n Nuwe Lewe In Christus

n Tema wat in Romeine 8 en talle ander Skrifgedeeltes behandel word, is dat ons ’n nuwe Meester dien. As ’n mede-pelgrim en -geloofstryder, gaan ek op hierdie tema uitbrei. Die Skrif sê dat daar deur die werk van Christus iets drasties in ons lewens verander het; ons in wie se lewe die Gees die wonderwerk van genade volbring het. Daardie verandering word weerspieël in hoe ons leef. Ek wil egter nie uitbrei op ons leefwyse nie, maar fokus op die feit dat ons as volgelinge van
Christus, ’n nuwe Meester dien. Die impliseer dat ons moet herevalueer wat skeefloop, indien ons lewe nié verander het nie.

Is daar ‘n verandering in jou lewe?
Romeine 8 is ’n opsomming van die Apostel Paulus se lering tot op daardie tydstip en beklemtoon dat daar verandering in jou lewe sigbaar moet wees. Die Skrif lê ’n fondasie van waarheid en ons moet ons lewens op daardie fondasie baseer. Ons lewe nie altyd volmaak nie en ons mag dalk nie die waarheid wat in die Bybel bekend gemaak word, ten volle verstaan of toepas nie, maar dit maak dit nie minder waar nie. Een van die geheime om ’n oorwinnende Christelike lewe te leef, is dat jy daardie waarheid begin begryp, neem en bely en sê: Die Skrif sê dat ons gered is, besig is om gered te word en dat ons uiteindelik gered sal wees wanneer ons die volheid van daardie ervaring ken. Dit is ’n huidige, nog nie, en toekomstige proses. Ons moet Romeine 8 en 6 ons eie maak en dit gedurig bepeins…

Geen veroordeling meer nie
“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.” Rom 8:1-2. Die wonderlike waarheid is dat, wanneer ons ons vertroue in Jesus Christus stel, veroordeling wegval en ons vry is om in ’n wonderlike werklikheid te leef sonder die oordeel van God. Die enigste voorwaarde is dat ons in Jesus moet bly. Ons leef in ’n wêreld waar daar twee tipes mense is – diegene onder veroordeling, en diegene wat nie is nie. Die enigste rede waarom sommige nie veroordeel is nie, is omdat hulle op Jesus Christus vertrou en aan hulle aan Hom onderwerp. Geen hoeveelheid liefdadigheid, goeie dade en ’n edele lewe sal ooit enige guns by God wen nie; dit is slegs moontlik deur Jesus.

Die belangrike transaksie
God het nie ons sonde en skuld bloot opsy gestoot nie. Hy sê nie dat jou sonde nie meer saak maak en dat die verlede van geen belang is nie. Hy sê dat daar met sonde en die straf daarvoor afgereken is, soos geprofeteer is in Jesaja 53:6: “maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” Ons word nie meer veroordeel nie omdat ’n belangrike transaksie plaasgevind het – in plaas daarvan om ons te straf en te oordeel, het God Sy eie Seun gestraf. “Want God het…deur Sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” Rom 8:3-4.

Reaksie op jou nuwe vryheid
God het aan almal wat in Christus glo,
geregtigheid as ’n gawe geskenk. Ons het regverdigmaking deur die geloof ontvang, wat die hoeksteen van die Christelike geloof is. Paulus sê in Romeine 8 dat ons lewe moet weerspieël dat ons deur die geloof geregverdig is en nie meer veroordeel is nie. Sonde sal nie meer oor ons heers nie, ons dien ’n nuwe Meester; ons is dood vir die sonde en moet in die werklikheid daarvan leef. Paulus sê dat ons op twee maniere hierop reageer:
Ons volhard in sonde omdat ons genade ontvang: “Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir sonde, nog daarin voortlewe?” Rom 6:1-2. Paulus spreek die mense in sy samelewing aan; dieselfde tipe mense wat ons steeds in ons eie samelewing aantref – diegene wat dink dat sake goed sal afloop vir hulle omdat hulle genade ontvang het en daar met sonde afgereken is. Dit word ‘antinomianisme’ genoem, ’n oordrywing van regverdigmaking deur die geloof, wat ’n dwaallering is. In Paulus se tyd was daar mense wat in sonde volhard het omdat hulle “onder genade leef”. Sommige mense sal selfs sê dat hoe meer hulle sondig, hoe meer genade is daar tot verheerliking van God. Paulus bevraagteken dit en sê, as jy van iets verlos word, hoe kan jy terugkeer en weer ’n slaaf daarvan word?
Toe ek ’n seuntjie was, het ek amper verdrink toe ek by Port Alfred in ’n seestroom beland het en weggesleur is. Skielik het ek sterk arms om my gevoel toe ’n lewensredder my gryp en met my na die strand toe swem. Tot my eie en my ouers se verligting is ek na veiligheid gebring. Ek sou gek wees om weer reguit in die sterk seestroom in te gaan, maar dit is presies wat die doktrine en ingesteldheid van antinomianisme is – die oortuiging dat ongeag hoe ek lewe, genade my herhaaldelik sal red.

Jy gaan voort om veroordeel te voel
Aan die ander kant lees sommige mense Romeine 8 en 6 en sê dat hulle “dood is vir sonde”, maar hulle weet dat hulle met sekere sondes worstel en daarom dink hulle dat hulle steeds veroordeel is en leef hulle onder die las van veroordeling. Dit is die ander
uiterste. Daardie mense glo nie dat hulle waarlik dood is vir sonde nie. Sommige worstel hiermee en moet hoor wat die Woord van die Here hieromtrent sê.

