Vrees of vrede?

Verlede jaar het ons Henry Jackson se verhaal van oorwinning en vergifnis gepubliseer nadat sy plaas in Zimbab-we oorgeneem is; hy onder vals aanklagtes in hegtenis geneem is; en hy saam met sy vrou, Mandy, na Suid-Afrika ontsnap het. Hierdie inspirerende paartjie woon nou in Victoria-Wes en bedien en bemoedig boeregemeenskappe en kerke landswyd met die boodskap van hoop en vertroue in ’n getroue God.
Hoe hanteer jy die verskrikking?
Talle Suid-Afrikaners was al self die slagoffers van geweld óf het familie of vriende wat slagoffers was. Talle het selfs geliefdes verloor wat wreedaardig vermoor is. Ook diegene wat nie direk deur hierdie boosheid geraak is nie, dra littekens en ervaar pyn, want die verskrikking daarvan kring wyer as net die mens wat aangeval is. Wat doen jy as Christen met die wrewel, die vrees, die pyn wat alle vreugde in God en geloof baie ver kan laat voel?
Aangerand en beroof
Henry en Mandy bedien dikwels diegene wat weens so ’n voorval in hulle lewe berading benodig. Benewens die plaasoorname het hulle self ook ’n huisroof beleef. In 2001 het vyf mans by die kombuis ingebars, Henry met telefoondrade op die vloer vasgebind, Mandy ook rondgestamp en na die slaapkamer gesleep om “geld en wapens” aan hulle te oorhandig. Een van die mans het hulle drie verskrikte kinders in die badkamer op die vloer laat sit.
Hulle het die gesin beroof en Henry het gehoor hoe die mans in Shona die gesin se lot bespreek. Een het voorgestel dat hulle doodgesteek moes word. Henry en Mandy het saggies in tale begin bid…dit het stil geraak en toe hoor hulle die aanvallers se bakkie wegtrek. Hulle lewens is gespaar…Dit het Mandy egter tien jaar lank geneem om dit te verwerk.
Verskillende reaksies op innerlike pyn
Op hulle reise deur die land kom die Jacksons verskillende reaksies teë – die uiterlike vrugte waarin mense se innerlike pyn en vrees ui-ting vind. Daar is rassehaat en vrees, asook ’n diepe teleurstelling. Veral by ouer mense wie se drome aan flarde is omdat hulle lewenslange verwagting dat hulle kinders die boerdery eendag sou oorneem, nie verwesenlik is nie en hulle kinders nou in Australië of Nieu-Seeland woon.
Henry beskryf ook siektes soos kanker en hoë bloeddruk wat direk aan die diep seer en verwyt gekoppel kan word wat mense in hulle ronddra. “Een van die dinge wat ons tref, is die gebroke menseverhoudings – veral huwelike,” vertel Henry. “Die spanning waaronder mense leef, veroorsaak dat hulle onredelik teenoor geliefdes optree en dan verbrokkel verhoudings.”
’n Venster op ’n bevreesde hart
Henry beskryf ook die woede van diegene wat nie self aangeval is nie, maar wat planne beraam vir ingeval dit gebeur en dit dan oor en oor in hulle gedagtes afspeel. Hy brei uit: “ ’n Man het byvoorbeeld gesê: ‘My hoop is in my kluis. As hulle hier kom, skiet ek die **** vrek!’ ’n Ander man het vertel dat hy sy huis en alles sal afbrand, sy boorgate sal toegooi en die hele plaas verwoes as “hulle” kom om die plaas te neem.”
Hierdie tipe gedagtes is ’n venster op ’n siel wat bevrees is en nie weet wat om daaromtrent te doen nie.
Hoe verwerk jy die beelde en herinneringe?
Baie mense wat so ’n trauma oorleef, sukkel om die beelde en herinneringe te verwerk. Henry erken: “Ek moet eerlik wees, dit is baie moeilik. Veral in die nag kom die pyn en angs na vore.” Volgens hom is dit ’n daaglikse besluit om in vergifnis te wandel en nie die gebeure herhaaldelik in herinnering te roep nie. Hy verduidelik: “Hoop is slegs te vinde in geloof in ons Vader wat ons déúr die dal van doodskaduwee neem na die tafel wat Hy aan die anderkant voorberei het, en dít in die teenwoordigheid van ons vyande. Dit is ’n plek waar selfs die dood (die ergste wat die duiwel kan aanrig) eintlik nietig is. Die Christene wat gruwelik gesterf het, is in Jesus se teenwoordigheid, sonder pyn. Hulle trane is afgevee.
Die antwoord lê in ons gesindheid. Ons moet die groter prentjie sien – ’n groeiende koninkryk waarvan ons deel is. Dit gaan oor die redding van siele en die bou van God se koninkryk en as dit geskied deur die gee van my lewe, doen ek dit in liefde – selfs vir die vyande wat my vermoor. Dít is die gesindheid wat vrees en angs in die oog kan kyk en vreugde kan ervaar. Ek sê dit nie ligtelik nie, maar dit is my ervaring. Vul jou huis met musiek en vreugde. Wanneer gedagtes van vrees en angs oor die toekoms my oorval, gaan sit ek by die klavier en sing van die Here en Sy koninkryk. Dit verdryf alle vrees.”
Hoe kan jy weer vrede ervaar?
Tog vind baie mense die sprong van teorie na die praktyk te groot. Hoe kan jy ’n vrede ervaar wat jy verloor het en nie self kan skep nie. Hoe herstel jy jou vertroue in God? Vir Henry draai dit juis daarom dat vertroue nie ’n gevoel is nie, dit is ’n geloofsbesluit. ’n Mens benodig vertroue juis wanneer alle hoop soos ’n mat onder jou voete uitgepluk is. “Ek maak doelgerig ’n besluit om my Hemelse Vader te vertrou wanneer dit blyk dat Hy baie ver weg is. Lees die Psalms. Hulle is geskryf om ons in verskriklike moeilike tye te bemoedig.” Vir Henry was die Psalms ’n lig in die donkerste nag – daardeur kon hy vrede en vreugde in onmoontlike tye beleef en dít is geloof.
Die worsteling van vergifnis
Die grootste worsteling is egter om te vergewe, veral omdat dit geregverdig voel om moordenaars en geweldenaars se dade teen hulle te hou. Hoe vergewe jy en hoekom is dit so belangrik om te vergewe? “Dit is ’n besluit om God te gehoorsaam omdat Hy beter weet as ek,” sê Henry. “God het ons geskape en as Hý sê vergewe, is dit omdat dit vir my die beste is – vir my gemoed, my geloof, my vreugde en vrede.” Hy kwalifiseer egter dat as hy ’n misdadiger vergewe, dit nie beteken dat die misdade aanvaarbaar is nie. Gruweldade is nooit regverdigbaar nie.
Henry plaas die verantwoordelikheid vir geregtigheid in die hande van die reg en die Regter. “Gruweldade sal gestraf word met die vreeslikste straf denkbaar. Ook as daardie moordenaar homself bekeer, beteken dit nie dat daar nie vir daardie dade betaal is nie. Die volle straf vir sy gruweldade val op Jesus aan die Kruis. Hy dra die straf sowel as die pyn en lyding van die slagoffer en oorkom dit vir beide die skuldige en slagoffer.
Daarbenewens het Hy ook vir my eie verkeerde dade betaal sodat ook ek vandag vry is. As ek nie vergewe nie, dra ek self die nagevolge van my dade – in die smart van hierdie lewe en in die hel na my dood. Dit is baie beter om te vergewe, nie net vir ons welstand in hierdie lewe nie, maar ook vir die een wat kom.”
HENRY EN MANDY JACKSON is beskikbaar as gassprekers en vir bediening en berading. Kontak hulle by info@henryjackson.co.za of besoek www.henryjackson.co.za


