Keer Terug Na God

Elza Meyer is die stigter van Turn2God Bedieninge, NG Kerkpredikant, ’n outeur en baie gewilde spreker by konferensies landswyd. Wie is Elza en wat lê in haar hart?
Elza het op ’n plaas in Lindley in die Riemland grootgeword. Dié Oos-Vrystaatse dorpie aan die oewer van die Valsrivier, is na Daniel Lindley genoem, die Amerikaanse sendeling wat die eerste predikant vir die Voortrekkers in Natal was. Heel gepas dat Elza afkomstig is van ’n plek met so ’n geestelike erfenis, want wat jou van haar opval, is die oop hart vir, en erns met die dinge van die Here.
Elza het aan die Universiteit van Pretoria in die onderwys gaan studeer waar sy ook haar man ontmoet het. Sy is reeds vir 36 jaar lank getroud met Thys, wat sy beskryf as “standvastig soos ’n rots, onwrikbaar in sy geloof, onaan-getas deur sukses, en onbedreig deur mense.”
Hoe het jy en Thys ontmoet?
Ons was saam by Sendingkring by Universi-teitsoord en het in een van daardie ou busse met die pyprelings bo die sitplekke na Eerste-rus toe gery. Hy wou ’n geselsie aanknoop en het besluit om my lang hare aan die pyp vas te maak. Ek het niks agtergekom nie, want dit was somer en die vensters was oop en die wind het deur my hare gewaai. Toe ek opstaan, het ek weer met ’n slag gaan sit. Hy het gedink dit is snaaks; ek natuurlik glad nie! Hy moes saam met my koshuis toe stap om ons onstuimige ontmoeting uit te sorteer…
Hoe het jy tot bekering gekom?
In my standerd 7-jaar het ’n jong proponent een Sondag in die pragtige ou klipkerk op Lindley kom preek. Hy het oor die skape en die bokke gepreek en dat ons tot bekering moet kom as ons die Ewige lewe begeer. Ek het radikaal tot bekering gekom en onmiddellik na ’n dieper verhouding met die Heilige Gees begin verlang. Die volgende dag het ek in juffrou Griessel se Afrikaansklas ’n buitengewone ontmoeting met die Heilige Gees gehad. Daarná het verskeie van die ander kinders, wat saam met my in die koshuis was, ook tot bekering gekom. Sedertdien is ek uitverkoop aan ’n lewe saam met Jesus! My Bybel het lewend geword en ek kon nie wag vir Bybelstudie, biduur of erediens-te nie! Dit was die hoogtepunte van my week.
Wanneer het jy by Moreletapark Gemeente aangesluit?
Toe Susan, ons jongste, skool toe is, is ek terug universiteit toe om teologie te studeer. Daarna was ek vyf en ’n half jaar lank in Kempton Park-Wes. Ons het herlewing beleef.
Ek het ook wyer begin werk in die gemeenskap en ’n forum van meer as 100 gemeentes gelei, wat saamgewerk het om ons stad aan die Here toe te wy. Moreleta Park het my in daardie tyd beroep om ’n beradingsentrum tot stand te bring, en verantwoordelikheid vir gemeenskapsdienste en die vrouebediening te neem.
Die Here het die bediening aan vroue geseën en daaruit het die Hadassa- en Ester-konferensies ontwikkel. Ons het duisende vroue bereik. Dit was jare van buitengewone salwing en ons het wonders beleef. Die manne wou ook hieraan deel hê en die Daniël-konferensies het begin.
Wat is jou gunstelingonderwerpe om oor te preek?
Ek preek feitlik elke week oor ’n ander onderwerp aangesien ek binne Turn2God Bedieninge, waarmee ek sedert 2010 voltyds besig is, oral in Suid-Afrika op uitnodiging bedien. Elke gemeente of gemeenskap wat my uitnooi, het ’n ander behoefte wat hulle graag wil aanspreek. My gunstelingonderwerp is dus een wat ek nog nie gepreek het nie.
Ek sukkel om dieselfde preek meer as eenkeer te preek. Ek geniet dit om voortdurend te groei in kennis van die Woord en my verhouding met die Here. Daarom is nuwe
navorsing vir my baie lekker. Dit maak egter nie saak watter faset van die lewe tydens ’n preek belig word nie, uiteindelik kom dit maar daarop neer dat ons ook dáárin na God toe moet draai, nie waar nie?
Wat is op jou hart vir Suid-Afrika?
