In ’n oomblik van woede is dit dikwels asof Christene soms hulle redding en vrug verloor! Baie paartjies en kinders leef met die seer van woorde wat agter toe deure geuiter word en hulle verhouding laat bloei – kinders van die Here ten spyt. Dit is hartseer dit word dikwels as normaal beskou met die verskonings dat onbesonne dinge soms in oomblikke van frustrasie gesê word, en niemand is volmaak nie.
Te veel huwelike is vasgevang in die bose kringloop van skerp tongaanvalle net om weer daarna om verskoning te vra. “Ek weet ek het lelik gepraat of dinge gesê wat seermaak, maar ek het dit nie bedoel nie,” word die verskoning sodat ons maar in die vlees kan wandel.
’n Fontein met brakwater én met varswater?
Net een kykie op sosiale media laat jou verstom oor kinders van die Here se kommentaar op ’n foto of ’n nuusberig. Dieselfde mense wat daardie negatiewe, sarkastiese kommentaar skryf en ander afbreek en slegsê, se persoonlike Facebook-blad is vol mooi Christelike boodskappies en basuin uit hulle is ’n gelowige. Sê God se Woord dan nie duidelik ’n fontein kan nie brak én goeie water gee nie? Of ’n boom kan nie verskillende vrugte voortbring nie?
Hoe is dit dan dat ons Christene soms so klaaglik misluk? Ons loof God in die kerk, maar sê sleg, kraak af en verwoes met dieselfde tong. Die ware bewys van ons redding is die vrug wat ons dra waar ander mense ons nie kan sien nie, maar ons huismense daarvan kan getuig. Die beste bewys van ons geestelike groei is hoe ons konflik hanteer en optree wanneer ons seergemaak, kwaad of gefrustreerd is, of wanneer ons met ons rug teen die muur staan.
Die redes vir ’n skerp tong:
Duisende mense kon tydens hulle grootwordjare nooit hulle mening lug nie. Hulle is onderdruk, stilgemaak (ook deur broers en susters) en afgelag as hulle probeer om hulle man te staan. Ander getuig weer hulle is fisiek afgeknou, maar hulle het geleer die tong is ’n magtige wapen wat ewe veel skade kan aanrig as ’n vuis. Ons moet bedag wees daarop hoe ons ons kinders hanteer en besin hoe ons die boeties en sussies wat
mekaar boelie, gaan opvoed, want in die huwelik word ons kind se huweliksmaat die slagoffer van daardie einste gedrag of onderdrukte innerlike pyn.
Soms sukkel mense dalk om te hoor hulle is verkeerd of om die ander wang te draai. Hulle tong is goed geoefen om iemand anders plat te vee met sarkasme, persoonlike aanvalle en om terug te kap deur die ander een se foute uit te lig. Enigiets solank hulle nie hoef te luister of te hoor hulle is verkeerd nie.
Lees die res van die artikel in JUIG! se November-uitgawe.
Category: November 2016 Issue
Dis Altyd Te Gou Om Tou Op Te Gooi…
Een van die grootste organisasies ter wêreld is die Quitter’s Club. Jy het nog nooit van hulle gehoor nie omdat hulle hulle byeenkomste laat vaar het – die lede het nie opgedaag nie. Daar is geen ledegeld nie – die lede het opgehou om hulle ledegeld te betaal. Die Quitter’s Club bestaan â��â��uit mense wat ‘n moeilike taak in die gesig staar, ‘n moeilike huwelik, ‘n ernstige siekte, of ‘n slegte mislukking – en toe tou opgegooi het. “When the going gets tough, the tough gets going”, maar “when the going gets tough, the quitters get going…away. Wat ons in die wêreld en die Kerk nodig het, is aanhouers met uithouvermoë en vasberadenheid.
Moenie moed opgee nie!
Daar is baie talentvolle mense wat nog nooit bo die gemiddelde uitgestyg het nie, bloot omdat hulle tou opgegooi en hulle drome laat vaar het.
Jare gelede het ‘n sekere mnr. Darby, ‘n ryk versekeringsmakelaar, by die goudstormloop in Colorado betrokke geraak. Hy het ‘n bietjie geprospekteer en ‘n baie ryk goudrif in die Rockies ontdek. Hy het na sy huis aan die Ooskus teruggekeer en al sy vriende oortuig om hulle geld in ‘n mynonderneming te belê. Hulle het ’n korporasie gestig, ‘n groot klomp toerusting aangekoop, en hierdie baie ryk rif gouderts in Colorado ontgin.