Regardt Verster

Regardt Verster is ’n belowende jong krieketspeler wat hopelik nog diep spore in ons land se sportgeskiedenis gaan trap. Ná ’n ernstige motorongeluk het hy ’n “hemelse” ervaring gehad terwyl hy in ’n koma was. Regardt en Annemei (sy meisie met wie hy al drie jaar lank uitgaan) vertel die uitsonderlike getuienis oor wat gebeur het…

Alles het volgens plan verloop…
Reghardt: Ek het van kleins af gedroom om eendag vir die Proteas te speel. Dit het begin met my broer wat versot is op krieket en my pa wat ons leer krieketspeel het – ons is ’n sportmal-gesin, my sussie en ma inkluis.
Ek het vir Suid-Afrika se onder-19-span gespeel en ná skool vir die Northerns Amateurs. Aan die begin van 2014 het dinge uiters goed met die krieket gegaan; ek was presies waar ek wou wees ten opsigte van die spanne en my spel. Alles was perfek, maar toe is ek in ’n ongeluk betrokke…
Op 27 Maart 2014 was ek op pad na ’n krieketwedstryd; dit het die oggend gereën en die pad was seepglad. Wat presies gebeur het, kan niemand met sekerheid sê nie, maar dit blyk dat my motor op die water gegly het, teen ’n stormdrein gebots het en toe ’n boom aan die bestuurderskant met ’n slag getref het.

Op die toneel dood verklaar
Annemei: Ek was by die huis toe ek ’n oproep ontvang om te sê dat Regardt in ’n ernstige motorongeluk betrokke was. By die hospitaal het die ongevalledokter my en Regardt se ouers (Anton en Elna) ingelig dat Regardt op die ongelukstoneel dood verklaar is, maar dat hy toe sy arm onverwags opgelig het. Daarna het sy Regardt se besering soos ’n inkopielys opgenoem:
• Bloeding en drukking op die brein
• ’n Gebreekte neus
• ’n Gebreekte arm
• Longe platgeval
• Gebreekte ribbes
• Geskeurde knieligamente
• ’n Middeldeurgebreekte femur
• Drie verbrokkelde nekwerwels. (Dit was ’n ‘hang-man’s fracture’ en 95% mense wat hierdie fraktuur opdoen, is gewoonlik opslag dood, en die ander 5% is kwadrupleë.)

Waarskynlik breindood
Regardt: Die dokter het Annemei en my ouers daarop voorberei dat ek waarskynlik breindood is, en dat ’n breinskandering dit binnekort sou bevestig. My ouers is gevra of hulle bereid sou wees om solank orgaanskenkingsvorms te teken.

Stabiel, maar kritiek
Annemei: Ek het buitentoe gehardloop en inmekaargesak en gebid. Ek het die Here gevra: “Hoe gee U Regardt vir my net om hom daarna dan weer weg te vat?” Ek het God se antwoord op my gebed ervaar, Sy versekering dat dat Regardt vir ’n kort rukkie by God sal wees, maar dat hy oukei sal wees. Ek het met nuutgevonde gesag teruggestap na waar die hospitaalsielkundige met Regardt se ouers gepraat het. Sy het gevra: “Watter tipe mens was Regardt?” So asof hy alreeds dood is! Ek het geantwoord: “IS, nie was nie.” Ons het gebid en lewe oor hom uitgespreek terwyl ons vir die uitslag van die breinskandering gewag het. Die dokter het met ’n groot glimlag teruggekom en aangekondig dat dit lyk of Regardt se nek met ’n operasie herstel sou kon word: “Hy sal nooit weer loop nie, maar ten minste is daar ’n kans op lewe.” Later die aand, ná baie gebede en nog ’n skandering, het die dokter gesê dit is die grootste wonderwerk, want nou lyk dit asof Regardt se nek sonder ’n operasie sal kan herstel. Regardt is in ICU opgeneem en onder verdowing in ’n koma geplaas. Hy was stabiel, maar uiters kritiek.

Wakende engele
Regardt: Een van Annemei se pa se vriende het vroeg die volgende oggend gebel en vertel dat hy ’n visioen oor my gehad het. Hy het gesien dat ek in ’n hospitaalbed lê met drie engele aan my regterkant, twee aan my linkerkant en een voor my bed met hulle vlerke oopgespan om my te beskerm. Daar was ook ’n doodsengel wat vlak by my bed omgedraai het en gesê hy het dat hy nie daar is vir my nie.

