Christus Het Waarlik Opgestaan

Die liggaamlike Opstanding van Jesus Christus uit die dood is geweldig belangrik. Die dood is die mens se grootste vyand; dit oorwin alle mense, maar dit kon Christus nie oorwin nie. Nasies, stede en mense ontstaan om ’n spe¬sifieke rede, groei ’n seisoen lank en ver¬dwyn dan weer. Huise, klere, selfs voertuie, verweer en vergaan uiteindelik net soos hulle eienaars.

Al die stigters van die groot gods¬dienste en bewegings het gesterf en hulle grafte kan vandag nog besoek word – dink maar aan Zoroaster, Confucius, Boeddha, Mohammed, Marx en Darwin. Hulle is almal dood en het reeds in hul grafte vergaan. Maar Jesus Christus lewe!

Die Opstanding van Jesus Christus is uiters belangrik omdat dit Christus se oorwinning oor die dood demonstreer. Dit bring hoop vir alle mense; dit bewys dat die Ewige Lewe vir die gelowige beskikbaar is; dit wys op die uiteindelike oorwinning van God oor die bose en dit bied ’n onbetwisbare bewys dat die boodskap oor Jesus Christus, as Regter sowel as Verlosser, die waarheid is.

“Hy het immers ’n dag bepaal waarop ’n Man wat Hy beskik het, in geregtigheid oor die wêreld gaan oordeel. As bewys vir almal wie dié Man is, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.” Hand 17:31.

Navorsing van Skeptici
Die Opstanding is die basis van die Christelike geloof en uiters belangrik – juis daarom word dit verbete aangeval. Frank Morison, ’n regskundige, was vasbeslote om te bewys dat die Opstanding nié plaasgevind het nie om sodoende die Christendom te ondermyn. Die gevolg van sy onverpoosde navorsing was dat hy hom tot Christus bekeer het en ’n boek, ‘Who Moved the Stone?’ geskryf het. Hierin word daar oorweldigende bewyse van die Opstanding van Jesus Christus gegee.

’n Skeptiese universiteitsdosent, Josh McDowell, wat net so vasbeslote was om te bewys dat die Christelike geloof eintlik ’n vals geloof is, het getuienis teen die Opstanding ondersoek. Ook hy het hom tot Christus bekeer en die feno¬menale boek ‘Evidence That Demands a Verdict’ geskryf waarin dokumentasie en bewyse wat dié historiese gebeurtenis bewys, vervat is. Boonop word die feitelike akkuraatheid, argeologiese bewyse, manuskripbewyse, vervulde profesieë en veranderde lewens daarin genoem en dien as bewys dat Christus uit die dood opgestaan het en dat die Christelike geloof op die waarheid gegrond is.

Thomas Arnold, geskiedenisprofessor aan Oxford en een van die grootste historici van die 19de Eeu, het geskryf: “I know of no one fact in the History of mankind which is proved by better, fuller evidence of every sort, to the understanding of a fair enquirer, than the great sign which God has given us that Christ died and rose from the dead.”

Die Integriteit van die Woord
Een van die mees gerekende regspraktisyns ooit en vader van die Harvard Law School, Simon Greenleaf, word as die gesaghebbendste persoon gereken ten opsigte van wat geldige bewyse in enige regsaak is.

Hy het ’n baie deeglike studie van die objektiewe bewyse en getuienis van die vier Evangelieskrywers, Matteus, Markus, Lukas en Johannes gemaak en ’n boek daaroor gepubliseer – ‘The Testimony of the Evangelists’ (Baker, 1874). Daarin het hy tot die gevolgtrekking gekom: “It was therefore impossible that they could have persisted in affirming the truths they have narrated, had not Jesus actually risen from the dead, and had they not known this fact as certainly as they knew any other fact.”

Simon Greenleaf het ook verklaar dat enige geregshof, indien die bewyse voorgelê sou word, uitspraak ten gunste van die integriteit en akkuraatheid van die Evan¬gelieskrywers oor die Opstan¬ding sou lewer.

Wat is die ware feite?
Die godsdienstige leiers, die Fariseërs en Sadduseërs, wat ’n veldtog gelei en saamgesweer het om Christus te arresteer en triomfantelik tereggestel het, het ’n baie groot belang gehad in die weerlegging van enige aanspraak op die Opstanding. Hulle het gedink dat Jesus se teregstelling die bedreiging van hulle godsdienstige magsbasis sou elimineer en Sy ondersteuners vir ewig sou stilmaak. Hulle was grootliks bekommerd oor die Liggaam van Jesus en het die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, vir militêre hulp genader om die graf te beveilig. (Matt 28:62-64).