Teen die tyd dat die korporasie al sy skuld afbetaal het, was daar nie meer gouderts in die rif te vinde nie. Die beleggers het aanhou myn totdat hulle weer diep in die skuld was. Uiteindelik het ’n moedelose mnr. Darby eendag opdrag gegee dat die mynery gestaak moet word. Hy het die myn toegemaak en die myn en die toerusting in Denver aan ‘n rommelhandelaar vir ‘n paar honderd dollar verkoop.
Net voor die deurbraak
Die rommelhandelaar het ‘n geoloog gehuur om die myn en die omgewing te ondersoek. Die geoloog het met die volgende verslag teruggekom: “As jy drie voet verby die punt grawe waar mnr. Darby opgehou het, tref jy weer dieselfde goudrif aan.” Die rommelhandelaar het die rykste myneienaar in die staat van Colorado geword. Dink net! Net drie voet verder! Ek wonder hoeveel keer ons ook net drie voet voor die deurbraak stop?
Norman Vincent Peale het die konsep van positiewe denke gewild gemaak en een van sy beroemde aanhalings was: “Dit is altyd te vroeg om op te hou.” Paulus het dieselfde idee gehad toe hy geskryf het: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” Gal 6:9.
Wanneer ons in die versoeking kom om minder as ons beste te lewer, of dalk heeltemal tou op te gooi, moet ons die waarheid van hierdie vers onthou. Hier praat Paulus oor ‘n voorreg, ‘n gevaar, en ‘n belofte.
Die voorreg om goed te doen
Paulus praat oor die voorreg om “goed te doen”. Dit is waarom die Christelike lewe en diens draai. “Laat jou lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” Matt 5:16. Ons is nie net gelowiges nie, ons doen die wil van God, en die werk van God, ter verheerliking van God.
In 1953 het verslaggewers by ‘n Chicago-stasie gewag om die wenner van die 1952-
Nobelvredesprys te ontmoet. Hy was ‘n groot man, meer as ses voet lank, met ’n ruie bos hare en ‘n wilde snor.
Die verslaggewers was opgewonde om hom te sien en dit was vir hulle ’n groot eer om hom te kon ontmoet. Die kameras het geflits, en hy is met komplimente oorval, toe die besoeker ‘n bejaarde swart vrou buite die kring van die heldeverering opmerk wat sukkel om haar twee groot tasse te dra.
“Verskoon my,” sê hy en snel die vrou te hulp. Hy tel haar tasse op en begelei haar na haar bus en vra toe die verslaggewers om verskoning omdat hy hulle laat wag het.
Dié man was dr. Albert Schweitzer, die beroemde sendelingdokter wat sy lewe daaraan gewy het om arm en siek mense in Afrika te help.
’n Lid van die ontvangskomitee het teen-oor een van die verslaggewers opgemerk:
“Dit is die eerste keer dat ek ’n wandelende preek sien.” Die maatstaf van ’n man of ’n vrou is nie die naam wat hulle gemaak het, of hulle roem nie, dit is nie wat hulle sê nie, maar wat hulle doen.
Laat jou dade spreek
Jesus “het rondgegaan, [en] oral goeie werke gedoen…” Handelinge 10:38. Wanneer ons betrokke is by die doen van goeie werke, volg ons in die voetstappe van die Meester.
Jakobus moedig ons aan: “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” Jak 1:22.
Hoewel ons beslis nie deur goeie werke gered word nie, word die werklikheid van ons verlossing bewys deur ons lewens aan goeie werke te wy.
Soms is gelowiges, veral diegene wat ’n amp in die kerk beklee, geneig om diensbaarheid as ‘n las of ‘n lastige taak te beskou. Christelike bediening is nie maklik nie; dit verg energie, tyd en inspanning. Ons moet egter besef dat bediening ‘n voorreg is, anders sal ons bitter en krities word en dan rus God se seën nie meer op ons werke nie. Ongeag van hoeveel opoffering God van ons vereis, moet ons onthou dit is ’n wonderlike voorreg om Jesus in enige hoedanigheid te kan dien.
Lees die res van die artikel in JUIG! se November-uitgawe
Die Toestand Van Jou Hart
In Matteus hoofstuk 13 beskryf Jesus die koninkryk van God aan die hand van ’n paar gelykenisse. Die eerste is die gelykenis van die saaier waar die saad die Woord is wat op verskillende tipes grond val. Jesus praat hier van die verskillende toestande van die mens se hart: “…wat in sy hart gesaai is.” (:19)
Hoe lyk jou hart waar die saad van die Woord val?