Bid vir volkome genesing
Annemei: Later die oggend het ’n goeie vriendin van my ouers kom kuier. Tannie Lynn lewe na aan die Here en was daar om saam met my en Regardt se ma vir Regardt te salf. Ek kon voel hoe die wind van die Gees die kamer vul. Nadat ons Regardt gesalf het, het ons in een van die kamertjies buite die ICU gaan sit. Tannie Lynn het haar Bybel uitgehaal en gesê: “Nou gaan ons die boek Ester hardop lees.” Elke keer as ek die gedeelte gelees het waar die koning vir Ester vra wat haar versoek is en hy antwoord dat dit vir haar gegee sal word, het tannie Lynn my gevra wat my versoek is. Ek het elke keer geantwoord: “Dat Regardt volkome genees moet word,” en dan het ons gebid.
’n Week later moes Regardt se neus, been en arm geopereer word. Hulle sou ook ’n drei-neringspypie in sy brein plaas om die drukking te verlig. Twee dae voor hierdie operasie, het ek as ’n profetiese teken ’n taliet oor Regardt gegooi. (’n Taliet is ’n gebedsdoek.) Nadat ek dit gedoen het, het vreemde woorde in my kop rondgemaal. Die dag van die operasie het ek die volgende op ’n sakdoek geskryf: “Juda = My boog; Israel = My pyl; Sion= My swaard. God is Regardt se Geneesheer! In Jesus se naam alleen! AMEN ! Die dokters is net instrumente in God se hande. Seën elke dokter in die naam van Jesus Christus.”
Ek het gevoel dat my opdrag was om saam met Regardt by die teater in te gaan, die sakdoek op hom te plaas en dan vir die dokters te bid net voordat hulle gaan opereer. Dit was ’n moeilike opdrag. In die eerste plek omdat ek nie in die teater toegelaat word nie. Tannie Lynn het my gesalf en gesê ek moet in my tale begin bid. Ek het dadelik besef dat dít die vreemde woorde was wat ek die heeltyd gehoor het!
Ek het niemand anders van my opdrag vertel nie. God het Sy engele vooruit gestuur. Niemand het my gestop nie, ek het by die teater ingestap. ’n Verpleegster het my genader, nie om te vra wat ek daar doen nie, maar wat ek in my hand het (die sakdoek). Na my verduide-liking, het sy die sakdoek op Regardt geplaas. Die dokter wat die operasie op Regardt se been sou uitvoer, het uitgekom en ek het vir Goddelike wysheid vir hom gebid.

Die wonderwerke gaan voort
Regardt: Die dokter wat aan my been geope-reer het, het werklik Goddelike wysheid nodig gehad. Almal, behalwe hy, het gedink dat ek ’n pen in my femur moes kry. Hy het genadig ’n exfix [eksterne fiksator] in my been geplant. Was dit nie daarvoor nie, sou ek miskien nooit weer krieket kon speel nie. Die wonderwerke het net nooit opgehou nie. Die X-strale het byvoorbeeld in ’n stadium ’n femur gewys waar die gebreekte beenpunte steeds weg van mekaar af is met min kans om ooit weer aan te groei. Net ’n week later het die nuwe
X-strale ’n femur gewys waar die gebreekte punte volmaak op mekaar pas en reeds nuwe been begin vorm het!

God is in beheer
Annemei: Elke keer as ek Regardt besoek het, het ek Skrif oor hom uitgespreek en ure in die hospitaal se parkeerarea gestap en gebid. Die ongeluk was die moeilikste, maar terselfdertyd die wonderlikste tyd van my lewe.
Rondom Paastyd het Vader vir my nog ’n opdrag gegee. Ek moes ’n rooi lint aan elke hospitaalbed in die ICU bind om Jesus se bloed te simboliseer. Dit herinner aan die Israeliete wat die bloed van die lam aan hulle deurkosyne gesmeer het, sodat die doodsengel sou verbystap.
Gedurende die maand wat Regardt in ’n koma was, het Vader my elke dag sulke opdragte gegee om ander mense te bedien. Om my oor teen God se hart te hou, het my bonatuurlike krag gegee om
alles te hanteer. Ek kon elke dag met ’n glimlag rondloop met die wete – ‘God has got this’. Regardt het ‘n maand later stadig maar seker onder verdowing uitgekom.

Gebed het my gedra
Regardt: Die eerste ding wat ek kan onthou, is dat ek vreeslik beangs was. Jesus het aan my regterkant verskyn en my gekalmeer. Hy het gesê: “Jy gaan oukei wees,” en Sy arm om my gesit. Ek het ’n paar keer daarna weer beangs geraak en elke keer het Hy aan my verskyn en dieselfde woorde herhaal. Ek kon voel hoe almal se gebede my dra en sterker maak. Ek weet nie hoe om dit te beskryf nie, ek het elke keer van binne warm geword en ek kon voel hoe die Heilige Gees my vul en versterk.
My geheue het ook toenemend begin verbeter. Een middag het ek vir Annemei gevra waar haar boeties is. Sy het geantwoord dat sy net sussies het, geen boeties nie.

Tweelingbroers in die Hemel
Annemei: Ek het twee sussies, maar ek het nooit geweet dat my ma ’n miskraam gehad het en ’n tweeling verloor het nie. Ek het begin luister en Regardt oor hulle uitgevra. Hy het verduidelik dat hulle Michael en Hendrik is en dat hulle 6 of 7 jaar oud is. Hy kon selfs hulle voorkoms beskryf. Toe ek my ouers oor die tweeling uitvra, het hulle bevestig dat hulle name Michael en Hendrik was. Ek glo God het dit as bevestiging gegee dat Regardt werklik in die Hemel was en dat wat hy vertel, die waarheid is.