Wat sê die Bybel?
Daar is drie eenvoudige en diepgaande ge-loofsverklarings wat ek met julle wil deel. Die Skrif sê dat gelowiges nie meer onder veroordeling hoef te leef nie, maar ons moet
hierdie waarhede vir onsself toe-eien en ons lewe daarop baseer. Wat is die waarheid wat ons in hierdie gedeelte van die Skrif aantref en moet toe-eien?

Die Bybel verklaar dat ons in Jesus Christus ’n nuwe posisie beklee
Martin Lloyd-Jones, die vername prediker en apologeet, sê in sy kommentaar op Romeine dat “God ons uit die een veld geneem en in ’n ander een geplaas het.” Ons kan ook sê dat God ons uit een koninkryk geneem en in ’n ander koninkryk geplaas het. Die Here verklaar dit as die waarheid en dit is die werklikheid wat plaasvind, ongeag of ons dit verstaan of nie. Die Bybel sê dat ons “nuwe skepsels” in Christus is en as jy op Hom vertrou, moet jy daardie belofte vir jouself toe-eien. Jy is ’n nuwe mens en behoort nou aan Iemand anders. Jy het nou nuwe regte en kan jouself ’n kind van God noem
(1 Johannes 3:1). Jy is verlos. Dit is die werklikheid. Volgens die Skrif is dit die waarheid oor jou as jy jouself aan Jesus Christus verbind het en Hom as jou Heer en Verlosser bely.
Dit laat my dink aan Kate Middleton, die hertogin van Cambridge. Sy was net ’n dood-gewone burger…en toe ontmoet sy vir prins William en haar lewe het verander. Nadat sy met hom getroud is, het haar wettige status verander; ook haar titel het verander en sy het ’n koninklike geword. Ek is seker daarvan sy word per geleentheid in die oggend wakker
en wonder hoe dit gebeur het. Wetlik het haar hele lewe verander. Dit is ’n objektiewe waarheid, selfs al sou sy soms sukkel om dit te glo. Die Skrif sê dat toe ons Christus aangeneem het, ons posisie verander het. Ons moet deur die geloof glo omdat dit die waarheid is. Jy is nie meer wie jy voorheen was nie.

Ons is dood vir sonde
“Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.” Romeine 8:5-8.
Soms kyk ons na die Skrif en verstaan nie waaroor Paulus praat nie omdat ons steeds met sondes worstel. Objektief en volgens God se beskikking, is dié van ons wat op die Here
Jesus vertrou, dood vir sonde, ongeag of ons dit begryp of nie. Dit is die “nou”. Paulus praat nie hier van die heiligmakingsproses nie, hy skryf in die “aorist”-tyd (Griekse woord vir verlede tyd) en verklaar dat dit reeds plaasgevind het. Dit is die objektiewe waarheid.
Galasiërs 2:20: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” Die dag toe jy Christus aangeneem het, is jy ook eens en vir altyd vir die sonde dood.

’n Nuwe Meester heers nou oor ons
“Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.” Rom 6:14. Ek glo dat ons nie meer skuld of ’n verpligting teenoor die ou slawemeester het nie, maar dat ’n nuwe Meester nou oor ons heers. Daar is ’n nuwe Here aan wie ons onderdanig moet wees; ons is vrygemaak.
Wanneer ons tot die geloof kom en verklaar dat ons verlos is en nie meer onder veroordeling leef nie, staan ons op die grondslag van daardie drie waarhede.
Waarom worstel ons dan steeds met sonde?
Waarom voel ons dan soms nog dat ons die Here in die steek gelaat het?

Ons leef in ’n sondige wêreld
Ons word elke dag in hierdie sondige wêreld met wêreldse waardes oorval en vergeet wie ons is. Ons leef in ’n wêreld wat nog altyd sondig was, maar dit wil voorkom asof dit tog vererger. Deesdae doen en sê selfs Christene dinge wat hulle nooit jare gelede sou doen of gesê het nie en dit is omdat ons ongevoelig vir sonde geword het. Dit is hoekom Paulus in Romeine 12:2 sê dat ons moet verander deur ons “denke te vernuwe”. Die werklikheid is dat selfs al is dit die objektiewe waarheid oor ons, leef ons subjektief steeds onder die meedoënlose druk van die wêreld.

Daar is steeds ’n stryd teen die vlees
Paulus praat van die ”sondige natuur” en hoewel ons objektief dood is vir sonde, is daar steeds die stryd teen die vlees. Daar is steeds ’n stryd wat ons moet voer en oorkom. Ons het gewoontes en verslawings waarvan ons bevry moet word.

Daar is ’n vyand wat nie die stryd gewonne gee nie
Dit is een aspek wat ons dikwels vergeet. “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug.” Ef 6:12. Elke oomblik van die dag voer die vyand en sy bose hordes ’n stryd teen ons en wil hê dat ons moet struikel en vergeet wie ons is.