Die eerste saad val op die harde pad – ’n beeld van ’n verharde hart – waar die voëls die saad oppik en daar geen vrug is nie. Die tweede groep val op klipperige grond. Dit verteenwoordig daardie dele van ons lewe wat verhard is; daar waar jy ’n gewoontetjie koester. Jy sal geestelik groei totdat jy hierdie harde klipperige sondetjies teëkom en dan niks verder vorder nie. Die derde groep val tussen die dorings. Dit is al die bekommernisse van die lewe en luste van die wêreld wat die Woord in ons hart verstik, en weer eens is daar geen vrug nie. Die laaste saad val op sagte vrugbare grond – ’n sagte hart.
Luister met die ore van jou hart
Jesus sluit dit gelykenis af: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!” Daardie woorde tref jy in die Ou en Nuwe Testament aan. In Openbaring 2 en 3 word elkeen van die sewe briewe aan die Christen-gemeentes hiermee afgesluit. Die probleem is nie dat God nie praat nie, maar ons hoor nie altyd nie. Die ‘ore’ waarna die Skrif verwys, is dus eintlik ore van die hart – om te hoor wat God sê en daarop te reageer.
Waarom hoor ons nie?
“Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor…sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer nie.” Matt 13:15. Daar word met die hart verstaan, maar God sê die hart het stomp geword. Die Here wil ons gebruik, maar ons is stomp. Soos ’n stomp mes wat nie ’n tamatie kan sny nie, is ons ondoeltreffend. Ons hoor nie meer nie. Ons is uiterlik Christelik, maar ons luister nie na die Gees nie.
As ek die Skrif nagaan, sien ek hoe God deurentyd met Sy kinders praat, maar hulle hoor nie. Daar is baie Christene wat wonder: Maar kan ’n mens God se stem hoor? Johannes 10:27 sê: “My skape luister na My stem…” God praat dus, maar die probleem is egter ons hoor nie, want ons hart is nie reg nie.
Waar die hart van vol is…
“Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mense bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.” Matt 12:34-35. Wat binne jou aangaan, sal by die mond uitkom.
Jakobus 3 verwys ook na die mag die tong. Die tong praat wat binne die hart is. Die rigting van jou lewe word bepaal deur die tong. Salomo sê in Spreuke 4:23: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” En in Spreuke 18: 21: “Dood en lewe is in die mag van die tong.”
Die gedagtes van die hart is verborge, maar daardie dinge is wie jy uiteindelik word.
Wat stoor jy in jou hart?
Die hart is ’n houer waarin dinge gestoor word – dit is soos ’n skatkis. Van kindsbeen af is jy besig om dinge in jou hart te bêre. Dit wat jy daarbinne bêre, is wie jy word en van daardie dinge wat gebêre word, is nie mooi nie. Dit beïnvloed jou hele lewe.
Wat kom by jou mond uit as jy skrik of kwaad is? Ons sê maklik: “Ek is nie gewoonlik so nie; dit is nie wie ek is nie.” Daardie dinge wat uitglip, is al lankal daarbinne gestoor en wanneer ons onder druk is, kom dit uit. Dit wat ons daar bêre, is wie ons word.
Jou reaksie bepaal wie jy word
Dit is nie wat aan ons gedoen word wat ons hart affekteer nie, dit is hoe ons daarop reageer. Daar is baie ongeregtigheid in die wêreld; niemand spring dit vry nie. Vreeslike dinge gebeur: familie word vermoor, ons word beroof, ens. Tog is dit net hoe jy daarop reageer wat bepaal wie jy gaan word. As jy in bitterheid, haat en woede reageer, sal dit in jou hart gebêre word. As jy vergewe kan dit nie jou hart beïnvloed nie.
Bedrieglik is die hart
In Jeremia 17:1 staan daar: “Die sonde van Juda is ingegraveer met ’n ysterpen, ingegrif met ’n diamantpunt op hulle harte…” Jou hart het ’n tafel waarop dinge ingegraveer word. Dit is diep uitgekrap. Daar is dinge wat in ons lewe gebeur wat diep in ons hart gegraveer is; gebeure toe jy ’n kind was. Dit is gewoonlik te wyte aan ongeregtigheid.