Die Romeinse goewerneur se belange was om die oproerige Palestina-provinsie se vrede en stabiliteit te herstel. Hy het die politieke probleme wat uit hierdie situasie met die godsdienstige Leermeester, wat hy drie keer onskuldig verklaar het, kon voortvloei, erken. Uiteindelik het hy sy hande voor die skare gewas en verklaar: “Ek is onskuldig aan die dood van hierdie man. Dit is op julle reke¬ning.” Matt 27:24. Pilatus was maar té bewus van die be¬spotting wat daar van die gereg gemaak is en die laaste ding wat hy nodig gehad het, was ’n herbeskouing van sy skandalige gedrag en die ontduiking van verantwoordelikheid en plig in hierdie saak. Deur seker te maak dat die liggaam in die graf bly, was daarom definitief in Pilatus se politieke belang. “Hier is ’n wag vir julle. Gaan beveilig die graf so goed as moontlik.” Matt 27:65.

Die Geseëlde Steen
Omdat die hoofpriesters die Romeinse goewerneur genader het, en omdat die Griekse woord ‘Koustodia’ gebruik word om ’n afvaardiging van soldate te beskryf, wás dit dus ’n Romeinse wag voor die graf. As slegs ’n tempelwag gebruik is, sou dit nie nodig gewees het om Pilatus daaroor te nader nie.

Die kommer van die wagte om ná die Opstanding teen die gevolge en die goe¬werneur beskerm te word (Matt 28:14), be¬vestig dat die wagte by die graf inderdaad Romeinse wagte was. Die afvaardiging sou uit ten minste 16 soldate bestaan. Vier soldate per diensbeurt is direk voor die ingang na die graf geplaas. Die Romeinse militêre wet het vereis dat enige wag wat sy pos sou verlaat of wat aan die slaap sou raak tydens sy wagbeurt, gekruisig sou word. Enigiemand wat die Romeinse seël sonder toestemming sou breek, sou agtervolg en tereggestel word.

Die Ware Messias
Alhoewel dit die voorneme van die godsdienstige en politieke leiers was om seker te maak dat hierdie hele ‘Jesus-fenomeen’ by die graf sou eindig, het hierdie buitengewone veiligheidsmaatreëls net die waarheid, dat hulle ’n onskuldige man vermoor het en dat Jesus Christus waarlik die Messias, die Seun van die Lewende God was, bevestig. “…en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het en wat heers oor die konings van die aarde…die Lewende. Ek was dood en kyk, nou leef Ek vir altyd en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.” Openb 1:5,18.

Christus se Oorwinning oor die Dood
Ten einde die leë graf te verduidelik, moes die vyande van die Evangelie desperaat na misleidende teorieë gryp. Die eerste een was om voor te gee dat die dissipels die liggaam gesteel het. Dié ongelooflike teorie gee voor dat dieselfde dissipels wat in die tuin geslaap, tydens Sy arrestasie gevlug, voor die jong diensmeisie ontken en bang agter toe deure weggekruip het, gesament¬lik 16 professionele Romeinse wagte kon oorval, dit durf waag het om die Romeinse seël van die graf te breek en ’n twee-ton-rots beweeg het net om ’n liggaam te steel! ’n Dooie Messias sou tog mos geen doel vir die dissipels hê nie.

Hulle het absoluut niks gehad om te wen nie, maar kon alles verloor. Elkeen van die dissipels het onder ernstige vervol¬ging gely en die meeste het as martelare gesterf. Sou jy vir ’n leuen sterf?

Oorweldigende Getuienis
Ander bevraagteken weer die feit dat Christus werklik aan die Kruis gesterf het. Moontlik het Hy net flou geword? Hierdie flou teorie wil ons laat glo dat die Romeinse soldate wat professionele moordenaars was, gefaal het in hul pogings om seker te maak dat hierdie hoë-profiel-gevangene waarlik dood is.

As die wreedaardige géseling wat Jesus moes deurmaak, die verskriklike kruisiging en die spies in Sy sy, waar water en bloed uitgevloei het, in gedagte gehou word, is dit oortuigende en genoegsame bewys dat Hy werklik gesterf het.

