Waarom Is Die Kerk Stom?

Die openbare en regeringsdebat oor God wat ek onlangs in die Oos-Kaap bygewoon het, was in vele opsigte verrassend. Dit is deur die Daily Dispatch en die Universiteit van Fort Hare gereël.
Die hooftema wat uit die debat voortgespruit het, was die tragiese afwesigheid van die Kerk van Jesus Christus in die lewe van ons mense. Feitlik elke deelnemer se vraag was: “Waar is die Kerk?” Nadat die getuienisse van die daaglikse gruwelstories van die gewone man op straat aangehoor is, moet toegegee word dat die tragiese afwesigheid van die Kerk om in te gryp in sosiale en openbare sake, ‘n tragedie is.
Verteenwoordigers het erken dat Suid-Afrika se probleme die resultaat van die erosie van fundamentele waardes in die samelewing en die oorheersing van liberale, sekulêre humanisme in openbare beleid is.

DIE KERK ONTTREK
Daar was ‘n duidelike oproep vanuit alle oorde vir die Kerk om meer betrokke te raak in alle aspekte van die samelewing. Christene het hul frustrasie, hopelose gevoel en selfs wanhoop laat blyk met die toename van boosheid in hul woonbuurte, terwyl die Kerk een glanskonferensie na die ander aanbied. Sprekers van aansien word met groot koste van ander lande ingevlieg; al wat dit tot gevolg het, is die opwinding van ‘n paar dae en die omliggende gebiede vind feitlik geen baat by die ‘oordaad’ nie.
Sedert die geboorte van demokrasie in 1994, het die Kerk teruggetrek in hul selfgeskepte ghetto’s. Dit wil voorkom asof die Kerk toegegee het aan die valse ideologie wat deur die spreekbuise van humanisme by monde van die sekulêre aard van Suid-Afrika se grondwet verkondig word. Wat die grondwet in effek doen, is om gelowiges uit die politieke debat uit te sluit.
Dit is insiggewend dat die humanistiese intelligentsia se belofte op ‘n utopia skandelik gefaal het. Die sogenaamde ‘menseregte’ waarna daar in die grondwet verwys word, het ‘n selfsugtige, materialistiese gemeenskap tot gevolg. Post-apartheid Suid-Afrika het toe nie in die vrye, sorgsame en ver¬antwoordelike gemeenskap verander wat so baie in die vooruitsig gehad het nie. Alle wette is oorboord gegooi, asook waardes en beginsels wat God vir ons eie beskerming daargestel het. Die gevolg is dat die land kreun onder die toenemende aanslag van misdaad, geweld, korrupsie, seksuele immoraliteit en die verval van die gesin en dit is op die oomblik alles ‘n be¬dreiging vir die land se suksesvolle toekoms.
Die huidige debat oor die wettiging of dekriminalisering van prostitusie is maar één kwessie wat bogenoemde bevestig. Ten spyte van die verskriklike gevolge van gewettigde prostitusie op vroue, kinders en die algemene gemeenskap, argumenteer sekulêre humaniste, in hul saak ondersteun deur die liberale media, dat dit nie ‘n morele kwessie is nie. Net soos huwelike tussen persone van dieselfde geslag, aborsie op versoek en die toename van pornografie, is dit, volgens hulle, ‘n menseregte-kwessie. Die destruktiewe gevolge van hierdie beleide op die gesin in die besonder, en ook die groter sosiale gemeenskap, gaan skynbaar by die voorstaanders van hierdie dinge verby.

KERK SE MANDAAT
Die morele verval wat Suid-Afrika op dié stadium deurtrek, is die direkte gevolg van die totale afwesigheid van Kerkbetrokkenheid in ons land.
Sedert die grondwet in 1996 onderteken is, het die sekulêre huma¬niste die liberale media ondersteun in ‘n veldtog van totale misleiding deur die feit dat godsdiens nie in politiek hoort nie, te verkondig. Die Christendom is blameer vir Apartheid en die ultra-liberale grondwet is verhoog tot die absolute mag wat Suid-Afrika se redding sou wees.
Dit het nou dringend tyd geword dat die Kerk sy opdragte direk van die Opperbevelvoerder, Jesus Christus, sal neem en nie van enige ander buite-invloed nie. Humanisme het die bevolking beroof van egte vryheid, vryheid wat in die Woord verkondig word en moontlik is deur Jesus Christus. Dit moet beslis nie net gepredik word nie, maar moet op elke gebied aktief gedemonstreer word. Die vraag bly nou: “Sal die Kerk van Jesus Christus die geestelike onderskeiding hê wat nodig is om die hartskreet van die land akkuraat te beoordeel en daarop te reageer soos net die Kerk kan?”