Onbeskryflik mooi
Regardt: Ek het vir Annemei begin vertel hoe die Hemel lyk en wat ek van die gebeure kon onthou.
Die een oomblik het ek nog geslaap en die volgende was ek wawyd wakker. Dit het so werklik gevoel. Soos ’n droom, maar ook asof dit die werklikheid is. Dit het gelyk asof ek by my laerskool is, ek het wonderlike herinneringe daarvan. Daar was ’n fees op die rugbyveld. Dink aan ’n karnaval – alles was ongelooflik mooi en die kleure was vreeslik helder. Jesus het na my toe aangestap… Hy is onbeskryflik mooi. “Hy is ’n baie mooi man,” het ek herhaaldelik aan Annemei gesê. Hy lyk soos die kinderboeke Hom beskryf, met wit klere aan, langerige hare en ’n baard, maar Sy baard is nie so lank soos in party van die boeke nie. Dit is amper ’n stoppelbaard.
Sy oë is ’n vermenging van al die verskillende oogkleure. Dit is groen, blou en bruin. Verskriklik mooi. Jesus het só liefdevol met my gepraat en vir my gesê dat alles oukei gaan wees. Ons het na Annemei toe gestap. Jesus het met haar gepraat. Ek kan nie onthou wat Hy vir haar gesê het nie, maar ek weet dat dit ’n wonderlike gesprek was.
Annemei: Ek weet dit is die oomblik in die hospitaal toe God vir my gesê het, Regardt gaan oukei wees.

So helder soos die son
Regardt: Toe het ons na Michael en Hendrik toe gestap en Annemei het hulle aan my voorgestel as haar boeties. Ek kon sien dat hulle Jesus liefhet. Daarna het ek saam met Jesus teen goue steentrappe opgestap, Annemei het agtergebly. Elke keer as ek bang gevoel het, het Jesus my vasgehou en gesê: “Alles gaan oukei wees.” Daar was baie kruise en ’n helder lig rondom die kruis (’n pragtige lig) ek dink dit was God. Ek het Sy teenwoordigheid die heeltyd gevoel. Toe ons bo aankom, het ek nie een keer beangs gevoel nie.
Daar is nie menslike woorde om die kleure in die Hemel te beskryf nie. Ek probeer om dit te verduidelik, maar dis asof niks dit raak beskryf nie. Ons mooiste kleure op aarde is sekerlik dié van die reënboog. Verbeel jou ’n reënboog x 1 000. God het my genader. Sy lig was so helder soos die son, ek kon nie direk na Hom kyk nie. Hy het gesê dat my werk op aarde nog nie klaar was nie en dat ek moet terugkom. Om eerlik te wees, dit was dit ’n groot ‘downer’. Alles is so maklik en sonder enige bekommernisse. In die Hemel is die volmaakte wêreld.

Krieket en studies
Annemei: Die mediese personeel het geglo dat Regardt nooit weer sal kan krieket speel of universiteit toe gaan nie, maar tydens sy drie maande rehabilitasie het hy van voor af leer loop, lees en skryf.
Regardt: Hulle het eers gesê dat ek nooit weer sal kan krieket speel nie, toe sê hulle as ek weer gaan speel, sal dit eers op die vroegste oor twee jaar wees. Ek het my eerste krieketwedstryd aan die einde van 2014 gespeel! Al het dokters gedink dat ek nie verder sal kan studeer nie, is ek tans besig om hierdie jaar my tweedejaarstudie by TUKS te voltooi. My spel is stadig maar seker besig om terug te keer na wat dit was. Die herstel vind soveel vinniger plaas as wat mens ooit sou kon verwag.
Die ongeluk het my lewe geraak, want nou besef ek wat werklik belangrik is. Ek is nie meer bang om dood te gaan nie, want dan gaan ek na my “regte huis” toe. Ek doen en deel alles met die Here, ek praat elke dag met Hom, en betrek Hom by al my besluite. Ek het ‘n brandende begeerte om vir die Proteas te speel, want ek wil dit nie vir myself doen nie, maar vir die koninkryk van die Here. Ek wil deur middel van my krieket die mense van die Here vertel en my getuienis lewer. Dit frustreer my soms as mense nie glo daar is ’n God nie. Ek wil vir hulle sê: “Glo my, daar is sonder twyfel God, Jesus en Heilige Gees.” Maar mense soek altyd na bewyse en dit is wat ek mense nou wil vertel, jy moet die geloof hê om jou Bybel te lees en uit die Woord te leef en te glo soos ’n kind.

Aan Hom allle eer!
Ons deel hierdie getuienis om te vertel hoe groot God is. Hy het volkome genesing belowe en hier staan ek volkome genees. Aan Hom alle eer! Dit is belangrik dat mense weet álmal kan so na-aan Hom lewe, ’jy hoef nie ’n trauma te ervaar om ’n persoonlike verhouding met Hom te hê nie. Hy is enige tyd aan enigiemand beskikbaar. As iemand gedink het God bestaan nie; ons wil jou vertel: HY LEWE!


Manne van die Woord

Manne, dit is die Wêreldbeker! Dit is die hoogtepunt vir alle rugbyspelers wêreldwyd – die wedloop om die William Webb Ellis-trofee.

Wat was jou belewenis om as ’n Springbok aan so ’n geleentheid en skouspel te gaan deelneem?
â–� Pierre: Dit was wonderlik. Om jou land te verteenwoordig is spe-siaal. Dit is lekker om te sien hoe die wêreld byeenkom om rugby te ondersteun! ’n Mens leer ook baie van ander kulture en oor die land waar dit plaasvind!
â–� Jannie: Dit was beslis die hoogtepunt van my rugbyloopbaan. Ek was nie aanvanklik in die wedloop nie, maar het op ‘n wonderbaarlike wyse by die agterdeur ingeglip.
â–� Ollie: Dit was van skooltyd af een van my doelwitte en ek het my vrou belowe dat as ek in die Wêreldbeker speel, raak ons verloof! Dit was ’n groot voorreg om daaraan deel te neem. Die hele toernooi voel onwerklik en begin eers werklik met die uitkloprondtes.

