke dag die druk, maar met hulle onvoorwaardelike liefde kan ek enigiets met moed aandurf! Kayla en Denike is ook deel van ons bediening en deel ons passie vir die Here en mense 100%. Sonder my gesin sou my bediening beslis nie dieselfde gewees het nie.

Is julle by ’n spesifieke kerk ingeskakel?
Ons is tans by ’n gemeente ingeskakel en tydens naweke wanneer ons nie bedien nie, is ons by ons kerkorkes betrokke. Ons glo daaraan dat ons sielskos móét ontvang om dit dan weer aan ander mense te kan gaan gee.

Is musiek jou voltydse beroep?
Musiek is net één van my passies. Ek het ’n onsettende passie vir kinders. Ek het drie jaar gelede ’n kleuterskool begin en het hierdie afgelope drie jaar gesien hoe die Here kinders en ouers se lewens aangeraak en verander het. Ek glo dat dit deel van my bediening is en dat die Here my skool tot eer van Sy naam gebruik.

Watter uitdagings staar jongmense deesdae in die gesig en wat is, na jou mening, die beste manier om dit te hanteer?
Ons jongmense moet reeds vroeg in hulle lewens elke dag keuses maak en word nie van slegte invloede waaraan hulle deur die media en internet blootgestel word, weerhou nie. Met vryheid kom daar egter verantwoordelikheid. Ons jongmense moet wéét wat die Bybel sê en wéét hoe om versoekings effektief te weerstaan. Verkeerde groepsdruk is deesdae ’n groot probleem en ek sien dit daagliks in my eie kinders se lewens raak. Groepsdruk kan tog ook positief aangewend word: om as ’n groep saam die regte keuses en besluite te neem en mekaar aan te moedig om beter te leef. Dit is hoekom dit so belangrik is om die régte vriende te kies.

Het jy ’n spesifieke boodskap vir ons lesers?
Ek glo dat níks ooit persoonlike aanra-king, tyd en liefde in jou kind se lewe kan vervang nie. Opbouende woorde beteken baie meer as wat ons besef. Ons kinders word heeldag aan situasies waar hulle voel dat hulle nie goed genoeg is nie, blootge-stel en juis dán het hulle ons ondersteu-ning nodig om in hulle te glo en ’n positiewe uitkyk op die lewe te behou. Ons moet vir ons huwelike baklei en nie sommer net moed opgee nie. Ek kom daagliks in aanraking met mense met huweliksprobleme en ek glo dat egskeiding nie altyd die antwoord is nie.
God het die man en vrou in die huwelik geplaas – nie om alleen die wêreld aan te durf nie, maar om soos ’n driedubbele tou, met God, sáám as span ’n sterker kans te hê.