Die leë Graf
’n Ander desperate poging om die Opstanding weg te redeneer, is om te sê dat hulle – Maria Magdalena, Petrus, Johannes, die ander vroue, almal na die verkeerde graf gegaan het. En op ’n manier het nie die Fariseërs, die Sadduseërs, die Romeinse soldate of Josef van Arimathea, wie se graf dit was, daaraan gedink om daarop te wys dat die regte graf nog steeds die liggaam bevat het nie! Hierdie teorie is net so vergesog! Daar was geen ander graf in dié tuin nie!

Die Afwesigheid van die Liggaam
Al wat die Romeinse en Joodse leiers moes doen om die Christendom te beëindig, was om ’n liggaam as bewys na vore te bring. En hulle kon nie! Selfs toe die Apostel Petrus die dag met die uitstorting van die Heilige Gees opgestaan en verklaar het: “Die hele Israel moet dus verseker weet: God het hierdie Jesus wat júlle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” Hand 2:36. “Die apostels het kragtige getuienis gegee oor die opstanding van die Here Jesus…” Hand 4:33. Duisende in Jerusalem, insluitend baie Fariseërs, het daar tot geloof gekom.

Die Geloofwaardigheidskrisis
Dit was vir die Joodse godsdienstige leiers die grootste nagmerrie – ’n ramp! Die ver¬klaring van die Opstanding van Christus het dus hul mag en geloofwaardigheid ondermyn. Duisende van hulle volgelinge het geglo dat hulle ’n onskuldige man, die Messias, ter dood veroordeel het.

Dié nuwe godsdiens het hul magsbasis ondermyn. Indien die liggaam van Jesus gevind sou kon word, sou die Christendom daar en dan tot ’n einde gekom het en die bedreiging wat dit vir die godsdiens¬tige leiers ingehou het, sou beëindig wees. Omdat hulle die liggaam so dringend nodig gehad het om hul eie saak te be¬vorder, sou hulle alles in die stryd werp om die liggaam te vind – indien dit hoegenaamd moontlik sou wees.

Die Ooggetuies
Ons het egter nie net met die leë graf en die afwesigheid van die liggaam te doen nie, maar ook met die verslag van die ooggetuies. By ten minste twaalf verskillende geleent-hede is Jesus gesien nadat hy uit die dood opgestaan het.

Om hierdie getuienis ‘weg te verduidelik’, probeer die vyande van die Christendom voorgee dat dit bloot hallusinasies, of dalk nog die gevolg van hipnose of histerie, was. Ver van liggelowig, was Sy dissipels skepties en traag om te glo dat dit werklik Hy was. Thomas het selfs verklaar dat Hy nét sal glo indien hy persoonlik sy vingers in Jesus se wonde aan Sy hande, voete en sy kon druk.

Die Veranderde Dissipels
Ons het nie net die verslae van ooggetuies nie, maar ook die dramatiese verandering van die dissipels self as bewys. Die Opstandig van Jesus het hulle rou in vreugde verander. Hul lafhartigheid het in vrymoedigheid, en hul skeptisisme in geloof ver¬ander. Hulle was ook baie vasbeslote en gedetermineerd. Saulus, die vervolger van die Kerk, het in Paulus, dié apostel van die Kerk, verander.

Dit het ook die gemeenskap en die geskiedenis verander. Dit het die Joodse Sabbat in die Christelike Dag van die Here verander. Die Opstanding het die Joodse oorblyfsel in die wêreldwye Christelike Kerk verander. Jesus het Self geprofeteer dat Hy uit die dood gaan opstaan. En omdat dit vervul is, kan ons absoluut seker wees dat Jesus Christus, God met ons is, soos wat Hy gesê het. Ons kan dus weet dat ons sonde deur Sy bloed wat aan die Kruis op Golgota gevloei het, vergewe is.

Juis op grond van Sy dood aan die Kruis kan ons ons verheug – ons sonde is vergewe, geregverdig deur geloof. Op grond van Sy Opstanding uit die dood kan ons uitsien na die Ewige Lewe.

Ons dien ’n Opgestane Heer en Redder
Ons dien ’n Opgestane Heer en Redder! Die dood is oorwin. Christus het opgestaan – oorwinnend oor die dood, hel, satan en die graf. Hy is die Opstanding en die Lewe! (Joh 11:25).

“Alle eer aan God en Vader van ons Here Jesus Christus, want sonder dat ons dit verdien, het Hy Sy liefde aan ons betoon deur die proses te begin wat op ons weergeboorte uitgeloop het. Nou het ons regtig hoop om dat Jesus uit die dood opgestaan het.” 1 Pet 1:3.