Wat staan ons dus te doen?
In 1867 het Abraham Lincoln die wet deurgevoer vir die bevryding van slawe en dit was ’n heuglike dag vir duisende mense wie se lewe verander het. Baie slawe het egter geworstel om hulle nuutgevonde vryheid uit te leef, want hoewel hulle wetlik vry was, was hulle so gewoond daaraan om slaaf te wees dat hulle nie die feit kon verwerk dat hulle nie meer ’n slawemeester hoef te dien nie. Dít het nie die werklikheid verander dat hulle vry was nie, hulle kon dit bloot net nie ervaar nie. Hulle moes hulleself daagliks aan hulle nuwe stand herinner.
In die werklikheid van ons daaglikse stryd met die wêreld, ons vlees en die duiwel, moet ons onsself gereeld daaraan herinner wie ons is. Nie een van ons spring versoeking vry nie; ons voer almal daardie stryd. Een manier waarop ons as Christene in oorwinning kan leef, is om onsself daaraan te herinner dat ons kinders van God is. Ons moet daarna streef om so te leef, praat en op te tree dat dit Hom verheerlik en weerspieël. Dit is Christus in my wat die hoop van die heerlikheid is.

Ons moet sonde nie
vastrapplek gee nie
“As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.”
1 Joh 1:8. Johannes gaan voort in die volgende vers: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” Ons moet daarom sonde nie vastrapplek gee nie, dit bely en by die altaar neerlê, dan word ons bevry.
Ons moet ons daagliks aan Christus toewy en Hom vra om ons deur Sy Gees te herinner dat ons deel van Sy koninkryk is. Ons is gered en staar geen veroordeling deur die Here in die gesig nie. Ons is ook terselfdertyd besig om gered te word en daar sal ’n wonderlike dag aanbreek wanneer ons Jesus sal ontmoet en Hy sal sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg…Gaan in in die vreugde van jou Heer.”
Spreek hierdie geloofsverklaring uit: ““Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” Gal 2:20.


