Kalkkoors

Christen-rugbyspelers wat vir die Bokke uitdraf, kry ook kalkkoors, of erger, kan amper soos verwoede bulle rooi sien wanneer arrogante teenstanders hulle uittart. Dit kan tot groot verleentheid lei.
Anders gestel, Springbok-rugbyspelers wat ook volgelinge van Jesus is, kan partykeer in die hitte van die stryd kop verloor, en agterna onder ’n stortvloed kritiek vanuit alle oorde deurloop. Ongeag die gevoelens van skaamte en spyt agterna, het spelers egter ’n verantwoordelikheid om hulle getuienis te bevestig en om as individue te groei.
Alternatiewelik kan ’n speler só deur selfveragting verlam raak dat hy besluit om sy Christelike uniform uit te trek en in ’n wêreldse leefstyl te verdwyn.
Jannie du Plessis, ’n Springbok-stut en Christen, het onlangs ’n geel kaart ontvang omdat hy die Hurricanes-voorspeler Carl Low met ’n oop hand in ’n Vodacom Super Rugbywedstryd in April 2012 bygekom het. Du Plessis het vir die Sharks uitgedraf. Etlike spelers was betrokke, maar slegs Du Plessis is uitgewys.

Regte plek, verkeerde tyd
Corné Krige, ’n voormalige Springbok-kaptein wat in 2000 by ’n diens in die Assemblies of God ’n openbare oproep beantwoord het om Sy hart vir die Here te gee, het in November 2002, ná ’n wedstryd op Twickenham waarin Jannes Labuschagne ’n rooi kaart ontvang het vir ’n laat duikslag op die losskakel Jonny Wilkinson, kwaai onder die gifpenne van die Britse media deurgeloop.
In sy outobiografie ‘The right place at the wrong time’, het Krige erken: “Ek het my soms aan blatante vuilspel skuldig gemaak deur mense wat besit van die bal gehad het te slaan en party van die bal af gemoker het (in daardie berugte wedstryd op Twickenham in 2002).”
Krige het kop verloor nadat Labuschagne ’n rooi kaart ontvang het.
Hy het gegrief gevoel omdat Engeland ’n ‘verwaande ingesteldheid’ gehad het.
“Ek het in die Twickenham-wedstryd in losgemale met stewels of kop eerste ingeklim. Ek het geen besorgdheid oor my eie of ander se veiligheid getoon nie. Ek het regtig liederlik kop verloor. Die slegste moontlike ding was om Matt Dawson met ’n kopstamp in die lug te probeer uitslaan,” het Krige gesê.

Vergifnis nodig
Op ’n vraag deur JUIG! Tydskrif oor die wedstryd, het Krige erken hy het baie dinge op Twickenham verkeerd gedoen.
Sy reaksie kon wees om deur skaamte verlam te raak, maar dit sou nie die regte benadering gewees het nie.
“Ek het besluit ek moes belydenis doen en my foute erken. Ek het verleë gevoel, want dit was nie die manier waarop ek wou hê my gesin my op TV moes sien nie. Dis ook nie die manier waarop ek ander mense se lewens wou aanraak of verryk nie.
Daarom het ek vergifnis gevra. Ek het besluit ek moes deur die onmiskenbare foute en my verkeerde optrede leer en groei,” het hy bygevoeg.

Parkinson se siekte bring verdieping
Jannie du Plessis het gesê hy het Jesus vroeg in sy lewe as Verlosser aangeneem. Maar sy verhouding met Christus het sterker geword nadat sy pa met Parkinson se siekte gediagnoseer is.
Hy het kritiese vrae vir God gevra, en die Here het ’n groter werklikheid in sy lewe geword “nadat bonatuurlike dinge gebeur het” (met sy pa).
Du Plessis erken hy is steeds as Christen “onder konstruksie.”
“Ek dink nie mense moet my Christenskap aan my optrede meet nie, want my gedrag sal mense teleurstel. Ek is ’n mens. Ek raak te dikwels kwaad, en ek maak baie foute,” voeg hy by. “’n Mens moet rugby sien vir wat dit is. Dis ’n kontaksport, en jy moet jou op die teenstander afdwing.
Jy moet jou teenstander uithaal, want soms is hy die beste speler. Deur hom te intimideer, kan jy die wedstryd wen. Maar as jy jou nie op hom afdwing nie, kan jy dalk jou spanmaats in die steek laat.”
Du Plessis het erken hy is as Christen absoluut toegewyd. Maar toe hy Jesus aangeneem het, was hy ’n ruwe diamant.
God is besig om in klein areas aan hom te slyp. Dalk is dit trots, of dat hy versot is op ander mense se aandag, of dat hy vloek.
“Jy word nie oombliklik bevry van al die verkeerde neigings nie. Ek sal ’n gepoleerde diamant wees wanneer ek in die Hemel kom,” het Jannie bygevoeg.
Bismarck du Plessis het gesê Jesus het vir sondaars aarde toe gekom. As mense sonder sonde was, sou Hy nie aarde toe gekom het nie.
Hy is bewus van sy eie swakhede en sondes.
“Ek het in my Suid-Afrikaanse Skolejaar my hart vir Liewe Jesus gegee. Dit was ’n jaar waarin die Here my geseën het en waarin iemand ’n visie gehad het oor my lewe (wat vervul is). Ek beskou rugby as ’n oorlog, net sonder reëls. Liewe Jesus het vir my ’n talent gegee in hierdie kontaksport.Partykeer kan ’n mens té fisiek raak of die verkeerde besluit op die verkeerde tydstip neem. Wys my enigiemand wat nie in ’n stadium sy humeur verloor nie,” het Du Plessis verduidelik.