Ons het nie politici met persoonlike agendas nodig nie; ons het volksleiers nodig wat die belange van álle mense in ons land op die hart dra! Moenie jouself skuldig maak aan korrupsie en diefstal nie; werk hard en geniet dit om ’n produktiewe bydrae te lewer! Bly weg van geweld, misdaad en moord; skep lewe deur jou gedagtes, woorde en dade! Draai terug na God toe! Suid-Afrika is ’n pragtige land met wonderlike potensiaal. Daar is miljoene mense in ons land wat in vrede wil woon en werk. Kom ons dien mekaar met God se liefde!
Wat is tans volgens jou, die Kerk se grootste uitdaging en hoe kan die Kerk dit die hoof bied?
Gelowiges kan wonderlike geestelike lering via internet en televisie bekom. Plaaslike leraars kan miskien nie op daardie vlak lering aanbied nie, maar slegs die plaaslike kerk kan gelowiges suksesvol individueel bedien.
Samekomste bly steeds ’n geleentheid waar ons ons verhouding met God en mekaar vier. Laat ons daarop fokus om lidmate aktief te laat deelneem aan byeenkomste en eredienste en na mekaar om te sien. Sodoende hou ons die Handelinge-model van kerk-wees lewend.
’n Tweede uitdaging wat die Kerk moet raaksien, is dat ons maklik in ons pogings om relevant te wees, in humanisme kan verval. Mense, hulle behoeftes en leefwêreld kan só maklik die sentrum van ons bediening word, in plaas van die Lewende God, Bybelse waardes en ’n oomblik vir oomblik lewe in afhanklikheid van Jesus en Heilige Gees. Dan raak bediening vlak en kragteloos en help ons nie meer mense nie, ons sus hulle net.
Jy vertel dat God jou gewys het hoe ons land in die nabye toekoms sal lyk, as ons nie die kwessie van wesies aanspreek nie. Vertel ons meer hieroor?
Voor my geestesoog het ek het ’n groot groep jongmense in die strate gesien. Hulle was kwaad en verbitterd. Niemand het saans hul ruggies toegemaak toe hulle klein was nie. Daar was nie ’n pa wat hulle die waardes van die lewe geleer het nie. Daar was nie ’n ma wat omgegee het en hulle aan die Here voorgestel het of seker gemaak het dat hulle skool toe gaan nie. Hulle het geleer om na hulleself om te sien en dit het geweld en misdaad ingesluit.
Armoede was vir hulle ’n werklikheid en koud gaan slaap nie onbekend nie. Anargie het ’n lewenswyse geword. En toe het ek die stem van die Here in my binneste hoor sê: “Wees ’n moeder vir hulle!” (‘Mother them’). Ons roep gemeenskappe op om verantwoordelikheid vir hul weeskinders te neem en hulle vir die Here groot te maak. Dan kan ons land vol wees van mense wat ’n positiewe verskil maak en léwe verseker!
Wat is dit wat Turn2God wil bereik? Wat is julle mandaat?
Ons wil dwarsoor ons land mense sien wat die Here met hart, verstand en hand in alle sfere van bestaan dien! Ons begeer dat Suid-Afrika se konglomeraat van volke na God toe draai! Hierdie mandaat spruit uit gebeure in 2002. Ek het een Sondagaand nog-eens vir ons land gepleit. Laataand het ek die Here in ’n hoorbare stem met my hoor praat. Hy het vir my gesê: “Sê vir Suid-Afrika: ‘Draai terug na God toe!’ ” Ek het geantwoord dat niemand my sou hoor nie, aangesien my stem te sag is. Hy het weer met my gepraat – hierdie keer dringend: “Sê vir Suid-Afrika: Draai terug na God toe!” Voor my geestesoog kon ek die boodskap in klankgolwe oor die land sien spoel. Ek kon sien hoe mense gaan stilstaan en die boodskap hóór! Ek het toe God se bevel aan ons land oorgedra om na Hom toe terug te draai.
Ná hierdie gesig het ek weer ’n stem hoor sê: “2008”. Die be-diening het sy gang gegaan en in 2008 is Turn2God by die Ester- en Daniël-konferensies geloods. Daar was ’n geweldige energie by konferensiegangers en al die produkte waarmee die boodskap uitgedra kon word, was binne ’n halfuur uitverkoop. Eers later het die destydse voorsitter van die kerkraad in Moreleta Park my daaraan herinner dat die datum vooraf aangekondig is. Ek was in verwondering. Sedert 2011 is Turn2God Bedieninge ’n geregistreerde artikel-21-maatskappy en ’n geloofsgebaseerde organisasie.
Wat is jou lewensdroom?
Om landswye herlewing te beleef en God se Gees te sien werk in mense se lewens, ten minste soos in die tyd van Andrew Murray!
ELZA MEYER is die stigter en hoof-uitvoerende beampte van Turn2God Ministries. Vir meer inligting: www.turn2god.co.za; elza@turn2god.co.za of skakel 012 997 5601.