Ekstremiste Teiken Tieners

Vroeër vanjaar is Suid-Afrikaners geskok deur die nuus van ’n 15-jarige meisie wat in Kaapstad van ’n oorsese vlug verwyder is nadat bewyse gevind is dat sy in kontak was met ISIS-werwers. Die ondersoek het aan die lig gebring dat ISIS ’n aktiewe werwingsnetwerk in Suid-Afrika het wat ’n beroep op jongmense doen om by hierdie ekstremistiese millitante groep aan te sluit.
Dit dui ook op die kwesbaarheid van die Suid-Afrikaanse jeug en die verantwoordelikheid van ouers en die owerhede om die doen en late van tieners te monitor. Dit stuur ’n sterk boodskap uit dat daar dringend gekyk moet word na redes waarom tieners polities geradikaliseer word en hoe om dit te voorkom.
Terroristegroepe teiken tieners
[Volgens die Amerikaanse minister van buitelandse sake is “die uitbuiting van kinders deur terroristegroepe nie iets nuuts nie, maar groepe soos ISIS, Boko Haram, en die Taliban in Pakistan, maak toenemend van kinders gebruik om hulle terreurdade uit te voer. Dit is ’n strategiese en skokkende stap. Dit trek groter mediadekking en laat terroristegroepe toe om nóg lojale lede na hulle hand op te lei. Kinders is makliker om te indoktrineer en minder geneig om weerstand te bied omdat hulle nog nie hulle eie sterflikheid ten volle begryp nie.
Omdat kinders minder verdag voorkom, slaag terreurdade wat deur hulle uitgevoer word meer dikwels as ander. Aan die ander kant kan die feit dat terreurgroepe van kinders gebruik maak, daarop dui dat die groep dit moeiliker vind om volwassenes te werf – die feit dat Boko Haram kinders ontvoer om as selfmoordaanvallers te gebruik, mag ’n aanduiding wees van die groep se swakheid en nie sy mag nie.”]
Hulle slaan munt uit innerlike woede
Radikalisering kan omskryf word as die soeke na, en die kweek van ’n ekstremistiese oortui-ging wat dominant (in jou lewe) word en uiteindelik terreurdade inspireer en aanvuur. Belangstelling in ’n ekstremistiese oortuiging as ’n wyse om aan innerlike woede of pyn ui-ting te gee, skep die basis om by ’n ekstremistiese militantegroep betrokke te raak. Die breinspoeling wat binne die groep plaasvind, sal die aanvanklike belangstelling voed en vorm om uiteindelik in volslae radikalisme te ontwikkel.
Die keuse om by ’n millitante groep aan te sluit, hang saam met ideologiese en psigo-logiese prosesse en word dikwels verbind aan sosio-ekonomiese omstandighede. Militante politieke groepe het politiese sowel as sosiale doelwitte. Hierdie doelwitte lok jongmense wat na antwoorde op die lewe soek. Jeugdiges wat worstel om ’n eie identiteit te vind en te ontwikkel, en op soek is na ’n groep waaraan hulle kan behoort, is ontvanklik vir alternatiewe moontlikhede. Tieners is veral kwesbaar weens die ontwikkelingsfase waarin hulle is. Tydens hierdie fase het hulle gewoonlik meer konflik met hulle ouers en gesagsfigure en wil onafhanklik van hulle ouers en hulle ouers se idees wees. Wanneer tieners baie sterk oortui-gings oor die samelewing het en nie vertroue in gesagsfigure se vermoë het om die probleme op te los nie, word hulle potensieel sagte teikens vir millitante groepe.
’n Begeerte om in beheer te wees
Militante groepe neem die reg in eie hande omdat hulle nie die staat se regstelsel vertrou nie, of glo dat die staat ’n sekere groep onreg-verdig behandel, of nie hulle ideologiese doelwitte bevredig nie. Die ideologiese elemente wat tot radikalisme kan lei, het daarmee te maak dat:
• dit uiting gee aan ’n grief wat as ’n onreg ervaar word, of wat as onregverdig interpreteer word op grond van die wyse waarop dit hanteer word;
• dit ’n “skuldige” persoon of groep identifiseer wat verantwoordelik gehou word vir die onregverdige behandeling
• dit ’n beplande metode identifiseer, om die persoon of groep wat verantwoordelik gehou word, te straf
• dit ander werf om hierdie planne uit te voer.
ISIS doen homself voor as ’n groep met ideologies-moralistiese beginsels, gebaseer op wat regverdig en wat onregverdig is.
Hierdie groep maak aanspraak daarop dat hulle die stem van Allah is wanneer hulle die doodstraf toepas en slagoffers veroordeel en teregstel. Hierdie vermoë om as die aanklaer, jurie, regter en laksman op te tree, verskaf ’n gevoel van mag aan millitante groepe.
Die behoefte aan sinvolheid
Navorsing oor Islamitiese jeugdiges wat in Nederland woon, het getoon dat Moslem-jeugdiges, sover dit geweld betref, die landsgesag as onwettig beskou (hulle erken slegs die wet van Allah) en dat diegene wat in Allah glo, superieur is bo dié wat nie in hom glo nie. Hierdie jeugdiges openbaar dikwels afsydigheid teenoor die groter gemeenskap. Gevoelens van emosionele onsekerheid en ’n geneigdheid tot geweld versterk die risiko om geradikaliseer te word. Die oproep tot selfopoffering van die millitante groep, vind sielkundig byval by onseker tieners met ’n lae selfbeeld. Selfopoffering vir ’n groter saak gee die tiener wat opsoek is na rede vir sy bestaan, ’n betekenisvolle sin vir die lewe. Hoe groter die opoffering, hoe sterker die sin van betekenis.
Hoe word die toename van millitante groepe voorkom?
• Ouers moet opmerksaam en sensitief wees vir die ontwikkelingsbehoeftes van hulle jeugdiges. Kwessies van geregtigheid, onreg en die sin van die lewe moet in die gesin en in skole bespreek word
• Wanneer ’n ouer opmerk dat ’n kind uitermate belangstel in politieke kwessies en tot uiterstes neig in sy of haar standpunte, behoort die rooi ligte te flikker. Ouers moet ’n ogie hou oor die kind se sosiale media-kontakte en kommunikasie. Besprekings rondom verskillende godsdienstige en politieke standpunte moet in die huis ingestel word om verdraagsaamheid teenoor alle mense aan te kweek
Faktore wat vatbaarheid vir radikalisme kan aanwakker
[By wyse van reaksie op die stygende getal terreuraanvalle het die Amerikaanse regering ’n uitgebreide vraelys saamgestel om te bepaal watter gesinne gevaar loop om geradikaliseerde tieners op te lewer. Van die faktore wat tot geradikaliseerde gedrag en ideologie kan lei, sluit in:
• ’n Swak ouer-kindverhouding met gebrek aan wedersydse empatie
• Minimale ouerlike betrokkenheid by die kind se onderwys en
sosialisering
• Beperkte kennis van die kind se vriende en hulle doen en late
• Ekonomiese stres (soos deur die kind beleef)
• Sterk familiebande met ’n spesifieke etniese, kulturele of godsdiens-tige groep, of omgekeerd (swak bande), kan ’n kind net so negatief beïnvloed omdat hulle geen gemeenskaps- of familiebande het nie
• Sosiale angs, isolasie en algemene sosiale wanfunksie]
Ons moet vir die kwesbare jeug bid
’n [Christelike] waardesisteem wat meerderwaardigheid, vervreemding en skeiding van die samelewing teenwerk, moet by die jeug aange-kweek word. Ouers en die gemeenskap moet hande vat. Alleenlik wanneer ons leer om ander te respekteer en lief te hê, kan ons as ’n nasie oorleef.
Die grootste gebod is ons riglyn: “Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierde twee gebooie hang die hele wet en die profete.” Matteus 22:36-40.
PROF NICOLENE JOUBERT is die hoof van die Institute of Christian Psycology en is ’n beradende sielkundige. Vir berading, afsprake of studie in Christen-sielkunde, skakel 011 827 7611 of www.icp.org.za