Is die voorbereiding vir so ’n Wêreldbeker anders as om net in nog ’n Viernasiesrugbykampioenskap te speel waar die All Blacks en die Wallabies ook tog jou opponente is?
â–� Pierre: Dit is baie dieselfde, maar tog ook baie intensiewer. Baie aandag word aan detail be-stee en om jou plan reg uit te voer. Ons ken die Aussies en All Blacks al goed, so ander spanne bied ander uitdagings.
â–� Jannie: Ja, ek het in die Drienasiestoernooi gespeel, maar die Wêreldbekertoernooi is net iets anders. Voorbereiding was ook straks anders, want ek het ook onder twee verskillende afrigters gewerk. Eers Carel du Plessis en toe Nick Mallett. Hulle het uiteenlopende afrigtingstyle gehad. Ons het beslis meer tyd gehad om vir die Wêreldbeker voor te berei as met die Drienasies. Dit maak ook ’n verskil.
â–� Ollie: Jy het meer tyd om voor te berei en jou kondisionering is baie beter omdat jy soveel tyd gehad het om fisiek en geestelik optimaal gereed te wees. Jou tegniese ontleding is ook baie intenser.

Dink julle dat die klimaat- en weersomstandighede op die Britse Eilande ’n negatiewe invloed kan hê op die speelstyl van die Bokke, en dalk ons rats, vinnige agterspelers kan neutraliseer?
â–� Pierre: Nee glad nie.
â–� Jannie: Ja en nee. Ja, die weersomstandighede kan ‘n rol speel wat dit noodsaak om aan te pas. Nee, want baie van ons spelers speel reeds vir lang tydperke oorsee en daardie ervaring kan gedeel word met spelers wat nie so gewoond daaraan is nie. Rugby is vandag ‘n globale sport waar spelers oral in die wêreld speel en aan verskillende omstandighede gewoond is.
â–� Ollie: Die toestande behoort ons te pas en die velde is baie goed voorberei; ek verwag geen negatiewe invloed op ons spelers nie. Nat weer is gunstig vir groter spelers en ek dink dit sal ons bevoordeel.

Julle drie Springbokke was almal by so ’n Wêreldbekertoernooi betrokke, hoe belangrik is jou rol as Christenrugbyspeler in die span? Hou julle selgroepsessies gedurende hierdie toernooi? Wat is die formaat van so ’n sessie?
â–� Pierre: Spangees en eenheid is belangrik asook ons afhanklikheid van God. Ons het een keer per week selgroep gehad, waartydens ’n gasspreker dit gelei het, soms het ek dit self gefasiliteer.
â–� Jannie: Ja, ons het tydens die Wêreldbeker selgroepe gehad. Daar was ook geestelike leiers wat met ons kom gesels het. Dit was, en is belangrik, want alles verloop nie noodwendig volgens plan nie en dit is lekker om mekaar met Skrif te bemoedig. Ons het nie spesifieke spelers gehad wat die groepie gelei het nie, ons was almal deel daarvan. Ek onthou hoe ons voor die wedstryd teen Engeland meer as 20 spelers en afrigters saam was toe dominee Cassie Carstens met ons kom gesels het.
â–� Ollie: Ek dink dit is belangriker om jou identiteit in Christus te verstaan, dan sal jy al die vrugte vanself uitleef wat almal sal beïnvloed.
Hoe belangrik is jou persoonlike verhouding met die Here vir jou? Is dit iets privaat, of is dit ’n lewenswyse vir jou?
â–� Pierre: My verhouding met die Here is alles vir my – dit seën my hele lewe: my huwelik, kinders, rugby en besigheid. Dit is so belangrik om dit ’n prioriteit in jou lewe te maak.
â–� Jannie: Dit is baie belangrik vir my. Ek besef elke dag dat daar geen manier is dat ek sou kon funksioneer as dit nie vir die Here se leiding is nie. Hy is die rots waarop ek staan en my anker in die lewe. Ek deel dit graag met mense, want almal het ‘n boodskap van hoop nodig. Dit is al wat ons het – hoop.
â–� Ollie: Dit beïnvloed alles in my lewe. Dit is ’n lewenswyse, maar vir my tog ook baie privaat.

Almal vra die vraag: Bid julle dat julle sal wen? Wat dan as die ander span ook so bid? Aan wie se kant is God dan as albei spanne sou bid?
â–� Pierre: Ons vra die Here se seën op wat ons doen en bid vir beskerming teen beserings. Ons bid dat die beste span sal wen – God is lief vir almal, maar jy moet verdien om te wen.
â–� Jannie: Ja, dit ‘n interessante vraag. Op die ou einde moet ons onthou dat God nie ‘n aannemer van die persoon is nie (hy tref geen onderskeid nie) en dat Sy son op almal sal skyn. Die vraag is eerder of ons die Here gaan dank in tye van voorspoed sowel as teëspoed? Ek onthou hoe Joost van der Westhuizen juis die manne ná die wedstryd wat ons teen Australië verloor het (1999-semifinaal), byeengeroep het om te bid. Ek kan nie sy presiese woorde onthou nie, maar dit was iets soos: “Manne kom ons sê dankie vir die Here dat ons tot hier in die toernooi gevorder het. Ons bid nie net wanneer ons wen nie, ons moet ook kan dankie sê vir die geleentheid om rugby te kan speel.”
â–� Ollie: Nee, ons bid meestal vir beskerming, vrywaring van beserings en dat die wedstryd tot eer van God sal geskied. Ek bid ook die krag van die Bloed oor die veld om enige demoniese en toordery te ontwapen. God sal by die span wees wat eensgesind is.

