Nie My Wil Nie

Wanneer ons sê dat ons saam met Christus gekruisig is en sterf aan die selflewe, wat bedoel ons dan eintlik? Dit beteken dat ons sterf aan ons begeertes, ons ego, ons eie wil – ons lê dit neer. Soms mag dit selfs beteken dat ons sterf aan die visie vir ons bediening of lewe. Jy mag dalk nou sê: “Ek is se-ker dat my visie van God af kom. Dit is Sy wil.” Tog is daar ’n wesenlike gevaar aan verbonde. Die roeping, die beloftes, en visie wat ons van God af ontvang het, kan soms ons grootste ambisie word, wat dit dan in kompetisie met die Here plaas, want Hy is nie bereid om die toewyding van ons hart met enigiets anders te deel nie – nie eens met deugsame dinge nie.
Verwyder die afgode uit jou lewe
Isak was die vervulling van God se belofte aan Abraham. Tog was die Here nie bereid om die toewyding van Abraham se hart te deel nie, nie eens met Isak nie. Die Here het Abraham gevra om Isak op die altaar te plaas en hom op te offer, in die wete dat dít die uiterste toets van Abraham se liefde sou wees. Die outeur, A.W. Tozer, het briljant hierop uitgebrei in sy klassieke boek, The Pursuit of God.
“God laat die lydende ou man voortgaan daarmee [die offer] tot op die punt waar Hy weet Abraham sal die opdrag deurvoer, en toe verbied God hom om ‘n vinger op die seun te lê. Aan die verbaasde patriarg sê hy nou in werklikheid: “Alles is onder beheer, Abraham. Ek was nooit van voorneme dat jy die knaap moet doodmaak nie. Ek wou net hê dat jy hom uit die tempel van jou hart verwyder sodat Ek ongehinderd daar kan regeer. Ek wou die verwording van jou liefde korrigeer. Nou kan jy hom neem,
perdfris en gesond. Vat hom en gaan terug na jou tent toe, want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.”
Wat beteken dit om ’n oorgawe van ons wil te maak?
Die woord ‘oorgawe; oorgee’ is ‘n radikale woord! Baie van ons is gewillig om oor te gee totdat dit begin seermaak, maar ‘ware oorgawe’ is pynlik. Party mense is bereid om ’n oorgawe te maak solank dit logies is, maar ware oorgawe is nie onderhewig aan ons redenasies nie. Ander gee dít wat sleg en skadelik is oor, maar God is nie tevrede nie.
Vir God is oorgawe nie volkome totdat dit nie allesomvattend, volledig en totaal is nie. Dit is nie net om bloot te sê: “Laat U wil ge-skied” nie. Dit sluit in: “Nie my wil nie.” Hierdie sterf aan die self is nie ’n vorm van goddelike sadisme nie. God het altyd lewe in gedagte.
Laat God toe om ’n goeie werk in jou te doen
Net soos ’n tuinier die ou takke snoei sodat nuwe lote kan uitspruit, wil God dít wat lewe en groei in jou lewe verhinder, daaruit verwyder. Hierdie plek van sterwe is ook die plek van geboorte van nuwe dinge, en dit is hoe God se oogmerke op die aarde gestalte vind!
Wie regeer in jou lewe?
Wat as God jou vra om dít wat jou die meeste genot verskaf op te gee? Wat as Hy jou vra om jou gawe of talent neer te lê, dít wat jou definieer – dit waaruit jy jou eie waarde put? Sou jy jou beloftes op die altaar kan neerlê soos Abraham met Isak gedoen het? Weet jy wie op die troon van jou hart sit? Is dit jy? Is dit jou visie? Is dit jou droom? Of is dit die Here Jesus?
Lewend in Christus
My vriend, God het ’n wonderlike plan vir jou lewe en Hy wil jou op merkwaardige maniere gebruik tot verheerliking van Sy Naam, maar opstanding geskied slegs nadat daar gesterwe is – sterf aan die self, sterf aan jou wil, sterf aan jou begeertes en sterf aan jou drome.
Dit is in hierdie pynlike oomblikke van oorgawe dat God se koninkryk in ons gevestig word, wanneer ons saam met Jesus bid: “Nie my wil nie, maar U wil.”
Hierdie gebrokenheid laat ons toe om ‘n verlenging van God se heerskappy te word en ons lewens word “krake in die muur” waardeur Sy koninkryk kan binnedring en Sy wil op die aarde kan geskied!
________________________________________
DANIEL KOLENDA is die president van Christ for All Nations Ministries internasionaal. Vir meer inligting: 0861 232 672 of www.sa.cfan.org.za