Die Hart Van n Vader

Daar is al heelwat gepraat oor die “Vaderhart” van God en ek moedig jou aan om in die alledaagse van jou lewe op die uitkyk te wees vir daardie Vaderhart van God.
Die gevaar bestaan egter dat as ons insig van God as Vader enigsins minder is as dít wat ons in die Bybel aantref, ons God in ’n Vader kan verander wat té misties, geheimsinnig en moeilik is om te begryp, of ons kan God as toegeeflik en inskiklik tot ons elke gier beskou.
Ander mense kan God die Vader moontlik as streng, onbuigsaam, onverdraagsaam, en harteloos ervaar. Party van julle het ’n aardse pa gehad wat nie dáár was vir jou nie, of wat jou as mens vernietig het; en jy filtreer jou beskouing van God as Vader deur jou eie slegte ervarings. In die lig van die oorvloed negatiewe of afwesige vaderfigure in ons moderne eeu, is dit geen wonder dat ons idee van die Vaderhart van God so verwronge is nie.
Wat is jou beskouing van God as ‘n Vader?
Die ander gevaar is dat ons dink die Vaderhart beteken dat God ons alles skenk wat ons wil hê. Vir Christene wat dit glo, is daar nooit enige vorm van konfrontasie, selfondersoek, ’n tyd om jou te verootmoedig, of om berou te hê nie. Hulle Christenskap word nooit getoets of uitgedaag nie; hulle bly gemaklik en warm in die broeikas.
As ons siening van God een is wat daartoe lei dat ons selfsugtige Christene is wat nie ons sonde konfronteer nie en ’n slagoffermentaliteit het, dan is daardie Vader bloot daar om die mens te behaag. Dit is beslis nie die geval nie! God is ’n goeie Vader wat die beste vir ons wil hê en begeer dat ons sukses moet behaal…maar, die “sukses” is egter nie soseer volgens ons drome, behoeftes en begeertes nie, maar eerder dat ons volgens Sy begeerte ten volle in Sý droom sal leef en die wonder van wie Hy is, sal ontdek! As die beste Pa weet hy dat die lewe vir ons elkeen uiters bevredigend sal wees wanneer ons volkome vergenoegd volgens Sy plan vir ons lewe leef.
’n Vader vorm jou identiteit
Verstaan dat God alles sal doen om Sý droom; ’n lewegewende droom in jou lewe tot vervulling te sien kom. Dit is “Mission Possible” en ek en jy is werklik deel daarvan.
’n Goeie vader kan sy kinders se identiteit ontwikkel, vorm en versterk. Ek verwys na die besondere identiteit wat God in elke kind vaslê. Aardse vaderskap is ’n beeld of skadu van God die Vader.
Ons is Sy seuns en dogters en God maak talle uitsprake in die Bybel oor ons identiteit. Lees Genesis 12, Eksodus 19, Efesiërs, Titus 3 en 1 Petrus 2 om uit te vind wat Hy sê.
In die afwesigheid van ’n vader
Tydens Apartheid het baie Godvresende mans aan beide kante van die kleurgrens gewaarsku oor die regeringsbeleid oor trekarbeid, wat daartoe gelei het dat kinders in verafgeleë plattelandse gebiede agtergelaat is om deur vroue grootgemaak te word – met bykans totale afwesige vaders wat in die stede gaan werk het.
Die waarskuwing was dat hierdie beleid ’n geslag vaderlose kinders sou voortbring wat hulle identiteit in ’n saak, misdaad of geweld sou vind. Hulle sou ’n geslag wees met ’n filoso-fie van individualisme: Die wêreld skuld ons; doen wat ons eis of anders… Hulle sou ’n diep-gewortelde bitterheid en onvergewensge-sindheid koester wat in rebellie teen gesag en leierskap manifesteer.
Wanneer ons nuus kyk, is dit duidelik dat daardie waarskuwing korrek was – nie net binne die Suid-Afrikaanse konteks nie, maar ook wêreldwyd. Waar vaders fisiek, funksioneel of geestelik afwesig was, is daar diepgewortelde probleme as gevolg van verlore identiteit.
’n Beeld van God die Vader
Ons identiteit word deur wêreldse filosofieë en die satan aangeval. Hierdie aanvalle is blatant, kragtig en meedoënloos.
In die dae toe Jesus, die Seun van God, hier op aarde gewoon het, is Hy, soos die ander Joodse seuns, ook uit die boek Spreuke onderrig – sodat hulle lewenswyse as volwassenes God vereer. Spreuke sal God se Vaderhart aan jou openbaar – van wyse woorde, tot raad en sake rakende dissipline. In vandag se wêreld vol teenstrydige boodskappe is die sekerste ma-nier om te weet wat God se hartsingesteldheid teenoor jou is, om Sy Woord te lees.
Die Vader se hart word ook in Jesus se lewe weerspieël. In Lukas 3 sien ons waar Jesus begin om die Vader se wil vir Hom te begin uitleef (die Vader se droom vir Sy lewe).
