Die Bekeringsdoop – Wat sê die Bybel

Daar word toenemend in die sekulêre pers berig oor die groeiende ongemak, onsekerheid en ongelukkigheid onder sekere kerklidmate oor die hele kwessie van die doop. JUIG! het besluit om hierdie belangrike stap van gehoorsaamheid in die lewe van ’n gelowige in die lig van die Skrif te ondersoek.

Die woordbetekenis
Die Engelse woord vir doop, ‘baptism’ is van die Griekse woord ‘baptizo’ afgelei en beteken letterlik om ‘onder die water ingedruk’ te wees, of selfs ‘deur die water oorweldig’ te wees.

Die Afrikaanse woord ‘doop’ kan makliker na die Engelse woord ‘dip’ herlei word, wat op sy beurt ‘insteek, indruk, laat sak’ beteken. Dit is dus baie duidelik as daar van ‘doop’ gepraat word, dit ’n ‘indruk in’ of ‘laat sak in’ water beteken.

Waarom moet ek gedoop word?
Indien ons ooit wonder wat ons as Christene te doen staan, behoort ons net na Jesus as voorbeeld te kyk en dan daarvolgens te handel. Hy het in alles vir ons die perfekte voorbeeld gelaat en ons behoort in Sy voetspore te volg. Waarom? In Matt 10:24-25(a) lees ons: “’n Leerling is nie verhewe bo sy onderwyser nie. ’n Slaaf ook nie bo sy baas nie. ’n Leerling behoort daarmee tevrede te wees as dit met hom gaan soos met sy onderwy¬ser, en die slaaf soos met sy baas.” Christene, volgelinge van Jesus Christus, behoort dus te doen wat Hy gedoen het.

Jesus is gedoop – die hele verhaal kan in Matt 3:13-17 gelees word. In vers 16 van die betrokke gedeelte lees ons: “Na Jesus se doop, het Hy dadelik uit die water geklim.” Om ‘uit die water’ te kon klim, moes Hy tog sekerlik eers heeltemal ingeklim het. Eers nadat Jesus gehoorsaam was aan die Vader se Wil (kyk v.17), is Hy met die Heilige Gees gesalf. Die tweede rede waarom ons gedoop behoort te word, is omdat dit ’n opdrag van God is. Daar staan baie duidelik in Mark 16:16 die volgende: “Elkeen wat glo en gedoop word, sal gered word.” Die orde waarin dinge genoem word, is baie duidelik: glo, word gedoop en dan is jy gered.

Geestelike betekenis van die waterdoop
In Rom 6:3-6 verduidelik Paulus hierdie hele simboliek van die doop aan die Romeine. Wanneer ons gedoop word, moet ons wéét dat die ingaan in die water die afsterf van die ou mens, die kruisiging van die ou sondige natuur saam met Christus, simboliseer. Wanneer ons onder die water uitkom nadat ons in die Naam van die Drie-enige God gedoop is, word die geboorte van die nuwe mens in Jesus gesimboliseer.

Ons staan dus saam met Jesus op uit die dood van die sonde en is ’n nuwe mens in Hom. Kol 2:12 lees: “…julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak.” Sonder geloof in God beteken die doop niks nie. Ons moet God loof en prys vir die werklikheid van Sy belofte – die belofte dat ons ’n nuwe mens in Hom is – selfs nog voordat dit tot vervulling kom. En juis dít is die grootste en hoogste uitdrukking van geloof.

Wat moet ek doen voordat ek gedoop word?
Ons lees ook in Rom 10:9 wat gedoen behoort te word voordat ons gedoop kan word: “Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.” Sodra jy glo in Jesus, is jy gereed om gedoop te word.

Daar is geen ander geestelike hoogte wat bereik moet word alvorens jy gedoop kan word nie. Geloof in Jesus Christus en ’n mondelinge belydenis van jou geloof kwalifiseer jou vir hierdie stap van gehoorsaamheid. ’n Baie goeie en praktiese voorbeeld is opge¬sluit in die verhaal van die Ethiopiër wat die Evangelie by Filippus gehoor het (Hand 8:26-40) en wat gedoop is.

Wat nou van die kinderdoop?
Kinders van gelowige ouers behoort aan die Here toegewy te word. Die gebruik waar babas gebring en met water besprinkel word, is dus inderwaarheid ‘n belofte wat voor God en die gemeente gemaak word om die baba in die vrees van die Here groot te maak. Babas het geen besef van geloof in Jesus of van sonde nie, hulle kan ook nie hul geloof met hul mond bely of verstaan dat die ou mens deur die doop afgelê en die nuwe mens saam met Christus uit die water opstaan nie. Babas het nog geen sonde gepleeg nie; dus gaan hulle Hemel toe sou hulle sterf. Dit lees ons in Matt 19:14 waar Jesus sê die kindertjies moet na Hom toe kom, “want God se Koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.”

Onder watter gesag word ek gedoop?
Weereens kan ons teruggaan na die Skrif om die antwoord op hierdie vraag te kry. ’n Volgeling van Jesus Christus volg Hom dus ook in die doopwater in en word in die ge¬sag van Jesus in die Naam van Vader, Seun en Gees gedoop.

Verdere Skrifverwysings
Joh 14:15 – “As julle My liefhet, sal julle My opdragte gehoorsaam.” Hand 2:38, 41 – “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang. Die wat Petrus se boodskap aanvaar het, is gedoop en het lede van die kerk geword.” Hand 10:47-48(a) – “Petrus het toe gesê: ‘Wat kan verhinder dat julle met die water gedoop word noudat julle, net soos ons, die Heilige Gees ontvang het?’ Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop word.” +

saamgestel deur Toi Nell