Evangelisasie In Sy Naam

‘n Nota deur Tamryn

Liewe Lesers Vriend,
Joh 1 v 6 – 7 hou die volgende waarheid in – “Daar was ‘n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom.”
In hierdie skrifgedeelte word Johannes die Doper beskryf as ‘n getuie, gebore om die wonderwerke van Jesus Christus te verkondig – die Lam van God wat die sonde van die wêreld sal kom wegneem. In werklikheid was Johannes gestuur as ‘n getuie met die uitsluitlike doel om mense in verbinding te bring met die Redder en Verlosser van hul siele. Hierdie skrifte beklemtoon die geweldige verantwoordelikheid wat daar ook op die skouers van Christene rus, om as ‘n skakel op te tree tussen die sondaar en God, en ook om die waarheid te verkondig, Ons woorde, ons optrede en ons getuienisse vorm dus die skakel tussen die verlorenes en Christus Jesus, onse Here. Wanneer ons, as daardie belangrike bindende faktor, kies om nie te skyn vir Jesus nie, dan bly daar geen hoop meer oor vir die sondaar nie.
Ek wil u vandag bemoedig om aan te hou skyn vir jou God. Moenie moed verloor en tou opgooi nie! Wat ‘n geweldige verantwoordelikheid – asook ‘n uiterste voorreg – om ‘n brug te kan wees tussen hierdie wêreld en ‘n onvergelykbare, onmeetlike Verlosser en Saligmaker. Kom ons gaan dus voort om meer vurig, as ooit tevore, daarna te streef om ‘n getuie te wees van Sy heerlikheid, in die lewens van elke persoon met wie ons in aanraking kom. Die volgende getuienis van Mlungisi, ‘n 52-jarige skaapwagter van Mount Fletcher, sal u vir seker inspireer.
In Sy Naam
Tamryn Klintworth
Evangelis

VAN KRUPPEL TOT HUPPEL
Met al twee sy gebreekte bene, het Mlungisi Maquba volle vertroue gehad dat hy genesing sou ontvang, as hy net by ons veldtog in Mount Fletcher kon uitkom.

Diep in sy hart het Mlungisi geweet dat alles wat vir hom en ander mense rondom hom onmoontlik blyk te wees, sekerlik moontlik is by God. Al steunend op sy krukke, het hierdie 52-jarige skaapwagter in geloof opgestaan en met ‘n huurmotor gereis tot by die veldtog, vasbeslote om nie sy geleentheid te mis om deur Jesus aangeraak te word nie. Hy het geweet dat hy sy wonderwerk sou ontvang.
Met ‘n geskiedenis van menige hospitaalbesoeke sedert sy besering, het hy verlang en uitgesien na ‘n permanente verandering in sy situasie. “Dit was so pynlik en ek moes gereeld die hospitaal besoek,” het Mlungisi gesê. Hy kon nie sy opgewondenheid en entoesiasme demp toe hy uiteindelik finaal sy krukke kon weggooi en self op sy eie twee bene staan, nadat daar vir hom gebid was nie. Hy het sy krukke in die lug rondgeswaai en uitgeroep, “ek moes stutte gebruik om mee loop, maar nou het ek hulle nie meer nodig nie, want ek is gesond!”
Ywerig om sy getuienis met andere te deel, wil Mlungisi nou sy lewe toewy tot die verkondiging van die Evangelie. Die feit dat hy sonder ouers grootgeword het, het ‘n groot invloed op hom gehad dat hy ‘n alkoholis geword het. Nou het hy egter ‘n totale hartsverandering ondergaan. “Ek was ‘n alkoholis toe ek jonger was, maar nou wil ek graag ‘n goeie voorbeeld wees vir die mense in my gemeenskap. Ek wil ook graag vir die siekes bid.” Mlungisi is vasbeslote om te groei in sy geloof, sodat hy ‘n bydrae kan lewer tot die uitbreiding van die Koninkryk van God. “Ek wil sterker groei in my geloof en saligmaking,” het hy verduidelik. “Ek wil vry wees van vrees sodat ek met vrymoedigheid die Goeie Nuus kan verkondig.”
‘n Lewe volkome omgekeer en verander vir die beste. Mlungisi sal uitgaan as ‘n lewende getuie van Jesus se wonderwerkende krag en om die goedheid van sy God te verkondig. Ja, ons Jesus is inderdaad glorieryk!
Tamryn is die stigter van In His Name Ministries,
‘n Evangelistiese organisasie, toegewy tot die verkondiging
van die Evangelie van Jesus Christus dwarsdeur Afrika en die hele wêreld.
Op Facebook vind jy Tamryn Klintworth, of besoek die bediening se webtuiste by:
WWW.INHISNAME.ORG.ZA