Jesus word gedoop (v.21), ontvang die Heilige Gees (v.22) en hoor dan die Vader se hart teenoor Hom: “Daar was ook ’n stem uit die Hemel: ‘Jy is My geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.’” Lukas 3:22. In ’n sekere opsig het Jesus toe nog niks “wonderbaarlik” gedoen nie, maar die Vader was reeds tevrede met Hom en het tyd bestee om Sy identiteit te ontwikkel en te bevestig.
Dít, in teenstelling met ons, wat binne ‘n kultuur leef wat net tevrede met ons is wanneer ons goed gepresteer het of aan die status quo toegegee het. Ons leer vinnig dat ons identiteit en waarde van ons prestasie en /of konformiteit afhang. En tog is dit nie die beeld wat ons van God ontvang nie.
Die Vader heg waarde aan jou
Ek en jy het waarde bloot omdat ons na Sy beeld geskape is. Ouers, en veral vaders, moet woorde wat hulle kinders se identiteit sal beves-tig, oor hulle uitspreek deur dinge te sê soos: “Jy is my kosbaarste ding op aarde, ek het jou so lief”, “Wakker word klein wennertjie”, en “Ek is so trots op jou”.
As jou kinders reeds volwasse is, kan jy, en moet jy hulle steeds bemoedig en opbou. Jy kan ook God die Vader se identiteitsverklaring oor jou eie siel uitspreek. (NB: Lees Efesiërs totdat hierdie waarhede wortelgeskiet het.)
Nadat Jesus die Vader se bevestiging ontvang het, het die Gees Hom na die wildernis gelei om daar vir veertig dae lank versoek te word. Onthou jy wat die duiwel by twee geleenthede vir Hom gesê het? “As U die Seun van God is…” Lukas 4:3,9. Hierdie verhaal is baie insiggewend: die Vaderhart van God wil oor ons jubel. Die duiwel sal poog om jou daarvan te beroof en veroorsaak dat jy jou verhouding met die Vader laat bevraagteken. God sal egter die wêreld en die duiwel se agenda om jou identiteit te steel, op talle maniere neutraliseer sodat jy onversetlik kan uitleef wie jy reeds in Christus is.
Verstaan God se hart binne die gesinskonteks
Die gesin is deur ’n liefdevolle hemelse Vader geskep as die omgewing waarbinne jou identiteit en bestaansdoel kan groei tot volwassenheid. Ons moenie verbaas wees dat daar van alle kante op die gesin (soos deur God ontwerp) so ’n vernietigende aanslag is nie – kultureel, deur die media en selfs vanuit regeringskant.
Binne die konteks van die gesin moet kinders ingesluit word as deel van die clan. Kinders kan van kleins af ’n bydrae lewer en hulle gedagtes, idees en begeertes op ’n eenvoudige manier deel. Sluit hulle in om ook soms besluite te neem; deel ’n paar van die uitdagings wat julle as gesin in die oë staar en bid dan saam daaroor. Wanneer God die gebede beantwoord, sal dit hulle geloof laat groei.
God openbaar Sy hart aan ons
In Suid-Afrika verdien baie mense jaarliks ’n bonus. Deel ’n gedeelte van jou bonus met jou kinders; laat hulle verstaan dat hulle ook ’n rol gespeel het om hier-die seën te verdien deur gehoorsame en gewillige kinders te wees – wat Mamma en Pappa se las ligter gemaak het.
Wanneer jy gaste vir ’n maaltyd oornooi, laat die kinders toe om ’n handjie by te sit en te help. Leer hulle hoe om te dien en vrygewig te wees. Gaan op “diens-“ en “gee-avonture” en kyk hoe hulle groei in die droom wat die Vader vir hulle in gedagte het. Maak jou gesin en jou huis oop vir enkelmammas en ander uit gebroke gesinsituasies sodat hulle deur julle gesin ook iets van die Vaderhart van God kan leer ken.
Ons kan verwag dat God die gesinslewe sal gebruik om as voorbeeld te dien van Wie Hy as ’n Vader is; wat Sy droom vir ons is; en hoe ons binne daardie droom volkome vervuld kan leef.
Die Kerk en God se hart
Die Kerk, die gemeenskap van God se kinders, is ’n kragtige instrument om die Vaderhart van God te openbaar. In 1 Korintiërs 1:1-9 tref ons ’n verbasende waarheid aan. Paulus spreek opbouende woorde van bemoediging oor die Korintiese kerk uit. Tog lyk dit onvanpas omdat die kerk in ’n toestand was.
Ons sien seksuele sonde op groot skaal; daar was regsgedinge, on-enigheid en misbruik van geestelike gawes. Nie juis ’n kerk waaroor ’n mens wil spog nie. Hoe kon Paulus dus die dinge sê wat hy in sy begroeting opper? Omdat God hom gebruik het om iets oor die Vader se plan en doelwit te openbaar. Die Vader het geweet dat hulle nie volmaak is nie, maar Hy het ook geweet dat hulle hulle vertroue in die voltooide werk van Christus geplaas het en dat hulle nou in ’n proses van verandering is.