Jeremia gaan voort: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge…” Wat beteken ’n bedrieglike hart? Jy gee voor wat jy nie is nie. Ons hou daarvan om ’n mooi prentjie voor te hou, maar die werklikheid is die verborge dinge in ons hart.
Hoe bedrieg ek myself?
“Bedrieg julle self nie deur te sê: Die Chaldeërs sal sekerlik van ons af wegtrek nie.” Jer 37:9.
Jeremia waarsku Juda om hulle te bekeer, want hulle is oortuig dat alles goed sal gaan. Hulle is immers die Verbondsvolk, in Jerusalem (God se stad) en hulle het die Tempel (God se teenwoordigheid). Hulle bedrieg hulleself en dink God sal geen onheil toelaat nie; hulle dink hulle kan maar doen wat hulle wil. Net so bedrieg ons onsself ook en wil ons ons weë nie verander nie.
Waar kom die bedrog vandaan?
In Obadja vers 3 waarsku die profeet die Edomiete: “Die vermetelheid van jou hart het jou bedrieg…” Die Edomiete was die nageslag van Esau. Hy het as eersgeborene die reg gehad tot al die beloftes wat aan Abraham gemaak is. Esau het dit nie na waarde geskat nie, maar Jakob het ‘n verlange daarna gehad en besef hoe belangrik hierdie beloftes is. (Geestelike waarheid – as jy verlang na die dinge van God, sal God dit vir jou gee; as jy dit verag, sal jy dit verloor.) Jakob koop daardie reg by Esau vir ’n pot lensiesop waarna Esau bitter word, want nou besef hy wat hy gedoen het. Hy wil sy broer doodmaak sodat hy dit weer kan terugkry. Hierdie bitterheid van Esau word oorgedra van geslag na geslag.
As jy bitterheid saai, sal jy ’n bitter oes maai. Drieduisend jaar later haat Esau se na-geslag steeds die Jode. Moenie dink dat jy jou bitterheid kan wegsteek nie, dit word aan jou kinders oorgedra. Dit is onregverdig dat jy jou bitterheid aan hulle oordra, hulle sal nog meer verbitter as jy wees.
Die Edomiete se bitterheid en vermetelheid van hart het hulle bedrieg. Daar lê die kern van die bedrog van die hart. Hoogmoed verwoes altyd. Hoogmoed bedrieg.
Ek het gesondig
Lukas 15 handel oor die verlore seun. Die seun is weg, moontlik as gevolg van probleme, en waarskynlik het hoogmoed ’n rol gespeel; hoogmoed verwoes jou lewe. Dit veroorsaak dat dit altyd iemand anders se skuld is…ander mense is die probleem, want ons wil nie die vinger na onsself wys nie.
Ja, ek kon sê hulle het my plaas afgevat, maar God het met my gepraat oor dinge waaraan ek vasklou wat ek moes laat gaan… vir Hom het dit eintlik oor my hart gegaan.
Die jong man beland in ’n varkhok waar hy tot sy sinne kom en besluit om terug te keer na sy vader en te sê: “Ek het gesondig. Dit is nie jou skuld nie.” Dít is die kern. Ék het ’n verkeerde gesindheid gehad. Ék moet ver-ander. Vergewe my vir mý sondes.
Vergifnis vir vryheid en ’n seën in jou lewe
Hiermee sê ek nie as dit by vergifnis kom, dit is aanvaarbaar wat aan ons gedoen is nie. Dit is verkeerd om moord te pleeg of te steel, maar ons moet kyk na ons eie hart. Jy moet die kettings tussen jou en dié wat jou ’n onreg aangedoen het, verbreek, anders bind dit jou vir ewig aan hulle en beheer dit jou lewe deur bitterheid. Jou reaksie op die onreg wat teen jou gepleeg is, is waarvoor jy vergifnis vra. Dit is nie maklik om te vergewe nie, maar wanneer jy die koninkryk van die Ewige Lewe sien en besef ons aardse bestaan is tydelik, kan jy vergewe.
Tweedens vergewe jy sodat jy ’n seën vir ander kan wees en nie deur bitterheid verwronge word nie. Vergifnis is kragtig. Dit bring genesing. Psalm 34:19 lui: “Die Here is naby die wat gebroke is van hart…” en Psalm 147:3 sê: “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.
In Psalm 51 bely Dawid berouvol sy sonde en ween voor God. Gebrokenheid van hart is nié selfbejammering nie. Selfbejammering is hoogmoed, want die fokus is ‘arme ek’. Ek het nog nooit gesien dat iemand tot genesing kom deur selfbejammering nie, maar ek het al dikwels gesien hoe mense genesing ontvang wanneer hulle sê: “Vergewe my”.