Dink julle dat ons Bokke ’n kans het om die Wêreldbeker huis toe te bring, selfs na ’n baie gemiddelde Super 15-reeks?
â–� Pierre: Ek glo so. Elke span het uitdagings en hoe jy daardeur kom, sal bepaal wie wen.
â–� Jannie: Ja, ek dink dit is moontlik. Ek onthou dat ons ’n bietjie gesukkel het in die aanloop tot die Wêreldbeker in 1999. Selfs tydens die eerste paar groepswedstryde het ons nie oortuigend gespeel nie. Daar is egter ’n trots wat saam met die aantrek van daardie boktrui kom, wat veroorsaak dat spelers meer gee as ooit tevore. My verwagting is dat dit hierdie keer ook nie anders sal wees nie. Ek verwag dat ons sterker sal word namate die toernooi vorder en die spelers mekaar vind, en wanneer die uitklopwedstryde kom, sal die Springbokke daar wees om te kompeteer.
â–� Ollie: Ons het ’n baie goeie span en as ons die semi’s gaan maak, sal ons moeilik wees om te klop. Die gemiddelde ouderdom van ons beginspan is egter ’n bietjie hoog na my smaak.

Die gemoed van die Suid-Afrikaner is tans maar baie negatief, dink julle as ons die Wêreldbeker wen, soos in 1995 en 2007, dit ’n positiewe invloed op ons mense in Suid-Afrika sal hê?
â–� Pierre: Dit sal help, maar ek dink die probleme in Suid-Afrika het groter geword as wat sport kan verlig, ons moet na toe God draai.
â–� Jannie: Ja, dit is darem ongelooflik hoe sport ‘n nasie kan saambind. Ek was in 1995 op Ellispark toe ons Nieu-Seeland geklop en die Webb Ellis-beker gewen het. Dit was “amazing”! Wat my nog meer verstom het, was hoe mense buite die stadion aan lamppale gehang en die oorwinning gevier het. Die stories wat mense deel oor waar hulle in 1995 was, is wonderlik. Dit bind mense saam.
â–� Ollie: Dit sal verseker weer nasietrots bou, maar die onderliggende probleme sal net met uiterste gebed en harde werk van almal af verander.

Watter boodskap het julle vir ons lesers in Suid-Afrika?
â–� Pierre: Draai na die Here toe Suid-Afrika! Die Here sal jou rus en leiding gee en ons land herstel.
â–� Jannie: Die Bybel sê dat waar daar eenheid is, daar is God se seën. Kom ons staan in eenheid saam en vertrou God vir ‘n suksesvolle Wêreldbeker, maar vir meer as dit, vir eenheid in ons land en Sy be-skerming.
â–� Ollie: Matteus 6:28-33. Moenie “worry” nie!

Laastens, jou voorspelling…Wie gaan in die finaal speel, en wie gaan die Wêreldbeker hierdie jaar wen?
â–� Pierre: Moeilike vraag! Suid-Afrika natuurlik!
â–� Jannie: Daar is altyd een of ander verrassing in die Wêreldbeker. Dit sal heelwaarskynlik weer die geval wees. Dit maak dit vir my moeilik om te sê wie in die finaal teen Suid-Afrika gaan speel. Is ek te positief? Nee, hoe kan ek ooit teen die Springbokke wees? Ek was dan self een gewees. Go Bokke!
â–� Ollie: Ek sal nog die semi’s voorspel, maar dit is waar ek stop! Bokke teen All Blacks – semi 1, Wallabies teen Franse – semi 2.


Kan te veel geld jou huwelik vernietig

Die waarste gesegde wat ek al ooit oor geld gelees het, is: Jou inkomste is soos skoene – as dit te klein is, druk dit jou, maar wanneer dit te groot is, laat dit jou maklik struikel. Baie mense sê ook dat geld ons verander, maar helaas, ek glo dat geld ons ontmasker. Gee iemand baie geld of vat alles weg, en ek wys jou wie hy is!
Daar is net één God. Hy bly die Voorsiener van alles, en Sy genade is nie te koop nie. As ons dít nie weet nie – omdat ons beursies en banksaldo’s ons laat dink dat ons in beheer is – karring dit al te maklik aan ons trots. Ons word arrogant, ligsinnig en kry ’n valse gevoel van mag – iets wat met ’n ek-het-God-nie-regtig-nodig-nie-houding des te makliker by die voordeur inwaai as geld dit vooruitgaan.
1 Timoteus 6:9-10 leer ons wat die waarheid rondom te véél geld of ’n begeerte na rykdom is: “Mense wat begeer om ryk te wees, val in die versoeking en strik van die satan. Daarby kom daar allerhande onverstandige begeertes wat hulle benadeel en hulle uiteindelik vernietig en in die dooie hel laat stort. Die liefde vir geld lei tot alle soorte slegte dinge. Party mense het geld hulle mikpunt gemaak en daardeur hulle vertroue op die Here verloor en die een smart na die ander oor hulle eie lewe gebring.”

Die leuen oor ons inkomste
So baie huwelike en kinders se harte bloei omdat Pappa heeldag net werk, werk, werk. En nee, daar is niks daarmee fout om as man aan jou gesin se behoeftes te wil voorsien nie, maar dalk moet ons besef dat God ons nie ten kóste van ons huwelike en gesinne finansieel mildelik sal seën nie.
Wanneer ’n man massas geld maak, maar sy vrou en kinders sien hom byna nooit, moet ons dalk vra of dit nie Mammon is wat hom vet voer en in Egipte hou nie – die plek van skuld, slawerny en afvalligheid nie. God se hartsbegeerte is dat ons huwelik en gesin héél en eensgesind sal wees, nie dat ons baie geld sal hê nie.

Geld wat status bring
Omdat aansien en erkenning soos ’n dwelm is wat jou laat goed voel, is daar ongelukkig nie ’n versadigingspunt nie. Jy smag altyd na meer en raak ingestel op dít wat ander het en jy ook wil hê. Op die ou end koop ons dinge wat ons nie nodig het nie, met geld wat ons nie het nie, om mense te beïndruk wat nie regtig saak maak nie. As ons in hierdie net vasgevang is, moet ons besef dat geld nie vrede of blywende waarde kan bring nie. Ons vrede word juis gesteel omdat ons langer ure en meer moet werk om ons uitgawes te dek – wat lei tot stres, frustrasie en te min tyd vir mekaar in die huwelik! Wat sou van ons eiewaarde staande bly as ons alles verloor? Met hope geld en genoeg arrogansie is dit maklik om te dink dat jy dit goed sal hanteer, dat niks jou van stryk sal bring nie…tot jy op jou knieë staan met niks in die hand nie! Ons moet versigtig wees dat ons nie ons huwelik en kinders ter wille van geldmaak verloor nie, en nog meer daarop bedag wees om nie ons siel in die proses te verloor nie.

