Ons het in die afgelope tyd dikwels op die rugbyveld of op die sokkerveld gesien hoe die sporthelde van vandag tatoeëermerke op hul liggame dra. Die kameras wat inzoom in mense se privaat-ruimte wys ook dat baie filmsterre tatoeëermerke dra.
Die rolmodelle van ons dag moedig die wêreld aan om hulle na te volg. Die vraag wat egter by baie Christene opkom, is of dit volgens die Bybel reg of verkeerd is om permanente tatoeëermerke op jou liggaam aan te bring?
Hierdie vraagstuk is seker een van die mees aktuele vrae wat mense in ons dag vra. Lacos het in 2001 in ’n ondersoek bepaal dat die woord ‘tatoo’ die vierde mees-gesoekte woord op die web was.
OU GEBRUIK
Tatoeëermerke op ’n mens se liggaam is ’n baie ou gebruik en daar is voorbeelde van talle mummies wat bewys dat daar reeds duisende jare gelede tatoeëermerke op liggame aangebring is. In die heidenwêreld ten tye van die Ou Testament was tatoeëermerke ook deel van afgodsaanbidding. Slawe en kriminele persone is pertinent met ’n merk getatoeëer.
In die vroeë Christelike tydperk het Christene ’n kruis of die naam van Jesus op hulle arms getatoeëer. Die kruisvaarders het ook ’n kruis pertinent op hulle liggame aangebring om daarmee te wys dat hulle Christene is en as hulle lyke gevind sou word, dat hulle ’n Christelike begrafnis moes ontvang. Dit was egter eers vroeg in die vierde eeu wat die Romeinse Keiser, Konstantyn, ’n wet uitgevaardig het dat tatoeëermerke in die gesig verbied word, omdat jou gesig die onbesoedelde beeld van God moet weerkaats.
ROME VERBAN DIT
In 787 n.C. het Pous Adrian alle tatoeëermerke vir die Christendom verban. Die teks uit Levitikus 19:27-28 word dikwels aangehaal as ’n riglyn van wat die Bybel sê oor tatoeëermerke: “Julle mag nie heidense rougebruike navolg, deur die hare voor die ore en wangbaard te knip of deur snye en tatoeëermerke op julle liggame te maak nie. Ek is die Here.” Die konteks van hierdie Skrifgedeelte dui egter op ’n gebruik wat die heidene gehad het om uit vrees vir bose magte van die dood, hulleself te vermom en onherkenbaar te maak deur hare en baard te knip en snye en merke op hulle liggame te maak.
Die gelowiges moet hulle daarom onderskei van die heidene en mag daarom nie meedoen aan hierdie heidense begrafnisgebruike nie. Ons besef egter dat tatoeëermerke in ons dag om totaal ander redes aangebring word en daarom dat hierdie teksgedeelte nie finale uitsluitsel kan gee oor hedendaagse tatoeëermerke nie.
CHRISTEN-SIENING
’n Ongelowige steur hom egter nie aan God se leiding nie en maak soos die wêreld en soos wat hy/sy self wil. As ’n mens egter ’n Christen geword het, is daar wel sekere vrae wat ’n mens jouself en vir God kan vra as jy ’n tatoeëermerk op jou liggaam oorweeg.
Vra jouself af of jy dit doen met vrede in jou gemoed. ’n Christen vra God se leiding oor elke besluit soos, onder andere, ook oor tatoeëermerke, want ons weet dat die Here ook die Hoof van ons liggaam is. In 1 Kor. 6:19-20 word verduidelik dat ’n Christen se liggaam ’n tempel van God word en dat ons nie meer aan onsself behoort nie, maar aan Hom.
Daarom kan ons ook nie met ons liggame maak wat ons wil nie en moet ons dit steeds met respek hanteer en byvoorbeeld vir God vra as ons ’n tatoeëermerk op ons liggaam wil aanbring. As God daarom vir ’n mens vrede gee hieroor, dan is dit ’n oortui¬ging tussen jou en die Here.
’n Tweede belangrike vraag waaroor ‘n mens vir jouself moet duidelikheid kry, is of jy glo dat jy oor ’n paar jaar steeds tevrede sou wees met daardie tatoeëermerk. In ’n opname is bepaal dat die gemiddelde ouderdom waarop tatoeëermerke aangebring word, sestien jaar is. Dit kan maklik gebeur dat ’n mens oor jare moeg word vir ’n merk op jou lyf en dit nie meer wil hê nie.
’n Mens se lewensmaat gaan dalk ook nie daarmee tevrede wees nie. Daar is byvoorbeeld al verskeie mense wat tot bekering gekom het en dan ontslae wou raak van tatoeëermerke wat slegte assosiasies en herinneringe met ’n ou sondige lewe inhou. Ons weet vandag dat tatoeëermerke permanent is en slegs met moeilike, pynlike operasies verwyder kan word.
Verder moet ’n mens ook jou motiewe ondersoek en sekermaak waarom jy graag hierdie tatoeëermerk wil aanbring. As dit ’n simbool is van rebelsheid, ongehoorsaamheid en opstandigheid teenoor ouers, is dit nie ’n aanvaarbare motief nie.
Paulus was baie versigtig om nie die eet van offervleis, wat vir homself geen probleem ingehou het, in sy lewe toe te laat as hy daardeur vir sy swakke broer tot struikeling kon wees nie. Paulus wou eerder níks doen wat kon veroorsaak dat mense nie met ’n oop gemoed na hom sou luister nie. “Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: Ek wil nie my broer se val veroorsaak nie.” 1 Kor. 8:13.
’n Christen mág nie toelaat dat enigiets sy getuienis besoedel, keer of beskadig nie. Ook Romeine 14 gee ’n hele aantal riglyne om ’n gelowige sensitief te maak om nie ’n swakke broer aanstoot te gee of te laat struikel deur jou voorbeeld nie. As ’n tatoeëermerk jou getuienis gaan beskadig en mense oor jou integriteit laat twyfel, is dit beter om dit nie op jou liggaam aan te bring nie.
Dit is ook belangrik om na praktiese dinge te kyk en seker te maak dat die nodige higiëne bestaan en dat daar nie enige gesondheidsrisiko’s in die aanbring van tatoeëermerke is nie.
’n Mens moet ook baie sekermaak wat presies uitgebeeld of gesimboliseer word en dat dit ’n positiewe getuienis en selfs ’n aanknopingspunt tot eer van God kan wees.
’n Belangrike beginsel is steeds: “If you doubt, don’t.” In Rom. 14:23 staan daar: “As iemand egter twyfel en tog eet, is hy klaar veroordeel omdat hy dit nie uit geloofsoortuiging doen nie. En enigiets wat ’n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.” Daarom moet ’n mens jouself afvra of jy dit met oortuiging doen en of jy twyfel. Moenie dat ’n obsessie jou dryf nie en wag liewers totdat jy vrede in jou hart het en daar geen hindernis in jou geloofsoortuiging is nie.
GOD SE LIEFDE AS TEKEN
Paulus skrywe dat hy die merktekens van sy Christenskap in sy liggaam dra, omdat hy gestenig is en geslaan is en die letsels duidelike tekens van sy liefde en toewyding aan God vertoon. Kom ons dra die liefde vir God as ‘n duidelike teken wat almal kan sien.