Hy sou Paulus, die Woord, gemeenskaps-lewe en die Heilige Gees gebruik om met die groeiproses te help. God die Vader kon reeds die voltooide produk sien. Hy laat Paulus, as ’n apostoliese vader, die mense van die Korintiese kerk deur die Hemelse Vader se oë sien en hy praat dus daarvolgens. Paulus was oortuig daarvan dat “Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus.” Fil 1:6.
Elke aspek van die plaaslike kerk sal deur God gebruik word om jou te vorm.
Wanneer ons uit die oog verloor wat die Vader se hart vir ons is
Lukas 24 vertel die verhaal van twee dissipels op pad na Emmaus. Hulle het vir drie jaar lank saam met Jesus gewandel en al Sy lering gehoor het; het geweet wat die profete aangaande Jesus gesê het; het van geloofwaardige getuies verneem dat Jesus uit die dood opgestaan het, en tog was hulle op pad wég van Jerusalem en in werklikheid ook weg van God se doel vir hulle lewe!
Hulle is hartseer en ontnugter. Hulle antwoorde op Jesus se vrae onthul ’n onvoldoende beeld van Wie Jesus was en gebrek aan insig aan Sy sending om die Vader se droom te leef en uit te voer.
Hulle het God se plan nie gesnap nie en die meeste mense sou hulle as nutteloos beskou. Jesus daag egter op en demonstreer die Vaderhart van God. Hy gesels met hulle en openbaar Homself uiteindelik aan hulle: watter liefde, genade, insig en regstelling.
Die Vader se droom vir jou lewe
As ek na my lewe kyk, sien ek dat daar baie Emmaus-oomblikke is waar ek vergeet het dat alles oor Jesus en Sy sending gaan. Ons maak dikwels die goeie dinge wat God ons geskenk het die belangrikste dinge. Ons maak van hierdie goeie dinge afgode en in die proses verloor ons Jesus en Sy sending as ons middelpunt. Maar die twee dissipels se getuienis, my getuie-nis en miskien ook joune, is dat die Vaderhart van God aan ons openbaar is (en word) deur vriende, leiers, ’n lering, ’n teregwysing, vrae, en die Bybel – en net soos die twee dissipels kan ons weer eens op Christus ingestel word. Deur die Vader se hart vir ons, is ons, of sal ons weer, op Jesus fokus; op Sy sending om die wonder van ’n lewende God aan die wêreld bekend te maak.
God gebruik ander om Sy hart aan ons te openbaar
Wanneer die twee dissipels die openbaring van God se hart ontvang, verander hulle hartseer in vreugde, keer hoop terug en doen hulle wat dit ook al verg om terug te keer na hulle sending – insluitend om onmiddellik na Jerusalem terug te keer, selfs al moet hulle in gevaar en ongemak deur die nag reis.
Ons kan uit hierdie, en ander verhale uit die Bybel, sien dat God as ons Vader die kerk gebruik om jou te ontwikkel in die seun of dogter wat Hy in gedagte het. Dit geskied wanneer jy deelneem aan sending, jou aan gesag onderwerp, jy opofferend lewe en jy blootgestel is aan apostels, profete, herders, leraars en evangeliste (Efesiërs-4-gawes). Jy sal ’n seun of dogter wees wat lyk soos, lewe soos, en optree soos jou ouer broer, Jesus. Wees egter daarop bedag – jy sal die sagtheid van Sy aanraking ervaar, maar ook die felheid en dissipline van dieselfde hande wat jou in die moederskoot gevorm het.
Jy is ’n vingerafdruk van die Vader
In Genesis 12:1-3 word ons voorgestel as mense wat die wêreld sal verander; ons beskik almal, as deel van ons identiteit, oor die vermoë om opofferende lewens te leef sodat ander kan ervaar hoe goed God is. Wat ’n avontuur! Dit is so maklik om die Vader tevrede te stel en Hom aan ander te openbaar, want die “wêreld” is hier by ons, hulle is ons bure, by die skool, by die werk.
God sal alles inspan om jou by te staan om ’n opofferende lewe ten bate van ander te leef sodat hulle ’n smakie van Sy liefde kan kry. Hy sal jou voortdurend help om aan jouself te sterf en dan toenemend toerus met alles wat jy benodig om ’n seën te wees. Laat die sewe biljoen mense op aarde, of ten minste ’n buurman of twee, plus ’n paar familielede en vriende die Vaderhart van God ervaar omdat Hy in jou en deur jou leef. Mag jy die vingerafdrukke van die Vaderhart van God op elke gebied van jou lewe ervaar.