Geld en geloof
Die maklikste manier om finansieel staande te bly, is om die beginsels van God se Woord te gehoorsaam; beginsels van saai en maai, eerlikheid en geregtigheid rondom geld en die betaal van jou tiende. Onthou, skuld wat nóú aangegaan word, verseker miskien vir jou ’n onmiddellike inkomste of uitkoms, maar plaas jou toekoms onder stres. Aan die ander kant verseker saai en die betaal van jou tiende nie noodwendig nóú vir jou ’n uitkoms nie, maar wel op die dag wat jy dit nodigste het.

Tiendes en gawes
• Baie mense redeneer oor die beginsel van tiendes – ’n Ou Testamentiese beginsel of iets wat saam met die koms van Jesus weggeval het. Moenie dat intellek of dogma God se finansiële seën in jou lewe weerhou nie. Vra die Heilige Gees om jou te oortuig. Glo my, Hy sal!
• Jy kan tiendes betaal en in oorvloed saai, maar as jy oneerlik is oor jou belasting, sal God jou nie finansieel seën nie. Jy sal ook nie finansieel vry word as jy mense ontduik vir wie jy geld skuld nie, of selfs net te veel kleingeld aanvaar sonder om die winkel-eienaar daarop te wys nie
• Jy kan kies om net te saai wanneer dit nie aan jou sak gaan vat nie en dus ’n gewone seën daarvoor ontvang. Om egter te saai omdat God dit op jou hart druk terwyl jy weet dat dit jou finansieel in ’n verknorsing kan plaas, sal ’n dubbele seën vir jou bring. Wees daarom sensitief vir die stem van die Heilige Gees. As God jou lei om te saai, sal Hy jou nie in die proses in die verknorsing laat nie
• As jy vir jou maat oor geld jok en dinge van hom/haar weerhou, kan God daardie leuens, ongehoorsaamheid en die volhar-ding daarin nie seën nie
• As jy jou maat met geld manipuleer of beheer, of minderwaardig hanteer, sal jou huwelik leeg loop as gevolg van jou oorvol beursie.
Soek allereers die koninkryk van God, en Hy sal jou die begeertes van jou hart gee. Met ons hart op die regte plek, seën Hy ons huwelik en ons inkomste!


Frans Ludeke – God is getrou

Frans Ludeke het vroeër vanjaar ná agt jaar as hoofafrigter van die Bulle uitgetree en is op pad na die 2015 Rugbywêreldbeker as deel van die Fidji-afrigtingspan. Ons het vinnig by die Ludeke-gesin ingeloer voordat Frans hom weer vir die finale voorbereiding by die Fidji-span gaan aansluit het.

God se voorsiening
Wanneer Frans oor die nuwe fase in sy lewe praat, raak hy bewoë omdat hy oorweldig is deur die getrouheid van God en Sy voorsiening. “Op die dag toe ek by my laaste spanvergadering met die Bloubulspelers uitstap, het Jake White, ‘n goeie vriend van my, my ’n luitjie gegee om te uit te vind wat my beskikbaarheid is omdat John Mackee, die afrigter van Fidji, opsoek was na ‘n voorspeler-afrigter vir die Wêreldbeker. Daardie oproep uit die bloute was ’n antwoord op gebed! Die Here het die Fidji-deur oopgemaak. Sedert ek die pad saam met die Here stap, is my hele lewe vol sulke verhale. Dit is hoe die Here voorsien, Hy weet altyd die beste.”

’n Nuwe begin
Dit is vir Frans lekker om vir die eerste keer ’n ander kultuur te leer ken en hy beskou dit as ’n goeie fase waar hy kan fokus op ’n nuwe visie vir die pad vorentoe. “Ek het ongelooflike tye by die Bulle en by die Leeus gehad, en nou betree ek die internasionale arena. Ek leer om die Here op ’n heel ander manier te vertrou as waaraan ek gewoond was.
“Ek is na ’n land toe waar ek niemand geken het nie en is absoluut op die Here aangewese om my guns te gee. Ek wil graag meer as net rugby bied, maar die Here is die een wat jou toegang gee tot die hart van ander mense en jou geleentheid gee vir inspraak. Ek geniet dit hier, nie net omdat ek iets vir hulle beteken nie, maar ook vir wat hulle vir my beteken.”

Waar het alles begin?
Frans het, soos hy dit stel, “onder die geklank van die Woord” grootgeword met die Evangelie wat hy gereeld by die skool en in die kerk gehoor het. Tog getuig hy dat sy verhouding met die Here eers ‘n werklikheid geword het toe die Heilige Gees sy oë oopgemaak het en hy die Here as sy Verlosser en Herder van sy lewe aangeneem het.
“Op skool het my talent in sport my identiteit bepaal, maar die dag toe teleurstellings en terugslae my aan die einde van myself gebring het, het ek antwoorde gaan soek by die Here wat ek in die skool en kerk leer ken het. In daardie soeke het ek by Hom uitgekom. In Sy teenwoordigheid het ek besef dat my lewenswyse, gesind-
heid en taalgebruik Hom nie verheerlik nie. Die Gees het my bewus gemaak van my hardkoppige, sondige lewenswyse en dít ten spyte daarvan dat ek reeds my geloofsbelydenis in die kerk afgelê het.
Ek het besef dat ek besig was om Jesus se genadeoffer aan die Kruis vir my sondes, goedkoop te maak. Dit het my tot ’n diepe berou gebring. Ek het my lewenswyse bely en die Here om vergifnis gesmeek en Hom gevra om alles nuut te maak, soos Hy in Sy Woord beloof, sodat my lewe daarvan sal getuig dat Hy my Herder is en dat ek ernstig oor my verhouding met Hom is.”