Oorlog sonder skietery
Die uitlatings deur die Du Plessis-broers oor rugby wat soos oorlog is, strook met die skrywer George Orwell se mening daaroor.
Orwell het gesê: “Rugby-voetbal het niks te doen met skoon spel (Engels: ‘fair play’) nie.”
“Dit hang saam met haat, jaloesie, grootpraterigheid, minagting van die reëls en sadistiese plesier in die waarneming van geweld. Anders gestel: dis oorlog sonder die skietery.”
Dit is waarom dit ’n reuse-uitdaging is vir enige Springbok-voorspeler wat ’n Christen is en nie sy spanmaats in die steek wil laat nie om sy blaadjie skoon te hou.

Leer en lewe
Party waarnemers krap kop oor hoe Christene se lewenstyl nie strook met hulle getuienis nie.
’n Paar jaar gelede het ’n prominente Springbok op die veld gekniel en gebid pas nadat hy opgedraf het. Enkele minute later is hy met ’n geel kaart gestraf weens ongeoorloofde en vuil spel.
’n Prominente Engelse koerant-joernalis het hom hieroor gekapittel en gevra: “Waarom tree hy op as Christen, net om enkele oom-blike later ’n geel kaart te ontvang?”
Die prominente skrywer en spreker Brennan Manning het op die dc Talk-album ‘Jesus Freak’ verklaar: “Die grootste enkele oorsaak van ateïsme in die wêreld vandag is Christene wat Christus met hulle lippe erken, en dan by die deur uitstap en Jesus met hulle lewenstyl verloën.”
“Dis iets wat deur ’n ongelowige wêreld eenvoudig as ongeloofwaardig beskou word.”
Maar hoe kan Christen-rugbyspelers hulle getuienis op die veld verbeter?

Swakheid van die vlees
Tich Smith het Natal as 19-jarige losskakel verteenwoordig en was een van die land se beste paaltjiewagters in die dekade tussen die 1970’s en die 1980’s.
Smith, ’n toegewyde Christen en stigter van Liv-Village met ’n visie om eenduisend dorpe vir Vigs-wesies volgens Christelike beginsels te plant, het gesê God wil hê alle sportmanne en -vroue moet Hom te alle tye verheerlik.
“Maar die Bybel vertel ons dat die vlees swak is en daarom gaan ons almal somtyds struikel en val. Dis ’n geval van om onsself op te tel, onsself af te stof, uit die val te leer, en voort te gaan. As ’n Christen sou ek spelers wil aanmoedig om te alle tye nederig te wees. “

Radikale eise van die Evangelie
Druk kan enigiemand onderkry. Sakelui kan hulle humeur verloor, politieke leiers kan moeg word daarvan om hoflik te wees, in plaas daarvan om geduld te beoefen, volgens dr. Braam Hanekom, ondervoorsitter van die dagbestuur van die algemene sinode van die NG Kerk.
“Wanneer ’n rugbyspeler en Christen op die veld laat glip, kan mense maklik vinger wys en sê ‘kyk wat vang die Christen aan’. Dis nie omdat hy ’n Christen is dat hy fouteer nie, dis gewoon menslik om te fouteer. Die feit dat ek droogmaak as Christen, maak my nie slegter as ander nie. Dit laat my help verstaan dat ek God baie nodig het,” het Hanekom gesê.
Die skrywer Dallas Willard het onlangs gesê jy meet iemand se geestelike diepte en groei aan hoe maklik of moeilik iemand gehoor gee aan die radikale eise van die Evangelie.
“Is jy bereid om hulle te seën wat jou vervolg, en om jou vyande lief te hê,” het Hanekom oor Willard se riglyne gesê.
In ’n druk situasie gaan dit nie oor hoeveel keer op ’n Sondag jy kerk toe gaan nie, maar oor hoe jy jou humeur onder die uiterste provokasie kan beheer.
“Die vraag hier is nie hoe baie nie, maar hoe diep. Dit gaan nie oor hoe baie Christene daar is nie, maar oor hoeveel diepte hulle in hul dissipelskap het. Ons leef in ’n vermaaklikheidster-kultuur waar die getuienis van hierdie ‘celebrities ‘ meer gewig dra as dié van gewone Christene. Ons het so ’n ‘idol- en celebrity-kultuur’.
Beroemde sportsterre kan in die slaggat van persoonlike verheerliking trap. Hulle kan verkeerdelik op die feit dat internasionale prestasies geld en eer waarborg, begin fokus. Maar die Evangelie van die Kruis fokus op iets anders,” het Hanekom gemaan.

Fanie Heyns is ’n vryskutjoernalis en kan gekontak word by: fheyns@telkomsa.net