TOM TAPPING het oor die afgelope 33 jaar verskeie kerke geplant en gelei. Hy woon tans in Amerika, is vir 36 jaar lank met Una getroud.


Dawie en Leonora Spies

Niemand wat al ’n Bok-en-Biltong-aand bygewoon het of by een van Manne van die Woord se gebeds- en ondersteuningsgroepe was, sal onveranderd daar uitstap nie. Dit spreek altyd die hart aan omdat Dawie Spies, die stigter van Manne van die Woord, ’n passie het vir siele en om manne toe te rus en op te rig sodat hulle man en pa kan wees vir hulle gesin soos God dit bedoel het – vandaar ‘Manne van die Woord’.
Liefde vir die wen van siele
Die saadjie vir evangelisasie is vroeg reeds in Dawie se hart gesaai. Hy het in ’n sen-dinghuis grootgeword wat hy beskryf as ’n “huis van liefde waar ouers absoluut hulle lewens aan die wen van siele gewy het.”
’n Blywende indruk van ’n groot evangelis
Toe Dawie ses jaar oud was, het die tot nog toe onbekende evangelis, Reinhard Bonnke en sy vrou, Anni, in 1966 na Suid-Afrika toe gekom om as sendelinge opgelei te word. Die AGS-kerkgenootskap in Suid-Afrika het besluit om die Bonnke-gesin na Dawie se ouers in Ermelo, Mpumalanga, te stuur, waar hulle Reinhard sou mentor en hom die basiese dinge van sendingwerk leer.
Een insident het ’n blywende indruk op die jonge Dawie gelaat: “Ek onthou steeds hoe Reinhardt destyds vroeg soggens in ons tuin met sy hande omhoog hardop gebid en uitgeroep het: ‘Africa shall be saved!’ Nooit het ons besef watter Godsman dit was wat die Here na ons huis toe gestuur het nie. Ons het vandag nog kontak, want ek en hy verjaar albei op 19 April.”
Ongered in ’n Christen-huis
Op skool het Dawie nog nie eintlik insig gehad waaroor sending en Christenskap werklik gaan nie. Hy beskryf die scenario van menige kind wat in ’n Christelike huis grootgeword het: “Ek het self geen verhouding met die Here gehad nie, en altyd gewonder hoekom mense om my so behep is daarmee om ’n ‘verhouding met die Here’ te kan hê. Ek het ook altyd gevoel ek skuld die Here iets.”
Verbyster deur Jesus se liefde
Sy broer, Pierre, wat aan ’n hartaanval dood is, het ’n groot invloed op sy lewe gehad en dit was tydens een van Pierre se Christen-mannekampe by Mabula Lodge (Bela-Bela) dat die Here vir Dawie ’n werklikheid geword het. “Op dié kamp het die spreker die Bybel as ’n roman en ’n liefdesverhaal beskryf; as ’n Vader se droom vir Sy kinders en hoe satan dit kom vernietig het, en hoe die Vader Sy Seun gestuur het om Sy kinders te kom red. Die eenvoud van die verlossingsboodskap het my na Jesus toe getrek, en Sy liefde het my totaal verbyster! Dit is genade onbeskryflik groot! Ek was nooit weer dieselfde nie.”
Selgroep in ’n haarsalon
Ná sy broer se dood het Dawie na Pretoria verhuis en getrou aan die voorbeeld wat hy van kindsbeen af om hom beleef het, ’n selgroep in Moreletapark (in ’n haar-salon) begin. Binne die bestek van ’n kort tydjie het die handjievol mense wat op ’n Dinsdagaand byeengekom het, tot ’n groot groep mense gegroei. Dit was hier waar hy sy vrou, Leonora, ontmoet het: “Leonora het ook hiervan te hore gekom en die groep kom besoek. Ek het haar raakgesien, maar nie gedink dat sy eintlik van my sou hou nie…Blykbaar het sy toe! Ons is nege maande later verloof.”
Unieke mandaat
Dawie het altyd geweet dat hy in die bedie-ning betrokke sou wees, maar ook dat dit nie as sendeling of kerkleier sou wees nie, dit sou in ’n ander formaat wees. Hy wou graag ’n rol speel om versoening tussen kerke en denominasies te help bewerk. Hy brei uit: “Dit is vir my nog altyd so hartseer dat God se kinders baklei oor onbenullig-hede en hulle verskillende menings oor die Bybel terwyl duisende siele intussen nie bereik word nie. My mandaat van die Vader was nie om ’n kerk te stig nie, maar eerder die 80% mense buite die kerk met liefde en hoop te bereik en te bedien.”
Hierdie mandaat het tien jaar gelede aanleiding gegee tot die totstandkoming van Manne van die Woord wat manne oor alle rasse-, gelowe, en groeperings heen help en bereik om ’n verhouding met Jesus Christus te begin en om hulle dan na plaaslike gemeentes te verwys waar hulle geestelik verder kan groei en betrokke kan raak.
Dissipelskap en mentorskap
Dawie verwys na die duisende manne wat al Mighty Men-konferensies bygewoon het en daar ’n ware ontmoeting met hulle Verlosser gehad het, maar ná ’n maand of twee momentum en fokus verloor omdat daar nie dissipelskap of mentorskap plaasvind nie. “Dit is ’n groot probleem omdat van die manne spoedig na hulle vorige lewenswyse terugkeer en dan erger is as voorheen,” verduidelik Dawie. “Ons staan manne by wat kerklos of kerkloos is. Hulle sluit by ons mannegroepe aan – wat landswyd aangetref kan word – en daar word hulle gelei, geleer en gementor om dissipels van Jesus te word. Ons is gewone ouens wat interkerklik saamkom om te bid, te ontvang, te groei en mekaar te ondersteun. Die hart van ons bediening gaan oor genade, hoop en liefde, en ons probeer dit eenvoudig en prakties hou. Ons verwys ons manne en dames na plaaslike gemeentes waar hulle geestelik verder kan groei en betrokke kan raak.”
Ware manne van die Woord
Die fokus van Manne van die Woord is dan ook dat die individu homself “uitsorteer” (ten opsigte van sy verhouding met Christus), dan sy huwelik, dan sy gesin en dan die wêreld daarbuite. Die Woord is te alle tye die anker.
Vroue van die Woord
Leonora en Dawie het deur die jare heen soveel boodskappe en e-posse van dankbare vrouens ontvang wat skielik ’n totaal nuwe man by die huis het. Daar was talle versoeke dat daar ook soortgelyke groepe vir vroue begin moet word. “Ek dink die vroue was skoon jaloers op die geestelike insette en mentorskap wat hulle mans ontvang het en het gevoel hulle loop iets groots mis,” vertel Leonora.
Vroue van die Woord het toe spontaan uit Manne van die Woord voortgespruit omdat vrouens gesien het hoe hulle mans se lewe dramaties verander het. Vroue van die Woord is ’n beweging van godvresende vroue met ’n passie vir God se Woord en gebed en is, soos Manne van die Woord, interkerklik. Tydens die weeklikse Vroue van die Woord-byeenkomste bid die dames saam en ondersteun mekaar geestelik om so Galasiërs 6:2 te vervul: “Dra mekaar se laste en gee op die manier uitvoering aan die wet van Christus.”
Herstel van gebroke gesinne
Leonora en Dawie beklemtoon beide dat Manne- en Vroue van die Woord nie die plek van die kerk inneem nie. Hulle hart is om mans en vrouens te help om hulle Godgegewe potensiaal te ontdek, God se wil vir hulle lewens te omarm en voluit uit te leef. Manne en Vroue van die Woord se missie is om geestelike groei, persoonlike ontwikkeling, leierskap en welstand by die huis en die kerk te help bewerkstellig en om gebroke gesinne te help herstel.
God se bloudruk vir ons land
Dawie wil in elke dorp in Suid-Afrika ’n tak van Manne en Vroue van die Woord sien, waar manne en vroue ernstig is oor God se opdrag om mense dissipels van Jesus te maak. “Sonder Jesus is ons toekoms verdoem. Ons kinders sal geen hoop hê in die land nie. Ons is hulle dit verskuldig om ’n nalatingskap van Jesus agter te laat. Suid-Afrika behoort aan God en Hy het ’n blou-druk vir hierdie pragtige land van ons. Ons dien ’n God wat die onmoontlike moontlik maak!”

Dawie Spies is beskikbaar om as motiveringspreker by skole, landboubyeenkomste, kerke en mannebyeenkomste op te tree. Kontak hom by dawie.spies@gmail.com
Fotos deur: Noeleen Foster. Vir meer inligting gaan na www.noeleenfoster.co.za