Wie ’n vrou vind. . .
Frans en Anélia het ontmoet nadat hy van Engeland af teruggekom het waar hy ’n jaar lank skoolgehou en rugby gespeel het. Frans sê dat hy nooit die dag sal vergeet toe hy Anélia vir die eerste keer ontmoet het nie: “Haar lewenslustigheid en sprankelende warm persoonlikheid het my onmiddellik aangetrek. Haar uitstaande kwaliteit is haar bereidheid om haarself op te offer. Sy sal alles vir my en die kinders gee; dit maak nie saak watter tyd van die dag of nag dit is nie. Wanneer ek byvoorbeeld by die huis aankom, staan sy reg om dit vir my lekker te maak. Dit laat my nog altyd so welkom voel. Ek weet dat sy my regtig liefhet.

’n Lang wag vir hulle kinders
In 2013 is die paartjie deur ’n moeilike tyd toe hulle drieling op 27 weke vroeggebore is. Voor die koms van die drieling het hulle die Here sewe jaar lank vir hulle eersteling, Izebella, vertrou. Frans vertel: “Dit het lank gevat vir Anélia om swanger te word, maar van die begin af het ons die pad met die Here gestap. Ná Izebella se geboorte het Anélia twee miskrame gehad en elke keer was dit ’n groot teleurstelling. Sy het egter Jesaja 49:16 en 17 van die Here ontvang as belofte dat Sy weer kinders sal hê: ‘Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer, jou mure is gedurig voor My. Jou seuns kom gou.’ Dit was ’n lang pad, ’n proses waartydens ons al twee se geloof gegroei het. En toe, vyf jaar na Izebella se geboorte, het God ons met ’n drieling geseën!”
Prediker sê elke ding het sy vaste tyd, en dié Skrif was die eerste wat deur Frans se gedagtes gegaan het toe hy die boodskap kry dat die drieling vroeggebore gaan word. “Ek het met absolute vrede in my hart hospitaal toe gery in die wete dat dit die regte tyd vir hulle geboorte is,” vertel hy. Júan, Mícaela en Dánièle het vanjaar twee jaar oud geword en hardloop saam met ousus Izebella die huis vol en hou Pa en Ma jonk en op hulle tone.

Die gawe van ouerskap
Vir Frans is dit baie belangrik dat sy kinders ook die gawe van geloof sal ontvang en die Here met hulle hele hart sal liefhê. Ek en Anélia wil ‘n omgewing skep waarbinne ons kinders tot volwassenheid kan groei, nie net fisiek en intellektueel nie, maar ook geestelik. Ek wil hulle goeie gewoontes leer soos om reg te eet, gereeld te oefen, maar ook dat dit nie draai om wat met jou gebeur nie, maar hoe jy daarop reageer.”
Frans bid gereeld saam met sy kinders: “Ek glo dit is my voorreg as die geestelike hoof en hoewel Anélia ook saam met hulle bid, doen ek dit graag.” Hy “kuier” saam met Izebella voordat hulle in die aand saam bid. “Partykeer is ek nie hier nie, dan bid ek oor die telefoon saam met haar. Dit is deel van ons lewe; sy weet die eerste en laaste deel van haar dag gaan aan die Here.”

Wees betrokke by die kerk
Die gesin woon Ligpunt Kerk in Pretoria by en is by ’n oulike selgroep ingeskakel. Frans glo in betrokkenheid by die kerk: “Jy moet by die Here uitkom, maar ook ander mense dien en deel wees van die liggaam van Christus. Jy het ’n rol om te speel in hulle lewens en hulle in jou lewe, só vorm ons mekaar.”

Geestelike vaders en mentors
Frans beskou mentors as ’n noodsaaklikheid. “Die vermoë om wysheid te bekom deur te luister en te kyk na ander se lewenswyse is ’n kortpad na goeie besluite,” sê hy. “Ten spyte daarvan dat my ouers oorlede is toe ek nog ’n jong man was, het die Here my met ’n wonderlike span rolmodelle, familie, vriende, onderwysers en predikante geseën,” vertel Frans. “Godsmanne wat my die pad gewys het. Dit het my gehelp om goeie besluite oor my toekoms te neem.
“Ek het oom Ben en tannie Alma Botha gehad wat na my omgesien het terwyl ek op skool was. Verder het onderwysers soos
Joggie Grobbelaar en Koos de Jager, en mnr. Ferdie Preller, die skoolhoof van Hoërskool Tom Naude, ’n enorme positiewe invloed in my lewe gehad. By die kerk het ds. Storm, ds. Wagenaar en skoonpa Koos Prinsloo my goeie leiding gegee en laat droom oor die toekoms en om ’n sukses daarvan te maak. Ek glo dat dit belangrik is om by die regte plekke na mentors te soek. Ek dank die Here dat ek by die kerk uitgekom het. Dit was die eerste goeie besluit wat ek in my lewe geneem het; daar het ek die regte mense ontmoet wat in my lewe ingespreek het en vir my omgegee het.”

Raad vir sportmanne
Dit is menslik om deur af seisoene te gaan. As die Here nommer een bly, is dit eintlik maklik. Aan die begin het jy die Here nodig, want jy het niks, jy soek Hom met jou hele hart, maar namate jy meer sukses behaal, bestaan die gevaar dat jy dink jy het Hom minder nodig. Hou Hom as nommer een, laat die Here jou identiteit bly en behou jou eersteliefde. Hou by die beginsels wat jou gebring het waar jy is. As jy sukses bereik en jy het nie goeie beginsels nie, kan die fokus verskuif na geld, na wêreldse besittings en dan is die ‘main thing’ nie meer die ‘main thing’ nie. Dit is die begin van die einde! As jy nie die Here nommer een hou nie, gaan jy lyk, praat, en doen soos die wêreld; jy gaan lief wees vir die wêreld.”

Die Here is my Herder
Frans se gunstelingskrifgedeelte is Psalm 23:1: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.” Hy sê dan ook: “Hy lei my, Hy voed my, Hy beskerm my. Ek het vrede, want Hy is vir my.” Dit is duidelik dat Frans die Here inderdaad as Sy Herder in die spore van geregtigheid volg.”