Wanneer God jou hart aan jou openbaar
Petrus het vol brawade verklaar dat hy Jesus nooit sal verloën nie, maar Jesus het sy hart geken en vir hom gesê hy gaan die Seun van God drie keer verloën voordat die haan kraai. In hoogmoed stry hy met Jesus, en Jesus sê niks verder nie. Wanneer Jesus dan later na Kajafas se huis geneem word, volg Petrus hulle en is binne hoor- en sigafstand van wat met Jesus gebeur. Dit is verbasend hoe die Here dit laat uitspeel. Jesus wil Petrus gebruik, maar terwyl daardie bedrog nog verborge in sy hart is, kan Hy hom nie gebruik nie. God gebruik ’n jong slavin (die geringste in die samelewing) om Petrus se hart te ontbloot. Petrus word bang toe ’n slavin hom uitwys. Hy vloek en is bang; drie keer ontken Hy dat Hy Christus ken – en dan kraai die haan.
Hy besef skielik wat hy gedoen het en Jesus draai om en kyk na hom. Wat was in daardie kyk? Die duiwel is die beskuldiger van die broers; dus kon dit nie beskuldigend gewees het nie. Dit was ‘n kyk van liefde wat hom deurboor het. Jesus is die Lig en in Hom is geen duisternis nie. Al daardie verborge dinge van duisternis word oopgebreek; daar is niks wat Petrus (of ons) kan wegsteek nie. Petrus hardloop weg en ween bitterlik.
Nóú kan Jesus hom vra om Sy lammertjies te voed, om Sy skape op te pas en te laat wei, want Petrus weet wat sy tekortkoming is.
Jesus sê vir Petrus: “Jy gaan My nou dien, maar nie in jou krag nie.” Jesus neem ons na plekke waar ons nie in ons eie krag kan gaan nie. Die Heilige Gees neem ons na plekke in ons geestelike lewe waar ons nie self kan uitkom nie; Hy gee ons die krag om dit te doen. God neem ons verby ons eie vermoëns, maar eers toets Hy ons hart: “Ek, die Here deursoek die hart…” Jer 17:10.
HENRY EN MANDY JACKSON is beskikbaar as gassprekers en vir bediening en berading. Kontak hulle by info@henryjackson.co.za of besoek www.henryjackson.co.za
Aan Tafel Met Die Meester
Jesus het Sy plek aan tafel ingeneem terwyl Hy moontlik aan Sy woorde kort tevore aan die skare gedink het…
’n Ongelowige skare stel Jesus op die proef
Jesus het pas ’n duiwel uitgedryf toe ’n skare begin saamdrom en party mense beweer dat hy dit met behulp van die duiwel gedoen het. “Deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, dryf Hy die duiwels uit.” Luk 11:14-16. Die
skare het vinnig groter geword en het Hom “op die proef gestel “ deur op ’n wonderteken van die Hemel aan te dring. Hy het na hulle verwys as ’n “bose geslag”.
Terwyl Jesus besig was om met die skare te praat, is Hy deur ’n vrou onderbreek wat uitroep: “Hoe bevoorreg is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!” Luk 11:27.
Hy het hierop gereageer met die volgende woorde: “Nog meer bevoorreg is hulle wat die Woord van God hoor en dit onderhou.”
Wie was hierdie Man?
’n Mens kan jouself net indink hoeveel van die mense wat daar in die skare na Hom geluister het, hieroor gefrons het. Party was seker ontevrede, terwyl ander met verwondering na Jesus geluister het. Wie was hierdie Man wat duiwels kon uitdryf en wat bekend was daarvoor dat Hy mense gesond kon maak?
Aan tafel saam met Jesus
Jesus was moontlik baie verras toe ’n Fariseër hom ná Sy streng vermanings tog vir ete na sy huis toe nooi terwyl die skare uiteengaan. Dit is nie heeltemal duidelik waarom die Fariseër Jesus na sy huis toe genooi het nie, maar dit is belangrik om daarop te let dat Jesus nie alleen opgedaag het nie. Ander Fariseërs het hulle ook by die tafel tuisgemaak en die ontspanne atmosfeer het spoedig verander; moontlik het hulle van die begin af bybedoelings gehad.
Lees meer in die November-uitgawe van JUIG!